VAN WANHOOP NA TROOS

SKRIFLESING: Jesaja 40: 1 – 11

Om Jesaja 40 te verstaan, is dit belangrik dat ons Jesaja 39 eers nadertrek. Tussen Jesaja 39 en Jesaja 40 is daar ’n verskil van 70 jaar. Jesaja 39 is die aankondiging van die Babiloniese ballingskap en Jesaja 40 is die aankondiging van die herstel en vrylating uit Babiloniese ballingskap. Die volk was tussen 586 vC en 516 vC in Babiloniese ballingskap. Jesaja 39 is ’n oordeel-aankondiging en Jesaja 40 is ’n genade-aankondiging.

Jesaja 39 speel af voor die Babiloniese ballingskap en ons lees dat Jesaja vir koning Hiskia van Juda die volgende boodskap bring in Jesaja 39: 6: ” ‘Kyk, daar kom dae wanneer alles wat in jou paleis is en wat jou voorouers bymekaar gemaak het tot vandag toe, na Babel weggedra sal word – daar sal niks oorbly nie,’ het die Here gesê.”

Ballingskap is erg. Dit is ontworteling van alles wat vir jou bekend was. Jy verloor alles en moet met niks ’n nuwe begin maak. Jy word van selfstandigheid gestroop en jy word ’n kneg van ’n nuwe politieke orde. Dit is traumaties om van sekerhede te beweeg na totale onsekerheid. Vir Israel was dit erg. Vir dekades het hulle in ballingskap gelewe.

Eugene Peterson skryf die volgende oor ballingskap: “The essential meaning of exile is that we are where we don’t want to be.”

(Histoire Sainte -Paule Landron – Illustration Marie Odile de Laforcade-Droguet et Ardant-Limoges 1991)

Dit is presies die plek waar baie wit en bruin mense van Suid Afrika op die oomblik is en nie wil wees nie. In die vorige politieke bedeling van apartheid was die swart en bruin mense op ’n plek waar hulle nie wou wees nie. Die Afrikaner het ’n onreg gepleeg deur mense in ballingskap te plaas. Maar nou is die bordjies verhang en ervaar die wit en bruin mense ballingskap in hulle eie land. Daarom trek honderdduisende mense vandag oor na ander dele van die wêreld vir ’n heenkome en werk. As jy vandag wit of bruin is, is daar nie vir jou werk nie. Regstellende aksie laat ras swaarder weeg as bekwaamheid, kwalifikasies of talent. Die boeregemeenskap word geteiken om hulle grond af te vat. Boere word vermoor en plattelandse gemeenskappe lewe in vrees. Korrupsie vreet soos kanker aan ons land se ekonomie. In sport speel ras-kwotas ’n groter rol as meriete. Die infrastruktuur en munisipale dienslewering van ons land is slegs ’n skaduwee van wat dit eers was.

Ons is op ’n plek waar ons nie wil wees nie.

Daar is nog ’n plek waar ons nie wil wees nie. Dit is in ons sondeskuld. Sondeskuld is ook om in ballingskap te wees. Sonde maak van jou ’n kneg. Jy is in die kettings van bitterheid, haat, naywer, woede, rusie, verdeeldheid, onsedelikheid en ander verkeerde dade en gedagtes. Jy is nie vry nie, want jy is nog nie vrygespreek nie. Dit is die ergste vorm van ballingskap. Die hooftema van die Bybel is juis God se plan om ons uit die ballingskap van die sonde en dood te verlos.

Die Bybel skryf ook dat die kerk van die Here deur die eeue hierdie ervaring van ballingskap gehad het. 1 Petrus 2: 11 herinner ons: ” Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge …” Daarby herinner Hebreërs 13 ons dat ons in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek het nie, dat ons nog op soek is na die toekomstige. Bedoelende dat ons in hierdie lewe eintlik in ballingskap is en dat ons op pad na iets beters is.

Dan belowe Jesaja 40 vir die Israeliete uitkoms, verlossing, troos en bevryding. Dit kan ons ook op óns van toepassing maak. Jesaja 40: 10 beskryf die Here as ’n kryger. En Jesaja 40: 11 beskryf die Here as ’n herder. Die Here is die kryger wat die Babiloniese gode en heersers verslaan en sy volk uitlei terug na Jerusalem, hulle stad. Die Here is die herder, wat sy volk sagkens bystaan na hulle traumatiese jare in ballingskap. Hy bring as herder vertroosting, heling en beskerming.

Tydens Advent kom die Here Jesus Christus ook as kryger om die sonde te verslaan en as herder ons uit te lei uit die ballingskap van sonde.

Jesaja 40: 3 – 4 uiter ’n voorspelling wat later op Johannes die Doper van toepassing sou wees: “ ‘n Stem roep: Maak in die woestyn die pad van die Here gereed; maak in die Arabae ‘n grootpad vir ons God gelyk. Elke dal moet opgevul word, en elke berg en heuwel moet wegsak.   Hobbelrige plekke moet gelyke grond word, en rotsagtige terrein moet ‘n vallei word.”   Die voorspelling van Jesaja 40: 3 – 4 voorspel die koms van Johannes die Doper wat die voorloper sou wees van Jesus Christus en vir Christus die pad gelyk sal maak deur dit voor te berei.

Die Arabae (in Hebreeus) in boonste aanhaling verwys na die Jordaanvallei, wes van die rivier waardeur die Israeliete getrek het met die uittog uit Egipte en waardeur hulle sal trek ná die bevryding uit Babilonië. (Afrikaanse 2020 Bybel se verklaring in voetnote)

Dit bevestig Markus 1 vir ons – die woorde van Jesaja 40 kry eers sy ware betekenis met die geboorte van Christus. Daar staan in Mark 1: 2 – 3 geskryf: “Soos daar in die profeet Jesaja geskryf staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit –  hy sal jou pad gereedmaak. ‘n Stem van iemand wat roep in die woestyn: ‘Maak die pad van die Here gereed, maak sy paaie reguit!’.”  Jesus se Naam is Immanuel – nie God-ver-van-ons nie, maar God-met-ons! (Ds. Jan Steyn)

Die ballingskap wat ons op politieke, kulturele of dalk in ons persoonlike lewe ervaar, kan God dikwels op verrassende maniere kom aanspreek en oplos. Daarom is ons altyd mense van  hoop. Natuurlik het ons ook die ewige hoop, naamlik om uit die ballingskap van hierdie sterflike wêreld verlos te word, na die ewige nuwe Jerusalem, as God se koningskinders.

As jy in jou persoonlike lewe ballingskap ervaar van siekte, werkloosheid, finansiële probleme, verhoudingsprobleme of wat ook al, kan jy die lewende troos hê dat God die trooster is. Hy is jou kryger en herder, wat jou daardeur sal dra.

In die kerklike liturgie word dikwels gebruik gemaak van vier Advent-kerse en een wit Christus-kers. Die vier Advent-kerse word een vir een op ’n Adventsondag aangesteek. Die vier kerse se betekenis is:

  • Hoop
  • Vrede
  • Vreugde
  • Liefde

Die groot wit kers word op Oukersaand aangesteek om Christus te simboliseer.

Jesaja 39 is ’n hoofstuk van wanhoop. En dan, dekades later, kom Jesaja 40 wat ’n hoofstuk van hoop is.  

Mag die eerste Advent-kers ons herinner aan die ewige hoop wat ons het.  Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

MY KEUSES IS MY DIEPSTE VRYHEID …

SKRIFLESING: Gen 39: 1 – 23

Die hele lewe gaan oor keuses. Elke dag, elke oomblik maak ons keuses. Elke keuse het ’n gevolg. Wanneer ek ’n verkeerde keuse maak, het dit altyd ’n negatiewe gevolg in my lewe. Elke regte keuse word beloon met voorspoed.

Josef is ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat te alle tye die regte keuses in sy lewe gemaak het. Wanneer dit goed gegaan het, het hy regte keuses gemaak. Wanneer die lewe vir hom verkeerde kaarte gegee het, het hy ook die regte keuses uitgeoefen. Daarom het die Here altyd vir Josef geseën, in goeie en slegte tye.

Josef se verhaal begin waar hy drome gedroom het. Sy broers was jaloers op hom omdat hy as jongste voorgetrek is. Hulle gooi hom toe in put en verkoop hom later as slaaf aan die Ismaeliete. Die Ismaeliete verkoop hom toe aan Potifar, ’n vername man in Egipte. As slaaf in Potifar se huis, seën die Here hom in alles. Hy vind guns in die oë van Potifar en word aangestel as hoof van Potifar se huis. Met uitnemendheid verrig hy sy taak. Maar toe kom daar ’n kinkel in die kabel. Potifar se vrou vind vir Josef baie aantreklik en wil hom verlei om saam met haar te lê en die onbetaamlike te doen. Josef is net ’n man. Maar dan maak hy die regte keuse om nie aan haar versoek te voldoen nie. Hy vlug weg van die versoeking. Elke dag het sy hom probeer verlei en elke keer het hy die regte keuse gemaak om nie aan haar versoek te voldoen nie. Eendag toe sy en Josef alleen in die huis is, pak sy vir Josef aan sy kleed en dring daarop aan dat sy by hom moet kom lê. Josef vlug weg, maar Potifar se vrou het Josef se kleed in die hande gekry.

Die slinkse vrou van Potifar het toe vir Josef gaan verkla by die huiswerkers en by haar man Potifar. Sy het valslik die Hebreeuse man beskuldig deur te sê dat Josef by haar toenadering sou gesoek het om haar seksueel te vermaak. Josef se kleed het sy as bewysstuk voorgehou.

Potifar was so kwaad dat hy vir Josef in die tronk, waar die koning se gevangenes aangehou is, gegooi het. Josef was dus nie in die gewone gevangenis nie. (Die Here het dit so bewerk, want die tronk sou hom later kontakte gee na die Farao self.)

