Mans, waardeer julle vroue.

SKRIFLESING:  Spreuke 31: 10 – 31

Moedersdag kan ingewikkeld wees. Daar bestaan subtiele dog sigbare spanning tussen viering en hartseer. Vir baie is dit ’n dag van vreugde en gesinstyd, maar vir party is dit ’n dag van pyn, verlange en hartseer. Sommige vroue smag daarna om ’n kind te hê. Sommige vroue het ’n miskraam gehad. Ander het kinders aan die dood afgestaan. Sommige het pynlike ervarings van moeders wat hulle verwaarloos het.

:

’n Vinnige blik op ons kultuur wys dat geïdealiseerde beelde van moederskap nie bestaan nie, en die Skrif openbaar dieselfde. Rut is kinderloos en weduwee gelaat op ’n jong ouderdom. Ragel, Hanna en Sarah was onvrugbaar. Eva en Maria het seuns verloor onder haglike omstandighede.  Natuurlik  is daar bevoorregte gesinne met sterk huwelike en gelukkige kinders. Die punt is dat daar nie ’n een-grootte-pas-almal reis van vrouwees is nie, en ons maak vroue seer in ons kerke deur een pad te vereer ten koste van ander. So, kom ons wees sag met mekaar op hierdie Moedersdag. Kom ons vier fees met die vroue wat gelukkige gesinne het. Kom ons onthou die vroue, mans, meisies, en seuns wat deur hul ma seergemaak word. Kom ons onthou die moeders wat hul kinders verloor het. Kom ons onthou die vroue wat daarna verlang om vrouens en moeders te wees, maar nie is nie.

Kom ons dink aan bejaarde ma’s, wie se volwasse kinders hulle weggegooi het en geen belangstelling in hulle toon nie en hulle nie eers skakel nie. Moedersdag is nie eenvoudig nie. In die viering van Moedersdag kan ’n mens maklik die seer in sekere vroue oopkrap. Daarom moet ons baie sensitief wees met die viering van Moedersdag.

Daarom moet ons eerder Moedersdag vier vir alle vroue, omdat die meeste vroue ’n natuurlike moederlike instink het van versorging.

Moeders het ook die ingebore eienskap om hulle kinders wat tydelik die pad byster geraak het, net soos die verlore seun in die Bybel, met ope arms te ontvang. Daar is die verhaal van ’n seun wat die pad byster geraak het: “’n Jong man wat moeg was vir die reëls en vaste roetine van die huis, het besluit om te vertrek, om na ’n plek te gaan waar hy kon vry wees. Hy het egter keelvol geraak daarvoor, want hy het besef dit is nie wat hy gedroom het dit sou wees nie. Hy het besluit om aan sy ma te skryf en vir haar te sê dat hy met die trein gaan terug ry huis toe. Hy het vir haar gesê as sy hom nog wil hê, moet sy ’n wit sakdoek bo in die boom in hul erf ophang wat maklik gesien kan word voor die trein by die klein tuisdorpstasie stilhou. Hoe verstom was die rondloper jong man toe hy vind dat sy ma elke beskikbare sakdoek gebruik het om aan die verskillende takke van die boom te hang. Hy kon nie verstaan hoe sy ma hom kon aanhou liefhê nie. Dit was vir hom ’n raaisel dat sy ma se liefde toegeneem in plaas van afgeneem het.” Moeders se liefde is soos die liefde van God vir die swerwende kind.

Ek het Spreuke 31: 10 – 31 gekies as ons skriflesing vanoggend. Wat belangrik is, is dat die Skriflesing oorspronklik nie vir vroue nie, maar vir mans geskryf is. Die gedig is vir mans geskryf om hulle vroue te waardeer.

 Dr Almatine Leene skryf byvoorbeeld: “Dié gedeelte is dus as ’n man se aanmoediging en dankie-sê bedoel. En beslis nie as ’n soort lys wat “deurgewerk” moet word ten einde vas te stel of ’n bepaalde vrou as “knap” beskryf kan word nie. Ons vind hier byvoorbeeld ’n opdrag aan mans om hul eie en ander vroue te prys. Daar is geen opdrag aan vroue nie.”

Rachel Held Evans skryf in haar boek “A year of Biblical womanhood” dat Joodse mans hierdie gedeelte van buite moes leer, en dat hulle een keer per week hul vrou aan die etenstafel met die woorde van hierdie gedig moes prys. Dit was deel van die Joodse gebruik.

As ’n mens Spreuke 31: 10 – 31 letterlik op alle vroue van toepassing moes maak, sou vroue heeltemal uitgebrand het van “verantwoordelikhede.” Daarom moet vroue nie skuldig voel as hulle nie aan al die eienskappe van ’n knap vrou in Spreuke 31 voldoen nie. Watter vrou sal nie uitbrand as sy in die oggende vroeg (nog in die nag) moet opstaan en in die aande laat gaan slaap as gevolg van verpligtinge nie? In vers 18 b staan daar “snags gaan haar lamp nie dood nie.” Vandag lewe ons in ’n tyd van die professionele vrou wat hard moet werk om die pot aan die kook te hou. Sy kan mos nie alleen die verantwoordelikheid van die huishouding op haar neem nie. Haar man sal haar ook moet help met huishoudelike pligte soos om kos te maak en die kinders te versorg.

Wat die skriflesing wel onderstreep, dat elke vrou uniek is en unieke moederlike eienskappe bring na die huwelik en gesin. Daardie unieke moederlike eienskappe moet deur haar man en kinders waardeer word. Elke vrou het unieke talente wat sy na die huwelik en gesin bring. Dit verskil van ander vroue. Daarom moet dit waardeer word deur haar man en kinders. Daarom vier ons Moedersdag, sodat haar man en kinders vir haar kan dankie sê vir die spesiale unieke moeder wat sy is.

Spreuke 31: 10 – 31 is nie ’n bloudruk hoe alle vroue moet wees nie. Dit sou mos nie werk nie, want elke vrou is uniek. Daarom moet elke man en kind die uniekheid van die moederfiguur in die gesin respekteer.

In vers 28 staan daar dat sy deur haar kinders en haar man geëer word: “ Haar kinders tree na vore en noem haar gelukkig; haar man, hy besing haar lof.” Daarom gaan Spreuke 31 nie oor wat die deugsame vrou moet doen nie, maar oor haar kinders en man wat haar waardeer oor haar unieke vrouwees.

Haar man waardeer ook dat sy vrou vir hom voordeel bring. Daarom staan daar in vers 12: “Sy doen goed aan hom en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.”

’n Vrou moet nie oor haar skoonheid geëer word nie, maar oor haar verhouding met die Here. Daar staan in vers 30: “Sjarme is bedrieglik en skoonheid is nietig; ’n vrou wat vir die Here ontsag het,sy moet geprys word.”

Maar God het ook vroulike eienskappe. Ja, dit is eienskappe wat ’n man nie besit nie! En as God dan met vroulike eienskappe beskryf word, is dit ’n bevestiging dat daar wel hoë waardering vir die vrou of moeder is. Immers, God sélf gebruik op baie plekke in die Bybel hierdie soort taal om sy liefde en sorg vir die mens uit te beeld. In Jesaja 49 vers 15 beaam God self sy liefde vir sy kinders deur van ’n moederlike beeld gebruik te maak: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet, haar nie ontferm   oor die seun van haar moederskoot nie? Selfs al sou hulle vergeet, Ek, ja, Ek sal jou nie vergeet nie.” En dan is daar natuurlik die teks uit Psalm 131 vers 2 wat sê dat ons by God tevredenheid gevind het soos wat ’n kindjie by sy moeder kry.

Hierdie eienskappe van God kan ’n mens net by ’n vrou kry. Dit is die moederlike kant van God. God openbaar Homself op ’n vaderlike én moederlike wyse aan ons. As Vader ontferm Hy Hom oor ons; ons vind beskerming in sy Vaderarms en sekuriteit in sy vaderhuis. Aan moederlike kant word God  as volg beskryf deur ’n prediker: “En soos ’n moeder vergeet God ons nooit nie; Hy troos ons net soos ’n ma kan, en ja, waar kan ’n gebroke en hartseer ou kinderhartjie die beste getroos word? Nêrens anders nie as teen die moederbors! En waar kan jy, as Christen, veiliger voel en meer tevredenheid kry as teen God se bors? Nêrens anders nie!”

Spreuke 31 is nie ’n lysie wat vroue moet afmerk om te bepaal of hulle knap en deugsaam is nie. Dan sal jy aan ’n swak selfbeeld ly. Dit is eerder ’n vermaning aan vaders en kinders om die unieke goedheid en versorging van hulle vrouens en moeders raak te sien en te waardeer.

Die moederlikheid van vrouens en moeders is uniek. Dit word gevier met Moedersdag.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Jenell Williams Paris, “When Mother’s Day Is Hard,” ChristianityToday | Reviewed March 2022

Die Lig. Die Spreuke 31-vrou? Wat van (arme) ék?  Oktober 12, 2020

NHKA, Spreuke 31: 10-31 – Kan ons ’n vrou se waarde werklik meet? 4 Julie, 2019

Huis – Paleis – Pondok – Varkhok

SKRIFLESING:  Jak 2: 1 – 13

Toe ek ’n kind was, het ons met ’n uittelrympie grappenderwys mense se kamtige woonplekke aan hulle toegeken. Iemand met vier knope aan ’n hemp sal byvoorbeeld gestuur word om tussen die varke te gaan woon, terwyl iemand met ses knope sy woonplek in ’n paleis sal hê. In laasgenoemde geval sal die ses knope só afgetel word: Huis — Paleis — Pondok – Varkhok – Huis — Paleis!

