Lig vir die wêreld! (Joh 1: 1 – 14)

LIG VIR DIE WêRELD!

In die begin het God gesê: “Laat daar lig wees”. En daar was lig gewees. Adam en Eva het fisiese en geestelike lig gehad. God het elke aand in die aandwind aan hulle verskyn. Toe kom die sondeval en ‘n groot donkerte het oor die skepping neergedaal. Nie ‘n fisiese donkerte nie, maar ‘n geestelike en emosionele donkerte. In die Nuwe Testament met Kersfees het die Here as’t ware weer gesê: “Laat daar Lig wees”. Christus is gebore as die Lig vir die wêreld. Hy het gekom om die duisternis, die geestelike duisternis te verdryf.

north-pole-sun-moonJH Denison skryf dat naby die Noordpool die nag vir maande aanhou. Wanneer die mense verwag het dat die son moet opkom het hulle boodskappers na die hoogste punte gestuur om die dagbreek aan te kondig. Wanneer die son sy verskyning maak het hulle hard uitgeroep. “Aanskou die son!”. Die wekroep is dan oor die hele land voortgedra: “Aanskou die son”. Dan het almal nuwe klere aangetrek om aan te toon dat dit uiteindelik dag geword het. Met die Christusfees het die Son van geregtigheid ons duistere wêreld kom verlig. (In die woorde van JH Denison.)

Daarom is Joh 1: 1 – 14 die klassieke gedeelte wat Jesus in die Bybel voorhou as die Lig wat aan kom was na die donker wêreld. Christus as Lig skyn in hierdie donker wêreld. Sedert Christus se koms, het Sy lig, die lig van miljoene gelowiges geword wat in Hom glo. Christus verlig die lewens van elkeen wat met sy sonde, hartseer en gebrokenheid na Hom toe vlug. Met een kers, kan jy ‘n oneindige hoeveelheid ander kerse aansteek. So Het Christus die Ligbron van die wêreld geword.

candle-11Daarom gaan Kersfees oor kerse en lig. Dit beteken dat elkeen van ons ook ligdraers moet wees in hierdie donker wêreld. Ons kerslig moet aansteeklik wees vir ander wat nog in die duisternis lewe. Daarom het Jesus ook gesê, dat ‘n lig wat op ‘n berg is, kan nie weggesteek word nie. Maar ‘n lig onder ‘n maatemmer is nutteloos.

Die vraag kan gevra word, waarom is Jesus die Lig van die wêreld, maar daar is soveel donkerte in mense se lewens. Waarom is die wêreld nog in duisternis. Johan Cilliers beantwoord dit mooi met ‘n verduideliking: Die Koninkryk van God kan vergelyk word met ‘n toneel uit die Eerste Wêreldoorlog. Groot dele van Europa is deur vyandelike magte beset. Soldate was die strate vol en vrouens en kinders het vir die soldate gevlug. Toe kom die berig dat die hoofleërs van die vyand beslissend verslaan is by die Mamreveldslag. Dit was net ‘n kwessie van tyd dan sou die vyandelike magte moet terugtrek. Vier jaar later was die soldate steeds in die dorpies. Maar alles was nou anders. Dit was ‘n tyd van opruiming, ‘n kwessie van tyd. Mense kon weer met hoop lewe.

Met Christus se koms, was dit net so. Jesus se koms het alles verander, maar tog het almal nie verander nie, skryf Johan Cilliers. Die Herodusse is nog daar en die kindermoorde het nie opgehou nie. Soldate marsjeer steeds voort op die oorlogsfronte en mense steek mekaar nog steeds in die rug. Geweldsmisdade en menslike ellende duur voort. Maar die Kindjie wat gebore is, is reeds deur die heidene wat van ver gekom het, as Koning vereer. Dit is nou die tyd van opruiming van Satan se invloed en ‘n kwessie van tyd. Fil 2: 10 – 11 sê daar kom ‘n tyd wat elkeen wat in die hemel is en op die aarde is, die knie buig, en elke tong sal erken: Jesus Christus is Here.

Hoor wat sê Openbaring 21: 23 – 25: “Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie”.

Daarom ontwikkel die lig-metafoor dwarsdeur die Bybel in drie fase.