Omdat Josef die regte keuse gemaak het, het die Here hom ook in die tronk geseën. Weer het Josef hom opgewerk, sodat die hoof van die gevangenis vir Josef aangestel het oor al die gevangenes.

’n Tydperk later het hy die kelner en bakker se drome uitgelê. Hul drome het waar geword. Die kelner is vrygelaat en het weer sy posisie aan die hof van die Farao opgeneem. Toe die Farao drome droom, het die kelner vir Farao vertel van Josef in die tronk. So het dit gekom dat Josef ook die Farao se drome uitlê en aangestel word in die tweede hoogste posisie in die Egiptiese ryk.

Al Josef se regte keuses bring vir hom die seën van die Here oor sy lewe.

Toe die hongersnood uitbreek en Egipte se skure oorloop van graan, het Josef se broers Egipte toe gereis om graan en brood te soek. Josef het hulle herken, maar hulle het hom nie herken nie. Josef het toe die mag gehad om sy broers dood te maak, omdat hulle hom destyds verkoop het as ’n slaaf. Maar weer maak Josef die regte keuse. Hy laat sy broers lewe en laat hulle en sy pa na Egipte trek, waar daar oorgenoeg kos is. So red hy sy gesin. Hy kon gekies het om weerwraak te neem, maar nee, hy kies om te vergewe. Deur Josef se regte keuses, kon God se verbondsvolk gered word van hongersnood en uitwissing.

Die uitkoms van jou lewe word nie bepaal deur omstandighede nie, maar deur die keuses wat jy maak, selfs al is die omstandighede nie goed nie.

Josef het die verlies van ’n gesin ervaar toe hy verkoop is. Hy het, as slaaf, verlies aan vryheid ervaar. In die gevangenis het hy verlies aan vrye beweging ervaar. Hy het verlies aan menswaardigheid ervaar.

Verlies is nie maklik nie. In veral oorlogstye verloor mense baie goed in ’n kort tydjie. Victor Frankl het as Joodse psigiater in Auschwitzkamp ’n fyn waarneming gemaak van hoe mense reageer in tye van verlies. Die Jode het alles in die konsentrasiekampe verloor. Hulle het hul vryheid, geliefdes, vriende, gesondheid, besittings, beroepe, besighede, status in die samelewing, hul hoop, hul menswaardigheid en nog ’n klomp ander dinge verloor. Sommige het selfs hul geloof verloor. In sy boek “Search for meaning” beskryf Frankl hulle menslike reaksies.

Sommige het soos “varke” geword en was net ingestel op hul persoonlike behoeftes. Ander het weer soos “engele” geword en die swaarkry het ’n bonatuurlike goedheid in hul na vore laat kom. Hulle was inderdaad soos wandelende engele wat hul persoonlike behoeftes opsy gestoot het, vir die nood van ander. Hulle het gekies om die beste in hulself na vore te laat kom. Hulle het gekies om hul eie persoonlike behoeftes op te offer vir beginsels wat baie groter as hulself is. Hulle het gekies om engele te wees. Hulle het gekies om nie soos “varke” op te tree nie.

Frankl vertel in ’n persoonlike ervaring van hoe ’n Duitse SS-wag hom geterroriseer het. Op ’n stadium het die soldaat Frankl se brilletjies van sy kop afgeslaan en die bril knersend stukkend getrap  met sy soldaatstewels. Frankl wou woedend word. Toe besluit hy hy gaan nie vir die soldaat sy sin gee nie. Hy gaan nie vir hom kwaad word nie. Hy gaan wys hy is in beheer. Toe ontdek hy dat ’n mens se diepste vryheid daarin geleë is dat ’n mens die vryheid het om te kies hoe jy in ’n bepaalde situasie wil en gaan optree. Dit is jou diepste keuse en niemand kan hierdie VRYHEID van jou af wegneem nie.

Frankl skryf dat ook die Duitse wagte verskillend opgetree het. Party het ook soos “varke” opgetree en was vernederend teenoor die Jode. Sommige wagte het weer soos “engele” opgetree en geweldig baie gedoen vir die Joodse gevangenes. Sommige het selfs hul kos met die Jode gedeel. So was daar die “bad” en die “good” aan albei kante. Persoonlike keuses het bepaal of jy “good” of “bad” was.

Op die ou end ís en wórd mense hulle keuses. Jou keuses vertel watter tipe mens jy is en die tipe mens wat jy wil wees. Hierdie vryheid om te kies wie jy wil wees, kan niemand van jou af wegneem nie. Nie eens jou grootste vyand nie!

Josef het die regte keuses in sy lewe geneem en die Here het hom geseën. Wie verkeerde keuses in die lewe neem, moenie die Here of die lewe blameer nie. Elke keuse het ’n gevolg. Daarom moet ons ook die gevolge van ons keuses dra.

Somtyds kom swaarkry oor jou lewe, as gevolg van omstandighede buite jou beheer. Dikwels is dit die gevolge van ander mense se verkeerde keuses. Maar die meeste ellende wat ’n mens oorkom, bring jy oor jouself.

Daarom moet ons nie wanneer ons in slegte omstandighede is, gedurig die verlede blameer nie. Ek kan keuses maak om bo my slegte omstandighede uit te styg, soos wat Josef deur die regte keuses homself opgehef het, tot die tweede magtigste man van Egipte.

Jy is nooit die slagoffer van jou omstandighede nie. Wanneer jou omstandighede teen jou tel, moet dit die lanseerbasis wees waarvandaan jy jou na ’n beter lewe uit lanseer. Josef het dit reggekry.

Keuses maak die man. Keuses maak die vrou. Maak jou keuses reg soos wat Josef gedoen het en jy sal geseënd wees.                                                      AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Sonder hoop kan niemand leef nie.

SKRIFLESING: 1 Samuel 1:4-20

’n Mens kan veertig dae sonder kos lewe.

’n Mens kan drie dae sonder water lewe.

Maar ’n mens kan nie een dag sonder hoop lewe nie.

Elke mens het ’n dringende behoefte aan hoop. Daarom sê 1 Kor 13: 13 “En nou bly geloof, hoop en liefde,  hierdie drie –  maar die grootste hiervan is die liefde.” Hoop word geprioriseer as een van die drie belangrikste sake in die Christelike geloof.

In ons gelese gedeelte lees ons van ‘n vrou, Hanna wat aan die einde van haar hoop gekom het. Sy was getroud met Elkana, maar sy was kinderloos. Elkana se ander vrou Peninna, het egter kinders gehad. Vir Hanna was haar kinderloosheid vir haar ’n erge krisis. Boonop het Penninna vir Hanna gelag en geterg oor sy nie kinders kon kry nie. Elkana het vir Hanna baie lief gehad, maar nie eers die troos kon Hanna optel uit haar toestand van hopeloosheid nie.

Penninna was tipies soos baie wêreldse mense is. Jy lag en jy trap op die een wat op die grond lê. Mense spot met die hulpelose, die swakke en dié sonder hoop. Jy sien dit in die skole en speelparke waar kinders mekaar boelie. Maar jy sien dit ook elke dag gebeur tussen grootmense. In die werksplekke en samelewing trap mense op mekaar om bo uit te kom. Diegene wat dit nie gemaak het nie, word gespot. Dit vererger die emosies van hopeloosheid.

Hooploosheid, is die ergste toestand waarin jy jou kan bevind. Behalwe kinderloosheid, kan armoede, werkloosheid, ‘n liefdesteleurstelling, siekte, lewenskrisisse en vele ander teleurstellings jou laat hoop verloor. Dan verloor die lewe vir jou sin.

Daar staan in vers 6 dat haar “mededinger” haar so getreiter het om haar seer te maak. So het dit jaar na jaar gegaan as Hanna opgaan na die huis van die Here, het Pennina haar getreiter, omdat sy net  een deel van die offervleis gekry het. Hanna het so gehuil en wou nie eet nie. Dit was vir haar ‘n vernedering.

Hanna, was so sonder hoop dat sy in die tempel ingevlug het en met haar hooploosheid na God gegaan het. Sy was wys en verstandig. Die enigste plek waarnatoe jy kan vlug met jou hooploosheid is na God. Daar in die tempel alleen het sy gebid, dat net haar mondhoeke beweeg het. Sy het ‘n gelofte afgelê by die Here dat as die Here vir haar ‘n manlike nasaat sal gee, sal sy die kind aan die Here wy en geen skeermes sal oor sy kop kom nie.

Eli, die priester wat by die tempel se deuropening gesit het, het gedink sy is dronk. Eli het haar aangespreek en beveel om ontslae van die wyn te word. Toe verduidelik sy vir hom dat sy nie dronk is nie, maar dat haar hart ontsteld is. Toe sien Eli vir haar met nuwe oë raak en gee vir haar hoop in vers 17: “Eli het haar geantwoord en gesê: “Gaan in vrede! Die God van Israel sal jou versoek, dit wat jy van Hom gevra het, toestaan.” Met hierdie nuwe hoop het sy uitgegaan, geëet en nie meer droewig gewees nie. Sy kon nou lewe uit die hoop wat priester Eli vir haar gegee het. So moet ons ook nie met eerste oogopslag mense oordeel nie. Kyk ‘n tweede keer, soos Eli en dan sal jy eers regtig die nood van ‘n ander raaksien.

Die vraag vanmôre is ons soos Pennina, wat mense se hopeloosheid groter maak, of is ons soos Eli wat vir ander mense hoop bring?

Die wêreld is in hopelose omstandighede. Mense het hoop dringend nodig. Daarom moet kerke eilande van hoop wees en ons as gelowiges moet die vlam van hoop bring, waar daar net die donkerte van wanhoop is.  

Met die groot droogte van 2019, wat sommiges beskryf as die grootste droogte in 300 jaar, wat oor 7 jaar gekom het, was die landbou nywerheid in ‘n erge krisis. Die hele Nood Kaap, Oos Kaap en dele van die Wes Kaap was in die wurggreep van ‘n ernstige droogte. Selfs op hede is die droogte nog steeds nie verby nie. In Namakwaland, Boesmanland en groot dele van die Karoo, het baie boere feitlik alles verloor. Hulle was nie eers instaat om hulle kinders se skoolgelde te betaal nie. Hulle kon nie eers nuwe bande aan hulle voertuie sit nie. Selfs om kos te koop was ‘n uitdaging. Dit het rampafmetings aangeneem.