As Jakobus sy brief skryf, dan spreek hy die gelowiges van sy tyd aan wat mense op grond van die uiterlike beoordeel. Dit was die rede vir baie spanning, konflik en verdeeldheid in die gemeente aan wie Jakobus skryf. Jakobus se brief is vandag nog net so aktueel in die kerkgemeenskap, asook in die wêreld.

In die Joodse sinagoge het die mense gesit volgens hulle rangorde, en lede van dieselfde ambag het saam gesit. Jou stand in die samelewing, jou rykdom, en jou geleerdheid, het bepaal waar jy in die sinagoge sit. Die sinagoge was ook nie ’n plek vir vrouens nie. Jakobus beskou hierdie stand van sake as onwenslik in Christelike gemeentes. Die woord ἐκκλησία, wat met “Kerk” vertaal word, is vir Christelike byeenkomste verkies. Dit het geïmpliseer dat diegene wat dit bywoon, uit die res van die mensdom verkies is, en deur Christus verenig is, Hy wat geen onderskeid maak tussen mense nie. Dit was ’n radikale anderse orde as die ou Joodse bedeling van onderskeid.

Jakobus spreek hom baie duidelik uit teen diskriminasie en partydigheid. Dit is juis dit was meestal tot oorlog en diskriminerende politieke stelsels lei.

Ons oordeel elke dag mense volgens die uiterlike en ons kom dit nie eens agter nie. Jakobus trek nie ’n streep deur die gelowiges se opregte geloofsverhouding nie. Dikwels sondig jy in onkunde, omdat jy ’n kind van jou tyd is.

Ons voorouers was die mees Godvresende gelowiges wat jy kon kry. Hulle was opreg in hulle geloof. Maar hulle het nie besef dat Apartheid verkeerd en sondig is nie. Hulle het mense op grond van die uiterlike, hulle velkleur, geoordeel en hulle in lokasies geplaas en van regte ontneem. Daardie mense is verneder en as minderwaardig behandel. Hulle is van geriewe en voorregte ontneem. Dit het oneindige pyn, verwydering, trauma, opstand en armoede tot gevolg gehad.

Nou sit ons hier in 2022 met ’n korrupte ANC-regering, wat dieselfde doen as die destydse regering. Hulle klassifiseer en oordeel ook mense op grond van hulle velkleur. Ras speel vandag ’n groter rol as bekwaamheid of kundigheid. Daarom val al die wieletjies van Suid-Afrika af. Dit is weer ’n geval van om op grond van die uiterlike te oordeel. Ook word Suid-Afrika leeg besteel en as iets verkeerd loop, is dit Jan van Riebeeck se skuld. Twee LUR’s van die Vrystaat het onlangs ook vir Jan van Riebeeck die skuld gegee vir deesdae se slaggate op die paaie. Die vorige apartheidsregering word verantwoordelik gehou vir dinge wat vandag verkeerd loop en verkeerd bestuur word. Weer word daar geoordeel, sonder om verantwoordelikheid te aanvaar vir vandag se foute.

In die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse kerke geswyg oor die offensiewe optrede van Adolf Hitler. Slegs enkele Duitse teoloë het standpunt teen Adolf Hitler geneem, soos Dietrich Bonhoeffer. Eers na die oorlog het die Duitse kerke in die Barmenverklaring hulle uitgespreek teen die Duitse siening dat nie-Duitsers die “Untermensch” is en dat veral die Jode uitgeroei moes word.

In die huidige oorlog in Oekraïne, is die Russies-Ortodokse kerke ook doodstil oor die geweld en bloedvergieting van onskuldige, weerlose mense. Dit is die uitwissing van ’n volk wat plaasvind en die Russies-Ortodokse Kerk staan Vladimir Putin nie teen nie. Dit is ’n kwessie van: dit is die gees van die tyd in Rusland.     

Laat ons nie wees soos die tipiese mens wat altyd gou is om sy medemens te oordeel nie: As hy arm is, is hy sleg en lui. As hy ryk is, is hy oneerlik. As hy nie vir liefdadigheid gee nie, is hy suinig. As hy dit wel doen, is dit vir die vertoon. As hy aktief godsdienstig is, is hy ’n huigelaar. As hy geen belangstelling in godsdiens toon nie, is hy ’n geharde sondaar. So oordeel ons mekaar heeldag, sonder om mekaar se omstandighede te ken.

Ons is nie net geneig om mekaar na die uiterlike te oordeel nie, maar ook na die innerlike. Ons kan maklik iemand afkraak, sonder dat ons sy/haar omstandighede ken. Ons dink miskien iemand is innerlik sleg, om dalk later uit te vind ons was verkeerd. Veral ons as Christene is geneig om volgens die uiterlike te oordeel, as gevolg van ons vaste waardesisteme. Ons kan maklik iemand as innerlik sleg uitmaak, as gevolg van ons vasgegote waardes.

Ek het as kind in ’n baie streng militêre huis grootgeword. My hare moes altyd baie kort wees, ek mag geen jeans gedra het nie en moes altyd netjies lyk. Toe ry ek later op ’n dag as jongman op ’n bus. Die bus was baie vol en ek beland toe ongelukkig (of gelukkig) langs ’n man met baie lang hare en ’n woeste baard. Die ou het verslete jeans aangehad. My oordeel van hom was onmiddellik: die man is sleg en nie van my soort nie. Ek soek net ander plek in die bus. Tot ons aan die gesels raak. Dit was een van die verrykendste gesprekke in my lewe. Hy was ’n diepsinnige mens, wat ’n wonderlike getuienis gehad het as Christen. Hy was ook intellektueel by verre my meerdere. Ek was agterna skaam en teleurgesteld in myself. My waardesisteem het my in die steek gelaat.

Jesus Christus het nooit geoordeel nie. Hy het gemeng met die sondaars. Hy het selfs oornag in Saggeus se huis, die hooftollenaar, die baasskelm van Jerusalem. Jesus het die owerspelige vrou huis toe laat gaan, sonder om haar te veroordeel. Jesus het so gemeng met die sondaars, dat hulle Hom “’n vraat” en “’n wynsuiper” genoem het.    

Leer om ander mense met ander waardesisteme te verdra in ’n gees van geestelike verdraagsaamheid. Op Strydenburg, my vorige gemeente, het die Rooms-Katolieke priester gereeld op ’n Saterdagaand by my kom kuier. Ons teologiese wêrelde was ver van mekaar verwyderd soos die ooste en die weste en ons kon lekker verskil. Maar ons het heerlike vriende geword, ten spyte van ons teologiese verskille.

Sê nou maar net ’n ryk man en ’n arm man stap tegelyk by jou in die sitkamer in. Hoe gaan jy maak? Jakobus se oproep is om hulle gelyk te behandel. Ek moet nie onderskeid maak op grond van rykdom, geleerdheid, ras of geslag nie. Dikwels maak ons onderskeid tussen die ryk man en die arm man. Dan argumenteer Jakobus in hoofstuk 2: 6 as volg: “Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie?”

In die Bybel reik God juis uit na die armes, gemarginaliseerdes en randfigure. In die boek Esegiël staan daar uitdruklik hoe die Here uitreik na die siek en kreupel skape om hulle na veiligheid te dra.

God is nie partydig nie. God het nie “witbroodjies” en “swart skape” nie. Vir God is die eerste laaste en die laaste is eerste. Daarom staan daar in Luk 13:30 die volgende: “En kyk, wie laaste is, sal eerste wees, en wie eerste is, sal laaste wees.” Soortgelyk is ook Mat 19:30 en Mat 20: 16. Die Jode het gewoonlik as hulle fees gevier het, hulle hande op die volgende persoon se skouer gesit en dan in die rondte gedans, sodat ’n sirkeldans gevorm is. In die sirkeldans is die laaste persoon eerste en die eerste persoon laaste. Daar is geen hiërargie nie. So is dit ook in God se nuwe Koninkryk. Daarom het Jesus die voete van Sy dissipels gewas, deur die laaste, ’n slaaf, te word vir die ander. Daarom moet ons mekaar dien.

Daarom waarsku Jakobus ons om mekaar nie sommer net te oordeel nie. Daarom staan daar in Jak 2:13 – “Die oordeel is immers sonder ontferming oor hulle wat nie ontferming betoon het nie. Ontferming triomfeer oor die oordeel.”

Dit is vir ons as mense amper onmoontlik om nie te oordeel oor ander mense nie. Dit sit in ons gene, en is deel van ons erfsonde. Daarom moet ons die pad van heiligmaking volg, deur gedurig my gees te ondersoek en te bely waar ek sondig oordeel. Luther het gesê: “Hoe heiliger, hoe sondiger.” Daarmee het hy bedoel hoe meer ek in Christus groei, hoe meer sien ek my eie sonde raak. Dan sien ek ook makliker raak wanneer ek ’n gees van oordeel het. 

Huis – Paleis – Pondok – Varkhok

Moenie oordeel volgens uiterlike maatstawwe nie, sê Jakobus. Moet glad nie oordeel nie. Die oordeel kom God toe.

Mag ons genadig in ons oordeel wees – en met genade kyk – soos wat God kyk. Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Gee ons vandag ons daaglikse brood …

SKRIFLESING:  Mat 6: 9 – 14

                           Heidelbergse Kategismus: Sondag 50, Vraag 125   

Vraag: Wat is die vierde bede?

Antwoord: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit is: (1)Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is, (2) sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is, (3) en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie. (4) Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel.

Dit is ’n voorreg om ’n aardse pa te hê. Dit is egter ’n troos om jou hemelse Vader te ken, want God staan PA vir Sy kinders. Dit is nie soos sommige aardse vaders, wat aandring op vaderskaptoetse voor hulle eers onderhoud betaal nie. God ontken nooit Sy vaderskap van Sy kinders nie.

