Van tentwoning na ewige woning

SKRIFLESING: 2 Kor 5: 1 – 10

Ek hou daarvan om vir ’n kort vakansie in ’n tent te bly. Dit is heerlik. Maar net vir ’n kort tydjie. Dan verlang ek na ’n huis, met al sy geriewe.

Paulus was ’n tentmaker en het dus die beeld van die tentwoning baie goed verstaan. Hy het geweet dat ’n tent maar tydelike huisvesting verskaf. Die tent word mettertyd verbleik en dit skeur, die toue breek af en dan stort die tent ineen. Dit is slegs ’n tydelike woonplek. Dit kan nooit ’n permanente woonplek wees nie.

Toe die volk Israel deur die woestyn getrek het vir 40 jaar, was hulle woonplekke  tente. Dit was tydelik, aangesien hulle op trek was. Hulle het verlang daarna om die beloofde land binne te gaan en vir hulle permanente wonings te bou, van stene. Die volk het uitgesien na die gerief van ’n permanente woning.

Daarom was die tabernakel op die woestyntog ook ’n tent, wat vertel dat dit ’n tydelike maatreël was. Hulle het verlang daarna dat die tabernakel vervang sou word deur die tempel, wat Salomo uiteindelik gebou het.

’n Tent is simbool van iets tydeliks. So is ’n mens se liggaamlike lewe ook tydelik en kortstondig. Die Bybel sê ’n mens se lewensjare is 70 jaar. Alles daarna is genadejare. Tannie Joyce het nog tien genadejare bygekry.

Maar die afgelope paar maande het ons gesien hoe Tannie Joyce se aardse tentwoning vinnig agteruit gegaan het. Haar liggaam en verstand het verswak en die tent het begin skeur. Op 23 Desember 2022 het haar tentwoning ineengestort en het sy ’n permanente woning gekry by haar hemelse Vader.

’n Tentwoning is ongerieflik. Dit is òf te koud òf te warm, die wind waai teen die flappe daarvan, die stof waai in en dit reën in. So is die aardse lewe ook vol aardse swaarkry en sorge. Die aardse lewe is nie altyd gerieflik en aangenaam nie. Die mens bring met sorge sy lewensdae deur.  

Dit kan ook gebeur dat ’n mens die aardse lewe in die tentwoning so geniet dat jy nie verlang na die hemelse woning nie. Die meeste mense wil hemel toe gaan, maar hulle wil nie sterwe nie.

Tog, in ons gelese gedeelte verlang Paulus na die hemelse permanente woning – want dit is verreweg die beste. In vers 5 staan daar dat die Here ons voorberei om afstand te doen van die aardse tentwoning en ons voorberei om die hemelse permanente woning te betree. Soos ’n mens ouer raak, lewe jy al “kleiner”. Jy maak jouself algaande los van die aardse dinge. Jy kan selfs by die punt kom dat jy verlang dat die Here jou moet kom haal om na jou ewige lewenswoning te gaan.

Psalm 23: 6 praat ook van die “ewige huis” waarheen ek op pad is. Die skape van Psalm 23, wat die gelowiges is, woon in die veld met al die ontberings van die oop vlaktes, koue, hitte, roofdiere, diewe en so meer. Maar hulle word aan die einde van die dag eregaste wat woon in die Huis van die Here tot in lengte van dae. In Psalm 23 transformeer die skape in weivelde na eregaste in die “huis van die Here tot in lengte van dae”. Veilig en beskut in die Here se permanente woning.

