God troos ons nie met antwoorde nie, maar met Sy karakter

SKRIFLESING:  Job 40: 10 – 28

Ons mensdom het baie vrae aan God. Waarom die swaar? Waarom al die probleme? Hoekom het sommige mense dit swaarder in die lewe as ander? Waarom al die pyn en seer in mense se lewens?

So het Job ook gevoel toe hy al sy veekuddes, sy slawe, sy huis en sy kinders verloor het. Job het beland op die asgate, waar hy sy swere gekrap het met gebreekte potskerwe. Job was dan so regverdig voor God en kyk net watter sware las moes hy dra. Waarom, Here? Hoekom, Here? Dit is die vrae waarmee mense oor al die eeue worstel. Hoe kan God dit toelaat?

Ds. JD (Totius) du Toit het ook met dié vrae geworstel nadat sy dogtertjie en seuntjie kort na mekaar dood is. Sy dogter van ’n weerligstraal en sy seun van meningitis. Hy het die volgende gedig geskryf:

 o Die pyn-gedagte

o Die pyn-gedagte: My kind is dood! …

dit brand soos ’n pyl in my.

Die mense sien daar niks nie van,

en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan;

die skadu’s word lank en weer kort;

die drywerstem van my werk weerklink,

en ek gaan op my kruisweg vort.

                      

Maar daar skiet aldeur ’n pyn in my hart,

só, dat my lewe se glans verdwyn:

Jou kind is dood met ’n vreeslike dood!

en – ek gryp my bors van die pyn.

o Die bliksemgedagte! … Ja, lieflingskind,

één straal het jou skone liggaam verskroei,

maar bliksemstrale sonder tal

laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos ’n vlindertjie,

sy’t lugtig omheen geswerf;

’n asempie wind kon haar vlerkies breek

en – kyk watter dood moes sy sterf!

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,

dis één uit die tienduisend-tal,

en ag! dat dit sy was en ek moes sien

dat sy dood in my arms val!

o Die pyn-gedagte: My kind is dood! …

dit brand soos ’n pyl in my;

die mense die sien daar niks nie van,

en die Here alleen die weet wat ek ly.

(Passieblomme, 1934)

Waarom sterf miljoene in oorloë en van siektes? Cindy, Morné, Melissa en familie, julle het ook al hierdie vrae gevra oor waarom so baie in julle familie so kort na mekaar oorlede is. Waarom? Hoekom?

Toe Job die vrae aan God gevra het, het God nie antwoorde gegee nie. God het sy karakter aan Job gewys. “God stel sewentig vrae terug aan Job. Met daardie sewentig vrae sê hy vir Job: ‘Job, hoe diep is jou begrip van dinge? Hoeveel weet jy regtig?’ ”( John Hannah). Sodoende het Job besef dat God ten spyte van die chaos nog steeds in beheer is en dat Hy alles ten goede laat meewerk.

In ons teksgedeelte word twee waterdiere genoem wat simbole is van mag en sterkte. Die een was die Behemoot (seekoei) en die ander was die Leviatan (die krokodil). Die seekoei en die krokodil was simbole van die chaos, want hulle kom uit die water en boesem vrees in. As God hulle kan beheer, dan is die wêreld nie chaoties nie.

Wanneer die Farao’s van Egipte gekroon is, het hulle ook simbolies twee diere doodgemaak: ’n seekoei en ’n krokodil. Daardie Egiptiese Farao’s het in simboliese vorm gewys dat wanneer hulle in Egipte kom regeer, hulle oor chaos sou heers.

So wys God ook dat Hy in beheer is. Hy heers oor die twee waterdiere van chaos, naamlik die seekoei en die krokodil. Dit is groot diere. Hulle woon in die water en is onbeheerbare diere. Die mens kan hulle nie tem nie. Maar God heers oor hulle.

So gee die Here nie vir ons ’n verduideliking of antwoord op elkeen van ons vrae nie. God laat Hom nie onder kruisverhoor neem nie. God wys ons egter Sy karakter. In die Nuwe Testament wys Hy spesifiek Sy karakter as Vader, wat Sy Seun gestuur het om aan die kruis vir ons sondes te sterf. Aan die kruis oorwin God die chaotiese magte van hierdie wêreld.

