SAVED BY THE BELL
Daar is ‘n Engelse uitdrukking: “Saved by the bell.” Dit beteken om op die laaste nippertjie gered te word. Dit kan letterlik en figuurlik verstaan word. In die middel van 18 de eeu was daar talle siektes in Brittanje wat baie lewens geeis het. Begrafplase het vinnig vol geword. Daar is toe besluit om die grafte weer te gebruik. Kiste is toe uitgehaal en tot ‘n skok is ontdek dat daar in 2 – 5 % van die kiste krapmerke was. Dus is 1 uit elke 25 mense lewend begrawe. Nuus het soos ‘n veldbrand in Brittanje versprei en almal was bang om lewend begrawe te word.
Toe het iemand ‘n briljante plan uitgedink. ‘n Tou is om die een pols van die liggaam vasgemaak. As iemand onder die grond in ‘n kis sou wakker word, kon hy of sy net die tou trek om die klok bo die grond te laat lui. Hy / sy sou dan dadelik opgegrawe word. Vandaar die uitdrukking “saved by the bell”,
Franz Hartmann het in 1895 die boek “Buried alive” gepubliseer waarin die stories van 700 mense vertel is wat lewend begrawe en deur die klok gered is.
In Lukas 23: 39 – 43 lees ons hoedat een van die misdadigers aan die kruis gered word deur sy uitroep: “Dink aan my, as U vandag in U koninkryk kom.” Dan antwoord die Here Jesus hom met die antwoord: “Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” As’t ware is die misdadiger op die nippertjie “saved by the bell”.
Daarom moet ons onthou dat elkeen van ons is deur Jesus Christus se genade gered. As’t ware is “saved by the bell” oor ons elkeen se lewe geskrywe. Nie deur verdienste of deur aansien is ons gered nie, maar deur genade alleen. Vanjaar vier ons die 500 jaar van die Reformasie. Hierdie jaar 500 jaar gelede het Martin Luther sy 95 stellinge vasgespyker aan die kerkdeur van Wittenberg. Daar het ‘n herontdekking van die Evangeliese waarheid plaasgevind.
Daarom is ons ten diepste bedelaars van die genade. Ons kan alleen maar met oop bedelaarshande bedel vir God se genade. Kerkbanke is nie “betaalde banke” nie, maar bedelaarsbanke, waarop sondaars stinkend van die sonde sit.
Die Farisieër in die Bybel wou met ‘n balanstaat van goeie werke in die hemel kom. Die tollenaar egter het met ‘n bankrot balanstaat gevra vir genade. Dan lees ons hoedat die Here die tollenaar aanneem, maar die Farisieër nie aanneem nie. Die GOEIE nuus is dat God vir selferkende sondaars gesterf het en aan hulle ewige geregtigheid gee.
“Saved by the bell.” Gered uit GENADE alleen.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)