Die lewe is jou doek – verf dit met betekenis

SKRIFLESING: Psalm 90: 1 – 17

Elke jaar het hoogtepunte, maar ook laagtepunte. ’n Mens se lewe word gekenmerk deur hoogte- en laagtepunte.  Psalm 90 kom onderstreep in vers 15 die voorspoed én die teenspoed van die lewe. Daarom moet ons nie met valse verwagtinge lewe nie. Ons hoef nie in vrees te lewe nie, maar ons moet dit gelowig binnegaan.

Psalm 90 is deur Moses geskryf. Dit is die enigste Psalm in die Psalmboek wat deur Moses geskryf is. Daarom is dit ook die oudste Psalm. Die konteks van die Psalm is as volg: Moses het dit geskryf aan die einde van die 40 jaar-trek deur die woestyn nadat die Exodus-generasie al uitgesterf het.

Dit was die voltrekking van die sonde wat die volk by Kades-Barnéa gepleeg het. Kades-Barnéa was op die grens in die beloofde land. Hier het Moses vroeër twaalf mans uitgestuur om die beloofde land te verken. Hulle was vir 40 dae weg om te gaan spioeneer. Met hulle terugkoms was daar verdeeldheid tussen die twaalf spioene. Al twaalf het erken dat dit ’n besondere land was en dat die vrug van die land groot was. Joshua en Kaleb was die enigste twee verkenners wat gesê het dat die land verseker ingeval kon word, met die hulp van die Here. Die ander tien verkenners het gesê dit was onmoontlik. Nie eens God kon hulle help om die land in te neem nie. Die manne het Joshua en Kaleb met klippe probeer doodgooi. Die Here was ontsteld en het die volk op ’n 40 jaar-tog deur die woestyn geplaas. Vir elke dag wat die verspieders in die beloofde land was, moes die volk ’n jaar deur die woestyn trek, wat dit 40 jaar maak (Numeri 14:34). Gedurende daardie veertig jaar sou almal wat uit Egipte kom, sterf, behalwe die twee getroue verspieders, Joshua en Kaleb, en almal wat jonger as twintig jaar was.

As ’n mens na die bevolkingsgetalle kyk wat in Numeri verstrek word, het ’n aardige hoeveelheid mense uit Egipte getrek. In 38 jaar sou Moses die dood van 1 200 000 mense aanskou. Dit is die héle volwasse bevolking wat Egipte verlaat het, almal twintig jaar en ouer. Die woestyn het een groot begraafplaas geword. Dit beteken daar het elke jaar 31 580 mense gesterf. Daar sou gemiddeld 87 begrafnisse per dag gewees het. Dit alles as gevolg van die sonde wat by Kades-Barnéa gepleeg is.

Interessant van Kades-Barnéa was dat dit ’n vrugbare vallei was op die grens na die beloofde land. Volgens Deut. 1: 46 het die volk ’n baie lang tyd hier gebly. Hulle kon vir ’n groot deel van die 40 jaar in die woestyn in dié vrugbare vallei bly en daar het ook baie belangrike woestynverhale hier afgespeel.

’n Mens moet hierdie konteks verstaan om te begryp hoekom Moses in Psalm 90, aan die einde van die 40 jaar-woestyntog, so realisties oor die dood en die verganklikheid van die lewe skryf. In Psalm 90: 3 – 7 staan daar: “Here U laat sterflinge terugkeer tot stof; U sê net: ‘Keer terug, mensekinders!’ Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister wanneer dit verbygaan, ‘n wagbeurt in die nag. U vee hulle weg in die slaap. In die oggend is hulle soos gras wat opskiet, wat in die oggend bloei en uitspruit, en teen die aand verlep en verdroog. Ja, ons het vergaan onder u toorn, deur u woede word ons verskrik.”

Duidelik word die sterflikheid van die mens in dié gedeelte aangespreek, asook die rede vir sy sterflikheid, naamlik die toorn van die Here oor die sonde van die mens. Psalm 90:10 beskryf die verganklikheid so duidelik: “Die dae van ons lewensjare –  dit is maar sewentig jaar, en as die kragte daar is, tagtig jaar. En die beste daarvan is vol moeite en rampe;  ja, dit gaan gou verby, en ons vlieg weg.”

Dan vind Moses vertroue daarin dat, al is alle mense sterflik, God ewig is. God staan vas. Voor die geboorte van die berge was God al daar. In Psalm 90:2 staan daar: “Voordat die berge gebore is en U die aarde en die bewoonbare wêreld voortgebring het, ja, van altyd af en vir ewig is U God.” Daarom sê vers 1 die Here is die woning van die sterflike mens.