God is ook nie onbetrokke of ’n afwesige vader nie – soos die deïsme leer nie. God is die liefdevolle, versorgende God wat PA staan vir Sy kinders. Dit is die refrein, die goue draad wat deur die hele Bybel loop.

As ek aan God dink, dink ek aan ’n klomp voëltjies in ’n nes, wat met oop bekke skreeu om kos. Dan kom die ouer en hy voed hulle. Voëltjies is afhanklik van hul ouers. So is ons ook afhanklik van God.

Die moderne mens hou nie van die beeld nie. Die mens wil selfversorgend en selfvoorsienend wees. Kinders droom daarvan, jongmense werk daarvoor, grootmense beplan daarvoor en bejaardes vrees om dit te verloor.

Dan kom leer die Here vir ons om te bid vir ons daaglikse brood in die “Onse Vader” gebed. Die eerste drie bedes gaan oor om groot oor God te dink en die vierde bede handel oor om God ook in die klein dingetjies soos daaglikse brood, raak te sien.

God is betrokke in die alledaagse. God gee om. God sien raak. Jy is vir God belangrik.

Vraag 125 antwoord:  (1) Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is.

Die vierde bede bestaan in Afrikaans uit ses woorde: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.”

GEE – Dit word nie as ’n eis gestel nie, maar as ’n gebed. Ons demand nie. Ons mense het nie “regte” voor God en ons medemense nie, ons het net voorregte. Daar is nie plek vir humanisme in die Bybel nie. Die vierde bede is ’n bede van afhanklikheid.

ONS – Ek moet nie bid vir “my” brood nie, maar ek moet bid vir “ons” brood. In die kapitalistiese stelsel sorg elkeen net vir homself en sal ek vir my brood veg, ten koste van ’n ander een se brood.

Daarom moet die werkgewer bid vir sy werknemer, die ryke vir die arme en die winkelier vir sy klant. Dit maak my ook aanspreeklik vir ander mense se brood op hulle tafel. Daarom moet ek ook bekommerd wees as ander mense nie brood op hulle tafel het nie. Daarom mag ek my oë nie sluit vir die ellendes van hierdie wêreld nie.

VANDAG – Ons is mense wat voorsiening wil maak vir môre en oormôre ook. Ons is soos die miere wat voorsiening maak vir die winter ook. Dit is nie verkeerd nie, die natuur leer ons immers daarvan. Maar dit word ’n fout as ek my heeldag bekommer oor die dag van môre. Dan lewe ek so in die toekoms, dat ek nie die hede kan waardeer nie. Bekommernis oor môre steel die vreugde van vandag. Die Here het vir die volk Israel in die woestyn ook geleer van afhanklikheid, deurdat hulle kwartels en manna net vir een dag op ’n slag moes optel. Slegs die dag voor Sabbat mag hulle vir twee dae voedsel bymekaar maak. Sou die Israeliete vir meer as een dag optel, het dit vrot geword en dan het daar ’n stank uit daardie tent uitgekom en is hulle in verleentheid gestel omdat hulle nie by God se verordeninge gehou het nie.

ONS – Gods brood het ons brood geword. Alles behoort mos aan die Here. Omdat ons God se kinders is, behoort Sy brood ook aan ons. Ons is nie bedelaars of vreemdelinge wat moet bedel by God om brood nie. Nee, ons is God se kinders wat brood kan vra, juis omdat ons Sy kinders is. In ons doop is ons daaglikse brood gewaarborg, want ons behoort deur die doop aan God.

DAAGLIKSE – Ons is daagliks van God afhanklik. Ek is elke dag, elke uur, elke minuut, elke sekonde van God afhanklik. Ek is nie net in nood van God afhanklik nie. Ek is in goeie én slegte tye van God afhanklik. Ek leef daagliks uit God se hand.

BROOD – Ek moet nie weelderigheid van God afbid nie. Ek bid om die noodsaaklike en nie vir oordaad en weelde nie. Die gebed leer ons nie bid vir konfyt ook nie. As ek konfyt kry, is dit genade omdat God vrygewig is. My brood vir vandag sluit in my huis, my gesondheid, my klere, politieke vrede, my salaris, my vriende, my lewensmaat, asook my saligheid. (Brood vir die lewe). Ek moet nie vra vir rykdom of armoede nie, maar om my beskeie deel. Dit is genoeg vir my.   

(2) Sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is.

Omdat God vir ons ons daaglikse brood gee, moet ons elke dag vir God dank en loof vir ons lewe, ons gesondheid, ons klere en alles wat ons van God ontvang. Ons moet die Here ook baie spesifiek dank. Toe my dogter Unine ’n klein dogtertjie was, het sy altyd met die tafelgebed baie spesifiek vir alles op haar bord gebid. Sy het gebid: “Dankie vir my vleis, pampoen, rys, boontjies ….”

Dikwels bestaan ons lewe net uit KLA, in plaas van DANK. Deur die dekades, word boere veral beskryf as mense wat maklik kla. Daarom is daar die grappie: “Watter maand kla die boere die minste?” Dan die antwoord: “Februarie-maand, want dié maand het die minste dae.” Daarom moet ons doelbewus dankbaarheid soek, selfs in die moeilikste omstandighede.

“As ’n mens vir my ’n skottel sand gee,” sê Holmes, “en vir my sê daar is ysterdeeltjies in, kan ek dit met my oë soek en met my lomp vingers daarna soek en dit nie opspoor nie. Maar laat ek ’n magneet neem en daardeur vee, en die mees onsigbare deeltjies sal nader getrek word, deur die blote krag van aantrekking! Die ondankbare hart, soos my vinger in die sand, ontdek geen genade nie. Maar laat die dankbare hart die dag oordink, en soos die magneet die yster vind, so sal dit gereeld ’n paar hemelse seëninge vind.”

(3) En dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie.

As die Here iets nie seën nie, loop dit op niks uit nie. Die landbouer kan maar ploeg, maar as die Here die oes nie seën nie, is die ploeg tevergeefs. Jy kan baie kos in jou huis hê, maar as jy nie die eetlus het nie, baat dit jou niks nie. Jy kan heelweek geestelike werk doen, maar as die Here dit nie seën nie, gaan dit geen vrug dra nie. Daarom moet ons altyd bid vir die Here se seën op alles. Beethoven het elke oggend gebid: “Here, help.” In die aand het hy gebid: “Soli Deo Gloria.”

(4) Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel.

Dit is so belangrik. Ons hulp kom nie van mense nie, maar van God. Ek moet nooit my vertroue in myself of ander mense stel nie. Ek moet my vertroue buite myself stel op die Here Jesus. Die water het wyn geword by die bruilof in Kana, omdat Maria haar vertroue in Jesus gestel het. Deur God se krag en ingryping vul Elisa ook die vate olie van die weduwee.

Ook in Suid-Afrika se netelige politieke situasie, kan ons alleen maar ons vertroue op die Here Jesus stel. Ons kan alleen maar die Here vertrou met die bloedige oorlog in die Oekraïne en dat die oorlog nie verder sal uitkring nie.

Jesus se gebreekte liggaam het ons brood (geestelike brood) geword. God het voorsien en versorg: brood vir die liggaam en brood vir die gees.

Mag God gee dat ons ons totale afhanklikheid sal besef.

AMEN 

(Preekinhoud aantekeninge is jare gelede van ‘n preekbundel geneem, waarvan ek die skrywer vergeet het. Ek het inhoud bygewerk.)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Skaakmat!

SKRIFLESING:  Rom 4: 25, 1 Kor 15: 54 – 58

’n Groot teoloog het eenmaal opgemerk: “Al was Jesus ’n duisendmaal gebore in Betlehem en al het Hy ’n honderdmaal gesterf op Golgota, maar Hy het nie een keer opgestaan nie, was ons geloof tevergeefs”. Toe Jesus op Goeie Vrydag aan die kruis gehang en later gesterf het, het dit gelyk of die Satan gewen het. Dit het gelyk of Jesus verloor het.

Maar wag, daar was nog ’n laaste skuif. Niemand het die skuif verwag nie. Die dissipels en die vroue het geglo dat Jesus weg is, dood is en nooit weer terugkom nie. Daarom het die vroue die Sondagoggend vroeg gegaan om sy liggaam te salf met olies. Hulle vind die groot steen weggerol en die graf leeg. Hulle het gedink  die tuinier het die liggaam verskuif. Hulle dink die dood het oorwin. Die bose het oorwin.

Dit lyk so asof die duiwel die uitklophou gegee het. Dit lyk asof Jesus verloor het teen die dood. Maar dan plaas die Here Jesus die duiwel in die SKAAKMAT-posisie. Die Here Jesus oorwin die dood, die bose en die duiwel. Die Here Jesus het opgestaan uit die dood en Hy lewe. Hy verskyn aan die vroue, later aan die dissipels en nog later aan vele ander mense.

Dit was die gebruik om in die vroeë kerk die Paasdiens met ’n Paasgrap te begin – deur te spot met die dood en met die duiwel wat verslaan is.

Jesus se opstanding was moontlik, omdat Hy die perfekte Lam van God was. Op Goeie Vrydag – toe Jesus gekruisig is – was duisende paaslammers geslag vir die pasga. Elkeen is deur die priesters ondersoek om seker te maak hulle is perfek. Terwyl die proses aan die gang was, is Jesus (as die Lam van God) ook ondersoek deur Pilatus. Drie keer het Pilatus verklaar dat hy geen skuld in die Man vind nie. Daarom word Hy die perfekte Lam van God genoem. Die priesters het nooit die sondaarmense ondervra oor hulle sonde nie. Op grond van die paaslammers se perfeksie is hulle sonde weggeneem. Netso kyk God ook nie na ons sondaars se sonde nie, maar na die perfekte Lam van God wat geslag is. Toe Jesus in Sy sesde kruiswoord sê: “Tetelestai” – Dit is volbring, is ons regverdig verklaar. Omdat Jesus onskuldig gesterf het, kon Hy op die derde dag opstaan uit die dode en kon Jesus se onskuld ook ons onskuld word. Daarom staan daar in  Rom 4:25 die volgende: “Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.” Na aanleiding van bogenoemde verduideliking van Pieter Scholtz, skryf hy verder: “Ons sondes het Sy dood tot gevolg gehad. Ons regverdigmaking het Sy opstanding tot gevolg gehad. Sy opstanding was die kwitansie van jou verlossing. Sy opstanding maak jou onskuld bekend.”

