Moenie kerk-kerk speel nie.

SKRIFLESING: Luk 7: 29 – 35

Ons word groot gemaak om nie vir ander mense aanstoot te gee nie.

Selfs al is jy reg en die ander een verkeerd, hou jy liewer jou mond …… want ‘n mens wil mos nie aanstoot gee nie. As iemand vloek, bly ons stil. As iemand sondig, help ons hom of haar nie reg nie. Ons “click” ook net met die mense wat in die openbaar by ons status pas. Ons wil geen aanstoot gee nie. Ons wil nie hê, mense moet van ons praat nie. Ons volg die pad van die minste weerstand.

Ons sê niks of doen niks wat dalk vir ‘n ander een aanstoot kan gee nie. Eintlik speel ons dan kerk-kerk. Juis daarom het ons ‘n stilswyende kerk geword. ‘n Niksdoende kerk, want ons wil nie in die wêreld daarbuite aanstoot gee nie.

Ons tugtig ook nie meer mense in die kerk nie, want netnou neem hulle ons hof toe.

Jesus was anders gewees. Hy het gesê wat Hy wil. Hy het gedoen wat Hy wil. Hy het gemeng met mense wie Hy wil. Hy het Hom geensins gesteur aan die openbare opinie van mense nie. Op hierdie Sondagoggend wil die Here vir ons oproep om op te hou om te probeer om altyd gewild te wees of in tel te wees of om by almal aanvaarbaar te wees. Jy moet eerder guns vind in die oë van God as guns in die oë van mense.

Dan vergelyk Jesus Christus homself met Johannes die Doper. Hulle albei het dieselfde Evangelie gebring. Maar met al twee het die mense fout gevind.

Johannes die Doper was die eksentrieke profeet gewees wat snaaks aangetrek en vreemd geëet het en in die woestyn gebly het. Hy het klere gedra wat van kameelhare gemaak is met ‘n leergordel om sy heupe. Hy het van sprinkane en veldheuning geleef. God het vir Johannes die Doper gestuur om ‘n treurliedjie te sing, sodat die mense van sy tyd moes huil oor hul huigel godsdiens. Daarom was die tema van Johannes die Doper se preke altyd: “Bekeer julle, skeur julle klere want die Koninkryk van God het naby gekom!”

Johannes die Doper se preke het as voorbereiding vir die Here Jesus se koms gedien. Johannes die Doper wou hê dat mense hulle sonde moes raaksien, daaroor berou moes ontwikkel en sodat hulle die nodigheid van ‘n Verlosser kon insien. Daarom wil die Here hê moet ons treur en huil as ons ons eie sonde en die sonde van die wêreld raaksien. Die kerk van Johannes die Doper se godsdiens was dus dat die mens moet huil oor sy sonde.

Die Here Jesus het egter die lag en bly-wees kant van die Evangelie gebring. Hy het vir my sondes gesterf en daarom kan ek bly wees. Die Here Jesus het mos gesê: “Kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is.” Hy het gesê dat Hy die lewende water en die brood van die lewe is.

Johannes die Doper het die huil-kant van die Evangelie gebring en Jesus Christus het die bly-kant van die Evangelie gebring. Tog was die mense met al twee se preke ongelukkig.

Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: “Hy is van die duiwel besete.” Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink en julle sê: “Kyk daar, ‘n vraat en wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.”

Ware verkondigers van die Woord beland altyd in die diep water. Johannes die Doper se kop is afgekap. Jesus Christus is aan ‘n kruis dood gespyker. Petrus is onderste bo gekruisig. Stefanus is gestenig, die vroeë Christene is vir leeus gegooi of met pik besmeer en aan die brand gesteek. Die kerkhervormers het al singende op brandstapels gesterf. Johan Heyns die groot profeet van die NG Kerk is doodgeskiet voor sy eie vrou en kleinkinders.

Ons kan dankbaar wees dat die Here Jesus nie die predikant van Adelaide of die moderator van die kerk is nie. Hy sou uiters ongewild gewees het. Ons sou hom ook uitgedryf uit ons dorpie of uit ons kerk, soos die mense van Nasaret met Jesus gemaak het. Want sien, Jesus draai nie doekies om nie. Hy praat die waarheid, maak nie saak wat die openbare opinie is nie. Jesus was nie skaam gewees om aanstoot te gee nie.

Die ware Jesus Christus is geen romantiese, gewilde of hoogs aanvaarbare Persoon gewees nie. Nee, Hy het die mense die hel in gemaak. Hy het tafels omgegooi by die basaar en mense sonder skroom skynheilig of witgepleisterde grafte genoem op die trappe van die sinagoge.

Daarom sê die Here dat die mense maak soos die kinders op die markplein. Sommige is vrolik en speel op die fluit. Dit verwys na Jesus Christus se vrolike omgang met sondige mense. Hy het saam met hulle geëet en gedrink en hulle sy vriende gemaak. Maar die kinders het nie gedans nie, die mense in die tyd van Jesus was daaroor ongelukkig en daarom het hulle vir hom skelwoorde toegesnou.