As jy vandag vir die boere sou vra, hoe het julle daardeur gekom, kry jy deurgaans die antwoord daar was mense wat vir ons hoop gebring het. Al kon hulle nie die situasie  beredder nie, het hulle oral kruisies van hoop geplant. Van oor die hele land het boere lusern en veevoer ontvang. Daar was die skoendoos projek, waar elke boer se vrou ‘n kartondoos met geskenke ontvang het. Boere in die Vrystaat het gratis weiding gegee, vir boere wie sy weiding op is.  Die Sinode van die Noord Kaap, Oos Kaap en Wes Kaap, as ook ander het noodlenigingsfondse gestig, waaruit boere gehelp is om hulle kinders se skoolgelde te betaal.  Hoop het van oral ingestroom, en die boerdery gemeenskap het beleef ander mense gee vir hulle om. Hulle het hoop gekry. Hulle was nie eensaam in hulle ellende gelaat nie.

Op Adelaide het Kerksondermure vir ons gemeenskap 40 JoJo watertenks geskenk, om die gemeenskap met water te help. Tans gee Kerksondermure vir ons maandeliks ‘n groot bedrag geld, om die hongernood in Bezuidenhoudtville  en Lingelethu aan te spreek. Die Post Retief Boerevereniging het in die midde van Covid 19, elke maand ‘n groot bedrag gespandeer vir nood in die dorp. Round Tablers het verskeie projekte, waarmee hulle gereeld vir die behoeftiges en bejaardes hoop bring.  

Al bogenoemde aksies bring hoop. Wanneer jy ‘n sieke besoek, bring jy hoop. As jy ‘n werklose mens of ‘n arme help, dan bring jy hoop. As jy ‘n nodige telefoonoproep maak of ‘n WhatsApp van hoop vir iemand stuur maak jy ‘n verskil.

Ons moet draers van hoop wees.

Peninna, het die moedelose Hanna onderdruk, uitgelag en geteister. Sy het Hanna se wanhoop net groter gemaak.

Maar Eli het Hanna aangehoor en met ‘n belofte van hoop weggestuur. So is ons ook geroep om vir mense hoop te gee. Al kan ons nie al hulle probleme oplos nie, kan ons tekens van hoop vir hulle gee. Ons kan draers van hoop wees.

Toe Eli vir Hanna wegstuur met ‘n belofte van hoop, het niemand gedink dat die vrug van die belofte sou Samuel wees, wat die opvolger van Eli sou word. Samuel sou die volk Israel lei in wysheid.

Wanneer jy hoop uitdeel, sal jy ook somtyds verbaas staan oor die wonderlike uitkomste wat daar sal wees.

Die eerste keer toe Eli vir Hanna geoordeel het, het hy gedog sy is ‘n dronk vrou. Toe hy beter kyk, toe sien hy die nood en hooploosheid in Hanna raak. Hy het met nuwe oë na haar gekyk. Hy stuur haar toe weg met ‘n belofte van hoop. Somtyds oordeel ons ook mense met die eerste oog opslag verkeerd en wil hulle veroordeel. Daarom moet ons bid dat die Here vir ons nuwe oë sal gee om die nood raak te sien en in daardie omstandighede hoop te bring.

Daar sal altyd die Peninna’s wees wat mense afdruk in die lewe. Maar ons as Christene is ook priesters wat draers van hoop moet wees en ander mense moet optel.

Mag die Here ons gehoorsaam maak.                                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Tussen die steengroewe werk God.

SKRIFLESING: Eks 1: 1 – 2:10

Vir die Israeliete begin die verhaal van Eksodus op ’n slegte noot ……. op ’n slegte plek. Dit begin by die steengroewe van Egipte. Hulle moes stene maak vir die bou van Farao se voorraadstede, Pitom en Ramses.

In die begin het die Israeliete dit nie te moeilik gehad in Egipte nie, want hulle vader Josef was ’n gerespekteerde en gewaardeerde man. Hy het immers Egipte van hongersnood gered. Maar toe daar mettertyd ’n ander Farao aan bewind kom, wat nie meer van Josef geweet het nie, het die Israeliete begin swaar kry. Hulle groeiende getalle het volgens Farao ’n al groter bedreiging vir Egipte geword.  Daar is baie aspekte van die verskriklike lewe in so ’n steengroef wat ons as bevoorregte mense nouliks sal kan begryp. Kom ons kyk ’n bietjie na die toestande in so ’n steengroef. Daar moet daagliks ’n hoë produksiekwota van stene gelewer word. Daar was ’n vaste tydskedule, met min tyd vir ontspanning. Dit was ’n plek van onderdrukking en profyt. Dit is ’n plek van ongelukkigheid en arbeidsonrus. Inderdaad ’n plek van lyding en wanhoop.

Miskien voel u dat u ook vasgevang is in u eie steengroef. Nie een van ons leef ver verwyderd van die realiteit van so ’n steengroef nie. Dit is op die ou end ’n beeld wat ons almal verstaan. Iewers is ons almal se lewens en siele gebind aan ’n sisteem. Dit kan werksdruk wees, of spanning by die werk, of boerdery bekommernis. Daar word hoë eise aan ons kinders gestel op skool en dan is daar die alewige finansiële bekommernis.

Miskien het u werk, u boerdery, die skool, u huis, gesin of huwelik vir u ’n steengroef geword. Alles word net een te veel. Almal ken daardie gevoel.

Die Israeliete was 400 jaar lank vasgevang in hulle steengroef. ’n Mens kan dus verstaan dat hulle sal begin vrae vra oor hulle lot:

  • Gee God om?
  • Hoor God as ons roep?
  • Is God regtig daar?
  • Is Hy regtig werklik ’n lewende God?

Vasgeval in die steengroef weerklink die Godsvraag: Gee God om?

Die Israeliete het hierdie vraag gevra, miskien vra u dit ook. Maar Eks 1: 1 – 2:10 gee self vir ons die antwoord op hierdie vraag. Die skrywer gee vir ons drie bewyse dat God omgee.

  1. God werk agter die skerms.
  2. Die mens wik, maar God beskik.
  3. Lyding het ’n plus-kant. 

Kom ons staan eers stil by die eerste bewys dat God omgee.

  1. God werk agter die skerms.

Ons maak te maklik en te gou afleidings. God het die manier om die meeste van Sy werk agter die skerms te doen. Kenners wat hierdie verlossingsverhaal van Israel vergelyk met die buite-Bybelse verlossings- en roepingsverhale van ander volke sê dat die opvallendste verskille juis op hierdie vlak lê. In die ander volke se verhale is die god of gode heeltyd op die voorgrond – hulle is die hoofspelers. Maar as Israel se verhaal vertel word, sien ons mense op die verhoog, net mense! Sodat ’n mens op ’n stadium kan begin wonder: Waar is God dan? Die geheim is om te weet dat hy nie die hoofspeler is nie, maar die regisseur – meer nog, ook die draaiboekskrywer. As u dan vra waar God is, weet dan, Hy werk agter die skerms.

Dit bring ons by die tweede saak:

  • Die mens wik, maar God beskik.

Die Jode van later geslagte, het seker heerlik gelag oor hoe Farao se gesinsbeplanningsprogram misluk het. God belowe ’n groot nageslag. Farao probeer dit verydel met sy gesinsbeplanningsprogram. Hy beraam plan op plan. Waar is God? Farao wik, maar God beskik. Farao se planne misluk keer op keer.

Hierdie magtige Farao wat ’n wêreldheerser was, se plan word telkens deur sosiaal onmagtige vroue buite aksie gestel. (So gebruik die Here vroue.) In vers 15 gebruik die Here twee eenvoudige Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua, wat die Farao uitoorlê en nie die Joodse baba-seuntjies doodmaak nie. Toe die Farao opdrag gee dat die Hebreeuse seuntjies doodgemaak word, gebruik die Here die Hebreeuse dogter Miriam om die magtige Farao se dekreet te omseil. Dan is dit ook die einste Farao se dogter wat Moses red en aanneem as haar seun en so die Farao se plan laat misluk.

Kan u die humor raaksien? Die Farao wik en weeg, maar God beskik ’n uitweg.  So dikwels kan ons vir onsself die mooiste planne optrek, maar dan kom beskik God op ’n heel eenvoudige wyse. In Eksodus 1 reeds, maar veral in Eks 2, sien ons hoe God sonder dat mense dit agterkom, die geskiedenis beheer. En hoe wonderlik, hoe asemrowend en hoe stylvol doen hy dit nie!

En tog tragies genoeg, gebeur dit alles sonder dat die volk besef wat regtig aan die gang is. Hulle sien glad nie God se beskikking raak nie. Eks 1 sê vir ons dat dit meer kere gebeur dat mense, selfs God se eie volk, Hom en Sy handewerk in die geskiedenis nie herken nie. ’n Mens kry koue rillings as jy besef dat dít natuurlik ook is wat gebeur het met Jesus. Israel het honderde jare gewag vir die Messias, maar toe Hy kom, herken hulle Hom nie. Kan dit ook met ons gebeur? Kan dit wees dat ons ook dalk in so ’n tyd leef, in Suid-Afrika en in ons eie lewe, waar ons nie die beskikking van God raaksien nie?

