Bekering as vereiste en geskenk van die Heilige Gees.

SKRIFLESING: Hand 9: 1 – 19 en 2 Tim 1: 3 – 7

Sommige mense is van oordeel dat bekering nie so ‘n belangrike saak is nie. Die hart van die Evangelie is mos immers dat ons uit genade gered word. Daarom word die bekering deur baie as slegs maar ‘n bysaak gesien, wat nou nie so belangrik is nie. Ek meen egter dat dit op sy heel beste ‘n misverstand is. Bekering is ‘n uiters belangrike saak.

Dink maar net ‘n oomblik aan die Nuwe Testament. Johannes die Doper, Jesus Christus en Petrus op Pinksterdag se intreepreke was bekeringspreke. Johannes die Doper preek: “Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemel het naby gekom.” (Hy voel so sterk hieroor dat hy die oordeel oor die volk aankondig as hulle nie bekeer nie.)

Jesus preek dieselfde teks: “ Die tyd het aangebreek en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die Evangelie.” (Anders as Johannes maak Jesus daarvan ‘n vreugdekreet. Jy kan byna nie anders as om jou te bekeer as jy besef wat nou gebeur nie.)

En op Pinksterdag sê Petrus: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus ….”

BEKERING IS GOD SE OPROEP TOT ‘N LEWE VAN DIENS EN DANKBAARHEID, WANNEER GOD BEKERING VRA – GEE HY OOK DIE BEGEERTE TOT BEKERING. 

Maar heel eerste moet ons onderskei tussen heidenbekering en verbondsbekering. Dit kan as volg beskryf word.

Heidenbekering – eerste bekering

Verbondsbekering – voortgaande bekering

Oorspronklik was die Jode die uitverkore volk van God gewees. Hulle was die mak olyfboom. Alle ander mense het tot die heidendom behoort. Maar in God se goedheid en barmhartigheid het hy sy uitverkiesing uitgebrei ook na die heidennasies. Hulle sou die wilde olyftakke wees, wat ingeënt word op die boom Israel. Goddank, God het ons ook uitverkies tot die lig, want ons was eers in die donkerte. Ons wat eers buite God se liefde was, het nou deur Sy uitverkiesende liefde in die kring van God se getree. Die heidenbekering of eerste bekering is soos ‘n lig wat aangeskakel word in ‘n donker vertrek.

Die wonder is, dat as God iemand uitverkies het, hy onweerstaanbaar werk. Hy stel geen keuses nie. Hy oorrompel so iemand met sy liefde. Paulus het byvoorbeeld geen kans gehad om te ontsnap nie. God het Paulus blind gemaak op die pad tussen Damaskus en Jerusalem, magteloos gemaak, om sy doel te bereik.

Verbondsbekering is die herhaalde terugkom van God se volk na hom toe. Dit is soos ‘n vader of moeder wat sy / haar kinders herhaaldelik vermaan. Omdat julle my kinders is en ek julle liefhet, moet julle so en so leef.

Belangrik is egter dat bekering nooit ‘n voorwaarde vir kindskap is nie, maar wel die natuurlike gevolg daarvan. (Daar bestaan nie so iets soos voorwaardelike Vaderliefde nie.)

In koningshuise en paleise word prinse en prinsesse geleer om hulle soos koningskinders te gedra. Ons is ook God se koningskinders, wat ons moet gedra soos hemelse prinse en prinsesse. Daarom roep God ons op tot daaglikse bekering. Bekering is nooit ‘n afgehandelde saak nie. Dit is altyd ‘n voortgaande proses. Ek mag nooit gearriveerd in my godsdiens wees nie.

John Newton (1725 – 1807), die skrywer van “Amazing Grace” het as slawehandelaar die grootste gedeelte van sy lewe gewerk. In 1748 het hy dramaties tot bekering gekom na ‘n storm op see, op die slaweskip die Greyhound. Hy het hom bekeer van dobbel en drank en vrouens en toe begin om as sober mens te lewe. Hy het gereeld die Bybel en godsdienstige literatuur te lees. Nadat hy ‘n beroerte aanval gehad het, het hy gaan leer vir ‘n priester en is toe ook as priester in die “Church of England” georden. Op nuwejaarsdag in die jaar 1773 het hy die bekende lied “Amazing Grace” bekend gestel aan die wêreld. Maar hy het hom nog nie bekeer van die praktyk van slawehandelaar nie. Eers in 1788, 34 jaar nadat hy die slawehandel as loopbaan verlaat het, het hy tot bekering gekom van slawerny.  Met ander woorde van sy eerste aanvanklike bekering tot sy bekering as slawehandelaar het 40 jaar verloop. Was sy eerste bekering dan nie eg gewees nie. Nee, sy eerste bekering was eg en uit die diepte van sy hart. Maar sy bekering van slawerny was voortgaande bekering. So moet ons daaglik onsself bekeer en sondige praktyke laat staan. Bekering is ‘n voortgaande daaglikse proses.

So ook het dit eeue geneem vir koloniale lande om tot bekering van kolonialisme te kom. Vir die Afrikaner gemeenskap het dit dekades geneem om tot bekering te kom van apartheid. Dit het vir die wêreld eeue en eeue geneem om tot bekering te kom, om vrouens as minderwaardig te ag en te mishandel. Ons is nog steeds nie daar nie.

Daarom moet ons, ons voortdurend ondersoek en seker maak wat in ons lewe is nie in lyn met God se wil vir ons lewe nie.

In die Deuterokanonieke boek Wysheid van Sirag in hoofstuk 18: 20 staan daar: “Ondersoek jouself vóór die oordeel, en jy sal vergifnis vind in ‘n tyd van toetsing.”

God wil van jou ‘n nuwe mens maak. Jy is uitverkies om ‘n diamant te wees. God wil ons slyp om te skitter op sy kroon. Verbondskinders is koningskinders, ons is kroondiamante. Omdat julle dit is, laat God julle slyp om beeld van God te wees. Verstaan u nou waarom bekering vir God so ‘n belangrike saak is.

  • Dit gaan oor Sy heerlikheid
  • Dit gaan oor Sy kroondiamante

Nou moet ons egter waarsku op ‘n gevaar. My bekering kan nooit die grond van my sekerheid word nie. Nee, nee …… JESUS CHRISTUS IS MY SEKERHEID EN NIE “MY BEKERING NIE.”

Wie sy sekerheid op “sy bekering” bou wil homself red. Dan het Jesus Christus mos verniet gesterf. “My bekering” is waardeloos voor God. Ek kan niks met “my bekering” voor God verdien nie. Jesus Christus is my sekerheid, nie “my bekering” nie, omdat Christus se sterwe vir my volledige verdienste is.

Bekering is wat God in my lewe laat gebeur.

God vra bekering, maar hy bewerk ook die bekering in my hart. Hy berei my hart voor om tot bekering te kom. Dit wat God vra, dit gee Hy ook. God kan deur ‘n preek vir my aanspreek om my lewe te verander of God kan ‘n krisis gebruik om my lewe te verander of Hy kan die getuienis van ‘n ander mens gebruik om my lewe te verander.

Nog ‘n laaste saak: NIE JOU DATUM NIE, MAAR JOU LEWE …..   

Sommige mense maak geweldig baie van ‘n mens se bekeringsdatum, dat hulle die eintlike saak waaroor dit gaan heeltemal vergeet, naamlik jou lewe. Heidene wat tot bekering kom het feitlik in alle gevalle ‘n bekeringsdatum, soos Paulus.

Maar verbondskinders hoef nie ‘n bekeringsdatum te hê nie. Hulle het net algaande besef dat God hulle Vader is en dat hulle sy kinders is, byvoorbeeld Timotheus, wat dit van sy ma en ouma geêrf het. Ek self het ook nie ‘n bekeringsdatum nie. Maar as ek moet een noem, wil ek saam met Bonhoeffer sê, dit was 2000 jaar gelede op Golgota gewees. Maar wat vir God tel, is jou lewe ……. want julle is God se koningskinders. Julle is God se kroondiamante. Julle lewe moet blink, want julle is kroondiamante, tot die eer en heerlikheid van God. Mag dit so wees.

Waar jy vroeër die dinge van die Here nie kon verdra nie, word dit nou die vreugde van jou hart. Waar jy vroeër weg van God geleef het, leef jy nou na Hom toe. Waar godsdiens vroeër plig was, word dit nou ‘n vreugde – ja, die spontane asemhaling van jou gees!

Bekering is soos lente in my geestelike lewe. Elke bekeerde daad is soos ‘n bloeisel wat nuut uitbot. Dit is ‘n getuienis van die Koninkryk van God wat naby gekom het.

Vra u vanoggend self af, waarvan wil die Here hê moet ek my bekeer? Wat is daar in my lewe wat verkeerd is? Mag die Here deur sy Gees u herhaaldelik tot nuwe bekerings lei. Mag u lewe bot. Mag u lewe al meer bloeisels dra, bekeerde dade.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Van geraamtes na ’n “Army” !

SKRIFLESING: Esegiël 37:1-14

Die Franse skrywer en filosoof, Voltaire, wat in 1778 dood is, het voorspel dat die kerk en die Bybel oor 50 jaar nie meer sal bestaan nie. So het verskeie doemprofete deur die eeue die doodsheid van die kerk beklemtoon. En tog is die Woord en ons steeds hier! Die kerk lewe nog steeds. Martin Luther het gesê: “Al blaak die hel van woede. Die Here  hou self sy kerk instand.”

Sonder Pinksterdag, sou die kerk geen toekoms gehad het nie. Na die opstanding van onse Here Jesus Christus het die dissipels hulleself toegesluit in die bovertrek, uit vrees dat hulle ook doodgemaak sou word. Hulle was nie instaat  om te getuig nie. Hulle was soos ‘n klomp doodsbeendere sonder enige lewe en asem.  Toe gebeur Pinksterdag. Dit is die geboortedag van die kerk. Die Heilige Gees het met wind en vuurtonge op hulle neergekom en hulle het begin lewe en getuig. Nou was hulle nie meer bang nie. Die kerk het begin lewe.  Tweeduisend jaar later en die kerk lewe nog steeds. Die kerk is soos ‘n “Army” wat verrys het uit geraamtes. Dit is God’s werk deur die Heilige Gees.