Die dood is soos ’n by sonder ’n angel. Die dood het klaar vir Jesus Christus gebyt, sy angel is nou uit.   “When death stung Jesus Christ, it stung itself to death” (Peter Joshua). Die dood (die by) kan ons nie verder steek nie. Soos die verhaal lui van die Amerikaanse gesin wat op ’n warm dag per motor in een van die Amerikaanse state gereis het. Hulle het koeldrank gedrink en dit het ’n by gelok om in die motor in te vlieg. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir ’n bysteek. Sy skree: “Pa, hier is ’n by in die kar!”  Toe die by teen die voorruit vasvlieg, gryp die pa die by. Die by steek hom, maar kom los. Die dogtertjie skree weer: “Pa, die by kom weer vir my!” Die pa antwoord sy dogtertjie: “Toemaar, my kind, die by het my klaar gesteek. Sy angel sit nou in my hand. Die by het nie meer ’n angel om jou te steek nie.”

So het die dood nie meer ’n houvas op my nie. Tannie Joyce het nie die ewige dood gesterf nie. Sy is veilig by die Here.

Joyce Starbuck (met nooiensvan Kemp) is gebore op 12 Mei 1942 in Graaff Reinet. Daar het sy grootgeword en skoolgegaan. As jong volwassene is sy na Port Elizabeth, waar sy begin werk het. Daar het sy haar lewensmaat Albie Starbuck ontmoet en is hulle ook later getroud. Hulle het na Adelaide getrek en hier het sy 50 jaar van haar lewe deurgebring. Haar man het die plaaslike drukkery van 1971 tot 1997 besit. Hier het sy haar drie kinders René, wyle Etienne en Heinrich grootgemaak. Sy het drie skoonkinders naamlik Gert, Wendy en Sharon. Daar is ook drie kleinkinders naamlik Megan, Nicole en Charné. Sy was lief vir tennis speel en het tot kort voor haar knieoperasie en die uitbreek van Covid nog sosiaal tennis gespeel. Sy was baie lief vir bak. Sy was veral lief vir diere en daarom ook ’n sagte mens. Sy het aan ’n vriendekring, die “Koffiegroep”, behoort, en was sosiaal deel van ons gemeenskap.

Die skielike en vinnige aftakeling van haar liggaamlike en verstandelike gesondheid was vir ons almal ’n groot skok. Daarom is ons verlig dat sy verdere lyding en agteruitgang gespaar is, deur haar dood. Ons is verheug dat sy verlos is en by die Here is, in ’n volmaakte geestelike liggaam. Dit is ons troos en berusting.

Thomas Brooks skryf dat die dood eintlik God se sagmoedige helper is. Dit word die Moses wat ons uit die lewe (die plek van slawerny) verlos en na die ware ewige lewe in Christus bring.

Joyce Starbuck se tydelike tentwoning het plek gemaak vir die gerief van ’n permanente woning.

Ons vier haar lewe. Ons vier haar nagedagtenis.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

BRONNELYS:

Peter Joshua, Leadership, Vol. 7, no. 4.

Lee Eclov, in the sermon: It Doesn’t Sting Anymore, PreachingToday.com

Van Adventskrans na doringkrans

SKRIFLESING: Luk 2: 1 – 7

“Stille nag, heilige nag” is seker die mees geliefde Kersgesang, die een waarvan die meeste mense die meeste hou. Dit maak Kersfees sprokiesmooi en idillies. Jy kan weggevoer word na wonderskone Kersfeestonele.

Maar Betlehem was op Kersnag alles behalwe “stil”. Betlehem was oorvol  mense, wat gekom het vir die sensus, wat deur keiser Augustus uitgevaardig is. Almal het na Bethlehem gestroom om getel en opgeskryf te word. Een van die doelwitte van die sensus was onder andere om te bereken wie almal deur die Romeinse owerheid belas moes word. Natuurlik was daar ook Romeinse soldate om die orde te handhaaf. Die dorp Betlehem was so vol dat daar nie plek was waar Josef en Maria kon oornag nie. Hulle was aangewese op ’n stal wat iemand aangebied het as skuiling.

Betlehem was daardie nag waarskynlik rumoerig vanweë al die mense en diere wat daar oornag het. Die mense het vir seker tot laatnag gekuier, want baie mense het hulle families weer ontmoet, want families het gegaan om opgeskryf te word. Op die dak van elke huis het die mense gekuier en, soos ons weet, klank trek baie ver.