Die kinders wat weer ‘n treurlied gesing het, verwys na die bekeer-boodskap van Johannes die Doper. Maar daaroor was die mense ook nie tevrede gewees nie. Daarom staan daar julle (die kinders) het nie gehuil nie.

Die mense wil nie lag nie, hulle wil nie huil nie, hulle is met alles in die Evangelie ontevrede.

Ons neem so gou aanstoot oor ‘n preek of oor ‘n gebeurtenis in my lewe, dat ons so maklik, ons nie steur aan Sy waarskuwings nie. Ons herken nie Sy hand in ons lewe nie. Ons verstaan nie Sy stem as Hy met ons praat nie.

Ons is soos kinders, wat dink die Evangelie is ‘n spel. As die spel, die Evangelie nie volgens my reëls is nie, dan ruk ek my op en speel nie saam nie. Dit het deur die eeue die kerk ligsinnig en oppervlakkig gemaak.

Ons lewe word maklik in beslag geneem deur beuselagtigheid, deur minder belangrike dinge. Ons is soos kinders wat nog stry of ampsdrag nog nodig is, wie aan die Nagmaalstafel mag aansit, wie welkom in ons eredienste is, hoeveel liedere gesing moet word en hoe lank die erediens moet wees ensovoorts.

Maar die wesenlike, die verspreiding van die liefde en barmhartigheid van God na ‘n stukkende verloor gaande wêreld gaan by ons verby.

Dirkie Smit sê: “God openbaar God self deur die eenvoudige, verborge gedaante van die Woord wat ons lees, deur die verkondiging van die eenvoudige, deur nie indrukwekkende predikers waarna ons luister, mensies uit die stof, noem Calvyn hulle. God openbaar Hom deur ouderlinge en diakens wat ons besoek, mense wat ons so goed ken, deur die getuienisse van gewone mede-Christene in die skole, by die huis, by die werk, deur die tekens van brood en wyn wat ons eet en drink, deur die naaste in nood wat op ons lewenspad verskyn, en ons harte aangryp …… Meer hoef ons nie te verwag nie. Meer gaan ons nie ontvang nie. So roep God ons, om Sy kerk in die wêreld te wees. So werk Sy Evangelie. So kom Sy ryk.

Kom ons hou op om ons te steur aan die openbare mening van mense. Daar sal altyd dié wees wat mor en klae en soos die kinders in Luk 7 sal maak. Daar sal altyd die wees wat kerk-kerk wil speel.

Kom ons verlang eerder om God se volle waarheid onvervals te verkondig en uit te leef. Getuig van die Here, leef vir die Here ……. al beteken dit dat jy vir sommige mense aanstoot gee. Verlang u om gewild by God of gewild by mense te wees. Waarna verlang u?        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Selfsug kyk nie vêr nie.

SKRIFLESING: Gen 13: 1 – 18

Selfsug is die penwortel van alle sondes. Dit is seker die oudste sonde van al die sondes. Dit het reeds begin by Adam en Eva in die Paradys. (Hulle wou soos God wees. Daarom het hulle net aan hulleself gedink.)

In ons gelese gedeelte, lees ons hoedat Abram en Lot gedwing word in ‘n situasie waar hulle moes kies om selfsugtig of onselfsugtig op te tree. Maar waar begin die geskiedenis? Dit begin waar baie probleme in die lewe so dikwels begin, naamlik by materialisme, dinge, besittings en rykdom.

In Gen 13: 2 en 5 word twee keer so half terloops vir ons gesê dat beide Abram en Lot in Egipte “baie ryk” geword  het aan vee, silwer en goud.

Nou is daar natuurlik aan die besit van stoflike dinge as sodanig niks verkeerd nie. Dit is gawes van die Here wat Hy in sy goedheid aan sy kinders uitdeel. Wilhelm Vischer, die Switserse teoloog sê dit mooi: “ Ons God is die Here van hemel en aarde en alles behoort aan Hom – ook die goud en die silwer. Daarom moet ons dit nie snaaks vind as Hy in sy goedheid en genade soms sy kinders beskenk met ‘n oorvloed van gawes nie. Hy kan dit bekostig!”

Maar nou leer lewenservaring ook ander lesse. In die praktyk is die saak van rykdom nie altyd so probleemloos nie. Die Bybel waarsku op ‘n paar plekke dat besittings en goed die kiem van versoeking en verleiding bevat.

Iemand het gesê dit lyk byna of geld taai is, want dit het ‘n manier om as jy eenmaal daaraan gevat het, aan jou te bly klou. Aardse goed het die neiging om te groei op ons, om al dieper in ons harte en lewens in te kruip totdat dit ons so vul, so vasvang dat dit God en ons naaste heeltemal uit ons lewens kan uitdruk. Dit is omtrent soos onkruid, wat so welig groei dat dit later die gras heeltemal verdring.

