Bedelaars voor God

BEDELAARS VOOR GOD.

Teks: Luk 18: 9 – 14

Die resep tot sukses is om te presteer. Op alle gebiede van die lewe word van die mens prestasie gevra. Reeds op skool word van kinders verwag om met goeie rapporte by die huis te kom. Iemand kan alleen ‘n sokkerheld word as hy goed presteer op die sokkerveld. Net so word slegs die werkers bevorder wat hard werk. Geliefdes, daarmee is daar natuurlik niks mee verkeerd nie. God wil hê dat ons, ons talente ten beste moet gebruik.

Bedelaar

Die gevaar is egter as ons dink ons moet ook presteer om in die hemel te kom. Sommige mense dink hulle moet godsdienstig presteer, deur mooi te lewe sodat hulle ook eendag hemel toe kan gaan. Dit bring ons by die boodskap: BEDELAARSHARTE WORD GERED, MAAR GODSDIENSTIGE PRESTEERDERS GAAN VERLORE.

Gemeente, in ons gelese gedeelte kry ‘n mens ‘n tipiese beeld van die Fariseër van destyds. Hulle was godsdienstige presteerders by uitstek. ‘n Mens kan sê, op godsdienstige gebied het hulle vol punte behaal. Hulle was goeie mense, ordentlik, fatsoenlik, eerlik, getrou in die huwelik en godsdienstig meelewend.

Met ander woorde gemeente, hulle was kerkmense, wat godsdienstig meelewend was en na buite ‘n beeld van ordentlikheid voorgehou het. Hulle het ‘n mooi lewe probeer lei, sodat hulle eendag darem hemel toe kan gaan.

Gemeente, heel dikwels is dit van ons lewe ook waar. Ons dink ons sal in die hemel kom deur gereeld kerk toe te gaan, ons tiendes vir die Here te gee, deur nie te drink of my vrou te slaan nie, deur op die Kerkraad of die Sustersbond te dien.

Ons dink ons is darem nie te sleg nie. Miskien nie die grootste Christen nie, maar beslis darem ook nie die slegste nie. Ek het darem ‘n kans om in die hemel te kom.

Weet u wat sê Jesus van sulke mense in vers 14. Hy sê hulle is hoogmoedig. Hulle sal nooit die hemel op so ‘n manier beërwe nie. Maar dan lees ons van die tollenaar wat na die tempel toe gaan. Die tollenaar het nie soos die Fariseër voor God kom spog met sy goeie werke nie. Nee, hy het voor God neergeval en genade van God kom afbedel. Die tollenaar het geweet dat sy goeie hoedanighede en sy goeie werke hom nie kan red nie. Net die genade van God kan hom red. Ja, soos ‘n bedelaar het hy na die Here gekom. Niks kan vir my die hemel oopsluit nie, nie my goeie werke, my mooi lewe of die geld wat ek vir die kerk gee nie. Net Jesus Christus kan vir my die hemel oopsluit. Ek word dus uit loutere genade gered. Ja, ek kan alleen maar met leë hande, met bedelaarshande alles van hom ontvang.

Orals in die lewe word daar van die mens prestasies gevra, behalwe in die kerk. Na die kerk toe kan ek maar kom soos ek is, ‘n sondaar voor God.

U sien dus mense wat soos die Fariseër spog oor sy goeie werke en mooi lewe sal die hemel nooit beërwe nie. Alleen mense wat soos die tollenaar genade kom afsmeek by die Here, sal die hemel beërwe. U sal vra: Maar waarom moet ‘n Christen dan ‘n mooi lewe lei? ‘n Christen gaan kerk toe, gee sy geld vir die kerk en lewe mooi om vir die Here dankie te sê, dat Hy ons verlos het van ons sonde. My mooi lewe kan my dus nie red nie. Net Christus Jesus kan. Ek lewe mooi om vir die Here dankie te sê dat Hy my verlos het.

Gaan op jou knieë en bid ook soos die tollenaar: “O God, wees my, sondaar genadig.”

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

HOE LYK JOU STILTETYD?

HOE LYK JOU STILTETYD?

Mark 1: 32 – 38 en Dan 6: 4 – 11

Wat sal gebeur as twee vriende nie meer met mekaar praat nie. Ja, die vriendskap sal tot niet gaan. Net so sal my verhouding met die Here skade lei as ek nie meer met Hom praat nie.