Dit bring ons by die derde punt:

  • Lyding het ’n plus-kant

As God die geskiedenis beheer en ’n goeie plan het, waarom was ’n pynlike ompad vol lyding en baie trane vir Israel nodig? In die eerste plek het die Here die ompad gebruik om die volk in Josef se tyd van hongersnood te red en in Egipte aan die lewe te hou. Tweedens het die Here ook sy belofte van ’n groot nageslag vir Abraham juis in Egipte begin waar maak. Toe hulle in Egipte aankom, was hulle maar 70. Nou na 400 jaar was hulle so baie dat die Farao begin bang word het. Derdens wou God ook gehad het dat hierdie volk vir mekaar omgee. Die Here het geweet dat as ’n mens nie self swaarkry, lyding of nood ervaar nie, jy gewoonlik nie gereed is of lus het om ander mense in nood te help nie. (Vergelyk Eks 20 en die Levitiese wette.)

Dus as daar ook vir ons swaarkry is, laat ons nie te gou wees om allerhande vreemde afleidings te maak nie. Dalk is die Here maar net besig om op Sy manier ook vir ons voor te berei vir iets besonders.

Daarom, om saam te vat. As u vasgevang voel in u steengroef – weet dan God gee om, want:

  • Die Here werk agter die skerms.
  • Die mens wik, maar God beskik.
  • Lyding het ’n plus-kant.

Ja, God gee werklik om.                          AMEN   

(Die drie hooftrekke van die preek het ek by ‘n prediker raakgelees, wie se naam ek vergeet het.)

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.

Jesus Christus het gekom om lewensvreugde te bring.

SKRIFLESING: Joh 2: 1 – 12

Ons almal wil graag gelukkig wees en ware lewensvreugde ervaar. Baie keer vind ons ons vreugde in nuwe dinge wat toegevoeg word tot ons lewe. Die vreugde van ’n kind oor ’n nuwe speelding. Die vreugde oor ’n nuwe huis, ’n nuwe motor, ’n nuwe lewensmaat of ’n nuwe baba, ’n nuwe werk of ’n nuwe stokperdjie. Christus Jesus wil nie nuwe dinge toevoeg tot ons lewe nie. Nee, Hy wil ons – met ons gewone lewe en die gewone dinge in ons lewe – aanraak en kom verander. In die alledaagse wil Hy nuwe lewe en sprankeling kom gee. Juis in hierdie verandering wat Jesus wil bring, vind ons die eintlike ware vreugde. Dit is ’n tipe metamorfose wat Jesus wil bring. Soos ’n wurm wat ’n vlinder word. Of die lelike eendjie wat verander in die pragtigste swaan.

Daarom is die skopus van die preek: 

Jesus Christus het gekom om lewensvreugde te bring.

Met die verandering van water in wyn, het Jesus aan Sy dissipels kom demonstreer dat die doel van Sy koms is om verlossing, verandering en vreugde te bring.

’n Bruilof het in die antieke Bybelse tyd oor ’n paar dae verloop. Hoe ryker die familie, hoe langer het die bruilof aangehou. As die wyn op was, was die vreugde weg en dan het almal huis toe gegaan. Die feit dat Jesus die water in wyn verander het, beteken dat Jesus die vreugde laat voortgaan. Inteendeel, die nuwe wyn was beter as die oorspronklike wyn.

Die simbool van die ses klipkanne water was soos die Joodse reinigingswater, simbool van die verstarde Joodse wette, waarin mense hulle hoop plaas. Dit was simbool van die ou en uitgediende Ou Testamentiese wette. Wette is koud en onpersoonlik. (Daar word hierna verwys as formalisme). Wette maak jou dood en beroof jou van ware geluk en lewensvreugde. Jesus kom sê as’t ware deur hierdie wonderwerk dat die Ou Testamentiese wette die verkeerde manier van verlossing is.

Deur die water in wyn te verander, kondig Christus Sy manier van verlossing aan, naamlik om VERANDER te word deur Christus Jesus. Jesus het gekom om ware verlossing en vreugde te bring, daarom het Hy die water in wyn verander. Nie meer is die Joodse wette nodig om ons te red nie. Nou is dit Jesus se bloed (Sy wyn) wat ons red.

Hierdie verandering is God se werk, nie mensewerk nie. Die kelners het slegs hulle pligte uitgevoer. “Duties are ours. Events are God’s work. It is ours to fill the waterpots. It is Christ’s work to make the water wine.”

Die vraag is egter of ons verander wíl word deur die Here Jesus. Ons kan van Jesus en sy leerstellinge hou, sonder om te wil verander. Ons kan kerk toe gaan en sê dit was ’n mooi boodskap, sonder dat die boodskap ons verander.

Ons kan baie keer so tevrede wees met die water, die “oue”, dat ons nie verlang na die wyn, die “nuwe” wat Christus vir ons laat aanbreek het nie.  Dikwels is ons tevrede met ons eie manier van verlossing. Ons staan by ons ou lewe, ou waardes en ons eie koers. Ons kan baie keer tevrede wees om ’n lelike eendjie te bly, of om ’n wurm te bly.

Christus Jesus het gekom om te verander. Wie nie verander wil word nie, mis Jesus Christus en het nie deel aan die ewige bruilof nie.

Wie nie bereid is om daagliks deur Christus Jesus verander te word nie, mag nie die Nagmaal gebruik nie. Christus Jesus is die nuwe wyn. Jy kry alleen deel aan hierdie wyn, as jy bereid is om verander te word.

Deur Jesus se ingrype gaan die bruilof voort. Die vreugde verdiep. Net so is die ewige bruilof ’n fees van vreugde.

Wie hom of haar deur Jesus laat verander, het deel aan die ewige bruilof wat nooit ophou nie.

In die wonderverhaal het Jesus voorsien in dit wat die bruidegom en sy familie moes voorsien. Jesus het as’t ware die taak van die bruidegom op Hom geneem, naamlik die voorsiening van die wyn. So het Hy dan die groot Bruidegom geword wat self wyn geword het, sodat ons deel kan hê aan die ewige saligheid.

Ware vreugde lê nie in die toevoeging van nuwe dinge tot my lewe nie. Nee, ware vreugde en lewensvervulling lê in die verandering wat Jesus wil bring. Hy wil my vry maak van wette, van moets en moenies. Reiniging van sondes lê nie in wette nie, maar in wat Jesus vir my gedoen het. My vreugde is Jesus wat die verandering gebring het.

Jesus het ook die skande van die bruidegom, oor daar te min wyn is, verander in ’n seën. Skielik was daar meer wyn en die wyn was beter as die vorige. So wil Jesus ook ons skandes verander in ’n seën vir ons. Sy bloed (Sy wyn) verander ons skandes in ’n seën. Sy bloed (Sy wyn) bring vir ons vreugde. Daarom is die Nagmaal ’n vreugdevolle geleentheid.

Jesus het vreugde gebring. Hy het verlossingsvreugde kom bring.  Jesus nooi ons na Sy fees toe.                                               

AMEN    

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om te sondig is menslik, om te vergeef is Goddelik.

SKRIFLESING: Mat 18: 21 – 35 en Ef 4: 31 – 32

Siektes soos Vigs en Covid-19 en tering is gedurig in die nuus. Ons is bekommerd oor die siektes wat ons liggaam kan doodmaak. Maar ons moet eerder versigtig wees vir die siektes wat ons geestelike lewe doodmaak. Daar is ’n siekte wat ons “wanverhoudinge” noem, naamlik ’n wanverhouding met God en met jou medemens. Die siekte het alreeds daar in Genesis begin toe Adam en Eva gesondig het. Hulle sonde het ’n wanverhouding met God en met mekaar veroorsaak. Van daardie dag af het die siekte aansteeklik geword en elke mens aangetas en alle vlakke van die menslike lewe besmet. Die simptome is rusie, konflik, ontrou, huweliksverbrokkeling, gesinsverbrokkeling, arbeidsverhoudinge wat suur geword het, oorlog, ensovoorts.

God, die Vader, het as die groot wetenskaplike ’n wonderkuur geskep naamlik “vergifnis”, waardeur Hy sy wêreld wil heel. Maar vir die wonderkuur moes Hy ’n entstof gebruik. Toe gebruik Hy sy eie Seun as die entstof om die wêreld te heel. Christus se sterwe is die entstof waardeur ons vergewe word. Deur Christus het daar vir ons vergifnis gekom, sodat ons nou in ’n nuwe gesonde verhouding met God, met onsself en met ons medemens kan leef.

 As jy ’n wolk oor die suiwer blou van die hemel sien dryf en dit dan opbreek, verdwyn dit vir ewig. Jy sal die wolk nooit weer sien nie. So vee Hy ons oortredinge uit net soos Hy die wolk vir altyd voor ons oë wegvee. Die Bybel is vol van hierdie versekeringe dat die straf van sonde heeltemal van die kind van God  verwyder word.

Alexander Pope het die onvergeetlike woorde gesê:  “Om te sondig is menslik, om te vergeef is goddelik.” Vergifnis maak verhoudinge reg. Vergifnis werk genesend en helend. God se vergifnis vir ons, maak ons verhouding met God reg en waar ons bereid is om ander te vergeef, kom mense-verhoudinge ook weer reg.

In die Bybel en in die kerk is die begrip “vergifnis” ’n sentrale tema. Die rede waarom die Here Jesus Christus gebore is as mens, aan die kruis gesterf het en op die derde dag opgestaan het, was om vergifnis vir ons te bewerk. Elke Sondagoggend hoor ons die vergifnis van die Here aan. Elke dag as ons bid, bid ons dat die Here ons mag vergeef.