Geliefdes, u moet onthou, as Jesus net aan ’n kruis gesterf het en nie opgestaan het uit die dood nie, was ons sondes nie vergewe nie. Sy opstanding is die kwitansie dat die sonde en die dood oorwin is.

Jesus het die sonde en die dood oorwin. Maar ’n mens kan vra, as die Here dan die sonde oorwin het en ’n nuwe begin aangekondig het, hoekom is daar so baie geweld, ellende en swaar in die wêreld oor. Hoekom is daar oorlog in die Oekraïne?

Karl Barth kon aangrypend hieroor skryf : “Pase is die verkondiging van ’n oorwinning wat reeds behaal is. Die oorlog is verby. Daar is natuurlik nog hier en daar troepe wat aan die skiet is, maar dit is omdat hulle nog nie gehoor het van die oorgawe nie. Die spel is gewen, al kan die verloorder nog ’n paar skuiwe maak. In werklikheid is hy reeds in die skaakmat-posisie. Die horlosie het afgeloop, al kan die pendulum nog ’n paar keer heen en weer swaai. Dit is in hierdie tussenperiode dat ons leef: Die oue het verbygegaan, kyk, alles het nuut geword. Die Paasboodskap sê vir ons vyande – die sonde, die vloek en die dood  is oorwin. Op die lange duur kan hulle geen onheil meer teen ons loods nie. Hulle tree wel nog op asof die spel nie beslis is nie, asof die oorlog nie reeds gewen is nie. Daarom moet ons met hulle rekening hou, maar wesenlik kan ons maar ophou om hulle te vrees.”

My ouma op Strydenburg het altyd hoenders aangehou vir eiers en slag. As klein seuntjie het ek altyd gesien hoe sy die slaghoenders se koppe afkap met ’n byl op ’n stomp hout. As die kop afgekap is, hol die hoender nog so sonder sy kop vir ’n kort rukkie rond. Ek het altyd aardig gevoel. Maar net so is dit met die duiwel. Hy is ’n afkophoender wat rondhardloop, maar eintlik is hy alreeds dood. Die duiwel is soos ’n afkopslang wat nog vir minute lank met sy lyf ’n doodsroggeling uitvoer.

In een van die dorpies van Noord-Indië het ’n sendeling in ’n saal gepreek. Toe hy klaar maak, het ’n Moslem na vore gekom en gesê: “Jy moet erken ons het een ding wat jy nie het nie, en dit is beter as enigiets wat jy het.” Die sendeling het geglimlag en gesê: “Ek wil graag weet wat dit is?” Die Moslem het gesê: “Julle weet, wanneer ons na Mekka gaan, kry ons ten minste ’n kis. Maar wanneer julle Christene na Jerusalem gaan, wat julle Mekka is, vind julle niks anders as ’n leë graf nie.” Maar die sendeling het net geglimlag en gesê: “Dit is net die verskil. Mohammed is dood; Mohammed is in die kis. En valse sisteme van godsdiens en filosofie is in hulle kiste, maar Jesus Christus, wie se Koninkryk alle nasies en stamme insluit, is nie hier nie; Hy het opgestaan. En aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Dit is ons hoop.” ’n Lewende Christus! Dit is ons hoop. Hy is nie dood nie, maar lewe vir ewig.

Die Nederlander, Jan Willem Stam, skryf dat beide die sondeval en die verlossing uit die sondeval, in ’n tuin plaasvind. Adam en Eva het gesondig in die tuin van Eden en is uit die tuin verjaag. Jesus het met sy opstanding in die tuin van Josef van Arimathea, ’n einde kom maak aan die sonde van die mens. Daarom is daar vergifnis in Jesus se bloed.

Die Here Jesus het die duiwel in SKAAKMAT gesit. Die Here Jesus het oorwin. Daarom is ons saam met Hom oorwinnaars oor sonde en dood. Jesus se opstanding is God se “amen” en die mens se “halleluja.”                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Tetelestai – Dit is volbring!

SKRIFLESING:  Johannes 19:30

Meestal spog mense oor hoeveel jare diens hulle gehad het by ’n firma of ’n onderneming. Party het 20, of 30, of 45 jaar diens gehad. Elkeen wat aftree, kry gewoonlik ’n groot feestelike afskeid. Jesus se bedieningstyd was ’n skrale drie jaar. Daar was hoogtepunte en laagtepunte. Uiteindelik is Hy uit Sy diens ontslaan deur aan ’n kruis van skande te hang, om die skande van die mensdom weg te neem. 

In die oorspronklike Grieks word die drie Afrikaanse woorde “Dit is volbring” in een woord saamgevat naamlik “Tetelestai”. Die woord is in Jesus se tyd algemeen gebruik.

“Tetelestai” is die sesde kruiswoord, wat oorwinning beklemtoon. Dit is die hoogtepunt van die kruisiging, want hiermee sê Jesus dat Sy werk afgehandel is. Hy het betaal vir die sonde van die mensdom.

Ds Jean Strydom en Weila-Marie Strydom het in hulle boek Sewe kruiswoorde van die Here, wat in 2010 verskyn het, ’n interessante verdeling gemaak van die gebruik van die woord “Tetelestai”.  Hulle pragtige verduideliking word hieronder opgesom.

“Tetelestai” was gebruik deur:

  • Kunstenaars
  • Diensknegte
  • Priesters
  • Handelaars

Kom ons kyk na die vier gebruike.

  1. Kunstenaars

Wanneer ’n kunstenaar sy kunswerk voltooi het, het hy teruggestaan en gesê: “Tetelestai” – dit is voltooi! In die Ou Testament leer ons dat God net praat deur beelde, simbole, die verskyning van engele, die Tien Gebooie, wette, profetiese voorspellings en wysheidsliteratuur. Maar ons ken God net gedeeltelik deur die Ou Testamentiese Openbaring.

In die Nuwe Testament ontdek ons God in Johannes 1 as die vleesgeworde Woord, wat die menslike natuur aangeneem het. Hierdie vleesgeworde Woord is Jesus Christus. In Jesus word die kunswerk van God se openbaring voltooi. God se hart vir die mensdom word geskilder in Jesus se sewe kruiswoorde aan die kruis. God het so lief gehad, dat Hy sy Seun aan die kruis laat sterf het. Dit was die finale kwasstrepe, wat openbaar hoe groot en wyd God se liefde strek. Die kunswerk van die Godsopenbaring is voltooi –  “Tetelestai”.

2. Diensknegte

Wanneer ’n meester aan ’n dienskneg ’n opdrag gee en die taak is voltooi, sal die dienskneg vir sy meester sê: Tetelestai – dit is afgehandel. Die opdrag is voltooi.

So het die Vader ook Sy Seun met ’n opdrag na die wêreld gestuur. Die opdrag was om die wêreld te red van sonde en die nuwe Koninkryk te vestig. Vir die Here Jesus Christus het dit gevra om ’n lydenspad te stap. Jesus Christus was die groot dienskneg wat Sy dissipels se voete gewas het. Die lydenspad het geëindig met ’n wrede dood aan ’n kruis vir die wêreld se sonde. Aan die kruis kon Jesus uitroep: Tetelestai – dit is afgehandel. Die opdrag is voltooi.

3. Priesters

Die Jode moes eers hulle offerandes na die priesters bring om seker te maak daar is geen foute of gebreke aan hulle offers nie.  Nadat die priesters die offer deeglik ondersoek het en geen fout kon vind nie, het hy die Hebreeuse ekwivalent vir die Griekse woord “Tetelestai” gebruik, wat beteken “die offer is perfek.” Jesus aan die kruis was die perfekte en volmaakte sondelose offer. Selfs sy vyande het erken Hy het geen foute nie. Pilatus het bevestig dat hy geen skuld in hierdie man sien nie (Luk 23:4). Judas het ook in Mat 27:4 erken dat hy ’n onskuldige man verraai het. Toe Jesus aan die kruis uitroep:  “Tetelestai”,  was dit die bevestiging dat die perfekte offer gebring is.

4. Handelaars

Vir die handelaars het die woord “Tetelestai” verwys na die betaling van iets wat geskuld word.

As jy iets koop, sou die handelaar jou geld neem en aan jou ’n bewys van betaling, ’n kwitansie, uitreik. Op die kwitansie sou staan: “Tetelestai – ten volle betaal.” Tetelestai is dus ’n rekenkundige term wat op ’n rekening aangebring word om aan te toon dat die rekening volledig vereffen is. Dit beteken dat die rekening van ons opgestapelde sonde nou ten volle deur Jesus betaal is. Ons het geen skuld meer nie. The slate is clean! Toe Jesus aan die kruis uitroep:  “Tetelestai”, het Hy bedoel al ons sondes is ten volle betaal.

Vir die dissipels en volgelinge was die Vrydag van Jesus se kruisiging ’n swart Vrydag. Christus het gesterf. Eers later, na Paassondag, sou die vroeë kerk in perspektief die dag waarop Jesus gesterf het as ’n Goeie Vrydag beskou.