Ongelukkig is dit ook so dat geld mense heeltemal kan verander – hulle drome, hulle waardes, hulle diepste self. En eendag as jy weer jou oë uitvee, kom jy agter jy leef nie meer vir God en jou naaste nie, maar teen hulle.

Abram en Lot se rykdom het gemaak dat die land hulle nie meer kon dra nie en toe het daar twis en vyandskap ontstaan tussen die dienaars van Abram en Lot.

Wanneer dit duidelik word dat die beste oplossing in die situasie sou wees dat die oom en nefie maar elkeen ‘n eie stuk grond vir hulle boerdery kry, moet daar grond gekies word.

Hulle gaan staan dan op ‘n punt van waar hulle die hele omgewing kan oorskou: Wie vat nou watter stuk van die land?

‘n Mens sal dink dat Abram, as senior vennoot eerste moes kies. Maar Abram het sy les geleer. In teenstelling met Gen 12 sien ons Abram hier na vore tree as ‘n merkwaardige voorbeeld van sagmoedigheid en onselfsugtigheid.

Ons lees in Genesis 13:8 – 11: “ Toe sê Abram vir Lot: ‘Daar behoort nie ‘n getwis te wees tussen my en jou en tussen my veewagters en joune nie, want ons is familie. Die hele land lê oop voor jou. Gaan jy liewer weg van my af. As jy links gaan, gaan ek regs; en as jy regs gaan, gaan ek links.’ Lot het toe rondgekyk en gesien die hele Jordaanstreek tot by Soar het so volop water soos ‘n tuin van die Here, soos Egipte. Dit was naamlik nog voordat die Here Sodom en Gomorra verwoes het. Lot het die hele Jordaanstreek vir hom gekies en hy het ooswaarts versit. So het die twee van mekaar geskei.” 

Ons leer Abram hier ken as ‘n mens vir vrede. Abram het tot elke prys, ook ten koste van homself vrede gesoek. Hy was werlik ‘n lewende monument vir vrede.

Hierdie verhaal wil hê dat ons dié geloofsvader sal onthou as ‘n mens wat letterlik die maksimum gedoen het, selfs homself te kort doen om bloedvergieting en twis en oorlog te vermy. Dit sal ons ook moet onthou vir ons huwelike, ons gesinne, vir Suid Afrika met sy brose volkereverhouding en vir ons werksplek. Gaan ek selfsugtig my eie belange bevorder of gaan ek die beswil van die ander party soek.

Waarom het Abram so onselfsugtig opgetree” Omdat hy sy eintlike taak, naamlik “om tot seën vir die nasies te wees” onthou het. Hy moes ‘n getuie vir God wees en ‘n getuie van God se heilsplan met die wêreld. Sou hy onselfsugtig optree, kon hy dit verongeluk.

Suid Afrika het ook baie Christene. Sommige sê ongeveer 70%. Ons is bedoel om tot heil te wees vir Suider Afrika en vir die hele Afrika.

Wat is die verskil tussen Abram en Lot? Lot het net die onmiddelike en die nabye raakgesien. Hy wou vir homself net die beste deel van die koek opeis. Abram het egter ‘n geloofsoog gehad. Hy het wyer gekyk. Hy kon sien dat daar iets agter elke keuse lê, naamlik om tot heil vir die wêreld op te tree.

Kyk ek en u met ‘n geloofsoog of met ‘n tonnelvisie. ‘n Tonnelvisie, vra altyd wat is vir my die beste? ’ Geloofsoog, kyk altyd wyer na God se plan en die heil van my medemens.

Abraham se onselfsugtige keuse het vir hom loon gebring. God het vir hom gesorg. Toe Abraham so onselfsugtig optree het hy God vertrou. Hy het geweet God sal vir hom sorg. Ek dink baiekeer die rede waarom mense selfsugtig optree is doodeenvoudig omdat hulle God nie vertrou nie.

Lot se einde was minder  voorspoedig. Hy het gekies vir voorspoed. Hy het gaan bly teenaan Sodom. Hy het miskien gedink hy sal vir Sodom kan verander en toe verander Sodom vir hom. Sodom en Gomorra is later vernietig en Lot se vrou het ‘n soutpilaar geword.

Calvyn sê hieroor dat Lot gedink het hy kies die hemel. Toe die Jordaanstreek soos die “tuin van Eden” gelyk het, …. en toe eindig dit alles in die hel. As ons wil hê ons huwelike, gesinslewe en ons land moet in die hel eindig, moet ons so selfsugtig kies soos Lot.

Daar is ‘n Engelse spreukwoord wat sê: “Good guys come second!” Dit lyk partykeer of dit waar is. In die korttermyn bring selfsug miskien voordeel, maar in die langtermyn bring dit nadeel. Dit kort ‘n geloofsoog om agter die onmiddelike nou, God raak te sien.