In Gen 1: God het lig geskep (bedoelende die son)

In Joh 1: Christus Jesus is die Lig vir ‘n donker wêreld.

In Openb 21: 23 – 25: Daar sal geen son en geen donkerte meer wees nie, want Christus, is die Lam, wat die lamp is.

Daarom bedoel 1 Thes 5: 1 – 11: As die wekker lui, dan moet die ongelowige opstaan uit hulle sondeslaap van die nag. Hulle kan nie maar die wekker dooddruk en verder slaap nie. So kan ‘n mens jouself verslaap met die Wederkoms van die Here. Daarteen waarsku die Here vir die gemeente van Tessalonisense, dat hulle nie die Wederkoms mis, deur gevang te word in hulle sondeslaap van die nag nie.

Christus is die Lig van die wêreld en daarom moet ons ook mense van die lig, mense van die dag wees.

images (3)Wees in 2018 ook ‘n ligdraer, soos wat Christus die Lig vir die wêreld is. Onthou daar is nie genoeg duisternis om die lig wat een kers uitstraal te verdoof nie. Al brand jou kers vir Christus hoe beskeie. Jy maak ‘n verskil. Die duisternis kan dit nie uitdoof nie. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Dagmense en nagmense …. (1 Thes 5: 1 – 11)

DAGMENSE EN NAGMENSE

Mense van die nag, is mense wat goddeloos en ver van God af leef. Hulle wil nie dat iemand hulle dade sien nie.

Roc Canals Photography Moment Getty ImagesDaarom lewe hulle in die donkerte. Hulle versteek as’t ware hulle verkeerde dade in die donkerte. Gelowiges, is egter mense van die lig. Hulle gee nie om as ander mense hulle sien nie, want hulle lewe reg en voorbeeldig.

Foto krediet: Roc Canals Photography Moment Getty Images

Hulle vrees niks nie. Daarom het hulle nie die donkerte nodig om hulle te beskerm nie. Daarom onderskei Paulus tussen dagmense en nagmense.

Daarom word dagmense beskryf as “coram Deo” mense. Hulle lewe voor die aangesig van God. Hulle lewe so deursigtig, dat jy konstant ‘n kamera op hulle kan hou. Hulle vrees nie ‘n kamara nie. Waarom vrees ons spoedkameras? Omdat ons bang is ons word gevang. Omdat ons die spoedgrens oortree, lewe ons in vrees vir spoedkameras. As ons binne die spoedgrens bestuur, vrees ons nie ‘n spoedkamera nie.

Daarom kan dagmense en nagmense ook onderskei word, as nagmense wat vrees om uitgevang te word of as dagmense, wat nie vrees om uitgevang te word nie. Kom ons maak ‘n toets? Nagmense, sal vrees vir ‘n poligraaftoets. Dagmense sal ‘n poligraaftoets verwelkom.

HSIP-5000-Kamera-schräg02

Dagmense kan 24 uur ‘n dag bereid wees om bespied te word deur ‘n kamera. Hulle vrees niks, want hulle lewe is reg. ‘n Nagmens, sal dit nie regkry om 24 uur per dag bespied te word deur ‘n kamera nie. Want hy of sy is bang hulle dade kom aan die lig.

Paulus beskryf nagmense, as mense wat aan die slaap is en daarom nie gereed is vir die koms van die Here is nie.

6a951ab8d9e197998758427384ae1566Tydens die Angolese Bosoorlog het die Suid Afrikaanse Lugmag gewoonlik gewag tot net voor dagbreek en dan met Mirage vegvliegtuie aanvalle op die terroriste vestings in Angola uitgevoer. Net voor dagbreek is mense op hul weerlooste. Hulle is nog vol slaap, nie aangetrek nie, kan nog nie helder dink nie en ver van hulle wapens.

Wanneer ek deur die nag bestuur gaan dit goed, maar telkens teen 04h00 die oggend oorval die slaap my en wil ek net insluimer. Tussen 04h00 tot 07h00 is ek ‘n gevaar op die pad. Dan moet ek aftrek van die pad. Dan is ek op my kwesbaarste op die pad.

at-night

Nagmense is nie gereed vir die koms van die Here nie. Hulle slaap nog in hulle sonde en het nog nie hulle sonde afgelê nie.

