Die Here is die goeie Herder, wat ons beskerm. (Eseg 34: 11 – 16, 20 – 24)

DIE HERE IS DIE GOEIE HERDER, WAT ONS BESKERM.

Die afgelope dekades het ons weer geleer wat weerloosheid beteken. Politieke onsekerheid, misdaad, plaasmoorde, die rommelstatus van die Rand, regstellende aksie, politieke staatskaping, werkloosheid ensovoorts het ons weer weerloos gemaak. In die sewentigs en die tagtigs het die Afrikaner op die kruin van selfverwesenliking en mag gery. Nou het alles verander, ons besef deesdae ons eie weerloosheid. Ons wat eers sterk was, het nou swak, regtig swak geword. Ons het weerloos geword.

In Esegiël 34 lees ons ook van die volk Israel wat weerloos geword het, toe hulle verstrooid in ballingskap beland het. Al hulle ou sekerhede was weg. Hulle was uitgelewer aan die politiek van hulle tyd. Die vyand het dit vir hulle swaar gemaak. Die ergste was egter dat hulle eie leiers en die mense van invloed; hulle eie volksgenote hulle uitgebuit het.

6a010535647bf3970b014e87d44fd4970d-500wiWeerloosheid laat mense verskillend optree. Sommiges kry horings. Hulle baklei vir hulself. Ander bly weerloos, sonder horings en word slagoffers van die mense met horings. Ons lees van die vet en sterk skape wat die maeres en die sieklikes verstoot om eerste by die gras en water uit te kom. Hulle trap as’t ware die gras plat en vertroebel die water.

Ja, in tye van weerloosheid gebeur dit so maklik dat elkeen net vir homself leef en die ander, die swakkes met hulle lywe en skouers wegstoot.

Ekonomiese uitbuiting en ekonomiese globalisering laat die rykes nog ryker word en die armes nog armer. Die Arabiere hou hulle olie terug, sodat die olieprys per vat styg en ons ten duurste vir petrol moet betaal en dit vergroot net die armoede van die derde wêreld.

animals_hero_goats_sheep_0

In tye van swaarte en skaarste kry mense horings en ons word aggressief met mekaar. Ons bestuur aggressief, ons rand mekaar verbaal aan, ons beskinder mekaar, ons word suinig, ons buit mekaar uit en so meer. Ons gun mekaar nie ‘n plekkie in die son nie. Ons beveg mekaar.

Ons kry horings, die wet van die oerwoud geld, die sterkes sal wen. Ons werk nie meer koöperatief saam nie. Nee, elkeen doen sy eie ding. (In die outyd het mense saamgewerk en hulle goed met mekaar gedeel. Hulle was nie in kompetisie met mekaar nie,)

Vandag is almal met almal in kompetisie. Die sterkes, die mense met horings seëvier oor die swakkes. Ons sê die swakkes het dit nie gemaak in die lewe nie.

flystrikeWie sal tog vir die swakkes, die siekes en die moedverlorenes omgee? Wie sal tog die lammes en die kreupel skape optel? Wie sal na dié omsien, wat geen horings het om hulleself mee te verdedig nie?

Somtyds verlang ons ook om horings te hê, om net ontslae te raak van hierdie gevoel van weerloosheid.

Maar dan lees ons in Esegiël 34 van ‘n Herder wat juis gekom het vir die weerloses, die swakkes, die kreupeles, hulle wat geen horings het om hulle te verdedig nie.

Ons lees die volgende:

Ek sal self my kleinvee soek …. “ (vers 11)

“ …. so sal Ek omsien na my kleinvee …..” (vers 12)

Ek sal hulle tussen die ander volke uitbring …. Ek sal hulle versorg op die berge …. (vers 13)

Ek sal vir hulle sorg vir goeie weiding ….” (vers 14)

Ek sal self my kleinvee se Herder wees …..” (vers 15)

Ek sal die soek wat weggeraak het …..” (vers 16)

jesus-1167493_960_720Dit klink so al na Psalm 23, na die goeie Herder wat vir sy skape omgee.

Duidelik hoor ‘n mens in Esegiël 34 van die toewyding waarmee die Herder na sy skape omsien en self vir sy kudde sorg. Hy red sy kudde nie net van uitbuiting nie, maar ook van tuisteloosheid en ongeborgenheid.