Die Here begin met jou werk, as jy jou werklike armsalige toestand voor God besef het. Wanneer jy ‘n geraamte in die kas het of as jy so hopeloos voel soos ‘n klomp dooie bene, dan begin God werk. So het die Here in Esegiël 37 gewerk.

Die volk Israel was in ‘n hopelose toestand. Die Here het Esegiël geroep as profeet toe hy 30 jaar oud was. Hy het as profeet opgetree vir 22 jaar. Esegiël 37 is waarskynlik geskryf met die tweede wegvoering deur Babilon ongeveer 587 vC.

In Esegiël het die Here in ‘n visioen aan Esegiël verskyn en in die visioen was daar dialoog tussen God en Esegiël. God vra en Esegiël moet antwoord.  In die gelese teks word gereeld na die Gees van God as “ruah jahweh” verwys. Dit is dieselfde Gees wat lewe in Adam, die mens geplaas het. Dit is ook dieselfde Gees, wat op Pinkstersondag uitgestort is op die kerk.

Die Heilige Gees bring altyd lewe daar waar daar doodsbeendere is. Waar jy in ‘n vasgeloopte situasie is, kan God altyd weer nuwe lewe en uitkomste bied.

In Esegiël 37: 4 word beklemtoon dat die Gees nie sonder die Woord werk nie. Daar staan geskrywe:  “Toe sê Hy vir my: “Profeteer oor hierdie beendere. Sê vir hulle, ‘Verdroogde beendere, luister na die woord van die Here.” Daarom het die Here Jesus vir ons Sy Gees en Sy Woord nagelaat.  Die Heilige werk deur die Woord. Daarom is ons ’n Woord kerk. Die Here skep geloof deur die Woord en Gees en Hy versterk ons geloof deur die sakramente.

In ons gelese gedeelte lees ons hoedat die Gees die beendere bymekaar laat kom en dit oordek met senings, vleis en ‘n vel. Maar die liggaam was nog sonder asem daarom staan daar in vers 9: “Hy sê toe vir my: “Profeteer vir die wind! Profeteer, mensekind, en sê vir die wind, ‘So sê my Heer, die Here: “Wind, kom uit die vier windrigtings! Blaas in hierdie doodgemaaktes, sodat hulle kan leef.”  So het die Here nuwe “asem” ingeblaas en ons laat lewe. Daarom is God se kinders ‘n magtige leër “Army”.

So het die Heilige Gees ook op Pinkstersondag van ons besit geneem, sodat ons begeesterde kinders van die Here kan wees. Ons behoort nie meer aan onsself nie, maar aan hom wat Sy Pinkstergees in ons geblaas het.

Ek het die volgende verhaal gelees in Woord en Fees wat deur Communitas gepubliseer is (9 Maart 2008). Ek haal dit woordeliks aan: “’n Amerikaanse Lutheraanse predikant vertel van die volgende ervaring by ’n erediens in sy gemeente, waar net ’n paar lidmate in die banke gesit het. Die leraar het daardie oggend oor sy gemeente uitgekyk en gedink: “Wat kan ek doen om bietjie lewe in ons aanbidding te blaas, om bietjie entoesiasme en emosie in ons ervaring van die erediens te kry? Miskien moet ek iets skokkends en kontroversieels sê. Dit sal hulle laat wakkerskrik! Of anders moet ek weer ’n slag oor die hel praat, oor die poel van vuur en die ewige verdoemenis waar ’n geween en gekners van tande sal wees. Dit sal hulle aandag kry! “Maar terwyl ek daardie Sondag so angstig soek na ’n geestelike pols by my gemeente, ontdek ek skielik tot my skok dat ek self amper nie meer een het nie. Ek het die laaste tyd mense getrou en begrawe, maar dit was net nog ’n troue, net nog ’n begrafnis. Ek kon my hart daar uithou. Dit was net nog take om af te handel. En iewers het die ware vreugde en die ware troos ook begrawe geraak onder die as in my eie hart. Ek besef skielik God het my nie na hierdie plek toe gestuur om mense soos dooie karre aan die brand te stoot of om lewe in ons aanbidding te blaas of om bietjie entoesiasme in ons deelname op te wek of op te werk nie. Hy het my na hierdie plek toe gebring om my en ander te leer dat sy Woord alleen mag het (Only the Word of God has power!).” Ja, ons ken ook ervarings van geestelike en emosionele doodsheid soos Israel in die tyd van Esegiël.”

‘n Sekere evangelis het geskryf, dat ons so dikwels wil hê dat die herlewing by ander mense moet begin. Ons sien die leë kerkbanke en bid dat hulle vol moet wees. Dan sê hy, dat hy ‘n fout gemaak het. Jy moet ‘n kring trek in die grond en in die middel van die kring gaan staan en sê Here begin by my. Ware herlewing begin by my, nie by ander nie.

Die laagte van doodsbeendere simboliseer die totale hopeloosheid van die volk in ballingskap. Die bene lê verstrooid, droog en gebleik in die son. Daar was nie eers ‘n behoorlike begrafnis nie. Die bene het geen identiteit meer oor nie. Jy kan nie eers die bene aan iemand koppel nie. Selfs honde word begrawe. Hierdie mense was meer hopeloos as ‘n weggooi hond. Die laagte van doodsbeendere is simbolies van die volk Israel wat in ballingskap sit. Hulle het hulle land, hulle geliefdes, hulle koning, hulle tempel en hulle stad Jerusalem verloor. Dit was asof die einde van die wêreld is.

So is daar baie mense wat in hopelose situasies is. Mense wat alle kontak met God en met ander mense verloor het. Daar is mense wat in finansiële skuld vasgevang is, mense wat terminaal siek is, mense wat aan dwelms verslaaf is, mense in verhoudingsprobleme of mense wat net geen sin in die lewe meer raaksien nie. Hulle het kontak met die realiteit verloor.

Esegiël sê duidelik dat God se Woord nuwe lewe skep. “Net die Woord van die lewende God kan aan dooie bene ore gee! Wat moes die Lutheraanse predikant en sy gemeente leer? “Only the Word of God has power!” Die mag wat my en die siening van my situasie verander, word deur die werking van die Gees van buite my deur God se Woord aan my toegesê.” (Aangehaal uit Woord en Fees wat deur Communitas gepubliseer is op 9 Maart 2008)

“Esegiël moet God se boodskap gaan oordra al moes hy gril oor hierdie droom van die vallei van droë bene. Want Esegiël was ’n priester. Die Joodse wet het in Numeri 19:16 aan hom gesê: “Enigiemand wat in die veld aan ’n persoon raak wat doodgemaak is of aan ’n mensbeen of ’n graf, sal sewe dae lank onrein wees.” Maar wat doen Esegiël ondanks dit alles: “Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is.” Gehoorsaamheid aan die Gees beteken om ook soos God mense te ontmoet waar hulle is – in hul diepste hartseer, verslaenheid en grootste krisis. Ons is mos bang daarvoor of vermy dit, asof ander se krisis of hartseer my ook sal aantas of “besoedel” – ook my gees en gemoed sal aftrek.” (Aangehaal uit Woord en Fees wat deur Communitas gepubliseer is op 9 Maart 2008)

So wil die Here uit ‘n laagte vol doodsbeendere en geraamtes vir hom ‘n weermag, ‘n “Army” skep, wat hom dien en gehoorsaam is. Hierdie begeesterde “Army” wil hy bewapen met die Woord, om diensbaar te wees. Hierdie begeesterde “Army” leef onder die leiding van die Gees, op pad na die wederkoms om met God -Drie-Enig verenig te word.   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Mirjam het te groot vir haar skoene geraak.

SKRIFLESING: Eksodus 15: 20 – 21 en Numeri 12: 1 – 15

Wat baie gelowiges nie weet is dat Moses, Aäron en Mirjam, die drie herders van Israel was. Hulle was ook broers en suster. Hulle het dieselfde ouers gehad. Hulle het as drie herders die volk Israel uit Egipte, uit slawerny gelei na die beloofde land. Vir veertig jaar het hulle as ’n span saamgewerk om die Israeliete te lei.

Moses as leier, was ‘n tipe van ‘n koning, Aäron was ‘n priester en Mirjam was ‘n profetes.   Duidelik kom die drie ampte van die Ou Testament hier na vore.

Ons lees die eerste keer vir Moses raak, toe sy moeder hom versteek in ‘n mandjie met pik besmeer en tussen die biesies van die Nylrivier versteek het, sodat die Egiptiese soldate hom nie kon doodmaak nie. Farao het mos beveel dat alle babaseuntjies met geboorte doodgemaak word, aangesien hy gesien het hoe die Israeliete vermeerder het. Hy was bang vir ‘n staatsgreep. Ons lees dan hoe sy suster Miriam haar boetie oppas. Toe een van die Egiptiese prinsesse hom vind en die seuntjie wil aanneem het Miriam gereël dat die seuntjie geborsvoed word totdat hy gespeen is. Dan sou sy hom na die paleis neem.

Ons lees die eerste keer van Aäron, toe die Here vir Moses roep by die brandende braambos om die volk Israel uit Egipte uit die plek van slawerny te red. Moses se verskoning was dat hy gehakkel het. Daarom het die Here vir hom sy broer  Aäron gegee om namens hom te onderhandel en te praat.

Van Mirjam lees ons weer in Eksodus 15: 20 – 21, waar sy die vroue begelei met ’n lofdans. Duidelik kom haar leierseienskappe na vore: “Toe het Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, ‘n tamboeryn in haar hand geneem, en al die vroue het agter haar aan uitgegaan met tamboeryne en in ‘n kring gedans. Mirjam het vir hulle die refrein gesing:   “Sing vir die Here,   want Hy is hoog verhewe.   Die perd en sy ruiter   het Hy in die see geslinger.”