In vers 13: 14 lees ons hoe die Here nadat Lot weg is en Abram beteuterd staan, vir Abram gesê het: “Kyk tog rond, kyk van hier af waar jy is, na die noorde en die suide, na die ooste en die weste. Eendag, eendag gaan Ek die hele land wat jy nou sien, alles, vir jou en jou nageslag gee.

Die Here Jesus sê mos: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Geseënd is die sagmoediges (soos Abram), want hulle sal die nuwe aarde ontvang.     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Sonde beroof die goeie.

SKRIFLESING: Psalm 51

“Sonde” is ’n woord wat uit die mode geraak het. In die oorspronklike Jood-Christelike tradisie is dikwels oor sonde gepraat. Ongelukkig in baie mense se woordeskat bestaan sonde nie meer nie. Sielkundiges en sosiologie gee vir sonde ‘n ander naam. Selfs in die kerk praat ons nie dikwels oor sonde nie, vanweë die invloed van humanisme op die kerk. Humanisme glo in die inherente goedheid van die mens.

As ons wel oor sonde praat, praat ons eerder oor ’n ander een se sonde. Of ons vermy sonde of ons verplaas dit na ‘n ander mens.  Mense maak soos Adam en Eva. Ons kruip weg vir ons eie sonde. Andersins verplaas ons dit na ander mense. Toe die Here vir Adam genader het oor sy sonde, het hy sy sonde verplaas na Eva en sommer ook vir God blameer wat hom die vrou gegee het. Eva het weer die slang blameer.

Begryplik is dat “ sonde” in die wêreld min gebruik word. Maar in die kerk moet dit juis gebruik word. God het vir Adam en Eva in die paradys gaan soek. Hy het ‘n ontmoeting gereël, omdat God die sonde wil uitpraat. Die kerk is die een plek waar sonde-taal geoefen moet word, al praat die mense daarbuite nie meer so nie.

Daarom soek God ons elke Sondagmôre in die erediens om oor sonde te praat. Ongelukkig verval die sonde-belydenis dikwels as liturgiese element in die erediens. In die verlede was die sondebelydenis in die erediens en kerklike tug en opsig wesenlike deel van ons Calvinistiese tradisie.

Wanneer daar nie oor sonde gepraat word nie, verval die samelewing in oppervlakkigheid. Ons eie lewe verval in oppervlakkigheid as ons nie oor sonde praat en onsself ondersoek nie.

Daarom sê die Nagmaalsformulier ook uitdruklik dat ons onsself moet ondersoek voor ons aan die tafel gaan aansit. Ongeveer twintig jaar gelede was dit nog gebruik gewees om die Saterdag voor Nagmaal of die vorige Sondag ‘n voorbereidingsdiens te hou met die oog op die Nagmaal. Ongelukkig het ook dit verval.

Daarom is veral ook die Lydenstyd van die kerk tussen As-Woensdag en Paasfees ook ‘n tyd van vas en boetedoening. Sondebelydenis moet ’n tyd wees, wanneer ons nie meer wegkruip of ons sonde verplaas of die ander name gee nie. Dit moet ‘n tyd wees wanneer ek my sonde name gee. Dit moet ‘n tyd wees wanneer ek beskryf wie en wat ek regtig is.

In ons gelese gedeelte lees ons van koning Dawid se opregte skuldbelydenis na sy owerspel met Batseba, die vrou van Uria. Boonop het hy vir Uria doodgemaak, deur opdrag te gee dat hy in die voorste linies moet veg. Toe die profeet Natan na hom toe gekom het, het Dawid onmiddelik sy sonde bely en in sak en as gesit, sonder om te eet. Vanuit sy diepe berou het hy die opregte Psalm 51 geskryf.

Sonde is nie iets nie, het nie ’n eie ontstaan nie, is nie aanwysbaar en identifiseerbaar nie.     

Augustinus het gesê sonde is “privatio boni” – ‘n berowing van die goeie. Sonder teer op die goeie. Sonde leef na aan die goeie. Sonde volg die goeie soos ‘n skaduwee. Sonde misbruik die goeie. Sonde beroof die goeie. Sonde lewe van die goeie. Sonde is soos ‘n parasiet. Daarom is dit moeilik om sonde te herken. Die bose doen hom voor as ‘n engel van die lig.

As ek een vinger na ‘n ander wys, wys al my ander vingers na myself. Wie in glashuise lewe, moet nie klippe gooi nie. Sonde is inderdaad parasities. Sonde kom onder die dekmantel van die goeie.