818kGmg0fFL._SY355_As die wekker lui, dat hulle moet opstaan uit hulle sondeslaap, druk hulle maar net die wekker dood en slaap verder. So kan ‘n mens jouself verslaap met die Wederkoms van die Here. Daarteen waarsku die Here vir die gemeente van Tessalonisense, dat hulle nie die Wederkoms mis, deur gevang te word in hulle sondeslaap nie.

Paulus skryf dat dagmense hulself onderskei in LIEFDE, GELOOF en HOOP.

26 Nov 2010 048In vers 8 sê Paulus dat dagmense die bosharnas van geloof en liefde aantrek. ‘n Borsharnas beskerm die belangrikste interne organe, soos die hart en longe. Gewoonlik is ‘n borsharnas van vel en bronsplaat gemaak. Die bronsplaat het spiese en swaarde afgeweer en die vel tussen die bronsplate het, het vuurpyle geblus. So moet ons ook ons toelê op liefde en geloof, dan sal ons die vurige pyle van versoekings afweer. Daarom moet ons altyd met liefde optree. Liefde moet die HALLMARK teken wees van ons Christenskap. Verder moet ons onsself ook toelê op geloof, deur altyd standvastig te lewe. Soos wat rotse in die see oor eeue standvastig bly staan deur die aanslae van die golwe en branders, moet ons ook standvastig staan in die geloof. Ons moet bly in die goeie leer van die Bybel en die apostels. Vers 8 praat ook van die hoop as ‘n helm. Die helm beskerm die brein. So moet ons in ons gedagtes altyd deur die positiewe hoop beheers word en nie slagoffers word van negatiewe gedagtes nie. Ons moet altyd met ‘n positiewe hoop lewe.

Paulus onderstreep ook dat ons in gereedheid moet leef, want die Wederkoms kom skielik en onverwags. Daar is nie ‘n kalenderdatum aan die Wederkoms gekoppel nie. Die Wederkoms sal so skielik en onverwags kom soos ‘n dief in die nag. Omdat die Wederkoms onverwags is, moet ons elke dag paraat wees in liefde, geloof en hoop. Soos in die ou dae, wat ‘n skoolinspekteur op ‘n onverwagse datum en tyd die skool binnestap om die skool te inspekteur, so is dit ook met die wederkoms. As die onderwysers en skoolhoof geweet het watter dag die inspekteur kom, het hulle net op daardie dag hulle beste voetjie voor gesit. Maar omdat die inspekteur se koms skielik en onverwags is, moes die onderwysers en skoolhoof elke dag die beste voetjie voor sit. Net so moet ons ook elke dag die beste lewe leef, asof dit ons laaste dag is. Ons moet elke dag liefde, geloof en hoop lewe. Dan sal ons nie aan die slaap gevang word nie. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

DIE CHRISTEN EN PROTES

DIE CHRISTEN EN PROTES

Suid Afrika is ‘n land met ‘n lang geskiedenis van protes en stakings en burgerlike ongehoorsaamheid. Die wit deel van die bevolking, wat voorheen die bevoordeeldes was van die onderdrukkende stelsel van apartheid, het nog selde aan protes deelgeneem. Dinge het verander.

620x349 (2)Op Maandag, 30 Oktober 2017 het die wit gedeelte van Suid – Afrika, hoofsaaklik boere deelgeneem aan ‘n grootskaalse protesoptrede teen die hoë moodsyfer op boere in Suid – Afrika.

Dit het groot media belangstelling getoon in Suid Afrika, asook wêreldwyd.

Die vraag aan die kerk is, hoe protesteer Christene, wanneer hulle voel hulle word verontreg?