In die sestiende eeu het Oliver Cromwell beveel dat ’n Engelse soldaat vir ‘n lafhartige misdaad geskiet word. Die teregstelling sou met die aandklok plaasvind. Maar op die vasgestelde tyd het geen geluid uit die kloktoring gekom nie. Ondersoek het aan die lig gebring dat die meisie wat verloof was aan die veroordeelde man, in die kloktoring geklim het en aan die bel van die reusagtige klok vasgeklou het om te keer dat dit slaan. Hulle het haar daar gekry met haar hande bloeiend en aan flarde geskeur. Die Engelse soldaat is toe uit genade vrygelaat, vanweë die dapper optrede van sy verloofde.

Almal van ons is sondaars onder die doodsvonnis. Maar Christus het namens ons ingegryp. Kyk na Sy gekneusde en bloeiende spyker-deurboorde hande aan daardie kruis.

Die doodsklok lui nie vir ons nie. Ons is vrygespreek.

Tetelestai – Dit is volbring!

AMEN

BRONNELYS

Strydom, Jean & Strydom, Weila-Marie, 2010. Sewe kruiswoorde van die Here.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die doop is ’n waarborg.

SKRIFLESING:  Gal 3: 27

Die ongebore embrio is met ’n naelstring aan die moeder verbind. Met geboorte word daardie naelstring geknip. Met die doop word ’n nuwe naelstring gevorm tussen die dopeling en God. Daarom is die doop ’n belangrike geleentheid in ’n dopeling se lewe. ’n Mens word nie met jou belydenisaflegging deel van die kerk nie, maar met jou doop. Jou doopdatum is die datum waarop jy ingeskryf word in die geskiedenis van die Here se kerk op aarde. So word jy deel van God se verbond, wat met Abraham begin het. Vandag word Francois Loots ingeskryf in God se genadeverbond. Vandag is die belangrikste datum in sy lewe. 

Die doop is God se waarborg oor jou lewe. Met jou doop waarborg die Here dat Hy vir jou gesterf het en al jou sonde afgewas het. Daarom staan daar in Gal 3: 27 die volgende: “…. want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ’n kleed aangetrek.” Wanneer jy in Christus gedoop is, het jy Christus aangetrek soos ’n kleed wat jou naaktheid, jou sonde bedek. Dit is ’n waarborg dat jy deur Christus se verlossingswerk gered is en nie deur jou eie toedoen nie. Tereg het Charles Spurgeon gepredik: “It is not your hold of Christ that saves you, but his hold of you.”

Wanneer jy ’n nuwe voertuig koop, kry jy ’n fabriekswaarborg vir omtrent 100 000 km of drie jaar. Dit beteken dat die fabriek sal instaan vir enige foute wat die voertuig opdoen in daardie tyd. Die Here Jesus staan ook in vir ons foute en sondes, maar met ’n belangrike verskil, naamlik dat dit ’n lewenslange waarborg is – dat Hy ons sonde weggeneem het of dan ons sondes met Sy “kleed” bedek het.

Die doop beklemtoon dat God alleen die inisiatief neem in ons verlossing en alleen die verlossingswerk doen. Ons kan God nie help nie. Dit het baie skeef geloop toe Abraham en Sara vir God probeer help het.

Die teken  van die verbond voor die doop was die besnydenis. Abraham was die eerste man wat besny is en God het vir hom en Sara ’n groot nageslag belowe soos die sand van die see of die sterre aan die hemelgewelf. Maar alreeds in hulle negentigerjare en nog geen kind op pad nie, het hulle begin twyfel aan God se waarborg van ’n groot nageslag. Hulle maak toe hulle eie plan. Sara moedig vir Abraham aan om by haar slavin Hagar te gaan slaap. Hagar verwek toe die seun Ismael. Maar God staan by Sy waarborg. Hy maak sy belofte waar deur vir Abraham en Sara die seun Isak te gee. Maar toe ontstaan daar twis en jaloesie tussen Sara en Hagar. Abraham is gevolglik gedwing om Hagar en die seun Ismael die woestyn in te stuur. Dit het skeiding gebring en was ook die beginpunt van die eeue-lange Midde-Oosterse konflik. Die Bybel voorspel ook daar sal nooit vrede tussen die kinders van Isak en die kinders van Ismael kom nie. Dit gebeur as ’n mens God se werk uit God se hande neem. Jy verbrou altyd.

Verwarring oor die doop bestaan as jy God nie meer in die sentrum plaas nie, maar die mens in die sentrum plaas. Dan word die mens mede-verlosser van homself. Die mens se keuses word dan die roem en nie meer Christus se algenoegsame verlossingskrag nie.

In die ou kerklike taal is die doop altyd tereg ’n “seël” genoem. ’n Seël het ook die betekenis van ’n waarborg. ’n Koninklike brief het ’n koninklike seël  opgehad om die oorspronklikheid en outentiekheid van die brief te bevestig. Dokumente is met ’n seëlring in was gedruk, verseël. Graaddokumente het ook die seël van die Universiteit op om te bevestig dit is eg en nie ’n vervalsing nie.

Jy kry ook die seël op posstukke. Die seël beteken die posgeld is ten volle betaal. Die posstuk kan afgelewer word. Netso het die Here vir al my sonde betaal. Die doop is daarvan ’n seël.

So is die doop ’n waarborg en seël dat Christus volledig vir al my sondes gesterf het en dat ek nie die Here hoef te help om my te verlos nie.

Wedergeboorte, bekering en heiligmaking is nie my aandeel aan my verlossing nie. God bewerk al die geestelike gawes wat nodig is om Hom te dien en tot eer van Sy naam te leef.

Die doop is nie ’n kinderwyding nie. Die doop is nie die toewyding van kindertjies aan die Here nie. Dit is nie die mens wat handel nie, maar God self wat handel. Nee, die doop is ’n SEëL en WAARBORG wat Jesus vir ons kom voorsien het aan die kruis. Kindertjies word volledig ingelyf in die gemeente as  gelowiges, as deel van die verbond.

Die doop is die seël wat waarborg dat die Here instaan vir al ons sondes. Hierdie seël van verlossing word vanoggend in Francois Loots se lewe bevestig. Die ouers Dawie en Leani kan nooit die waarborg wees nie. Julle kan nie instaan vir sy sonde nie. Net die Here kan instaan vir sy sonde. Dit waarborg Hy in die doop.

Dawie en Leani, julle moet vir Francois getrou deel maak van die kerk, sodat hy deur die kerk geleer kan word om lewenslank nié aan sy geloof vas te hou nie, maar aan die inhoud van die geloof, naamlik die sekerheid dat Jesus vir Francois ook gesterf het.

Die heilige doop kan net eenmaal bedien word, anders twyfel jy aan God se beloftes. Wat God eenmaal belowe het, kan nie betwyfel word nie.

In sommige Anglikaanse kerke is daar die gebruik om wanneer die erediens begin, die volgende ritueel te volg. Die priester ontmoet die ouers en die dopeling in die voorportaal van die kerk, waar daar ’n doopvont staan. Nadat die dopeling gedoop is, dra die priester die kindjie vorentoe na die liturgiese ruimte en stel die dopeling bekend as ’n nuwe lidmaat van die gemeente.

Die dopeling word nie privaat gedoop nie, want dit is ’n inlywing in die verbondsgemeente. Die verbondsgemeente dra medeverantwoordelikheid saam met die ouers om die jong verbondskinders te laat opgroei in die Christelike leer en leefwyse.

Die doop is ’n wonderlike troos. In tye van onsekerheid of aanvegtinge kan jy onthou: maar jy is mos gedoop! Ek was eenkeer ’n besoeker by ’n Anglikaanse kerk. Buite die hoofingang was daar ’n bakkie water gemonteer teen die muur. Ek vra toe wat die doel daarvan is. Die priester antwoord dat as iemand kerk toe kom en jy beleef aanvegtinge, kan jy jou vinger natmaak met die water en dit teen jou voorkop druk om te onthou dat jy mos gedoop is en daarom nie bang hoef te wees nie.

Martin Luther het erge aanvegtinge van depressie gehad. Eenmaal toe hy so ’n aanvegting beleef, het hy op sy houttafel uitgekerf: “Maar ek is mos gedoop.”

Daarom is die doop ’n heerlike troos.  Baba Francois Loots is opgeneem in God se ewige genadeverbond. Herinner hom telkens dat hy gedoop is.

Dit is ’n ewige troos.                                                                           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Van kop tot tone ’n halleluja.

SKRIFLESING:  Psalm 150

Daar is nie een mens op hierdie aarde wat nie een of ander tyd van sy lewe nagedink het oor die sin van die lewe nie. ’n Mens dink daaroor in die krisistye van die lewe, en tydens wonderlike ervarings, met die geboorte van ’n kind, wanneer huweliksklokkies lui of by die kluitklap op die kis.

Is ek maar net ’n klein stukkie plasma in die groot heelal? ’n Klein asemteugie wat kom en gaan? Dan is dit ’n kwessie van fluit-fluit, ou kêrel, maar jou storie is uit. Die digter van Psalm 150 het gelukkig die antwoord op die vraag: “Hoekom leef ek?” Hoekom het die Here my gemaak, verlos en die ewige lewe aan my geskenk? Psalm 150 wil vir my sê: “Wie geleer het om te loof, het geleer om te leef.” Dit beteken dat jy van kop tot tone ’n halleluja moet wees. Die Psalmis eindig met die Halleluja-koor! In elkeen van die dertien sinne waaruit hierdie Psalm bestaan, kom die woord Halleluja (“loof Hom” in 2020-vertaling), wat “Prys die Here” beteken, voor.

Alles wat was – die verlede, alles wat is – die hede, alles wat nog kom – die toekoms, is daar net om een goeie rede, naamlik om God te prys en God te loof.

God is die middelpunt van al ons lofprysing.

God is nie daar ter wille van jou nie. Nee, jy is daar ter wille van God. Jy is daar om God te prys en te loof.

