Gelukkig is die sagmoediges

SKRIFLESING:   Mat 5: 5

Sagmoedigheid is nie juis ’n eienskap waaroor die mense in die algemeen oor opgewonde is nie. Daar word dikwels neerhalig van so ’n persoon as ’n “sagmoedige Neelsie” gepraat.

Sagmoedigheid as deug is nie so gewild nie, omdat dit verwar word met woorde soos lamlendigheid, papheid en ruggraatloosheid. Sagmoedigheid werk nie, want nice guys come second. Ons sien dit in die politiek, in die ekonomie en op die sportveld. Daar is die uitdrukking in die politiek en ekonomie wat as volg bekend is: hond eet hond. Hierdie uitdrukking is baie waar. Inderdaad is dit waar dat “hond eet hond.” Thomas Watson skryf: “At first the emotions, like several well-tuned musical instruments, made a sweet sound, but sin was the artless string that brought it all out of tune.”

Nietzsche is gegrief omdat die Evangelie ’n mens nie sterk maak nie, maar eerder swak. Mussolini het gesê dat as hy kon kies hy eerder een dag ’n leeu sou wees, as ’n 100 jaar ’n lam. Ons glo eerder in begrippe soos manlikheid, selfgelding en selfhandhawing.

Die Skrifgeleerdes, die Fariseërs, die Esseners en die Selote het elkeen hulle eie verwagtings van Jesus gehad. Maar hulle het Hom gesien as ’n persoon van krag, invloed en wat die Romeinse juk omver kon gooi. Toe Jesus nie aan hulle verwagtinge voldoen het nie en so mak soos ’n lam voor Pilatus en Herodus was, het hulle standpunt verander na: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” 

Daarom val die woorde van die Here Jesus Christus vreemd op die oor in Mat 5: 5: “Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf.”

Daarom het die Here Jesus die Talio-beginsel van die Ou Testament opgehef  van “’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.” Die Here het gesê ons moet nie vergelding toepas nie.

Selfhandhawers hou nie van hierdie woorde nie. Selfhandhawers is mense wat voel dat hulle alleen is in hierdie lewe en daarom vir hulself moet sorg. Dit is vir selfhandhawers moeilik om sagmoedig te wees, want hulle dink klein oor God. Hulle het nog nie geleer om God in alles te vertrou nie. Daarom baklei hulle maar vir wat hulle wil hê. Eers as ’n mens geleer het om van die Here afhanklik te wees, kan ’n mens die deug van sagmoedigheid bemeester. Wie van die Here afhanklik is, vir so iemand is dit maklik om sagmoedig te wees. Maar wat is sagmoedigheid presies? ’n Ander woord kan miskien wees sagtheid, saggeaardheid, beheerstheid, respek, nederigheid of ’n diep, egte onselfsugtigheid.

Die vakmanskap van die Heilige Gees skep in ons al die geestelike deugde, soos byvoorbeeld om sagmoedig te wees. Die Heilige Gees beklee ons met die vrugte van die Gees.

Daar is drie soorte sagmoedigheid. Dit is eerstens om sagmoedig te wees teenoor God, tweedens om sagmoedig teenoor jou medemens te wees en derdens om sagmoedig teenoor jouself te wees. Sagmoedigheid teenoor God beteken om nie in opstand te kom teen God se wil in jou lewe nie. Dit beteken om jou te onderwerp aan God. Sagmoedigheid teenoor jou medemens beteken om met sagte oë na jou medemens te kyk en nie kwaad met kwaad te vergeld nie, maar eerder kwaad met goed te vergeld. Dan moet ek ook met sagmoedigheid na myself kyk en met myself genadig te wees.

Sagmoedigheid in Grieks beteken: dit is ’n jong hings wat ingebreek is. Voor dit was die hings gevaarlik en onbruikbaar. Maar nadat die hings ingebreek is, het dit sag en bruikbaar geword vir sy eienaar. Sagmoedigheid breek jou wilde humeur en nukke af en maak jou sag en bruikbaar vir die Here. Jy verloor jou aggressie en word selfbeheersd.

John MacArthur skryf: “Meekness is a gentleness and a mildness and a subdued character, but it is not weakness. It is power under control.”

Sagmoedigheid is soos nat hout wat nie maklik vlam vat nie. Ek kan my woede in bedwang hou en altyd selfbeheersd optree.  Sagmoedigheid is om sagte en teer woorde oor ander te spreek en nie jou tong te gebruik om ’n vuur aan te steek nie.

Sagmoedigheid leer ’n mens deur gebed aan. Dit skool jou om die nuwe menslike natuur van sagmoedigheid aan te leer, teenoor die ou menslike natuur van hardheid en ongenaakbaarheid.

Die Here Jesus is by uitstek die voorbeeld van sagmoedigheid. In Sy toorn moes Hy ons uitgewis het oor ons sonde. Maar Hy is lankmoedig en sagmoedig en gee nog vir ons genadetyd. Daarom stel Hy Sy oordeel uit.

‘n Baie mooi voorbeeld van sagmoedigheid vind ons in Gen 13, waar Abraham by die verdeling van die land sy selfsugtige nefie Lot eerste laat kies het. Lot het vir hom die beste gedeelte gekies, maar Abraham was tevrede met sy gedeelte. Hy het nie twis gesoek nie. Daarom is Abraham ’n voorbeeld van diep en egte onselfsugtigheid. Hy het met vergenoegdheid geleef. Hy het min waarde aan wêreldse goed gehad. Abraham was van God afhanklik en hy het geweet die Here sal vir hom sorg.

Nog Bybelse voorbeelde van sagmoedigheid is Josef, wat deur sy broers verkoop is as ’n slaaf aan slawehandelaars en toe in die huis van Potifar beland het. Na sy tronkepisode en sy vrylating nadat hy die Farao se drome uitgelê het, het hy gevorder tot die tweede magtigste man in Egipte. Toe daar ’n sewe jaar hongersnood uitbreek en sy broers kom kos bedel in Egipte, kon hy hom hardekoejawel gehou het. Maar nee, hy het in alle sagmoedigheid sy broers vergeef en vir hulle kos en woonplek in Egipte aangebied en so sy familie gered deur sy sagmoedigheid.

Nog ’n voorbeeld is Dawid wat vir Saul gevlug het. Saul was op hom jaloers en wou hom doodmaak. Terwyl Saul een nag in ’n grot gaan slaap het, het Dawid tot by die slapende Saul gekom. Hy kon vir Saul net daar doodmaak, maar hy het Saul se lewe gespaar en slegs sy spies en waterkruik geneem en ’n stuk uit sy kleed gesny om vir Saul te wys hy kon hom doodgemaak het. Dit was ook ’n daad van sagmoedigheid.  

Jesus Christus was ook sagmoedig soos ’n lam, toe Hy gevange geneem is, ondervra is deur Pilatus en Herodus en uiteindelik vir ons sonde aan die kruis gesterf het. 

’n Sagmoedige man is ’n dapper man. Hy behaal ’n oorwinning oor homself. Woede ontstaan uit dwaasheid en ’n swak karakter.

Sagmoedige mense is mense wie se hart iets verstaan van die lyding van die wêreld en wat weet dat hulle, al gebeur wat ook al, niks wil doen om die lyding nog groter te maak nie. Psalm 51: 19 getuig dat “sagmoedigheid opkom uit ’n gebroke en verslae hart.”

Uit die geskiedenis leer ons  dat wanneer Frederik, Hertog van Saxony, kwaad was, hy homself in sy kamer toegesluit het en niemand naby hom laat kom voordat hy sy woede oorwin het nie.

Sagmoedigheid beskerm nooit myself nie. Daar is egter ook tye van woede soos toe Jesus die tempel in Jerusalem skoongemaak het. Maar dan het Hy dit gedoen vir sy Vader, nie vir Homself nie. Wanneer dit oor “ons” sake gaan, moet ons sagmoedig wees, maar as ons opstaan vir ander mense dan kan ons maar op hulle regte staan met ons hele lewe. Dit noem ons “heilige” woede.

Waarvandaan kom die sagmoedigheid? ’n Mens kan sag en vriendelik wees met ander, in onselfsugtigheid leef, gelate wees oor jou regte, net as jy weet dat jou lewe en jou lot in die sterk veilige Vaderhande van die Here is. Dit is eers wanneer ’n mens dit doen, wanneer jy die totale lewe radikaal vanuit God en Sy sorg beleef, dat sagmoedigheid vanself inkom in jou lewe.

Ons wil so graag groter prestasies, groter suksesse, groter winste, meer “koninkrykies” vir onsself inpalm. Ons is baie keer soos Alexander die Grote wat net geleef het vir die volgende land wat hy kan verower.  Die Here beloof egter dat die een wat sagmoedig is oor sy regte, beloon sal word met die nuwe aarde wat vir ons wag. Dit kan nie verkry word deur daarvoor te baklei nie, maar daarop te wag.

In Kol 3: 12 staan daar: “Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld.” Sagmoedigheid is die mooiste kledingstuk wat jy kan aantrek.

Sagmoedigheid beteken dat jy ander se emosies soos ’n veertjie sal lees en sensitief sal wees met elke mens op jou lewenspad. Dat jy so sensitief sal wees, dat jy bedagsaam en sag sal optree teenoor elkeen.

Weer eens, Christus Jesus is die voorbeeld van sagmoedigheid. Hy het homself totaal en al verloën tot aan die kruis. Hy het nie op sy regte gestaan nie, maar die heil van die wêreld op Sy hart gedra. Die Here sorg vir ons. Ons hoef nie te baklei vir iets nie. Wie van God afhanklik is, kan sagmoedig wees!

Hulle wat sagmoedig is, sal eendag die nuwe aarde erf. Dit sal hulle van niks ontbreek nie, want God sal vir hulle sorg tot in lengte van dae. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3745). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.

Philippe, Jacques. The Eight Doors of the Kingdom: Meditations on the Beatitudes. Scepter. Kindle Edition.

Gelukkig is dié wat treur

SKRIFLESING: Mat 5: 4  en Psalm 51

’n Groot deel van Karl Marx, die vader van kommunisme, se weerstand teen die Evangelie en godsdiens is op ’n wanvoorstelling gebou. Marx was gekant teen godsdiens omdat hy gemeen het dat dit  die massa soos opium verdoof, teen die onaangename realiteite van elke dag. Niks is egter verder van die waarheid nie. Die Bybel leer ons inderdaad om te treur oor die stukkendheid van die lewe.

Daarom is daar die Klaagliedere van Jeremia en bykans die helfte van die Psalms het ook ’n klaagelement in hulle. Dink aan die boek Job, wat ook handel oor lyding. Dan is daar ook die treurmares van die boek Prediker. Soos Prediker beklemtoon daar is ’n tyd vir alles, moet ons verstaan daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om met blydskap te leef. Martin Luther noem treur ’n baie skaars  kruie. Inderdaad sê Jesus in Mat 5: 4: Gelukkig is dié wat treur.

