Deur ons gebede kan God van plan verander …..


SKRIFLESING: 2 Konings 20: 1 – 11

‘n Mens hoor gedurig dat mense sê: “As jou strepie getrek is, is hy getrek en jy kom nie by hom verby nie!” of ‘n mens hoor: “Wat gebeur, sal gebeur. As jou tyd daar is, is jou tyd daar.”

Maar mag ‘n mens so sê? Is ‘n mens se lewenspad en sterfdag al regtig voor ons geboorte bepaal? Is ons lewe gegiet in ‘n vaste glybaan sonder enige uitkomkans?

Sou dit so wees, dan is die mens niks meer as ‘n opgewende robot wat vooraf geprogrammeer is. Dan sou die mens soos ‘n voorafopgewende wekker wees, wat besig is om af te tik na sy dood. Dan sou gebed, waardeloos wees, want ons lewe en ons sterfdag is vasgepen. Wat baat dit my, dat ek bid dat God my moet beskerm of my moet gesond maak? Wat baat dit my om vir my kinders te bid, as hulle lewenspad reeds vasgegiet is? Nee geliefdes. God se wil staan nie vas nie. As God se wil onveranderlik vas gestaan het, sou God nie meer die aktiewe en kreatiewe God gewees het nie. Wat wel waar is, is dat daar niks buite God se wil om kan geskied nie. Met ander woorde alles gaan deur die tregter van God se wil. God kan egter van plan verander. Hy kan Sy wil buig. Hy kan van gedagte verander. Juis daarom nooi God vir ons uit om met hom in die gebed te worstel. Om met Hom te kommunikeer. Ja, God kan Sy wil verander, sodat alles vir ons ten goede kan meewerk.

In ons gelese gedeelte lees ons van koning Hiskia, wat die Here gedien het. Hiskia het die krag van gebed geken. Hy het geweet God luister en God kan van plan verander.

Toe koning Sanherib van Assirië vir Israel bedreig het, het hy tot God gebid vir uitkoms en God het vir hom en Israel gehelp. In ons gelese gedeelte was hy ernstig siek, siek tot die dood toe. Die profeet van die Here het aan hom bekend gemaak dat dit die wil van God is dat hy moet sterf en dat hy daarom moet afskeid neem van sy familie. Hiskia aanvaar dit nie sommer net so nie. Hy bid tot God en vra dat God hom moet genees.

Jesaja kom sê vir hom dat “sy strepie getrek is.” Hiskia bid tot God en vra vir God om aan hom genade te betoon. “deur sy strepie verder aan te skuif.” God besluit toe om van gedagte te verander en Hiskia se lewe met 15 jaar te verleng. Jesaja was nog skaars by die binneplein van die stad toe God vir hom terugstuur na Hiskia met die opdrag om aan Hiskia te sê dat God sy “strepie” met 15 jaar gaan aanskuif. As teken hiervan het God die skaduwee wat vorentoe beweeg, met 10 trappe terug geskuif.

Hierdie stukkie geskiedenis toon dat God nog steeds met ons besig is. Alles tik nie maar volgens ‘n meganiese plan af nie. God neem ons gebede in ag wanneer Hy die gang van sake bepaal.

In die verhaal van Jona en Ninevé wou God aanvanklik vir Ninevé verdwelg oor hulle sonde. Toe die stad tot bekering kom, het God van plan verander en die hele stad Ninevé gespaar. Natuurlik was Jona ongelukkig, omdat hy geweet het dat God barmhartig is en maklik van plan verander.

Ook in die verhaal van Israel se trek deur die woestyn, lees ons telkens hoe God sy volk wou straf oor hulle sonde, maar dan telkens van plan verander het, omdat Hy ‘n genadige God is.

Dit is daarom ‘n wonderlike troos om te weet dat ons gebede is nie nutteloos nie. God luister daarna en God is selfs bereid om van plan te verander, as dit maar net in ons beswil is.

Ons is dus nie slegs robotte of opgewende wekkers wat afloop nie. Nee, ek kan self my lewe verkort as ek verkeerd eet, of rook of onverskillig met ‘n motorvoertuig ry. Daarom kan ek nie onverskillig bestuur en sê: ”Toemaar my strepie is klaar getrek” nie.

Die wêreldgeskiedenis en my persoonlike geskiedenis is ‘n wonderlike interaksie tussen die wil van die mens en die wil van God. Die mens se wil is geneig om die verkeerde en die bose te soek. Die mens se wil kan dus teen God se wil indruis – natuurlik met vernietigende gevolge. God se wil is ingestel om alles tot die beswil van die mens te laat plaasvind. God se wil het daarom die mens se wil kom deurkruis, met die kruis op Golgota, sodat die mens verlos kan wees van sonde en van die oordeel. Daarom is ons deur God se goeie wil, verloste gelowiges. So seëvier God se wil oor ons eie sondige wil.

Augustinus die kerkvader, was in sy kinder en jongman-jare ‘n onverskillige rebel gewees wat gebaljaar het onder die verkeerde vriende, meisies en die kroeë van sy tyd. Sy moeder Monica het egter getrou vir hom gebid, dat God tog haar seun Augustinus se lewe moet aanraak en verander. Die Here het na haar gebed geluister en die Heilige Gees het Augustinus se hart verander. Met Augustinus en sy buite egtelike seun se doop en belydenisaflegging het die priester gesê dat Monica se gebede, Augustinus se lewe verander het. Augustinus het een van die grootste kerkvaders van alle tye geword.

Daarom gee die lewensgeskiedenis van Hiskia vir ons nuwe troos en hoop vir ons eie lewe. My lewe is nie onderworpe aan ‘n vooraf vasgepende orde waaroor daar geen beheer is nie. Ek is nie maar op pad na my “strepie” nie. God hoor my gebede. God neem my in ag. My lewe is ‘n wonderlike stuk avontuur, waarin God se betrokkenheid in my lewe al die verskil maak.

Ja, God kan van plan verander en ‘n getrekte strepie met ‘n tree of tien verskuif.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s