SKRIFLESING: Psalm 47
Konings en politieke regeerders het die geneigdheid om deur die geskiedenis hulle magte te misbruik. Die meeste regeer nie regverdig en tot voordeel van hulle mense nie. Een filosoof het gesê: “Mag korrupteer en absolute mag korrupteer absoluut” Min mense in magsposisies, kan hulle magte reg gebruik.
Aanvanklik is Israel deur rigters regeer, wat namens God geregeer het. Toe hulle egter sien dat die omliggende volke almal konings het, wou hulle ook ‘n koning hê. Die eerste koning was Saul, daarna Dawid en toe Salomo en daarna ‘n hele rits konings. Sommige was goeie konings, maar die meeste was swak konings wat nie die Here gedien het nie.
In Esegiël 34 word gepraat van swak herders, wat die volk Israel uitbuit. Met die herders word onder andere bedoel die konings van Israel wat toe regeer het.
Huidiglik in Suid Afrika, het ons ook swak herders, wat nie omgee vir hulle mede Suid-Afrikaners nie. Korrupsie, staatskaping, swak dienslewering, die ineenstorting van infrastruktuur en die bankrotskap van staatsidentiteite is als die gevolg van staatsleiers wat soos “swak konings” net na hulle eie belang kyk. In die vorige regering voor 1994, het die staatsleiers ook net na sekere mense se belange gekyk en die meerderheid van die land se bevolking in ellende gelaat.
Die politieke stelsels is gebou op ongeregtighede. Piketty skryf so treffend: “Die punt is dat Suid-Afrika en die lande (koninkryke) van ons wêreld nie die koninkryk van God is waar geregtigheid leef nie. Hier is ongeregtigheid aan die orde van die dag. Ons ekonomie is op uitsluiting en uitbuiting gebou. Werkloosheid vier hoogty. Kapitaal genereer beter inkomste as arbeid. Dit beteken rykes word ryker, terwyl armes armer word.”
Waar sal ons tog ‘n goeie koning vind? In ons gelese Psalm 47: 3 staan daar: “Want die Here, die Allerhoogste, is ontsagwekkend, ‘n groot koning oor die hele aarde.” Daar word proklameer dat die Here die Koning van Israel, maar ook van alle nasies is.
Dit sluit aan by Allen Ross se verstaan van Psalm 47 as ’n jaarlikse liturgiese feesviering (deur die Jode) van die Here se universele koningskap. Die liturgie hervertel, herspeel en herleef en vier die Koningskap van die Here. Daarom die handeklap en toejuiging tot eer van God en geblaas van ramshorings (v 2,6). Met die hemelvaart van die Here Jesus, het Sy Koningskap finaal en sigbaar geword.
Wanneer die Here se Koningskap onderstreep word, beteken dit dat die Here ‘n nuwe politieke orde wil skep. Wat ‘n wonderlike nuwe politieke orde wil hy nie skep nie! Dit word onderstreep in Jes 65:18, 21-25: “Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan ’n Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê … Dan sal mense huise bou en self daarin woon, hulle sal wingerde plant en self die druiwe eet. Hulle sal nie huise bou waarin ander sal woon nie, hulle sal nie wingerde plant waarvan ander die druiwe sal eet nie. My volk sal so oud word soos ’n boom. Dié wat Ek uitverkies het, sal self die vrug van hulle handewerk geniet. Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie, hulle sal nie kinders hê vir wie daar rampe wag nie, want hulle sal ’n volk wees wat deur die Here geseën word, hulle en hulle afstammelinge. Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor. Die wolf en die lam sal saam wei, die leeu sal strooi vreet soos ’n bees, en stof sal die kos van die slang wees. Op my heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie, niks vernietig word nie, sê die Here.”
So ‘n politieke orde wil die Here skep. Daarom het Hy opgevaar na die hemel om aan die regterhand van die Vader te sit, sodat Hy ‘n nuwe politieke bedeling kan bewerk met Sy wederkoms. Dan sal die woorde van Jes 65:18, 21-25 in vervulling gaan. Hy het opgevaar om die “nuwe hemel en aarde”, ’n werklikheid te maak.

Maar die Here Jesus is ‘n Koning, wat met ‘n ander tipe leierskapstyl regeer. As Koning en waarlik God, het Hy as ‘n baba dié wêreld binnegekom. As mens het Hy tussen mense geleef. Hy was bereid gewees om ‘n slaaf te word. Hy het selfs die voete van Sy dissipels gewas. Op Sy kop is ‘n doringkroon gesit en Hy het soos die laagste misdadiger aan ‘n kruis gesterf. So ‘n nederigheid het niemand nog gesien nie. Hy het ter helle neergedaal, asof Hy in die hel was. Hy het die sonde van die wêreld op Hom geneem.
Met Sy hemelvaart het dié Vader die doringkroon van Sy Seun se kop gehaal en vir Hom ‘n Koningskroon opgesit en Hom laat sit aan Sy regterhand. Van lyding na heerlikheid! Van doringkroon na Koningskroon!
In die hemel se politieke bedeling, sal ons ook vanuit ons lyding verhoog word na hemelse heerlikheid, sonder enige traan in ons oog.
Die Here as Koning se verkiesingsbeloftes is egter nie leeg, soos die van politieke partye nie. Hy is die waarmaker van Sy beloftes. Hy is nie ‘n politikus nie, maar ‘n Staatsman, wat na alle nasies se belange omsien en die leiers uit elke volk sal verenig (vers 10).
Maar Jesus se Koningskap het alreeds met Sy hemelvaart begin. Hy wil nou alreeds die Koning van jou lewe wees. Hy wil nou al jou lewe regeer, sodat jy Sy seën en voorspoed sal beleef. So baie mense ontken die Koningskap van die Here Jesus in hulle lewe en lewe wild, vloekend, sedeloos, dronk en sonder enige rigting in hulle lewe.

Daarom moet ek met hierdie Hemelvaartdag, opnuut die Koningskap van die Here Jesus oor my lewe aanvaar. Ek moet Jesus se koningskap in my lewe teken en inkleur. Ek moet my onderwerp aan Sy Koningskap. Onder Sy Koningskap sal ek eers werklik vrede, voorspoed en vreugde beleef.
Van doringkroon tot Koningskroon! Onder die Here se Koningskap sal ek floreer. Deur Sy Koningskap wil die Here ‘n seën vir die nasies wees, sodat ek ‘n seën vir ander mense kan wees. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)