SKRIFLESING: Mat 5: 10, 1 Petrus 3: 13 – 17 en Mat 16: 24 – 26
Jesus Christus beteken net moeilikheid. Jesus Christus het moeilikheid veroorsaak so ver soos Hy gegaan het.
Reeds met Jesus se geboorte het koning Herodus opdrag gegee om alle seuntjies jonger as drie jaar dood te maak. Dit het tot groot hartseer gelei.
Op die Sabbatdag het Jesus mense gesond gemaak en are geoes, sodat die Fariseërs en skrifgeleerdes hoogs ontsteld was. Hulle was meer bekommerd oor die onderhouding van die wet, as om blydskap te beleef oor die genesing van mense.
Mense het Hom uit die dorp gejaag as Hy in die sinagoge gepreek het. Hy is tot uit sy eie geboortedorp verdryf toe Hy daar gepreek het. Daarvandaan kom die spreekwoord “’n Profeet word nie in sy eie land geëer nie”.
Toe Jesus die duiwels in die varke gejaag het, het die dorp se inwoners hom gesmeek om weg te gaan. Die mense was meer begaan oor hulle eiendom, die varke, as wat hulle bly was oor die besete man wat genees is.

By die tempel het Hy die tafels en stoele van die geldwisselaars omgegooi, die offervee uitgejaag en die duiwehokke oopgemaak. Hy het chaos op die tempelplein veroorsaak.
Daar is oor Hom geskinder dat Hy saam met die dronkaards en die skelms geëet het. Daarom het hulle Hom ’n “wynsuiper en ’n vraat” genoem. Hy het met die underdogs van die gemeenskap gemeng en daarvan het die mense nie gehou nie.

Die mense het heel waarskynlik agter hulle hande gefluister toe ’n vrou Jesus se voete gewas het met duur nardusolie en Hy haar toegelaat het om sy voete met haar hare af te droog.
Sy preke het die Fariseërs en die skrifgedeeltes ontmasker as witgepleisterde grafte. Hy het die teoloë en kerkmense van sy tyd as skynheilig beskou.
Hy het moeilikheid in Jerusalem veroorsaak, sodat hulle Hom gekruisig het. Jesus was voorwaar ’n moeilikheidmaker. Hy het die orde van sy tyd op die kop gedraai.

Petrus en die dissipels het dit ook gou uitgevind die nag daar in Getsemané en in die binnehof die nag waarin Hy oorgelewer is om gekruisig te word. Die dissipels het besef om hulle met Jesus te assosieer gaan hulle in die moeilikheid laat beland. Daarom het die dissipels in die nag verdwyn en het Petrus voor die hanekraai vir Jesus drie maal verloën deur te sê hy ken die man nie. Petrus die “rotsman”, dit is wat sy naam beteken, het verkrummel voor die oë van ’n diensmeisie. Petrus was bang vir moeilikheid, daarom het hy gemaak of hy die Here nie ken nie.

Ons dominees is ook maar dikwels bang vir moeilikheid, daarom verwater ons dikwels die eise van die Evangelie. Ook vir kerkraadslede is die openbare gevoel van die lidmate dikwels belangriker as die eise van die Evangelie. Ons preek dikwels ’n “goedvoel”-godsdiens wat mense boost en ons praat min oor die eise van die Evangelie.
Ek wonder dikwels wat sou gebeur het as Jesus net vir ’n naweek op Adelaide en Fort Beaufort sou vertoef het. Ek dink Hy sou die mense uit die kerk preek. Die dorp sou gons. Jesus sou kuier by die randfigure en die wat vir ons sosiaal onaanvaarbaar is.
Ons sou maar te bly wees as Jesus die Maandagoggend die pad vat… want Jesus is ’n moeilikheidmaker. Hy krap ons sosiale orde om …
Nou sê Jesus egter dat die wat Hom wil volg, ook hulle kruis moet opneem. Daarmee bedoel Jesus dat ons bereid moet wees om moeilikheid ter wille van Hom te verduur.

Daar is drie soorte volgelinge van Jesus. Daar is eerstens die bewonderaars, wat respek vir die Here het. Daar is tweedens die leerlinge, wat met belangstelling die Woord bestudeer, maar dan is daar ook derdens die dissipels wat so ernstig is om Jesus te volg dat hulle selfs nie vir moeilikheid, lyding of vervolging sal wegdeins nie.
Daarmee bedoel Jesus dat ’n mens jou vriende leer ken in swaarkry-tye, in tye van moeilikhede. Wie bereid is om in die moeilikheid te beland ter wille van Jesus se saak, is eers regtig kind van God.
Ja, die valse Christene en kerk vrees die mens. Die ware Christen en kerk vrees alleen maar vir God. Wanneer die mens meer as God gevrees word, word die kerk ’n naprater. Dan verander die kerk soos die wêreld verander. Die kerk word dan ’n handskoen wat die wêreld pas. Die Christen word ’n verkleurmannetjie na gelang van omstandighede en die situasie. Dan is jy ’n mooiweersvriend van God, maar een wat wegskram van enige moeilike keuses en moeilikheid.
Die kerk het vóór Konstantyn sterk gegroei, want Christene is vervolg en doodgemaak vir hulle geloof. Die Christene het elke dag moeilike keuses gemaak ter wille van Christus. Maar toe Konstantyn tot geloof gekom het, het hy die Christendom staatsgodsdiens gemaak en Christene is nie meer vervolg oor hulle geloof nie. Toe was dit maklik om Christus te volg. Christene hoef toe nie meer moeilike keuses te maak nie.
Die kerklike tug het ook grotendeels in die kerk verval, omdat die gevoelens van die mens en die humanisme die plek ingeneem het van die liefdevolle tughandeling van die kerk.
Die Here sê dat mense wat net in maklike tye die Here volg, geen dissipel van Hom is nie. ’n Ware dissipel volg die Here ook in moeilike tye en is bereid om vir die Here te kies in moeilike etiese kwessies.

Die ware kerk en die ware Christen vrees alleen maar vir God. ’n Ware Christen trek moeilikheid aan, soos ’n magneet yster aantrek. Die rede is omdat ’n Christen ander waardes het, anders leef en ander prioriteite in die lewe het.
Daar is verskillende vorme van vervolging waaraan God se kinders onderwerp word. Dit kan die volgende wees:
- Beledigings
- Valse gerugte
- Om die gelowige belaglik voor te stel (Die mense neem jou nie ernstig op nie.)
- Skinderstories
- Fisiese vervolging
Die agste saligspreking wat handel oor vervolging, is die toets van die vorige sewe saligsprekinge. Sal jy, met ander woorde, sagmoedig wees, al kom jy tweede? Sal jy barmhartig wees, al kos dit jou alles? Sal jy die reg soek, al ly jy skade? Sal jy ’n vredemaker wees, al kos dit jou die dood? Die agste saligspreking vra met ander woorde of ons ernstig is oor Jesus. Is u en ek bereid om kritiek te vat, al doen ons goed? Sal ons bly goed doen, al kry ons nie waardering daarvoor nie? Dit is die diepste toets van Christenwees.
Wie in die lewende teenwoordigheid van Jesus Christus leef, sal altyd in die moeilikheid wees en sal altyd teenstand en vervolging verduur.
Is u en ek bereid om in die skaduwee van die krip en die kruis te lewe?
Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)