Soutwater word vars

SKRIFLESING: Esegiël 47: 1 – 12 en Sag 14: 8 en Openbaring 22: 1 – 2 en Joh 7: 36 – 39

Port Elizabeth is in ’n erge droogte vasgevang. Die magtige Indiese Oseaan vloei langs Port Elizabeth verby, maar dit kan niks doen om die droogte te verlig nie. Om deur moderne tegnologie die seewater te ontsout, sal eenvoudig te duur wees. Dit is ’n saak van onmoontlikheid.

Soutwater kan nie lewe bring nie.

In Esegiël 47: 1 – 12 vind ook die ondenkbare plaas. Esegiël het ’n visioen gekry van hoe die Dooie See se water weer vars word. Dieselfde visioen kom ook in Sagaria 14, sowel as in Openbaring 22, voor.

Die mense in Esegiël het die Dooie See goed geken. Dit is ’n binnelandse meer met onbruikbare water as gevolg van die soutkristalle. Bykans 25% van hierdie see bestaan uit vaste stowwe. Die water is tot tien maal meer sout as gewone seewater. Die see het geen uitvloei nie en die Jordaanrivier se water verdwyn in hierdie dampkom wat 390 meter onder die seevlak lê. Amper iets van die Ou Testamentiese onderwêreld, die Dood.

Niks leef in die meer nie en niks bestaan rondom die meer nie, geen vis, geen dier, geen voël, niks nie. ’n Mens kan dit amper vergelyk met die begin van die wêreld toe alles leeg en donker en in chaos was. ’n Doodsheid, ’n leegte wat nie in woorde beskryf kan word nie.

Daarom was die Dooie See vir die mense in Esegiël se tyd ’n simbool van dood en finaliteit. Dit  was vir hulle selfs die simbool van die vernietigende oordeel van God oor Sodom en Gomorra. Die Dooie See het geen uitloop nie. Dit is ’n doodloopstraat.

Met hierdie beeld voor oë praat Esegiël nou oor Lewe en oor God se lewegewende water wat alles verander. Esegiël sien ’n visioen. Wanneer God op die toneel verskyn en Hy die tempel vul met sy magtige teenwoordigheid soos dit in verse 1 tot 5 uitgedruk word, gebeur daar dinge wat die mense gedink het onmoontlik blyk te wees.

Uit  die tempel begin ’n stroom water vloei wat alles verander waar dit kom. Die water vloei onder die drumpel van die tempel uit na die ooste in die rigting van die Dooie See. Die betekenis van die water, wat onder die drumpel van die tempel vloei, is dat alle geestelike lewe net vanuit God se teenwoordigheid kan kom. Dit vloei deur die droë streke van die Judese woestyn af na die Soutsee. In plaas daarvan dat die water in die droë grond wegsyfer, begin dit egter al breër en breër vloei. In ’n gesig sien Esegiël hoe hyself deur die water stap – eers enkeldiep, dan kniediep, dan heupdiep en uiteindelik so diep dat ’n mens moet swem om daardeur te kom.

Ook op die oewer gebeur daar eienaardige dinge. Die omgewing verander. Groot hoë bome staan in dorre wêreld. Die ondenkbare gebeur ook, die soutwater van die Dooie See word vars en daar begin weer dierelewe en vislewe rondom en in die see bestaan – so baie dat daar ’n vissersbedryf tot stand kom. Vrugtebome wat elke maand vrug dra, staan op die oewer.

Uit die dooie niks bring God se stroom lewe en oorvloed. Waar God in sy tempel inkom en die lewegewende water uit die tempel stroom, verander alles. Dood en dorheid maak plek vir lewe. Sout maak plek vir soet. Dood maak plek vir genesing.

Hierdie boodskap gee Esegiël vir sy mense, wat in ballingskap sit, vir wie dit lyk asof alles tot ’n einde gekom het, wat dink dat daar vir hulle niks anders oorgebly het as die dood nie. Maar God kan en sal alles ten goede verander. Die ballinge se doodsbestaan sal deur God verander word in ’n lewegewende toekoms.