Die Here wil hê ons moet elke dag met Hom praat deur gebed en Hy wil weer met ons praat deur Sy Woord. Hierdie tyd wat ons elke dag moet maak Om met die Here te gesels, noem ons, ons stiltetyd met die Here. Ons moet die stilte opsoek om met die Here te praat. Baiekeer beleef ons so min van die lewende Jesus in ons lewe, omdat ons so min met Hom praat. Ons is eenvoudig net te lui om tyd te maak om met Hom te praat. Ja, ons lees ons Bybel, maar net so nou en dan. Verder stel ons altyd uit om te bid. Nee, so moet dit nie wees nie.

acl20160302-163625-685Bybelstudie en gebed moet soos die hamer en beitel wees waarmee ek al dieper in beitel in die kosbaarhede van God se Woord. Dit is baie belangrik dat ek tyd maak om met die Here te gesels. In Dan 6: 11 lees ons hoedat Daniël drie maal per dag tot die Here gebid het. Ons lees dit was sy gewoonte gewees om na sy binnekamer te gaan om tot die Here te bid. Ja, selfs toe hy vervolg is het hy voortgegaan met hierdie goeie gewoonte van hom.

In Mark 1:35 lees ons weer hoedat die Here tyd gemaak het om met sy Vader te praat. Ons lees hoedat Hy die môre vroeg toe dit nog nag was opgestaan het, buitentoe gegaan het na ‘n eensame plek en daar gebid het. Hoeveel te meer het ons dit nie nodig wat maar gewone mense is nie.  Baie keer is ons verskoning dat ons te besig is. Maar kyk hoe besig was die Here Jesus. Ons lees in Mark 1: 32 -34 hoe Hy duiwels uitgedryf het, siekes gesond gemaak het en gepreek het. Die mense het sommer so saamgedrom daar waar hy gepreek en opgetree het. Maar te midde van sy besige program het Hy tyd gemaak vir sy stiltetyd soos ons reeds in Mark 1: 35 gesien het. Martin Luther, die groot kerkhervormer het gesê: “Hoe besiger my dag, hoe meer moet ek bid.” Soos ek elke dag tyd maak om aan te trek en kos te maak en te werk, so moet ek tyd maak vir my stiltetyd. My stiltetyd moet vir my belangriker wees as my etes van elke dag.

‘n Gelowige moet dus baie gereeld wees in sy stiltetyd. Soos ‘n atleet en ‘n sokkerspeler gereeld moet oefen om fiks te bly, so moet ‘n gelowige ook gereeld sy stiltetyd hou sodat hy geestelik fiks kan bly. Ek het eenmaal die Bybel gesien van ‘n sekere Christenvrou wat in verskeie oorsese lande sendingwerk gedoen het. Sy was maar drie jaar lank ‘n Christen maar sy het in daardie drie jaar haar Bybel stukkend gelees. Baie kere lyk ons Bybels nog soos nuwe Bybels.

Ek sluit af met die volgende: “Gebed verander sake, maar dit verander my ook.” Ja, as ons bid en ons gebed val binne die wil van God dan sal God sake verander. Maar gebed verander my ook. As ek van my knieë opstaan nadat ek gebid het, dan moet ek mos anders opstaan. My bekommernis moet plek maak vir vertroue. My twyfel verander in geloof. My jaloesie en haat verander in liefde. Wil jy baie naby aan die Here leef? Dan moet jy gereeld elke dag met Hom praat. God wil graag weet hoe dit met jou gaan. Hy wil ook graag vir jou die regte pad aanwys uit sy Woord.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