Onmiddelik moet ‘n mens sê, dat Christene moet en mag protesteer teen enige vorm van onreg. Die Bybel is vol voorbeelde van protes. Veral die profete van die Ou Testament het gereeld geprotesteer teen onreg. Die profeet Amos het byvoorbeeld geprotesteer teen die sosiale ongeregtigheid wat in sy tyd bestaan het. Die profeet Hosea (Hosea 1) het met ‘n prostituut getrou om te protesteer teen die afvalligheid van die volk Israel op sosiaal-politieke en kultiese terrein. Hosea het uit protes getrou met Gomer. Die eerste kind, ‘n seun is genoeg Jisreël wat voorspel het dat God die koningskap in Israel tot niet gemaak gaan word . Die twee kind, ‘n dogter is gebore met die naam “Sonder ontferming”, want die Here gaan Hom nie meer oor Israel ontferm nie. Die derde kind, ook ‘n dogter is genoem ” Nie-my-volk-nie”, ook ‘n aanduiding van God se oordeel oor sy volk.

Jesaja het drie jaar sonder klere en skoene rondgeloop as ‘n getuie teen Egipte (Jes 20: 2 – 3).

_D7H0781-760561Esegiël het weer voor ‘n baksteen gelê wat die beleëring van Jerusalem voorgestel het.

Esegiël mos ook kos gaarmaak op droë menslike uitwerpsel of beesmis, om aan te toon dat die volk ook onrein kos gaan eet tussen die nasies waaronder hulle verstrooi gaan word oor hul ongehoorsaamheid (Esegiël 4: 9 – 15).

img-Jeremiah-the-Prophet

In Jeremia 28 word weer verwys na die houtjuk wat Jeremia rondgedra het as voorspelling dat die volk in ballingskap gaan oor hulle sonde (Jeremia 28).

Daniël het hom weer in Koning Darius se tyd skuldig gemaak aan burgerlike ongehoorsaamheid, deur nie die koning te aanbid nie, maar drie keer ‘n dag soos sy gewoonte was in die dakkamer die lewende Here te aanbid. As straf oor sy burgerlike ongehoorsaamheid is hy in die leeukuil gegooi. Maar God het hom gered van die kake van die leeus (Daniël 6).

In die Nuwe Testament lees ons hoedat die Jesus Christus geprotesteer het teen die skynheilige geloof van die Farisiërs en Skrifgeleerdes. Hy het by die tempel in Jerusalem geprotesteer oor die handelaars wat van die tempel ‘n rowerspelonk gemaak het. In Jesus se gelykenisse het Hy ook geprotesteer teen sosiale ongeregtigheid in die samelewing.

Die hele Christelike lewe gaan oor protes. Elke dag moet ons protesteer teen sonde in jou eie lewe sowel as strukturele sonde wat in die samelewing is.

martin-luther-9389283-1-402Vyfhonderd jaar gelede het gelowiges onder leiding van Martin Luther, Johannes Calvyn en nog ander geprotesteer teen die dwalinge in die Rooms Katoliee kerk. Spoedig het hulle die naam gekry van Protestante.

Daarom moet ons ook protesteer teen enige vorm van onreg in die samelewing. Die kerk en die gelowiges moet protesteer teen plaasmoorde, teen die bendegeweld op die Kaapse vlakte, teen die hoëvlakke van geweldsmisdade, teen korrupsie of doodeenvoudig waar ons sien daar word teenoor ‘n indiwidu onreg gepleeg.

Daar word vertel van ‘n fabriekskantien in London in die depressiejare. Dit was in die hartjie van die winter gewees. Dit het so swaar gegaan dat die kantien net aan die werkers sop en brood verkoop het. Die verteller vertel hoe hy vir sy sop en brood betaal het en gaan sit het tussen die honderde ander fabriekswerkers. Dit atmosfeer was somber, want dit was moeilike tye. Na ‘n rukkie kom daar ‘n vrou, met ‘n kindjie op haar arm binne. Sy het nie geld gehad nie en smeek toe net vir ‘n bietjie sop vir haar en haar kind. Die kok wou haar al vloekende uit die kantien verjaag. Skielik het ‘n doodse stilte oor die kantien toegesak. Almal het ophou eet. Ritmies het hulle hul lepels teen die blikbekers geslaan. Die kantieneienaar het so skaam gekry dat hy vir die vrou en haar kind sop en brood gegee het en hulle genooi het om ook aan die tafel te sit. Die verteller vertel dat die sop en brood, skielik geproe het soos die wyn en brood by die Nagmaalstafel.

crowd_protest-100704321-largeChristene mag protesteer, maar Christene protesteer altyd waardig. Die etiese vraag is dus nie mag Christene protesteer nie, maar eerder hoe moet hulle protesteer. Natuurlik moet Christene nie uit selfsugtige redes protesteer nie, maar om die regte redes. Dit moet gaan oor die uitwys van sosiale onreg en onregverdigheid in die samelewing. Die goue reël is die Bybelse reël, dat jy so moet protesteer dat jy nie ander se regte aantas nie. Die Woord sê moes “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”.