Waarskynlik het die mans politiek gepraat en mekaar opgesweep oor die sensus en die belasting wat hulle aan die Romeinse owerheid moes betaal. Die vrouens het lekker saamgekuier en die kinders het die strate op horings geneem. Betlehem was besig en oorvol mense.

Dit was beslis geen “stille nag” nie. Die kontras is dat Kersfees afspeel in die harde werklikhede van die lewe. Dit speel af in die tyd van keiser Augustus van die Romeinse Ryk, wat die Jode erg verdruk het.  Christus se geboorte speel direk af midde-in die politiek van die dag.

Jesus se geboorte is geen sprokie of stuk romantiek nie. Dit is eerder goeie nuus vir ’n stukkende wêreld.   

Deesdae is Kersfees ook nie juis ’n stil tyd van die jaar nie. Winkelsentrums loop oor van mense. Mense verdring mekaar by die strande en vakansieoorde. Almal jaag om nog iets te reël of te koop vir Kersdag. Die paaie is baie besig, soos mense jaag na hulle Kersfeesbestemmings. Maar dit is juis vir ’n rumoerige tyd soos hierdie, waarvoor Christus gebore is.

Al is die lewe lawaaierig en gejaagd, bring Kersfees vreugde en vrede vir ons gemoed. “Stille nag, heilige nag” verwys nie na letterlike stilte nie, dit is eerder ’n geestelike, emosionele stilte en vrede wat alle verstand ten bowe gaan. Ons kan inderdaad “Stille nag, heilige nag” sing, want Christus se geboorte gee vir ons stilte van gemoed en vrede.

Die adventskrans wat ons so vrolik ophang in die weke voor Kersfees, sou spoedig ’n doringkrans word. Die geboorte loop uit op die kruis. As ons Kersfees vier, moet ons ook die kruis wat kom, onthou.  Die adventskrans moes spoedig verwelk om plek te maak vir die doringkrans.

Die Betlehemster moes later plek maak vir die drie ure duisternis. Ons kan nie Kersfees vier sonder om ook die kruis in die oog te hê nie.  Kersfees word vervul in die kruisiging en die opstanding van ons Heiland en Heer. Met ons een hand vat ons aan Kersdag en met ons ander hand vat ons aan Paasnaweek. Die een kan die ander een nie los nie.

Die Here Jesus is die groot Smous van Jerusalem, wat al ons sonde, trane, swaarkry en probleme vir ons verruil het vir sondevergifnis, genade, genesing en gebedsverhoring wanneer ons probleme ervaar.

Walter Wangerin (Jnr) vertel hierdie baie besondere storie. Hy noem die storie Ragman. Ds. Attie Nel van die NG Kerk Waverley het dit mooi vertaal en ek haal hom bykans letterlik aan. (In Engels beteken Ragman “a person who gathers or deals in rags”. Dit gaan oor die Lapsmous). Ek gaan die storie wat hy vertel, vertel soos hy dit vertel. Asof dit met my gebeur het.

“Een Vrydagoggend, voor dagbreek, het ek ʼn jong man gewaar wat in die strate in ons stad rondgeloop het. Die jong man was aantreklik en sterk. Hy het ʼn ou trollie met nuwe klere agter hom aangetrek. In ʼn duidelike en helder stem het hy geroep: “Lappe, lappe! Gee my jou verslete, vuil en ou lap en ek sal vir jou ʼn nuwe een gee. Lappe! Lappe!”

Hierdie was vir my ʼn wonderlike ding. Hierdie jong man was ʼn rapsie oor die twee meter lank met fris, gespierde arms en intelligente oë. Kan hy geen ander werk kry as om Lapsmous in die middestad te wees nie?

Ek kon nie anders nie, ek moes hom volg. Ek was net te nuuskierig. Op ʼn veilige afstand het ek al agter hom aangestap.