Dit is die sin van die lewe!

Dit is waarom jy leef!

Luther praat van die TEATRUM GLORIA! Alles in die skepping wys na Hom.

Die massas materie in die donkerste uithoeke van die heelal. Die sonnestelsels, die melkwegstelsels, die planete, die komete, ruimte, tyd en energie. Die kleinste wurmpie en die kleinste miertjie op een van die kontinente, wys na God. Die herfsblare en die lentebloeisels vertel van God. Die koraalriwwe in die see en die blou pieke van die berge wat hulle vingers in die lug steek, getuig van God. Die glorie van die sonsondergang, die gekwetter van voëls en die gebruis en gebreek van die branders is God se werk. Die eerste skree van ’n pasgebore baba en die rustigheid van ’n bejaarde  is alles daar ter wille van God. Alles is daar om God te loof en te prys.

Die doel van die uitverkiesing is nie om mense se baste te red nie. Dit is om akteurs vir God se vrolike blyspel van die nuwe hemel en nuwe aarde te kies.

Die Duitse skrywer Wilhelm Fischer vergelyk die skepping met ’n magtige pyporrel. Die groot pype met die basklanke het hulle unieke dreungeluid. Die klein pypies, sommiges so groot soos ’n stopnaald, het piepfyn klankies.

As hulle op hul eie sou speel, sou dit bra eentonig wees; as hulle egter saamspeel, is dit ’n magtige simfonie. So is die skepping.

God is die groot Meester wat voor die magtige pyporrel sy plek inneem. Mensekind, jy is daar ter wille van God. Jy is daar om deur God bespeel te word. Die bladmusiek is die Woord van God. Die dirigent is die Heilige Gees, wat ons opnuut vars, nootvars en nootvas, laat sing.

Prys ons nog die Here? Nie ’n vlietende oomblik of ’n los gedagte nie – maar is ons ganse lewenstyl gekenmerk deur hierdie lofuiting aan God?

Hierdie vraag “Of ons nog die Here prys?” word spesifiek aan die kerk gevra. Trouens Psalm 150 begin by die volk van God as die digter sê: “Prys God in sy heiligdom.” Die heiligdom is die tempel van ouds, waar die volk van God bymekaar gekom het.

Ons – die kerk van die Here Jesus Christus – kan God nog sinvoller as die digter van Psalm 150 prys. Vir ons is vers 2 ’n profetiese vers: Ons prys God oor sy kragtige daad in Jesus Christus, want Hy het Sy Seun vir ons gegee.

Psalm 146 tot Psalm 150 is die vyf lofprysingspsalms in die Psalmboek. Ons gelese gedeelte is die hoogtepunt en die afsluiting van die vyf lofprysingspsalms.

In die kerk moet ons so speel, so sing, so bly wees dat ons die wêreld aantrek. Die wêreld moet aangetrokke voel tot die kerk. Dit moet wees soos metaal wat na ’n magneet aangetrek word. Ja, die kerk is ’n prysende gemeenskap en nooi so ander om mee te doen.

Lofprysing veroorsaak dat die persoon vergeet van hulself, hul persoonlike belange, en om jou aandag te vestig op God, om Hom met jou hele hart te prys, om jou dankbaarheid, jou bewondering vir sy goedheid en barmhartigheid te betuig.

Miskien sê u dat u eers ’n bietjie moet wag totdat u omstandighede beter is. Miskien dink u: Op die oomblik ly ek nog te veel en lyding en lof pas nie bymekaar nie. Lyding en lof kan mos nie onder een dak woon nie. Dan moet u van die volgende kennis neem. Die Psalmdigter sing Psalm 150 nadat hy die Godverlatenheid van Psalm 22 beleef het, nadat hy deur die donker dieptes van Psalm 23 gegaan het en nadat hy geskreeu het na God soos die dorstiges waarvan Psalm 42 praat. Hy sing hierdie psalm “ten spyte van …”

Psalm 150 kan vergelyk word met die negende simfonie van Beethoven – musikaal verskil dit hemelsbreed. Maar albei sing lof vanuit die dieptes … ten spyte van lyding en smart. In die eerste bewegings van die negende simfonie hoor ’n mens Beethoven se droefheid oor sy doofheid – maar uit dieselfde musiek kom lof aan God.

Daar is ’n mooi aanhaling: “ Two persons look through the bars of a jail. The one sees the stars, the other the mud.”

Iemand het as volg opgemerk: “Ek wonder of ons nie eerder soos molle is nie? Ons doen alles, behalwe om God te prys. Ons maal in die modder rond. Ons soek sin en betekenis in die lewe. Ons oë het blind geword vir die wêreld van lig en lof. Ek sou eerder ’n voëltjie wil wees wat kan vlieg en die blou lug, en die skitterende son, tegemoet wou loop. Wat kan kwetter en kan sing. ’n Voëltjie vry om God te prys, om God te loof, om God te bewonder, om God te geniet.”

Ja, ons moet ’n halleluja van kop tot tone wees.                                                      AMEN

(Ek gee erkenning dat ek meer as 30 jaar gelede aantekeninge geneem het van ‘n preek van ‘n prediker wie se naam ek vergeet het, wat ek ryklik in dié preek gebruik het. )

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die waarde van oumense neem in God se oë toe.

SKRIFLESING:  Luk 2: 25 – 40

Hoe ouer ’n mens word, hoe meer voel en ervaar jy dat jy op die rand gestoot word. Dit is asof jy nie meer so nodig is nie. In die SANW en sommige ander beroepe word jy gedwing om al op 60 jaar af te tree.

Deesdae kry ’n man of vrou baie moeilik op die ouderdom van 50 jaar plus ’n vaste betrekking in die arbeidsektor. Maatskappye soek jong mense, nie middeljariges of ouer mense nie.

Oumense sê ook dat hulle voel dat hoe ouer hulle word, hulle menings al minder tel. Mense luister al minder na hulle en behandel hulle selfs soos kinders.

In die oë van die sondige wêreld is dit waar dat ’n mens se waarde afneem hoe ouer jy word. Miskien is dit so omdat ons so materialisties ingestel is. Hoe ouer mense word, hoe meer verloor hulle waarde. Maar hoe ouer meubels, antieke ware, antieke motors, ensovoorts word, hoe hoër styg hulle gesogtheid en hulle verkoopprys.

In die antieke tyd is grysheid gesien as ’n seën en is oumense hoog aangeslaan. Om grys te word in die ou tyd, was om ’n sekere statigheid te bekom. Grysaards het by die stadspoorte bymekaar gekom om regspraak te beoefen. Vandag is dit net mooi andersom. Die jeug en jeugdigheid is alles. Om grys te word, beteken “diskwalifikasie” en daarom is mense vandag so lief om hulle hare te kleur en plooie te verdoesel.

Maar God ag groot waarde aan oumense. God doen ook groot dinge deur oumense. Dwarsdeur die Bybel lees ons hoedat God bejaarde mense gebruik het om groot dinge te doen.

Dink aan Abraham en Sara wat in hulle bejaardheid die kind Isak verwag het. Dit was eintlik lagwekkend en daarom het Sara gelag. Uit hierdie lagwekkende bejaarde situasie is die volk Israel gebore, ja, sodat ons almal vandag kinders van Abraham is.

Al die aartsvaders, Abraham, Isak, Jakob en ander, was in hulle bejaardheid besondere instrumente in die hand van die Here.

Selfs Moses het as ’n bejaarde man sy volk uit Egipte-land uitgelei, deur die woestyn, die beloofde land in. Tog stort hyself inmekaar en sterf voor hy sy voet in die beloofde land sit.

Simeon was ’n bejaarde man, maar God het aan hom beloof dat hy die Messias sal sien voor hy sterwe. Hy was getrou in die tempeldiens en daarom was hy dan ook daar om die Kindjie Jesus te aanskou. Oor dié Kind het hy ’n loflied gesing, maar ook profetiese woorde gespreek in vers 35. Anna was ’n bejaarde vrou, ’n profetes van 84 jaar oud, maar het nog elke dag die Here gedien. Sy het nooit van die tempel weggebly nie en God dag en nag gedien.

Daarom dien bejaardes veral as geestelike getuies van die wonderdade wat God al in hulle lewe gedoen het. Vergelyk Hebreërs se heldegalery van geloofshelde wat die ander aanmoedig in die geloof.

Oupas en oumas speel ’n groot rol in hulle kleinkinders se lewe. Timoteus is nie net deur sy moeder gevorm nie, maar ook deur sy ouma Loïs. Inteendeel, sy ouma Loïs word genoem voor sy ma Eunice.

Gedurende die verouderingsproses neem die intellek en skerpheid van die brein af, maar die kreatiwiteit en ervaring maak dat mense hulle grootste werke op ’n gevorderde ouderdom skep. Van die grootste teologiese werke deur die loop van eeue is deur bejaarde kerkvaders geskryf.

Die grootste mentors in my lewe was almal bejaarde mense. Ek dink aan twee van my oud-professore, naamlik prof. EPJ Kleynhans wat vir my Kerkreg gegee het en prof. Mias de Klerk wat vir my Praktiese Teologie gegee het. Hulle lesings was soos preke. Jy het vasgenael na hulle geluister. Dit was ’n belewenis.

Op Strydenburg was daar ’n Oom Jan van Wyk van 94 wat ’n baie groot mentor in my lewe was.   

Nelson Mandela het op die ouderdom van 79 opgetree as die president van Suid-Afrika. Op ’n stadium was hy naas Coca Cola die tweede bekendste ikoon in die wêreld.

Mense behaal doktorsgrade op 90 jaar plus.