Heidene protesteer op ‘n barbaristiese wyse. Hulle brand buitebande, steek busse en voertuie aan die brand, hulle gooi klippe en intimideer. Hulle gooi brandbomme na geboue en vernietig eiendom.

   TshwaneUnrest-townships-ablaze-over-DidizaHulle jaag rassehaat aan en polariseer rassegroepe van mekaar. Hulle steek skole en universiteitsgeboue aan die brand. Hulle steek Uber taxis aan die brand met die bestuurder nog binne die voertuig. Hulle tart die die polisie en veiligheidspersoneel. Hulle steek mense lewend aan die brand. Wie anargie stig, speel in die hand van die duiwel.

620x349 (1)Met die protesoptrede van die boeregemeenskap op 30 Oktober 2017, was daar geen intimidasie of geweld of enige eiendom beskadig nie. Daar was geen brandende buitebande of konfrontasies met die polisie nie. Dit is ‘n pluimpie in die hoed van die boeregemeenskap van Suid Afrika.

Tog is dit kommerwekkend dat die sommige boerdery gemeenskappe paaie geblokkeer het en alle verkeer tot stilstand gebring het. Dit is heeltemal verkeerd en nie die manier waarop ‘n Christen protes aanteken nie. Deur paaie te blokkeer ontneem jy ander mense se regte.

imagesVeronderstel ‘n matrikulant kon nie by die eksamenlokaal uitkom nie en jy verwoes sy kanse om betyds toelating by ‘n Universiteit te kry. Of iemand is laat vir ‘n werksaansoek, omdat die paaie geblokkeer is.

Of ‘n ambulans kan nie betyds by ‘n hospitaal uitkom nie. Tien dae later het die taxis ook paaie geblokkeer. As dit die reël word van protes, benadeel ons die land se ekonomiese groei. In protesaksie, mag jy nooit ‘n ander persoon se regte van hom of haar wegneem nie.

Op sommige plekke is ook die ou Suid – Afrikaanse landsvlag vertoon en ook die Vierkleurvlag. Dit maak die protesoptrede ‘n politieke vertoon wat nie goed is vir goeie rasseverhoudinge in Suid Afrika nie. Dit is heeltemal onnodig en uittartend. Ons moet bou aan die toekoms en nie terug verlang na die verlede, wat vir baie mense verdrukking beteken het nie. Baie mense het ook fobnuus versprei deur die sosiale media, wat ook rassepolarisasie veroorsaak het.

Veronderstel dat die boeregemeenskap (en hulle plaaswerkers) saam met die bruin mense van die Kaapse vlakte geprotesteer het teen die hoë moordsyfer op plase en op die Kaapse vlakte. Dink net watse kragtige boodskap het dit nie uitgedra in Suid Afrika nie en in die buiteland nie.

Suid Afrika is ook bekend vir sy stakings wat deur verskillende vakbonde georganiseer word. Wanneer stakers hulle werkgewers benadeel deur stakings, versteur dit goeie werkgewer en werknemers verhoudinge. ‘n Beter opsie sal eerder wees om in etenstye vreedsaam te protesteer en sodoende die respek van die werkgewer te behou en nie skade aan die ekonomie en maatskappy te doen nie.

f41c647a0a4647c9b9973f6eecac1bce

Een van die beste maniere om te protesteer is om deur die regstelsel, herstellende aksie af te dwing. Agri Suid Afrika is bekend daarvoor dat hulle al tientalle hofsake gewen het in die hof om geregtigheid te herstel.

Dit is ‘n vreedsame manier om aandag op jou probleem te vestig.