Paulus skryf: Ek wil die goeie doen, maar as ek myself weer kon kry, het ek die kwaad gedoen. Sonde mislei ons. Richard Niebuhr skryf as ons sondig, weet ons meestal nie wat ons doen nie. Ons kan dikwels bedwelm word deur die tydsgees. Ons het apartheid gepleeg en toe nie eers besef ons sondig nie. Die Nazi-regering in Duitsland het miljoene Jode uitgemoor, en toe nie gedink dit is sonde nie. So kan ‘n tydsgees ‘n hele volk bedwelm, sonder om die sonde raak te sien nie. Die ANC -regering pleeg korrupsie in die ergste graad, maar hulle besef nie eers dit is sonde nie. Vir hulle is dit aanvaarbaar dat die leiers van die ANC, sake met die staat doen.

Ons weet somtyds nie wat ons aan ons lewensmaats doen nie. Ons weet dikwels nie eers wat ons aan ons kinders doen nie. Ons weet dikwels nie wat ons aan ander doen nie. Ons weet nie, omdat die sonde te na aan die lig lewe, omdat dit in die gedaante van die goeie verskyn.

Daarom het Jesus aan die kruis geroep: “ Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dan bedoel Jesus dit is ons wat nie weet wat ons doen nie.

Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther sy 95 stellinge teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker. Sy 95 stellinge het begin met boetedoening. Sy eerste stelling “Toe ons Heer en Meester, Jesus Christus, gesê het ‘Doen boete’ (toon berou, bekeer julle) was dit sy wil dat die hele lewe van die gelowiges een van berou moet wees.” 

               

Daarom pas dit by ons Calvinistiese tradisie om ons armoede voor God en ons gebroke lewe voor God te besef.  In die Rooms Katolieke tradisie is bieg, een van die sakramente. Vir ons beteken berou, egter die doding van vleeslike gedrag.

Daarom kom die 95 stellinge neer op (1) die grootheid van my sonde en (2) Christus Jesus se algenoegsame redding.

Die Middeleeuse kerk het in die hervorming ‘n verskuiwing gehad in vroomheid. Ek moet nie net vroom in die kerk wees nie, maar ek moet ook in die wêreld vroom wees.

Daarom moet ek elke dag vroom ondersoekend my lewe ondersoek voor God se Woord. Ek moet biddend nadink oor my lewe en my sonde een vir een voor God bely.

Dan sal ek elke dag verwonderd, dankbaar voor God staan vir sy algenoegsame verlossing in Jesus Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Onverdienstelike gevalle aan ‘n weelderige feestafel!

SKRIFLESING: Mat 22: 1 – 14 en Luk 14: 7 – 14

‘n Verloofde paartjie het in ‘n eksklusiewe hotel in Boston reëlings getref vir hulle bruilofsonthaal.

Al twee het baie duur smaak gehad en net die beste uitgekies: die voortreflikste spyskaart, die indrukwekkendste silwerware, die mooiste blommerangskikkings. Die rekening het op dertigduisend dollar te staan gekom. Hulle het die volle bedrag betaal.

Op die dag van die bruilof, was die bruidegom nog in San Francisco. Juis oor daardie naweek was Amerika in een van die ergste sneeustorm van dekades vasgevang. Die San Francisco Internasionale lughawe was vir alle lugverkeer gesluit. Daar was nie ‘n manier hoe die bruidegom binne ‘n halwe dag oor die Amerikaanse kontinent kon kom om betyds te wees nie.

Aangesien die gastelys uit vooraanstaande mense saamgestel is, vir wie tyd kosbaar is, is hulle betyds per telefoon laat weet dat die huwelik vir eers onbepaald uitgestel is. Maar hoe gemaak met die bespreekte hotel, die voortreflike vyfgang – ete, die silwerware, die blomme – alles is immers al klaar betaal.

Dis toe dat die bruid die roekelose idee gekry het om voort te gaan met die onthaal, nie as ‘n huweliksbanket nie, maar sommer net as ’n reuse feespartytjie. Sy het die dakloses van Boston uitgenooi vir ‘n aand wat hulle nooit sou vergeet nie. Daar is inderhaas uitnodigings na al die skuilings vir dakloses in Boston gestuur.

So het daar op ‘n koue wintersaand ‘n onthaal plaasgevind, soos die personeel nog nooit beleef het nie. Mense het van heinde en verre opgedaag: vertoiingde bejaardes met krukke en kieries, mense wie se aardse besittings in ‘n supermarktrollie kon inpas, boemelaars wat gewoond was om onder kartonne te slaap, verslaafdes wie se harde lewensverhaal op hulle gesigte uitgekerf was. Hulle het aangesit by die tafels met die kraakwit linne en die gepoleerde silwerware, is bedien deur kelners in aandpakke, het gesmul aan die vyfgangmaaltyd wat deur die beste kokke voorberei is. Soos wat die aand gevorder het, het hulle sjampanje gedrink, troukoek geëet en geluister na die strelend musiek wat deur die orkes verskaf is.

Laat daardie aand daag die bruidegom toe op. Die bruidegom aangedaan deur die vreugde en dankbaarheid van die dakloses besluit toe sommer om net daar te trou. Hy laat die predikant kom en hulle trou.

So ‘n skreiende kontras tussen onverdienstelike gevalle aan die een kant en weelderige feesvierings aan die ander kant het jy in jou lewe nog nooit gesien nie. Behalwe …. in die Evangelie. Kyk mooi: tussen die tafels deur stap die Gasheer. Sy glimlag sê alles.

In die gelykenis lees ons van die Koning wat vir sy seun ‘n bruilof gereël het. Hy het sy slawe uitgestuur om die bruilofsuitnodiging aan al die genooides te rig. Dan lees ons hoedat die genooides hulle nie gesteur het aan die uitnodiging nie. Ja, hulle het verskonings gehad. Ja, hulle het selfs sommige van die slawe (die boodskappers) doodgemaak. Jesus self het hierdie gelykenis aan die Jode vertel om iets by hulle tuis te bring. Die koning is eintlik God self, die seun is Jesus Christus, die slawe is die apostels van die Here en die genooides is die Jode. Die bruilof self is die naderende Wederkoms.

Ja, God is op hierdie oomblik besig om ‘n groot bruilof te reël vir die wederkoms van sy seun, Jesus Christus. Die uitnodiging na hierdie bruilof het Hy allereers aan die Jode gerig. Die Jode het heel eerste die uitnodiging gehoor. Maar die Jode was vol verskonings. Hulle het uitgestel om dadelik te antwoord. Hulle moes eers gaan omsien na hulle grond en osse en huwelik.

Maar party Jode het nog verder gegaan. Hulle het die uitnodiging verwerp. Hulle het eerder die apostels en die vroeë Christene vervolg. Ons lees dan ook heel dikwels in die kerkgeskiedenis daarvan (vergelyk byvoorbeeld Stefanus se steniging.) In vers 7 lees ons hoedat die koning, hoedat God kwaad geword het en gedreig het om die Jode se stad aan die brand te steek. Die Jode se stad, Jerusalem is dan ook in die jaar 70 n.C. verwoes.

Dan lees ons in vers 8 hoedat hy sy slawe uitgestuur het na al die straathoeke om mense bymekaar te maak vir die bruilof. Ja, sy slawe moes na al die nasies, kulture en tale gaan om die mense te nooi na die bruilof van die Here. Vir die bruilof van die Here maak dit nie saak of jy rein of onrein is nie. Dit maak nie saak of jy siek, arm of uitgestoot is nie. God se genade is ongelooflik wyd. Daar is selfs plek vir die laatkommers, die agterosse en die swartskape.

Ja, die uitnodiging het van sinagoge na die straathoeke verskuif. Ja, die bruilofsuitnodiging is baie wyd.

Ja, die uitnodiging gaan na goeies en slegtes. Goeie en slegte mense het die Here nodig om hulle te red. My goeie en ordentlike lewe kan my nie red nie – net Jesus Christus kan my red. Alle mense, alle geslagte, alle tale, alle kulture, alle soorte, goeies en slegtes ontvang hierdie uitnodiging.

Die gelykenisse word in vers 11 – 14 afgesluit met ‘n waarskuwing dat elkeen met ‘n bruilofskleed na die bruilof moet kom. Die gebruik in die ou tyd was dat wanneer iemand ‘n bruilof bywoon, moes almal ‘n bruilofskleed aantrek. Die bruilofskleed se doel was dat almal eenders lyk en daar geen klasseverskil is nie. In die hemelse bruilof het iemand ingesluip sonder ‘n bruilofskleed aan. Hy het waarskynlik gedink dat sy klere darem fatsoenlik genoeg is vir die geleentheid. So probeer baie mense die hemel insluip, met hul eie menslike pogings. Hulle dink hulle goeie lewe, hulle kerklidmaatskap of hulle goeie hart vir hulle medemens sal  hulle red. Nee, ons het nodig om beklee te word met ‘n bruilofskleed, met Jesus Christus. Net Jesus Christus kan ons red. Hy is die enigste sleutel wat die hemel kan oopsluit. Hy is die enigste kleed wat ons toegang kan gee tot die hemel.

Slegs mense wat beklee is met Jesus Christus kan deel hê aan hierdie bruilof. “Beklee julle met die verlossing, beklee julle met Jesus Christus.”

U sien dus in die hemelse bruilofsaal lyk almal dieselfde.  Almal lyk eenders. Almal is gelyk. Niemand lyk beter of slegter as die ander nie. Nee, net genade maak gelyk en eenders. Hoekom, omdat almal beklee is met Jesus Christus.

Daarom het die Jode die gebruik om in ‘n kring te dans. Niemand in die kring is eerste of laaste nie. Maar almal is ook eerste en laaste. Daarvandaan kom die skrifgedeelte wat sê: Wie eerste is, sal laaste wees en wie laaste is, sal eerste wees.

