Keuses op kruispaaie

KEUSES OP KRUISPAAIE

Rooikappie en die wolf het mekaar oppad by ‘n kruising ontmoet. So is daar ook elke dag kruisings in die lewe, waar die duiwel ons wil uitdaag om die verkeerde keuses te neem. Die duiwel wil altyd vir ons die kortste en die mooiste pad wys. Dit terwyl die pad na die Here lank, kronkelend, smal en uitdagend is. Nie verniet het die oumense ‘n prent gehad van die smal en die breë pad, wat in hulle voorkamers gehang het nie. Op die breë pad is baie mense wat verkeerde sondige keuses neem en op die smal pad is min mense.

maxresdefaultDie wolf, dit is nou die duiwel het ‘n leuen aan Rooikappie vertel. So beskryf Joh 8:44 die duiwel as die vader van die leuen. Hy het alreeds heel in die begin vir Eva verlei met die leuen, dat as sy van die vrug sou eet, sy soos God sou wees. As gevolg van die leuen het die hele mensdom in sonde geval. So verlei die duiwel ons om altyd die kortste pad te neem. Richard Foster praat van die drie groot verleidinge, naamlik: “Sex, money and power.” Op die seksuele gebied wil die duiwel ons verlei met ‘n kort pad. Jy hoef nie te wag vir die huwelik nie. Nee, voorhuwelikse seks is in orde. Prostitusie, pornografie en owerspelige verhoudinge is ‘n kort pad na seksuele bevryding, sonder enige verantwoordelikheid. Daarteenoor leer die Here ons dat die huwelik die lang en die regte pad is vir seksuele verhoudinge.

Geld en materiële besitting is ook ‘n groot versoeking om die kort pad te neem. Mense wil vinnig ryk word. Jongmense wil begin, daar waar hul ouers vandag materieël is. Mense verval in die skuldspiraal, om te koop wat hulle nie kan bekostig nie. Die spreukwoord: “Besigheid is mos besigheid.” is die slagspreuk van die sakewêreld.” Korrupsie, diefstal, gewapende roof en transito rooftogte is aan die orde van die dag in Suid-Afrika. Hebsug en geldgierigheid vreet soos kanker aan ons samelewing. Mense wil die kort pad neem om ryk te word. Die enigste pad na voorspoed is die lang pad van harde werk. Die duiwel wil altyd die kort pad wys.

Mag en aansien is ook ‘n versoeking wat mense die kort pad laat kies. Mense trap op mekaar om die hoogste posisie te beklee. Mense beskinder en smeer ander swart om te kan vorder in die lewe. Ons praat sommer kortweg daarvan as binnepolitiek of kantoorpolitiek. Die lewe is vol politiek tussen mense. In politiek eet hond, hond. Daar is geen genade vir mekaar nie. Die kortste pad is om jou mededinger in ‘n slegte lig te stel. Daarom praat ons ook van jaloesie, wat een van die doodsondes was, van die vroeë kerk.

Die Bybel is deurspek van die wolwe se liegstories. Herodus het noukeurig uitgevra na die Kind Jesus se geboorte en wou gehad het dat hulle vir hom moet kom vertel van die pad na die Jesus Kind, sodat hy Hom kan doodmaak. God het egter die sterrekykers, met ‘n lang pad, ‘n ompad laat terugkeer na hulle land. Die wolf se leuens is gewoonlik ‘n kortpad met blomme besaai. Baie aanloklik word dit voorgestel.

Die houtkapper het die ouma en vir Rooikappie bevry. So het Christus ons bevry en vrygemaak.

Elke dag staan ons voor kruispaaie  om keuses te maak, tussen die lang pad en die kort pad. Pasop die week sal jy staan voor kruispaaie. Die wolf wag vir jou. Die wolf is baie oortuigend. Mag die Heilige Gees vir jou die onderskeidingsvermoë gee om te onderskei tussen die kort pad en die lang pad.     [Met erkenning aan Daniël Louw vir sy oorspronklike gedagtes uit die boek WOW GOD. Deur my verwerk in ‘n oordenking]

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

God se mosterdsaad-Koninkryk

GOD SE MOSTERDSAAD – KONINKRYK

Elke era se koninkryke spog met hulle grootheid, of dit nou hul wapentuig is, of bouwerk, of finansiële grootheid, of ekonomiese handelsbetrekkinge of dit hulle kernplofkoppe is. Van die antieke koninkryke tot die moderne koninkryke van vandag, maak almal hulle skuldig aan ‘n grootheidswaan. So spog mense ook met hulle eie koninkrykies. Met God se Koninkryk is dit so gans anders. Dit begin met niks, word in kleinheid gebore en groei stadig ongemerk, sonder enige vertoon.

mustard-seedDaarom vertel Jesus die gelykenis van die mosterdsaad en die suurdeeg om ons iets te leer van God se Koninkryk. (Mat 13: 31 – 33) ‘n Mosterdaad is skaars 1 – 2 mm in deersnee, maar dit kan ‘n baie groot boom word, waarin die voëls van die hemel kan nesmaak. Die suurdeeg werk ook ongemerk, maar as jy weer sien het die bood gerys.