Vergifnis is nie te koop nie. Ons kan nie maak soos die Middeleeuse Rooms Katolieke kerk, wat sondes vergewe het op grond van goeie werk of die betaal van afkoopboetes nie. Dit laat my aan die volgende verhaal dink: Op ‘n dag waag ‘n arm meisie dit om in die tuin van die koningin se paleis in te gaan en die tuinier te nader en te vertel dat haar ma baie siek lê en dat sy verlang om ’n blom te koop, soos sy in die tuine van die koningin gesien het. Die kind het ‘n paar sent gespaar en wou ‘n roos vir haar siek ma koop. Dit was winter, en die blomme was in daardie seisoen skaarser. Die tuinier het boonop geen gesag gehad om die blomme van die koningin weg te gee nie, en hy sê toe sy aanbied om te betaal: “Die koningin het geen blomme te koop nie,” en het die arme kind weggestuur. Maar die koningin self was toevallig in die tuin en het die gesprek tussen die tuinier en sy klein kliënt ongemerk aangehoor. Terwyl die kind bedroef en teleurgesteld wegdraai, stap die koningin egter nader en begin ’n gesprek met die kind en sê: “Die tuinier was heeltemal reg, my kind, hy het nie die gesag om vir jou die blomme te gee wat jy wil hê nie, en die koningin kweek nie blomme te koop nie, maar die koningin het blomme om weg te gee”; en sy voeg die daad by die woord en lig uit die mandjie waarin sy die blomme gesny het, ‘n handvol seldsame rose en gee dit vir die kind en sê: “Neem dit met liefde vir jou moeder en vertel haar dat die koningin hulle gestuur het. Ek is die koningin.” Daarom: God het geen vergifnis te koop nie; jy kan dit nie koop met jou arme boete van trane, gebede of berou nie; God het vergifnis om te gee, en jy kan dit net deur geloof aanneem, maar nie in ruil vir enigiets wat jy doen nie.

Hierdie wonderkuur, hierdie entstof, mag ons egter nie vir onsself hou nie. Daarom sê die Here vir ons dat soos Christus ons vergewe het, ons mekaar ook moet vergewe. Die Here Jesus het ons geleer om te bid: “ …. en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree ….” Die Here Jesus het ons geleer om mekaar te vergewe selfs “sewentig maal sewe keer”. Paulus sê in Ef 4: 31 – 32 die volgende: “Moet nooit verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie …… Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.”

Ons maak egter baie keer soos daardie amptenaar wat deur die koning vergewe is en wie se skuld alles afgeskryf is, maar dan omdraai en nie eers sy mede-amptenaar se skuld vir hom kan vergeef nie. Ons wil die wonderkuur, die entstof, net vir onsself hou. Net soos die ryk lande die afgelope paar maande selfsugtig was met die Covid-19 entstof, wil ons vergifnis net vir onsself toeëien. Ons wil die vergifnis van die Here graag vir onsself ontvang, maar ons is nie bereid om daardie wonderkuur met ons medemens te deel nie. Ons is nie bereid om ander te vergeef nie.

Dan beland ons net soos daardie amptenaar in die tronk. Nie ’n tronk in die letterlike sin nie, maar in ’n sielkundige  tronk. Ons kan nie slaap nie, ons bly bitter en bestee ons lewensenergie aan wraakgedagtes, ons tob oor die verlede en ons vertroetel ons emosionele wonde. Ons ontwikkel selfs maagsere. Wie nie vergewe nie, bind as’t ware ’n lyk aan homself vas en sterf later as gevolg van lyksiektes, by wyse van spreke.

Wie egter geleer het om te vergewe, word vry van hierdie sielkundige tronk. Ons kan weer slaap. Ons kan pragtige verhoudinge ontwikkel en goeie tye beleef saam met dié wat ons vergewe het. Ons voel selfs fisiek beter en gesonder.

Wanneer jy iemand vergewe, dan kanselleer jy in ’n sekere sin, skuld. Die een wat vergewe, verwyder alle beperkings of hindernisse wat daar op die verhouding geplaas is. Die een wat vergewe en die een wat vergifnis ontvang, kan van nuuts af met mekaar ’n verhouding ontwikkel, want die stuk seer en pyn is bely en uitgepraat.

Een van president Abraham Lincoln se medewerkers het hom nogal ernstig uitgeskel omdat hy sag was op sy vyande. “Waarom dring u daarop aan om vriende van hulle te probeer maak?” het hy gesê. “U moet hulle eerder probeer vernietig.” Waarop Lincoln saggies geantwoord het: “Vernietig ek nie my vyande as ek hulle my vriende maak nie?” Na berig word oor diegene wat sy vyande was tydens die burgeroorlog, word gesê dat Lincoln gesê het: “Hoe kranksinnig dit ook al mag wees, ek hou die kwaad teenoor niemand van hulle nie. Ek het nie die tyd of die energie in hierdie lewe om wrokke te koester nie. ”

Vergifnis vind gewoonlik in drie fases plaas:

In fase 1 sien jy die ander persoon as waardevol en verstaan jy dat God vir jou en daardie persoon ewe lief het. In fase 2 hou jy op om daardie persoon te blameer, of om van die persoon ’n karikatuur te maak. Jy hou op om sy foute op te blaas en begin om daardie persoon se goeie punte raak te sien. In fase 3 besluit jy om na daardie persoon toe te gaan. Jy probeer om die saak op te los. Vergifnis is ’n doelbewuste handeling. Dit is iets wat jy bewustelik doen. Natuurlik gaan ons nie alleen nie. God wat altyd by ons is, gaan saam met ons om ons sterk te maak. Belangrik is dat ’n mens jou gevoelens uitpraat en besluit om daardie seerkry- gevoelens nie langer tussen julle te laat staan nie en dat daardie ou gevoelens nie langer die toekoms oorheers nie.

Jy moet iemand dalk vandag vergewe. Dalk is dit iemand wat saam met jou werk. ’n Buurman, ’n vriend of ’n lid van jou familie. Jy kan dinge laat gaan. Selfs as die ander persoon jou verstoot, kan jy nog steeds ontslae raak van die dinge wat tussen julle staan. God wil hê dat ons vry sal wees. Daarom help God ons om van harte te vergewe.

Corrie ten Boom vergelyk vergifnis met die loslaat van ‘n kloktou van die meeste plattelandse kerke. Jy sal weet dat jy die tou ‘n rukkie moet trek om die klok te laat lui. As dit eers begin lui, behou jy net die momentum. Solank jy aanhou trek, bly die klok lui. Juffrou Ten Boom het gesê dat vergifnis die tou loslaat. Dit is net so eenvoudig. Maar as jy dit doen, bly die klok lui. Momentum is nog steeds aan die werk. As jy egter jou hande van die tou af weghou, sal die klok al stadiger lui en uiteindelik stop.

Dit is so met vergifnis. As jy besluit het om te vergewe, kan die ou gevoelens van onvergewensgesindheid steeds hulself laat geld. Hulle het immers baie momentum. Maar as jy hou by jou besluit om te vergewe, sal die onvergewensgesinde gees begin bedaar en uiteindelik ophou. Vergifnis is nie iets wat jy voel nie, dit is iets wat jy doen. Dit laat die tou van vergelding los.

Die moeilikste is egter om jouself te vergewe. Dikwels loop mense rond met ’n klomp skuldgevoelens uit die verlede. Hulle kan hulself nie vergewe nie en daarom lewe hulle in die ewigdurende hel van spyt en boetedoening. Hulle straf as’t ware hulself. Hulle dink gedurig daaraan dat hulle skuld het om te betaal. Hulle lewe in die “ewigdurende boetedoening van spyt”. Daar word met die verstand bely dat Christus vergewe, maar dit word nie met die hart geglo nie. So kan ’n mens nooit die vreugde van ware verlossing beleef nie. Jy leef gedurig in ’n tronk, terwyl die skuldeisers hulle dodelike afbrekende werk doen. Jy laat as’t ware die duiwel toe om jou aan te kla, terwyl Christus Jesus jou reeds vergewe het.

Die duiwel gebruik skuldgevoelens, hierdie gevoel van “ek kan myself nie vergewe nie,” om my van die Here af weg te trek. Die duiwel sal alles in sy vermoë doen om my te laat voel dat ek nie vergewe is nie en sal maak dat ek vergeet dat ek in Christus ’n mede-oorwinnaar is. Die Heilige Gees sal my nooit aanhou aanklae oor sonde wat ek gedoen het, as ek om vergifnis gevra het nie. Wanneer God vergewe, vergewe Hy volmaak.

As iemand homself of haarself nie kan vergewe nie, sê ’n mens as’t ware twee dinge:

  • Die dood van Christus aan die kruis is nie genoeg vir my sonde nie. Dit kan tog nie.
  • Dat ék die persoon is wat op die ou einde sonde vergewe en oordeel en dit self wil doen. Dit kan tog ook nie, want dit is God se werk om my te vergewe en nie mý werk nie.

Wanneer Christus Jesus ons vergewe het, het Hy ons sondes in die diepste see weggewerp. Hy dink nie eers meer daaraan nie. Daar is ook ’n bord op met die woorde: “JY MAG NIE VISVANG NIE,” bedoelende jy mag nie weer jou ou sondes uitkatrol of uithaal nie. So bevry die Here ons van skuld en skuldgevoelens, sodat ons ons energie kan uitstort op dit wat positief en opbouend is.

Wanneer ons onsself en ander mense kan vergewe, word ons bevry en kry ons nuwe energie om met ware vreugde en blydskap te lewe.

Op ‘n dag toe Stan Mooneyham saam met ‘n paar vriende op ‘n roete in Oos -Afrika loop, het hy bewus geword van ‘n heerlike reuk wat die lug gevul het. Hy kyk op in die bome en om hom na die bosse in ‘n poging om te ontdek waar dit vandaan kom. Toe sê sy vriende vir hom om af te kyk na die blou blommetjie wat langs die pad groei. Elke keer as hulle die klein blommetjies onder hul voete vertrap het, word meer van sy soet parfuum in die lug vrygelaat. Toe sê sy vriende: “Ons noem dit die vergifnisblom.” Hierdie vergifnisblom wag nie totdat ons vergifnis vra nie.  Dit versprei ryklik sy geur. Wat ‘n aangrypende voorbeeld van verregaande vergifnis!

