LIG IS GRATIS EN AANSTEEKLIK
Die Ou Testament begin met die woorde: “Laat daar lig wees!” En daar was fisiese lig. Die Nuwe Testament begin in Johannes ook met ‘n nuwe geestelike Lig wat aan die kom was na hierdie wêreld. Daarom staan daar in Johannes 1: 9 “ Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.” Albei Testamente begin met lig. Die Ou Testament met fisiese lig en die Nuwe Testament met geestelike Lig. Natuurlik weet ons dat hierdie geestelike Lig, Jesus Christus is.
Sonde, bekommernis, probleme, verslaafheid, stukkende verhoudinge en ander emosionele probleme laat jou leef in ‘n geestelike donkerheid. Hierdie donkerte is stikdonker, verstikkend en oorweldigend.
Die enigste antwoord op jou lewe, is om in ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus te leef. Hy is die WARE LIG!
Dit kos niks om een kers aan te steek by ‘n ander kers nie. Natuurlike lig kos nie geld nie. Net so is Jesus Christus die Lig van die wêreld, gratis vir ons gegee. Ons kan uit Sy lig lewe. Kunsmatige lig, soos elektriese lig kos geld. Jammer hoe baie mense agter kunsmatige lig kan aanhardloop, terwyl die geestelike Lig, Jesus Christus verniet aan ons gegee is.
Mag ons in die Kersfeestyd weer by die ware, natuurlike Lig uitkom en in ons geloof versterk word, sodat ons in 2017 weer in ‘n opregte persoonlike verhouding met die Here Jesus kan leef.
Soos wat ons die Lig verniet gekry het, moet ons ook die geestelike Lig uitdra en ander mense wie se kers dood is, weer aansteek met die ewige lig. Daar is so baie mense wie se kerslig dood is of wie se kerslig rook. Ons kan so baie vir ander mense beteken. Jou getuienis, gebed, bemoedigende of bevestigende woorde kan so baie rokende kerse weer aan die brand kry. Deur woorde van dankbaarheid en waardering kan ons vir so baie mense, weer selfwaarde in die lewe gee.
Wat gaan jy in 2017 vir ander mense beteken? Wie die vraag ernstig opneem sal in 2017 weer persoonlike sin en lewensbetekenis ontdek.
Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide