Deur aanvaarding word mense weer heel !

SKRIFLESING: Luk 19: 1 – 10

Elke mens wil graag deur ander mense aanvaar word. Saggeus was ook so ‘n mens wat graag aanvaarding en liefde gesoek het.

Ongelukkig is hy van kleins af eenkant toe gestoot. Waarskynlik was sy voorkoms een van die redes, waarom hy nooit gewild was nie. Want sien dié Bybel maak pertinent melding van sy kortheid. Hy was abnormaal kort.
Dit gaan dikwels op ‘n Sondagskoolpiekniek soos kinders wat twee spanne moet kies vir sokker of vir ‘n groepspel. Daar word vir elke span ‘n kaptein aangewys. Elke kaptein kry dan elke keer ‘n beurt om iemand vir sy span te kies. Die gewildstes, die atletiese, die beste en die vinnigste word altyd eerste gekies. Die laaste outjies voel dan gewoonlik heel gebelg en die heel laaste outjie moet dan gewoonlik die amptelike tellinghouer wees.
So was Saggeus gewoonlik ook die laaste in alles. Dalk het hy nog ‘n bynaam ook gehad, wat hom seer gemaak het.

Verwerping is iets wat elke mens van tyd tot tyd in sy lewe ervaar. Kinders ervaar dit, grootmense ervaar dit en bejaardes ervaar dit. Ja, soos die ou wat smoorverlief op ‘n meisie is en dan antwoord die meisie vir hom: “Al is daar ook ‘n atoomoorlog en al die mans is dood, dan wil ek nog steeds niks met jou te doen hê nie.” Hoe moet die arme man voel?
Wat doen ons as ons verwerp word of verwerp voel? Sosioloë sê mense tree gewoonlik op een van die volgende twee negatiewe wyses op.
• Hulle verval in selfbejammering, voel na suur druiwe, is verbitter, het wraakgedagtes en probeer om ander mense te “spite” of terug te kry.
• Ander weer verander hulle klere, sedes en selfs beginsels net om deur ander aanvaar te word.
Saggeus het ook verander. Hy het as Jood aanvaarding by die Romeine gesoek en dit ook gekry. Hy het sy Joodse naam Sagaria verander na Saggeus, omdat die meeste Romeinse name geëidig het op “-us”.
Hy het ‘n beroep in die tolbedryf gekies. Met ander woorde hy was ‘n “ontvanger van inkomste”, wat geld vir die Romeinse owerheid ingesamel het. Die Jode het nie van die Romeine gehou nie en daarom was om belasting vir die vyand te betaal ‘n bitter pil om te sluk.
Saggeus het dit egter met soveel oorgawe gedoen, dat hy spoedig bevorder is tot die hooftollenaar. So kon hy sy volksgenote terugkry wat hom so verwerp en met minagting gespot het. Ja, hy het ook gans en al te veel geld ingesamel as wat hy moes en die res het hy in sy sakgesteek. Tot watter laagte sal ‘n mens nie daal, net om êrens “iets te wees nie.
Alhoewel Saggeus ‘n ryk en magtige man geword het, was daar altyd ‘n gemis in sy lewe. Saggeus wou êrens behoort. Tog was hy nie welkom gewees in die sinagoge nie en daarom het hy ook gevoel dat die God van sy voorvaders hom ook verwerp het.
Ja, Saggeus het ver van God gevoel en ver van sy eie mense. Saggeus was alleen, bitter alleen.

Op ‘n dag hoor Saggeus van ‘n bekende en omstrede rabbi wat Jerusalem sou besoek. Hy het besluit dat hy graag vir hierdie rabbi sal wil sien. Daarom het hy in ‘n wildevyeboom geklim, net om vir Jesus te sien aangesien die skare groot was en hy kort van figuur.
Dan verskyn Jesus in die skare. Die mense drom saam, almal wil immers hierdie omstrede rabbi van nader leer ken. Immers almal praat van hom, wie sal hom nie wil ontmoet nie.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is 2a97da55e8d32ecca6ebeff1c77d27f4-zacchaeus-childrens-bible-2.jpg

Saggeus sit in die boom. Tevrede dat hy darem ten minste vir Jesus op ‘n afstand kan sien. Meer het hy in elk geval nie verwag nie. Hoekom sal ‘n bekende rabbi soos Jesus met hom wil praat? Want hy het ‘n ongewilde beroep, pers mense af en steel selfs geld. Vir Saggeus was die ontmoeting op ‘n afstand genoeg gewees. Meer het hy immers nie verdien nie.
Dan stop Jesus reg onderkant die boom en sê hy wil vanaand in Saggeus se huis tuisgaan. Jesus ken Saggeus by die naam, Jesus sien hom raak en Jesus wil by hom tuisgaan. Ek dink Saggeus het skoon van verbasing en blydskap uit die boom geval. Dit is so goed soos hy het die “lotto gestrike”. Die totaal ondenkbare, die hoogs onwaarskynlike het gebeur. Jesus het die verwerpte, die uitgestotene, die randfiguur, die vyand, die dief en afperser raakgesien.
Die wonderlike is dat Jesus nie eenkeer vir Saggeus aangespreek het oor sy sonde en afpersing nie. Nee, Jesus het Saggeus net aanvaar met die “liefde van Jesus.”
Die aanvaarding wat van Jesus uitgegaan het na Saggeus het vir Saggeus heeltemal verander. Nie die oordeel nie, maar die liefde van Jesus het van Saggeus ‘n nuwe mens gemaak. Met blydskap verklaar Saggeus dat hy die helfte van sy goed vir die armes gaan gee en waar hy van iemand iets afgepers het, sal hy dit vir hom vierdubbel teruggee. Saggeus se geldgierige hart, word nou ‘n hart vol van Jesus se liefde. Om bevry te word van aardse goed en skatte is dikwels die moeilikste en laaste gedeelte van jou bekering. Saggeus se bekering begin by die gedeelte, naamlik “Mammon” wat die heel moeilikste is. Daaruit blyk dit hoe opreg en grondig Saggeus hom bekeer het van sy verkeerde weë.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is maxresdefault-1.jpg

Daar word vertel van die gesin wat op pad was terug van ‘n piekniek. Op pad terug kry hulle ‘n klein katjie, eintlik ‘n “vlooitaxi” wat verskrik en verwaarloos is. Die katjie is uiters aggressief en vertrou niemand nie, omdat hy verwerp is deur sy eienaar. Ja, sy nekhare rys en hy kap met sy naels. Die pa wou eers die kat net so laat staan, maar sy kinders hou so aan dat die pa toe maar ingee en die katjie huistoe vat. Met ‘n groot gesukkel het hulle by die huis die katjie gebad, ontsmet en warm melk gegee. ‘n Paar weke later na baie liefde en aandag het die eens aggressiewe katjie ‘n liefdevolle en teer katjie geword wat spin en homself teen jou bene kom skuur vir liefde. Die liefde en aanvaarding van die gesin teenoor die katjie het die katjie se persoonlikheid van aggressief na liefdevol verander.
In ons wêreld is daar ook baie seerkry mense, met bitter wonde van verwerping, maar deur aanvaarding en liefde word hulle heel en nuut. Ja, Jesus is ook verwerp aan die kruis, sodat ons nooit verwerp hoef te voel of iemand anders hoef te verwerp nie.
Saggeus het aanvaarding by Jesus gekry en toe het hy begin om mense lief te hê deur hulle te aanvaar en te help. So het hy genees geword van sy eensaamheid en verwerping.
Augustinus het gesê: “Die enigste vorm van suiwer liefde is dié wat niks terugverwag nie.” Saggeus is deur Jesus se liefde genees van sy verwerping, sodat hy sy liefde kan uitdeel aan ander. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Deur ons gebede kan God van plan verander …..

SKRIFLESING: 2 Konings 20: 1 – 11

‘n Mens hoor gedurig dat mense sê: “As jou strepie getrek is, is hy getrek en jy kom nie by hom verby nie!” of ‘n mens hoor: “Wat gebeur, sal gebeur. As jou tyd daar is, is jou tyd daar.”

Maar mag ‘n mens so sê? Is ‘n mens se lewenspad en sterfdag al regtig voor ons geboorte bepaal? Is ons lewe gegiet in ‘n vaste glybaan sonder enige uitkomkans?

Sou dit so wees, dan is die mens niks meer as ‘n opgewende robot wat vooraf geprogrammeer is. Dan sou die mens soos ‘n voorafopgewende wekker wees, wat besig is om af te tik na sy dood. Dan sou gebed, waardeloos wees, want ons lewe en ons sterfdag is vasgepen. Wat baat dit my, dat ek bid dat God my moet beskerm of my moet gesond maak? Wat baat dit my om vir my kinders te bid, as hulle lewenspad reeds vasgegiet is? Nee geliefdes. God se wil staan nie vas nie. As God se wil onveranderlik vas gestaan het, sou God nie meer die aktiewe en kreatiewe God gewees het nie. Wat wel waar is, is dat daar niks buite God se wil om kan geskied nie. Met ander woorde alles gaan deur die tregter van God se wil. God kan egter van plan verander. Hy kan Sy wil buig. Hy kan van gedagte verander. Juis daarom nooi God vir ons uit om met hom in die gebed te worstel. Om met Hom te kommunikeer. Ja, God kan Sy wil verander, sodat alles vir ons ten goede kan meewerk.