Hy is die Herder wat saam met sy skape loop in die nag en in die dag, in die koue en in die reën. Hy tel die swak en sieklike lammetjies op sy skouers en dra hulle na veiligheid. In sy hand het Hy ‘n staf om die wilde diere weg te keer en die wat afgedwaal het terug te bring. In die nag slaap hy voor die hek van die klipkraal om sy skape op te pas. Die Here sê mos dat hy die Weg en die Waarheid en die Lewe is.

Sheep04Wat so wonderlik is dat die Herder die skape soek en nie omgekeerd nie. Ons is te verdwaal om die Here te soek. Ons is te swak om agter die Here aan te loop. Nee, dit is die goeie Herder wat ons soek en wat agter ons aan loop.

Daarom het Hy met Advent agter ons aangeloop, afgekom na die aarde en onder ons kom woon. Hy het ons kom soek en agter ons aan geloop.

Toe hulle hom op die Heilige Donderdagaand gearresteer het, het hy nie horings gekry nie. Hy het Petrus opdrag gegee om sy swaard in sy skede te bêre. Toe Hy weerloos voor Pilatus en Herodus gestaan het, het hy nie horings gekry nie. Toe hy weerloos aan die kruis gehang het, het hy nie horings gekry nie. Nee, hy het gesmeek: “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.”Hy was weerloos aan die kruis. Die Herder het soos een van sy skape geword. Hy het die Lam van God geword wat die sonde van die wêreld weggeneem het.

Eland_horn-

Die duiwel word in sketse voorgestel as die een met horings, want hy is die bakleier, die veglustige, wat vir homself baklei. Hy verlei ons om ook horings te kry, te baklei, aggresief te bestuur, op ander te trap, mekaar te beskinder en af te breek.

Maar kyk na die goeie Herder wat geword het soos ‘n lam sonder horings. Hy het sy liggaam gebreek en sy bloed laat vloei, sodat ons kan leef.

2b2bb52d498634da2311d72c8a69e771--the-son-of-man-the-angelSonder horings en ‘n swaard het hy oorwin en ons na veiligheid gelei. Julle moet as gelowiges ook sonder horings onder mekaar lewe. Julle moet mekaar nie wegstoot met julle lywe of elkeen vir homself die beste gras afvreet en die water vertroebel nie. Nee, leef in vrede met mekaar saam en gee vir ander ook ruimte in jou lewe.

Ons het nie horings nodig nie. Nee, ons het ‘n Herder wat vir ons sorg, bewaar en beskerm.     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Jesus toets jou geloofskarakter. (Mat 15: 21 – 28)

JESUS TOETS JOU GELOOFSKARAKTER

Integriteit is ‘n belangrike konsep in Ingeneurswese. Enige konstruksie of dit nou ‘n pad, ‘n brug, ‘n gebou, ‘n staalkonstruksie of ‘n houtkonstruksie is, moet oor sy eie inherente integriteit beskik. ‘n Brug moet sterk genoeg wees, sodat dit nie inmekaar val nie. Boumateriaal moet oor ‘n sekere integriteit beskik, sodat dit duursaam is en voldoen aan die vereistes wat daaraan gestel word. Die gelykenis van die twee huise wat onderskeidelik op sand en rots gebou is, is ‘n goeie voorbeeld van die integriteit van die fondament waarop die huise gebou is. Die huis op sand het geen integriteit gehad nie en het weggespoel. Die huis op die rots het ‘n rotsvaste integriteit gehad en het staande gebly in die storms.

imagesIn ons gelese gedeelte (Mat 15:21 – 28) lees ons hoedat Jesus die geloofsintegriteit van die Kanaänitiese vrou toets. Die vrou het ‘n dogter gehad wat in die mag van die bose was.