’n Mens word oud soos wat jy geleef het. As jy ’n vriendelike, opgewekte en dankbare mens was in jou jeugjare, sal jy ook só oud word. As jy ’n verbitterde mens is, sal jy ook eendag ’n verbitterde onvergenoegde oumens wees.

Ek het eendag ’n Engelse oom in Huis Corrie Dreyer besoek, wat op sy laaste was. Hy sê aan my dat sy ou liggaam nie meer kan nie. Maar in dieselfde asem sê hy dat hy soos ’n “springchicken” voel. Sy liggaam is oud, maar sy gees is jonk.   

’n Mens word oud sodat jy kan dien, bid, ander ondersteun, en om daar vir ander te wees. Sommiges het die wanopvatting dat oud word beteken ek moet agteroor sit sodat ander my moet bedien. Nee, selfs in my bejaarde ouderdom moet ek ander kan dien, soos Abraham, Moses, Simeon en Anna. Die Here kan en wil my nog steeds gebruik.

Talmage vertel die verhaal van ’n jong man wat na ’n 90-jarige man gekom het en vir hom gevra het: “Hoe het jy dit reggekry om so lank te lewe en so ’n goeie karakter te wees?”  Die ou man het die jongeling na ’n boord geneem en na ’n paar groot bome vol appels gewys en gesê: “Ek het hierdie bome geplant toe ek ’n seuntjie was, en nou wonder jy waarom ek dit in my ouderdom oes?” Ons maak op ons oudag bymekaar wat ons in ons jeug plant. Saai vir die wind, en jy maai die warrelwind. Plant in die vroeë lewe die regte soort Christelike karakter, en jy sal in jou ouderdom ’n mens van karakter en integriteit wees.

As ek in Huis Corrie Dreyer is, kan ek dien, ander mense moed inpraat, mense opbeur en ander help. Ek is daar om te dien en nie om bedien te word nie.

In Amerika is daar tuistes waar bejaardes hulle eie inrigtings bestuur en onderhou. Sommige maak kos, ander herstel klere, ander werk in die tuin en so het elkeen sy funksie in die tehuis. Daar is amper geen werkers nie. Daar is ook ouetehuise in Amerika waar hulle ouetehuise en kleuterskole langs mekaar bou. As dit pouse-tyd is gaan die kindertjies na die ouetehuis toe. Dan gee die bejaardes ekstra aandag aan die kindertjies deur vir hulle te lees en met hulle te speel. Die bejaardes voel ook minder eensaam en voel hulle beteken iets vir die samelewing.

Daarom moet ’n mens jou waardigheid behou, te midde van ouderdom en aftakeling. ’n Mens se waardigheid lê in jou gees en nie in jou liggaam nie.

Ek wil nie jonger wees nie. Hoeveel armer sal ek nie aan lewenservaring wees nie! Bejaarde Christene is geneig om bedagsaam, vriendelik, geduldig en liefdevol te wees. Deur jare van navolging van Christus het hulle meer en meer na Sy beeld gegroei. Fisiese gesondheid kan misluk, of die sig word swak, die gehoor verswak, maar daar is geen rede om moed te verloor nie. Hoekom? Die innerlike natuur word elke dag vernuwe.

Vir diegene wat die verbygaande jare vrees, is ’n interessante moontlikheid deur Charles L. Allen voorgestel. Hy skryf: “Sê nou net die proses was omgekeer. Jy sou op ’n hoë ouderdom begin lewe en elke dag ’n bietjie jonger wees. Nou, dit sou verskriklik wees. Elke dag sou jy ’n bietjie minder weet as wat jy die vorige dag geweet het.”

In die oë van die wêreld verloor oumense dikwels waarde. Maar in God se oë styg oumense in waarde. Jy word in ’n besondere sin al meer bruikbaar in die Here se diens.

Kom ons dank God vir die bejaardes, ook dié in ons gemeenskap. Mag hulle soos Abraham, Simeon en Anna nog steeds bruikbare instrumente wees. Ja, geloofshelde om ander te inspireer.                                    AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die Here soek vrugte van bekering.

SKRIFLESING:  Luk 13: 6 – 9

’n Arm Duitse meisie het aangekondig dat sy ’n klavierkonsert gaan gee. Om mense te lok om te kom, het sy in die advertensies genoem dat sy die student van die beroemde Hongaarse professor, Franz Liszt, was. Maar dit was ’n leuen. Tot haar ontsteltenis het sy verneem die professor gaan haar dorp die dag voor die konsert besoek. Wat moes sy nou doen? Sy het hom gaan ontmoet, haar skuld beken en hom gevra om haar te vergewe. Die professor het geantwoord: “Jy het ’n fout gemaak. Almal van ons maak foute. Die enigste ding wat jy nou kan doen, is om te bekeer; en ek glo dat jy reeds berou het. Sit en speel.” Aan die begin het sy met baie vrees gespeel. Die professor het ’n paar van haar foute reggestel en gesê: “Nou kan jy regtig sê dat ek jou geleer het. Gaan speel môreaand by jou konsert, en die laaste stuk sal nie deur jou gespeel word nie, maar deur jou onderwyser.” Jy is soos hierdie meisie. Jy het gesondig. Daar is niks anders wat jy kan doen as om jou te bekeer nie. Dan sal jy die rol van jou lewe speel onder toesig van Christus self. Die laaste en die beste stuk sal deur Hom gespeel word.

Die gelykenis van die vyeboom gaan oor die Here wat vrugte van bekering soek by die mens. Wat voorop staan, is die geduld van God met die wederstrewige sondaar, wat hom / haar nie wil bekeer nie.

Willie Jonker het in 1957 in ’n preek geskryf van die onverdiende ontferming van God.   Dit is nie ’n vyeboom wat êrens in die wildernis opgeskiet het nie. Hy staan geplant, deur die sorg van sy eienaar daar waar die grond sag en vrugbaar is, in die wingerd. Die wingerd is die trots van die eienaar. Die vyeboom is in ’n begunstigde posisie. Met reg kan die eienaar van hom vrug verwag. Wie is hierdie vyeboom? Dit is die mens wat deur God bevoorreg is om aan die verbond te behoort. Christus dink by die vertelling van die gelykenis aan Israel, die volk van God, wat in die bevoorregte posisie is, wat die wet en profete het en wat die menswording van Christus aanskou. Van sulke mense kan daar met reg vrug verwag word, die vrug van geloof. Die vrug wat God soek, is nie ons goeie werke of ons geld nie, maar harte wat in geloof aan Hom oorgegee is.  

Dié vrug verwag God van elke kerkmens, van elke gedoopte mens wat deur Gods genade gebore is op die akker van die Kerk en in God se verbond, sê Jonker. Maar helaas, die vyeboom wat hier geskets word, is die beeld van die kerkmens wat ten spyte van die voorregte, nog steeds onvrugbaar bly. God het oor ’n lang tydperk (drie jaar) tevergeefs vrugte van bekering verwag by die kerkmens. Die kerkmens wat maklik toegang het tot die Woord, deur middel van die Bybel, die eredienste en digitale preekuitsendings en die toegang tot geestelike literatuur en geestelike boeke – se hart bly verhard. Die Here roep dikwels deur een of ander beproewing of gebeurtenis hard tot ons uit, maar steeds dra ons geen vrugte van bekering nie. Inteendeel, in plaas van vrug te dra, maak die vyeboom die grond waarin dit staan onvrugbaar (vers 7). Elke kerkmens wat nie bekeer nie, maak dit vir ander moeiliker om Christus te vind.  Jonker skryf: “Hy (die onbekeerde sondaar) verlaag die geestelike temperatuur in die Kerk, hy smoor die getuienis van die Kerk na buite en hy trek ander eerder weg van Jesus af as wat hy vir hulle iets beteken.”

So is die toestand van die vyeboom. So is die toestand van die onbekeerde kerkmens.  Die eienaar wil die vyeboom uitkap na drie jaar, maar die tuinier vra vir nog ’n jaar van genade. Die tuinier wil die grond omspit en mis gee. Die tuinier wil nog ekstra moeite doen.   Die tuinier laat nie die vyeboom aan sy eie lot oor nie. Hy bewerk die boom opnuut en wel met noukeurigheid en sorg. So is God se geduld met die ongehoorsame kerkmens;  altyd vol werksame liefde, skryf Jonker.  Hy gee die ongehoorsame verbondskind nog ’n kans, sonder om hom aan homself oor te laat.      

Maar hierdie geduld het ’n grens. Die tuinier kan die vyeboom nie vir altyd in sy tuin duld as hy onvrugbaar bly nie. Die pleitstem tot bekering hou op ’n dag op. As dit nie so was nie, sou dit swakheid aan Gods kant wees, en sou sy Woord wat dreig met ondergang vir elke onbekeerde, onwaar wees. (Aldus Jonker) Genadetyd hou op. Miskien bring ’n skielike dood ’n einde aan die geleentheid tot bekering.

Bekering is ’n 180° grade omdraai op die verkeerde pad. Die Griekse woord is “metanoia”, wat beteken omdraai. Die Heidelbergse Kategismus beskryf dit is die “inkeer, omkeer en terugkeer” na God. Soos wat die verlore seun by die varkhok tot inkeer gekom het en verlang het na sy vaderhuis, so begin bekering met ’n opregte begeerte om terug na God te gaan. Dit is om ’n daadwerklike omkeer te maak en terug te keer na God.

God het, toe Hy die wêreld geskep het, beveel dat alles vrugbaar moet wees en vrug moet voortbring. ’n Vyeboom kan daarom net vye en nie perskes voortbring nie. Ons moet daarom ons eie lewe ondersoek na die tipe vrug wat ons voortbring.