God wys Sy karakter deur barmhartigheid, sagmoedigheid, nederigheid en  opoffering. God gee nie antwoorde nie, maar Hy is saam met ons in ons lyding. Hy stap die pad saam met ons. Hy gee ons elke oggend nuwe krag. God gee vir ons deursettingsvermoë. Hy vee ons trane af, om voort te beur.

Die chaos sal met ons wees tot die wederkoms. Die Here het klaar die duiwel verslaan op Golgota. Die duiwel is soos ’n afkophoender wat nog rondhardloop, tot hy later dood neerslaan. Die duiwel rig nog skade aan, maar is reeds oorwin. Daarin is ons vreugde en hoop.

Ons het nie nou definitiewe antwoorde nie. 1 Kor 13 sê ons kyk in ’n dowwe spieël. Daarom kan ons nie duidelik sien nie. Ons kan nie verstaan waarom ons emosioneel so moet swaarkry nie. Eendag sal ons verstaan. Eendag sal ons die antwoord hê. Nou kan ons net vaskleef aan God se troue karakter.

Julle as familie is al deur swaar tye die afgelope paar jaar. Tog het die Here se karakter julle gedra tot hiertoe. Ook verder sal God vir julle dra.

Hennie het begin as polisieman. Vir baie jare was hy deel van die Polisie. Hy het gereeld grensdiens gedoen en was ook deel van die veediefstaleenheid. Maar die Polisie het hom weggehou van sy familie en gesin, want hy was min tuis. Hy het bedank by die Polisie en Adelaide Paint & Hardware oopgemaak. Hy het dié besigheid later verkoop en in die konstruksiebedryf gewerk, asook by H&I Sekuriteit. Daarna het hy vir baie jare vir Francois van Coppenhagen gewerk by die Bedford-tak van Paint & Hardware. Hennie het vele stokperdjies beoefen. Hy was lief daarvoor om messe te maak. Sy natuurlike liefde vir musiek het daartoe gelei dat hy ook instrumente bespeel het.

Sy familie en gesin was vir hom eerste. Dit was ook die rede waarom hy uit die Polisie bedank het, naamlik om by sy gesin te wees. Hy en Cindy is op 10 Januarie 1976 in die huwelik bevestig en was 46 jaar getroud. Uit die huwelik is gebore Morné, Melissa en André. Die dood van André was en is nog steeds vir die familie ’n swaar slag. Antwoorde het hulle nie gekry nie, maar die karakter van God het hulle deurgedra deur al die jare.

Ek onthou Hennie, met sy stoppelbaard en pyp in die mond, met die heerlike tabakreuk wat in die lug hang. As ek in die winter huisbesoek gedoen het, het hy altyd voor so ’n rooi paraffienverwarmer gesit. Hy kon staaltjies en nogmaals staaltjies uit sy lewe vertel. Hy kon die humor in baie dinge raaksien.

Sy afsterwe laat ’n groot verlies in die familie. Ons harte gaan uit na Cindy, Morné, Melissa, Eli, Yolandi en al die kleinkinders. Natuurlik is sy suster René ook diep geraak deur haar broer se dood.

Ek wil afsluit. Antwoorde gaan ons nie kry nie. Wat ons wel weet, is dat God se karakter ons elkeen sal deurdra in die moeilike tyd en die jare wat kom.

Die dood is nie finaal nie. Dit is net die begin van die volgende hoofstuk in Hennie se lewe. Nie totsiens nie, maar tot ons mekaar weer sien. Daaraan hou ons as gelowiges vas.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

John Hannah. Is There Any Comfort? Preaching Today.

Moderne mense is soos eilande sonder egte konneksies

SKRIFLESING: Joh. 17: 20 – 23 en Joh. 17: 34 – 35

Ons leef in die moderne tyd. Ons leef in die eilandtydperk. Elkeen leef in ’n kokon, onafhanklik van mekaar.