Ook Joël verkondig in dieselfde idioom dat daar volop wyn sal wees op die berge en oorvloed melk op die heuwels die dag as die Here na Sy tempel kom. Joël 3: 17 – 19 lees: “In al die strate van Juda sal daar water loop, ’n fontein sal uit die huis van die Here borrel en die Sittimdal natlei.”

Ook Sagaria praat van ’n vars stroom water wat uit Jerusalem vloei, een helfte na die see in die Ooste en een helfte na die see in die Weste, somer en winter konstant.

Ook in Openbaring sien Johannes ’n rivier met die water van die lewe wat uit die troon van God en van die Lam vloei. Op die oewer van hierdie rivier staan die boom van die Lewe (van die Paradys) en dra twaalf keer per jaar elke maand sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.

Oral in die Bybel kom die gedagte voor dat as God in Sy MAGTIGE TEENWOORDIGHEID verskyn, daar ’n wending na lewe en oorvloed kom.  Toe Hy die chaos by die skepping aangespreek het, het daar orde en lewe gekom. Toe Hy Abraham geroep het, het daar ’n volk en ’n land gekom wat uniek was in die wêreld. Toe hierdie volk in selfopgelegde ballingskap verkeer, was dit telkens God se magtige teenwoordigheid wat hulle gered het.

Hierdie teksgedeelte is vanoggend ’n volledige troos vir gelowiges in Suid-Afrika. Ons land is brak en dood van al die korrupsie, staatskaping, moorde, verkragtings, ekonomiese insinking, die kragkrisis, swak menseverhoudinge,  en so kan die lysie aangaan. Maar die kerkegemeenskap in ons land kan fonteine van lewende water word, wat vloei vanaf God na elke deel van ons gebroke land. Die water van die Evangelie kan die sout en brakheid uitvars, sodat daar vir ons almal hoop in hierdie land is.   

Jesus het self gesê dat diegene wat in Hom glo, is soos die Skrif sê: “Strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Daarmee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof  in Hom kom, ontvang die Gees van God. (Joh 7: 36 – 39)

Mense wat gevul word met God se magtige teenwoordigheid, wat gevul word met God se Gees, word be-Geester om hulself as nuwe mense te sien wat in diens van God is. Hulle word God se tempel waar Hy gedien en geëer word. God kom met Sy magtige teenwoordigheid in hulle lewe in. Uit hulle vloei nou ’n stroom van lewende water van God se Gees.  Hulle word nou vrugtebome van genesing wat dwarsdeur die jaar vrugte dra.  

Ons moet ’n lewende stroom word in ’n brak wêreld. Uit onsself moet ’n stroom vloei, wat die brakwater verander in lewende water.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID word die dooie werke van die mens, woorde en dade wat van liefde en oorvloed getuig.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID, word ook diegene wat op die ashoop van die lewe beland het, se lewe verander tot ware lewensin.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID word huwelike en gesinne nuut gemaak.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID word moedeloses en siekes opgebeur.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID verander lewens wat vasgeloop het in doodloopstrate,  in uitlope en riviere wat niks en niemand kan keer nie.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID wil hy ons denke verander om nuut te dink, om blymoedig te lewe en vergenoegd te wees in alle omstandighede.

Uit onsself moet ons ’n fontein van lewe word wat opborrel. So kom daar ’n verskil in ons lewe en maak ons ’n verskil in ander se lewe.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID wil Hy ons be-Geester om ’n oorvloedige lewe te lewe, om self ’n borrelende fontein te wees, ’n Tempel te wees, wat gevoed word deur die magtige rivier van God se teenwoordigheid.

Die Here wil ons lewe ontsout met sy magtige teenwoordigheid, sodat ons soet strome van seën word vir die wêreld.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

(Daar is gebruik gemaak van ‘n preek van ‘n onbekende skrywer, wat ek verwerk het.)

