SKRIFLESING: Mat 5: 6 en Mat 23: 23 en Rom 8: 18 – 25
Daar is min dinge in die lewe wat soveel respek afdwing as absolute billikheid en regverdigheid.
Mense wat die meeste respek afdwing, ondanks verskille, is mense wat onkreukbaar regverdig, billik en eerlik is – dikwels tot hulle eie nadeel. Sulke mense laat gewoonlik ’n blywende indruk op ander se lewens. Sulke mense se karakter word gevorm, deurdat hulle ’n droom het na ’n beter wêreld.
Ons moet nie dink die hemel begin eers eendag nie. Dit begin alreeds waar ons die hemel waar maak in hierdie aardse gebroke wêreld. Ons moet nou alreeds iets van die hemel sigbaar maak, om in ’n beter wêreld te leef.
In die droom van Salomo in 1 Konings 3: 1 – 15 vra die Here vir Salomo hy kan vra wat sy hart begeer. Dan vra Salomo “’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk.” Salomo begeer geregtigheid bo alles. Die Here was so tevrede met Salomo se wens, dat Hy hom op die koop toe ook rykdom en aansien gegee het. Salomo wou van die lewe en van sy koningskap ’n beter wêreld skep, daarom het hy wysheid gekies.

Die vierde Saligspreking is gebou op die tweede Saligspreking. Eers as jy treur oor die ellende en die onregverdigheid in die samelewing, kan jy honger en dors na die ware geregtigheid en ’n beter wêreld. Dan kan jy honger en dors na die Messiaanse Ryk wat moet kom en vergestalting vind, sodat die ellende van hierdie wêreld minder kan word. In die Bybel is daar geen sprake van heil of genade of verlossing, sonder reg en geregtigheid nie. Die Lewende Bybel vertaal die vierde Saligspreking met “’n brandende begeerte om te doen wat God wil hê.”
Sonder die honger na ’n beter wêreld, sal jy nooit kan kom om te soek vir reg en geregtigheid nie. Eers as jy treur en gebroke is oor die stukkendheid van die wêreld, kan jy honger na ’n beter wêreld.
En hoe kom die beter wêreld? Mat 23: 23 beskryf wat die verkeerde fokus en dan ook die regte fokus is: Ellende wag vir julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Julle gee tiendes van kruisement, anys en komyn, maar julle verwaarloos die gewigtiger sake van die wet: geregtigheid, barmhartigheid en trou. Juis hierdie dinge moes julle gedoen het, sonder om die ander na te laat.
Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het gedink hulle lewe is reg omdat hulle die wetsgedeeltes nagekom het. Maar hulle het vergeet om die gees van die wet, naamlik geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid na te kom.
Jacques Philippe skryf: “Gelukkig is diegene wie se diepste begeerte nie beperk is tot een of ander menslike ambisie nie, maar gesentreer is op ’n begeerte na heiligheid, die begeerte om God te behaag en Sy wil te doen, om God en naaste lief te hê met al die krag van hul harte. Hulle sal ontvang wat hulle begeer en sal vervul word.”
Ons is geneig om eiegeregtig te wees. Ons begeer geregtigheid wat ons pas en wat ons behoeftes bevredig. Daarom is ons so geneig om selfsugtig te wees. Daarom is die kerk en die Christen se getuienis dikwels nie sterk nie. Ons tree nie regverdig op teenoor mekaar en die samelewing nie. Ons honger nie daarna om goed te doen aan ander mense en aan die wêreld nie. Ons is net honger vir onsself.

Luther se bekende uitspraak Hoe heiliger, hoe sondiger word ook in dié lig verstaanbaar. Hoe nader ’n mens aan die Here kom (dit is wat heiligheid in sy wese is), hoe meer raak jy bewus van die feit dat jou lewe nie is wat dit moet wees nie. Mense wat ver van God leef, vind gewoonlik min fout met hulle eie lewe. Dit verklaar ook waarom Paulus homself die allergrootste van sondaars kon noem. Inderdaad ’n sprekende voorbeeld van “hoe heiliger, hoe sondiger.”

’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld as jy jou werknemers billik behandel. ’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld as jy jou beste gee vir jou werkgewer. ’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld as jy alle mense gelyk en regverdig behandel, ongeag hulle afkoms, ras, klas of stand in die samelewing. ’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld as jy mense nie ekonomies uitbuit nie. ’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld as jy jou vorms en belastingopgawe met eerlikheid invul en nie meedoen aan korrupsie of omkoopgeld nie. ’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld is as jy die naam van jou medemens beskerm teen skinder en laster. ’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld as jy opkom vir hulle wat verdruk word of deur die samelewing misken word. ’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld as jy jou ontferm oor die armes en die randfigure in die samelewing.
Die Here Jesus het gesê dat as ons enigiets doen teenoor ons medemens wat van geregtigheid getuig, ons dit eintlik aan Jesus doen, want Jesus is die volmaakte beeld van geregtigheid. Dan honger ons na ’n beter wêreld.