In ons gelese gedeelte lees ons van koning Hiskia, wat die Here gedien het. Hiskia het die krag van gebed geken. Hy het geweet God luister en God kan van plan verander.

Toe koning Sanherib van Assirië vir Israel bedreig het, het hy tot God gebid vir uitkoms en God het vir hom en Israel gehelp. In ons gelese gedeelte was hy ernstig siek, siek tot die dood toe. Die profeet van die Here het aan hom bekend gemaak dat dit die wil van God is dat hy moet sterf en dat hy daarom moet afskeid neem van sy familie. Hiskia aanvaar dit nie sommer net so nie. Hy bid tot God en vra dat God hom moet genees.

Jesaja kom sê vir hom dat “sy strepie getrek is.” Hiskia bid tot God en vra vir God om aan hom genade te betoon. “deur sy strepie verder aan te skuif.” God besluit toe om van gedagte te verander en Hiskia se lewe met 15 jaar te verleng. Jesaja was nog skaars by die binneplein van die stad toe God vir hom terugstuur na Hiskia met die opdrag om aan Hiskia te sê dat God sy “strepie” met 15 jaar gaan aanskuif. As teken hiervan het God die skaduwee wat vorentoe beweeg, met 10 trappe terug geskuif.

Hierdie stukkie geskiedenis toon dat God nog steeds met ons besig is. Alles tik nie maar volgens ‘n meganiese plan af nie. God neem ons gebede in ag wanneer Hy die gang van sake bepaal.

In die verhaal van Jona en Ninevé wou God aanvanklik vir Ninevé verdwelg oor hulle sonde. Toe die stad tot bekering kom, het God van plan verander en die hele stad Ninevé gespaar. Natuurlik was Jona ongelukkig, omdat hy geweet het dat God barmhartig is en maklik van plan verander.

Ook in die verhaal van Israel se trek deur die woestyn, lees ons telkens hoe God sy volk wou straf oor hulle sonde, maar dan telkens van plan verander het, omdat Hy ‘n genadige God is.

Dit is daarom ‘n wonderlike troos om te weet dat ons gebede is nie nutteloos nie. God luister daarna en God is selfs bereid om van plan te verander, as dit maar net in ons beswil is.

Ons is dus nie slegs robotte of opgewende wekkers wat afloop nie. Nee, ek kan self my lewe verkort as ek verkeerd eet, of rook of onverskillig met ‘n motorvoertuig ry. Daarom kan ek nie onverskillig bestuur en sê: ”Toemaar my strepie is klaar getrek” nie.

Die wêreldgeskiedenis en my persoonlike geskiedenis is ‘n wonderlike interaksie tussen die wil van die mens en die wil van God. Die mens se wil is geneig om die verkeerde en die bose te soek. Die mens se wil kan dus teen God se wil indruis – natuurlik met vernietigende gevolge. God se wil is ingestel om alles tot die beswil van die mens te laat plaasvind. God se wil het daarom die mens se wil kom deurkruis, met die kruis op Golgota, sodat die mens verlos kan wees van sonde en van die oordeel. Daarom is ons deur God se goeie wil, verloste gelowiges. So seëvier God se wil oor ons eie sondige wil.

Augustinus die kerkvader, was in sy kinder en jongman-jare ‘n onverskillige rebel gewees wat gebaljaar het onder die verkeerde vriende, meisies en die kroeë van sy tyd. Sy moeder Monica het egter getrou vir hom gebid, dat God tog haar seun Augustinus se lewe moet aanraak en verander. Die Here het na haar gebed geluister en die Heilige Gees het Augustinus se hart verander. Met Augustinus en sy buite egtelike seun se doop en belydenisaflegging het die priester gesê dat Monica se gebede, Augustinus se lewe verander het. Augustinus het een van die grootste kerkvaders van alle tye geword.

Daarom gee die lewensgeskiedenis van Hiskia vir ons nuwe troos en hoop vir ons eie lewe. My lewe is nie onderworpe aan ‘n vooraf vasgepende orde waaroor daar geen beheer is nie. Ek is nie maar op pad na my “strepie” nie. God hoor my gebede. God neem my in ag. My lewe is ‘n wonderlike stuk avontuur, waarin God se betrokkenheid in my lewe al die verskil maak.

Ja, God kan van plan verander en ‘n getrekte strepie met ‘n tree of tien verskuif.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

God gee vir ons vriende …….