Nie lank nie, toe sien die Lapsmous ʼn vrou op haar stoep sit. Met ʼn sakdoek voor haar gesig het sy gesit en bitterlik gehuil. Die hartseer van duisend trane. Die oomblik toe hy haar sien, het die Lapsmous sy trollie gestop. In stilte het hy nader gestap na die vrou toe.

“Gee vir my jou lap,” sê hy met besondere teerheid vir haar, “ek sal vir jou ʼn ander een gee.”

Saggies het hy die sakdoek weggetrek van haar oë af. Sy het opgekyk, en hy het in haar hand ʼn ander stukkie lap neergesit. Helder skoon en nuut. Haar oë het beweeg tussen geskenk en gewer.

En toe, toe die Lapsmous weer begin om sy trollie te trek, het die vreemdste ding gebeur. Hy het die trane-gevlekte-sakdoek na sy eie gesig toe gebring; en toe begin hy huil. Hy huil met dieselfde hartseer as wat die vrou gehuil het by wie hy die sakdoek gevat het. Sy skouers het geruk. Ek het na haar gekyk. Haar gesig was skoon. Geen teken van hartseer nie. Geen traan meer in haar oë nie.

“Hierdie is ʼn wonderlike ding,” het ek vir myself gesê. Ek het die snikkende Lapsmous gevolg soos ʼn kind wat nie kan wegdraai of wegkyk van die grootste misterie wat hy nog ooit gesien het nie.

“Lappe! Lappe! Nuwe lappe vir oues!”

Nie lank hierna nie, toe die dag begin breek, het die Lapsmous by ʼn jong meisie gekom wie se kop met ʼn verband verbind was. Haar oë was leeg. Bloed het deur die verband om haar kop gesyfer. ʼn Enkele straaltjie bloed het teen haar wang afgeloop.

Die Lapsmous het met besondere deernis na die jong meisie gekyk. Hy het die mooiste geel hoedjie uit sy trollie uitgehaal.

“Gee vir my jou lap,” het hy vir haar gesê, “en ek sal vir jou myne gee.”

Die jong meisie kon net na hom kyk terwyl hy die verband losmaak, dit afhaal, en dit om sy eie kop vasmaak. Die vrolike geel hoedjie het hy op haar kop gesit. Ek kon nie glo wat gebeur nie. Saam met die verband het ook die wond gegaan! Die wond was nou op sy kop. Die vlek op die verband was helderder. Dit was sy eie bloed wat deur die verband gesyfer het.

“Lappe! Lappe! Ek vat jou ou lappe!” het die man geroep.

Die son het al hoog gesit en het warm op my gebak. Die Lapsmous het al hoe haastiger geraak.

“Gaan jy werk toe?” het hy vir ʼn man gevra wat teen ʼn lamppaal gelê het. Die man het sy kop geskud.

“Is jy gek?” het die man gevra. Hy het weggestaan van die paal af. Die regtermou van sy baadjie was leeg. Hy het nie ʼn arm nie.

“So,” sê die Lapsmous, “gee vir my jou baadjie, dan gee ek vir jou myne.” Sagte, dog duidelike, gesag in sy stem.

Die man met die een arm het sy baadjie uitgetrek. So ook die Lapsmous – ek het gebewe toe ek sien wat gebeur. Die Lapsmous se arm het in sy mou gebly. Toe die ander man sy baadjie aantrek, het hy twee gesonde arms. Maar die Lapsmous het net een.

“Gaan werk toe,” het hy vir die man gesê.

Hierna kom hy by die plaaslike dronkie wat langs die bottelstoor sy roes lê en afslaap. Hy het vir hom skoon, nuwe klere gelos. Daarna ʼn ou man wat krom getrek is deur die siekte, wat onder ʼn kombers sit. Hy het die ou man ʼn nuwe kombers gegee en die ou man se kombers om homself gevou. Skielik het hy soos ʼn siek man gelyk.