Om te sondig is menslik, om te vergeef is Goddelik.   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Gelowige gebed

SKRIFLESING: Jakobus 5: 13 – 20

As ‘n outydse waterpomp gereeld gebruik word, is min inspanning nodig om water te pomp; die water stort met die eerste probeerslag uit, want die watervlak is hoog. Maar as die pomp vir ‘n lang tyd nie gebruik is nie, word die watervlak laag, en as jy dan water wil hê, moet jy ‘n lang tyd pomp, en dan kom dit eers na groot inspanning. Dit is so met gebed ook; as ons ’n gereelde gebedslewe het, dan maak elke klein omstandigheid die ingesteldheid om te bid wakker, en ons begeertes en ons woorde is altyd gereed. Maar as ons ons gebedslewe verwaarloos, is dit vir ons moeilik om te bid, want die water in die put raak laag.

Baie van ons se gebedslewe is ook soos ’n waterput waaruit lanklaas gepomp is. Gebed kom nie so maklik as jy nie gereeld bid nie.

Soms bid ons net vir dínge.

Die verhaal word vertel van ‘n predikant wat na Johnnie se huis gekom het, en tydens die gesprek het hy hom gevra: “Bid jy elke aand, my seuntjie?” “Nee,” antwoord Johnnie, “sommige aande wil ek niks hê nie.” Sommige mense deel hierdie selfsugtige siening van gebed. Gebed is nie net vir persoonlike versoeke nie – dit is vir belydenis, lof, danksegging, aanbidding en voorbidding vir ander. Gebed is ‘n bediening van smeking vir ander en aanbidding van God, sowel as versoeke vir myself.

Vanoggend gaan ons stilstaan by die belangrikste geestelike aspek van ons lewe, naamlik gebed. Jakobus begin sy brief met ’n oproep om te bid (1:5) en hy eindig dit weer met die tema van gebed in hoofstuk 5. Dwarsdeur die brief maak Jakobus gedurig melding van gebed.

Daar is drie aspekte van gebed in ons gelese gedeelte ter sprake.

Drie geleenthede waartydens gebid moet word, is: (i) tydens swaarkry (v 13), (ii) tydens blydskap (lofliedere is ook ’n vorm van gebed: v 13) en (iii) tydens siekte (v 14).

Jakobus bedoel eintlik dat ’n persoon of gemeente sonder gebed, soos ‘n huis sonder dak is – dit is blootgestel aan winde wat waai, aan reën en elke storm wat woed.

In gebed is dit beter om ‘n hart sonder woorde te hê as woorde sonder ‘n hart. Daarom soek God by ons ’n opregte hart as ons bid. Koning Dawid se gebed in Psalm 51 is ’n mooi voorbeeld van ’n opregte gebed en berou voor God. Dawid verlang om in ’n rein verhouding met God te lewe. Die sonde moenie skeiding maak tussen hom en God nie.

Een van die groot geheime van effektiewe gebed is dat die gesindheid van die hart reg is teenoor God.

In ons teksgedeelte staan die gemeenskaplike verantwoordelikheid uit. Gelowiges moet vir mekaar bid. Wanneer iemand siek is, moet die ouderling ontbied word om vir die sieke te bid. Verder sê Jakobus in hoofstuk 5:16 die volgende: “Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Met hierdie “gesond” word bedoel die stukkendheid in die gemeenskap moet gesond word. In Jakobus se tyd was daar in die vroeë kerk baie spanning rondom klasverskil, kultuurverskil, ryk en arm, die veragting van die weerloses en die misbruik van die tong. Dan moedig Jakobus die gelowiges aan om te bid, dat die spanning en verskeurdheid tussen die gelowiges gesond sal word.

Daarom gaan die gebed om gesondmaking nie net oor siekes nie, maar oor die heelmaking van die gemeenskap. So moet ons nie maar net bid vir die siekes alleen nie. Ons moet bid vir die verskeurdheid van die Suid-Afrikaanse samelewing, waarin daar soveel ellende, werkloosheid, korrupsie, misdaad, maatskaplike nood en misbruik van gesag is. Ons moet bid vir die heelmaking van die gemeenskap.

Augustinus die kerkvader, was in sy kinder- en jongman-jare ‘n onverskillige rebel wat gebaljaar het onder die verkeerde vriende, meisies en in die kroeë van sy tyd. Sy moeder Monica het egter getrou gebid dat God tog haar seun Augustinus se lewe moet aanraak en verander. Die Here het na haar gebed geluister en die Heilige Gees het Augustinus se hart verander. Met Augustinus en sy buite-egtelike seun se doop en belydenisaflegging het die priester gesê dat Monica se gebede Augustinus se lewe verander het. Augustinus het een van die grootste kerkvaders van alle tye geword.

In Openbaring 8:4 staan daar:  “Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.” Ons swakke gebede is soos wierook wat deur God aanvaar word. Ons swakke gebede word deur die Gees vertaal in gebede wat vir God aanneemlik is.

Ek hoef nie soos ’n Concorde-vliegtuig, grasieus en voortreflik, te bid nie. Al sukkel jou gebed ook om van die grond af te kom – God luister. God oordeel nie ons gebede op grond van die korrektheid daarvan nie.

Gebed verander sake, maar dit verander veral ook die bidder.

As ons geen toekoms het nie, kan die gebed van ’n enkeling rimpels veroorsaak vir ’n heel nuwe toekoms. Natuurlik is daar plek vir massa-gebedsbyeenkomste, maar daar is ook beslis plek vir die gebed van ’n enkeling. Gebed is altyd verootmoediging. Dit suiwer jou hart, gedagtes en lewenswandel. Dit skep orde in jou gedagtegang oor die goed waaroor jy met die Here wil praat.

Een evangelis het gesê: “Moenie begin om die wêreld te verander nie. Klim self in die sirkel en begin by jou.” Ons moet ’n lewe van gebed beoefen. Ons moet nie maar net ’n geleentheidsbidder wees nie. Gebed moet die stuurwiel van jou lewe wees en nie die noodwiel nie.

Gebed vereis verandering by jou. Wanneer ons bid: “Lord, let your Kingdom COME,” moet ons daarmee saambid: “Lord, let my kingdom GO.” Gebed vra aksie. Ek moet die goed doen waarvoor ek bid. As ek vir die armes bid, moet ek ook iets doen aan die armes se nood. Gebed vra persoonlike “commitment” en toewyding.

Ons moenie vaskyk in die massa-histerie van ’n massa-gebedsbyeenkoms en in die proses die persoonlike intieme gebede van ’n enkeling miskyk, wat die toekoms van die land kan verander nie.

Swaarkry wys op die innerlike stryd as gevolg van uiterlike beproewings. Dan moet die gelowige nie minder bid of ophou bid nie, maar juis met geduld aanhou bid. Om geduldig te bid, is baie belangrik. Gebed werk nie soos kitskos nie; gebed vra toewyding, geduld en ’n ernstige wag op God se uitkoms. Die verwysing na Elia in vers 17 en 18 dien as ’n aansporingsvoorbeeld. Daar staan: “Elia was ‘n mens net soos ons, en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee, en die aarde het sy vrug opgelewer.” Wanneer laas het ons vurig en ernstig gebed?

Wie arm aan gebed is, is arm aan God. As jy arm aan God word, dan tree jy later op soos die mense van die wêreld.

Te midde van ‘n menigte aktiwiteite, moet ons nie toelaat dat enigiets ons gebedstyd indring nie. Die duiwel sal ons so besig hou, dat hy ons net nie biddend  kry nie. Hy weet dat hy geen wapen teen gebed het nie. Hou u gebedstyd met alle ywer, soos Daniël, wat drie keer per dag tot die Here gebid het.        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Hemelse wysheid teenoor aardse wysheid.

SKRIFLESING: Jakobus 3: 13 – 18

Jakobus stel ’n vraag: Is daar ’n wyse of verstandige mens onder julle?

Ons dink as iemand op universiteit of kollege was, dat die persoon verstandig is. Ons dink aan CJ Langenhoven wat die mooiste gedagtes oor wysheid geskryf het. Baie mense plaas ook op Facebook die mooiste gedagtes, Christelike aanhalings, gedigte en so meer en ons dink hulle is wys. Maar mense wat die mooiste goed op Facebook plaas, se lewens is dikwels in kontras daarmee. Op WhatsApp kan ons ook die treffendste Christelike goed plaas en ons dink dit is wysheid.

Daar was ook ‘n tyd dat mense Christelike plakkers op hulle voertuie aangebring het, maar hulle het soos padvarke bestuur. Party besighede plaas ook Christelike verse en aanhalings op hulle advertensies, sodat kopers moet dink dat hulle eerlik is en met integriteit sal optree. Dan is dit juis hulle wat ‘n mens verneuk. In die Afrika-konteks kry ‘n mens ook baie “opskiet kerke”, wat nie verbind is aan ’n kerkgenootskap wat oor die pastore toesig hou nie. Die afgelope tyd het ons gelees van kamstige “pastore” wat met seks-sindikate, geldwassery, mensehandel, bedrog, geldelike afpersing van lidmate en erge kriminele aktiwiteite besig is, onder die soetsappige stroop-dekmantel dat hulle pastore en leiers van kerke is. Dit is daarom ook die rede dat die regering wetgewing oorweeg om kerke te reguleer.   In die naam van godsdiens kan jy nogal baie mense bedrieg en probeer wegkom met erge wanpraktyke.

Jy word nie gereken aan wat jy sê nie, maar wat jy doen. Jakobus se uitdaging is: Bewys jou wysheid deur goeie gedrag. Daarom moet jy onderskei tussen hemelse wysheid en aardse wysheid.

Ware wysheid en verstandigheid het alles te doen met gedrag. Daarom moet ons onderskei tussen wysheid van bo, teenoor wysheid van onder. Wysheid van bo is nie maar net voorgee met woorde nie. Dit is aktiewe dade van nederigheid en sagmoedigheid.

Wysheid van onder is dikwels woorde, sonder dade wat dit bewys. Dit gaan gepaard met selfsug en afguns.

Daarom, as ‘n mens die skrifgedeelte saamvat gaan hemelse wysheid oor dade van nederigheid (sagmoedigheid) en aardse wysheid oor dade van selfsug en afguns.

Luister hoe beskryf Jakobus hemelse wysheid in Jak 3:17 en 18 – “Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.”

