Wanneer die driewiel van geloof, hoop en liefde, sy wiele verloor.
In 1 Kor 13: 13, sê Paulus dat jy geloof, hoop en liefde nodig het. Wat as jy net geloof en liefde het, maar nie hoop nie?
Daar is so baie goeie gelowige en liefdevolle mense, maar baie van hulle het die hoop op hierdie lewe verloor. Ek het een so ‘n vrou geken. Sy was van die VG Kerk Strydenburg met die naam van Sabien Goeiman. Sy was ‘n goeie godvresende vrou gewees. Haar lewe was kenmerkend van ‘n lewende geloof en ‘n diep egte liefde. Maar haar oë was leeg, sonder enige hoop – dit is nog voordat sy blind geword het. Ek onthou ek het altyd my ou brille vir haar gegee, omdat sy swaksiende was. Sy het min rede gehad om enige hoop in hierdie lewe te hê. Met haar karige staatspensioen het sy moeilik deurgekom, want sy moes nog sorg vir kleinkinders. Sy het geen hoop gehad dat dit môre of volgende maand sal beter gaan nie. Dan onthou ek vir Oom Willem Brouwers ook van die VG Kerk Strydenburg. Altyd op pensioendag, was sy enigste bederf gewees vir die maand om vir hom ‘n stukkie gaar vis by die kafee te koop. Hy het eenmaal vir my gesê, dat hy altyd skuldig voel as hy die gaar stukkie vis koop, want dit is nie genoeg vir sy huismense nie. Daar is net genoeg om te oorleef. Ouma Sabien en Oom Willem het ten spyte van swaar, egter altyd die geloof en die liefde behou, al was die hoop dikwels min. Ek het groot respek vir hulle gehad.
Baie ander mense se situasies is so hooploos, dat hulle hul oorgee aan drank en dwelms, om net vir ‘n kort tydjie te kan vergeet van hulle hopelose situasie. Waarom sal ‘n arm mens hom bekommer oor ‘n kondoom, vir Vigs wat hom eers oor 10 jaar kan doodmaak, maar hy het vandag nie eers brood het om aan die lewe te bly nie.
Die ergste is natuurlik as dit jou aan hoop ontbreek en jy later ook jou geloof en liefde verloor. Dan het jy niks.
Dit is soos ‘n driewiel- fietsie wat sy een wiel verloor. Die hele driewiel knars tot stilstand. Sonder liefde heers gesinsgeweld. Sonder geloof vergeet jy van God en die kerk. Dit is die verhaal van bendegeweld in die Wes-Kaap en die karretjie-mense in die Bo-Karoo. Dit is die verhaal van die Transskei en duisende wat gaan hoop soek in die Wes-Kaap.
Die tragedie van ons land, is dat daar nie geloof, nie hoop en ook nie liefde is nie. Daarom is ons land in so ‘n morele verval. Ons land is in chaos. Somtyds vernietig mense hulle eie hoop, maar meer dikwels is mense uitgelewer aan situasies waaroor hulle geen beheer het nie.
Prof Daniël Louw vertel van die dag toe hy saam met ‘n taxi op pad was in Nieu – Delhi in Indië. Daar is totale chaos op die paaie. Die taxibestuurder het toe vir hom gesê: “In India, everything possible. You only need good brake, good horn and good luck.” Hy het toe ook bygevoeg dat jy nooit in jou truspieël moet kyk nie. Die persoon agter jou moet kyk wat voor hom gebeur. As jy kyk na jou truspieël, is jy gedoem, want dan is jou oog nie op die baie gevare voor jou nie. Jy moet net hoetende vorentoe beur.
Mense dink dikwels dat hoop net die toekoms in gedagte het. Dat jy nie ‘n truspieël van die verlede en wat agter jou lê nodig het nie. Dit sou egter verkeerd wees. Heb 11 hou juis aan ons ‘n heldegalery voor van geloofshelde, wat geglo het, omdat hulle gehoop het op die dinge wat hulle nie sien nie. Die geloofshelde van Heb 11 is vir ons ‘n inspirasie, ‘n truspieëltjie, wat ons geloof en hoop versterk. Ons moet terugkyk in die truspieël van die Bybel se geloofshelde en daaruit hoop kry vir ons eie geloofspad met God. Die God van die verlede, van die geskiedenis, kan weer en weer en groter en groter, Homself oor en oor bewys, as die troue Verbondsgod van geslagte en weleer.
Geloof, hoop en liefde is soos die skakels van ‘n ketting. Heb 11: 1 sê duidelik dat geloof is om seker te wees wat ons hoop. Hierdie hoop kan ons nie nou alreeds sien nie, dit is om oortuig te wees van die dinge wat ons nie kan sien nie. Wanneer jy hoopvol glo en glo in die hoop, dan kan jy liefde ook bemeester in die lewe. Maar liefde begin by die geloof en die hoop. Liefde, wat die grootste is, sal vanuit die geloof en hoop totstand kom.
Daarom moet mense in Suid-Afrika weer opnuut geloof en hoop bemeester. Dit is wat ons land die meeste nodig het. As die twee agterwiele geloof en hoop in plek is, sal die voorste groot wiel, naamlik die liefde ook gestalte kry.
Beide geloof en hoop in Heb 11: 1 het te doen met dit wat ons nie kan sien nie. Geloof en hoop het te doen met die onsienlike. Daarom moet ons nie ons geloof en hoop aan sienlike dinge vasmaak nie. Die duiwel wil ons oorred deur die sienlike dinge vir ons aantreklik te maak. Mense hoop op die sienlike goed, Sienlike dinge word dikwels afgode en dit lei tot liefdeloosheid. Onsienlike dinge, is geestelike werklikhede, wat mense geestelik bou en lei tot moraliteit en tot liefde. Geloof is om te belê in die onsienlike.
Dit is soos ‘n brug in mistige weer. Jy kan nie sien of die brug anderkant weer grond raak nie. Maar jou vorige ervarings en die beweging van die verkeer (medegelowiges) gee vir jou genoeg vertrou om oor die brug te ry, na die onsienlike anderkant.
Daarom moedig die Hebreër skrywer ons aan, om al word ons armer in fisiese dinge, ons ryker moet word in geestelike dinge. Liggaam en Gees, daaruit bestaan die mens. Die liggaam kwyn met ouderdom, maar die geestelike groei soos ons ouer word. Wie geestelik groei, groei in sy/haar geloof. Juis daarom moet ons klem lê op die geestelike onsienlike, aldus die Hebreër skrywer. Liefde word dan sigbaar. Arm aan sigbare goed en sekuriteite maar ryk aan onsigbare geestelike rykdom en wysheid. Daarom kan hulle liefhê.
Belê in die onsienlike met geloof en hoop, dan sal die liefde outomaties sigbaar word in jou lewe. Het jou driewiel, van geloof, hoop en liefde, nog al drie sy wiele? Amen.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)