In die Bybel waarsku die Here dikwels sommige konings van die Ou Testament dat hulle swak herders is vir die volk. Vergelyk maar net die woorde van die profeet Esegiël wat sê dat die herders van die volk mense misbruik, wegstamp en net die beste vir hulself wil hê. In die hedendaagse politieke landskap lees ons ook van staatskaping, nepotisme en korrupsie op groot skaal. Dit ontbreek ons landsleiers om in geregtigheid te heers. Dit plaas ons land op ’n afdraande pad. Daar is nie drome na ’n beter Suid-Afrika in ons regering nie. Daarom verval ons al meer in ’n stukkende, mislukte staat. Inderdaad leef ons onder ’n skewe reënboognasie. Daar is geen of min ambisie by baie politici, om die honger na brood, werksgeleenthede, basiese regte en menswaardigheid te herstel.
Jacques Philippe skryf: “God maak geen uitsonderings nie, maar behandel almal met absolute gelykheid. Hierdie goddelike geregtigheid is ’n vereiste vir die mensdom, wat voor God moet staan in ’n verhouding van waarheid sonder verskonings.”

Die ryk man in die gelykenis van Lasarus het sy dors te laat ontdek. In die hel het hy vir Abraham gevra dat Lasarus net sy tong moet kom natmaak. Maar helaas te laat. Vir ’n leeftyd het hy nie die regte van Lasarus raakgesien terwyl Lasarus buite sy poort gelê het nie. Die ryk man het nie ’n honger gehad na ’n beter wêreld vir Lasarus nie, nou het hy ’n ewige dors, wat erger is as hongerte.
In 1 Konings 21 lees ons ook van koning Agab wat die grond en wingerd van Nabot begeer het. Toe hy dit nie kon kry nie, het hy hom opgeruk en in sy slaapkamer toegesluit en niks geëet nie. Sy vrou Isebel het toe ’n plan gemaak en valse getuienis is teen Nabot ingebring deur twee boosdoeners. As straf is Nabot met klippe doodgegooi. Agab kon toe besit neem van Nabot se grond. Oor hierdie onreg het die Here vir Agab gestraf. Agab het nie ’n honger en dors na geregtigheid gehad nie, maar was honger en dors na sy eie belange. Hy het geen begeerte na ’n beter wêreld gehad nie.
’n Mens kan nie gelyk na die aarde en hemel kyk nie. Net so kan ’n mens nie gelyk kyk na ’n wêreldse gesindheid van onreg en na hemelse geregtigheid nie. Jou hart kan nie verdeeld wees nie. Thérèse van Lisieux het gesê: “I don’t want to be a saint by halves!”

As ’n mens net honger is na jou eie voorspoed, rykdom en aansien is jy soos ’n hond wat na sy eie braaksel toe terugkom om dit te eet. Dit bevredig nie. Dit stil nie die honger nie. Eers as jy honger en dors na die regte van ander mense, word jy versadig, want dan vind jy sin in jou lewe. Dan is daar betekenis in jou lewe. Ons as Christene moet elke dag honger na ’n beter wêreld. Nie soseer ’n beter lewe vir onsself nie, maar ’n beter lewe vir ander en vir die honger van die wêreld. Ons moet kan treur oor hierdie wêreld voordat ons ’n honger kan ontwikkel vir ’n beter wêreld.
Maar die saligspreking het ook betrekking op honger en dors na die geregtigheid wat God deur Sy Seun Jesus Christus skenk. In Joh 14: 4 sê Jesus dat elkeen wat die water drink wat Jesus gee, nooit weer dors sal kry nie. In Joh 6: 35 sê Jesus dat Hy die brood van die ewige lewe is en dat elkeen wat na Hom toe gaan nooit weer honger sal kry nie. As ’n kind honger is, sal sy vader en moeder altyd vir hom of haar kos gee. Net so, as ons honger na God se swaar-verdiende geregtigheid, sal God ons altyd versadig met verlossing en saligheid.

God se honger en dors na Sy kinders is baie groter as ons honger en dors na Hom. Hy het ’n onuitspreeklike liefde vir Sy kinders. Daarom het Jesus aan die kruis gesterf.
’n Mens kan nie jou verlossing koop of verdien nie. In die Middeleeue het die Rooms Katolieke Kerk van die mense geld of afkoopboetes gevra om van hulle sondeskuld ontslae te raak.
Wanneer ’n gasheer sy vriende nooi vir ’n ete, verwag hy nie dat sy vriende daarvoor betaal nie. Al wat hy wil hê is dat hulle met ’n aptyt na die ete toe kom om lekker te eet. Daarom betaal ons nie vir ons verlossing nie. Ons moet net met ’n aptyt van honger en dors na Christus toe kom. Hy sal ons gratis voed met Sy geregtigheid en ons dors les met die ewige water.
Toe die verlore seun honger was, het hy na die varke gegaan. Toe hy egter wou sterf van honger, het hy na sy vader gegaan. Dit is die tipe desperaatheid waarvan die vierde saligspreking praat.
Ons fisiese lewe hang af van kos en water. Ons geestelike lewe hang af van geregtigheid. Daarna moet ons honger en dors. Dan is die beloning dat ons versadig sal word om die sin van die lewe te ervaar en te beleef. Die sin van die lewe is om te honger om van hierdie wêreld ’n beter plek te maak.
Augustinus het gesê: “God het ons vir Homself gemaak, en ons hart sal onrustig en soekend bly totdat dit rus vind in Hom.” Ons sal rus vind en versadig word as ons Sy geregtigheid met ons hele hart najaag. As ons elke dag honger en soekend is na ’n beter wêreld, sal ons lewe betekenis en sin hê. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
BRONNELYS
MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.
Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.
Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.
Philippe, Jacques. The Eight Doors of the Kingdom: Meditations on the Beatitudes. Scepter. Kindle Edition.
Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3813). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.