SOEK GOD SE KONINKRYK EN NIE JOU EIE NIE

SOEK GOD SE KONINKRYK EN NIE JOU EIE NIE

Teks: Mattheus 6: 25 – 34 en Mattheus 6: 10

Bekommernis kan lewensgevaarlik wees. Soos die war verhaal wat ek eenmaal gelees het van ‘n sekere vrou. Die vrou was doodsiek gewees en het elke week na die dokter toe gegaan. Elke dag moes sy duur medisyne gebruik. Haar probleem is dat sy met haarself geworstel het. Sy was angstig en bekommerd oor wat van haar en haar gesin gaan word. Hoe meer sy geworstel het met haarself en haar probleme, hoe sieker het sy geword. Een koue wintersaand toe sy op pad is na die kafee om brood te koop, sien sy koerantseuntjies, besig om koerante te verkoop. Sonder truie en sonder skoene het hulle op en af gespring om warm te kry. Sy het hulle baie jammer gekry en dadelik sop en toebroodjies gemaak en vir hulle geneem. Die aand het sy rustig gaan slaap, want vir een aand kon sy van haarself vergeet. Die volgende oggend het sy truie vir hulle begin brei. Teen die einde van daardie week was sy ‘n gesonde mens, want sy het geleer om van haarself te vergeet. Sy het begin lewe vir ‘n saak wat groter as syself is. Toe sy vir haarself en vir haar eie klein wêreldjie geleef het, het alles vir haar te veel geword. Toe sy begin leef het vir ander en vir God se Koninkryk het sy begin moed kry.

Ons kan vandag se boodskap as volg saamvat: SOEK GOD SE KONINKRYK EN NIE JOU EIE NIE.

index

Verse 25 – 32 handel oor die mens se bekommernis oor sy mees basiese behoeftes. Om te mag eet, drink en aan te trek is lewensnoodsaaklik vir die mens. Die gevaar is egter wanneer ek begin leef net vir my eie behoeftes. Wanneer ek slaaf word, wat net leef, werk en bekommerd is oor my behoeftes, dan is my prioriteite verkeerd. Dan is ek besig met my eie klein koninkryk. Wanneer my motor, beeste, donkies, my geluk, my kinders of my huis vir my belangriker as God word is daar iets groots verkeerd. Wanneer ek my dankoffer swaar begin gee, wanneer my posisie in die gemeenskap belangriker is as God se eer, wanneer my goeie naam vir my meer kosbaar is as God se Naam, wanneer ek meer tuis is in my eie huis as in God se huis is daar iets groots verkeerd. Wie so besig is om aan sy eie “empire”, sy eie “koninkryk” te werk is met sy eie godsdiens besig. So ‘n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernisse. Vers 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader bid: “Lord, let your Kingdom come” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kingdom go.” “Laat u Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort.” Wat bedoel ons, as ons bid: “Laat u Koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God.” Ons bedoel daarmee: Here, laat u grondgebied wen in my lewe. Dit beteken hoe langer, hoe meer onder die heerskappy van God. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, my werk moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom, ” bid ons om die ondergang, om die neerlaag van ons eie koninkryke.

Vers 33 sê dat ons ook die wil van God moet najaag. Wie ‘n einde maak aan sy eie koninkryk, maak daarmee ook ‘n einde aan sy eie wil. Voortaan jaag hy eerder God se wil na. Hy stel God aan as die Pottebakker van sy lewe. Hy is nie meer die pottebakker van sy eie lewe nie.

Ek sluit af: verlang u na vrede in u hart? Bekommer jou oor die Koninkryk van God en oor hoe sy Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself bekommerd wees nie. Dit is immers God se wil om oor julle bekommerd te wees.

Here, laat u Koninkryk kom! Kom Here Jesus. Kom wen grondgebied in ons harte! Kom wen grondgebied in die wêreld. Kom eis op wat alreeds aan u behoort.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Om tot seën te wees.

OM TOT SeëN TE WEES …

Onlangs stuur iemand vir my ‘n e-pos met ‘n  mooi  verhaal, vanuit die mielielande van die VSA. Dit gaan so.

Corn

‘n Sekere mielieboer in die VSA het elke jaar die blou korset gewen op die streekbyeenkoms vir die beste mielieboer vir die streek. Elke jaar was sy gehalte, opbrengs per hektaar en winsgrens die hoogste van almal in die streek. Sy groot geheim was die mieliesaad wat hy aangeplant het. Hy het elke jaar die beste saad aangekoop wat hy kon kry. Daarvoor het hy die wêreld plat gereis om die hoogste kwaliteit saad wat hy kon kry – te kan bekom. Dit was ook bekend dat hy baie vrygewig die saad uitgedeel het aan sy bure. Op ‘n dag vra ‘n joernalis van ‘n plaaslike koerant vir hom, hoekom hy sy goeie saad, wat hy met soveel sorg bekom het, ook uitdeel aan sy bure. Sê nou maar sy bure wen volgende jaar die kompetisie  met dié saad wat hy so vrygewig uitgedeel het. Sy antwoord was kort. Mielies word windbestuif. As my bure swak saad het en die wind waai van hul lande na myne sal ek ‘n swak oes kry. As my bure goeie saad het, sal die wind verseker dat ek ‘n goeie oes verkry. Dit is in my belang, dat ek ook my bure moet seën, sodat ek ook geseën kan word.