Maar belangrik is dat ons oor die regte goed moet treur. Dit sou verkeerd wees om te treur oor jou eie selfsugtige behoeftes wat nie bevredig word nie. (Dit is ’n duiwelse treur – dit gaan oor die “eie ek”.) Dit is doodeenvoudig selfsug. Dan is jy soos ’n kind wat ’n tantrum gooi, as hy of sy nie hul sin kry nie. Dit is soos om te huil op ’n rots, daar sal niks van kom nie, maar om te huil op sagte grond (oor die regte goed), dan sal daar ’n oes opgelewer word.

Wat Jesus hier bedoel met treur, het veral betrekking oor die sondetoestand van die wêreld en die stukkendheid van die wêreld. Eerstens moet ons treur oor ons eie en die wêreld se sondenood. Voor ek tot bekering kan kom, moet ek eers treur en berou toon oor my sonde. Dawid het in Psalm 51 intense berou oor sy sonde met Batseba en dat hy haar man doodgemaak het. Ons lees hoedat hy sy klere geskeur het en as op sy kop gegooi het. Dit het gelei tot sy bekering. Jy moet eers in ’n toestand van treur wees, voor jou hart verander kan word. Die soutwater van trane maak die wurms van sonde dood. Trane oor sondenood is soos ’n fontein van water in die middel van ’n tuin – dit bring lewe en skoonheid. In Jak 4: 9 staan daar: “Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid.” In Esegiël 7: 16 staan daar: “Dié van hulle wat ontkom, sal in die berge wees soos duiwe van die valleie –  hulle almal kla,   elkeen oor sy sondeskuld.” Bernard Clairvaux skryf van trane as  “the wine of angels.” “The sweetest wine is that which comes out of the winepress of the eyes,” het John Chrysostom gesê. Chrysostom noem treur die spons wat die sonde afwas.

Maar jy moet ook kan treur oor die sondenood van die wêreld. Dikwels is ons soos Jona wat buite Ninevé sit en ons verlustig aan ander se sonde en ondergang. Wat verkoop nou beter as ’n heerlike skinderstorie. In die ou dae, toe die slingertelefone daar was, het sekere mense dit hulle werk gemaak om op die plaaslyne af te luister na wat die nuutste skinderstorie is. Tydskrifte is ook geneig om die nuutste skinderstories in diepte te ondersoek en die skinderhonger publiek te bevredig met die nuutste sappige stories. In plaas van te treur oor ander se sonde, kan ons ons dikwels verlustig in hulle verleentheid.

Eers as ek treur oor ander se sondenood, kan ek werklik ’n getuie van die Here Jesus se liefde wees. Treurendes word die beste dissipels en sendelinge vir die Here Jesus Christus. Omdat jy treur, kry jy ’n hart vir mense wat verlore gaan in hulle sondenood. Jy word gretig om die goeie boodskap van die Evangelie by hulle uit te bring. Tweedens moet jy ook kan treur oor die stukkendheid van die mensdom en die wêreld. Ons leef in ’n gebroke wêreld. Daar is politieke nood, ekonomiese ellende, maatskaplike nood, ekologiese bedreigings, huweliks- en gesinsprobleme, werkloosheid en so kan die lysie langer word.   Gewone mense se reaksie is om daarvan weg te vlug en die blaam op iets of iemand te plaas.

’n Mens moet kan treur oor die ramp wat verlede week in George gebeur het, toe ’n gebou in duie gestort het en tientalle mense dood gelaat het. ’n Mens moet kan treur oor mense wat sterf in ongelukke, aan siektes, aan natuurrampe, aan selfdood, mense wat vasgevang is in dwelms en drank en oor al die tragedies en hartseer van hierdie wêreld.  ’n Mens moet treur oor almal wat werkloos is of wat ’n beperkte finansiële inkomste het, wat net genoeg is om van die hand na die mond te leef. 

Mense gaan op in die sinlike genot wat die wêreld kan bied. Die reaksie kom nog meer voor in ’n gemeenskap waar daar matige voorspoed is. Mense word hard. Hulle verleer die vermoë om te ly. So word ontvlugting en vermyding ’n byna permanente lewenshouding.

Maar slegs deur te treur kom daar lewensverandering. Wanneer jy werklik getreur het, kan jy sagmoedig word en honger en dors na wat reg is. Eers as jy werklik getreur het, kan jy barmhartig, rein van hart en ’n vredemaker wees. Deur te treur kry jy ’n hart vir die wêreld.

Maar om te treur, het ook ’n vreemde troos. Daarom is die Bybel by uitstek ook ’n troosboek. In verskillende variasies kom die boodskap na ons toe: “Moenie vrees nie” of  “Moenie bang wees nie.” Die troos van die Here het twee kante. Die eerste kant is dat Jesus Christus eens en altyd vir die sonde gesterf het. Die tweede kant is dat met Jesus se wederkoms  alles nuut sal word. Daar sal nie meer gebrokenheid wees nie. Nou kan die lewe ons nog seermaak, maar dit kan ons nie vernietig nie.

Ons moet nie net vra waaroor kan ek vandag dankbaar en bly wees nie. Ek moet ook vra: Waaroor kan ek vandag treur? Want dit is deur te treur, dat lewensverandering plaasvind. Daarom is daar dankpsalms, lofpsalms en vertrouenspsalms, maar ook klaagpsalms. Ons moet hierdie Psalms nie net lees nie, maar ook bid. Dan sal die vreemde troos en vreemde geluk, deel van ons lewe word.                                          AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition. 

Gelukkig is dié wat arm van gees is

SKRIFLESING:   Mat 5: 3

Die 1983-vertaling vertaal die vers met: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, …”. Die 2020-vertaling vertaal dit met: “Gelukkig is die armes van gees, …”. 

Die Rooms-Katolieke kerk het dit in die verlede verstaan dat jy al jou goed moet verkoop, ’n monnik of ’n non moet word, nie mag trou of enigiets mag besit nie. Dit sou beteken dat nie alle Christene “arm van gees” of “afhanklik van God” kon wees nie. Tog bedoel die Here dat almal wat kinders van die Here is, daarna moet strewe om “arm van gees” en “afhanklik van God” te wees.

Daarom verstaan ons Evangeliese Protestante dat “arm van gees” verwys  na diegene wat tot ’n besef van hul sondes gekom het en geen goedheid in hulself raaksien nie, wanhoop aan hulself en pleit vir en geheel en al staatmaak op die genade en barmhartigheid van God wat in Christus verseker is. Hulle is net afhanklik van die Here vir hulle verlossing. (Johannes Calvyn)

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het gespog met hulle voortreflikhede en lang gebede en godsdienstigheid. Hulle het nie verstaan wat dit beteken om “arm van gees” te wees nie. Daar is die geval van die Fariseër en tollenaar wat gaan bid het in die tempel. Die Fariseër het gespog oor sy voortreflikheid en die tollenaar het net gevra dat die Here hom, arme sondaar, moet vergeef. Dan het die Here die tollenaar, wat arm van gees is, salig verklaar.

Thomas Watson skryf: “Totdat ons arm van gees is, is ons nie in staat om genade te ontvang nie. Hy wat opgeblase is met ’n opinie van selfvoortreflikheid en selfgenoegsaamheid, is nie geskik vir Christus nie. Hy is reeds vol. Die glas word eers leeggemaak voor jy wyn ingooi. God maak eers ’n man van homself leeg. Dan skink hy die kosbare wyn van sy genade in. Niemand behalwe die armes van gees is binne Christus se sending nie.”

“Arm van gees” en “afhanklik van God”, beteken ook dat jy leeg word van jou trots, selfstandigheid en die staatmaak op eie kragte en vermoëns.

Die hele bemarkingsbedryf is daarop ingestel om aan jou goed te verkoop om jou onafhanklik te maak. Van banke, motors, tot geriefsartikels en wie weet wat nog alles word adverteer om jou onafhanklik te maak of ten minste onafhanklik te laat voel. Kinders wil groot wees, tieners droom van selfstandigheid, jongmense soek daarna, grootmense werk hulle dood om selfstandig te wees en oumense vrees die dag as hulle hulle onafhanklikheid gaan verloor. Johannes skrywe aan die gemeente van Laudisea in Openbaring 3:17 – “Omdat jy sê, “ ‘Ek is ryk, ek het skatryk geword, en het aan niks gebrek nie,’ en nie besef dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak is nie … “

Daarom is dit harde woorde van Jesus wanneer Hy sê dat ons ons strewe na onafhanklikheid moet afsweer. Want sien, suksesvol beteken vir ons om van niemand afhanklik hoef te wees nie.

Die menslike lewe is baie broos. Ons kan hoe hard werk om selfstandig te wees. Maar somtyds tref teenspoed, ongelukke, swak gesondheid of rampe jou. Ons moet nooit selfversekerd word oor onsself of oor die lewe nie. Daar kan soveel politieke, ekonomiese en alledaagse werklikhede ons lewe beïnvloed, dat ’n mens nooit van alles seker kan wees nie. As jy jou geluk  bou op voorspoed en onafhanklikheid, dan bou jy op sand. Jou geluk kan maklik soos ’n sandkasteel wegspoel met hooggety.

Hoe meer ons menslike sekuriteite soek, hoe meer angstig raak ons. Ons enigste sekuriteit is die oneindige genade en barmhartigheid van God.

Die eerste saligspreking begin met geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Eintlik is die eerste saligspreking die belangrikste. Afhanklikheid is waar saligheid begin. Al die ander saligsprekinge volg op en is gebou op die eerste saligspreking. Geluk begin by ’n heel spesifieke soort armoede, naamlik “die wat arm van gees is”. (1933/1953) Die armes van gees was die mense wat geweet het dat hulle God nodig het in hulle lewens, nodiger as enigiets anders.

Hy wat armoede van gees het, treur. Hy wat treur, is sagmoedig. Hy wat sagmoedig is, is barmhartig, ensovoorts.

Dirkie Smit skryf dat dit nie oor ’n triomfantelike geloof gaan, wat die bewondering van almal rondom afdwing nie. Daar is ook niks vredevols of rustigs aan hierdie geloof nie. Robert Guelich stel voor dat ons die “armes van gees”, vertaal met “the desperate”. Dit is mense wat sukkel om reg te kom in die lewe. Daar is by hulle ’n soort verleentheid, verslaenheid, en radeloosheid met hulself.  Radeloosheid is allesbehalwe lekker, maar die goeie nuus is dat dit jou ’n kandidaat maak van ’n vreemde geluk. 

God werk met nulpunt-mense. Mense wat niks meer van hulself verwag nie. God maak sulke mense die voorwerpe van Sy genade. Afhanklikes is ook mense wat weet dat hulle niks van God verdien nie. Daarom is die kerk vol bedelaarbanke, met bedelaars daarop. Alles is die goeie guns van God, ons verdien niks van God se ontfermende genade nie.

Daarom is die Saligsprekinge soos paradokse. Hulle vra die teenoorgestelde as wat die wêreld vra. Wanneer jy die paradoks leef om in jou gees van God afhanklik te wees, gee die Here vir jou ’n vreemde hemelse seën en geluk.

Bernadette van Lourdes het gesê: “Baie vernederings is nodig om ’n bietjie nederigheid te skep!” Ons moet die Here innig dankbaar wees vir die situasies wat ons ervaar wat ons verarm, verneder, of waar ons ons swakheid en ons ellende besef. Dit laat ons besef dat ons die Here nodig het.