God se genade maak ons inderdaad gelyk. Wat ‘n vreugde, nou is daar vir my ook plek!   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om eensgesind te wees.

SKRIFLESING: Ps. 133: 1 – 3

Twee broers het saam op ‘n familieplaas gewerk. Die een was ongetroud en die ander een getroud met kinders. Hulle het dit wat hulle geproduseer het en die profyt wat hulle gemaak het, presies om die helfte gedeel. Een dag het die alleenloper vir homself gesê: “ Dis nie reg dat ons alles om die helfte deel nie. Ek is ‘n alleenloper en my behoeftes is min. Daar is my arme broer egter, met ‘n vrou en al die kinders”. In die middel van die nag het hy dus gereeld ‘n sak koring uit sy skuur geneem, die veld tussen hulle huise oorgesteek, en dit in sy broer se skuur gaan neersit.

Sonder dat hy dit geweet het, het sy broer dieselfde gedink: “Dis nie reg om alles om die helfte te deel nie. Ek is getroud en my vrou sorg vir my. My kinders sal na my omsien op my oudag. My broer het niemand nie, en wie gaan in die toekoms na hom kyk?” Hy het toe ook gereeld ‘n sak koring uit sy skuur geneem, die veld tussen hulle huise oorgesteek, en dit in sy broer se skuur geplaas. Al twee het jarelank met die gebruik voortgegaan om ‘n ekstra sak koring in mekaar se skuur te gaan pak. Wat hulle nie kon verstaan nie, was waarom hulle sakke koring nie minder word nie. Wel, een nag het dit so gebeur dat hulle dieselfde tyd van die nag na mekaar se huise toe afgesit het met ‘n sak koring op hul skouer.  In die donker het hulle in mekaar vasgeloop, met die sakke koring nog so op hul skouers. Elkeen was verbaas maar geleidelik het die waarheid tot hulle deurgedring. Hulle het hulle sakke op die grond gegooi en mekaar omhels. Skielik is die naghemel verlig en het ‘n stem uit die hemel gesê: “Hier is uiteindelik die plek waar Ek my tempel gaan bou. Want, waar broers in liefde saamwoon, daar sal Ek ook teenwoordig wees.” Die kerk is daar waar mense om Christus ontwil mekaar liefhet.

Die Here het vandag ook vir Sy gemeente in Ps. 133 ‘n wens, naamlik dat ons eensgesind met mekaar moet saamleef. In ons huwelike, in ons gesinne, in ons kerk en in ons gemeenskap moet ons mekaar liefhê en eensgesind saamleef. Daarom sê die Spreuke digter in 17:1 : “Liewer ‘n stukkie droë brood met vrede daarby as ‘n huis vol kos met ‘n getwis daarby.”

In ons teksgedeelte word gepraat van broers. Dit kan beteken bloedbroers of vriende of ons broers in die geloof. Want is dit nie waar dat elke mens op jou pad eintlik maar jou broer en suster moet wees nie.

Die Psalmdigter sê dit is vir hom goed, dit is vir hom mooi as mense eensgesind kan saamleef. In Hebreeus staan daar eintlik hoe “goed” en “aangenaam” dit is as mense in liefde kan saamwoon.

Die Psalmdigter gebruik twee illustrasies om die aangenaamheid van eensgesindheid tussen broers te beskryf. Die eerste illustrasie kom uit ‘n godsdienstige plegtigheid, naamlik die wyding van ‘n hoëpriester en die tweede beeld uit die natuur.

Die eerste illustrasie in vers 2 beskryf die eensgesindheid tussen broers in die beeld van ‘n godsdienstige plegtigheid, naamlik die wyding van die hoëpriester. ‘n Hoëpriester word gesalf met olie. Olie het in die algemeen die betekenis van vreugde, dit verskaf geur en dit verlig pyn. So word broederskap tussen mense beleef.

Dit bring vreugde – teenoor die bedompigheid van selfsug wat eensgesindheid versteur.

Dit verskaf geur – teenoor die bedompigheid van selfsug wat eensgesindheid versteur.

Dit verlig pyn – met ‘n ware broer kan ek my pyn deel. Hy sal verstaan en onderskraag.

Die tweede illustrasie kom uit die natuur, waar die harmonie tussen broers met die dou van die Hermonberg vergelyk word. Dou is as teken van goddelike seën beskou, dit is ‘n goddelike gawe van lewe en vrugbaarheid. Na die hitte van die dag is die dou in die nag verfrissend en as ‘n besondere seën beskou.

Beide die olie en die dou drup. Die olie drup af oor Aäron se baard, dit drup af oor sy klere en selfs die dou van die Hermon drup af oor die berge van Sion. Dit simboliseer die oorvloedige seën wat broederskap en eensgesindheid tussen mense bring. Baie van ons menslike spanning en stres is te wyte aan swak menseverhoudings tussen mense. Ons stres omdat ons nie met mekaar oor die weg kom nie. Ons wil nie as broers saamwoon en eensgesind saamleef nie. Ons is krities teen alles en almal. Ons is klein geestelik met mekaar. Skinder en vetes maak ons af as klein-dorpie-politiek.