Hoe nodig het ons nie so ‘n verhaal in vandag se wêreld nie. Die groot gevaar van kapitalisme, is dat elkeen net vir homself sorg en net sy eie belange wil bevorder. Ons ontken dat ons ‘n ekonomiese verantwoordelikheid het teenoor mekaar. Wanneer werkloosheid bo ‘n sekere persentasie styg, het die geskiedenis ons geleer dat ‘n land ryp word vir ‘n rewolusie of erge ekonomiese opstande en stakings. Anton Rupert het in sy boek “Pleitroep om hoop” gesê dat elke ekonomiese instelling verantwoordelik is om ‘n deel van sy welvaart terug te ploeg in die gemeenskap waaruit hy sy winste en voorspoed gegenereer het. Ons almal, dié indiwidu en die besigheid het ‘n verantwoordelikheid om sy/ haar gemeenskap te dien.

Dit beteken dat mense vir ander moet voerspoed  gun en nie jaloers moet wees op ander se suksesse nie. Ons moet as’t ware meewerk in mekaar se voorspoed. Dit beteken “selfdood”, die dood van die mens se eie “ego”. Eers in my selfdood, kan ek tot seën wees vir ander. In Jesus Christus se “vrywillige letterlike dood” het hy geword die seën vir die hele wêreld.

Wanneer ek elke dag die vraag lewe: “Waar kan ek tot seën wees vir ander en vir my gemeenskap ?” word my lewe sinvol en gevul met betekenis. Soos die Here Jesus ons self geleer het: “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Wanneer ek “ander oplig in die lewe”, word ek self emosioneel op gelig tot ‘n hoër vlak van mensbewussyn. Hoe meer ek “myself” najaag, hoe meer dierlik word ek. Hoe meer ek die seën van ander najaag, hoe meer menslik word ek.  Is ek dier of mens? Die mens het beeld van God geword, met Sy skeppingsopdrag dat die mens tot seën van God se skepping moet wees. Eers as ek “tot seën” word van ander, word ek meer mens.

Transformasie van die samelewing se diepste sukses word gemeet of dit “seën” bring. Hoe meer mense “geseën” word, hoe groter is die tranformasie. Dit het verreikende politieke, ekonomiese, maatskaplike en sosiologiese implikasies vir die samelewing.

Soos saad in die grond val en sterf, en opkom as ‘n nuwe plant met nuwe lewensmoontlikhede om “baie” te word, moet die mens in homself sterf (ontkiem) om tot seën te word vir baie ander. Dit is ons lewensroeping.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Wie is my naaste?

WIE IS MY NAASTE?

Teks: Lukas 10: 25 – 37 en Mattheus 25: 35 – 46

Die kerk is dood! Die kerk se hart het gaan staan. Die kerk het nie meer ‘n hart vir sy medemens nie. Kerklidmate gee nie meer om vir hulle medemens nie. Daarom die boodskap vandag uit Lukas 10: ‘n WARE CHRISTEN GEE OM VIR SY MEDEMENS.

In Lukas 10 lees ek vanoggend van ‘n man wat in ‘n groot nood is. Hy is beroof daar op die pad tussen Jerusalem en Jerigo. Maar elke dag is daar ook mense wat in die nood is op jou en my lewenspad. Miskien die eensame bejaarde, of die weduwee in haar diep smart, of weeskinders of die mens in ‘n groot krisis.

Maar gelukkig, gemeente!  Kyk wie kom aangestap? Sowaar ‘n priester en Leviet, sowaar twee kerkmense. Wat ‘n verligting! Want kerkmense is mos veronderstel om hulp te verleen aan diegene wat in nood verkeer. Ja, van kerkmense verwag ‘n mens hulp… Hulle sê mos….. Hulle bely mos so pragtig…… “Ek het die Here lief met my hele hart en my medemense soos myself.” Die kerkmense sing sulke pragtige Gesange! U moet met my saamstem, die arme man daar op die pad tussen Jerusalem en Jerigo was gelukkig. Juis in sy grootste krisis, juis toe stap daar twee kerkmense verby. Daar word baie van die kerk verwag. Maar toe gebeur daar ‘n groot teleurstelling: Die priester en Leviet stap verby. Die kerk stap verby. Die kerk is afwesig in die nood van die wêreld. Die Christen is afwesig in die nood van sy medemens. Sien u vandag, waarom die kerk sterf. Die kerk se hart het gaan staan vir sy medemens. Elkeen vir homself en die duiwel vir die res.