Om arm in die gees te word, beteken om afskeid te neem van trots. Dit is soos ’n stadspoort wat laag gebou is, sodat ’n kameel nie die stadspoort kan binne hardloop in ’n militêre aanval nie. Die kameel moet op sy knieë, nadat sy vrag afgelaai is, deur die stadspoort kruip. So moet ons ook ontslae raak van menslike trots en afhanklik word, om die vreemde geluk van God te ontvang.

John MacArthur skryf: “You can’t be filled until you’re empty. You can’t be worthwhile until you’re worthless.”

Sal boeke met titels soos How to Be Nothing of How to Be a Nobody verkoop? Nee! Dit is juis die paradoks van Jesus se Evangelie.

John MacArthur skryf: “Out of the carcass comes the honey. In our deadness we come alive,” na aanleiding van Simson wat die leeu doodgemaak het en uit die karkas het toe heuning gekom. Uit die trots wat doodgegaan het, kom die soet van heuning.

In die Bybel is daar baie paradokse van mense wat “dit nie sou gemaak het nie”, wat God kragtig gebruik het.

Die hakkelende Moses word die leier wat Israel uit Egipte laat trek het, die beloofde land binne. Verbeel jou ’n staatsman van Moses se kaliber wat hakkel. Moses was intens van God afhanklik. Moses word dan ook beskou as die mees nederige persoon in die Bybel.

Paulus was weer beproef deur die doring in sy vlees. Maar dan verklaar hy “As ek sterk is, is ek swak. As ek swak is, is ek sterk.” Diep was hy ook van God afhanklik.

Dit bly vir ons as mens ’n moeilike saak om regtig totaal en al onsself afhanklik aan God oor te gee. Dit is soos ’n drenkeling in die water. Hoe meer hy of sy skop en spartel, hoe vinniger en meer sink hy of sy. Die geheim is om op jou rug te lê en heeltemal te ontspan. Wanneer jy ontspan, dan dryf jy op die water. Dit vat geen inspanning nie, net oorgawe. So is dit ook met geloof en die eerste Saligspreking. Gee jouself oor in afhanklikheid van God.

Mat 5: 3 sê ook dat hulle wat nou arm van gees is en afhanklik van God is, die Koninkryk van God sal beërwe. Thomas Watson skryf: “Ons wat nou in vodde rondgaan? Jy sal jou wit klere hê. Wat maak dit saak as jy soos Daniël met net groente gevoer word en nie spoggerige kos het nie? Jy sal feesmaal hou wanneer jy in die koninkryk kom. Hier drink jy die water van trane, maar jy sal gou die wyn van die paradys drink. Wees vertroos met die gedagtes van God se Koninkryk wat op jou wag.”

Mag ons ook armes van gees wees wat van God alles verwag. Mag ons in alles net van God afhanklik wees.                                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith) Moody Publishers. Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Philippe, Jacques. The Eight Doors of the Kingdom: Meditations on the Beatitudes. Scepter. Kindle Edition.


Om geliefd te voel

SKRIFLESING: Mark 1: 9 –11

Een van die mens se mees basiese behoeftes is om geliefd te voel. Mense floreer as hulle geliefd voel. Selfs jou hond floreer as hy of sy geliefd voel. Juis daarom, hier op Moedersdag 2024, moet ons ons moeders geliefd laat voel. Moeders offer baie op vir hulle kinders. Moeders lééf vir hulle kinders. Navorsing het oor en oor bewys dat kinders, mense en diere die minste gedragsafwykings toon as hulle geliefd voel.

Maar helaas, ons lewe in ’n wêreld van bitter min liefde en waar soveel mense ongeliefd voel. Navorsing het bewys dat feitlik 98 % van manlike gevangenes wat in die tronk is vir ernstige misdrywe, soos roof en moord, ’n swak verhouding met hul pa’s gehad het en daar was weinig sprake van liefde. Daar is ’n enorme hoë persentasie mense wat doodeenvoudig ongeliefd voel. Dit is nie net straatbedelaars nie, maar meer dikwels mense wat in verhoudings staan. Jy kan getroud wees, of ’n kind wees, of in ’n gesin leef, maar nog steeds ongeliefd voel.

Daarom is die sentrale boodskap van die Evangelie dat God die wêreld liefgehad het. (Joh 3:16) Dit is waarom Jesus aarde toe gekom het, sodat ons geliefd kan voel en in Sy liefde kan leef.

Met Jesus se doop lees ons in Joh 1: 11 dat daar ’n stem uit die hemel gekom het: “ Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug ek my.” Daarom het God die Vader in Jesus se doop sy LIEFDE vir Sy Seun verklaar. Verder lees ons in vers 10 dat die Heilige Gees in LIEFDE soos ’n duif op Hom neergedaal het.

Simbolies beteken ’n duif wat neerdaal ’n “nuwe begin”. So staan God-Drie-Enig, as Vader en Seun en Gees, in ’n band van LIEFDE met mekaar. God die Vader het as’t ware in Joh 1: 11 Sy Seun geliefd laat voel deur dit te bevestig met ’n stem uit die hemel. Daar staan in vers 10 dat die hemel oopgeskeur het na Jesus se doop. Dit herinner ook aan die voorhangsel in die tempel wat met Jesus se sterwe sou oopskeur. Dit is simbolies van Jesus se liefde en genade wat deurbreek en verlossing, vrede en vreugde bring. “Oopgeskeur” beteken God het sy volle liefde uitgestort op die mensdom, sodat die mensdom iets kan verstaan van om geliefd te wees. Daarom is daar EENHEID in God-Drie-Enig, omdat die LIEFDE vervolmaak is.

Daarom verklaar Paulus ook in 1 Kor 13, dat die liefde die allergrootste gawe is. Paulus bedoel eintlik daarmee dat die DNS van ’n gemeente liefde moet wees.

Daarom het ons in die kerk ook die sakrament van die doop. In die doop kom bevestig God-Drie-Enig Sy liefde aan die dopeling. Die doop is ’n lewenslange teken dat God ons liefhet. In baie Anglikaanse Kerke is daar by die ingang van die kerk ’n bakkie water. Jy kan jou hand daarin steek om jouself daaraan te herinner dat jy eens op ’n tyd gedoop is met die ewige liefde van God. Dit is ’n liefde wat nie opgeskort of voorwaardelik is nie. Dit is God se ewige liefde.

Daarom het Martin Luther ook die gewoonte gehad om elke oggend as hy opstaan, die teken van die kruis te maak op sy voorkop om hom daarin te herinner dat hy gedoop is met God se ewige liefde. Met die wete dat hy in God se oë geliefd is, kon hy die dag aanpak.

Omdat Jesus geliefd voel deur Sy Vader se liefde, kon hy in Sy aardse bestaan liefde uitdeel en ander mense geliefd laat voel. So ver Jesus gegaan het, het Hy mense geliefd laat voel. Hy het geëet saam met die sondaars en tollenaars. Ons lees hoe Hy tuisgegaan het by Saggéüs, die mees ongeliefde man in Jerusalem. Deur Saggéüs geliefd te laat voel, het Hy Saggéüs se hele lewe verander en het hy tot bekering gekom. Om mense geliefd te laat voel, is om hulle lewe te verander. Jesus het toegelaat dat die prostituut Sy voete was met haar trane en met haar hare afdroog. Hy het ’n ander prostituut toegelaat om Hom te salf met duur kosbare olie. Hy het vir mense kos gegee, deur brood en vis te vermeerder. Hy het aandag aan kinders gegee en hulle toegelaat om Hom te steur in Sy werk. Hy het siekes genees. Deur Sy prediking het Hy genade verkondig aan hulle wat gekwel is deur hulle probleme of skuldgevoelens. Deur te sterf aan die kruis, het Hy die hele wêreld geliefd laat voel. Deur die eeue lewe mense van die ewige hoop wat Jesus gebring het toe hy aan die kruis vir die mensdom gewys het dat hulle geliefd is in God se oë.

Franciscus van Assisi, was daarvoor bekend dat hy sover hy gegaan het, goed gedoen het aan mense en hulle daarom geliefd laat voel het. Moeder Theresa van Kalkutta het aan mense in die haglikste toestande hoop gegee, deur hulle geliefd te laat voel. Daarom is dit die roeping van elke gelowige om ander mense geliefd te laat voel.

Henri Nouwen, bekende akademikus, priester, skrywer en pastor het sy laaste jare gewerk by ’n sentrum vir erg gestremdes. Hy het sy mees vervulde jare daar deurgebring. Hy het baie geskryf oor die feit dat ons God se geliefde seuns en dogters is. Eers wanneer jy God se liefde in jou eie lewe raaksien en geliefd voel, kan jy ander mense geliefd laat voel. Die sleutel tot ware lewensgeluk is om mense te soek om hulle geliefd te laat voel. Dan gee jy weer vir mense hulle menswaardigheid terug.

Ons lewe in ’n wêreld wat arm is aan menswaardigheid. Rondom ons is daar mense wat aanmoediging en troos en liefde nodig het. ’n Waarderende woord, kwaliteittyd, ’n geskenk, diensvaardigheid of ’n fisiese aanraking kan wonders doen. Dit staan ook bekend as die vyf tale van die liefde van Gary Chapman. Ons lewe in ’n wêreld van velhonger mense, wat ’n drukkie soek. Ons lewe in ’n wêreld van moedelose mense, wat ’n waarderende woord en bevestiging waardeer.

Daarom is die hoogste roeping van die gelowige om ander mense geliefd te laat voel. Wil jy dit nie jou voorneme maak om ander mense rondom jou geliefd te laat voel nie? Jy kan begin by jou lewensmaat, kinders, ouers, vriende, werknemers en ook die vreemdeling op jou pad. Ook jou hond moet weet dat hy of sy geliefd is. Dan eers sal jy ’n merkwaardige lewe leef, want jy lewe nie meer vir jouself nie.

Ek het die volgende van ’n onbekende skrywer gelees: “Die gedagte van jou moeder is ongeskrewe, maar is onuitwisbaar in jou gedagtes gestempel! Dit is die emosies van liefde, van vriendelikheid, van onbaatsugtigheid, van gee! Moederskap – dink net aan haar seëninge, vreugdes, hartseer, uitdagings en oorwinnings. Daar is geen groter ekstase as om haar pasgebore baba vas te hou nie, en geen groter angs as die gebroke hart wat ’n kind kan veroorsaak nie. ’n Moeder se liefde is die naaste ding op aarde aan God se liefde. Die wysheid van God word in moederskap ten toon gestel. Ons is nie die neweproduk van een of ander onpersoonlike biologiese proses nie. Ons is nie op ’n monteerlyn gemaak deur die kombinasie van grondstowwe nie. Ons moeders het ons gekoester en ’n intieme verhouding met ons gevorm voordat ons gebore is. Sy het haar lewe vir ons in gevaar gestel.