Die driemanskap was geseënd en hulle het goed saamgewerk. Maar dan lees ons van ‘n tragiese gebeurtenis wat ontstaan het tussen hulle drie.

In Numeri 12 lees ons hoedat Mirjam en Aäron vir Moses aanspreek oor hy met ‘n Kussitiese vrou getrou het. Talle kommentare beweer dat die vrou waarskynlik ’n swart vrou was. Beslis was hier sprake van rassisme, oor Moses oor die etniese grense getrou het.

Maar die eintlike probleem vir God was dat Mirjam en Aäron die gesag van Moses wou ondermyn. Hulle sê in Rut 12: 2 die volgende:  “Is dit dan net deur Moses wat die Here gepraat het? Het Hy nie deur ons ook gepraat nie?” Die Here het dit gehoor.

Moses was ‘n uiters beskeie en sagmoedige mens. Mirjam en Aäron het te groot vir hulle skoene geword. Die Here het vir Moses in die posisie geplaas as leier van Israel. Dit wil hulle nou ondermyn. Skielik is daar ’n skeuring in die driemanskap.

Die Here hou nie daarvan dat Moses geboelie word nie. Die Here hou nie van die skeuring in die driemanskap nie.  Onmiddellik het Hy al drie na die tent van ontmoeting gestuur. Daar staan toe dat die Here in ’n wolk afgekom en by die ingang van die tent gaan staan het. Toe het die Here vir Mirjam en Moses nader geroep en gesê in Numeri 12: 6 – 8 as volg: “Luister nou na my woorde:   “As daar ‘n profeet onder julle is, sal Ek, die Here, Myself   in ‘n visioen aan hom bekend maak;  in ‘n droom sal Ek met hom praat. Met my dienskneg Moses is dit anders. In my hele huishouding is hy betroubaar. Van aangesig tot aangesig praat Ek met hom, in ‘n verskyning, nie in raaisels nie; die verskyningsvorm van die Here sien hy. Waarom was julle dan nie bang   om teen my dienskneg, Moses, uit te vaar nie?”

Toe het die toorn van die Here ontvlam en toe die wolk van die tent optrek was Mirjam melaats gewees. Dit was in daardie tyd ‘n ongeneeslike gesig. Waarskynlik het die Here net vir Mirjam so erg gestraf omdat sy die aanhitser was en Aäron haar gevolg het. (Mirjam se naam word telkens in die gebeure eerste genoem.)

Omdat Moses sagmoedig was het hy ernstig tot die Here gebid en om vergifnis gevra vir Mirjam en Aäron. Hy het gevra dat die Here tog vir Mirjam sal gesond maak.

Die Here se hart het toe versag, na Moses se gebede. Die Here het die vonnis versag na slegs 7 dae van melaatsheid en uitsluiting uit die kamp.

Hulle het toe vir Mirjam 7 dae uitgesluit uit die kamp en die volk het nie verder getrek nie. Hulle het gewag tot Mirjam gesond is voordat hulle verder getrek het. 

Wat kan ons uit die verhaal van Mirjam leer?

Dat Here vroue gebruik as leiers en ook as geestelike leiers. Mirjam was ‘n profetes. Sy het eintlik die werk van ‘n predikant gedoen. Daarom het die kerk die afgelope 2000 jaar baie skade gely deur nie vir vrouens in geestelike leierskapsposisies te plaas nie. Ons is dankbaar dinge het verander en dat vrouens ook die kerk kan verryk.

Die Here hou nie van mense wat skeuring veroorsaak nie. Mirjam en Aäron het Moses probeer weg werk. Toe werk die Here vir Miriam weg vir 7 dae buite die kamp met melaatsheid. Daarom moet ons strewe na eenheid.

Mirjam se probleem was haar jaloesie op Moses. Sy wou soos Moses wees. Net so wou Eva in die begin ook soos God wees. Die meeste rusies word veroorsaak deur jaloesie.

Mag die Here ons help om nooit te groot vir ons skoene te raak nie. Mag ons, ons eie roeping raaksien en dit uitleef! Wees net jouself, moenie soos Mirjam probeer om soos Moses te wees nie.

Wees jouself. Dit is goed genoeg!   

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Wanneer die lewe jou klap, kom die uitkoms op vreemde maniere.

SKRIFLESING: Rut 1 – 4

Die boek Rut begin met “In die jare toe die rigters nog regeer het”. Dit was nog voor die koningstydperk. Dan word daar vertel van ‘n hongersnood wat in die land was. Nêrens word God beskuldig van die hongersnood nie. Die mense van Israel was gewoond aan goeie jare en onder gemiddelde reënval en ook droogtes. Die droogte in Rut word beskryf as “hongersnood”. Daar was werklik nie genoeg kos vir almal om te eet nie.

Dan lees ons van ‘n man Elimelek, wat beteken “God is Koning” Sy vrou se naam is Naomi en dit beteken “lieflik aangenaam”. Hulle het ook twee seuns gehad, wat nie baie gesond was nie, naamlik Maglon en Kiljon. Maglon beteken “siek” en Kiljon beteken “gedaan”. Hulle het as gesin weggetrek uit Bethlehem, wat beteken “plek van brood” na Moab. Dit is insiggewend, dat die plek van brood, nie meer brood gehad het om te eet nie. Hulle trek na Moab. Die Israeliete het neergesien op die Moabiete. Daarom was dit vir Ebimelek ‘n vernedering om by die Moabiete te bly, ter wille van brood.

Tydens die uittog uit Egipte, toe die volk op pad na Kanaän was het hulle deur die landgebied van die Moabiete gereis, maar die Moabiete het geweier om vir hulle brood te gee. (Neh 13: 1 – 2) Nou het Elimelek en sy gesin genade gevind by die Moabiete.

In Moab het haar man Elimelek gesterf. Sonder ‘n man in die antieke tyd was ‘n vrou weerloos en uitgelewer aan armoede. Gelukkig het sy twee seuns gehad. Hulle het getrou met twee Moabitiese meisie Orpa en Rut. Die betekenis van hulle name was as volg. Orpa beteken: “die een wat haar rug draai” en Rut beteken “ vriendin, die een wat by jou staan.” Natuurlik was die twee huwelike skindernuus gewees, want vir die Iaraeliete was rasegtheid baie belangrik.

Dan sterf Maglon en Kiljon. Hulle name se mos hulle gaan nie lank lewe nie. Nou is al die manlike lede van die familie dood. Die drie weduwees bly oor, sonder ‘n heenkome en vastigheid. Vir die soveelste keer gaan dit in die Bybel nie oor sterkes nie, maar ook swakkes. Nie oor mans nie, maar oor vroue. Nie oor belangrikes nie, maar oor onbelangrikes.

Vir tien jaar het Naomi in Moab gebly.

In vers 6 lees ons hoedat dit weer beter gaan in Betlehem en dat die Here ‘n goeie oes gegee het. Naomi wil nou terug gaan na Betlehem, want die “huis van brood” het weer brood. Sy en haar twee skoondogters het reggemaak om te vertrek. In vers 1: 8 sê Naomi vir haar skoondogters dat hulle liewer moet teruggaan na hulle ouerhuise, want daar is vir hulle geen toekoms saam met haar nie. Naomi sê: “Die Here het immers sy hand teen my uitgestrek.” Die 1983 vertaling vertaal dit “dat die Here teen my gedraai het.’ Albei het gehuil en gepleit om saam met haar te gaan. Dan redeneer Naomi weer ernstig met hulle en Orpa het van haar afskeid geneem. Vir haar skoondogters was daar nog ‘n toekoms, hulle kon weer trou en kinders kry, maar vir Naomi was daar geen toekoms gewees nie. Rut het egter aangedring om saam met Naomi te gaan. Rut sê: “Moet my nie probeer dwing  om u te verlaat nie   of om van u af weg   te gaan nie, want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u bly, sal ek bly. U volk is my volk, u God is my God. Waar u sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word.”

Rut het toe saam met Naomi gegaan na Betlehem. Daar was groot opgewondenheid toe hulle haar herken in Betlehem. Naomi het egter gesê: “Moet my nie Naomi noem nie, noem my Mara (dit beteken “bitter”), want die Almagtige het dit vir my  baie bitter gemaak.  Met ‘n vol lewe is ek hier weg, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom my Naomi noem terwyl die Here my teenstander  geword het  en die Almagtige my kwaad  aangedoen het?” Dit gebeur dikwels in die Bybel, dat Bybelpersone in ‘n worstelstryd met God is en hulle woede teenoor God uitspreek.

Maar eintlik is sy kortsigtig. Sy sien nie raak dat die Here vir haar in die persoon van Rut geseën het nie. Haar toekoms en uitkoms is Rut. Sy sien nie die goedheid van die Here raak nie. Die Here het klaar vir haar voorsien en versorg in die persoon van Rut.

Naomi sien God net raak as die “magtige” en nie as die “almagtige”. Toe dinge skeef loop in haar lewe, blameer sy God, want God se mag het grense. Sou sy hom as die Almagtige raaksien, sou sy vir Rut raaksien as die uitkoms in haar lewe. Somtyds blameer ons God oor goed wat in ons lewe gebeur, omdat ons hom net as “magtig” ervaar. Wie God egter as “almagtig” ervaar, weet dat God agter die skerms aan die werk is vir ‘n groter en beter plan.

Nie in die goeie oeste nie, maar in Rut wat by haar is, is God teenwoordig in Naomi se lewe. Kobus Myburgh en Annene Mullins skryf aangrypend: “ Toe dinge pikdonker lyk, word ‘n Moabiet die lig in Mara se lewe. Toe die lewe Naomi klap, staan Rut haar by. Dit is God aan die werk.”