SKRIFLESING: Spreuke 6: 16 – 19, Spreuke 13: 20,  Spreuke 16: 28, Spreuke 17: 17 en Prediker 4: 9 – 12

Ons ken almal die portret of die skildery van die biddende hande. Dit hang in ons huise, dit is op boekmerke en kom selfs dikwels op begrafnisbriewe voor. Maar ken u die geskiedenis van die agtergrond van die biddende hande? Die oorsprong van die biddende hande, lê opgesluit in die verhaal van ‘n aangrypende vriendskap tussen twee vriende.

Aan die einde van die 15 de eeu het twee leerjongens, Hans en Albrecht in die houtsneebedryf in Frankryk studeer. Albei wou baie graag ook in die skilderkuns gaan studeer, maar nie een van die twee het geld gehad nie. Hulle besluit toe op die volgende oplossing. Een van hulle sal eers gaan werk en genoeg geld maak sodat die ander een van die inkomste kan studeer.

Wanneer die eerste een dan klaar gestudeer is en ryk en beroemd geword het, sal hy weer geld voorsien vir die ander om te studeer.

Die vraagstuk was natuurlik net: Wie sou eerste gaan studeer? Uiteindelik het hulle ‘n geldstuk opgeskiet om te besluit en Albrecht het gewen.

Terwyl Albrecht in Venesië gaan studeer het, het Hans as ‘n grofsmid gaan werk. Elke maand wanneer hy sy salaris gekry het, het hy ‘n groot deel daarvan vir sy vriend se studies aangestuur.

Die maande het jare geword en uiteindelik was Albrecht behoorlik gekwalifiseer. Hy het na Duitsland, sy geboorteland teruggekeer en as meesterskilder begin naam maak. Nou was dit sy beurt om sy vriend Hans finansieël te help met sy studie.

Die twee het ‘n blye weerontmoeting gehad, maar toe Albrecht na sy vriend se hande kyk, het hy trane in sy oë gekry. Toe eers kon hy werklik die omvang van sy vriend se opoffering begryp. Die baie jare van brute handearbeid as grofsmid het Hans se sensitiewe hande gekneus en vol eelte gelaat. Sy hande was nou so grof, dat dit nooit weer die fyn kwas van ‘n skilder sou kon hanteer nie.

Die dag toe hy aan sy vriend die skildery van die “biddende hande” oorhandig, het hy nooit geweet dat die simbool van vriendskap en opoffering, eendag aan miljoene mense oor die wêreld heen bekend sou raak as ‘n simbool van gebed nie.     

In nederige dankbetoon vir die jare van opoffering wat dit vir hom moontlik gemaak het om ‘n groot skilder te word, het Albrecht Dürer ‘n portret geskilder van sy vriend Hans se beskadigde hande – die hande wat so hard en so getrou gewerk het sodat Albrecht sy talent kon ontwikkel.

Henry Wadsworth Longfellow sê: “ Hoe onvergelyklik goed voel dit om die bekende hand van ‘n getroue vriend in jou eie te neem!”

 Vriende speel ‘n geweldige belangrike rol in ‘n mens se lewe. Sonder vriende is ‘n mens inderdaad arm. Natuurlik kan vriende jou bou of vriende kan jou afbreek. Juis daarom waarsku Salomo in die boek Spreuke vir ons om die onderskeid te ken van goeie en slegte vriende. Goeie vriende bou jou en slegte vriende breek jou af.

Een slegte tamatie steek die hele kissie aan en al die tamaties word vrot. ‘n Slegte vriend kan jou afbreek, maar ‘n goeie vriend kan die beste in jou na vore laat kom.

Salomo waarsku in Spreuke 6: 16 – 19 veral vir ons van sewe eienskappe in vriende wat God haat en waarvoor ons moet oppas:

  • Oë wat straal van hoogmoed (Ek is beter as jy.)
  • ‘n Tong wat lieg. (Vriendskap ken net die waarheid, nie leuens nie.)
  • Hande wat met bloed bevlek is. (Om iemand te oorheers, te manipuleer.)
  • Gedagtes wat met komplotte besig is. (Dinge agter jou rug te doen.)
  • Voete wat net een koers ken, die van die kwaad. (Met verkeerde goed besig is wat teen die gewete indruis.)
  • ‘n Getuie wat lieg. (Skindertong … ken geen vertroue nie.)
  • Iemand wat rusie stook tussen broers. (Humeurige mens wat gou kwaad word.)

Die vriend wat by jou skinder, sal van jou ook skinder. Die vriend wat nie skinderstories by jou aandra nie, sal ook nie van jou skinder nie.