Die grootste lesse wat ons nog ooit geleer het, het gekom van liefdevolle, omgee-, opofferende moeders wat altyd vir ons beskikbaar was. ’n Vrou se grootste, mees vervullende en verreikende rol word in moederskap uitgedruk. Kom ons dank God vir Christelike moeders! Laat ons sensitief en dankbaar wees, nie net op Moedersdag nie – maar elke dag vir ons moeders en die ma van ons kinders.”

Ons moet op Moedersdag ook sensitief wees vir vroue wat nie kinders kan hê nie, of moeders wat hulle kinders aan die dood afgestaan het. Ons moet dink aan moeders wat kontak met hulle kinders verloor het en wat elke dag verlang na hulle kinders. Mag hulle ook vandag in ons gebede wees.

God het met die doop van Jesus Christus vir Hom geseën. Daarom het die stem uit die hemel gesê dat Jesus Sy geliefde Seun is en dat Hy daaroor verheug is. Net so moet ons tot seën vir mekaar wees. Ons lewe in ’n wêreld waar mense die gewoonte het om mekaar te vervloek. Christene daarenteen is geplaas om tot seën te wees van ander, deur ander geliefd te laat voel.

Dikwels was ons mekaar se koppe, in plaas van mekaar se voete te was.

Deur jou doop is jy ook die geliefde seun en dogter van God. Jy is geliefd deur God. Wees jy ook tot seën vir ander, deur hulle geliefd te laat voel.       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Is Jesus dan weg, met Sy hemelvaart?

SKRIFLESING: Mat 28: 16 – 20 En Handelinge 1: 6 – 14

Ek lees die volgende interessante opmerking oor Jesus se Hemelvaart. Hy het nederig die wêreld ingekom as baba in ’n krip in ’n stal, maar het die wêreld triomfantelik verlaat met Sy Hemelvaart. So anders as baie van die bekendes van ons tyd wat triomfantelik begin en skandalig eindig.

Maar het Jesus ons regtig verlaat? Beteken dit dat Jesus nie meer “mens” is nie? Het Sy Hemelvaart ’n einde gemaak aan Sy “inkarnasie” en Sy vleeswording? Waar is Jesus nou? Wat doen Jesus nou?

Ons verstaan ook nie die wolk op die Olyfberg waarin Jesus opgeneem is heeltemal reg nie.  In die Ou Testament was die wolk nie ’n teken van God se afwesigheid nie, maar juis van Sy teenwoordigheid!

Wat belangrik is, is dat ’n mens Jesus nie behoorlik kan verstaan sonder die Hemelvaart nie. Ongelukkig is die Hemelvaart die “Aspoestertjie” en die mees verwaarloosde kerklike feesdag op die Christelike kalender.

Jesus se heerlikheid was verborge gedurende Sy aardse verblyf, met een kortstondige uitsondering, die verheerliking wat op die berg geskied het saam met Moses en Elia (Matt 17:1 – 9).

 Die Hemelvaart van Jesus het die uitstorting van die Heilige Gees moontlik gemaak.  En die Gees is juis die Een wat ons vul met krag en liefde en oortuiging sodat ons dissipels vir Jesus Christus kan wees. Daarom vier ons tien dae na Hemelvaart, Pinkster om die uitstorting van die Gees te gedenk. Hemelsvaartkerk in Jerusalem

Met Sy hemelvaart het die Vader die doringkroon van Sy Seun se kop gehaal en vir Hom ’n Koningskroon opgesit en Hom laat sit aan Sy regterhand. Van lyding na heerlikheid! Van doringkroon na Koningskroon!

Met Sy Hemelvaart sit Jesus aan die regterkant van die Vader, in ’n regerende posisie. Jesus Christus was die allerhoogste Hoëpriester wat selfs Sy lewe geoffer het om ons sonde weg te neem. Omdat Hy Sy werk klaar gedoen het, kon Hy opvaar na die hemel en gaan SIT aan die regterkant van die Vader. Let op Jesus STAAN nie meer nie, Hy SIT nou, Sy werk is afgehandel (Ted Olsen). Hy regeer oor hierdie stukkende wêreld met Sy genade en oordeel. Hy sorg dat daar nie ’n haar van ons hoof sal val waarvan Hy nie weet nie. In Sy regerende posisie help Hy ons elke dag met alles wat ons in gebed na Hom toe bring. Hy regeer oor ons lewens. Eendag sal Hy kom en oordeel tussen goed en sleg.  Dan sal Hy finaal ’n einde kom maak aan die gebrokenheid en stukkendheid van hierdie wêreld. Jesus regeer alreeds en sal met Sy wederkoms ’n nuwe aarde en hemel tot stand bring.

Dr Coenie Burger het uitgebreid geskryf oor die hemelvaart met die vraag of Jesus nou weg is. Dit sou ’n groot fout wees om te dink dat Jesus weg is en nou net in die hemel is. Dit sou so sleg wees soos indien ’n afrigter van ’n rugby-span op die dag van die wedstryd afwesig sou wees as sy span speel. Die span sou nie kon staatmaak op sy fisiese teenwoordigheid en morele ondersteuning nie. Hulle sou net kon rugby speel op grond van wat hy hulle geleer het. Die span sou maar baie eensaam en alleen die wedstryd moes speel.

Maar hoor wat sê die Bybel in Mat 28: 20: “ Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het, En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Verder sê Mat 18: 20: “…. want waar twee of drie in My Naam is, daar is Ek by hulle.”

Helmuth Thielicke skryf aangrypend oor die hemelvaart van die Here Jesus Christus: “ The ascension does not mean that Jesus leaves us; on the contrary, it means that He comes terribly near to us. The boundary between this world and the Beyond which He has passed on Christmas night, is just being crossed once again and in a new way.”

Ons lees dat met die bekering van Paulus, die Here Jesus self aan hom verskyn het in persoon en ook aan Ananias wat die Here se boodskap aan Paulus moes bring.

Luke Johnson skryf: “ In Acts, the presence of the resurrected Lord is just as strong after the ascension as before; indeed stronger.”

Die hemel is nie ’n veraf, onwerklike plek nie. Nee, die hemel is net in ’n ander dimensie, baie naby aan ons. Wanneer ons eendag sterf, sal ons wat nou onsienlik is, kan sien met ons nuwe geestelike liggame.

Kom ek verduidelik dit so aan u. Ons glo aan die twee nature van Christus, naamlik Sy Goddelike natuur en Sy liggaamlike natuur. Met Kersfees het Christus, wat Goddelik is, kom mens word.   Met Sy Hemelvaart het Sy liggaamlike persoon opgevaar om te sit aan die regterhand van God. In Sy Goddelike natuur is hy egter nog steeds by ons, al is dit onsigbaar. Dit is natuurlik bevrydend. As Jesus net in Sy liggaam by ons was, was dit beperkend. Hy sou hoogstens by ’n paar mense op ’n slag op een plek kon gewees het. Hy sou dan met ander woorde net in Johannesburg kon wees en nie ook by ons hier op Adelaide of Fort Beaufort nie. Die feit dat Hy in sy Godheid by ons is, het die troos dat Hy altyd in alle omstandighede by almal gelyktydig kan wees. Hy kan tegelykertyd in Adelaide, Fort Beaufort, Johannesburg, Washington, Moskou en op enige plek in die wêreld wees.

Daarom is die Heilige Gees nie ’n plaasvervanger vir Jesus nie. Die Gees vervang op geen manier vir Jesus nie, maar maak juis vir Jesus “toeganklik” vir ons. Christus is in Sy Godheid by ons en Hy doen Sy werk in ons.  Christus werk kragtig in ons. (Coenie Burger)

Maar met Sy Hemelvaart het Christus Sy kerk op Pinkster-Sondag bymekaar geroep, omdat Christus self “’n gemeenskap van gelowiges” bymekaar geroep het en hulle so vertrou het dat Hy van die kerk verwag om in “Christus se vlees” teenwoordig te wees in dié wêreld. Peterson skryf dat die profete en die apostels almal dele van die Bybel geskryf het. Maar Christus het geen boek geskryf nie. Hy het egter die “gemeenskap van gelowiges” gestig. Van hierdie gemeenskap van gelowiges verwag Hy om Sy “vlees” te wees op hierdie aarde.

Daarom  moet daar by ons ’n stuk inkarnasie plaasvind. Ons moet as’t ware meer menslik word, sodat ons goddelik kan optree. Ons moet as’t ware Christus beliggaam of embody. Mense moet in ons die lewende en opgestane Christus kan raaksien.

Ons moet Christus se vlees op aarde wees. Ons moet Christus se hande, voete, oë en liggaam wees in die wêreld.

In Europa was daar in ’n dorp ’n pragtige begraafplaas met ’n Christusbeeld in die middel van die begraafplaas. Die beeld het uitgestrekte hande gehad. As gevolg van hewige bombardement in die Tweede Wêreldoorlog het die hande afgebreek. Na die oorlog wou die stadsvaders die beeld afbreek. Want hoe lyk ’n Christusbeeld sonder arms nou? Een kerkvader het egter die simboliek raakgesien. Hulle het toe ’n marmerplaat onderaan die Christusbeeld aangebring met die woorde: “Jy is my arms in hierdie wêreld.”

Die Hemelvaart sê ook vir ons God is in beheer. Al lyk dit asof die wêreld buite beheer is, Jesus sit op die troon. Hy het die troon bestyg. Hy regeer as Koning. Die tyd na die Hemelvaart is die tyd van die kerk; dit is ook die eindtyd. Dit is die tyd waarin God in Sy geduld die kerk in die wêreld instuur om aan die wêreld  die boodskap van die evangelie te bring. In Woord en daad moet die Evangelie gebring word. Daarom kan ons hierdie tyd die tyd van die Woord en Gees noem. Ons leef in die missionale tyd, waarin die kerk moet uitreik na die wêreld.     

Met Hemelvaart kom gee die Here vir die kerk werk om te doen. Hiermee moet ons elke dag besig wees.                                                    

Jesus Christus het opgevaar na die Vader. In Sy vlees is Hy by die Vader, maar in Sy Godheid nog met ons. Daarom moet ons Jesus se “vleeslikheid” sigbaar maak deur sy hande en voete te wees in hierdie wêreld.

Van doringkroon tot Koningskroon! Onder die Here se Koningskap sal ons floreer. Deur Sy Koningskap wil die Here ’n seën vir die nasies wees, sodat ons ’n seën vir ander mense kan wees.    Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Op die vlerke van ‘n arend

SKRIFLESING: Deut 32: 11 – 12

Die winde van verandering waai stormsterkte oor Suid-Afrika en oor die wêreld. Die wêreld is in die wurggreep van verskillende oorloë en baie lande verkeer in ’n resessie. Die naderende verkiesing op 29 Mei 2024 kan ook die politieke landskap van Suid-Afrika totaal verander. Ons almal vrees die uitslag en ook die toekoms van minderheidsgroepe in Suid-Afrika. Ons is bang vir die Bela-wetgewing in skole wat Afrikaans gaan bedreig. Ons is bang vir grondonteiening en die nasionalisering van die Reserwebank. Om nie eers te praat van die nuwe nasionalisering van die gesondheidstelsel (NGV) nie, waar jy mediese belasting moet betaal. Ons is van baie dinge onseker.   Almal is bang en onseker.  Wat gaan van ons word? Wat hou die toekoms in? Ons weet nie eers hoe dinge die volgende paar maande en jare gaan lyk nie.