Hierdie vrou het agter Jesus aangeloop en gesmeek dat Jesus haar dogter moet genees van die bose. Sy het aanhoudend geroep al agter Jesus aan. Die Here het haar geïgnoreer. Dit is lyk heeltemal teenstrydig met die krakter van die Here Jesus. Ons leer Jesus ken as Iemand met deernis en liefde en omgee. Nou lees ons hoedat Jesus haar ignoreer. Die dissipels wil hê Jesus moet haar wegstuur, want sy loop agter hulle aan en skreeu. Dan antwoord Jesus weer teen die grein van Sy karakter, as Hy sê dat Hy net gekom het vir die Jode. Die vrou het egter nou die aandag van die Here en sy val voor hom neer en smeek: “Here. Help my!”

images (3)Dan antwoord die Here haar weer ‘n keer afwysend: “Dit is nie mooi om die kindertjies se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Die woord “hondjies” verwys na die skeldnaam waarmee die Jode die Kanaäniete genoem het, naamlik “honde”, omdat die Jode die Kanaäniete onrein beskou het.

downloadDan antwoord die vrou verrassend dat sy met die krummels van God se genade tevrede sal wees. Die hondjies eet immers die kos wat van die base se tafel afval.

Sy verneder haarself om die minste te wees en is tevrede om met “min” oor die weg te kom, as die Here net haar dogter kan gesond maak.

Waarom hanteer Jesus hierdie vrou so hardvogtig, sonder enige simpatie. Dit is mos nie die aard en karakter van die Here Jesus Christus nie. Ons wil as’t ware uitroep, waarom die Here haar so hard behandel?

Die antwoord is eenvoudig. Hy wil haar geloof toets. Jesus wil die karakter van haar geloof toets. Soos wat produkte aan sekere gehalte toetse onderwerp word om die SABS (Suid Afrikaanse Buro van Standaarde) merk te kry, word sy ook getoets. Die Here maak dit vir haar moeilik, omdat Hy die egtheid van haar geloof wil toets.

18375164.jpg-r_640_600-b_1_D6D6D6-f_jpg-q_x-xxyxxHierdie Kanaänitiese vrou slaag die toets loshande. Dan antwoord die Here haar en sê “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Die Here het haar beproef en sy het die geloofskarakter toets geslaag.

Haar geloofsintegriteit het bo alles uitgestaan.

Ons moet verstaan dat die Here beproef ‘n mens, maar die Satan versoek jou. In Jakobus 1 word die onderskeid gemaak tussen beproewing en versoeking. Jakobus sê as jou “geloof die toets deurstaan het”, help die bepoewing jou om te volhard en tot volle geestelike rypheid te kom. Beproewing kom van die Here en dien tot jou heil. Dit is soos ystererts wat gelouter word, sodat vlekvrye staal gemaak kan word. Beproewing het te doen met swaarkry, wat uiteindelik tot jou loutering dien om geestelik volwasse te wees. Beproewing bou jou op.

Versoekinge daarteenoor kom van die duiwel en is daar om jou af te breek. Gewoonlik gaan versoekinge gepaard met aangename verlokkinge. Daarom sê Jakobus: “ Iemand wat in versoeking kom moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie, want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie.” (Jak 1: 13 – 14)

Jakobus noem beproewinge en versoekinge, albei ‘n “toets” Die een toets kom van die Here en die ander toets van die duiwel.

Dikwels wanneer ons erge droogte ervaar, beproef die Here ons geloof. Hy kyk van watter geloofsintegriteit ons gemaak is. Die Here toets óf ons geloof, sal staande bly ten spyte van aanvegtinge. Daarom moet ons in tye van aanvegtinge hoopvol ons oë op die Here fokus. Ons moet gelowig en aanhoudend soos die Kanaänitiese vrou by die Here aandring op die verhoring van ons gebed. Somtyds talm die Here, omdat Hy ons geloofintegriteit toets.

Dikwels word ons geloofsintegriteit ook uitgedaag deur die versoekinge van die duiwel. Die duiwel verlei ons om die wêreld lief te kry en slegs op die sienlike dinge staat te maak. Sodoende verloor ons gou ons moed en hoop.

Godsmanne en Godsvroue is mense met ‘n deurleefte geloof. Hulle lewe word gekenmerk met geloofsintegriteit. Geloofsintegriteit het alles te doen met deursettingsvermoë. Hierdie Kanaänitiese vrou het met volharde deursettingsvermoë die Here heelpad gevolg. In die spesiale magte van die Weermag en Polisie, word rekrute ook onderwerp aan strawwe vasbyt – oefeninge, waar hulle staal en deursettingsvermoë getoets word. Slaag hulle die toets word hulle opgeneem in die elite eenhede van die Weermag en Polisie.