Hierna moes ek byna hardloop om by die Lapsmous te bly. Alhoewel hy onbeheersd gehuil het, en sy kop vryelik gebloei het terwyl hy sy trollie met net een arm trek en aanstrompel in sy dronkenskap, terwyl hy weer en weer neerval, het hy uitgeput, oud en siek dog steeds teen ʼn besondere spoed beweeg. Op maer bene het hy voortgestrompel tot hy by die buitewyke van die stad gekom het.

Ek het gehuil oor die verandering wat ek in die man gesien het. Ek het seergekry om sy hartseer te beleef. Tog moes ek te alle koste sien waarheen hy teen so ʼn spoed op pad was. Dalk wou ek weet wat dit was wat hom so voortgedryf het.

Die klein ou Lapsmousmannetjie het by die plaaslike vullishoop gekom. Ek wou hom help met wat hy doen, maar ek het myself ingehou. Ek het weggekruip. Hy het teen ʼn opdraande uitgeklim. Met erge moeite het hy ʼn plekkie skoon gemaak. Toe het hy gesug. Hy het gaan lê. Met die sakdoek en die baadjie het hy vir homself ʼn kussing gemaak. Hy het sy bene met ʼn ou kombers toegemaak. En so het hy gesterf.

Hoe het ek nie gehuil toe ek hom sien sterf nie. Alles binne-in my het in daardie oomblik so leeg gevoel. Stilte, doodse stilte. Ek het in ʼn ou verslete kar daar op die vullishoop skuiling gevind en gehuil soos iemand sonder enige hoop. Want ek het die Lapsmous liefgekry. Elke ander gesig het verdof wanneer ek aan die Lapsmous gedink het. Ek het myself aan die slaap gehuil.

Sonder dat ek dit besef het, het ek dwarsdeur daardie Vrydag en die Vrydagnag en die Saterdag en die Saterdagnag geslaap. Maar Sondagoggend was daar skielik ʼn geweldige gebeurtenis wat my wakker gemaak het.

Lig, spierwit, helder lig het op my gesig geskyn. Ek het my oë geknip en gekyk en ek het die eerste en laaste en grootste wonder van alles gesien. Daar was die Lapsmous. Hy het die kombers baie versigtig opgevou. Op sy voorkop was daar ʼn litteken. Maar hy het gelewe. Hy het nie net gelewe nie, hy was ook gesond. Daar was geen teken van hartseer, ouderdom en pyn nie. Al die lappe wat hy so bymekaar gemaak het, was helder skoon.

Toe het ek my kop laat sak. Al bewend na alles wat ek gesien en beleef het, het ek nader gestap na die Lapsmous toe. Met skaamte het ek my naam vir hom gesê. In vergelyking met hom was ek ʼn bejammerenswaardige figuurtjie.  Toe het ek net daar al my klere uitgetrek en met groot verlange in my stem vir hom gesê: “Trek my aan!”

En Lapsmous het my aangetrek. Hy het vir my spierwit nuwe klere aangetrek. En nou is ek ʼn wonder langs Hom. Die Lapsmous! Die Lapsmous! Die Christus, die Seun van God. My Here en my God.

En in die stilte diep binne-in my het ek die stem gehoor wat ek so graag wou hoor: “Jy is gereinig. Jy is nou myne.”

Die Lapsmous is op Kersfees in Betlehem gebore om die sonde van die wêreld weg te neem. Hy sou nuwe lappe smous vir die ou lappe van  sonde, gebrokenheid en die hartseer van die wêreld. 

Daarin lê ons diepste stilte van gemoed en vrede.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Walter Wangerin (Jnr). Ragman.

Attie Nel. Die Lapman.