Die hemelse wysheid kan alleen bogenoemde eienskappe baar, as nederigheid (sagmoedigheid) seëvier. Hemelse wysheid beteken volgens Jakobus nederigheid (sagmoedigheid).

Daar was ‘n ou Joodse gebruik waar mense in ‘n sirkel gedans het by Joodse feeste. In ‘n sirkel is daar nie eerste en laaste soos in ‘n ry nie. Almal in die ry is gelyk, almal is tegelyk eerste en tegelyk laaste. So kan almal nederig bly.

Daarom moet dit vir Christene gaan oor dienswerk en nie selfsug en afguns nie.  Wanneer ‘n gelowige in ‘n posisie van gesag geplaas word, moet die motief van diensbaarheid en nederigheid, jou ‘n dienskneg en slaaf maak van ander.

Gelowiges wat bereid is om selfloos, sonder eie belang, bereid is om te dien, sal self deur God vereer word. Paulus maak Christus Jesus ‘n voorbeeld van die een wat ‘n dienskneg en ‘n slaaf geword het. (Johannes 13). Op die regte tyd het God vir Jesus tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

Owen Feltham skryf: “ Ek merk dat God van al die plante die eenvoudige wynstok gekies het wat gestut moet word; en van al die diere, die onskuldige lam; en van die voëls, die onskuldige duif. Christus is die roos van die veld en die lelie van die dale. Toe God aan Moses verskyn het, was dit nie in die trotse seder of in die kragtige eikeboom nie, maar in ‘n nederige en eenvoudige braambossie, asof Hy deur hierdie keuses die hoogmoed en die verwaandheid van die mens in toom wil hou.”

Die Here hou van eensgesindheid. Nederigheid en sagmoedigheid (hemelse wysheid) bevorder eensgesindheid. Selfsug en naywer (aardse wysheid), rysmier die eensgesindheid van mense. Die Here se gebed in Johannes 17 was dat Sy mense een mag wees, soos God-Drie-Enig een is.

Jakobus skryf juis hierdie brief, omdat die ontvangers daarvan in stryd met mekaar gelewe het. In plaas van nederigheid (hemelse wysheid), het selfsug en afguns (aardse wysheid) geseëvier.

Jakobus 3: 15 tot 16 praat oor die gevolge van aardse wysheid. Die gevolg van selfsug en afguns is: “Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar aards, nie-geestelik en demonies. Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor.”

So lyk ons wêreld as gevolg van aardse wysheid. Al die onmin in huwelike, in gesinne, in vriendekringe, by die werk, in die kerk, in die politiek, is te wyte aan aardse wysheid wat selfsug en afguns verkondig.  Daarom is daar so baie wanorde en allerlei gemene dade tussen mense. Mense kan die wreedste wesens op hierdie aarde wees. Ons sien dit in oorloë, in sake-transaksies, wanneer geld ter sprake kom en wanneer mense die leer van mag en beheer klim.

Watter gedrag gaan u en ek openbaar? Hemelse wysheid of aardse wysheid? Die aardse wysheid van selfsug en afguns vernietig alles en verbreek die eenheid tussen mense. Maar hemelse wysheid van nederigheid en sagmoedigheid bring eenheid en vrede tussen mense. Dit is heilsaam en dit bou die gemeente.

Mag ons lewe gekenmerk word deur hemelse wysheid!           

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om jou vyand tot skaamte te bring.

SKRIFLESING: Mat 5: 38 – 41

Wanneer die Here Jesus van sy volgelinge verwag om nooit terug te slaan nie, verwag Hy ‘n baie swaar ding van ons. Om nie terug te slaan nie, kos leeuemoed. Daarom is die gelowige so anders as die ongelowige – want van die gelowige word moed gevra.

‘n Voorbeeld van Joodse moed het hom in 26 n.C. afgespeel. Pilatus, die Romeinse goewerneur in Judea, het opdrag gegee dat ‘n beeld van die Romeinse keiser Claudius in die tempel in Jerusalem opgerig word. Die Jode het dit dadelik beskou as ‘n afgodsbeeld wat in hulle tempel opgerig gaan word. Hulle het toe in groot massas opgeruk na Pilatus se paleis in Caesarea. Hulle het die paleis vir vyf dae en nagte omsingel deur doodeenvoudig te kniel. Uiteindelik het Pilatus ingestem om met hulle in die arena te gaan onderhandel. ln die arena aangekom, vind hulle toe uit hulle is omsingel deur drie rye swaar gewapende Romeinse soldate, wat eis dat hulle die Romeinse gode moet aanbid. Die Jode het hul doodeenvoudig neergegooi voor die Romeinse soldate, hulle nekke ontbloot vir die swaarde van die Romeine en gesê dat hulle liewer doodgemaak sou word as om vreemde gode te aanbid. Verstom deur die moed en geloof van die Jode, het Pilatus opdrag gegee dat die beeld verwyder word.

Daarom, as die Here Jesus sê dat ‘n mens nie jou vyand moet terugslaan nie, word dit nie van swakkelinge gevra nie, maar van mense wat moed het. Die drie klassieke uitsprake van die Here, wat handel oor teengeweld, is natuurlik die volgende:

a.) As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang.

Die Here Jesus het dié uitspraak gemaak om vir mense raad te gee wat in ‘n persoonlike geskil met iemand betrokke is.

Waarom word daar spesifiek na die regterwang verwys? Dit was destyds ‘n skande om enige taak met jou linkerhand te verrig. As jy dus met ‘n swaard wou veg of wou slaan, het jy dit met jou regterhand gedoen. Wanneer ‘n mens iemand met jou regterhand op die regterwang wil slaan, moes jy dit met die rugkant van jou regterhand doen, wat natuurlik ‘n vernederende klap was. Dit is ‘n klap waarmee kinders, slawe, vroue en ondergeskiktes gewoonlik geklap is. Die persoon wat geklap is, kon op twee wyses reageer:

* òf jy gryp jou kop vas, deins terug en hoop daar kom nie nog klappe nie – soos ’n lafaard,

* òf jy slaan terug, hard en sekuur – dan maak jy soos die wêreld maak, wat alles met geweld wil oplos.

Jesus kies nie een van die twee nie, nie die weg van die lafaard en ook nie die weg van die wêreld nie.

Jesus sê draai die ander wang. Wanneer die ander wang gedraai word, word die slaner gedwing om dié soort klap wat tussen gelykes gebruik word, te gebruik of natuurlik om met die vuis te slaan. Dit beteken dat ek nie toelaat dat ek verneder word nie, maar ook sal ek nie terugslaan nie. Om die ander wang te draai, beteken dat jy vir die slaner sê: Probeer weer, jou eerste klap het nie sy doel bereik nie. Ek weier om jou die mag te gee om my te verneder. Ek is ‘n mens soos jy. Jou status, geslag, rykdom, ouderdom of wat ook al, verander niks daaraan nie. Jy kan my nie verneder nie.

b.) Gee ook jou boklere

Hierdie uitspraak het die Here gegee, om daarop te wys hoe ‘n mens moet reageer op ekonomiese uitbuiting. In plaas van terug te steel of te roof, soos Robin Hood, moet ‘n mens eerder die geweldlose uitweg soek, naamlik: Gee ook jou boklere. Die situasie waarvan Jesus hier praat, het in die eerste eeu dikwels voorgekom. As gevolg van droogtes en onregverdige belastings, het kleinboere in Palestina desperaat in die skuld geraak. Geldskieters en ryk landhere het hulle dan hof toe gevat en ook hulle laaste besittings – hulle onderkleed – van hulle geëis.

Ook in dié situasie was daar twee moontlike reaksies. Òf ek gaan hof toe en gee my onderkleed, òf ek weier om hof toe te gaan en knoop ‘n geveg aan. Jesus kies nie een van die twee nie. Jesus stel ‘n derde weg voor: Gee jou onderkleed vir die onregpleger, maar gee dan sommer ook jou bokleed, sommer net daar in die hofsaal. Gee hom al jou klere en stap kaal daar by die hofsaal uit. Naaktheid was taboe vir die Jode. Dit sou vir die uitbuiter ‘n geweldige verleentheid wees om te aanskou hy het die mens kaal uitgetrek. Stel vir u die prentjie voor. Die persoon stap nakend uit die hofsaal!  Almal in die straat sal geskok vra wie al sy klere gevat het, wie hom nakend gelaat het. Op die end kom al die vernedering neer op die uitbuiter en hy voel op die ou end skaam oor sy uitbuitery.

c.) Dra dit ook ‘n tweede kilometer

Hierdie uitspraak van die Here hou verband met politieke onreg.

Dit was algemene gebruik dat soldate iemand kon opkommandeer om sy goed vir hom te dra. (So byvoorbeeld is Simon van Sirene opgekommandeer om die kruis van die Here te dra.) Dus kon enige Romeinse soldaat enige kleinboer wat op sy land gewerk het, oproep om sy pak vir hom te dra. Omdat die Romeine wou verhinder dat die saak hand uitruk, het hulle ‘n reël gemaak dat die draer ná een kilometer weer teruggestuur moes word na sy land, anders sou daar later niemand meer op die land wees om kos te produseer nie en dan sal die Romeine ook doodgaan van die honger. Die Here Jesus gee egter ander raad: Moenie gedwee en gedienstig na een kilometer omdraai nie. Nee, daag die soldaat uit om sy pak vir hom nog ‘n tweede kilometer ook te dra. ‘n Mens kan jou weereens die toneeltjie voorstel. Die soldaat staan ongemaklik rond. Hy mag nie toelaat dat ‘n kleinboer vir ‘n tweede kilometer sy pak vir hom dra nie. Hy sal in die moeilikheid kom. Wat nou gemaak? Miskien kry hy skaam. Miskien sien hy met watter onreg hy besig is.