Natuurkenners sal jou vertel: Arende maak baie hoog in die berge nes. Wanneer hulle hul kuikens wil leer om te vlieg, skop hulle doodeenvoudig die kuikens uit die nes. Nadat die kuikens ’n ent geval het, swiep die ma-arend onder haar kuikens in en vang hulle met haar vlerke en dra hulle terug tot in die nes. Die proses word ’n paar keer herhaal totdat die kuikens geleer het om te vlieg.

Die skrywer gebruik die beeld van die arende om te beskryf hoe God met Israel en met ons as Sy kinders doen.  Hy verwys dan ook spesifiek na die volk Israel wat God uit Egipte geskop het, weg van die vleispotte van Egipte.

Die Israeliete het in vrees verval. Die Rooi See was voor hulle, die vyand agter hulle; daar was broodsgebrek, watertekorte, verdwaling, sonsteek en talle vyandelike volke. Die val uit Egipte was vreesaanjaend.

Maar telkens het Jahweh onder hulle ingeswiep en hulle gevang. Elke keer het God hulle gevang. Hy het die Rooi See oopgemaak, Hy het die Egiptenare laat verdrink, Hy het manna en kwartels gestuur en water uit ’n rots. Hy het ’n vuurkolom snags gestuur en ’n wolkkolom in die dag. Hy het vir hulle oorwinning oor vyandelike volke gegee.

Die Here wou vir Israel leer om Sy gehoorsame volk te wees. Daarom het Hy die volk op ’n ompad van 40 jaar deur die woestyn geplaas. Hulle moes leer om Hom as die enigste Heer en God te bely.

Miskien voel dit vir u of ons ook uit die nes geskop word. Die afgelope paar jaar het ons baie verskillende soorte trauma beleef.  Ons het die ergste droogte in 100 jaar gehad in 2018 – 2019. Ons is deur die tydperk van COVID-19.  Ons het bek-en-klouseer gehad. Die wol- en vleispryse het in 2024 in duie gestort. Die insetkoste vir boerdery neem net elke jaar toe. Om produktief te boer, word al hoe moeiliker. Boere is moedeloos. Werkloosheid en armoede neem met rasse skrede toe. Die werkloosheidsyfer was nog nooit so hoog nie. 

Ja, die Here het ons ’n bietjie uit ons nes geskop, want Hy wil vir ons leer dat geestelike waardes belangriker is as wêreldse sekuriteite. Hy wil ons leer wat die woord “afhanklikheid” beteken. Ons was te selfversekerd, te seker van ons eie kragte en vermoëns. Die goeie jare in die boerdery van 2011 tot 2017 het ons te versekerd gemaak. Die afgelope tyd het God ons geleer om met minder tevrede te wees. God het vir ons geleer om weer te gee en vir mekaar om te gee. Die Here het ons weer geleer om nie te afhanklik van ons eie planne te wees nie. Ons moet eerder sê D.V. (Deo Volente), as dit die wil van die Here is, sal ons dit of dat doen.

Beteken dit dat God ons vergeet het? Allermins! Kom ek verduidelik dit so vir u. Dit is nie God se wil dat daar droogtes, armoede en siektes soos COVID-19 en ander slegte dinge oor ons kom nie. God is immers ’n God van liefde. Hy het dit nie daar gestel nie. Ons lewe in ’n gebroke wêreld as gevolg van die sondeval.

Maar God draai ons nie in watte toe nie. Hy oorbeskerm ons nie. Hy stel ons daaraan bloot, om ons sterker te maak. Daar word vertel dat Koning Henry VII van Engeland as kind nooit blootgestel is aan kieme nie. Hy het nooit ’n weerstand ontwikkel nie. Hy is toe jonk in sy lewe oorlede van ’n eenvoudige siekte, omdat hy geen weerstand ontwikkel het nie.

In Psalm 103: 5b staan daar: “Soos ’n arend word jou jeug dan weer nuut.” In Jesaja 40:31 staan daar: “Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.”

Bogenoemde verse verwys na die arende se “tweede” lewe. Arende kan 30 – 40 jaar oud word. Wanneer arende ’n sekere ouderdom bereik, word hulle vere te dik en te swaar. Die naels van hulle kloue en hul snawels word te lank en daarom kan hulle nie meer so hoog vlieg en hul prooi so maklik vang nie. Op daardie tydstip gaan die arend na ’n waterstroom op ’n afgesonderde plek, hoog in die berge. Hy begin sy vere uitpluk tot niks oorbly nie. Hy trek al sy naels uit en kap sy snawel teen ’n rots totdat dit ook afbreek. Vir baie dae sit die arend by die stroom. Ander arende sal hoog verbyvlieg en vir hom stukkies vleis afgooi. Soos hy in die water sit en vir lang tye na die son kyk, kom daar trane uit sy oë uit totdat die oliesakkies by sy oë weer begin om olie te produseer. Stadig begin die nuwe vere, nuwe naels en ’n snawel uitkom. Na 30 tot 40 dae is die arend weer vernuwe met energie om die hoogtes aan te durf. Dit is ’n totale vernuwingsproses. (Inligting gekry by Belinda Paar)

So kom daar ook laagtepunte in ons lewe, waar ons onsself moet afsonder en wag dat God se Gees ons aanraak en vernuwe vir ons lewenspad.

Arende hou van storms. Hulle kan baie hoog vlieg, drie tot vyf kilometers bokant die storms. Daarom het kinders van die Here ook die krag om bokant die storms van hulle lewe uit te vlieg en die genade van die Here te beleef, te midde van die storms in hulle lewe.

Jakobus praat in hoofstuk 1 van beproewinge wat ons soos gelouterde staal sterk maak. Goud kom uit goud-erts wat teen hewige temperature verhit word. Daarom stel God ons bloot aan allerlei beproewinge, omdat Hy ons sterker wil maak en in die proses iets wil laat leer. Daarom moet ons ook in hierdie tyd van ’n veranderende politieke landskap ’n leerbare gees hê, om te leer om iets goeds te neem uit hierdie beproewings. Johannes Calvyn het gesê ons moet altyd “a teachable mind” hê. Dan kan ons groei in Godsvrug en in geestelike rypheid.

Ja, God skop sy kinders uit die nes, ook in hierdie tyd van ’n veranderende politieke landskap met die doel om ons iets te leer. Hy stel ons bloot aan die gevaar en die swaar, sodat ons dieper en meer Geesvervulde mense sal wees. Ons vier immers binnekort Pinksterfees. Maar Hy sal ons nooit laat val, te pletter teen die grond nie. Hy sal telkens inswiep en ons vang as ons besig is om te val.   God skop ons uit ons gemaksones, sodat Hy ons kan leer om te vlieg. Hy wil ons geloofsvlerke sterker maak, sodat ons geloofsvolwasse kan word.

Maar onthou die woorde van die Here Jesus Christus, dat Hy ons nooit sal verlaat nie. Dat Hy al die dae van die wêreld tot die voleinding by ons sal wees.

Hoor wat sê Jesaja 43: 1 – 2: “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie”

Liewe gemeente, julle is God se verbondskinders. God se beloftes geld vir een en elk van julle. Julle is God se arendskuikens.

Klein kuddetjie van Adelaide en Fort Beaufort, moenie vrees nie. God sal altyd by julle wees. Julle sal op arendsvlerke veilig gedra word.

AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

‘n Liefdevolle God soek Sy twee probleemseuns op

SKRIFLESING: Luk 15: 11 – 32

Dit gaan in hierdie gelykenis oor ’n liefdevolle God en Sy twee probleemseuns. Die een is ’n wegbreek-seun (wêreldling) en die ander een is die tuisbly-seun (kerkmens). Waarom het die Here Jesus hierdie gelykenis vertel? Die antwoord vind ons in vers 1 en 2 van Luk 15. Die wegbreek-seun is eintlik die tollenaars en die tuisbly-seun verwys na die Fariseërs. Kom ons kyk na die twee seuns:

  1. Eerste probleemseun is ’n wegbreker

Die eerste seun eis sy gedeelte van sy erfporsie op. Hy wil hê dat sy pa se besittings verdeel word, tot nadeel van sy pa.

Erfeniswette in Israel is ontwerp om die ouer seun te bevoordeel, en gee hom ’n dubbele deel (waarskynlik met die doel om ’n familie se grondbesit bymekaar te hou en die familieplaas ongeskonde te bewaar (Numeri 27:8–11; 36:7–9; Deuteronomium 21:17). As daar vier seuns was, sou die ouer seun twee aandele ontvang, en elk van die ander drie seuns een aandeel elk. Tipies sou die ouer seun die eksekuteur wees en die rol as familiehoof na sy pa se dood aanvaar. Soms het ’n ouer seun besluit om nie die familieplase tussen die broers te verdeel nie (Lukas 12:13). (Ralph F. Wilson) Waarskynlik sou die gelykenis daarop sinspeel dat die wegbreek-seun een derde van sy pa se goed ontvang en sy ouer broer op twee derdes kon aanspraak maak.

Die verdeling van ’n vader se boedel voor sy dood was bekend, maar is deur die Ou Testament afgekeur. In hierdie geval sou die eiendom oorgaan na die seuns, maar die vader sou voortgaan om die vruggebruik te geniet, dit wil sê, “die reg om die winste te benut en te geniet asook die voordele van iets wat aan ’n ander behoort, solank die eiendom nie beskadig of verander word nie.” (Ralph F. Wilson)

Die feit dat die jongste seun sy deel van sy erfporsie opeis, getuig van ’n swak verhouding tussen hom en sy pa. Die seun het sy deel gevat en weggebreek van God.

Hy het sy erfporsie gevat en in geld omgesit en op ’n reis na ’n ver land vertrek,  ver weg van sy pa, ver weg van sy ouer broer, en ver weg van enige verantwoordelikheidsin en morele selfbeheersing. Solank sy pa leef, het hy ’n verantwoordelikheid om sy pa te onderhou met sy deel van die familie se rykdom, maar hy ignoreer dit en spandeer alles op homself.

Waarskynlik het hy verval tussen verkeerde vriende, los meisies, wilde partytjies  en losbandigheid. Hy het sy erfporsie uitgemors op verkeerde goed. Baie geld beteken baie vriende. Hy het nie ’n tekort aan vriende gehad nie.

Hy het weggebreek uit die verbond en uit die kerk. Dan lees ons hoedat hy sy lewe opgemors het en skande veroorsaak het, want sien, hy wou op sy eie bene staan en vry wees. Verwêreldliking het deel van sy lewe geword.

Toe hy sy erfporsie klaar uitgemors het, lees ons het ’n groot hongersnood die land getref. Sonder geld en sonder vriende, was hy ontwortel en rigtingloos. As die geld opraak, raak die vriende ook weg. Die hongersnood beteken ook dat werk baie skaars was. Al waar hy kon regkom, was op ’n varkplaas.

