SKRIFLESING: Matteus 13:1–9, 18–23
In moderne boerderypraktyke is die effektiwiteit van die saaiproses baie belangrik.

Hedendaagse saaimasjiene bepaal met rekenaarpresisie die diepte van die grond en die hoeveelheid saad per hektaar. Masjiene trek voortjies, die saadkorrel word op die regte diepte geplant en weer bedek in een beweging, sodat daar geen kans is dat die saad verlore kan gaan nie.
Maar God is ’n anderste saaiboer. Hy saai “roekeloos” op alle plekke. Hy vermors as’t ware die saad omdat Hy so roekeloos vrygewig saai. Vir God gaan dit nie oor die produktiwiteit nie, maar om getrou te wees in die saaiproses. Die inset is vir God belangriker as die uitset. Vir die mens gaan dit oor die maksimum uitset, maar vir God gaan dit oor die maksimum inset (vir sondaars). Vir die maksimum inset vir sondaars, het die Vader Sy enigste Seun gegee. Die Vader het Sy alles gegee. God is roekeloos vrygewig met die saaiproses.
In die gelykenis is ons tegelyk die saaiers en die grond.
Die gelykenis het dus twee fokus-areas, naamlik:

Ons gaan na elkeen van die twee fokus-areas kyk.
Kom ons begin by die eerste:
a.) God roep ons om getrou te wees.
Die eerste perspektief is dat God die saaier is en van ons medesaaiers maak wat die Woord moet saai. Hierdie gelykenis wil vir ons bemoedig om nie moedeloos te raak as ons min vrug sien op ons getuienistaak nie. God berei ons as’t ware voor dat daar verskillende menseharte is, wat verskillend op die Woord reageer. Ons moet net aanhou die Woord saai. God roep ons as’t ware op om getrou te wees in die saai van die Woord. Moeder Theresa van Kalkutta het dit raak beskryf: “God roep ons om getrou te wees, nie suksesvol nie.”

Ons sien elke dag hoe mense onder die verkondiging van die Woord hulle rug op God draai. Hulle sak uit in die geloof. Hulle verwater in die geloof. Die Here Jesus sê ons moet nie daaroor moedeloos wees nie, maar weet dat dit so sal wees. Baie dikwels word die dinamika van alle gemeentes as volg beskryf. Een derde is aktief en is warm vir die Here. Die tweede derde is lou. Jy probeer hulle met baie moeite betrokke kry in die gemeente. Die laaste derde is heeltemal koud vir die Here. Hulle inset in die gemeente is zero. Hulle het al heeltemal van God vergeet of hulle rug op God gedraai. Hierdie tendens kom regdeur die statistieke van alle gemeentes van alle kerk-denominasies na vore. Jy kry die tendens in elke gemeente. Juis daarom het die Here ons in die gelykenis aangemoedig om roekeloos die Woord te saai, ook by hulle wat heeltemal onverskillig lewe.

Ons hoef nie altyd suksesvol te wees in die saai van die Woord nie, maar ons moet getrou wees en oral saai. Dit is ons taak om te saai, maar dit is God se taak om die saad te laat opkom en dit te oes. Martin Luther het by geleentheid gesê dat sy taak net is om te saai. Terwyl hy sy Wittenbergse bier drink, werk God in die verborgenheid en kom die Koninkryk ook op plekke waar jy dit die minste verwag. Teleurstelling in mense is ’n gegewe. Ons moet dit so aanvaar. Die Here sê so sal dit wees. Nie almal sal ewe ontvanklik vir die Woord wees nie.

’n Stukkie agtergrond sal die moderne leser help. Daar was twee aanvaarbare maniere om te saai. Die eerste manier was om eers te ploeg en dan te saai (soos vandag). Maar daar was ook ’n manier van eers saai en daarna die saad inploeg. In hierdie gelykenis is die tweede manier van saai waarskynlik die gebruik. Dit is waarom die saaier nie geweet het waar die klippe en onkruid verborge lê nie en waar die voetpaadjie later sou ontstaan nie. Die gelykenis wil die saaier aanmoedig om te saai, al weet hy nie wat die uitkoms van die oes gaan wees nie – aangesien die ploeg eers later in die grond sal kom. Die saaier kan nie vooraf bepaal waar die saad vermors gaan word nie.
Wat belangrik is in die gelykenis van die saaier, is dat die saaiers van die Woord nie krediet moet neem wanneer die saad ontkiem, groei en vrug dra nie. Dit kan so maklik waar word dat kerke onder mekaar kompeteer wie die meeste siele gewen het vir die Koninkryk van God. Die mens kan saai, maar dit is net God wat kan laat opkom. God werk deur Sy Gees en Woord om bekering te laat plaasvind. Sonder menslike toedoen, slegs deur die uitverkiesende genade van die Here, kan die saad groei en oes dra in jou lewe. God werk alleen, maar Hy gebruik mense as saaiers van die blye Evangelie.
Rom 9: 14 – 15 lees as volg: “Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig? En hoe kan hulle dit verkondig as hulle nie gestuur word nie? Soos daar geskryf staan: ‘Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!’ ”
Getrouheid in die verkondiging en lewe van die Evangelie vra geduld, nie onmiddellike resultate nie. Inteendeel, die resultate behoort aan God, want dit is Hy wat die geloof bewerkstellig.