Wie skinder en krities is teen alles en almal, is so goed soos die rower in die “gelykenis van die barmhartige samaritaan”. So iemand beroof ‘n ander een van sy menswaardigheid en lewe. Dit verbreek die eensgesindheid tussen mense.

Esopus was in diens van die filosoof  Xantus. Een dag wou Xantus sy vriende onthaal, en beveel vir Esopus om die beste produkte op die mark vir aandete te laat gaarmaak. Esopus laat maak die kok toe net ‘n klomp tonge gaar, en laat dit voorsit met verskillende souse. Die aand bestaan die voorgereg, hoofgereg, bykosse en poeding uit tong. Xantus was woedend :”Het ek jou nie gesê om die beste produkte op die mark te koop nie?”

“En het ek nie gedoen wat u beveel het nie?” het Esopus gevra. “Daar is tog niks beter as die tong nie: Dis die gom van ‘n beskaafde samelewing, die sleutel van die wetenskap, en die medium van die waarheid en die rede. Deur die tong word stede opgerig en regerings gevestig en geadministreer: met die tong onderrig mense, redeneer en word vergaderings gelei. Dis die instrument waarmee ons sing en God aanbid en prys.” “Nou ja”, het Xantus geantwoord, “ek sien ek kan jou nie antwoord nie, maar gaan nou môre mark toe en koop die slegste goed wat jy kan kry. Ek gaan dieselfde vriende oornooi, en wil hulle ‘n bietjie op ‘n ander manier vermaak en vir hulle ‘n poets bak.” Maar toe aandete voortgesit word, het Esopus presies dieselfde disse as die vorige aand laat maak.

“Het ek jou nie gesê om vir vanaand se onthaal die slegste produkte op die mark te soek nie?” het Xantus uitgeroep. “Hoe is dit dan dat jy dieselfde geregte laat maak het? Jy het dan net gisteraand gesê dat die tonge die beste produk op die mark is?”

Heel kalm het Esopus verduidelik: “ Die tong is die beste ding in die wêreld, maar ook die slegste. Want dis ook die instrument van twis en tweedrag, die aanstoker van regsgedinge, die bron van verdeeldheid en oorlog, die medium van vrees, skinder en leuens – selfs van godslastering.” Sy baas – en die se vriende – moes saamstem met Esopus se redenasie, en met sy illustrasie van die groot waarheid oor die voordeel en die gevaar van die tong.

As ons so ons tonge verkeerd gebruik het ons nie meer deel aan die seën van die Here nie. Die Here wil ons seën, maar dan veral daar waar ons in broederskap met mekaar saamleef.

Geliefdes, u mag nooit toelaat dat haat in julle harte posvat nie. Wanneer iets tragies en afskuwelik gebeur, soos wanneer iemand vermoor word of iemand besteel word is ‘n mens geneig om die “ander mense” en “ander volke” te wantrou. Goeie mense kry ons onder elke volk in die wêreld. Ja, die meerderheid van die Duitse volk in die Tweede wêreldoorlog het niks geweet van die gaskamers nie. Inteendeel sommige Duitsers het hul lewe gewaag om ander Jode te red.

Daarom mag ons nie onsself toelaat, om ander mense van ander volke te haat nie – want dan sou ons in die hande van die duiwel speel. Die duiwel wil die harmonie tussen mense versteur. Hy wil die eensgesindheid tussen mense versteur. Hy wil hê ons moet mekaar wantrou. Wie homself toelaat om te haat, is die ellendigste van alle mense. Sy eie haat gaan hom verslind.

Die Here wil hê dat ons in eensgesindheid moet saamleef met my lewensmaat, my kinders, my vriende, my volksgenote en ook met die een wat nie my volksgenoot is nie. Dan sal die salfolie en die dou van die Here oor ons lewens en oor ons dorp drup. Dan sal die genade van die Here weer ons gekneusde gemoedere genees en ons dorp weer heel. Waar ons eensgesind saamleef, kom die Evangelie in werking. Waarlik, die Kerk is daar waar mense om Christus ontwil mekaar liefhet. As die Here afkyk uit die hemel oor ons huwelike, ons gesinne, ons gemeente, ons dorp mag Hy ook sê: “Hier is uiteindelik die plek waar Ek my tempel gaan bou. Want waar broers in liefde saamwoon, daar sal Ek ook teenwoordig wees.”

Wie deel is van die kerk het geen keuse nie, u moet liefhê! U moet die vrede met u naaste najaag. U moet werk daaraan om eensgesind met ander te leef. Dan sal die seën van die Here oor u drup.    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)