Al my woorde moet van liefde getuig. Daarom moet ek ook kan stilbly oor die kwaad in my vriend se lewe. 1 Kor 13 sê mos dat die liefde bedek alles, ook my vriend se foute.

My vriend moet op my vertroue kan reken. Daar is niks wat so seer maak as ‘n mens se vertroulikheid geskaad word nie. My vriend se geheime moet by my veiliger wees as die goud in die reserwebank.

Ons almal het vriende nodig. Die modern samelewing maak dat ons dikwels so gejaagd is dat ons verleer om vriende te wees vir mekaar. Ons jaag so na wind, dat ons verleer het om te kuier. Daarom lewe ons in die era waarin die mens nog nooit so alleen gevoel het as juis in hierdie tyd nie. Die modern tegnologie maak ons net nog eensamer.

Hoe stadiger die vervoermiddels is, hoe meer het mense by mekaar uitgekom. In die outyd het die oumense al langs die pad van die plaas tot in die dorp gekuier. Op pad terug plaas toe het hulle ook weer al langs die pad terug gekuier. So ‘n tog kon maklik oor 3 dae strek.

Natuurlik moet ‘n mens nooit kla en sê ek is alleen nie. Die vraag is of ek ‘n vriend vir ‘n ander een is? Ralph Waldo Emerson sê: “Die enigste manier om ‘n vriend te hê, is om ‘n vriend te wees.” In ons wyke het ons juis ‘n besondere geleentheid om na mekaar uit te reik.

Natuurlik moet ‘n mens jou op ‘n vriend kan reken soos die volgende verhaal aantoon: “Luitenant, my vriend het nie uit die gevegsone teruggekeer kamp toe nie. Ek dink hy is gewond. Ek vra verlof om hom te gaan haal” “Versoek geweier, manskap. Ek wil nie hê een van my manne moet hulle lewe onnodig in die gevaar stel nie. Die kanse dat jou vriend nog lewe, is byna nul.” Maar die soldaat het die bevel verontagsaam en tog sy vriend op die slagveld gaan haal. Op pad terug, met sy kamaraad se dooie liggaam in sy arms, word hyself dodelik gewond.

Die offisier was woedend. “Ek het  jou mos gesê jou vriend is dood. Nou het ek julle altwee verloor! Maar sê vir my (gaan hy met ‘n bietjie deernis voort) was dit die moeite werd om jou lewe te waag, net om ‘n lyk uit te bring?” Die sterwende soldaat se antwoord was: “O, ja Luitenant! U sien, toe ek by hom kom, het hy nog gelewe. Toe sê hy vir my: Ek was seker jy sou kom.”

Epicurus skryf: “Dit is nie werklik ons vriende se hulp wat ons help nie, maar die rustige wete dat hulle ons sal help ….”

Daar is natuurlik altyd die mooiweersvriende, maar daar is ook vriende wat tot in die uiterste by jou sal staan. Soos Cicero gesê het: “In goeie tye ken ons vriende ons; in slegte tye ken ons ons vriende.”

Die Prediker sê: “Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp.”

Jesus Christus is ons grootste Vriend. Soos die ou Gesangevers wat lei: “Wat ‘n vriend het ons in Jesus.”

AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

God se reis begin met klein stappies ……

SKRIFLESING: Mat 13: 31 – 33

Die bose begin altyd groot en die goeie begin altyd klein. Die Satan wil altyd met die groot goed begin. So het hy vir Eva in die begin verlei, deur vir haar te vra of sy “soos God wil wees”. Hy het haar die sug gegee om groot te wees. So het die duiwel ook vir die Here Jesus versoek met versoekinge wat verband hou met groot en aanskoulike dinge, soos brood uit klippe, om deur engele gedra te word en ‘n belofte om oor al die koninkryke van die aarde te regeer.

Mense raak gaande oor aanskoulike goed, rocksterre, beroemde mense, geld, materialistiese besittings ens. Hoe groter, hoe beter. Mense wil ook nie vandag meer onder begin nie. Hulle wil sommer daar begin waar hulle ouers geeïndig het in die lewe. “We want it all and we want it now.” Die filmbedryf skep ook karakters wat alles die beste kan doen, sodat die kykers kan dagdroom om ook so te wees, soos wat die karakters is.

So het die koninkryke van hierdie wêreld gekom en gegaan. Elke era se konkinkryk spog met hulle grootheid, of dit nou hul wapentuig is, of bouwerk, of finansiële grootheid, of ekonomiese handelsbetrekkinge en of dit kernplofkoppe is. Van die antieke koninkryke van ouds tot die modern koninkryke van vandag, maak almal hulle skuldig aan ‘n grootheidswaan. So spog mense met hulle eie klein koninkrykies.