In hoofstuk 2: 1 stel die skrywer ons bekend aan die volgende belangrike rolspeler in die verhaal, naamlik Boas. Boas was ‘n vermoënde familielid van haar man Elimelek se kant af. Die Hebreeus sê “Naomi het gedink aan Boas”. Hy sou hulle enigste uitweg wees. Rut het dit gehoor van Naomi en haar eie planne gemaak.

Dan lees ons hoedat Rut gaan are optel en dan spesifiek ook op Boas se lande. In die antieke tyd was die gebruik gewees wanneer koring geoes word, mag die wees en weduwees agter die snyers aanloop en die are optel wat hulle gemis het om op te tel.  Sy het spesifiek na Boas se lande gegaan. Rut se doel was om Boas se aandag en guns te wen. Toe Boas van sy huis op die dorp by sy landerye aankom vra hy vir die skeerders wie is die meisie? Hulle antwoord hom toe deur te sê dit is ‘n Moabitiese meisie wat saam met Naomi van Moab gekom het. In vers 2:8 begin Boas met Rut praat. Hy spreek haar aan met ‘n intieme aanspreekvorm, naamlik “dogter”. Hulle is nie op dieselfde vlak nie. Boas is welvarend en hoof van ‘n familie. Rut is minder as niks. Sy is ‘n vreemdeling – weduwee uit Boas. Maar Boas het sy goedgesindheid aan haar bewys. Hy sê vir haar: “Luister, my dogter, jy hoef nie in ‘n ander land te gaan are optel nie. Moet selfs nie eers hiervandaan weggaan nie. Bly by my vrouewerkers,  kyk in watter land hulle oes en volg hulle. Ek het my werkers uitdruklik beveel om jou glad nie lastig te val nie. As jy dors is, moet jy na die kruike gaan en drink van wat die werkers daar skep.”

Rut, die vreemdeling weduwee uit Moab staan nie meer alleen buite in die koue nie. Boas het hom oor haar ontferm. Boas het selfs toegelaat dat sy meer as die normale hoeveelheid are optel. Hy het vir sy snyers uitdruklik opdrag gegee om ekstra are te laat val, sodat Rut dit kan optel. In vers 17 staan daar dat Rut tot die aand are opgetel het. Toe sy dit uitgeslaan het, was dit ongeveer 13 kilogram. Die Hebreeus sê sy het ‘n “eva” uitgeslaan. Sy het in oorvloed opgetel. Dit was genoeg om ‘n peleton soldate kos te gee. Hierdie voorraad sou lank hou. In ‘n wêreld waarin mense probeer om net vir vandag genoeg te hê, gaan sy met ‘n oorvloed huis toe. Daar is weer brood in die huis van brood.

Naomi het haar uitgevra, oor waar sy die oorvloed gekry het. Sy verduidelik dat dit Boas was, wat so goed vir haar was. Nou dink Naomi aan haar opsies. Boas is verlangs haar losser omdat haar man Elimelek nie broers gehad het nie.

In die antieke tyd, wanneer ‘n man sterf moet die broer of familielid van die oorledene sorg neem vir die weduwee.

Intussen moedig Naomi vir Rut aan om op Boas se lande op te tel, want dalk sal sy op ander lande lastig geval word of nie aanvaar word nie.  Rut doen iets. Sy maak hulle spens vol koring.

Maar Naomi het ‘n plan. Haar plan gaan oor haar eie toekoms. Eintlik is sy selfsugtig. Des nieteenstaande vat God Naomi se hand en help haar om haar doel te bereik.

Naomi stuur vir Rut na die dorsvloer toe op ‘n spesifieke aand. Die dorsvloer het op ‘n heuwel gelê. Wanneer die aandwind opkom het die werkers die koring en kaf van mekaar geskei. Naomi weet dit is Boas se beurt. Boas is nie alleen daar nie. Sy werkers eet en drink saam met hom. Dit is ‘n groot geleentheid. Van die oes moes hulle lank leef. Die oesfees was die Joodse Pinksterfees wat na Christus die fees geword het waarop die uitstorting van die Heilige Gees gevier word.

Naomi het aan Rut gesê om haarself mooi aan te trek en sy moes lekker ruik en dan moes sy wanneer Boas en sy werkers klaar geëet en gedrink het, by sy voete gaan lê. By die voete gaan lê is in Hebreeus: “ maak sy bene oop en gaan lê by hom” Dit is dus beslis ‘n seksuele verwysing van hoe sy by hom moes gaan lê.

Na Boas waarskynlik te veel gedrink het, het hy aan die punt  aan die agterkant van die mied wat bietjie privaat was, aan die slaap geraak. Dis toe dat Rut in ‘n seksuele posisie by hom gaan lê het. In die nag word hy wakker en is verbaas om ‘n vrou by hom te sien lê. In vers 3: 9 staan daar: “Wie is jy?” vra hy. Sy antwoord: “Ek is Rut, u slavin. Gooi die soom van u kleed oor u slavin, want u is die losser.” Dadelik het hy op haar verlief geraak. Alles was vir hom te veel. Haar verleidelike mooi liggaam, haar lekker reuk, die wyn en sommer alles het hom smoorverlief op haar gemaak. Die enigste probleem was dat hy nie die naaste losser is nie. Maar hy het haar belowe om daarmee ‘n plan te maak. Hy het haar uitgenooi om by hom te lê tot die son opkom.

Die volgende oggend het Boas al vir sy toekomstige skoonma Naomi begin sorg. Hy het vir haar 26 kilogram gars gegee, want hy kan nie met leë hande by sy aanstaande skoonma aankom nie.     

Intussen het Boas na die stadspoort gegaan en die losser ontmoet in die teenwoordigheid van die tien leiers van die stad.  Hy het vir die losser gevra of hy die stuk grond van Elimelek wil koop. Die losser het “ja” gesê. Toe vra Boas of hy met die Moabitiese weduwee sal trou, sodat die grond in die oorledene se familie bly. Skielik is die losser bang dat sy eie eiendom in gevaar kom. Toe sê die losser, Boas kan maar die losser wees.

Met die uitruil van ‘n skoen is die transaksie toe beklink.  Boas het dadelik met Rut in die huwelik getree. Uit die huwelik is Obed gebore wat een van die voorvaders van Dawid was en uit wie se geslagslyn uiteindelik Jesus Christus gebore sou word.  

Die vroue het vir Naomi gesê in vers 4: 14 – 15:   “Die Here moet geprys word! Hy het jou vandag nie sonder ‘n losser gelaat nie.   Mag dié losser beroemd wees in Israel. Mag hy jou lewenslus herstel en jou versorg op jou oudag.  Jou skoondogter, wat jou liefhet,   het hom in die wêreld gebring,   sy wat vir jou meer werd is as sewe seuns.”

Wanneer die lewe jou klap, kom die uitkoms op vreemde maniere. Naomi hoef haarself nie meer Mara (bitter) te noem nie. Haar lewenslus is herstel. Sy is versorg. Die Here het op vreemde maniere vir haar uitkoms gegee.              AMEN

BRONNELYS

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Mullins A & Myburg, K 2018. Rut, God deur mense by mense. Wellington: Bybel – Media

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die vleesvrou en die geesvrou.

SKRIFLESING: Luk 10: 38 – 42 en Joh 12: 1 – 8

In die ou tyd is daar van geestelik en beestelik gepraat. In die Kerkjeugaksie moes die program van die jaar ‘n sekere aantal geestelike aande hê en ‘n aantal beestelike aande. Met geestelike aande is bedoel, bybelstudie of ‘n geestelike onderwerp. Met beestelike aande is bedoel plesier, ‘n ete of speletjies. Gewoonlik moet die program meer beestelik as geestelike aande hê om die jongmense te trek.

In ons gelese gedeelte lees ons van twee susters Marta en Maria. Marta word gewoonlik eerste in die Evangelies en daarom was sy waarskynlik die oudste. Marta het haar eie huis in Betanië besit, wat ’n ongewone verskynsel was in die Bybelse tydperk. Die twee susters het ook ‘n broer gehad met die naam Lasarus, vir wie die Here uit die dood opgewek het. Hierdie gesin was baie naby aan die Here Jesus. ‘n Mens kan amper sê hulle was huisvriende.

In ons gelese gedeelte van Lukas lees ons hoedat Jesus besoek gebring het aan Marta en Maria. Marta was die vleeslike vrou. Sy het haar  bekommer oor baie dinge wat gedoen moes word in die huis en ook oor die bediening van die kos. Maria was die geestelike vrou en sy het aan die voete van die Here Jesus gesit en geleer van al die wysheid en onderrig van die Here Jesus. Die feit dat sy aan die voete van die Here gesit het, was ook baie ongewoon. Vrouens is nie toegelaat om aan die voete van ‘n rabbi te sit om onderrig te word nie. Slegs mans het daardie voorreg gehad. So het Jesus teen die Joodse gebruike in vir vroue gelyk geag as mans.

Dan lees ons van die ongeduld van Marta teenoor Maria. Sy kla as’t ware vir Maria aan by Jesus, sou Maria lui wees. Hoor wat sê Martha: “Here, pla dit U nie dat my suster my alleen los om te bedien nie? Sê tog vir haar om my te help!” Marta is die besige by, wat net werk en besig bly en dan ook nog simpatie by die Here soek. Marta, as vleeslike persoon is net met die alledaagse dinge besig. Die tyd dat die Here Jesus gekruisig moet word kom nader. Sy koester nie die laaste geleenthede met die Here nie.

Maria aan die anderkant sit aan die voete van die Here Jesus en is leergierig. Sy is die geestelike vrou. Vir haar kan die alledaagse wag. Sy is soos ‘n spons wat alles insuig wat die Here vir haar leer. Calvyn het nie verniet gesê dat ‘n mens ‘n “teachable mind” moet hê nie. ‘n Mens moet altyd bereid wees om te leer.

Dan antwoord die Here Jesus vir haar in Luk 10: 41 – 42:  “Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die goeie deel gekies; dit sal nie van haar af weggeneem word nie.”