Daar eindig hy by die varkhok. Dit is die grootste moontlike belediging vir ’n Jood, want Jode eet nie varkvleis nie. Hier wens hy hy kon sy honger stil met die peule wat die varke, hierdie onrein diere, eet. Maar niemand wou eers vir hom die varke se kos gee nie. So ver het hy geval in sy ellende. Hy word self soos een van die varke. Dit wil sê daar is geen werklike lewe sonder God moontlik nie. Wie uit die hande van God klim – eindig altyd in ellende.

Maar geliefdes, hier hoef dit nie te eindig nie. Ook hierdie seun se droewige verhaal eindig nie hier by die varkhokke nie. Want daar wag ’n liefdevolle Vader by die huis. Dan lees ons hoedat God bekering in sy hart werk.

Hy begin na te dink hoe lekker sy pa se huis was en dat hy van alles oorgenoeg gehad het. Selfs sy pa se dagloners het meer gehad om te eet as hy.

Hy besluit om terug te keer. Hy oorweeg sy woorde versigtig. Hy weet hy is nie meer werd om sy pa se seun genoem te word nie, maar hy is bereid om as dagloner deur sy pa in diens geneem te word.

Hy kom skoorvoetende nader, maar sy vader hardloop hom tegemoet. Sy vader kry hom jammer. Hy veroordeel nie sy seun nie. Sy vader neem as’t ware die inisiatief, want sy vader wag vir hom. Sy pa het nog altyd gewag vir hom om terug te kom. Dan lees ons hoedat sy vader hom omhels en soen, as teken dat hy vergewe is. Daar word geen boetes of pligte op hom gelê as straf nie.

Dan lees ons hoedat die seun geskenke kry. Hy kry ’n nuwe stola of kleed, ’n kledingstuk wat  waardigheid en respek simboliseer. Die seun wat sy erfporsie verkwis het, word weer in ere beklee, terug verwelkom as ’n regmatige erfgenaam.

Die ring wat hy gekry het was ’n simbool van gesag. Destyds was ’n seëlring ’n teken van vertroue en verantwoordelikheid. Met hierdie geskenk word die verlore seun nie net terug verwelkom nie, hy word ook bemagtig. Hy is toevertrou met die familieseël, wat verklaar dat hy die vader se seun is en nie ’n dienskneg nie. ’n Ring as familieseël het vir jou onbeperkte vryheid gegee.

Slawe en bediendes het nie sandale gedra nie. Toe die seun sandale kry, het hy sy kindskap en vryheid terug gekry. Hy kon nou met die sandale op ’n nuwe pad loop in totale vryheid.

Die nuwe stola is dus simbool dat hy sy status as kind van God terugkry. Ook die ring en skoene wat hy kry, dien as simbool van ’n herstelde status en outoriteit.

  • Tweede probleemseun is ’n tuisbly-seun.

Dit is die Fariseërs, die kerkmens, die een wat tuis is in die kerk. Die Fariseërs was pligmense, nie dankbaarheidsmense nie. Hierdie tuisbly-seun het goed gedoen, was getrou, het hard gewerk, was lojaal en het niks verkeerds gedoen nie. Maar hy het dit uit plig gedoen, soos wat ’n kneg sy baas dien. Hy het uit plig gedien en nie uit dankbaarheid nie.

Wanneer die oudste seun tuiskom en die feesklanke hoor, stuur hy sy bediende om te gaan kyk. Toe hy verneem sy verlore broer het tuisgekom, was hy onmiddellik opgeruk. Hy wil nie eers die feesmaal bywoon nie. Hy is kwaad oor sy vader ’n vetgemaakte kalf vir sy verlore broer geslag het, maar nog nie eens vir hom ’n bokkie gegee het sodat hy met sy vriende kan feesvier nie.

Ook vir hom soek die vader op, deur uit te gaan na hom. Sy vader verseker hom ook van sy liefde vir hom. Hy sê vir sy seun: “ Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune.”

Die fout wat die seun maak, is dat hy vergelykings tref. Hy vergelyk homself met sy broer wat weggeloop het. Omdat hy verbitterd is, beland hy in ’n tronk van selfopgelegde verwerping. Hy verwerp homself uit die liefde van sy Vader uit. So beland hierdie seun in die sel van verbittering. Hy verloor sy Vader ook boonop. Hy verloor sy lewensvreugde. Moenie uself met ander mense vergelyk nie. Kyk na wat u het, nie na wat ander het nie.

Die oudste seun het geglo dat hy die hemel verdien. Hy het neergekyk op sy jonger broer – die tollenaar. Hy wou niks met hom te doen gehad het nie. Hy is ook sommer kwaad vir sy pa, vir God wat so maklik vergewe. Hy is besig om sy vader te verloor omdat hy sy broer verloor het. Kerkmense, tuisbly-mense kan dikwels hard en afgunstig optree teen hulle wat deur God se genade vrygespreek is. Vergelyk byvoorbeeld ook Jona se woede teenoor God omdat God Ninevé se mense vrygespreek het.

Dikwels verset ons ons nie daadwerklik nie – maar ons is ongeërg en onbekommerd oor ons medemens se sieleheil. Ons kan baie keer traak-my-nie-agtig wees teenoor die redding van ander mense.

Die gelykenis vertel ons nie of die oudste seun se hart verander het en sagter geword het teenoor sy jonger broer nie. Eintlik is dit ’n oop antwoord. Ons moet dit in ons eie lewe beantwoord. Ons wat kerkmense is, tuisblyers is in die Vaderhuis, is ons waarlik bly oor elke nuwe broer of suster in die Vaderhuis of leef ons ongeërg voort in ons eie klein hoekie?

Die oop vraag vanoggend is of ons nie dalk een van die twee probleemseuns is nie. Dalk ’n wegloop-seun, wat nog nie tuis is in die Vaderhuis nie. Dalk ’n tuisblyer wat jaloers is oor die bietjie genade wat ’n broer of suster te beurt geval het.

Daar is ’n wagtende, soekende en liefdevolle Vader. Kom terug, my seun! Kom terug, my dogter! Die Here soek ons op.                                  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

God gee vir ons tekens

SKRIFLESING: Eksodus 4: 1 – 9 en Rigters 6: 36 – 40

God gee op ons lewenspad vir ons tekens, waarin Hy self aan ons verskyn. Dit vra ’n geloofsoog om dit raak te sien as komende uit die hand van God. God se tekens kan openbarend of geloofsversterkend wees. Ons glo mos volgens die Heidelbergse Kategismus dat God Homself openbaar deur die algemene en die besondere openbaring. Die algemene openbaring is deur die natuur, geskiedenis, besondere insidente of deur jou gewete. Die  besondere openbaring is deur die Woord van die Here self.

Met die aankondiging van Jesus se geboorte het God ook in tekens verskyn. Hy het Sy engel gestuur om die boodskap aan Maria en ook later aan Josef te bring. Die skaapherders het die teken gekry van ’n engelekoor wat die boodskap van Jesus se geboorte gebring het.

Die wyse manne (sterrekykers) het die teken van die Betlehem-ster gehad om hulle te bring tot by die Jesus-kind. Wat belangrik is, is dat ’n mens altyd tekens moet evalueer aan die hand van die Woord. So het die sterrekykers hulle dokumente geraadpleeg en Herodus het opdrag gegee dat die skrifgeleerders die Joodse dokumente moet raadpleeg. Die algemene openbaring word altyd getoets aan die besondere openbaring, naamlik die Woord van God.

’n Mens kan jou maklik mislei en dink dat jy ’n teken van God gekry het om van jou vrou te skei om met ’n ander een te trou. Dan was dit eerder ’n versoeking van die duiwel, want die Woord sê jy mag nie owerspel pleeg nie. Toets altyd tekens, of dit ooreenstem met die woord van God.

Die Bybel is vol tekens wat God gee om rigting aan te dui en boodskappe vir mense te stuur. Noag het die teken gekry van die duif met die olyftakkie wat teruggekom het na die ark. Dit was ’n teken dat die vloed besig is om op te klaar. Boonop het die Here die teken van die reënboog gegee, waardeur Hy Sy genade belowe het.

Skets: Jan van ‘t Hoff

Moses het by die brandende braambos gekom en dit was die teken dat God regtig met Moses praat en hom roep om Sy volk uit Egipte te lei. Moses was nie heeltemal oortuig dat dit God is wat met hom praat nie. Die Here gee toe vir Moses drie wondertekens. Hy moes sy staf op die grond gooi. Met die gooi op die grond het dit in ’n slang verander.

Moses moes toe die slang aan die stert vang en dit het weer in ’n herderstaf verander. Daarna moes Moses sy hand by sy bors in die kleed insteek. Toe hy dit uithaal, was dit melaats. Moses moes wéér sy hand insteek by sy kleed en toe hy dit uithaal, was dit gesond. Die derde teken was dat hy water uit die Nyl skep en dit op die grond gooi. Dit het in bloed verander. So het God vir Moses oortuig deur tekens dat Hy hom werklik roep om Sy volk uit Egipte te red en na die beloofde land te lei.

 Die tien plae was tekens aan die Farao om God se volk te laat trek uit Egipte, maar telkens was Farao daaraan ongehoorsaam. In die woestyn was daar die kwartels, die manna, die wolkkolom, die vuurkolom, die water uit ’n rots en nog vele ander tekens van God se troue sorg.

Hiskia het ’n teken gevra dat God hom sal gesond maak. Toe het God die skaduwee tien trappe laat afsak teen die Trappe van Agas.

Met die roeping van Gideon as rigter (Rigters 6), het God ook van tekens gebruik gemaak om vir Gideon te oortuig van sy roeping.

Gideon het vir die Here gesê dat hy ’n skaapvelletjie buite gaan los in die nag. As die grond die volgende oggend droog is en net die skaapvelletjie is nat van die dou, dan sal hy weet die Here roep hom. Die volgende oggend was dit toe so. Maar toe wil Gideon ’n verdere teken hê. Hy vra dat die grond die volgende dag nat sal wees van die dou, maar dat die skaapvelletjie droog sal wees. Die Here het ook dié teken toegestaan. So het die Here vir Gideon oortuig van sy roeping as rigter. 

Die hele Ou Testament is vol van honderde tekens van God se besondere bemoeienis met sy volk Israel. Daarom gebruik die profete ook baie metafore (beelde) wat dien as tekens van die Here se oordeel en verlossing.

Die Nuwe Testament is ook nie anders nie. Daar staan dat Jesus Christus Homself openbaar het as die Seun van God deur wondertekens. Die opgevoude doeke in die graf was ’n teken van sy fisiese opstanding uit die dood. Die teken van die opgevoude doeke beteken dat Jesus se liggaam nie gesteel is nie, maar dat Jesus self die doeke opgevou het met Sy opstanding. Ook die apostels het wondertekens gedoen om die vroeë Christelike kerk te vestig.

Die Nuwe Testament praat ook van die tekens van die Wederkoms wat ons sal sien. Ons lees daar sal onder andere aardbewings, oorloë, afvalligheid en vele ander tekens wees wat die wederkoms voorspel.   