169940267DIE “Navy Seals” in Amerika het ‘n goue klok. Wanneer jy opgee op die kursus moet jy net die goue klok lui. Dan is die strawwe beproewing verby en is jy af van die kursus. Die uitdaging is om nie die goue klok te lui nie. DON’T RING THE BELL.

So moet ons as gelowiges ook nie opgee, wanneer ons deur beproewinge gaan nie. Ons moet volhardend volhou met geloofsintegriteit, sodat ons die geloofswedloop kan voltooi. Die lewe is nie maklik nie. Die lewe is vol toetse en uitdagings. Daarom moet ons die toetse en uitdagings sien as geleenthede om te groei in die Here. Die Here sal ons ook nie bokant ons vermoë beproef nie, want Hy weet ons is van stof en vol menslike gebrokenheid. Hy sal ons optel, voordat ons kragte ingee. Wat is die karakter en die integriteit van jou geloofslewe?

DON’T RING THE BELL.                                                           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Tussen angs en sekerheid. (Mat 14: 22 – 33)

TUSSEN ANGS EN SEKERHEID 

Lewensangs is deel van elke mens se lewe. In ons gelese gedeelte is die dissipels vasgevang tussen ‘n storm op see en ‘n spook wat op die water loop. As’t ware het hulle ‘n dubbele lewensangs. Daarom gaan vanoggend se preek oor lewensangs.

Die skopus is: Tussen angs en sekerheid.

Die preek kan in drie dele verdeel word:

Pars 1: Lewensangs vra wonderwerke

Pars 2: Geloof vra dapperheid.

Pars 3: Vaste sekerheid vra fokus.

Kom ons kom by die eerste deel:

Pars 1: Lewensangs vra wonderwerke

Daar is ‘n spreekwoord wat sê: Nood leer bid. Hoe waar is dit nie. Die meeste gebede wat God bereik is verseker noodgebede. Wanneer dit goed gaan, is gebed vir die meeste mense net ‘n inspanning. Maar wanneer die nood op sy hoogste is, bid selfs die ateïs. Lewensangs kan verskillende vorms aanneem, dit kan finansiële nood wees of siektenood of wanneer jou lewensbestaan bedreig word. Jy het angs oor jou kind wat op pad is per voertuig en of jou kind gelukkig is en of daar genoeg fondse sal wees om jou kind te laat leer. Jy kan angs hê oor jou huwelik wat deur diep waters gaan. Jy kan angs hê oor werksekerheid of oor jou aansoek om nuwe werk. Jy kan angs hê of daar genoeg geld sal wees as jy aftree. Ons leef dikwels van angsmoment na die volgende angsmoment. In die wonderverhaal van die storm op die see, was dit nie anders nie.

walking-on-water-backhuysen-paintingDie dissipels was ‘n hele paar kilometer van die kus, toe die storm losbars en die boot gevaar staan om te sink. Jesus was nie in die boot nie. ‘n Mens kan jou net indink in die angs wat die dissipels ervaar het. Toe sien hulle ‘n mens aangeloop kom op die water. Dit is natuurlik onmoontlik en onmiddelik dink hulle dit is ‘n spook. Hulle angsvlakke het nou hemelhoog gestyg.

jesus-walking-on-water070814_03Wanneer Jesus hulle gerus stel en sê dat hulle nie moet bang wees nie, vra Petrus ‘n wonderwerk. Hy wil op die water na Jesus loop om seker te maak dit is Jesus. Jesus sê vir hom “Kom”. Petrus kry dit toe reg om op die water te loop. Maar toe hy sien hoe sterk die wind is, het hy begin sink. Dan hoor ons sy noodgebed: “ Here, red my!” Lewensangs vra altyd ‘n wonderwerk. Dit is net menslik. Nood leer bid.

Dit bring ons by die tweede gedeelte van die preek:

Pars 2: Geloof vra dapperheid.

Geloof is altyd ‘n sprong in die donkerte. Geloof is altyd ‘n waagstuk. Geloof vra dapperheid en geloofsvertroue. Toe Petrus die boot verlaat het, het hy homself roekeloos op die Here verlaat. Die Kategismis sê: Geloof = Kennis + vertroue. Petrus het ‘n sekere kennis en ervaring van die Here gehad en daarom kon hy roekeloos en dapper Jesus volg en op die water loop na Jesus.