God neem die inisiatief in ons doop

SKRIFLESING: Genesis 15

Wanneer ons vandag ’n kontrak wil opstel gaan ons na ’n prokureur, wat met pen en papier en getuies ’n geldige kontrak of ooreenkoms opstel. In die Antieke Ooste was daar nie prokureurs, aktekantore of pen en papier nie. Kontrakte of ooreenkomste is anders gesluit.

Die twee partye het verskillende diere gevat en dit middeldeur gesny en die stukke vleis teenoor mekaar laat lê, sodat daar ’n bloedbevlekte paadjie is tussen die hompe vleis. Die twee partye moes elk met ’n fakkel in die hand tussen die vleis deurloop op die bloedbevlekte paadjie. Daardeur is gesimboliseer, dat die een wat sy kant van die ooreenkoms verbreek, ook middeldeur gesny sal word, soos die diere.

Die Here het vir Abram opdrag gegee om ’n drie jaar oud verskalf, ’n drie jaar oud bok, ’n drie jaar oud skaapram, ’n tortelduif en ’n jong duif te bring. Abram het alles gebring en die vleis middeldeur gesny en teenoor mekaar laat lê. Die voëls het hy egter nie middeldeur gesny nie.

So het Abram die hele dag gewag en telkens die roofvoëls verjaag. Toe word dit aand, en hy het aan die slaap geraak. Dan staan daar die volgende wonderbare woorde in vers 17 en 18b: “Toe die son ondergegaan het, en dit skemerdonker was – kyk, toe is daar die rook van ’n oond en die vuur van ’n fakkel wat tussen daardie stukke deurbeweeg. Op daardie dag het die Here met Abram ‘n verbond gesluit …”

Die Here het alleen in die gedaante van die rook van ’n oond en die vuur van ’n fakkel tussen die stukke vleis deurbeweeg. Abram was egter aan die slaap.

Die Here het ’n kontrak met Abram gesluit, wat net die Here onderteken het met die rook van ’n oond en die vuur van ’n fakkel. Abram het wakker geskrik en as toeskouer gesien, wat die Here doen. Dit was ’n eensydige kontrak. Die Here het beloof om aan Abraham ’n groot nageslag te gee, asook land. Die Here het beloof om ’n God vir Abraham te wees en dat Abram en sy nageslag die Here sal dien.

Die Here het alleen die kontrak of verbond gesluit met Abram. Die Here het die inisiatief geneem. So neem die Here ook die inisiatief in ons verlossing en doop.

Die Here het Abram se naam na Abraham verander. Die Here het vir Abraham en sy nageslag ’n teken gegee van die verbond. Dit was die besnydenis. Abraham en al sy manlike familielede is besny. Daarna is alle Joodse seuntjies van agt dae oud ook besny. Die seuntjies van agt dae oud het niks hiervan verstaan nie, maar desnieteenstaande is hulle besny. Hulle sou later verstaan, dat die Here die inisiatief geneem het om ’n God vir hulle te wees.

Die besnydenis was die Ou Testamentiese teken van die verbond. In die Nuwe Testament het die doop die teken van die verbond geword. Dan lees ons wanneer mense tot geloof gekom het, is die ouers saam met hulle gesinne gedoop. Die gesinne impliseer dat hulle kindertjies ook gedoop het. Ook hierdie kinders het niks van die doop verstaan nie, maar sou later leer en uitvind van die wonder van hulle doop, toe God die inisiatief geneem het in hulle verlossing.

Die vraag is wat kom eerste: geloof of doop? Die doop red jou nie. Die geloof in Jesus Christus red jou wel. Daarom kom geloof eerste. Wanneer ’n ongelowige tot geloof in Jesus Christus kom word hy/sy groot gedoop. Kindertjies word weer op grond van die geloof van hulle ouers gedoop.