Met God se Koninkryk is dit so gans anders. Dit begin met niks, word in kleinheid gebore en groei stadig ongemerk, sonder enige vertoon. Daarom vertel Jesus die gelykenis van die mosterdsaad en die suurdeeg om ons iets te leer van God se Koninkryk.

‘n Mosterdsaadjie is skaars 1 – 2 mm in deursnee, maar dit kan ‘n baie groot boom word, waarin die voëls van die hemel kan nesmaak. Die suurdeeg werk ook ongemerk, maar as jy weer sien het die brood gerys. So werk God deur die eeue. God werk in die klein onbelangrike en onaanskoulike goed. Daar waar mense in die geloof klein treetjies in gehoorsaamheid gee, word God se Koninkryk gebore. God se Koninkryk kom stadig, want dit is ewig. ‘n Pampoen groei ‘n paar weke vining en dan is alles verby met die pampoenplant. ‘n Eikeboom of olyfboom groei baie stadig, maar kan baie dekades, selfs eeue oud word. Hoe stadiger die groeiproses, hoe langer is die lewenspan van die boom.

Daarom moet ons geduldig met God wees, as Hy nie vinnig genoeg na ons sin werk nie. God se Koninkryk is nie ‘n pampoenkoninkryk nie, maar ‘n mosterdsaadboom – koninkryk. God werk in die geheiemenis van die mens se hart. Daarom laat Hy die Koninkryk ontkiem en wortelskiet. Hy laat Sy Koninkryk groei in die harte van mense. Daarom lyk elke mens se lewe soos die jaarringe van ‘n groot boom. Elke jaarring vertel van die “journey” saam met God. Sommige van die jaarringe vertel van voorspoed en ander van teenspoed. Maar in elke jaarring van jou lewe kan jy God se teenwoordigheid raaksien.

So het die Here se kerk ook jaarringe, wat vertel van die geskiedenis van die kerk. Die Here hou self Sy kerk instand, al blaak die hel van woede.

Henri Nouwen het met sy lewe aangetoon dat om ‘n Koninkrykslewe te beoefen moet ek ‘n ware dissipel gaan word, daar waar daar swakheid, gebrokenheid, siekte, pyn, eensaamheid, angstigheid en verlorenheid is. Deur diens, liefde, en omgee sal mense die hart van God sien. Spirituele formasie stel Jesus teenwoordig in die nood van die wêreld. Spirituele formasie beteken om Jesus Christus te “embody” in die wêreld. Dan werk ek soos suurdeeg, wat smaak en tekstuur gee aan die lewe met al sy pyn en seer.

Geestelike formasie vra waagmoed en ‘n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ‘n profetiese gemeenskap word, wat nie narcisties die kerk preserveer om maar net instand gehou te word nie. Dit vra om  te “engaged” met die wêreld. Jesus Christus het die gelykenis nie vertel om die kerk in stand te hou nie, maar om die wêreld deel van Sy Koninkryk te maak.

Die kerk moet die wêreld in “domino”. Die kerk moet nie torings bou, soos die toring van Babel nie. Ons kan so maklik die kerk verafgod, as ons geestelike tuiste, in plaas daarvan om God se kerk eerder as ‘n beweging uitwaarts na die wêreld te verstaan. Die Pinkstergees het ons bemagtig en begeester om God se Koninkryk te domino op al die plekke waar God se Koninkryk nog nie sigbaar is nie. Soos suurdeeg moet ons die wêreld verander en ‘n beter plek maak. Die duiwel is altyd besig om aanskoulik opwaarts te bou (soos met die Toring van Babel). Die Here wil uitwaarts na die wêreld toe bou.

Die kerk is daar om die wêreld te verander en nie om haarself instand te hou nie. ‘n Goeie moeder is meer oor haar kinders bekommer as wat sy oor haarself bekommerd is. Die kerk moet ook leer om soos ‘n goeie moeder meer bekommerd te wees oor haar kinders in die wêreld as oor haarself. Storey haal aan deur te sê: “God’s love affair was not about the church, but the world.” Die kerk moet ‘n nuwe droom en visie kontekstualiseer, waarin armoede, werkloosheid, onreg ensovoorts aangespreek word.