Abraham, Isak en Jakop word nie verniet as geloofshelde voorgehou nie. Hulle het ook roekeloos, sonder om die uitkoms te sien, hulle op die Here verlaat. Abraham het uit Ur van die Galdeërs getrek op pad na ‘n beloofde land, wat hy nie eers in sy lewe kon ervaar het nie. Hy het blindelings en dapper die opdrag van die Here gehoorsaam. Abraham het roekeloos bereid gewees om sy enigste seun Isak te offer op ‘n berg in Moria. Op die laaste nippertjie het die Here ‘n offerdier voorsien, In Hebreërs 11 word ‘n lang lys van geloofshelde genoem wat in dapperheid dit met God gewaag het ‘n onsekere toekoms in. Dink aan Noag, Moses, Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete.

Alle onsekerheid bring angs en daarom vra alle onsekerheid, ‘n dapper geloof. Daarom roep die Here vir ons ook op om dapper die Here te volg, wanneer ons geen kaart en transportakte van die toekoms het nie. Geloof is om vas te hou aan die dinge wat ons nie kan sien nie. (Heb11:1)

8923915_f520In een van die museums in London is ‘n baie interessante maritieme kaart, met die datering van 1525. Die kaart is ‘n primitiewe voorstelling van die Nood-Amerikaanse Kuslyn met die aangrensende kuslyn. Die kartograaf of iemand na hom het dit goedgedink om op bepaalde plekke op die kaart waar daar nog nie ontdekkingsreisigers was nie, waarskuwings te skryf soos: “Hier is reuse” of “Hier is vurige skerpioene” of “ Hier is drake.” Wat die kaart egter merkwaardig maak is die feit dat die Britse ontdekkingsreisiger Sir John Franklin dit in die vroeë 1800’s gebruik het of ten minste onder oë gehad het. Hy het die waarskuwings van sy voorganger met dik hale doodgetrek en met groot letters dwars oor die hele kaart geskryf: “Hier is God.”

Die toekoms is onbekend, onseker, ongekarteer, somtyds stormagtig en dit wil ons lewensbootjie dikwels omgooi. Maar dan is Jesus se uitnodiging: “Kom. Ek is hier.” Daarom kan ons dapper die ongekarteerde toekoms van ons lewe aandurf, met die uitroep: “God is hier!”

Dit bring ons by die derde deel van die preek.

Pars 3: Vaste sekerheid vra fokus.

Toe Petrus na die sterk wind kyk en sy oë van die Here Jesus afgehaal het, het hy begin sink. Sy fokus het verskuif van Jesus na die omstandighede en hy het gesink. Daarom wil die gelese gedeelte ons aanmoedig om altyd ons oë op Jesus te hou. Daarom sê Heb 12: 2 die volgende in verband met geloofshelde, se fokus “….. die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof ….”

Wanneer ‘n atleet aan ‘n wedloop deelneem is al sy fokus op die wenstreep. Hy mag nie omkyk of rondkyk of kyk waar sy teenstaanders is nie. Sy enigste fokus is die wenstreep. Petrus het sy fokus verloor en daarom het hy gesink. Daarom moet ons in ons lewensangste ook nie rondkyk na die grote van ons probleem nie, maar altyd Jesus in die oog hou. Hy is die Voleinder van ons geloof.

Toe ek ‘n jong seun was het ek aan my heel eerste atletiekwedstyd deelgeneem. Ek het goed gevaar en was in die eerste drie posisies. Toe waai my hoedjie af. In my spore draai ek toe om, om my hoedjie te gaan haal. Nodeloos om te sê ek het erg laaste gekom. My fout was gewees ek het my fokus van die wenpaal verskuif na my hoed. Daarom het ek verloor.

dean-potter-640x427Daar word vertel dat kunstenaars wat op ‘n styfgespande tou loop, dikwels ‘n rooi lap of iets soortgelyks aan die einde van die tou vasmaak. Dan konsentreer hulle op die rooi lap en nie op die dieptes onder hulle nie. Met gefokuste aandag kan hulle dit dan regkry om oor die tou te loop.

Daarom roep Jakobus ons ook in Jakobus 1: 6 – 8 op om nie te twyfel as ons bid nie. Die fokus van ons gebed moet wees Jesus Christus en nie twyfel nie. Wie twyfel, kan nie iets van God ontvang nie.

16_Lorenzo_Veneziano_Christ_Rescuing_Peter_from_Drowning._1370_Staatliche_Museen_Berlin.

Lewensangste sal altyd met ons wees. Ons lewe as’t ware tussen angs en sekerheid. Maar as gelowiges kan ons die sekerheid van Jesus Christus omhels en weet dat Hy ‘n reddder is uit elke lewensangs. Dan sal ons nie sink nie, maar veilig wees in die hande van onse Here Jesus Christus.                                                              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die mens deel en God vermenigvuldig.

DIE MENS DEEL EN GOD VERMENIGVULDIG.

Ons almal ken van skaars tye. Dit is tye wanneer jou inkomste beperk is, wanneer dit droog is, wanneer jou gesondheid sukkel, wanneer jou lewenskrag wil ingee of wanneer hoop skaars is. Ons almal het al gehoor van die 1913 en 1933 se depressie en van die skaarste in die Anglo Boereoorlog. Ons voorgeslagte was meestal arm gewees en niks is weggegooi nie. Die Spoorweë was destyds vir baie arm gesinne, die oop deur na ‘n nuwe toekoms. Daar is met groot spaarsamigheid gewerk met alles. Niks is weggegooi nie. Sedert die 1960’s het dit begin beter gaan met die Afrikaners. Tans leef ons in ‘n era waar mense nog finansiële bekommernisse het, maar ons leef nie meer in skaarste nie. Van alles het ons oorvloed. Dit veroorsaak dat ons op ‘n eiland lewe en nie werklik tred hou met die armoede in ons land en wêreld nie. Armoede in die derde wêreld en ontwikkelende wêreld neem skrikwekkende afmetings aan. Armoede het baie oorsake. Sommige armoede bring mense oor hulself, maar dikwels is armoede die vergrype van een mens of volk oor ‘n ander mens of volk. Mense kan hulle so vergryp aan rykdom, dat hulle baie min vir die ander oorlaat om van te leef. Die Suid – Afrikaanse en wêreldgeskiedenis is vol voorbeelde hiervan. Die huidige staatskaping deur die Guptas en sommige ANC politieke leiers, veroorsaak dat die hele nasie swaarkry. Nepotisme, vermorsing en korrupsie veroorsaak ook dat ons land nie vooruit kan gaan nie. Politieke vergrype was nog altyd ‘n sekere oorsaak van armoede.

Behalwe finansiële armoede en broodsgebrek, kry ‘n mens ook emosionele armoede. Dit is wanneer jy velhonger is dat iemand jou moet aanraak of vir jou ‘n omhelsing moet gee. Armoede het dus verskeie gesigte.

BroodjiesIn ons gelese gedeelte lees ons van die eerste vermeerdering van die brood. Die eerste vermeerdering van die brood het onder die Jode plaas gevind, want ons lees dat hulle op groen gras gesit het en dat daar 12 mandjies kos opgetel is, wat ‘n simbool is van die 12 stamme van Israel. Die tweede vermeerdering van die brood was in ‘n woestyn gebied en daar is 7 mandjies kos opgetel, wat ‘n simbool is van die wêreld. Jesus het dus met die twee verhale van die vermeerdering van die brood en vis, vir beide die Jode en die heidense wêreld in die oog gehad.

In beide wonderverhale was daar ‘n tydelike skaarste van kos. Jesus was nie net begaan oor hulle geestelike armoede nie, maar ook oor hulle fisiese behoeftes. Daarom gee Hy die opdrag aan die dissipels (die kerk) om die groot skares mense te voed. Dit lyk na ‘n onbegonne taak. Hoe kan ‘n paar brode en ‘n paar vissies vir duisende mense kos gee. Tog gee die Here vir die dissipels (die kerk) die opdrag om in geloof die taak aan te pak. Daarom as ons oor die missionale taak van die kerk praat, bedoel ons dat die kerk geroep word om alle soorte armoede aan te spreek. Dit kan fisiese armoede, geestelike armoede, emosionele armoede of selfs net mense wees was velhonger is. Die kerk is geroep om op in alle soorte armoede ‘n verskil te maak. Dit help nie jy bring vir iemand die liefde van Jesus, maar jy laat hom of haar honger gaan slaap nie.

