SKRIFLESING: Luk 19: 28 – 44
Aan wie se kant is God? Dwarsdeur die geskiedenis van die wêreld het die mense probeer om God aan hulle kant te kry.

Mense dink as God aan ons kant is, sal alles goed gaan. Dink maar aan voorbeelde in die moderne geskiedenis, wat getuig hoe mense, God aan hulle kant wil hê en as’t ware aan hulle kant wil plaas, byvoorbeeld soos in die Engelse volkslied: “God save the Queen”. Of die Duitse slagspreuk in die Tweede Wêreldoorlog: “For Gott, Volk und Vaterland”. In my ouma se eetkamer het daar ook ‘n prent gehang van al die Boere-generaals met die woorde: “Vir God, volk en vaderland.” In die bevrydingsteologie is God geplaas aan die kant van die armes. Dan kry ons natuurlik ook die swart volksteologie, wat Christus aan die kruis uitbeeld met ‘n AK47 geweer. Of die wit volksteologie wat erg rassisties teenoor swart mense dink.
In die Anglo Boereoorlog het beide die Engelse en die Boere in God geglo. Voor elke slag het elke kant gevra dat God vir hulle die oorwinning moet gee. In rugbywedstryde, kan spelers maklik vra dat God asseblief hulle span sal laat wen. In die boerdery, kan een boer bid vir reën en dan wil ‘n ander boer wat met iets anders boer weer geen reën hê nie, want dit is sy oestyd.
Politieke partye probeer God aan hulle kant kry. So het die ANC ’n paar jaar terug verklaar dat hulle sal regeer tot die wederkoms. Onlangs het Julius Malema gesê in ‘n openbare toespraak op die ANC se uitspraak, dat die wederkoms reeds gekom het, want die EFF is die wederkoms. Dit is absoluut Godslasterlik as jy God wil gebruik vir jou politieke doeleindes en persoonlike voordeel.
Maar ook die Jode het gedink in Luk 19: 28 – 44 dat God aan hulle kant is. Hulle het gedink dat Jesus die Messias is wat sou kom as die groot Rewolusionêr om die Romeinse juk af te werp. Dan sou hulle vry wees van die Romeinse wreedheid en die ondraaglike belastings van die Romeinse owerheid.
Daarom gee hulle vir Jesus so ‘n triomfantelike intog in Jerusalem. Die Jode het hulle klere en palmtakke voor Jesus uitgesprei. U sien dus die Jode wou Jesus ook aan hulle kant kry.
Dikwels maak ons, in ons persoonlike lewe net so. Ons dink God is aan ons kant. Ons maak ons eie lewenskeuses, solank God net daarby inval. Ons neem ons eie besluite. God moet eenvoudig maar net inval by ons besluite.

So maak ons van God ‘n pion op ‘n skaakbord wat ons kan rondstoot soos ons wil. Ons maak van die lewende God, ‘n afgod wat ons kan optel en aan ons kant kan plaas. Dan word God niks meer as ‘n gelukbringer vir ons.
Maar God laat Hom nie rondstoot of rondplaas nie. Wie aanmatigend verklaar: “God is aan ons kant”, dink menslik en klein oor die lewende en almagtige God. Nee, God kies nie kant nie. God het nie swart skape en witbroodjies nie.
God kies vir niemand kant nie. Die tempel in Jerusalem, wat Herodus die Grote gebou het en waarop die Jode so trots was is in 70 nC vernietig. Die Verenigde Koninkryke se eens magtige kolonialisme het tot ‘n einde gekom. Naziïsme het tot ‘n einde gekom. Apartheid het tot ‘n einde gekom. Wit en swart mense is voor God gelyk. God is nie ‘n politikus nie. Geen politieke party kan vir God opeis nie. God is niemand se eiendom nie.
In plaas van God aan ons kant te plaas, moet ons eerder biddend vra: “Is ek aan God se kant?”
U verstaan dus ons moet die vraag omkeer? Kan u nou verstaan waarom Jesus in vers 41 huil. Die antwoord vind ons in vers 42: “As jy tog wou insien wat vir jou vrede nodig is? ….”
Israel het nie politieke vrede nodig nie, ook nie politieke bevryding nie. Nee, Israel het versoening met God nodig. Daarvoor het Jesus gekom, vir die bevryding van sonde. Jesus het nie ‘n rewolusie op aarde of in politieke stelsels kom bewerk nie, maar ‘n rewolusie in ons harte. As daar ‘n rewolusie in ons harte plaasvind, sal daar ook verandering ten goede kom in politieke sisteme en ekonomiese stelsels.
Christus Jesus is nie ‘n politikus of ‘n militêre generaal nie. Christus Jesus is die Verlosser van siele en van mense. Wanneer Christus mense verlos, is mense in staat om te beding vir politieke vrede en geregtigheid.
Ek is aan God se kant as ek:
- In vrede met God leef.
- In vrede met my medemens leef.
Wanneer ek by God se norme, sy standaarde en sy wil inval, dan is ek aan God se kant. Wanneer God by my norme, my standaarde en my wil inval, dan probeer ek God aan my kant kry.
Gaan ek en jy in 2021 aan God se kant leef? Ons leef aan God se kant, as ons, ons ten volle onderwerp aan Sy wil. Dink net watter pragtige toekoms het hierdie land nie, as ons almal geleer het om aan God se kant te wees. As almal aan God se kant is, verval al verskille en ongeregtighede en onvrede. Dit maak plek vir eensgesindheid, geregtigheid en vrede.
Om aan God se kant te leef, beteken somtyds dat ek iets moet prysgee soos:
- My eiesinnige wil.
- My selfsugtige siening.
- My subjektiewe idee oor ‘n saak.
- My verkeerde norme of beginsels.
Geliefdes, kom ons leef in 2021 aan God se kant. Kom ons onderwerp ons aan Sy wil, dan sal God altyd teenwoordig wees in ons voorspoed en teenspoed. Aan God se kant, in Sy arms is ek alleen veilig.
Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)