Tommy Lessing vertel van die verhaaltjie wat hy gelees het van die tipe vrug wat ons moet dra. Die persoon vertel dat wanneer hulle broers stout was en na hulle kamers gestuur was, het hulle ’n geheim gehad. Net buite die venster het ’n ou vrugteboom gestaan. Die seuns sou saggies die venster oopmaak, in die boom klim en in die veld agter die huis gaan speel. Na ’n rukkie sou hulle weer terug in die boom klim, na binne glip en die venster toemaak.

Eendag het hulle gehoor dat hulle pa vir hulle ma sê dat hy beplan om die boom af te kap, want dit het in jare geen vrugte gedra nie. Die seuns het paniekbevange hulle spaargeld geneem, winkel toe gehardloop waar hulle appels en ’n tolletjie swart gare gekoop het. Daardie aand het hulle by die venster uitgeklim en die appels orals aan die boom vasgemaak. Die volgende oggend het hulle gretig gewag vir hulle pa se reaksie. Gou was hulle bly om hom te hoor roep: “Maria, kom kyk! Dis ’n wonderwerk! Die boom is vol appels!” Die seuns het hulself gelukgewens, maar toe hoor hulle hoedat hulle pa sê: “Dit is regtig ’n wonderwerk … want dit is ’n peerboom.”  (Die ouers het darem die wysheid en goeie humor gehad om die boom te laat oorleef.)  

Net soos ’n goeie boom nie slegte vrugte kan dra nie, kan ’n vyeboom ook nie appels dra nie. Ons lees in Gal 5: 22 watter vrugte die Here aan die vyeboom soek,  naamlik: “Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

Die dooie werke waarvan ons onsself moet bekeer staan in Gal 5: 19 – 21, naamlik: “Die praktyke van ons vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge – waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërf nie.”

Soos wat God met Sy skepping beveel het dat alles vrugbaar moet wees en moet vrugte dra, so gebied God ook in Sy herskepping dat ons vrugte moet dra van bekering. Daarom is die gelykenis van die vyeboom vir ons ’n oproep om voortdurend tot bekering te kom.

Die baie vals profete van vandag verkondig net God se liefde, sonder die oproep tot bekering. So word baie sondes goedgepraat deur die oorbeklemtoning van God se liefde ten koste van die feit dat God ook ’n regverdige regter is wat oordeel oor sondes. Sondes kan nie maar net goedgepraat word, omdat God liefde is nie. Ons moet ook rekenskap gee van ons dade.

Bekering is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Verbondsbekering is om elke dag opnuut tot bekering te kom. Dit is om my elke dag opnuut te laat snoei deur die Woord en die Gees. Dit is al hoe ’n mens die vorm van die boom en die drakrag van vrugte kan verseker.

Mag ons elkeen elke dag in gehoorsaamheid tot bekering kom. Mag die vyeboom van God vrugte dra op sy tyd.    

Luister ons na God se dringende stem?                                                 AMEN     

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die tong is ’n sleutel.

SKRIFLESING:  Jak 3: 1 – 18

Wat is die verskil tussen ’n wilde perd en ’n mak perd?

’n Wilde perd laat homself nie inperk deur ’n stang of stiebeuel en leisels nie. Hy wil maak soos hy goeddink. ’n Mak perd laat hom weer inperk deur ’n stang. Juis omdat die wilde perd hom nie wil laat inperk nie, is hy onbruikbaar. ’n Mak perd wat ingeperk is, is bruikbaar.

Is ons bruikbaar vir Christus? Om bruikbaar te wees vir Christus moet ek ook bereid wees om ingeperk te word. Ek moet ook ’n stang in die mond kry.

Die boodskap vanoggend is: Die tong is ’n sleutel.

Jakobus beskryf die tong as ’n vuurhoutjie wat die hele wêreld aan die brand kan steek. Om af te breek met die tong is makliker as om op te bou. Jakobus wil nie hê dat ons tonge skinder, en vuiltaal of liefdelose woorde uiter nie. Ek moet nie ’n karikatuur maak van my politieke opponent of persoonlike vyand nie.

’n Wetenskaplike het uitgevind dat gif uit die vel van ’n klein Suid-Amerikaanse boompadda baie giftiger is as enige ander bekende gif. Reënwoud-Indiane gebruik die gif van die vel van die kokoi-padda om hul blaasgeweerpyle te vergiftig. Daar is ’n gif wat selfs dodeliker is – die gif van ’n bose tong.  Is jy as ’n Christen in staat om jou tong te beheer? Indien wel, is jy ’n volwasse Christen. “Want in baie dinge laat ons almal struikel. As iemand nie in woord struikel nie, is hy ’n volmaakte man en in staat om ook die hele liggaam in toom te hou” (Jak 3:2).

George Morrison het hierdie pragtige gedeelte geskryf wat handel oor die gevare van ’n onnadenkende tong: “Een van die eerste dinge wat vir sosiale vrede sorg, is ’n waaksame en liefdadige stilte. Geen man of vrou wat nie geleer het om ’n toom op sy lippe te sit, kan ooit ’n vredemaker wees nie. Dink aan die oneindige skade wat deur ’n kwaadwillige of  ’n onnadenkende tong aangerig kan word; dink aan die ontelbare harte wat dit verskeur; dink aan die gelukkige vriendskappe wat dit verkoel. En soms is daar nie eers kwaadwilligheid in dit nie – net die dwase begeerte om te praat, want boosheid word bewerk deur gebrek aan gedagte sowel as gebrek aan hart. Al wat ek weet, is dat een van die magtigste dinge wat vir sosiale vrede sorg, ’n wyse en liefdadige stilte is. Om nie alles te glo wat ons hoor nie, om nie alles wat ons hoor te herhaal nie, tensy ons deur die gewete geroep word om dit te verkondig.

Iemand beskryf dat ons elkeen ons eie persoonlike begraafplaas het, waar ons mense met ’n geskinder of woorde doodgemaak het.

Daar is geen twyfel dat laster seermaak nie. Sir Francis Bacon het ’n diepgaande waarheid uitgespreek toe hy gesê het: “Die waardigste persone word gereeld deur laster aangeval, aangesien ons oor die algemeen vind dat dit die beste vrugte is waarna die voëls sal pik.”

Eenkeer het ’n jong man na daardie groot filosoof Sokrates gekom om in redenering onderrig te word. Die oomblik toe die jong man voorgestel word, het hy begin praat, en daar was vir ’n geruime tyd ’n onophoudelike stroom woorde. Toe Sokrates ’n woord kon inkry, het hy gesê: “Jong, ek sal jou ’n dubbele fooi moet hef.”

“ ’n Dubbele fooi, hoekom is dit?”

Die ou wyse het geantwoord: “Ek sal jou twee lesse moet leer. Eerstens hoe om jou tong in toom te hou, en dan, hoe om dit te gebruik.” Wat ’n kuns vir ons almal om te leer, veral vir Christene.

Het jy al ooit opgelet dat daar gewoonlik ’n gebrek aan goeie, vriendelike woorde vir die afwesige persoon is wanneer sy naam in ’n gesprek genoem word? Daar mag woorde van kritiek en foutvindery wees, maar hoe min is die woorde van lof! Die goue reël stel voor dat ons van die afwesige praat soos ons wil hê ander van ons moet praat.

’n Vrou wat sleg gevoel het oor haar geskinder het eendag by die priester raad gevra oor hoe om dit onklaar te maak. Hy het vir die vrou gesê om op ’n winderige dag op die straathoek te staan en ’n verekussing stukkend te sny. Sy het dit gedoen. Hy sê toe vir haar om nou al die vere bymekaar te maak. Sy kon nie. Hy antwoord toe dat netso ’n mens nie ’n skinderstorie kan stop nie. Dit saai onomkeerbare verwoesting oral waar dit gaan.

Waarom skinder mense? Meestal is dit omdat hulle ’n swak selfbeeld het en ander mense wil laat slegter lyk, om hulleself beter te vertoon.

As jy by iemand is wat van ander skinder, weet verseker hy of sy gaan van jou ook skinder.

Die tong is ontembaar, dit is soos ’n wilde dier wat jy nooit heeltemal mak kry nie. Dit behou daardie wilde streep. Die tong saai gif tussen mense en maak dat daar verwydering tussen mense kom.

Daarom is dit belangrik om mense nie as dinge te behandel nie, maar as persone. Ons moet ons toelê op persoonsbehartiging, waar ek elke mens met wie ek in kontak kom, laat goed voel. Om iemand soos ’n mens te laat voel, moet ek mense met respek, eer en gelykwaardigheid behandel, en hulle goed laat voel. Ek moet mense bevestig met my woorde.

Jakobus skryf dat ’n mens dikwels soos ’n tweegatjakkals is, wat God in die kerk loof, maar buite die kerkgebou ander mense beskinder.

Die gelowige se tong is in diens van Christus. Soos die mak perd ’n stang in die bek het, so word ons ingebreek deur die Woord en die Gees om ’n lewe van selfbeheersing te leef. Ons woorde moet van selfbeheersing getuig.

Ons tong moet ons stuur, soos die roer van ’n skip, om goed van ander te praat en nie sleg nie. Ons tonge moet ons soos ’n skip se roer na rustige waters stuur. Jakobus sê dit is die bewys van ons geloof. By ’n heilige God pas heilige onderdane wie se tonge geheilig is.

Wanneer ons die tong reg gebruik, sal ons wysheid bekom.

Daarom moet jy jou doelbewus instel om in alles wat jy doen ’n keuse vir Christus uit te oefen. Ek moet ’n wag voor my mond sit en ’n keuse uitoefen om altyd die regte woorde te uiter.

Is jou tong bruikbaar vir God?

Is jou lewe beheers?

’n Christen se lewe is ’n beheerste lewe, deur die krag van die Heilige Gees.

Jou tong is ’n sleutel. Dit kan goedheid of boosheid oopsluit.

Hoe gebruik ek en jy ons tonge?                      AMEN       

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)