Historici Will en Ariel Durant skryf in hul bekende boek, The Lessons of History, wat in 1968 uitgegee is: “Gedurende die afgelope 3,421 jaar van aangetekende geskiedenis, het slegs 268 geen oorlog beleef nie” (bl. 81). “In ons moderne tyd is daar egter ’n verskil – slegs in die laaste 70 jaar of so beskik mense oor die tegnologie, deur chemiese, biologiese en kernwapens, om alle lewe op die planeet Aarde uit te wis. Wanneer u die beskrywings van die eindtydse oorloë in die boek Openbaring lees, besef u dat aan die einde van die tydvak, oorloë nie slegs streke raak nie; dit sluit die hele aardbol in.” (Richard F. Ames) Kyk maar net na die talle oorloë waarin die wêreld op hierdie oomblik verkeer. Dit kort net een mal man om ’n kernoorlog te begin. 

Die sakramente, die doop en die Nagmaal, is ook heilige tekens dat God by ons teenwoordig is en ons in die geloof wil versterk. Luther het in tye van aanvegtinge teruggedink aan sy doop, as teken dat God by hom is. Daarom het hy die duiwel met die inkpot gegooi.

Daarom openbaar God Homself gedurig deur tekens aan die mens. Wanneer jy vir ’n betrekking aansoek doen en jy kry dit nie, is dit ’n teken dat God se wil vir jou anders is. Wanneer jy wel die betrekking kry, kan jy weet dit is God se wil. Daarom, as jy vir ’n pos aansoek doen, vra jy as’t ware dat God vir jou die teken moet gee of dit Sy wil is. Wanneer mense ’n liefdesteleurstelling ervaar, is dit ’n teken dat God vir jou iemand beter in die vooruitsig bespreek het. Daarom werk God deur die alledaagse gebeurtenisse in ’n mens se lewe.

Ek onthou toe ons as gesin eenkeer van Bloemfontein teruggekeer het na Strydenburg, was ek oor baie dinge besorgd. Tien kilometer buite Strydenburg was die mooiste reënboog gespan oor die dorp en die kerk. Toe weet ek God is met ons.

Eenkeer in Adelaide se pastorie se studeerkamer was ek onder verskriklike aanvegtinge, oor wat God se wil vir my is. Ek kon die heelnag niks slaap nie. Hier teen vieruur die oggend tel ek die Apokriewe Ou Testament wat daar rondgelê het op en slaan sommer moedeloos by ’n plek oop. Presies op daardie plek, wat my oog vang, kry ek die volmaakte antwoord op my geloofsaanvegting. Dit het vir my so werklik gevoel, dat ek in die kamer gekyk het of ek nie die Here sien nie. Ek het toe rustig aan die slaap geraak.

Somtyds is ’n mens amper in ’n motorongeluk en dan beskerm God jou op ’n ongelooflike wyse. Dan dien dit as ’n teken van God se sorg en trou. Dikwels ervaar mense kontantvloeiprobleme wat hulle wakker laat lê. Dan word ’n mens verras hoe God elke dag die regte hoeveelheid kwartels en manna voorsien.

Die lewe is vol tekens van God se troue sorg. Dikwels ervaar kankerlyers en mense wat swaarkry, die Goddelike tekens baie spesifiek wat vir hulle moed gee op die pad vorentoe.

Martin Luther het  beleef en geskryf dat ’n mens God leer ken op vier maniere, naamlik deur die Woord, die gebed, meditasie en die ervaring van Sy tekens.

Martin Luther het in sy lewe ernstig met depressie geworstel. Hy het daarvan gepraat as die swart hond. Eendag toe hy ook geworstel het met depressie, onthou hy toe hy is mos gedoop. Hierdie teken van die doop het sy depressie gelig en hy het uitgegraveer op sy houttafel dat hy mos gedoop is.

Die Wesleyaanse vierhoek praat van die vier pilare waarop Goddelike openbaring rus, naamlik die Skrif, die tradisie, die rede en dan ook die ervaring.

Mense moet oor hulle ervarings van God praat. Ons kerk kan dikwels arm wees aan getuienisse. In baie ander kerke word daar geleenthede vir lidmate gegee om te getuig van hulle ervarings met die Here en hoe die Here in tekens met hulle gepraat het. Ons moet nie skaam wees om oor ons ervarings met die Here te praat nie. Deel jou ervarings van God met ander. Daardeur bemoedig jy hulle in die geloof.

Mag ons ook vertellers wees van ons ervarings met God en van die wonderlike tekens wat God ook in die afgelope jare vir ons gegee het van Sy troue sorg en liefdevolle bemoeienis met ons.

Kyk rondom jou. Elke dag sal jy ervaar hoe die Here met jou praat deur persoonlike ervarings en met tekens. Beleef dit as ’n persoonlike verhouding met die Here.                                    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Moenie kerk-kerk speel nie

SKRIFLESING: Luk 7: 29 – 35

Ons word grootgemaak om nie ander mense aanstoot te gee nie.

Selfs al is jy reg en die ander een verkeerd, hou jy liewer jou mond … want ’n mens wil mos nie aanstoot gee nie. As iemand vloek, bly ons stil. As iemand sondig, help ons hom of haar nie reg nie. Ons “kliek” ook net met die mense wat in die openbaar by ons status pas. Ons wil niemand kwets nie. Ons wil nie hê mense moet sleg van ons praat nie. Ons volg die pad van die minste weerstand.

Ons sê niks of doen niks wat dalk vir ’n ander een beledigend is nie. Eintlik speel ons dan kerk-kerk. Juis daarom het ons ’n stilswyende kerk geword. ’n Niksdoenende kerk, want ons wil nie in die wêreld daarbuite aanstoot gee nie.

Ons tugtig ook nie meer mense in die kerk nie, want netnou neem hulle ons hof toe.

Jesus was anders. Hy het gesê wat Hy wil. Hy het gedoen wat Hy wil. Hy het gemeng met mense met wie Hy wil. Hy het Hom geensins gesteur aan die openbare opinie van mense nie. Op hierdie Sondagoggend wil die Here ons oproep om op te hou om te probeer om altyd gewild te wees of in tel te wees of om by almal aanvaarbaar te wees. Jy moet eerder guns vind in die oë van God as guns in die oë van mense.

Dan vergelyk Jesus Christus homself met Johannes die Doper. Hulle albei het dieselfde Evangelie gebring. Maar met al twee het die Fariseërs en wetgeleerdes fout gevind. Daarom is dié gedeelte in die Skrif gerig op die Fariseërs en wetgeleerdes, wat nie soos die tollenaars tot bekering gekom het nie.

Johannes die Doper was die eksentrieke profeet wat snaaks aangetrek en vreemd geëet het en in die woestyn gebly het. Hy het klere gedra wat van kameelhare gemaak is met ’n leergordel om sy heupe. Hy het van sprinkane en veldheuning geleef. God het vir Johannes die Doper gestuur om ’n treurliedjie te sing, sodat die mense van sy tyd moes huil oor hul huigel-godsdiens. Daarom was die tema van Johannes die Doper se preke altyd: “Bekeer julle, skeur julle klere, want die Koninkryk van God het naby gekom!”

Johannes die Doper se preke het as voorbereiding vir die Here Jesus se koms gedien. Johannes die Doper wou hê dat mense hulle sonde moes raaksien en daaroor berou moes hê sodat hulle die nodigheid van ’n Verlosser kon insien. Daarom wil die Here hê ons moet treur en huil as ons ons eie sonde en die sonde van die wêreld raaksien. Die kern van Johannes die Doper se godsdiens was dus dat die mens moet huil oor sy sonde.

Die Here Jesus het egter die lag-en-bly-wees kant van die Evangelie gebring. Hy het vir my sondes gesterf en daarom kan ek bly wees. Die Here Jesus het mos gesê: “Kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is.” Hy het gesê dat Hy die lewende water en die brood van die lewe is.

Johannes die Doper het die huil-kant van die Evangelie gebring en Jesus Christus het die bly-kant van die Evangelie gebring. Tog was die mense met altwee se preke ongelukkig.

Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: “Hy is van die duiwel besete.” Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink en julle sê: “Kyk daar, ’n vraat en wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars.”

Ware verkondigers van die Woord beland altyd in die diep water. Johannes die Doper se kop is afgekap. Jesus Christus is aan ’n kruis dood gespyker. Petrus is onderstebo gekruisig. Stefanus is gestenig, die vroeë Christene is vir leeus gegooi of met pik besmeer en aan die brand gesteek. Die kerkhervormers het al singende op brandstapels gesterf. Johan Heyns, die groot profeet van die NG Kerk, is doodgeskiet voor sy eie vrou en kleinkinders.

Ons kan dankbaar wees dat die Here Jesus nie die plaaslike predikant of die moderator van die kerk is nie. Hy sou uiters ongewild gewees het. Ons sou Hom ook uitgedryf het uit ons dorpie of uit ons kerk, soos die mense van Nasaret met Jesus gemaak het. Want sien, Jesus draai nie doekies om nie. Hy praat die waarheid, maak nie saak wat die openbare opinie is nie. Jesus was nie skaam om aanstoot te gee nie.

Die ware Jesus Christus was geen romantiese, gewilde of hoogs aanvaarbare Persoon nie. Nee, Hy het die mense die hel in gemaak. Hy het tafels omgegooi by die basaar en mense sonder skroom skynheilig of witgepleisterde grafte genoem op die trappe van die sinagoge.

Daarom sê die Here dat die mense maak soos die kinders op die markplein. Sommige is vrolik en speel op die fluit. Dit verwys na Jesus Christus se vrolike omgang met sondige mense. Hy het saam met hulle geëet en gedrink en hulle Sy vriende gemaak. Maar die kinders het nie gedans nie; die mense in die tyd van Jesus was daaroor ongelukkig en daarom het hulle hom skelwoorde toegesnou.

Die kinders wat weer ’n treurlied gesing het, verwys na die bekeer-boodskap van Johannes die Doper. Maar daaroor was die mense ook nie tevrede nie. Daarom staan daar: “Julle (die kinders) het nie gehuil nie”.

Die mense wil nie lag nie, hulle wil nie huil nie, hulle is met alles in die Evangelie ontevrede.

Ons neem so gou aanstoot oor ’n preek of oor ’n gebeurtenis in my lewe, dat ons so maklik ons nie steur aan Sy waarskuwings nie. Ons herken nie Sy hand in ons lewe nie. Ons verstaan nie Sy stem as Hy met ons praat nie.

Ons is soos kinders wat dink die Evangelie is ’n spel. As die spel, die Evangelie, nie volgens my reëls is nie, dan ruk ek my op en speel nie saam nie. Dit het deur die eeue die kerk ligsinnig en oppervlakkig gemaak.

Ons lewe word maklik in beslag geneem deur beuselagtigheid, deur minder belangrike dinge. Ons is soos kinders wat nog stry oor of ampsdrag nog nodig is, wie aan die Nagmaalstafel mag aansit, wie welkom in ons eredienste is, hoeveel liedere gesing moet word en hoe lank die erediens moet wees, ensovoorts.

Maar die wesenlike, die verspreiding van die liefde en barmhartigheid van God na ’n stukkende verlore-gaande wêreld gaan by ons verby.