Maar dit is ook nie my geloof, wat ek verwerf wat my red nie. Ek kan nie uit my eie uit, tot geloof kom nie. Geloof kom van God, wat in Sy uitverkiesende genade vir my die geloof in Christus skenk om te kan glo.

Die Here inisieer my volledige verlossing. Daarom het die Here die doop as teken en waarborg gegee dat Hy inisiatief sal neem in ons verlossing. Daarom doop ons kindertjies klein, want die Here neem die inisiatief ook in hulle verlossing.

Die doop maak ons deel van die kerk en nie die belydenisaflegging van geloof nie. Vandag, 5 Maart 2023 word Zanri Marais deel van die kerk van die Here Jesus. Eendag wanneer sy belydenis van geloof aflê, sal sy net die verantwoordelikhede van ’n belydende lidmaat op haar neem. Vandag is die wonderlikste dag van haar lewe. Sy word aan die Here Jesus gebind deur die teken van die doop.

Soos die naelstring met geboorte geknip word, word daar met die doop ’n nuwe naelstring gevorm tussen die dopeling en die Here. In die doop belowe die Here dat al die beloftes van die Woord waar geword het vir die dopeling.

Maar die kinderdoop moet uitloop op ’n opregte geloof in Jesus Christus. Daarom moet die ouers en die medegelowiges so leef, dat ons dit vir die dopeling maklik maak om te glo. In Mat 18:6 waarsku die Here: “Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ’n maalklip van ’n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see.” Daarom mag ons voorbeeld, dade, woorde en optrede nooit ’n kind laat struikel nie.

Ons laat struikel die dopeling as ons nie vir hulle uit die Kinderbybel lees en vir hulle leer om te bid nie. Ons laat struikel ’n dopeling as ons hulle nie grootmaak in die woning van die Here nie. Ons laat struikel hulle, deur nie vir hulle kategetiese opvoeding deur die kerk te gee nie. Ons laat struikel die dopeling, as ons deur ons woorde, optrede en voorbeeld, nie Christelik optree nie. Kom ons maak dit vir ons kinders maklik om in die Here Jesus Christus te glo.

Kinders is geskenke van die Here. Die kerkhervormer, Johannes Calvyn het in sy Institusie beklemtoon dat ’n kind twee dinge nodig het, naamlik geborgenheid en sekuriteit. Jy gee vir ’n kind geborgenheid deur baie LIEFDE te gee. Jy kan nooit te veel liefde gee nie. Jy gee vir ’n kind sekuriteit deur STRENGHEID. ’n Kind moet reëls hê, sodat hy binne die lyne daarvan sekuriteit kan beleef.

Die Here neem die inisiatief in ons verlossing en die waarborg hiervan is die doop. Vanoggend beantwoord Charl en Liezl die doopvrae. Daardeur neem hulle verantwoordelikheid om Zanri se geloof te help vorm. Wat ’n heerlike en grootse verantwoordelikheid is dit nie? Natuurlik speel die grootouers ook ‘n groot rol in die vorming van hulle kleinkinders se geloof. Paulus maak nie verniet melding dat Timotheus deur sy ma en ouma gevorm is nie.

Navorsing het bewys dat ouers 82 % verantwoordelik is vir geloofsvorming. Geloofsoordrag van grootouers is omtrent 10 % en die orige 8% is deur vriende, die kerk en ander mense.

In Psalm 23: 3 staan daar: “ So iemand sal wees soos ‘n boom geplant langs watervore, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verdor nie.  Alles wat hy aanpak, gedy.”

Mag Zanri ook opgroei as ’n gelowige meisie en jongmens wat die Here ken. Mag sy soos die vrugteboom wees wat vrugte gee op haar tyd en waarvan die blare nie verwelk nie. Mag sy eendag ’n Godsvrou wees, wat skaduwee verskaf vir almal wat haar ken.

Mag sy ’n geseënde vrou word, wat die guns van die Here geniet haar lewe lank. In die doop het die Here haar gevind.                                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.