In 1813 het Adoniram en Ann Judson in Birma, vandag die moderne Mianmar, aangekom. Adoniram het baie jare daaraan bestee om die taal van die inheemse volk aan te leer en die evangelie te verkondig. Dit was stadige, moeisame en geduldige werk. Eers in 1819, omtrent ses jaar ná hul aankoms, het hy die eerste Birmaanse bekeerling, Maung Naw, gedoop.
Judson het aangehou om die Woord te verkondig en te vertaal, met baie min resultate. Hy is later tydens ’n oorlog gevange gehou, maar het ná sy vrylating met die vertaalwerk en sendingwerk voortgegaan. Uiteindelik het hy die hele Bybel in Birmaans vertaal.
Dit het al gebeur in die Sendinggeskiedenis dat ’n sendeling sy of haar hele lewe opoffer en nie in hulle lewenstyd enige vordering sien nie. Dan gebeur dit dikwels dat na hulle dood, die vrug van hulle lewenstaak eers sigbaar raak.
Onthou, ons almal is saaiers van die Woord. Dit is nie net predikante en ampsdraers in die kerk nie. Die gewone gelowige kan deur sy of haar getuienis of lewe ook ’n saaier wees van God se Woord.
Die tweede fokus-area van die gelykenis is:
b) God roep ons om ontvanklik te wees.

Soos daar in die gelykenis vier verskillende grondsoorte is, so is daar vier verskillende soorte harte wat op die Here se Woord (die saad) reageer.
Daarom roep die gelykenis ons op om tegelyk saaier te wees en ook andersyds ontvanklike grond te wees vir die Woord van die Here.

Die Here verduidelik dat daar vier soorte grond is. Die eerste tipe grond word ’n voetpad en die voëls pik die saad op. Voëls word dikwels in verband gebring met die duiwel. Dit is mense wat die woord hoor en hulle dadelik verset teen die Woord en die saad word weggepik deur die duiwel. Daar kom eenvoudig niks van die Here se Woord tot reg in hulle lewe nie.

Die tweede grondsoort het net ’n dun lagie goeie vogtige grond, maar direk daaronder lê die klipbank. Dit is verstaanbaar dat die saad in die vogtige dun bolaag-grond vinnig ontkiem. Maar as die wortels die klipbank tref, verwelk dit gou. Aanvanklik word die Woord van die Here met groot blydskap aangeneem, maar sodra die eise en bekommernisse van die lewe ’n werklikheid word, verwelk die bekering en toewyding aan die Here. ’n Mens tref dit baie op geestelike kampe aan, dat jongmense vuur en vlam hulle harte vir die Here gee. Maar as hulle eers weer terug is by die huis en skool en hulle word gekonfronteer met probleme, dan sterf die bekering ’n spoedige dood.

Die derde grondsoort is die saad wat tussen die onkruid gesaai word. Dit is mense wat die Woord van die Here aanneem en ’n tyd lank goed groei. Maar dan kom die versoeking van wêreldse glans, glorie en rykdom en verstik die Woord van die Here. Die plante word geel en vrek later heeltemal.
Die vierde grondsoort is die vrugbare goeie grond, waarop die saad val en ’n oes oplewer van dertig-, sestig- en honderdvoudig. Dit is iemand wat die Woord ontvang, aanneem en alles los en die Here volg.

Dit is hulle wat volhard in die dinge van die Here. Binne die konteks van die teks sou ’n dertigvoudige opbrengs al ’n wonderwerk wees en ’n klein gemeenskap sou daarmee gevoed kon word. ’n Sestig- en honderdvoudige oes sou beteken ongekende geestelike vooruitgang en groei in God se Koninkryk.
Daarom daag die gelykenis ons tweeledig uit, naamlik om getroue saaiers te wees, maar om ook aan die ander kant ontvanklike grond te wees vir die Here se saad.
Mag ons GETROU in ons getuienis en ONTVANKLIK in ons harte wees.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

















