Ons gaan rus, om weer opgewek te word

SKRIFLESING: Johannes 11:25

“Winston Churchill was ’n gelowige. Churchill het sy eie begrafnis gereël. Daar was die statige gesange in die St. Paul-katedraal met ’n indrukwekkende liturgie. Maar aan die einde van die diens het Churchill iets ongewoons beplan. Toe hulle die seënwens uitspreek, het ’n trompet hoog in die koepel van die St. Paul-Katedraal aan die een kant ‘Taps’ gespeel, die universele militêre teken dat die dag verby is en dat die manskappe bed toe moet gaan. Daarna was daar ’n lang pouse. Toe speel ’n trompet aan die ander kant ‘Reveille’, die militêre  wekroep om op te staan, die nuwe dag het aangebreek. Dit was Churchill se manier om te kommunikeer dat, terwyl ons hier “Goeie nag” sê, dit “Goeie môre”  daarbo in die hemel is. Nou, hoekom kon hy dit doen? Omdat hy in Jesus Christus geglo het, wat gesê het: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe al was hy dood.’ ”   (Robert Russell)

Die dood is toe nie so verskriklik nie. Dit is ’n tydelike slaap om in die ewigheid by die Here op te staan. Die Here het die “angel” uit die dood gehaal. Die dood is nie meer gevaarlik nie.

 ’n Amerikaanse prediker vertel dat hy en sy gesin gereis het deur Florida. Omdat hulle koeldrank gedrink het, het daar skielik ’n by ingevlieg by die motor. Die dogter was hoogs allergies vir bye. Sy skree kliphard: “Pappa, hier is ’n by in die motor. Hy gaan my steek!” Toe die pa die by vasdruk teen die voorvenster, het die by die pa gesteek. Maar die by het losgekom. Hy vlieg nog rond in die motor. Die pa sê toe vir sy dogter sy hoef nie bekommerd te wees nie. Die by se angel sit reeds in Pa se vinger. Die by kan nie weer ’n tweede keer steek nie. Die by is nou skadeloos. So het die Here ook die “angel” van die dood gevat en op Hom geneem. Nou vlieg die dood nog rond en kom sit op ons, maar kan ons nie vir ewig dood maak nie.

Die dood is soos die metamorfose van ’n sywurm tot mot. Die wurm is die teenwoordige lewe. Dit gaan in ’n diep slaap in en word ’n papie. Uit die kokon met die papie kom die mot of vlinder wat vry rondvlieg. In Bybelse sin is jy ’n vlinder wat ewig lewe. Die dood verander ons verganklike liggame in geestelike liggame wat nie uit vlees en bloed bestaan nie. Daarom kan ons ewig lewe. Daar staan in 1 Kor 15: 44 – “Wat gesaai word, is ’n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is ’n geestelike liggaam. As daar ’n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam.”

Met ander woorde, ons hoef nie te wonder oor die nuwe geestelike liggaam nie. Dit sal in verheerlikte vorm wees, sonder pyn, seer, siekte, dood en lyding.

 Dietrich Bonhoeffer, die groot Duitse Christenmartelaar, wat weens sy verset teen die Nazi’s gevange geneem is, is daarna ’n paar dae voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog tereggestel. Terwyl hy weggeneem is om in ’n konsentrasiekamp tereggestel te word, het hy hierdie woorde gesê: “Dit is die einde van die lewe. Vir my, die begin.”

John Rogers, die Protestantse martelaar, is in 1555 vir sy geloof verbrand op die brandstapel. Die destydse Franse ambassadeur het hom op pad na sy teregstelling waargeneem. Hy het huis toe geskryf en gesê Rogers lyk “soos ’n man op pad na sy troue.”  Soos ons die dood nader, weet ons dat dit nie die einde is nie. Dit is eintlik ’n reis deur die dood na die ewige lewe saam met God. Daar is hoop . Daar is betekenis. Daar is blydskap. Hierdie lewe is nie net ’n kort reis van niks na niks nie.