Die Here sê nie dat Marta verkeerd optree of dat sy nie met vleeslike dinge besig moet wees nie. Inteendeel Marta ondersteun sy bediening en is gasvry. Hy beklemtoon net dat Maria haar besig hou, met die noodsaaklikste, naamlik om geestelik te leer en te groei.

In Johannes 12: 1 – 8, lees ons opnuut van Marta wat as vleesvrou die ete bedien het. Maria het hier weereens as geesvrou, geestelik opgetree deur ‘n halfliter egte, baie duur nardusolie op Jesus se voete uit te giet en sy voete met haar hare af te droog.  Jesus laat haar toe en sien dit in die lig dat sy hom salf met die oog op sy begrafnis wat binnekort plaasvind. Die mense sê moes: “Moenie vir my blomme gee vir my begrafnis nie. Gee dit vir my terwyl ek nog leef en dit kan waardeer. Maria, het vir Jesus vereer, terwyl hy nog by hulle is.

Ek is bevrees dat ons lewe ook so opgeslurp word deur die alledaagse vleeslike doenighede. Ons hardloop rond soos ‘n springhaas om by alles uit te kom. Ons is in die aand stokflou, sonder om by die geestelike uit te kom.

Bybelstudie en gebed moet soos die hamer en beitel wees waarmee ek al dieper in beitel in die kosbaarhede van God se Woord. Dit is baie belangrik dat ek tyd maak om met die Here te gesels. Ek moet mediteer  oor die Woord. In Dan 6: 11 lees ons hoedat Daniël drie maal per dag tot die Here gebid het. Ons lees dit was sy gewoonte gewees om na sy binnekamer te gaan om tot die Here te bid. Ja, selfs toe hy vervolg is het hy voortgegaan met hierdie goeie gewoonte van hom.

In Mark 1:35 lees ons weer hoedat die Here tyd gemaak het om met sy Vader te praat. Ons lees hoedat Hy die môre vroeg toe dit nog nag was opgestaan het, buitentoe gegaan het na ‘n eensame plek en daar gebid het. Hoeveel te meer het ons dit nie nodig wat maar gewone mense is nie.  Baie keer is ons verskoning dat ons te besig is (net soos Marta) . Maar kyk hoe besig was die Here Jesus. Ons lees in Mark 1: 32 -34 hoe hy duiwels uitgedryf het, siekes gesond gemaak het en gepreek het. Die mense het sommer so saamgedrom daar waar hy gepreek en opgetree het. Maar te midde van sy besige program het hy tyd gemaak vir sy stiltetyd soos ons reeds in Mark 1: 35 gesien het. Martin Luther, die groot kerkhervormer het gesê: “Hoe besiger my dag, hoe meer moet ek bid.” Soos ek elke dag tyd maak om aan te trek en kos te maak en te werk, so moet ek tyd maak vir my stiltetyd. My stiltetyd moet vir my belangriker wees as my etes van elke dag.

Ek moet elke dag my vleeslik besig hou met die alledaagse, maar die belangrikste is om ook elke dag geestelik besig te wees. Dan sal ek die rus en die vrede van die Here Jesus elke dag geniet. Wees “teachable” Laat jou onderrig. Ons moet lewenslank aan die voete van die Here Jesus sit. As jy nie “teachable” is nie, kan jy nie geestelik groei nie. As jy nie tyd maak vir geestelike groei nie, is jy soos ‘n boom met ‘n swak ontwikkelde wortelsisteem. As die storm kom, dan waai die boom om.

Dien die Here prakties soos Marta gedoen het, maar ontwikkel ook geestelik soos wat Maria gedoen het.  

Dan sal jy geseënd genoem word.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die regte vrou op die regte tyd, om ’n Auschwitz te keer.

SKRIFLESING: Ester 1 – 10

Om die regte tyd op die regte plek te wees, is die boodskap van die boek Ester.

Dit is amper soos om ‘n volmaakte foto op die regte oomblik te neem. Die foto het volmaakte skoonheid wat, tyd, posisie en omstandighede speel alles saam.

Die boek Ester, speel af in die tyd van Koning Ahasveros. Hy het regeer oor 127 provinsies, wat gestrek het van Indië tot by Kus. Dan lees ons hoedat die koning in die stad Susan vir almal ‘n week lank in die paleistuin onthaal het. Op die sewende dag het hy sy vrou, koningin Vasti ontbied om soos ‘n stoetkoei voor almal te paradeer. Vasti het nie kans gesien om haarself so te verneder voor ‘n klomp dronk mans nie en sy het botweg geweier. Die koning se amptenare was bekommerd gewees, dat Vasti ‘n slegte voorbeeld stel aan die vroue in die land en dat al die vrouens in die land nie meer na hulle mans sal luister nie. Dit sal die mans woedend maak. Die koning was toe verplig gewees om ontslae te raak van koningin Vasti.

Later toe die koning se woede bedaar het, het hy nog steeds aan Vasti gedink. Die amptenare reël toe dat dat ‘n nuwe koningin gesoek moet word vir die koning. Na ‘n lang siftingsproses het die koning toe op Ester, ‘n Joodse meisie besluit as nuwe koningin. Ester se oom het egter vir haar gesê dat sy haar Joodse afkoms geheim moet hou.  

In dieselfde tyd het Ester se oom Mordegai by die poort van die koning se paleis gesit. Hy het toe gehoor hoe twee paleisbeamptes Bigtan en Teres saamspan om koning Ahasveros te vermoor. Mordegai het dit toe oorgedra aan koningin Ester en sy het dit weer vir haar man Koning Ahasveros vertel. Daar is ondersoek gedoen en die waarheid het uitgekom en die twee is aan die galg opgehang.

‘n Tyd daarna het die koning vir Haman, bevorder as hoof oor al die amptenare. Al die amptenare en dienaars moes voor Haman kniel. Mordegai die Jood het egter geweier om te kniel. Hy het ook openlik verklaar dat hy ‘n Jood is.

Haman het toe gaan kla by die koning oor ’n sekere volk wat hulle apart hou van die ander nasies. Hy het voorgestel dat hulle doodgemaak word. Haman sou selfs die koning betaal om die volk uit te wis. Die koning het gebied dat hy kon doen wat hy wil, maar die silwer kan hy maar hou. Haman het toe briewe laat uitstuur dat alle Jode in al die provinsies op die dertiende dag van die twaalfde maand, die maand Adar uitgewis word en dat beslag gelê moet word op al hulle eiendom.

Toe Mordegai dit hoor het hy sy klere geskeur en as op sy kop gestrooi en klaend in die stad rondgeloop. Mordegai het toe ‘n versoek gerig aan Ester om die Joodse volk van uitwissing te red. Mordegai se boodskap aan Ester was in Ester 4: 13 – 14 as volg: “ het Mordegai haar laat weet: “Moenie dink dat net jy, van al die Jode, sal ontkom omdat jy in die koninklike paleis woon nie.  Want as jy wel in hierdie tyd sou swyg, sal daar uitkoms en redding vir die Jode van ‘n ander plek af kom; maar jy en jou familie sal omkom. En wie weet of jy nie juis vir ‘n tyd soos hierdie koninklike status verkry het nie?”

Ester het toe vir Mordegai gevra dat al die Jode vir drie dae en nagte niks eet of drink nie. Sy en haar kamerpersoneel sou dieselfde doen.

Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die paleis gestaan. Die koning het haar skoonheid bewonder en sy goue septer na haar uitgesteek en sy het dit aangeraak. Die koning vra toe, dat sy enigiets kan vra en hy sal dit vir haar gee. Sy vra toe dat die koning sal kom na die ete wat sy vir Haman gaan voorberei. Sy sal met die ete haar wens vir die koning gee.

Intussen het Haman ‘n galg van 23 meter gebou om vir Mordegai daaraan op te hang. Sy woede vir Mordegai wat nie voor hom kniel nie het oorgeloop.   

Intussen het die koning een slegte nagrus gehad oor hy nie vir Mordegai behoorlik bedank het, dat hy sy lewe gered het van die sluipmoord wat op hom beplan was nie.

Die oggend vroeg kom Haman na die voorhof van die koning om aan te beveel dat Haman gehang moet word. Die koning vra egter eers aan Haman wat gedoen moet word aan iemand aan wie die koning groot eer wil bewys. Haman dink dat die koning aan hom wil hulde bewys. Hy stel toe voor dat die persoon op ‘n perd moet ry, waarop die koning ook gery het en ‘n pers kleed moet dra, wat die koning ook gedra het en dat die persoon na die stadsplein begelei moet word en daar moet uitgeroep word, so word gemaak met die mens aan wie die koning hulde bewys.  

Toe hoor Haman die skok van sy lewe. Die koning sê hy moet dit aan Mordegai doen. Baie skaam en bevrees het Haman na sy huis toe gegaan. Daarna is hy ontbied na die onthaal wat Ester gereël het.

By die onthaal saam met die koning en Haman, het die koning weer vir Ester gevra wat is haar wens. Sy merk toe op dat iemand vir haar en haar volk wil uitwis. Die koning is dadelik ontsteld en vra wie dit is. Sy sê toe dit is hierdie lae mens Haman. Die koning is so ontsteld, dat hy uitstap na die buite tuin. Intussen gaan sit Haman by Ester op die rusbank en smeek by Ester vir sy lewe, want hy het klaar gesien dat die koning hom gaan doodmaak. Toe die koning inkom en hy sien vir Haman op die rusbank, vra hy of Haman nou vir die koningin ook wil aanrand.

Dadelik is Haman geblinddoek en is gehang aan dieselfde galg wat hy vir Mordegai gebou het.

Toe die koning se woede bedaar het, het hy al die eiendom van Haman aan Ester gegee. Ester het ook haar verwantskap aan Haman bekend gemaak aan die koning. Maar die koning kon egter nie sy vorige proklamasie ongeldig verklaar nie. Dit was bindend. Hy het egter ‘n nuwe proklamasie uitgevaardig, dat die Jode hulle mag verweer en verdedig teen enige aanvalle teen hulle. So is ‘n “Auschwitz” van Jode gekeer.