Maar hoe bring jy dan jou lewensdae deur as dit so kort is? As jou lewensdae soos gras vergaan, hoe leef jy dan sinvol? Dit is die gevolgtrekking waartoe Moses kom in Psalm 90:12, naamlik:  “Om ons lewensdae na waarde  te skat – dit moet U ons leer, sodat ons ’n hart vol wysheid  kan verwerf.” “Na waarde te skat” kan ook vertaal word met “reg te verdeel” of “reg te tel”. Die vertalings impliseer ons moenie ons kortstondige lewe vermors met onsinnighede nie.

Ek is 62 jaar oud. Die jare het deur my vingers geglip soos sand.  Sowat 85 % van my lewe is verby. Ek het nog enkele jare oor. Sou ek 70 word, het ek nog net ’n skrale 2 920 dae oor. My familie is geneig om nie baie oud te word nie. Dit is min slapies. Hoe het ek my lewensdae deurgebring? Het ek dit reg verdeel in die sake wat regtig belangrik is? Hoe wil ek my laaste jare deurbring?

Almal kla die jare vlieg verby. Dit was  Moses se presiese ervaring in vers 10. Hy praat ook van die jare wat vlieg.

Daarom vertaal die Hollandse teks Psalm 90: 12 as volg: “ Leer ons zo onze dagen te tellen dat wijsheid ons hart vervult.” Die Hollandse dominee, Ds Jos Douma, verklaar die gedeelte so:  God wil ons help om in wysheid  “ ’n lewenskunstenaar” te word. Bedoelende dat ek ’n kunstenaar moet wees wat my eie lewe skilder met wysheid, liefde en lewenservaring. Daarom moet ek kreatief met elke lewensdag omgaan en die beste daarvan maak. Jy moet jou lewensboek met wysheid skrywe. Die dwaas skryf in sy lewensboek ’n klomp sotlikhede en ligsinnigheid, wat later uitloop op spyt. 

’n Christen lewe nie ligsinnig en sotlik nie. ’n Christen soek wysheid, beoefen liefde en leer ander deur sy of haar lewenservaring. ’n Christen is ’n lewenskunstenaar wat met betekenis lewe. Dit straal ’n inherente   menslike skoonheid uit, wat ander inspireer.

Ons weet nie hoe dik ons lewensboek is nie. Sommige mense het ’n lang lewe en daarom ’n dik lewensboek. Sommiges se lewe is kort en daarom is hulle lewensboek nie dik nie. Dit is egter nie die dikte van jou lewensboek wat jou lewe bepaal nie, maar die kwaliteit waarmee jy kreatief met wysheid omgegaan het in jou lewe.

Ons elkeen is ’n kers. Ons weet nie hoe lank ons kers is nie. Sommige mense het ’n lang kers en word tot diep in hulle tagtigs oud. Ek het onlangs tannie Mabel Faure se gedenkdiens gelei toe sy op 104 gesterf het. Ek het al ’n paar mense begrawe wat ouer as 100 geword het. Sommige mense sterf as kinders of  jongmense of as mense in hulle middeljare – hulle kerse was kort. Maar met ’n kort lewe kan jy net so ’n groot invloed uitoefen as iemand met ’n lang lewe. So baie jong soldate sterf in oorlogvoering as helde. Hulle kort lewe is dikwels ’n inspirasie vir ander. Sommige mense bereik in ’n kort lewe meer as iemand wat dubbeld sy of haar ouderdom is.

Ons weet nie wanneer ons by die slothoofstuk van ons lewe gaan uitkom nie, maar lewe elke dag “Carpe Diem”. Jy gryp elke dag en lewe met wysheid. Jy is die kunstenaar van jou lewe en van elke dag van jou lewe.

Wanneer jy in wysheid lewe, sal die handewerk van jou lewe bly staan, selfs tot na jou dood. Dit is die gebed van Moses in vers 17b, dat die Here die handewerk van ons lewe in stand sal hou. Jou nalatenskap word bepaal deur die vraag of jy ’n lewenskunstenaar was wat jou lewe uitgekerf en geskilder het met wysheid.

Hoe gaan mense eendag na jou en my dood, ons onthou? Gaan hulle ons sotlikhede onthou of gaan hulle ons wysheid onthou?

Joshua en Kaleb, wat positief was oor die uitkoms wat God kon gee as die beloofde land binnegeval word, het dan ook die beloofde land gesien. Die ander verspieders en die geslag ouer as twintig jaar het almal uitgesterf in die woestyn, want hulle het nie geglo dat die Here die beloofde land vir hulle kon gee nie. Hulle was ongelowig by Kades-Barnéa. Laat ons nie dieselfde fout maak en die sonde pleeg van Kades-Barnéa nie.

Laat ons elke dag voluit lewe! Ons moet met die betekenis van ons eie lewe op ons lewensdoek skilder. Ons moet die storielyn van ons eie biografie so skrywe dat ons daardeur ander mense kan inspireer.

Ons moet lewe om ander te inspireer. Dan lewe ek eers. Dan is my lewe betekenisvol. Dan is my lewe ’n doek en ek verf betekenisvolle momente daarop.

 Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)