Oom Basie en Tannie Johanna was 58 jaar gelukkig getroud.  Hulle het op 3 Oktober 1964 getrou. Uit die huwelik is gebore Abé (wat oorlede is), Amanda en Gerhard. Oom Basie het ook drie wonderlike skoonkinders, naamlik Hein, Suzette en Karin. Hulle is ook geseënd met vier kleinkinders Abrie, Caitlyn, Jean en Ruben. Daar is ook ’n agterkleinkind, Azel. Oom Basie was lief vir sy gesin en familie. Oom Basie het lewenslank op Adelaide gebly, tot 2015 toe hulle Fort Beaufort toe getrek het, om daar af te tree. Vir baie jare het hulle kinders en skoonkinders baie mooi na hulle gekyk. Oom Basie was uitsonderlik lief vir motors. Hy was ook ’n uitstekende motorwerktuigkundige en was vir baie dekades die werktuigkundige van die dorp. Hy het begin werk by mnr Hendriks se diensstasie as werktuigkundige. Hy het ook vanaf 1968 tot 1988 by die Sonop Garage gewerk. Vanaf 1988 tot 1998 het hy by Belgrove se garage gewerk. Toe het hy semi-afgetree en van sy huis af aan voertuie gewerk. Toe hy begin oud word, het hy “onverskillig en gevaarlik” begin bestuur en teen goed begin vasry. Dit was ’n droewige dag vir hom toe sy seun Gerhard gesê het dat hy nou klaar bestuur het en die motorsleutels van hom weggevat het. Ek sal oom Basie onthou vir sy vriendelikheid en absolute nederigheid. As almal so nederig was soos Oom Basie sou die wêreld ’n beter plek gewees het. Hy was lewenslank gelukkig as hy mense kon help. Dit vertel iets van sy karakter. Tipies van die Lee-familie is dat hulle almal hard kan werk.

Toe oom Basie en tannie Johanna nog gesond was, was hulle gereelde kerkgangers van ons gemeente. Dit was altyd lekker om by oom Basie en tannie Johanna te gaan besoek bring. Ek gaan Oom Basie mis. Vir julle as familie is en gaan dit ook ’n moeilike pad wees. Maar onthou, as die laaste trompet “Taps” speel, word dit opgevolg met die “Reveille”, wat die militêre wekroep is om op te staan. Oom Basie het reeds opgestaan om by die Here te wees.
Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)


BRONNELYS:

Robert Russell. “Resurrection Promises” Preaching Today, Tape 151.

Met die doop kry ons God se nommerplate

SKRIFLESING:  Kol 2: 12

’n Predikant het êrens geskryf dat ons met die doop God se nommerplate kry. Dit het my gedagtes aan die gang gesit en met hierdie idee het ek ’n dooppreek begin  skryf vir Chanté Truman en haar seuntjie, Jano.

Mense is trots op hulle motors se nommerplate. Voor 1994 het elke nommerplaat aangedui van watter dorp af jy kom. In Strydenburg en Hopetown het die nommerplaat begin met CBE.  Adelaide se nommerplate het begin met CFJ. Mense was trots op hul nommerplate. Jy het identiteit gehad. Jou nommerplaat het gesê waar jy vandaan kom. Toe verander alles na 1994 en ons kry nommerplate wat met EC eindig en met ’n olifant en ’n aalwyn op.  Elke provinsie het nou sy eie provinsiale nommerplate, behalwe die Wes-Kaap wat gehou het by die registrasienommer van die dorp of stad.

Mense lewer gewoonlik ook kommentaar oor ander provinsies se nommerplate. As daar ’n motor met ’n GP-registrasie te vinnig ry, dan sê hulle dit is tipies “Gauteng Province”: hulle jaag altyd. George se nommerplaat wat begin met CAW, beteken dit is altyd “cold and wet” daar.

Met ons doop kry ons metafories gestel God se Koninkryk se nommerplate. Die doop sê wat is ons diepste identiteit. Soos ’n nommerplaat aandui waarvandaan jy kom, sê die doop dat ons God se kinders is. Ons diepste identiteit is Jesus Christus.

Wat is ons identiteit? Kol 2: 12 gee vir ons die antwoord: “Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het.”