In hoofstuk 9 word beskryf hoe die Jode hulle vyande by die duisende doodgemaak het. Die Jode het hulle vyand heeltemal verslaan. Mordegai het toe tweede in bevel onder koning Ahasveros geword en hy het deurgaans die belange van die Jode bevorder. Elke jaar op die 14 de en 15 de dag van Adar word die Purimfees gevier. Volgende jaar sal dit op die 16 de en 17 de Maart 2022 gevier word.

Wat leer ons uit die verhaal van Ester? Dat niks toevallig gebeur nie. Somtyds as jou omstandighede in ‘n doodloopstraat is, kan God uitkoms gee. Soms plaas God jou in ‘n situasie, wat jy nie verstaan nie. Maar dan is jy juis op die presiese oomblik, op die presiese plek waar God jou wil gebruik. Niks is toevallig nie.

Juis in ‘n verwarde tyd soos hierdie, wil God ons gebruik as Christene om ‘n verskil in ons omgewing en in ons land te bring.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)    

Abigajil, die vrou wat ‘n vredemaker was.

SKRIFLESING: 1 Samuel 25: 2 – 44

In ons gelese gedeelte lees ons van Abigajil, wat met ‘n korrelkop en onbeskofte man Nabal getroud was.

Nabal, was ‘n man in Maon, wat sy boerdery in Karmel gehad het. Hy was skatryk en het drie duisend skape en duisend bokke gehad. Wanneer die gebeure afspeel was hy juis besig om sy skape in Karmel te skeer.

In dieselfde tyd was Dawid en sy manne ook in die gebied en hy het gehoor Nabal skeer skape. Hy het toe tien jongmanne gestuur na Nabal en vir hom gesondheid en goeie wense toegewens. Dawid het gesê dat die boodskappers ook moet vermeld dat sy manne Nabal se skaapherders beskerm het en seker gemaak het dat niks van Nabal se kleinvee wegraak nie. Dawid se manne het as’t ware soos ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy die vee van Nabal opgepas.  Dan kom Dawid met ‘n vriendelike versoek in vers 8: “Gee dan asseblief wat u byderhand het vir u dienaars en vir u seun, vir Dawid.”

Die onbeskofte korrelkop Nabal het totaal sy humeur verloor en terug laat weet dat daar baie slawe is wat wegloop van hulle eienaars. Hy gaan nie die brood, water en vleis van sy skeerders afstaan aan Dawid nie.

Dawid was ook nie maklike man nie.  Ook hy was maar bietjie van ‘n korrelkop en het sy humeur onnodig verloor. Dawid het vierhonderd man gereed gemaak om na Nabal te gaan en hom en almal wat manlik was in sy kamp dood te maak.

Een van die veewagters het die vir Abigajil, die vrou van Nabal gegaan en haar vertel, dat Dawid en sy manne hulle skaapwagters opgepas het en dat Nabal nie vir Dawid enige vergoeding wil gee nie. Nou kom Dawid om Nabal en almal wat manlik is in die kamp dood te maak.

Abigajil was nou vrou alleen vasgevang tussen die twee korrelkoppe van mans, wat altwee verkeerd en humeurig optree. Dan kom sy as een van die  Bybel se groot vredemakers vorentoe. Abigajil het gou twee honderd brode, twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf emmer gebraaide koring, honderd trossies rosyntjies en twee honderd koeke gedroogte vye gevat en dit op donkies gesit en dit vooruit vir Dawid gestuur. Sy het vir haar man Nabal niks hiervan gesê nie en toe later self na Dawid gegaan. In groot nederigheid het sy voor hom gekniel en bely dat haar man ‘n dwaas is en dat Dawid tog vir hulle genadig moet wees. Sy het ‘n lang betoog gevoer oor hoekom Dawid hulle moet spaar en sy het ook die lof van Dawid besing.

In vers 32 kom Dawid toe tot sy sinne en onderneem om die saak daar te laat staan en nie vir Nabal en al die manlikes in sy kamp dood te maak nie. Hy het ook die goed wat Abigajil gebring het aanvaar en haar bedank dat sy hom gekeer het om bloed te vergiet en die reg in eie hande te neem.

So het Abigajil, die vredemaker geword tussen twee korrelkoppe.  Sy het gekeer dat bloed vloei. Deur haar optrede kon sy die onbeskofte Nabal en die humeurige Dawid albei tem.

Toe Abigajil by die huis kom het haar man partytjie gehou en was dronk. Sy het hom niks vertel voor die volgende oggend toe hy nugter was nie. Nabal was so geskok, hy het ‘n beroerte gekry en was verlam. Omtrent tien dae later het hy weer ‘n ernstige beroerte gekry en het gesterf.

Toe Dawid verneem van Nabal se dood het hy dadelik manne gestuur na Abigajil se huis en gesê dat Dawid wil haar sy vrou maak. Sy was egter bereid om net ‘n slavin te word van Dawid. Tog het sy op ‘n donkie, met met haar vyf slavinne gegaan en in die huwelik getree met Dawid. Sy was Dawid se tweede vrou.

Daar is niks so hartseer as om met ‘n twisgierige man of vrou getroud te wees nie. Daar is ook niks so erg soos ‘n vriend of kollega by die werk wat rusie aanjaag nie. Om met ‘n korrelkop of humeurige persoon saam te leef of te werk, is een van die goed wat ‘n mens se energie tap. Dink net hoe swaar moes Abigajil nie gekry het in haar huwelik met Nabal nie. Eintlik was sy ‘n mishandelde vrou. So is daar baie mishandelde vroue en mishandelde mans en mishandelende kollegas, wat die onbeskoftheid van ander moet verduur.

Om ‘n Geesvervulde mens te wees, wil Pinkster ons daaraan kom herinner om nie twisgierig en onbeskof te wees nie. Geesvervulde mense is vredemakers soos Abigajil. Hulle ontlont konflik en bring vrede. Hulle is die minste en gee alles om vrede te bewerkstellig.

‘n Korrelkop of ‘n humeurige mens is vol van hulself en leeg van die Heilige Gees. Dit gaan net oor hulle en hulle belange. Hulle sal die wêreld vernietig, net om hulle sin te kry.

Dieselde geld vir die politiek. ‘n Politikus leef van konflik, maar ‘n staatsman soek vrede vir alle parte en volkere. So was Nelson Mandela ‘n staatsman, want hy het die belange van alle Suid Afrikaners op sy hart gedra. Met die Wêreldbeker eindstryd van 1995 was hy op die rugbyveld saam met die seëvierende Sprinkbokke, om die Wêreldbeker vas te hou vir alle Suid Afrikaners.

‘n Vredeliewende woord, ‘n glimlag en ‘n kompliment keer die grimmigheid af. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie, maar vergeld kwaad met die goeie. Moenie olie op die vuur gooi nie, maar smoor die vuur met jou liefdevolle benadering.

Gavin Reid sê tereg dat ons nie “sjalom” (vrede) moet verstaan as iets wat weggeneem moet word om vrede te veroorsaak nie, maar eerder iets wat toegevoeg moet word om vrede te veroorsaak. Dit neem nie noodwendig al die stryd weg nie, maar dit verander die situasie deur die toevoeging van liefde, sorg en hulp.  Vredemakers skep ‘n positiewe lewensruimte vir ander mense, sodat almal gelukkig onder God se son van genade kan leef. Abigajil het so geleef.

 William Jennings Bryan vertel ‘n sprokie oor vrede: “Vertel my wat is die gewig van ‘n sneeuvlokkie” het die mossie aan die wilde duif gevra. Die duif het geantwoord: “Niks meer as niks.” “In daardie geval gaan ek vir jou ‘n wonderlike verhaal vertel.” Het die mossie gesê: “Ek het op ‘n tak gesit terwyl die sneeu. Dit was nie ‘n storm nie. Dit het net so saggies gedriesel, sonder enige geluid of klank. Ek het die sneeuvlokkies getel wat op die tak geval het. Dit was 3 741 962. Niks meer as niks – soos jy gesê het – toe breek die tak.” Die mossie het toe weggevlieg. Die duif wat ‘n outoriteit op vrede is sedert Noag se tyd het hieroor nagedink. Hy het tot die slotsom gekom: “Miskien kom net een mens se stem kort om vrede op aarde te laat kom.”

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Van doringkroon na Koningskroon.

SKRIFLESING: Psalm 47

Konings en politieke regeerders het die geneigdheid om deur die geskiedenis hulle magte te misbruik. Die meeste regeer nie regverdig en tot voordeel van hulle mense nie. Een filosoof het gesê: “Mag korrupteer en absolute mag korrupteer absoluut” Min mense in magsposisies, kan hulle magte reg gebruik.

Aanvanklik is Israel deur rigters regeer, wat namens God geregeer het. Toe hulle egter sien dat die omliggende volke almal konings het, wou hulle ook ‘n koning hê. Die eerste koning was Saul, daarna Dawid en toe Salomo en daarna ‘n hele rits konings. Sommige was goeie konings, maar die meeste was swak konings wat nie die Here gedien het nie.

In Esegiël 34 word gepraat van swak herders, wat die volk Israel uitbuit. Met die herders word onder andere bedoel die konings van Israel wat toe regeer het.

Huidiglik in Suid Afrika, het ons ook swak herders, wat nie omgee vir hulle mede Suid-Afrikaners nie. Korrupsie, staatskaping, swak dienslewering, die ineenstorting van infrastruktuur en die bankrotskap van staatsidentiteite is als die gevolg van staatsleiers wat soos “swak konings” net na hulle eie belang kyk. In die vorige regering voor 1994, het die staatsleiers ook net na sekere mense se belange gekyk en die meerderheid van die land se bevolking in ellende gelaat.