Dirkie Smit sê: “God openbaar God self deur die eenvoudige, verborge gedaante van die Woord wat ons lees, deur die verkondiging van die eenvoudige, deur nie-indrukwekkende predikers waarna ons luister, mensies uit die stof, noem Calvyn hulle. God openbaar Hom deur ouderlinge en diakens wat ons besoek, mense wat ons so goed ken, deur die getuienisse van gewone mede-Christene in die skole, by die huis, by die werk, deur die tekens van brood en wyn wat ons eet en drink, deur die naaste in nood wat op ons lewenspad verskyn, en ons harte aangryp … Meer hoef ons nie te verwag nie. Meer gaan ons nie ontvang nie. So roep God ons om Sy kerk in die wêreld te wees. So werk Sy Evangelie. So kom Sy ryk.

Kom ons hou op om ons te steur aan die openbare mening van mense. Daar sal altyd dié wees wat mor en kla en soos die kinders in Lukas 7 sal maak. Daar sal altyd die wees wat kerk-kerk wil speel.

Kom ons verlang eerder om God se volle waarheid onvervals te verkondig en uit te leef. Getuig van die Here, leef vir die Here … al beteken dit dat jy vir sommige mense aanstoot gee. Verlang u om gewild by God of gewild by mense te wees? Waarna verlang u?        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Klaagliedere moet dankliedere word

SKRIFLESING: Kol 2: 6 – 7 en Kol 3: 15 – 17

Ons lees in die Bybel uit die boek Klaagliedere.

Om Klaagliedere te sing is goed. Jy kan die slegte goed in woorde omsit en dit uit jou gestel kry. Klaagliedere gee vir jou ’n klankbord dat jou pyn gehoor word. Sielkundiges moedig mense aan om oor die slegte goed in hulle lewe te praat, sodat daar genesing kan kom. Dit is ook goed vir ’n volk of nasie om in rou te gaan wanneer ’n nasionale ramp hulle tref. Klaagliedere is goed vir ontlading van ’n klomp negatiewe emosies.

Maar ’n mens moet nie vashaak by Klaagliedere nie. Klaagliedere moet groei en dankliedere word.

Ek wil graag die historiese verhaal vertel van Ds. Martin Rinkart wat gebore is op 23 April 1586, te Eilenburg en oorlede is op 8 Desember 1649, te Eilenburg.

Hy was ’n Duits-Lutherse predikant, maar ook ’n begaafde musikant. In 1617, op die ouderdom van 31 jaar, het Rinkart die predikant geword van sy geboortedorp Eilenburg. Met sy bevestiging as nuwe predikant het die Dertigjarige Oorlog uitgebreek. Tydens sy volle bedieningstyd in Eilenburg was die stad deel van die oorlogsone. Die soldate het gereeld die stad geplunder vir kos. Daar was ’n konstante invloei van vlugtelinge na die stad. Daarom was daar armoede, broodsgebrek en hongersnood in die stad. Mense het oor kos baklei. In die moeilike tyd het Ds. Rinkart by sy kudde gestaan en as predikant die Woord bedien en gehelp waar hy kon, selfs ten spyte van homself.

Asof dít nog nie erg genoeg was nie, het daar in 1637 ’n plaag in die stad en land uitgebreek. Hierdie plaag het 8 000 van die stad se inwoners gedood, asook meer as die helfte van die stadsraad. Sy een kollega het ook gesterf en die ander een het weggetrek.  Toe moes hy die werk van drie predikante doen. Hy het 40 tot 50 mense per dag begrawe. In totaal het hy daardie jaar 4 480 mense begrawe. Later het hy massa-begrafnisse gehou. Sy eie vrou het ook as gevolg van die pes gesterf. Hy het gesukkel om vir sy kinders kos op die tafel te sit, as gevolg van die hongersnood en die plundertogte van die soldate.

Boonop het die Sweedse weermag ’n geweldige hoë belasting op die stad Eilenburg geplaas, wat hulle nooit sou kon betaal nie. Van al sy versoeke het niks gekom nie. Hy het toe die stad Eilenburg tot gebed opgeroep. Later het hy voor die Sweedse generaals gekniel en hulle gevra om hul belasting te verlig. God het hulle gebed verhoor en die Sweedse generaals het hulle belasting drasties minder gemaak.

Dwarsdeur die Dertigjarige Oorlog en die groot pes, het hy getrou sy kudde versorg en geestelik bedien. ’n Mens sou ’n klaaglied oor die stad en gemeente van Eilenburg wou skryf. Soveel ellende vra ’n klaaglied.

Maar dan skryf Ds Martin Rinkart in 1636 die beroemde gesang: “ Nun danket alle Gott”. In Afrikaans natuurlik die bekende gesang: “Kom dank nou almal God”.

 1. Kom dank nou almal God              

   met hart en mond en hande;          

   loof hom wat wonders doen           

   tot in die verste lande.            

   van vroeg van kindsbeen af,         

   het hy ons trou bewaar              

   en tot vandag toe nog               

   geseën en gespaar.                  

2. O God so ryk en goed,               

   gee ons solank ons lewe             

   altyd ’n blye hart;                 

   as dit u wil is: vrede.             

   Laat u genade ons                   

   beveilig teen gevaar,               

   in donker ure ons                   

   van struikeling bewaar.             

3. Lof, eer sing ons voor God,         

   die bron van alle lewe –            

   die Vader, Seun en Gees,            

   almagtig en verhewe.                

   Drie-enige God, ons roem            

   U krag en majesteit.                

   o Heer, ons wil u noem:             

   ons God in ewigheid !    

Ds. Martin Rinkart het alle rede gehad om net Klaagliedere te skryf, maar ten spyte van al die teenkantinge en aanvegtinge, verkies hy om die goeie te soek om voor dankbaar te wees.

Onmiddellik roep dit die woorde van Fil 4: 4 – 7 op: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!  Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” 

Paulus sit in die tronk, nogtans sing hy lofliedere. Hy roep sy medegelowiges op tot blydskap. Die beste teenvoeter vir ’n negatiewe omgewing, is om iets te soek om voor dankbaar te wees en daaroor lofliedere te sing.

Ek was 100 dae binne die Covid-pandemie vir ’n erediens by Huis Corrie Dreyer. Die bejaardes het meer as 100 dae laas ’n erediens gehad, as gevolg van die inperking. Hulle verlang toe nie net na die Woord nie. Hulle wil ook sing, lofliedere sing. Maar hulle mag nie. Tannie Jenny Fourie moedig my toe aan om musiek op die rekenaar te speel. Tannie Lina Swanepoel en die verpleegsuster het vir hulle gesing, terwyl Tannie Rita van Vuuren die klavier speel. Almal kon toe luister na die lofsange.  Lofsange tel die gees op.

Ja, ons moet klaagliedere sing. Maar ons klaagliedere moet oorgaan in lofliedere – ook wanneer ons in die middel van ’n krisis is.

Daar is ’n Halleluja-lied “Tel jou seëninge, tel hul een vir een”. As dit jou lewensmotto is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.

’n Blymoedige en dankbare mens het baie vriende en skep energie. Maar ’n pessimistiese en ondankbare mens tap ander se energie.

Die Heidelbergse Kategismus bestaan uit drie dele naamlik:

  • Hoe groot my SONDE is.
  • Hoe ek van my sonde VERLOS word.
  • Hoe ek DANKBAARHEID moet bewys vir my verlossing.

DANKBAARHEID vorm dan ook die grootste deel van die Kategismus.

Kol 2: 6 – 7 lees: “Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid”. Paulus gebruik hier die beeld van die boom wat gewortel is in Christus. Die boom is die gelowige wat sy / haar voedingstowwe in Christus vind en wat dan blare en vrugte van dankbaarheid dra.

Kol 3: 15 – 17 lees as volg: “Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.”

Ons moet elke dag iets soek om voor dankbaar te wees. Ons moet vir ons lysies op papier of in ons kop saamstel van die dinge wat ons dankbaar maak. Dit kan sekere mense in jou lewe wees wat jou dankbaar maak, soos jou ouers of kinders of ’n vriend of ’n rolmodel. Jy kan dankbaar wees dat God jou in ’n tyd toe jy gely het, gehelp het en die gebed van jou hart verhoor het. Jy kan dankbaar wees vir jou aardse besittings, of die geleenthede in jou lewe wat op sukses uitgeloop het. Jy kan dankbaar wees vir jou gesondheid, as jy hoor van ander mense se siekte. ’n Mens moet net een maal in ’n hospitaalbed lê en jy sal skielik dankbaar wees vir jou gesondheid.  Jy kan dankbaar wees vir God se voorsiening op jou lewenspad. ’n Bemoedigende woord, ’n WhatsApp, ’n kaartjie of ’n presentjie kan jou tot dankbaarheid dring.

Dit kan makliker gebeur dat ’n armer mens meer dankbaar is as ’n suksesvolle en ryk mens. Die suksesvolle mens kan maklik die krediet vir homself gee en sê hy het daarvoor gewerk en God nie in die prentjie raaksien nie.

John Ortberg skryf pragtig: “Meer dankbaarheid sal nie uit meer dinge in die lewe  kom nie, maar uit meer bewustheid van God se teenwoordigheid en God se goedheid.”

Dankbaarheid maak jou altyd nederig. Dit is een van die opregte eienskappe van dankbaarheid: dit dring jou tot nederigheid, want jy verdien dit nie.

Ondankbare mense beskou seëninge as regte en skree daarom ook vir menseregte. Hulle beskou kos, klere, geld, geleerdheid, en posisies in die samelewing as ’n reg. Eintlik is hulle diep ongelukkige mense, want hulle sien nie die seëninge in die lewe raak nie. “Waarom toon mense wat steeds meer en meer kry, al hoe minder dankbaarheid? Hoe groter ons gevoel van geregtigheid, hoe kleiner ons gevoel van dankbaarheid.” (John Ortberg)

Die Bybel se woord vir ondankbaarheid is “murmureer” of om “brommerig” te wees. Die Ou Testament is vol daarvan. Toe Moses die volk uit Egipteland gelei het, het hulle gedurig gemurmureer dat dit beter in Egipte was. Hulle het oor alles gekla en arme Moses skoon moedeloos gehad.

Jesus het egter vir ons die voorbeeld gestel van ware dankbaarheid, ten spyte daarvan dat Hy niks gehad het nie. 

My persoonlike ervaring, soos ek ouer word, is dat ek meer dankbaar vir my lewe is as toe ek jonk was. Ek besef nou eers hoe God vir my en my gesin gesorg het en vir my ’n erfdeel afgemeet het, wat genoeg vir my is. Dit is ’n wonderlike berusting.

Wees dankbaar. Tel jou seëninge en jy sal gelukkig wees.

Leer om in eenvoud en in vreugde te lewe. Ons grootste skat is nie wat ons besit nie, maar wat in ons is, naamlik die geloof in Jesus Christus ons Here. Niks en niemand kan ons hiervan beroof nie. Daarom sê die Heidelbergse Kategismis dan ook by Vraag 1: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?”

Dan antwoord die Kategismus: “Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met Sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien …”

Dankbaarheid genees ons gekneusde gemoed en gees, ook in krisistye. Klaagliedere word dan dankliedere. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)