Om onreg deur protesaksie onder die aandag van die buiteland te bring, het nog altyd in die geskiedenis goeie gevolge gehad.

jacques-pauw-3Daarmee saam is ondersoekende joernalistiek altyd die vriend van die verontregte. Jacques Pauw het in sy boek “The President’s Keeper” protes aangeteken teen die korrupsie wat in Suid Afrika hoogty vier. Daarom is die pen, altyd ‘n magtige swaard.

Belasting weerhouding is nie altyd ‘n goeie manier van protes nie. Veronderstel die Munisipaliteit betaal nie hulle Eskom rekening nie en Eskom onderbreek kragtoevoer op sekere tye van die dag. Om belasting of kragrekeninge nie te betaal nie vererger die probleem. Daar kan eerder deur protesaksie gedwing word om die Munisipaliteit onder administrasie te sit, sodat verantwoordelike mense kan seker maak die Munisipaliteit betaal hulle Eskom rekeninge.

Lydelike verset, sonder geweld is altyd die beste opsie. Gandhi het deur geweldlose lydelike verset Indië se onafhanklikheid van Britse kolonialisasie verseker.

Somtyds moet ‘n Christen homself skuldig maak aan burgerlike ongehoorsaamheid, as die staatswette indruis teen die Woord van God. Wanneer ‘n dokter weier om ‘n aborsie in ‘n staatshospitaal te doen, is hy burgerlik ongehoorsaam. Maar sy gewete is skoon voor God.

fr_201622122625

As die staat lyfstraf deur ouers ‘n kriminele oortreding maak, mag ‘n ouer sy kind tugtig met lyfstraf omdat die Woord van die Here swaarder weeg as die humanistiese wette van die staat.

Daarom soos in Daniël se geval is burgerlike ongehoorsaamheid aanvaarbaar.

gebedeTen slotte, kan gebed as die heel beste vorm van protes beskou word. Koning Dawid het in die Psalmboek telkens sy protes uitgespreek teenoor die mense wat soek om sy dood te veroorsaak.

Natuurlik verwys hy na Koning Saul wat sy dood soek. Deur gebed kan God onregverdige stelsel laat kantel en mense vrymaak van verdrukking. Daarom is gebed die magtigste vorm van protes in die lewe van ‘n Christen.’n Christen kan en moet protesteer teen enige vorm van onreg. Maar Christene doen dit met waardigheid en in ooreenstemming met die liefdesgebod.  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide) 

Christus het die angel van die duiwel getrek. (1 Kor 15: 55 – 58)

CHRISTUS HET DIE ANGEL VAN DIE DUIWEL GETREK.

Wayne Rice vertel van die gesin wat op pad was met hul motor na hulle somervakansie. Dit was baie warm en hulle het die vensters afgedraai vir koel lug. Hulle het heerlike koeldrank gedrink.

SONY DSC

Die soet koeldrank het toe ‘n by laat invlieg by die motor se oop venster. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir bysteke. Sou die by haar steek, sou sy binne minute dood gewees het. Sy skree toe hard vir haar pa: “Pappa, daar is ‘n by in die kar. Hy gaan my steek. Help!” Die pa het toe dadelik die motor tot stilstand gebring en toe die by gelok na die voorkant van die kar. Teen die voorruit van die kar het die pa die by met sy kaal hand gevang. Die by het onmiddelik die pa gesteek, maar het ongelukkig los gekom. Dadelik het die pa se hand begin swel van die bysteek. Die by het toe weer na die agterkant van die motor gevlieg, al rondom die dogtertjie. Weer roep die dogtertjie: ” Pappa, die by is weer by my. Hy gaan my steek. Help!” Die pa sê toe vir die dogtertjie: “Wees kalm my kind. Die by het pa klaar gesteek. Sy angel sit in my hand. Hy kan jou nie meer byt nie. Al wat hy kan doen is buzz. Netnou gaan die by in elk geval vrek, want toe hy sy angel verloor het, het hy ‘n deel van sy binnegoed ook verloor. Hy gaan netnou vrek.”

Ons weet natuurlik uit die biologie, dat ‘n by jou net een keer kan steek. Hy verloor sy angel, wanneer hy jou steek en saam met die verlore angel, verloor hy ook ‘n deel van sy binnegoed, wat natuurlik vir die by ‘n gewisse dood beteken. ‘n By wat eenkeer sy angel verloor het, kan net “buzz”, verder is hy skadeloos.