So werk God deur die eeue.  God werk in die klein onbelangrike en onaanskoulike goed. Daar waar mense in die geloof klein treëtjies in gehoorsaamheid gee, word God se Koninkryk gebore. God se Koninkryk kom stadig, want dit is ewig. ‘n Pampoen groei ‘n paar weke vinnig en dan is alles verby met die pampoenplant. ‘n Eikeboom of olyfboom groei stadig, maar kan baie dekades, selfs eeue oud word. Hoe stadiger die groeiproses, hoe langer is die lewenspan van die boom. Daarom moet ons geduldig met God wees, as Hy nie vining genoeg na ons sin werk nie. God se Koninkryk is nie ‘n pampoenkoninkryk nie, maar ‘n mosterdsaad-Koninkryk. God werk in die geheimenis van die mens se hart. Daar laat Hy die Koninkryk ontkiem en wortelskiet. Hy laat Sy Koninkryk groei in die harte van mense. Daarom lyk elke mens se lewe soos die jaarringe van ‘n groot boom. Elke jaarring vertel van die “journey” saam met God. Sommige van die jaarringe vertel van voorspoed en ander van teenspoed. Maar in elke jaarring van jou lewe kan jy God se teenwoordigheid raaksien.

Geestelike formasie vra waagmoed en ‘n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ‘n profetiese gemeenskap word, wat nie narcisties die kerk preserveer om maar net instand gehou te word nie. Dit vra om te “engaged” met die wêreld. Jesus Christus het die gelykenis nie vertel om die kerk instand te hou nie, maar om die wêreld deel van Sy Koninkryk te maak. Die kerk moet die wêreld in domino. Die kerk moet nie torings bou, soos die toring van Babel nie. Ons kan so maklik, die kerk verafgod as ons geestelike tuiste, in plaas daarvan om God se kerk eerder as ‘n beweging uitwaarts na die wêreld te verstaan. Die Pinkstergees het ons bemagtig en begeester om God se Koninkryk te domino op al die plekke waar God se Koninkryk nog nie sigbaar is nie. Soos suurdeeg moet ons die wêreld verander en ‘n beter plek maak.

Die kerk is daar om die wêreld te verander en nie om haarself instand te hou nie. Storey haal aan deur te sê: “God’s love affair was not about the church, but the world.” Die kerk is die voertuig wat  nuwe drome en visie   kontekstualiseer, waarin armoede, onreg ensovoorts aangespreek word. Daarom moet die kerk mense dissipel, om ware navolgers te wees van Christus. Deur geestelike formasie word mense geskaaf tot “Christ-shaped” dissipels wat soos Jesus leef en optree. Maar die hele geloofsgemeenskap moet “gospel-shaped” word wat ‘n transformerende geloofsgemeenskap moet word wat werk met die agenda van die lewende Christus.

Almal van ons het ‘n begeerte om ‘n verskil te maak en van die wêreld ‘n beter plek te maak. Die fout wat ons maak is dat ons groot dink, in plaas daarvan dat ons klein dink en begin. Iemand het gesê: “Big journeys begin with small steps.” Die Here verwag nie van ons om groot dinge aan te pak nie. Deur klein treëtjies te gee, kan ek ‘n verskil in die lewe maak. Maar dan moet ek die mosterdsaad plant  in die grond en ek moet die suurdeeg inknie in my elke dag se bestaan. Ek moet besluit om ‘n aksie te neem in my lewe. Dissipelskap is om aksie te neem in my lewe.

As ons maar net ons lewensjare so kan deurbring om werklik ‘n verskil te bring in ons omgewing en konteks. Om een lewe aan te raak is beter as om niemand aan te raak nie. As ek elke dag net in liefde na een person uitreik, het ek in ‘n jaar ‘n verskil aan 365 lewens gedoen. Daarom moet ons godsdiens nie maar net rassioneel beoefen nie. Nee, dit moet werklik lewensveranderend in my lewe en in die mense rondom my se lewe wees.  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)