’n Mens kan byvoorbeeld bykans alles aanlyn aankoop vir aflewering, sonder om in ’n winkel in te gaan. Jy kan selfs kos aanlyn aankoop. Jy kan jou vermaak soek op DSTV, Netflix, Showmax of YouTube, sonder om na ’n bioskoop of ’n kunsteteater te gaan. Jy kan met jou selfoon en WhatsApp enigiemand kontak sonder om in ’n ry te staan by die telefoonhokkie, soos in die ou dae. Jy kan inskakel op honderde eredienste, sonder om na die kerk te gaan. Jy kan jou wegneemete sommer by ’n inry-wegneemete kitskoswinkel bestel en die kos by die venster kry, sonder om uit jou motor te klim. Jy kyk sport op televisie en hoef nie meer na ’n sportstadium te gaan nie. Jy stuur ’n e-pos en hoef nie meer na die poskantoor te gaan om ’n brief te pos nie. Jy kan deur Internet in verbinding wees met die hele wêreld, sonder om uit jou huis te gaan. Jy kan selfs werk van die huis doen, sonder om na ’n werksplek te gaan. Die wêreld het wonderlik, positief ontwikkel, maar die nadeel daarvan is dat dit ons eilande van mekaar gemaak het. Ons kan ’n paradyseiland vir onsself skep, met so min as moontlik mense in ons ruimte.  Ons lewe in kokonne, verwyderd van mekaar en werklike gemeenskap met mekaar. Ons het eensaam geraak.   

In die ou dae, 100 jaar en korter gelede, was die mense nie so “cool” nie. Daar was nie telefone nie. Mense het gaan kuier vir mekaar. Elkeen het nie sy eie voertuig gehad nie. Hulle het saamgetrek met ossewaens en in die aand in ’n laer getrek en saamgekuier rondom die kampvuur. 

Hulle het nie televisies gehad nie en Saterdae saamgekuier by die rugbystadium. Daar was nie TV-eredienste nie, en mense het saam aanbid en gekuier by die kerk.  Daar was nie DSTV nie en daarom het mense Saterdagaande bioskoop of inrybioskoop toe gegaan. Daar was nie Netflix nie, daarom was mense gaande oor die rondtrekkende toneelgeselskappe. ’n Honderd jaar gelede moes jy op ander mense staatmaak.

Mense was in verbinding met mekaar en die gemeenskap was gebou op sosiale byeenkomste. Mense het mekaar geken. Mense was met mekaar gekonnekteer. Eensaamheid was skaars.

In die digitale era is ons baie goed gekonnekteer wat afstande betref, maar ons was nog nooit fisies so gediskonnekteer van mekaar nie. Ons het eensame mense geword.

Wat vir die Here Jesus die belangrikste is, is die gemeenskap en “communion” of verbondenheid tussen mense. Een teoloog het opgemerk dat die dissipels en apostels Bybelboeke geskryf het, maar Jesus het nie ’n boek geskryf nie. Hy het ’n gemeenskap, ’n “community” kom vestig tussen mense. Vir die Here is dit belangrik dat mense saam is. Daarom het God  die huwelik geskep, gesinne geskep, families geskep en ook vir Hom ’n volk, ’n kerk geskep. Die meeste leringe van Jesus gaan oor hoe die verhoudinge moet lyk in hierdie verskillende konneksies wat Hy geskep het.

In die tydperk van Covid het ons gevoel hoe erg dit is om fisies nie met mekaar gekonnekteer te wees nie. Dit was vir die mensdom traumaties. Nou geniet ons weer ons vryheid om sosiaal met mekaar te verkeer. Menswees is net sinvol in verhoudinge.

Daarom het Jesus Christus rondom die eerste Nagmaalstafel die brood en wyn ingestel as teken van sy liefdevolle verhouding met ons en wat Hy wil hê ons ook teenoor mekaar moet uitleef.

Wyn is gemaak uit baie druiwekorrels wat saamgepers is. Soos die druiwekorrels saamgepers is, so het die Here vir almal se sonde betaal. Die brood bestaan weer uit baie graankorrels wat gemaal is om as brood gebak te word. Soos die graankorrels saam gemaal is, so het Jesus vir ons almal se sonde betaal.

Wanneer ek die brood en wyn eet en drink, dan erken ek dat ek deel is van die gemeenskap van gelowiges. Dan erken ek dat ek saamgepers en saamgemaal is met ander gelowiges. Ek staan dus in verhoudings. Daarom bely ons in die Credo van die kerk: “Ek glo in die gemeenskap van gelowiges.”

In Johannes 17: 20 – 23 bid die Here Jesus vir eenheid in sy kerk en tussen die gelowiges. Hy bid as’t ware dat daar ’n diep gemeenskap tussen die gelowiges sal wees en ook ’n gemeenskap met die Drie-Enige God, wat in Homself die volmaakte voorbeeld van eenheid sal wees.