barmhartige-samaritaan-schilderij-2Gelukkig verskyn daar ‘n Samaritaan op dit toneel. Miskien het die beroofde man nie veel verwag van die Samaritaan nie. Want hy was ‘n Jood en die man ‘n Samaritaan. Jood en Samaritaan was aartsvyande. Maar die Samaritaan het ‘n hart vir sy medemens gehad; sy hart het warm geklop vir sy medemens; so warm dat selfs die vooroordeel weggeval het. En wanneer die Samaritaan die man te hulp snel, is dit nie maar ‘n 20 c in ‘n hoed nie. Baie keer gee ons so ‘n ietsie, nie om die persoon te help nie, maar om ons gewete stil te maak.

Maar wanneer die Samaritaan die man help, help hy hom met alles waaroor hy beskik. Hy help hom met olie en wyn vir sy wonde, met vervoer, met ‘n herberg, met twee muntstukke aan die herbergier en die belofte om weer te kom kyk as hy terugkom. Hy het hom dus gehelp met lewensmiddele, vervoer, huisvesting, geld en met sy kosbare tyd wat hy opgeoffer het. Maar Gemeente, die Samaritaan by uitstek is natuurlik Christus Jesus. Christus Jesus was ook ‘n kerkmens, maar het nie verby die mens in nood gestap soos die priester en Leviet nie. Nee, as Christus by die kerkdeur uitgestap het, het Hy sy hande omhelsend na hierdie wêreld uitgesteek. Siekes is gesond gemaak, kreupeles loop, dowes hoor en sondaars word verlos.

In die oë van hierdie wêreld moet jy Christus raaksien (Mattheus 25: 35 – 40). As iemand dors het, as iemand honger of naak of behoeftig is, sê Christus: “Sien my in daardie persoon raak. Want vir sover as julle dit aan een van hierdie geringste broeders gedoen het, het julle dit aan my gedoen.” Behandel die en in nood, soos jy Christus sou behandel het. Ja, wanneer my hart gesond en warm klop vir my medemens, moet dit oorgaan in hande-uitreiking na diegene in nood. Êrens in ‘n kerkhof in Europa staan ‘n besondere Christusbeeld. ‘n Christusbeeld sonder arms. Maar op die voetstuk van die beeld staan daar: “Jy is my arms in hierdie wêreld.” Christus sê vandag aan U: “Jy is my arms in hierdie wêreld. Jy is my verteenwoordiger in die nood van mense.” Jy sien dus; God vra nie: “Hoe lief het jy my nie?” God sal sien hoe lief jy Hom het, in die manier waarop jy jou naaste in nood help.

Ghandi het eenmaal gesê: “Julle aanbid ‘n wonderlike Christus, maar as ek sien hoe selfsugtig julle Christene is, dan wil ek maar liewer nie ‘n Christen word nie.” ‘n Verskriklike klag teen ons Christene! Ja, ons aanbid ‘n wonderlike Christus. Die Samaritaan met hoofletters het toe ons gewond op ons lewenspad gelê het, stukkend geslaan deur die sonde, ons wonde versorg en ons genees. Hy het egter ook Sy lewe vir ons afgelê. Hy was en is die groot barmhartige Samaritaan.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Gee en ontvang

GEE EN ONTVANG

Teks: Handelinge: 4 :32 – 37; 11: 27 – 30 en 20:33 – 35

In Israel is daar twee groot mere, naamlik die See van Galilea en die Dooie See. Die See van Galilea is ‘n pragtige meer met helder blou water en ‘n ryk vislewe. Die landskap rondom die see is pragtig groen en die voëltjies maak nes in die bome daar rondom. Die See van Galilea lewe omdat dit water ontvang van die Palestynse hoogland en die water dan ook dadelik weer weggee. Die water wat die meer instroom, vloei ook weer uit. Die water wat die meer ontvang, gee hy ook weer weg.

kaart BybelDie Dooie See is soos sy naam ook sê, ‘n dooie meer. Die water is sout en dood. Daar leef niks in die water en ook nie rondom die meer nie. Daar is geen bome, plante, voëls of visse nie. Alles is dood. Die rede hiervoor is dat die Dooie See net water ontvang, maar niks weggee nie. Die Dooie See ontvang water van die See van Galle, maar daar is geen uitloop nie. Die Dooie See hou alles net selfsugtig vir homself.