U sien dus in al drie hierdie uitsprake het die Here dit teen geweld, maar ook teen ‘n slap, lafhartige houding. Christene mag nie neutraal wees nie. Hulle moet standpunt inneem teen onreg, maar altyd sonder geweld. Hulle kan en moet weerstand bied teen onreg, maar sonder die swaard. Maak mense skaam, maar moenie hulle seermaak nie. Maak hulle skaam, nie om hulle te verneder nie, maar sodat hulle tot ander insigte kan kom.                           

AMEN

(Ek gee erkenning aan die oorspronklike bron van die uitlegging – ongelukkig het ek nie die skrywer se naam nie.)

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.

Is jou hart nederig voor God en medemens?

SKRIFLESING: Johannes 13: 1 – 17 en 28 – 30

Nederigheid is een van die vernaamste deugde van die Christelike kerk en die gelowiges. ‘n Mens moet begeer om nederig te wees.

Die rede waarom daar vandag so baie twis en tweespalt is, is omdat daar te veel belangrike mense is. Daar is te veel base. Kyk maar na die wêreld. Die Afrika-state word gereeld geteister deur staatsgrepe. Oorlog, haat, naywer, afguns en jaloesie …. volk teen volk, ras teen ras, mens teen mens, werknemer teen werknemer, broer teen broer, man teen vrou, kind teenoor ouer. Almal wil belangrik wees! Ook in die kerk gaan dit nie veel beter nie. Gaan lees maar van die verskriklike Protestant-Katolieke godsdienstige oorloë.

Maar ook in die plaaslike gemeente in Handelinge woed die stryd om status voort. Gaan lees maar in Handelinge van die stryd in die eerste Jerusalem-gemeente. Dis die verskriklike: die kerk van vrede het geword ‘n kerk van oorlog en rusie. Ook alreeds daar by die eerste dissipel-kerk, ook alreeds daar by die eerste Nagmaalstafel, lees ons van twis en naywer. Luk 22 beskryf vir ons die treurige gebeurtenis. Die dissipels was bymekaar daar in die bokamer rondom die eerste Nagmaalstafel dié nag voordat Hy verraai sou word. In plaas daarvan dat die dissipels hul bekommer het oor die komende Koninkryk en die naderende kruisdood, het hulle hul bekommer oor wie van hulle nou tog die belangrikste is.

Daar was twee vrae in hulle gemoed:

1.) Wie sal tog die naaste aan die regterkant van die Here sit? Wie sal tog die ereplek langs die Meester inneem?

2.) Wie sal hom moet neerbuig en homself verneder deur die voete van die ander te was?

Dit was twee groot probleemvrae daar rondom die eerste Nagmaalstafel. Wie is die waardigste en wie is die onwaardigste? So gaan dit mos tussen broers en tussen volkere: wie is die waardigste en wie is die onwaardigste? Dit terwyl die Here sê: “Soek allereers die Koninkryk van God……”. Dit skreeu  ten hemele. Die selfgesentreerde dissipels teenoor die self-opofferende Messias. Die twaalf  “ekke” wat met hulle twaalf “selwe” besig is. ‘n Kontras, wat die ganse Evangelieboodskap weerspreek. Ja, so weerspreek die kerk homself en die heilige Evangelie, elke keer as hy vra: Wie is die waardigste? Wie is die onwaardigste?

Jesus sê in vers 25 dat konings met ‘n ysterhand regeer en as hulle ‘n bietjie goed gedoen het, laat hulle hul noem weldoeners oor die swakkes en ellendiges. My regterhand moet maar alte goed weet van my linkerhand. Ons verruil binnekamers vir die straathoeke. Dit verhoog my status, my aansien! Here, wie is tog die belangrikste? Is dit nie ironies nie; die dissipels, die kerkmense, vra ‘n rang in die hemel, maar die uitvaagsel, die moordenaar aan die kruis, vra slegs: “Dink asseblief aan my?” En dan beloof Christus aan Hom ‘n plek in die paradys!U sien dus: belangrike mense, wat posisies opsoek in die hemel, word beskaam.

Slegs nederige mense wat weet hul hoort eintlik nie daar nie, word verhef tot koningskinders. Die ergste is natuurlik as mense begin om ook God uit te rangeer uit die hemel. Die mens van ons tyd het te belangrik vir God geword. God het die klei geword en ons die pottebakker. In plaas daarvan om die onse Vader te bid, bid ons eerder die volgende aangehaalde gebed:

Onse milde God van alles wat soet en mooi is,

laat ons republiek tog nou reeds kom,

laat ander hul wil verskiet – Gee skiet Gee skiet!

Sodat ons ook ‘n sê mag hê.

Gee dat ons vandag ons daaglikse brood mag verdien,

en die botter, die konfyt, die wyn, die stilte, die stilte van wyn

en lei ons in versoeking van velerlei aard.

Sodat die liefde van lyf na lyf kan spring.

Maar laat ons ons verlos van die bose,

want aan ons behoort die menseryk, die krag en die heerlikheid,

van nou af tot in alle ewigheid net so ewig.

Aa mens! Aa mens!

Klink dit nie vir u bekend nie? Die aarde is nie God s’n nie, die aarde is nie van die duiwel nie, want die aarde behoort aan die mens. Om nou sommer reguit te wees. Die mens van ons tyd het te groot vir sy skoene geraak. Die mense wil onder mekaar belangriker wees. Maar ook belangriker as God. Klein skepselmensies wil oor mekaar heers. Nog erger: hul wil Heer oor die ganse kosmos speel.

Maar gemeente, so het u Christus nie leer ken nie. Al was Christus die Hemelkoning, het Hy die voete van sy dissipels gewas, siekes genees, mense gevoed, gebid vir tollenaars, geëet saam met sondaars, die bedelaars gehelp en Homself geoffer.

ln vers 26 sê Christus eintlik maar dat die belangrikste onder ons, juis die nederigste moet wees. Dit beteken: hoe hoër my status styg, hoe laer moet ek my neerbuig. Elke posisie op, een posisie af. U sien dus hoe hoër ek styg, hoe laer moet ek buig. Dit, gemeente, kos integriteit, maar meer nog, nederigheid. Dit sê Christus is ware grootheid. Grootheid is nie in magsvertoon nie, maar in selfontleding. Christus kon ’n skaar van engele ontbied om Hom van die kruis af te haal, maar nogtans verneder Hy homself nakend aan die kruis.

Gemeente, ons kan miskien nog hierdie aarde of  ‘n gedeelte van hierdie aarde met magsvertoon oorweldig soos Alexander die Grote of soos Adolf Hitler. U kan miskien nog in hierdie lewe u merk maak in die lewe as ‘n belangrike mens. Maar u kan nie die hemel oorweldig met ‘n magsvertoon nie. In die hemel kan u geen merk maak nie. In die hemel is net mense wat daar gekom het sonder dat hul eintlik daar hoort. Hulle is nie deur die magsvertoon van hulself of van Christus gered nie. Nie deur ‘n septer is ons verlos nie, maar deur ‘n kruis. Ons is nie deur ‘n ysterhand oorweldig nie, maar deur die sagte deurboorde en uitnodigende hande van die grootste en nederigste Dienskneg van alle tye.

Vergeet om u merk in die hemel te maak. Kyk alleen maar na die merke op Christus se deurboorde hande. Die merke van liefde en nederigheid. U sien: belangrike, hooghartige en selfgesentreerde mense kan nie in die hemel kom nie. Want as julle die Koninkryk van God nie soos ‘n kind ontvang nie, sal julle nooit daar kan ingaan nie. By die nederige Christus-koning, groot Dienskneg van die wêreld, pas alleen maar klein afhanklike diensknegte en diensmaagde. Wat alleen maar wil uitroep: aan God al die EER.

Ja, die wonderlike van vers 28 – 30 is die volgende. Diensknegte word koninkryksburgers. Ja, want Christus was maar altyd bewus dat Hy die Seun van die lewende God is. Hy het geweet dat die Koninkryk van God deur Sy Vader aan hom bemaak is. En nou maak Hy sy dissipels en ook sy volgelinge van alle tye die burgers van Sy Koninkryk. Net soos die moordenaar aan die kruis as ‘n stukkende en leë mens kom vra dat Christus aan Hom sal dink, en dan skenk God aan hom die Koninkryk.

Wanneer ‘n koning ministers aanstel om oor sy land te help regeer soos wat ons lees in vers 30, dan bly die koning nog steeds die belangrikste. Ja, die ministers regeer ter wille van die eer van die koning. Net so, liewe gelowiges, as Christus aan jou sy Koninkryk bemaak, as Christus aan jou die hemel en die verlossing beloof, mag jy nooit dink dat jy nou skielik die sentrum geword het van die hemel, asof jy die belangrikste is, nie. Want God het jou nie gered alleen maar om jou lewe te spaar nie. Nee, jy is gered om God en jou medemens te dien, OM DIE EER VAN GOD. Ek is gered nie vir myself nie, maar vir die EER VAN GOD.

Weet u wat is die definisie van ‘n sinlose lewe?

“Ek is die belangrikste”

Weet u wat is die definisie vir ‘n sinvolle lewe?

“God is die belangrikste… Ek jaag die eer van Christus na en die voordeel van my medemens.” Daarom moet ek nederig word.

Ware godsdiens vra nooit na die ek nie. Ware Godsdiens is altyd Godgerig en medemensgerig, maar nooit my-gerig of ek-gerig nie. God sal vir die “ek ” sorg.

Bekommer jou liewer oor die Koninkryk van God. Ons hedendaagse samelewing is baie ingestel op die “ek”. Baie jare gelede het mense geleef met ‘n “ons”-houding. Vir mense het dit gegaan oor wat vir die samelewing belangrik is en nie oor die “ek” nie. Hoogmoedigheid veroorsaak dat die “ek” faktor floreer. Daarom moet ons weer nederig word en eerste vra wat vir die samelewing, vir die “ons”, belangrik is.

Nederigheid is ‘n mooi eienskap. Dit weerkaats iets van Jesus Christus. Daarom moet ons onsself beywer om ‘n lewe van nederigheid te lewe.

Mag u en ek elke dag nederig lewe. Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)