Ons mense het ondersteuning nodig. Daarom het ek ’n vriendekring nodig, daarom het ek die kerk nodig. Net so het ek die ACVV of die Boerevereniging nodig. Jy het baie rugsteun nodig.

Eugene Peterson skryf: “Daar kan geen volwassenheid in die geestelike lewe wees nie, geen gehoorsaamheid om Jesus te volg nie, geen heelheid in die Christelike lewe nie, behalwe in die omhelsing van gemeenskap. Ek is nie myself alleen nie.”

Ek het ander nodig. Ek het die gemeenskap nodig. Dit is waaroor die Nagmaalstafel gaan, om mense bymekaar te bring uit verskillende agtergronde, sodat hulle vir mekaar kan omgee.

Die strewe na gemeenskap kan so eenvoudig wees soos om ’n bietjie af te skaal, om met ’n oop gemoed die mense rondom ons te ontdek. ’n Professor aan ’n Amerikaanse Universiteit het bevind dat hy na sy egskeiding baie moes afskaal: onder andere na ’n kleiner perseel, sonder die geriewe wat hy vroeër gehad het. Hy moes sy klere elke Saterdag by die wassery op die hoek van sy straat was. Daar het hy baie mense ontmoet en met hulle gesels en ’n nuwe vorm van gemeenskap is geskep.

Armer mense wat van openbare vervoer gebruik maak, is oop om ’n gemeenskap te vorm en mekaar se lief en leed te deel.

Soldate wat in ’n peloton saam opgelei word en later in die gevegstoneel ontplooi word, vorm ’n gemeenskap van soldate wat na mekaar kyk en hulle lewe vir mekaar sal opoffer.

’n Ware verhaal van ware gemeenskap van gelowiges wat in Oktober 2022, ’n paar weke gelede afgespeel het, is die volgende: “Toe Minnesota-boer Scott Legried nie sy sojaboon-oes kon oes nie, het meer as ’n dosyn mense opgedaag om die werk gedoen te kry. Scott is ernstig beseer in ’n motorongeluk toe hy uitgeswaai het om nie ’n hondjie in die pad raak te ry nie. Scott het van die pad afgegaan, en sy sleutelbeen, ’n skouerblad en sewe ribbes gebreek; twee werwels is gekraak, en hy het ’n platgevalde long en harsingskudding opgedoen. Dokters het gesê hy sal vir ’n paar maande nie op ’n trekker kan klim nie. Dit was ’n probleem, want Scott bestuur sy plaas in die dorp Frost feitlik geheel en al op sy eie, en die oes van sy 600 hektaar mielies en sojabone is sy enigste bron van inkomste. Toe die woord in Frost – met ’n bevolking van 198 – die rondte doen, kon een buurman agtien boere werf om Scott te help. Hulle het met hul toerusting by Scott se plaas aangekom en in ’n japtrap die sojabone geoes. Hulle sal weer terugkom vir die mielies. Scott het gesê: ‘Dit is ’n besige tyd van die jaar vir boere, so dit het die wêreld vir my beteken. Maar ek dink ek was regtig nie verbaas nie. Ek is gelukkig om in ’n gemeenskap te woon waar mense nog altyd na mekaar omgesien het.’ ” (Catherine Garcia)

“Op dieselfde manier, wanneer die kerkfamilie mekaar liefdevol help, dien dit as ’n kragtige getuienis vir die wêreld van Christus se opofferende liefde.” (Catherine Garcia) (Joh. 13: 34 – 35).

Ons lewe in ’n wonderlike digitale wêreld wat gekom het om te bly. Maar dit is nie die Alfa en die Omega nie. Daar is ’n lewe buite die digitale wêreld. En dit is waar mense fisies bymekaar kom en gemeenskap beleef. Ons het mekaar fisies, persoonlik nodig. Want eers dan kan ek ander mense werklik emosioneel bemoedig en ’n drukkie gee.

Dit leer die Nagmaaltafel ons van gelowiges wat gemeenskap soek met mekaar.

Ons moet nie op eilande leef nie, maar eerder in “villages” of nedersettings van ware gemeenskap van gelowiges, waar ons waarlik omgee vir mekaar.