In vandag se preek gaan dit om GEE en ONTVANG.

Iemand wat bereid is om dit wat hy ontvang het, ook te Gee aan ander, sal wees soos die See van Galilea. Iemand wat egter alles net selfsugtig vir homself hou, sal ook doodgaan soos die Dooie See. Hierdie waarheid sien ons ook vandag in ons gelese gedeeltes raak. Kom ons kyk eers na die agtergrond van die vroeë Christene in Handelinge: Hulle het baie swaar gekry. Daar was baie armes onder hulle. Verder is hulle vervolg deur keiser Nero en Domitianus. Nero en Domitianus het hulle vir die leeus gegooi of hulle met pik besmeer en dan aan die brand gesteek. Verder was daar ook ‘n groot hongersnood oor die hele wêreld wat deur Agabus voorspel is. Die vroeë Christene het dus baie swaar gekry. ‘n Mens sal wonder hoe die eerste Christene in sulke omstandighede opgetree het teenoor hulle mede-gelowiges wat in nood was.

In Handelinge 4: 32 – 37 lees ons hoedat hulle alles met mekaar gedeel het. Hulle het voorsien in die boer of suster van hulle se nood. Hulle het gegee aan die wat in nood was. In Handelinge 11: 27 – 30 lees ons hoedat die eerste Christene geld gegee het vir ‘n noodfonds om diegene wat getref was deur die hongersnood en droogte in Judea by te staan. Hulle het as’t ware hulle harte en beursies oopgemaak vir hulle medegelowiges. In Handelinge 20: 33 – 35 lees ons hoedat Paulus sê dat hy sy medegelowiges gedien het, deur met sy twee hande te werk. Dan haal Paulus so pragtig vir Jesus aan in vers 35: “Om te gee vir ander maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Ons sien dus dat die eerste Christene soos die See van Galilea was. Alles wat hulle ontvang het, het hulle ook weer gegee aan ander. Daarom was hulle ‘n lewendige kerk gewees. Die Here wil hê dat ons ons hande, tyd, geld, dienste, hulp, ons alles tot beskikking van ons medemens moet stel. Ons moet eerder geld gee, as om te wil ontvang. Ons moet eerder troos, as om vertroos te wil word. Ons moet eerder dien, as om bedien te wil word. Ons moet eerder hulp gee, as dat hulp aan ons gegee word. Ons moet eerder gee, as om te wil ontvang. Onthou die woorde van die Here Jesus : “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Stilstaande water word vrot en ondrinkbaar. Dit ontvang net water, maar gee nie water weg nie. Dit is soos die Dooie See. So is mense wat net wil ontvang maar niks wil gee vir ander nie. Vloeiende water is helder, dit lewe en is drinkbaar. Dit ontvang water, maar gee ook water weg. Dit is soos die See van Galilea. So is mense wat eerder gee as om te ontvang. Daarom mag ons ook nooit die genade en die Evangelie wat ons ontvang het, net vir onsself hou nie. Ons moet dit ook GEE na ander. Is jy soos die See van Galilea wat eerder gee as om te ontvang, of soos die Dooie See wat net wil ontvang en niks wil gee nie. Mag jy soos die See van Galilea wees.

Onthou die woorde van die Here Jesus: “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Vernuwe na die beeld van ons Skepper

Vernuwe na die beeld van ons Skepper

Kol 3: 9b-10

Mense praat dikwels van “vernuwing”. Mense soek vernuwing. Ons kerk hou Pinksterbidure vir vernuwing. Ander woorde in die kerklike tradisie is transformasie, metamorfose, bekering, lewensveranderende boetedoening, hervorming of reformasie.

Baie mense soek dat vernuwing moet plaasvind deur charismatiese predikers, opwekkende musiek en sang en dat die buitengewone gawes van die Gees uitgestort moet word in dramiese gebeurtenisse tydens eredienste. Manipulering van emosies speel ‘n groot rol in hierdie vernuwingsdienste. Omdat dit slegs op emosies reageer, vind geen lewensveranderende gedrag plaas nie.