Die ontsettende omvang van armoede, veroorsaak dat ‘n mens somtyds apaties word en verlammend niks doen om ander te help nie. Natuurlik kan ons nie al die armoede en ellende in die wêreld aanspreek nie. Maar ons kan vir indiwidue hoop bring. Hulle vertel van die man wat elke oggend langs die seestrand gestap het en seesterre wat uitgespel het deur die nag, terug te gooi agter die branders. Maar daar het honderde seesterre op die strand gelê. ‘n Verbygander spot met die weldoener en sê vir hom of hy nou dink dat hy enige verskil kan maak. Die weldoener gooi weer ‘n seester agter die branders en sê: “Vir die een het dit ‘n verskil gemaak!”

So kan ‘n mens iemand in jou lewe aanneem in in daardie betrokke persoon of dier se lewe ‘n verskil te maak. Jy kan vir iemand wat swaar kry help. Jy kan vir ‘n eensame bejaarde versorg met jou kuiers en omgee. Jy kan jou oor die straathonde wat verhongerd rondloop ontferm. ‘n Mens word eers ‘n mens as jy kan versorg.

Daarom moet ons nooit dink, dat ons beskeie bydrae van geen waarde is nie. Die Here het met die eerste vermeerdering van die 5 brode en 2 vissies vir duisende kos gegee. Met die tweede vermeerdering van 7 brode en ‘n paar vissies is ook vir duisende kos gegee. Wat ons het, kan deur God vermeerder word. Ons moet God egter vertrou, dat God die bietjie wat ons offer ryklik sal seën om ‘n daadwerklike verskil te maak.

Dit is vir ons ook ‘n troos in ons lewe, om te weet as ons tye van skaarste beleef, dat God by magte is om uit die skaarste in al ons behoeftes ryklik te voorsien. Ek hoor dikwels hoe boere sê, ek weet nie hoe ek deur hierdie droogte gekom het nie. God het net voorsien. ‘n Boer van Strydenburg het eendag aan my bely, dat in die groot droogte van 1983, het hy 3 kinders op Universiteit gehad. As hy vandag sy sommetjies maak, het hy geen idee hoe hy deur daardie tyd van skaarste gekom het nie. Dit kan net God wees.

Daarom het mense in tye van skaarste, altyd ‘n ervaring van God se onvoorwaardelike sorg en getrouheid. Dit is ons troos as kinders van God, dat die hemelse Vader vir ons elke dag sal voorsien in alles wat ons nodig het.

In die gelese gedeelte lees ons dat die Here ‘n jammerte en ‘n deernis vir die mense gehad het. Ons kan dikwels so afgestomp word deur die ellende van die wêreld, dat ons ons hartseer vir mense verloor. Dan word ons apaties en veroordelend.

Ons lees in die Markus 6 – weergawe by die eerste vermeerdering van brood, dat die Here die mense in groepe van 50 en 100 laat sit het. So moet armoede sorg deur die kerk, altyd goed georganiseer word, sodat die hulp by die regte mense kan uitkom. God is God van orde. Leeglêers en luiaards kan nie ontvang van die liefdesgawes van die gelowiges nie. Daarom is barmhartigheid nooit ‘n blanko tjek aan mense wat te lui is om te werk nie. Die Bybel skryf ‘n hoë werksetiek baie hoog aan. Ons moet nie lui mense in hulle laksheid aanmoedig nie. Daarom het ons ‘n fyn onderskeidingsvermoë nodig, om te help daar waar dit regtig saakmaak.

Ons lees ook dat Jesus die kos geseën het. So moet ons ook vra dat God vir ons sal seën by die gebruik van Sy gawes. Die gebruiklike tafelgebed is een van ons mooiste gebruike in ons geestelike lewe. So moet ons Hom ook dank vir reën en elke goeie gawe wat Hy vir ons in die lewe skenk.

Daarom moet ons nooit moedeloos raak oor ons eie lewensnood of oor die wêreld se lewensnood nie. Wat ons het, kan deur God vermeerder word. Daarom kan ons getroos lewe en werk. God kan van min, baie maak. Onthou die wonderverhaal van die arm weduwee wie se olie nie opgeraak het nie. Sy kon al haar skuld betaal en weer die vryheid van die lewe geniet.

Daarom moet ons dit met God waag in ons lewensnood! Daarom moet ons dit met God waag as ons ander wil help. God ken van vermenigvuldig.

Die mens deel en God vermenigvuldig ! AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)