Blykbaar was die kennis alreeds in Bybelse tyd bekend, want hoor wat sê Paulus in 1 Kor 15: 55 – 58 “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.”

Ons is die dogtertjie wat so allergies is vir die sonde steek van die duiwel, dat ons die ewige dood kan sterf. Die loon van die sonde is mos die dood. Maar Christus is die pa, wat sy hande om die duiwel gevou het en die steekbyt van die duiwel op Hom geneem het, deur te sterf aan die kruis. Die angel van die duiwel is pynlik ingesteek aan Jesus op die kruis. Hy het gesterf van die angelbyt op Golgota.

Daar was die angel van Judas Iskariot wat Hom verraai het.

Daar was die angel van Petrus wat Hom verloën het.

Daar was die angel van die dissipels wat Hom verlaat het in sy lyding.

Daar was die angel van die Joodse Farisieërs wat Hom aangekla het.

Daar was die angel van die Jode, wat geskree het dat Jesus gekruisig moet word.

Daar was die angel van Herodus en Pilatus, wat nie reg laat geskied het nie.

Daar was die angel van die Romeinse soldate.

Daar was die angel van my en jou sonde wat Jesus se dood gekos het.

Hy het in ons plek die angelbyt ontvang, sodat ons nie die tweede en ewige dood hoef te vrees nie. Jesus het die angel uit die dood gehaal, sodat ons die ewige lewe kan ontvang. Jesus het ook die angel van die sonde kom wegvat, sodat ons verlossing van ons sonde kan ontvang. Nou kan die duiwel nog net “buzz” rondom ons, maar maar die duiwel kan ons nie meer doodmaak nie. Natuurlik “buzz” die duiwel elke dag rondom ons met allerlei versoekings en verleidinge. Die Here sê dit sal so wees tot met die wederkoms. Daarom ervaar ons nog elke dag die gevolge van sonde, soos moord, misdaad, droogtes, natuurrampe, ekologiese bedreiginge, pes, siekte en baie ander vorme van lyding. Maar dit is net die “buzz” van die duiwel. Die Here het die duiwel klaar verslaan.

Die duiwel is soos ‘n afkophoender. My ouma het hoenders in haar erf gehad. Wanneer dit slagtyd word, word die kop afgekap met ‘n byl. Terwyl die hoenderkop op die grond lê, spartel en hardloop die afkophoender nog ‘n paar sekondes voordat dit dood neerval. So is die duiwel ‘n afkophoender. Sy kop is vermorsel met die opstanding van Jesus uit die dood. Maar tot met die wederkoms van Jesus sal die duiwel rondspartel en probeer om soveel moontlik mense saam met hom te neem na die ewige verderf. Maar as ons in Christus bly, kan die duiwel ons nie skade aandoen nie.

Die duiwel is verslaan. Hy is angelloos. Maar dit beteken nie dat ons met die duiwel moet speel nie. Christene vier nie Halloween nie, hulle roep nie geeste op nie en hulle besoek nie “gypseys” nie. Christene glo nie in die sterretekens en voorspellings oor die toekoms op grond van sterretekens nie. Christene is ook nie bygelowig nie. Christene besoek nie sangomas en toordokters nie. Christene glo ook nie in die voorvadergeeste nie. Christene hou hulle ook nie op met sataniese speletjies en tydverdryf nie.

Luther het gesê: “Laat die duiwel met die potte en panne speel, ons hou onsself besig met die Woord van die Here.”

Die Here Jesus het die angel uit die dood en die angel uit die sonde kom uithaal. Christus het die angel uit die lewe kom haal. Dit beteken nie dat die duiwel nie “buzz” soos ‘n by rondom ons nie, maar ons vrees nie meer die duiwel nie. Die duiwel is angelloos. Ons behoort aan Christus en nie die duiwel of enige bose mag kan ons uit die Here se hand ruk nie.

Dood, waar is jou angel?

Lewe, waar is jou angel?

Die Here Jesus het die angel uit dood en lewe kom trek, deur self die slagoffer van die angel te word. Maar Jesus Christus lewe! Hy het die angeldood aan die kruis ongedaan gemaak, deur uit die dood op te staan. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)