Die etenstafel bind saam …….


SKRIFLESING: Spreuke 9:1 – 2

Wat is die belangrikste vertrek van ‘n huis? Wat is die belangrikste meubelstuk in die huis?

Verseker is die kombuis of eetkamer die belangrikste vertrek in die huis. Die belangrikste meubelstuk in die huis is die kombuistafel of die eetkamertafel. Ek verkies natuurlik die kombuistafel. My eerste kosbaarste kinderherinneringe was gewees toe ons elke aand saam geëet het rondom ‘n geel kombuistafel. By my oupa en ouma se huis onthou ek, hoe ons altyd in my ouma se kombuistafel gekuier het met die heerlike warm Aga stoof. Dit is ingebrand in my geheue.

Saamkuier rondom ‘n kombuistafel, bring huwelikspare, gesinne en families bymekaar. Dit skep samesyn en warmte. Verhoudings groei rondom die kombuistafel.

In die vroeë Bybelse tyd het mense gewoonlik net twee etes gehad. Daar was ‘n “brunch” omtrent so tussen 10h00 en 11h00. Mense het geëet om krag te kry vir die dag se werk. Aan die einde van die dag het die werkers huis toe gegaan en dan het hulle elke aand feesmaal gehou. Dan het hulle gekuier, geëet, stories vertel, gedans en wyn gedrink. Dit was die hoogtepunt van elke dag. Ps 23: 5(a) sê “U dek vir my ‘n tafel”. 

In Ps 128: 3 staan daar :  “Jou vrou is soos ‘n vrugbare   wingerdstok in die binnekamers   van jou huis.   Jou kinders is soos olyfboompies   om jou tafel.”

In Spreuke 9:1 – 2 staan daar: : “Wysheid het haar huis gebou,   sy het haar sewe pilare uitgekap.  Sy het haar slaggoed geslag,   haar wyn gemeng,   en ook haar tafel voorberei.”

In die Pasga tradisie het gesinne elke Vrydagaand die Pasga maaltyd saam geëet. Dan het die pa van die huis elke keer vertel hoekom hulle die Pasga vier. Hulle vier die uittog uit Egipte, die plek van slawerny. In die Nuwe Testament is die Pasga vervang met die Nagmaal, wat ook ‘n ete aan ‘n tafel is. Die Nagmaalstafel bind die gemeente in ‘n eenheid, om te gedenk dat Jesus Christus ons uit die slawerny van sonde verlos het.

Die vroeë kerk het ook gereeld elke Sondag, die gemeenskaplike maaltyd saam geëet, om hulle innerlike verbondenheid aan mekaar te vier. Hierdie gebruik het die Christelike kerk goedgesind gemaak in die gemeenskap en hulle getalle het gestyg.

U sien as die tafeltradisie sterf, dan sterf die kwaliteit van verhoudinge.

Die Boesmans se kombuistafel, was om elke aand rondom die vuurtjie te sit en stories te vertel, te eet, te kuier, legendes oor te vertel en diere se geluide en bewegings na te maak. Daarom bestaan die Boesmantradisie al duisende jare in Suider Afrika. Maar ongelukkig het die Boesmans verwesters. Hulle het televisies gekry, selfone gekry, oonde gekry. Hulle kuier nie meer op Smitsdrif bymekaar soos hulle voorouers nie. Die Boesmankultuur is besig om uit te sterf, omdat hulle vuurtjies (hulle kombuistafel) nie meer bestaan nie.

Voor 1976 was huwelike en gesinne baie gesonder, want daar was nie televisie of selfone en tegnologie  nie. Mense het nog gekuier rondom die kombuistafel. Met die aanvang van televisie het mense op skinkborde voor die televisie gekuier. Met die begin van selfoontegnologie is mense meer besig voor die etenstafel om teksboodskappe te stuur. So is die kombuistafel verwaarloos. 

Die tyd rondom die kombuistafel is heilige tyd. Daardie 45 minute vir aandete is heilig. Die televisieprogram  kan maar wag of opgeneem word. Die selfoon kan maar op “silent” geplaas word. In daardie 45 minute skenk ons 100% aandag aan mekaar. Dit laat huwelike oorleef, dit gee sekuriteit aan kinders. Dit skep kwaliteit tyd in verhoudings. Dit word kosbare herinneringe. Kos is nie gemaak om alleen geëet te word nie. Kos moet in samesyn en saamkuier genuttig word.

Prof Anna Fishel  of the Harvard Medical School skryf in “The Washington Post” as volg: “Kids who eat dinner with their parents experience less stress and have a better relationship with them. This daily mealtime connection is like a seat belt for traveling the potholed road of childhood and adolescence and all its possible risky behaviors.” Sy verduidelik dan ook dat baie wangedrag van kinders te wyte is dat daar daar nie ‘n kombuistafel – kultuur was nie.

Kersfees gaan ons ook rondom ‘n heerlike kostafel sit. Dit gaan nie net oor die kos nie, maar oor die samesyn en verhoudinge wat verdiep en versterk word.

Geseënde Kersfees vir u en u gesin rondom die tafel.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s