Paulus praat in Kolossense 3: 9b – 10 dat ons vernuwe moet word na die beeld van ons Skepper en tot volle kennis van God. Ons is gemaak na die beeld van die Skepper, maar deur die sondeval het die beeld verwronge geword. Vir Paulus beteken vernuwing om vernuwe te word na die beeld van ons Skepper. Om as’t ware weer ons skeppingsdoel te ontdek en daarvoor te leef. Ons moet weer terugkeer na die beeld van ons Skepper, deur lewensveranderend te lewe. Die wonder van die skepping is dat dit nie vanself gebeur het nie. Die Skepper wou die skepping maak tot sy genot en hy wou die mense maak om hulle lief te hê. Daarom het die Skepper hulle gemaak na Sy beeld. God het met ander woorde die mens geskep uit liefde. Soos wat ‘n man en vrou ‘n kind uit liefde verwek, so skep God sy skepping uit liefde.

God se skeppingskrag word verwoord in Sy “agape”-liefde. Dit is ‘n liefde wat gee, sonder voorwaardes. Dit is ‘n daarom -liefde, nie ‘n sodat-liefde nie. Die ander twee Griekse woorde vir liefde is “eros” en “fileia”.

Eros -liefde is seksuele aangetrokkenheid tussen man en vrou. Fileia -liefde is die liefde tussen vriende en broers, wat gebasser is op vriendelikheid, aantreklikheid, geselligheid, aangenaam of pragtig. Met ander word daar is ‘n voorwaarde aan gekoppel.

Agape-designstyle-love-heart-mMaar die Skepper het ‘n agape-liefde. ‘n Liefde sonder voorwaardes. Daarom het die Skepper ook in die Nuwe Testament deur Sy Seun die mense sonder enige voorwaarde uitverkies om in hom te glo. Daarom het Jesus, die beeld van die Skepper aan die kruis gesterf, om vir die grootste sondaar, sonder enige voorwaardes of vereistes lief te hê.  Om vernuwe te word na die Skepper, moet ons hierdie agape-liefde aanleer. Om lief te sonder voorwaardes, is vernuwing.

Wanneer jy ver van jou Skepper leef, draai die lewe om geld, geld, geld en geld. Wanneer jy vernuwe is na die beeld van die Skepper draai die lewe rondom liefde, liefde, liefde en liefde.  God se skeppingsdoel was liefde, daarom moet ons lewensdoel ook liefde wees.

Paulus beskryf in die boek Kolossense op verskeie plekke hoe die agape-liefde moet lyk. Hy praat van gasvryheid, onderlinge vriendelikheid en troos en groete en bymekaarkom en mekaar onthou. Ons moet oor mekaar bekommerd wees en omgee en sorg dra vir mekaar. Ons moet bid vir mekaar en onderdanig aan mekaar wees. Ons moet dit nie vir ander mense bitter maak of moedeloos maak nie.

Die Skepper  is kreatief in Sy liefde. Ons moet on sook as beeld van die Skepper  kreatief met die liefde omgaan. Ons moet soek om liefde uit te deel.

Die Skepper het gemeenskap gesoek. Daarom is die Drie Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees in mekaar een en in volle harmonie. Daarom het die Skepper ook die mens gemaak na Sy beeld, om met die mens gemeenskap te hê en sodat die mense ondermekaar in ‘n liefdesgemeenskap met Hom moet leef.  Daarom bely ons die een heilige algemene Christelike kerk.

Die moderne mens het verleer om om in gemeenskap met ander te lewe. Ons lewe word gekenmerk, deur indiwidualisme.  Waar ons saam moet eet as gemeenskap, neem elkeen deesdae sy eie “Take aways” om alleen sonder die ander te eet. Die liefdesgemeenskap van die Skepper is ‘n tafelgemeenskap, nie ‘n “Take aways” nie. In ‘n “Take aways” godsdiens kom haal jy net in godsdiens wat jyself nodig het, maar wil nie, jouself gee vir God se liefdesgemeenskap nie. Daarom is jy onbetrokke in ander se lewe.

Vernuwing is nie die goedvoel, van emosionele godsdienstige opwekking nie. Ware vernuwing is om vernuwe te word na die beeld van die Skepper. Die vra lewensveranderde gedrag.

Bronnelys: Smit, Dirkie. 2018. Ons glo in. Wellington:Bybelmedia

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)