Die politieke stelsels is gebou op ongeregtighede. Piketty skryf so treffend:  “Die punt is dat Suid-Afrika en die lande (koninkryke) van ons wêreld nie die koninkryk van God is waar geregtigheid leef nie. Hier is ongeregtigheid aan die orde van die dag. Ons ekonomie is op uitsluiting en uitbuiting gebou. Werkloosheid vier hoogty. Kapitaal genereer beter inkomste as arbeid. Dit beteken rykes word ryker, terwyl armes armer word.”

Waar sal ons tog ‘n goeie koning vind? In ons gelese Psalm 47: 3 staan daar: “Want die Here, die Allerhoogste,   is ontsagwekkend,   ‘n groot koning oor die hele aarde.” Daar word proklameer dat die Here die Koning van Israel, maar ook van alle nasies is.

 Dit sluit aan by Allen Ross se verstaan van Psalm 47 as ’n jaarlikse liturgiese feesviering (deur die Jode) van die Here se universele koningskap. Die liturgie hervertel, herspeel en herleef en vier die Koningskap van die Here. Daarom die handeklap en toejuiging tot eer van God en geblaas van ramshorings (v 2,6). Met die hemelvaart van die Here Jesus, het Sy Koningskap finaal en sigbaar geword.

Wanneer die Here se Koningskap onderstreep word, beteken dit dat die Here ‘n nuwe politieke orde wil skep. Wat ‘n wonderlike nuwe politieke orde wil hy nie skep nie! Dit word onderstreep in  Jes 65:18, 21-25: “Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan ’n Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê … Dan sal mense huise bou en self daarin woon, hulle sal wingerde plant en self die druiwe eet. Hulle sal nie huise bou waarin ander sal woon nie, hulle sal nie wingerde plant waarvan ander die druiwe sal eet nie. My volk sal so oud word soos ’n boom. Dié wat Ek uitverkies het, sal self die vrug van hulle handewerk geniet. Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie, hulle sal nie kinders hê vir wie daar rampe wag nie, want hulle sal ’n volk wees wat deur die Here geseën word, hulle en hulle afstammelinge. Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor. Die wolf en die lam sal saam wei, die leeu sal strooi vreet soos ’n bees, en stof sal die kos van die slang wees. Op my heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie, niks vernietig word nie, sê die Here.”

So ‘n politieke orde wil die Here skep. Daarom het Hy opgevaar na die hemel om aan die regterhand van die Vader te sit, sodat Hy ‘n nuwe politieke bedeling kan bewerk met Sy wederkoms. Dan sal die woorde van Jes 65:18, 21-25 in vervulling gaan. Hy het opgevaar om die “nuwe hemel en aarde”, ’n werklikheid te maak.

Maar die Here Jesus is ‘n Koning, wat met ‘n ander tipe leierskapstyl regeer. As Koning en waarlik God, het Hy as ‘n baba dié wêreld binnegekom. As mens het Hy tussen mense geleef. Hy was bereid gewees om ‘n slaaf te word. Hy het selfs die voete van Sy dissipels gewas. Op Sy kop is ‘n doringkroon gesit en Hy het soos die laagste misdadiger aan ‘n kruis gesterf. So ‘n nederigheid het niemand nog gesien nie. Hy het ter helle neergedaal, asof Hy in die hel was. Hy het die sonde van die wêreld op Hom geneem.

Met Sy hemelvaart het dié Vader die doringkroon van Sy Seun se kop gehaal en vir Hom ‘n Koningskroon opgesit en Hom laat sit aan Sy regterhand. Van lyding na heerlikheid! Van doringkroon na Koningskroon!

In die hemel se politieke bedeling, sal ons ook vanuit ons lyding verhoog word na hemelse heerlikheid, sonder enige traan in ons oog.

Die Here as Koning se verkiesingsbeloftes is egter nie leeg, soos die van politieke partye nie. Hy is die waarmaker van Sy beloftes. Hy is nie ‘n politikus nie, maar ‘n Staatsman, wat na alle nasies se belange omsien en die leiers uit elke volk sal verenig (vers 10).

Maar Jesus se Koningskap het alreeds met Sy hemelvaart begin. Hy wil nou alreeds die Koning van jou lewe wees. Hy wil nou al jou lewe regeer, sodat jy Sy seën en voorspoed sal beleef. So baie mense ontken die Koningskap van die Here Jesus in hulle lewe en lewe wild, vloekend, sedeloos, dronk en sonder enige rigting in hulle lewe.

Daarom moet ek met hierdie Hemelvaartdag, opnuut die Koningskap van die Here Jesus oor my lewe aanvaar. Ek moet Jesus se koningskap in my lewe teken en inkleur. Ek moet my onderwerp aan Sy Koningskap. Onder Sy Koningskap sal ek eers werklik vrede, voorspoed en vreugde beleef.

Van doringkroon tot Koningskroon! Onder die Here se Koningskap sal ek floreer. Deur Sy Koningskap wil die Here ‘n seën vir die nasies wees, sodat ek ‘n seën vir ander mense kan wees.                                              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Wees die wolsokkie vir die Here se klitsgras.

SKRIFLESING: Handelinge 13: 44 – 52

Ons ken almal klitsgras. Klitsgras het ‘n ongelooflike vermoë om te vermeerder en te versprei.

Een prediker het een maal klitsgras vergelyk met die verspreidingsvermoë van die Evangelie. Dit is dan ook die inspirasie van die preek. Ons kry klitsgras in die veld, in die stad, in vlak grond, in droë grond en in vrugbare grond tussen baie ander gewasse. In ons land is daar nie ‘n landstreek waar daar nie in ‘n mindere of meerdere mate klitsgras voorkom nie. Klitsgras word nie deur almal in ‘n positiewe lig gesien nie. Maar ons almal is verstom aan die eienskap van klitsgras om te kleef. Daarom gaan die preek nie oor die nadele nie, maar oor die eienskap van klitsgras om te kleef, wat verstommend is. Die eienskap om te kleef is in die visier van ons preek vanoggend.

Hoekom is klitsgras so volop? Omdat dit so effektief versprei. Klitsgras klou aan honde, en aan diere wat in die veld loop en ook aan my klere. En môre, oormôre groei die klitsgras in die tuin, want daardie stekelrige goedjies wat aan jou wolsokkies vassit is die saad.

Klitsgras se kleefvermoë kry jy by goeie goed en slegte goed. Slegte dinge versprei maklik soos kleefgras, dinge soos skindernuus, leuens, agterdog, jaloesie ensovoorts. Frieda Marais vertel van die grappie oor skinderstories: “Dit begin in Kookhuis met ‘n veer en eindig in Adelaide as ‘n volstruis.” Gelukkig versprei goeie goed, soos ‘n glimlag, vriendelikheid, opregte belangstelling ensovoort.

Die Evangelie het ook die wonderlike verspreidingsvermoë van klitsgras. So ook het die goeie nuus van die Evangelie van Jesus Christus ook oor die hele wêreld versprei. Hiervan getuig ons skrifgedeelte en die kerkgeskiedenis. Daarom het die Here Jesus vir ons met sy hemelvaart die Woord, sy Heilige Gees en ‘n opdrag gegee. Hy het gesê dat ons al lerende en al dopende dissipels vir die Here moet maak. Daarom het die Here vir elkeen ‘n verskillende wêreldtaal laat praat, amper soos in die toring van Babel sodat hulle die Woord moet versprei oor die hele aarde. Die Here het selfs toegelaat dat die vroeë Christene  gemartel word op brandstapels, met pik te besmeer en hulle aan die brand te steek, vir honger leeus te gooi en om gekruisig te word. Hoekom? Sodat hulle al vlugtende oor die hele wêreld die Evangelie moet versprei. Die bloed van die martelare het die saad van die kerk geword. Toe die vroeë Europa nie kans gesien het om donker Afrika in te trek om die Evangelie te versprei nie, vind die sogenaamde heilige Bartholomeusnag plaas en die daaropvolgende bykans 100 jaar van protestantse vervolging in Europa. Die Franse Hugenote en ander word toe gedwing om Europa agter te laat, na Suider-Afrika te vlug en ook hier die saad van die Evangelie te plant. So het die Voortrekkers noordwaarts getrek en die Evangelie versprei in die hele Suider Afrika. Vandag staan daar kerke in elke dorpie, nedersetting en stad.  Soos klitsgras stekelrig is en jou somtyds seermaak, so kan die verspreiding van die Evangelie ook lyding en pyn en spot vir jou bring. As jy van die Here getuig of ‘n mooi voorbeeld stel, sal mense dikwels van jou ‘n bespotting maak.

Sommige mense laat gaan eerder hulle Christelike waardes, om nie bespot te word nie. Maar diegene wat toelaat dat die stekelrige Evangelie hulle waardes  en voorbeeld beïnvloed, gee nie om, om bespot en beledig te word nie. Hulle versprei die Evangelie.

In die vroeë kerk het die Here die tegnologie en die wêreldgeskiedenis van destyds gebruik om die Evangelie te versprei. Destyds het die sogenaamde Pax Romana of dan die Romeinse vrederyk geheers. Die Romeine het feitlik oor die hele bekende destydse wêreld geheers, sodat elkeen eintlik ‘n wêreldburger was, wat sonder visum kon reis waarheen hy of sy wil. Ook het die moderne paaie van die Romeine ook baie bygedra dat die Evangelie maklik versprei het.

Die Here het die uitvindsel van die wiel, van die boekdrukkuns, van die eerste stoomenjin, van die eerste motorkar, alles gebruik om die Evangelie vinnig uit te dra. Vandag word God se Woord per radiosein, per TV sein, per satellietsein oor die eindes van die aarde gekommunikeer. Internet en epos is besig om die moderne snelweg van die Evangelie te word. Sedert Covid-19 uitgebreek het, het feitlik alle gemeentes oor die wêreld internet eredienste. Ons eie gemeente gebruik internet en webwerwe om die Evangelie ook buite die eredienste te bevorder.