Amen 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Peter Greer and Greg Lafferty, 40/40 Vision (IVP Books, 2015), pp. 123-124

Eugene Peterson, A Generous Savior (The Gathering, 2012), p. 32

James Hamblin, “Living Simply in a Dumpster,” The Atlantic (9-11-14)

Catherine Garcia, “Minnesota community comes together to harvest crops for injured farmer, The Week (10-19-22); Cathy Free, “A farmer was injured saving a puppy. His town rallied to bring in his harvest,” The Washington Post (10-18-22)

Danksegging moet deel van ons Christelike lewe wees

SKRIFLESING: Kol 2: 6 – 7 en Kol 3: 15 – 17

Thanksgiving Day is ’n nasionale vakansiedag in die VSA. Vanjaar word dit op 24 November 2022 gehou. Dit word altyd op die vierde Donderdag van November gevier. Aanvanklik  het Amerikaners op hierdie dag God gedank vir die oesjaar. Daar was gebede van dankbaarheid vir die oorvloed van die land.

Meestal word die ontstaan van hierdie vakansiedag geassosieer met die hervestiging van die Engelse pelgrims na ’n nuwe kontinent in 1620. In die herfs van 1621 het die goewerneur van Plymouth, W. Bradford, ’n stam Indiane wat naby woon, genooi om aan die dankseggingsdag deel te neem. Die koloniste het ’n baie koue winter, half uitgehonger, deurgemaak en net oorleef danksy die kalkoene wat die Indiane aan die koloniste voorsien het. Dit was die eerste Thanksgiving Day. Danksegging is amptelik in 1777 aangekondig. In 1789 het George Washington hierdie dag as ’n vakansiedag verklaar. Die datum waarop besluit was,  was die vierde Donderdag van November. Staatstatus is in 1863 deur president Abraham Lincoln daaraan gegee.

Oor die jare in die VSA se lang geskiedenis het baie tradisies ontstaan. Thanksgiving Day word byvoorbeeld dikwels in die huis van die oudste familielid gevier. Almal kom bymekaar by ’n groot tafel gevul met tradisionele disse, waarop die kalkoen die hoofdis is.

Die tafels word versier met ’n kalkoen, omdat die Amerikaners se verre voorouers gered is van hongersnood as gevolg van die Indiane se skenkings van kalkoen. Die kalkoen word omring deur patats, bosbessiesous en gekruide “croutons”-vulsel.

’n Kalkoen-begenadigingseremonie vind die dag voor Thanksgiving Day in die Withuis plaas. Hierdie tradisie is van krag sedert 1963. George W. Bush het in 1989 ’n plegtige seremonie by hierdie geleentheid gehou.

Thanksgiving Day gaan oor dankbaarheid.

In die Ou Testament was daar die spysoffer wat spreek van dankbaarheid teenoor God vir Sy goedheid en voorsienigheid.

“Verder was daar ook die Fees van die Weke, of Oesfees, wat  sewe weke (50 dae) geduur het. In Grieks is 50  pentekosté – vandaar die benaming pentecost, of Pinkster, wat gevier word. Die begin van die oestyd is ingelui met die offer van die eerste gerf (“beweegoffer”) op die dag ná die Pasga. Die Oesfees is dus aan die einde van die graanoes-seisoen gehou. Lev 23:15 – 21 beskryf die seremonie waar van die vars geoeste graan en van die voorafgaande jaar se vee-aanwas (jaaroud-diere) as offers gebring is om God te dank vir Sy voorsiening van lewensmiddele.” ( DC van Zyl)

Dankbaarheid moet ’n sentrale deel van jou lewe en godsdiens wees. Daarom leer ons ook vir ons kinders om “dankie” te sê. Dit is eenvoudig goeie maniere.

Die Heidelbergse Kategismus begin ook met Sondag 1, Vraag 2 as volg: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe? Dan antwoord die Kategismus. Jy moet drie dinge weet, naamlik (1) Hoe groot my sonde is, (2) Hoe ek van my sonde verlos kan word, en (3) Hoe ek vir God dankbaar kan wees vir my verlossing.

Kol 2: 6 – 7 lees: “Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid”. Paulus gebruik hier die beeld van die boom wat gewortel is in Christus. Die boom is die gelowige wat sy / haar voedingstowwe in Christus vind en wat dan blare en vrugte van dankbaarheid dra.

Kol 3: 15 – 17 lees as volg: “Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.”