Daarom moet die kerk mense dissipel, om ware navolgers te wees van Christus. Deur geestelike formasie word mense geskaaf tot “Christ-shaped” dissipels wat soos Jesus leef en optree. Maar die hele geloofsgemeenskap moet “Gospel-shaped” word wat ‘n transformerende geloofsgemeenskap moet word wat werk met die agenda van die lewende Christus. “Spiritual formation refers to the transformation of people into what C.S. Lewis calls “little Christs” (Leclerc)

John Wesley het spiritual formasie verstaan as liefde wat in elke oomblik uitgestort word. Daarom vind spirituele formasie in die Kairos – oomblikke plaas wanneer God uniek deur ons werk in ‘n spesifieke konteks.

In spirituele formasie staan dissipelskap as ‘n kernbegrip. Nominale Christene kan navolgers of leerlinge wees van Jesus Christus, maar dit maak nog nie van jou ‘n dissipel nie. “Being a disciple or discipleship is another word for Christian spirituality and focuses on the transformation of the human person into the likeness of Jesus Christ.” (Leclerc)

Spirituele formasie is ‘n stuk bevryding van ‘n stuk ongesonde ingebuigdheid van die self en eie ego. Dit is ‘n stuk genesing soos wat Henri Nouwen in sy eie lewe persoonlik ervaar het. Nouwen getuig as volg: “Spiritual formation prepares us for a life in which we move away from our fears, compulsions, resentments, and sorrows, to serve with joy and courage in the world, even when this leads us to places we would rather not go.”

Almal van ons het ‘n begeerte om ‘n verskil te maak en van dié wêreld ‘n beter plek te maak. Die fout wat ons maak is dat ons groot dink, in plaas daarvan dat ons klein dink en begin. Iemand het gesê: “Big journeys begin with small steps.”

Die Here verwag nie van ons om groot dinge aan te pak nie. Deur klein treëtjies te gee, kan ek verskil maak in die lewe. Maar dan moet ek die mosterdsaad plant in die grond en moet ek die suurdeeg inknie in my elke dag se bestaan. Ek moet besluit om ‘n aksie te neem in my lewe. Dissipelskap is om aksie te neem in jou lewe.

Daar is die verhaal van Nicolaus Zinzendorf (26 Mei 1700 – 9 Mei 1760), wat ‘n paar eeue gelede begin het met sy “mosterdsaadklub” terwyl hy op skool was. Zinzendorf het later een van die prominente sendelinge van die Morawiese Sendinggenootskap geword van sy tyd. Met sy sterk piëtistiese inslag het hy mense bedien om minder rasioneel oor godsdiens te wees en eerder “godsdiens van die hart” te beoefen. Hy het klein begin en ‘n groot verskil in sy lewenstydperk gemaak.

As ons maar net ons lewensjare so kan deurbring om werklik ‘n verskil te bring in ons omgewing en konteks. Om een lewe aan te raak is beter as om niemand aan te raak nie. As ek elke dag net in liefde na  een person uitgereik het, het ek in ‘n jaar ‘n verskil aan 365 lewens gedoen. Daarom moet ons godsdiens nie maar net rasioneel beoefen word nie. Nee, dit moet werklik lewensveranderend in my lewe en in die mense rondom my se lewe wees.

Iemand het eenmaal langs die seestrand gestap waarlangs honderde stervisse uitgespoel het. Hy was besig om soos hy loop die visse een na die ander terug te gooi in die see. Iemand vra vir hom of hy mal is, want hy kan mos onmoontlik almal terug gooi. Die man sê toe, terwyl hy nog ‘n stervis terug gooi: “Vir die een het dit ‘n verskil gebring.”

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

‘n Generasie van SELFIES

Tien jaar gelede het niemand geweet wat is ‘n “SELFIE” nie. Die jaar 2013 staan bekend as die jaar van die “selfie”. ‘n “Selfie” is ‘n tipe self-portret foto, wat gewoonlik met ‘n kamerafoon geneem word. Moderne selfone het deesdae almal twee kamera – lense, een om objekte af te neem en ander kamera om jouself af te neem. Laasgenoemde se kameralens is gewoonlik aan die voorkant van jou foon. Natuurlik kan dit ook vir video –gesprekke gebruik word