Vandag is daar in bykans in elke dorpie van die wêreld Christene. In elke land vind ‘n mens Christene in ‘n mindere of meerdere mate.

Ons is vandag se kerk. Ons is vandag se draers van die Evangelie. Daarom moet ons soos wolsokkies die kleefvermoë hê om die Evangelie te versprei. Ons moet vashou aan die Here se Woord soos klitsgras aan ‘n woltrui. Ons moet gereeld die Bybel lees sodat ons sal onthou wat die Here vir ons gedoen het. Deur ons korrekte lewenswandel en voorbeeld en deur ons getuienis word ons die woltrui of wolsokkies wat die Evangelie versprei.

Is ek die Here se wolsokkies, waaraan die Evangelie kan klou op my plaas, in my huis, op die skoolbanke en in die openbare lewe?

Klitsgras is ook onvernietigbaar soos die Evangelie. Klitsgras is onvernietigbaar. Jy kan dit maar verbrand, die saad onder die grond sal weer ontkiem. Jy kan dit maar uittrek, jy verhaas net die verspreiding daarvan. Paulus en Barnabas is verjaag en vervolg en so het hulle van stad tot stad getrek. Ons lees hoedat hulle in Antogië die Evangelie verkondig het en hoe die Evangelie deur die hele streek versprei. Toe die Evangelie begin om te versprei in Antiogië is die mense opgemaak deur die Jode. Paulus en Barnabas was verplig om te vlug na Ikonium. Tog was die Evangelie reeds gesaai in Antiogië, want ons lees: “Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.”   

Klitsgras klou net aan sekere materiale vas, netso is ook die Evangelie bestem. Klitsgras het die vermoë om eerder aan wol as byvoorbeeld aan seil of denim vas te klou. Net so lees ons invers 48 (b) dat slegs “die wat daartoe bestem” is, gelowig geword het. Daarmee bedoel die skrywer van Handelinge dat God op ‘n onweerstaanbare wyse gewerk het in hulle vir wie God uitverkies het. Ons moet dus die Evangelie verkondig oor die hele wêreld, in alle tale en vir alle kulture. God sal self die mense se harte verander, wie Hy wil verander. Ons is slegs maar die saaiers, nie die Oester nie. Dit is natuurlik die hart van die Gereformeerde Evangelie. Ons verkondig die Evangelie, dit is God wat deur die werking van die Heilige Gees mense se harte verander.

Mag ons slegs die saaiers wees, die wolsokkies wees wat die Here gebruik om Sy saad, die Evangelie te versprei.

Julle is die wolsokkies, wat dieselfde verspreidingsvermoë het as klitsgras om die Evangelie te versprei.    

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Waar jou skat is, sal ook jou hart wees.

SKRIFLESING: Mat 6: 19 – 21 en Jak 1: 9 – 11

Lank, lank gelede in die tyd toe die Romeine nog geregeer het, was daar ‘n arm man met die naam Simonides. Simonides was ‘n slaaf wat baie swaar gekry het onder sy eienaar. Op ‘n dag besluit hy toe om weg te loop. Hy wou kyk of hy nie iewers anders ‘n beter werk kon kry nie. Hy het agtergekom dat geld nie volop beskikbaar was nie en begin toe om pragtige gedigte en verhale te skryf en dit dan te verkoop.

Met die geld wat hy verdien het, het hy deur die wêreld gereis op soek na nuwe ervaringe. Hy wou hierdie nuwe ervarings gebruik vir sy skryfwerk. Elke dag het hy almeer geleer van mense, van homself en die lewe. Mettertyd het Simonides bekend geraak vir sy skryfwerk.

Maar op ‘n dag besluit Simonides om terug te keer na sy geboorteland. Hy moes op ‘n skip klim om oor die Middellandse See te vaar na die eiland naby Griekeland waar hy grootgeword het. Daar het ook baie ander passasiers saam met hom op die skip geklim. Ook hulle wou huis toe gaan. Hulle het mooi meubels gehad en allerlei ander skatte wat in groot kiste gepak was. Terwyl hulle gereed maak om op die skip te klim, vra een van die ander mense vir Simonides: “Simonides, waar is jou besittings? Het jy dan niks wat jy gaan saamneem huis toe nie?” Simonides het geantwoord: “Alles wat ek besit, dra ek in myself. Ek het niks anders nie.”

Terwyl hulle oor die see vaar, bars ‘n groot storm los. Die golwe was so groot dat die skip omgeslaan en vergaan het. Baie mense het verdrink met hulle skatte en al. Ander weer het die eiland gehaal, terwyl hulle al hul skatte verloor het in die see.

Simonides het die eiland gehaal, so ryk soos altyd, want sien sy rykdom was “binne” hom. Simonides het gou bekend geraak by die inwoners van die eiland en die hoof van die eiland het vir hom gesorg, want hy het gehou van die wyshede van Simonides. Sy mededrenkelinge het toe besef wat Simonides bedoel het toe hy hesê het. Dat hy sy rykdom binne hom dra.

Die verhaal van Simonides herinner ons aan die woorde wat die Here Jesus Christus gesê het in Mat 6: 19 – 21 dat ons nie skatte moet bymekaar maak op die aarde nie, maar in die hemel.

Dit is nou eenmaal so dat mense vir hulle skatte bymekaar maak. Mense is nou eenmaal soos ‘n kraai, wat alles begeer wat blink. Hierdie goed blink so, dat ons blind raak vir God en ons medemens. Ons word kraaie wat alles in ons nes indra en dink dat dit ons vreugde sal verskaf in die lewe.

Natuurlik is dit nie verkeerd om goed te besit nie, want dit is gawes uit die hand van die Here. Wanneer dit my egter so blind maak dat ek God en my medemens nie meer raaksien nie, dan word dit ‘n “god” in my lewe. Mense steel, en moor en baklei en begeer soos seerowers net om meer skatte bymekaar te maak. Johannes Calvyn sê dat die mens se hart soos ‘n fabriek is wat gedurig afgode vervaardig.

Eerstens sê die Here dat mense wie skatte op aarde bymekaar maak se klere sal deur motte opgevreet word. Wanneer vreet motte aan klere? Wanneer dit nie gebruik word nie. Jesus sê eintlik as daar klere in jou kas is wat jy nie gebruik nie, is dit slimmer om dit vir die armes te gee as vir die motte.

Wat die Here vir jou gee, gebruik dit met vreugde. Wat jy nie gebruik nie, gee dit weg vir die armes sodat hulle vreugde daaruit kry. Waarom die verkwisting? Ook jy sal vreugde daaruit put!

Die tweede beeld wat Jesus gebruik is die van geld wat roes. In die tyd van die Bybel was daar nog nie banke nie en die muntstukke was van ‘n swak kwaliteit wat maklik geroes het. Wanneer Jesus die woord “bymekaarmaak” gebruik, beteken dit letterlik om die geld “plat neer te sit”. En wanneer iets plat neergesit word, beteken dit dat ons dit wegpak, dat ons dit nie gou weer wil gebruik nie. As ons iets regop in ‘n kas sit, beteken dit dat ons dit enige tyd weer gaan gebruik.

Geld is ook ‘n gawe uit die hand van die Here. Maar dit moet gebruik word om te lewe, om my oudag te verseker, om my kinders te laat leer, om die armes te help

Geld mag nooit ‘n status-simbool word nie.  Geld is daar om gebruik te word. Ek kan spaar, maar dan spaar ek om my oudag te verseker of om my kinders te laat leer, nie om vir my status of sekuriteit of troos te skep nie.

Want sien my enigste ware rykdom is, om Christus in my hart te hê. Hy is my enigste troos en sekuriteit. Ek kan alles verloor dan is ek nog steeds skatryk, want ek het Christus in my hart.

Ware rykdom is die kuns om te kan weggee. Ware rykdom is om liefde, deernis, tyd en goed te kan deel met ander. Daarom sê die Here Jesus Christus, om te gee, maak my gelukkiger as om te ontvang.

Vir die kinders in die gemeente. Wanneer ek met my verjaarsdag twee van dieselfde speelgoed ontvang. Bêre ek die een ingeval die ander breek. Nee, ek gee dit vir iemand wat glad nie ‘n speelding het nie.

Waar jou skat is, sal ook jou hart wees. As my aardse skatte vir my kosbaar is, sal ek moeilik sterf, sal ek moeilik hierdie aarde kan verlaat. Maar as my aardse goed slegs gawes, gebruikersartikels is, sal ek maklik kan sterf, want ek kan my maklik van hierdie goed losmaak, want ek weet my eintlike skat is die Here Jesus Christus.

Dit is waar wat die spreukwoord sê: “’n Doodskleed het geen sakke nie.”

Alles wat ek ontvang, kom uit die hand van God. Gebruik dit, geniet dit, maar moenie ‘n slaaf daarvan word nie. Leer om weg te gee, want deur weg te gee, word jy ryk in jou karakter. Deur weg te gee, ervaar jy die vreugde van te gee.

Hoe vang ‘n mens ‘n aap of ’n bobbejaan? Jy plaas vrugte in ’n ysterhouer met ‘n nou opening. Die bobbejaan plaas sy hand in die houer om die vrug te vat. Wanneer sy hand die vrugte toevou, is sy hand te groot om uit te kom. Wanneer jy hom skrikmaak is hy te gierig om die vrugte te los en sit hy vas in die ysterhouer. So maak die duiwel van ons bobbejane. Ons val in die valstrik van materialisme.

Nee, maak jou hand oop, maak jou hart oop, ook vir ander mense en jy sal lewe.

Christus Jesus is my enigste ware skat. Ek sal alles prysgee, solank ek net sy troos, sy teenwoordigheid en sy vrede in my lewe kan ervaar. Dan is ek ook gereed om hierdie teenswoordige wêreld te verlaat.

Jesus Christus het gesê: “ Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Waar is jou hart?

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)