Dit beteken dat ons as sondige mense in ons doop saam met Christus gesterf en begrawe is en ook saam met Christus opgewek is. Ons het deur die doop deel aan die kruisiging, begrafnis en opstanding van Christus. Dit is ons identiteit en diepste waarborg.

Die doop roep ons op ons nuwe identiteit in Christus uit te leef.  Op ons lewensnommerplaat moet daar staan “Gedoop in Christus”. Saam met Christus gesterf, begrawe en opgewek.

Chanté, jou lewensnommerplaat van nou af moet lees “Christus”. Almal moet kan sien en beleef dat jy aan Christus behoort. Jy moet ook vir jou seuntjie Jano leer dat hy sy lewe so moet leer leef dat Christus sy nommerplaat is.

In die eerste eeu was dit vir Christene moeilik om die nommerplaat van Christus te dra. As jy uit ’n ortodokse Joodse familie kom en jy word gedoop as Christen, dan is jy verwerp uit die Joodse gemeenskap en waarskynlik ook uit jou familie. Niemand wou met jou iets te doen gehad het nie. Jy het ook nie sommer by die gildes werk gekry nie. Dieselfde was die geval met dopelinge uit die Griekse gemeenskap. As jy gedoop word, het jy vriende en kennisse verloor.

En wat gevolglik in die eerste eeu gebeur het, is dat baie mense gedoop is, maar hulle het dit vir hulself gehou. Die gemeenskap moes nie daarvan weet nie, anders verloor jy jou staanplek in die gemeenskap. Hulle was soos voertuie wat sonder nommerplate ry. Hulle het skaam gekry vir hulle doop. En Jesus sê: Ek wil nie hê jy moet jou vir My skaam nie. As Christus dit alles vir ons gedoen het, is dit nie te veel gevra dat jy in die openbaar opstaan vir die Here en jou nie oor Hom skaam nie. Dan dra jy met trots jou nommerplaat dat jy in Christus gedoop is.

Ek moet my nie vir my doop skaam nie. Ek moet my nie skaam om as gedoopte te lewe, met die nommerplaat van “Gedoop in Christus” nie.

As gedoopte Christen moet ek my nooit skaam vir Christus nie. Ek moet skaamteloos lewe as Christen in my gesin, my werksplek, my sosiale lewe en in alles wat ek doen.

Daar word vertel van ’n meisie wat in Oos-Maleisië gedoop is as volwassene, na haar bekering. ’n Persoon het opgemerk dat daar teen die kerk se muur iemand se bagasie staan. Iemand het gevra wie se bagasie dit is. Die pastoor het na die meisie gewys wat pas gedoop is en gesê: “Haar pa het gesê dat as sy as ’n Christen gedoop word, sy nooit weer huis toe kan gaan nie. Sy het dus haar bagasie gebring.”

Soos ’n EC-nommerplaat vertel jy kom van die Oos-Kaap en ’n GP-nommerplaat vertel jy kom van Gauteng, moet jy, Chanté, die nommerplaat van Christus dra, sodat almal kan sien jy is van Christus.  Aan jou lewe moet gesien word dat jy ’n Christen is.

As Christen moet jy jou seun Jano, begelei en opvoed om ook eendag ’n Christen te wees met ’n Christus-nommerplaat.

Jy het nie ’n klomp kinderopvoedingsboeke nodig nie. Volg net Johannes Calvyn se raad in sy Institusie. Gee vir kinders geborgenheid en sekuriteit. Geborgenheid kry ’n kind deur ’n oormaat van liefde. Sekuriteit kry ’n kind deur strengheid. Dit is die beste raad vir kinderopvoeding. Leer vir Jano van vroeg af van die Here en leer hom om op die pad van die Here te wandel.

Chanté, mag die Here vir jou en jou seun seën met oorvloedige guns en seëninge.

AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Randy Frazee. Baptism: A Public Declaration of Dependence. Preaching Today.

Jim Denison. Teen Brought Luggage to Her Baptism. Preaching Today.