Ek het onlangs op ‘n E – kerk publikasie van Dries Cronje, Pierre Engelbrecht,  Stephan Joubert en ander skrywers die volgende insiggewende feite raak gelees.Die word “selfie”  is die eerste keer op 13 September 2002 gebruik in die ABC Online forum in Australië. Die hashtag# selfie het populêr geraak op al die sosiale media platforms. Sederdien het die “selfie” die internet oorgeneem. ‘n Onlangse verskynsels is waar dames mekaar uitgedaag het of Facebook om “selfies” te neem sonder enige grimering, ten bate van borskanker. So ontstaan aanlyn speletjies met “selfies”. In “datingklubs” en pornokringe vind ‘n mens natuurlik die ergste vorme van die gebruik “selfies”. Daar was in die onlangse verlede ook die Selfie Olimpiese Spele op Twitter.  Feitlik daagliks is die sosiale media oorstroom met fotos wat mense van hulself geneem het. Op die Instagram is die gebruik van “selfies” ook hoog op die lys. Dit is ‘n verskuiwing wat plaasgevind het, waarmee ons in feitlik al die vakrigtings  van kennis moet neem. Dit kan nie maar net ontken word nie. Ons moet daarvan kennis neem om te kan kommunikeer met mense. Die tydperk van “selfies” laat baie rooi ligte flikker. Mense kry ‘n gevoel van selfbewustheid, selfbelangrikheid, eie ego en die skepping van ‘n “image” wat dikwels nie ‘n getroue weergawe van jouself is nie. In “selfies” deel mense hulle persoonlike ervaringe met ander. Die deel van die “ervaring” word selfs belangriker as die ervaring self. Mense is so besig om die ervaring te deel, dat die genot van die ervaring daarmee heen is. Mense kan nie meer “in the moment” wees nie, hulle moet altyd deel en kommunikeer. “Selfies” kan ook ‘n element van spog en hoogmoed ontwikkel by gereelde gebruik daarvan. Fisiese voorkoms en nie innerlike lewenskwaliteite word ten toon gestel.“Selfies” maak die mens meer en meer selfgesentreerd, dat die mens dikwels die middelpunt van alles word. Dit veroorsaak dat God, medemens en omgewing dikwels uitgerangeer word. Die beheptheid met die self het ‘n algehele hoogtepunt bereik. My behoeftes, my ideale, my gemak, my beeld, my gerief en my belangrikheid word sentraal. Nuwere ontwikkeling wat ek raakgelees het is dat “Mirror – selfies” nou ook in die mode kom, waar mense fotos van hulself in ‘n spieël neem. Dit word selfs in die kunste gebruik en selfs in die kommersiële wêreld .Ons het van ‘n tegniese rewolusie oorgegaan na die inligtingsrewolusie. Groot korporatiewe maatskappye het nie meer alleen beheer oor inligting nie. Enige indiwidu kan vandag gehoor en gesien word op die internet. “Selfies” wat goed gedoen is of uitdagend of seksueel van aard is kan binne minute die hele wêreld vol wees. Die “selfie” generasie het dit minder erg aan privaatheid en is nie skaam om persoonlike goed vir die wêreld te vertel nie. Daarom kry ‘n mens dat mense vandag tot in detail sal vertel oor hulle lewe op Facebook en selfs vuilwasgoed sal was op Facebook. Natuurlik ken ons die aaklike bekgevegte wat tussen mense ook plaasvind op die soaiale media. Die “spot” element om die ander te verneder kom ook daagliks voor.Natuurlik is “selfies” opsigself nie negatief of boos nie. Mense kan deel waaroor hulle passievol is. Mense kan konnekteer en bande behou. Mense kan met groot groepe mense op een slag kommunikeer. Mense kan bewustheid vir goeie sake bevorder. Daarom moet ons nie die baba, saam met die badwater uitgooi nie.Positief kan ons leer uit die “selfie” fenomeen, dat mense eerstens ‘n behoefte het om te deel. Mense wil hulle ervaringe met ander mense deel. Daarom sal ons juis in die kerk ‘n ruimte moet skep waar mense hulle ervaringe, ook geloofservaringe kan deel met ander. Die tweede behoefte wat geidentifiseer kan word is dat mense dikwels ‘n gevoel van eensaamheid het. Die neem van ‘n “selfie”, plaas jou in die gesprekslyn op die sosiale media en verlig jou eensaamheid. Die vraag is of die kerk genoeg ingestel is om die eensaamheid van mense aan te spreek. Dit is mos juis een van die kernidentiteite en geloofswaarhede van die kerk, naamlik: “Ons glo in die gemeenskap van gelowiges”Ons as kerk moet ook leer om ‘n digitale teenwoordigheid te hê in ‘n digitale wêreld. Ons kan nie meer kerk wees soos 20 jaar terug nie. Natuurlik moet ons via die digitale media gebruikers aanmoedig om te fokus op ander en op die ekologie. Die positiewe gebruik van digitale media kan niemand ontken nie. Dit is hier om te bly. Ons moet dit net reg bestuur tot eer van God. Daarvoor moet elkeen van ons self verantwoordelikheid neem, wanneer hy of sy die “ENTER” knoppie druk. Dit vertel meer van jou as enigiets anders. 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)