Ons moet elke dag iets soek om voor dankbaar te wees. Ons moet vir ons lysies op papier of in ons kop saamstel van die dinge wat ons dankbaar maak. Dit kan sekere mense in jou lewe wees wat jou dankbaar maak, soos jou ouers of kinders of ’n vriend of ’n rolmodel. Jy kan dankbaar wees dat God jou in ’n tyd toe jy gely het, gehelp het en die gebed van jou hart verhoor het. Jy kan dankbaar wees vir jou aardse besittings, of die geleenthede in jou lewe wat op sukses uitgeloop het. Jy kan dankbaar wees vir jou gesondheid, as jy hoor van ander mense se siekte. ’n Mens moet net een maal in ’n hospitaalbed lê en jy sal skielik dankbaar wees vir jou gesondheid.  Jy kan dankbaar wees vir God se voorsiening op jou lewenspad. ’n Bemoedigende woord, ’n WhatsApp, ’n kaartjie of ’n presentjie kan jou tot dankbaarheid dring.

Dit kan makliker gebeur dat ’n armer mens meer dankbaar is as ’n suksesvolle en ryk mens. Die suksesvolle mens kan maklik die krediet vir homself gee en sê hy het daarvoor gewerk en God nie in die prentjie raaksien nie.

John Ortberg skryf pragtig: “Meer dankbaarheid sal nie uit meer dinge in die lewe  kom nie, maar uit meer bewustheid van God se teenwoordigheid en God se goedheid.”

Dankbaarheid is ’n neweproduk van ’n manier om dinge te sien, van ’n sekere wêreldbeskouing, en dit behels altyd drie faktore. Hierdie faktore kom van die ou Latynse woord bene, wat “goed” beteken. Dankbaarheid behels altyd drie benes. (John Ortberg)

Eerstens behels dankbaarheid “benefit”. Dit beteken om ’n voordeel of ’n “seëning” te ontvang. Tweedens behels dankbaarheid “benefactor”. Voordeel kom nie vanself of per ongeluk nie. Dit kom van ’n gewer of Gewer. Daarom dank ons die Here as die Gewer van alle goeie dinge. Derdens behels dankbaarheid dat daar ’n  “beneficiary” moet wees. Dit is die een wat ontvang. Dit is nou ons. Ons is die ontvangers van God se voordele. (John Ortberg)

Dankbaarheid maak jou altyd nederig. Dit is een van die opregte eienskappe van dankbaarheid: dit dring jou tot nederigheid, want jy verdien dit nie.

Ondankbare mense beskou seëninge as regte en skree daarom ook vir menseregte. Hulle beskou kos, klere, geld, geleerdheid, en posisies in die samelewing as ’n reg. Eintlik is hulle diep ongelukkige mense, want hulle sien nie die seëninge in die lewe raak nie. “Waarom toon mense wat steeds meer en meer kry, al hoe minder dankbaarheid? Hoe groter ons gevoel van geregtigheid, hoe kleiner ons gevoel van dankbaarheid.” (John Ortberg)

Die Bybel se woord vir ondankbaarheid is “murmureer” of om “brommerig” te wees. Die Ou Testament is vol daarvan. Toe Moses die volk uit Egipteland gelei het, het hulle gedurig gemurmureer dat dit beter in Egipte was. Hulle het oor alles gekla en arme Moses skoon moedeloos gehad.

Jesus het egter vir ons die voorbeeld gestel van ware dankbaarheid, ten spyte daarvan dat Hy niks gehad het nie. 

Jode is daarin onderrig om elke dag dankbaar te lewe. In die Joodse godsdiens is daar twee gebede wat elke dag opgesê moet word, naamlik die Shema, van die eerste woord in Deut 6: 4 – 5. Die ander gebed was die 18 benedictions, wat as grondtoon gehad het om mense te seën. In Hebreeus was ’n Benediction enige gebed wat begin het met die woord “Bless”. (John Ortberg)

Die vroeë kerk het drie keer elke dag die Onse Vader gebid. Dit was die agtien benedictions vir die vroeë kerk. Dan het ons ook die gebruik om alle kos wat oor ons lippe kom, in dankbaarheid te seën, wetende dat dit van God kom. Dit mag nooit van ons etenstafels verdwyn nie. Dit moet ook nie afgerammel word as ’n gewoonte nie, maar as ’n opregte stuk dankbaarheid voor God.

Die algemene beginsel waarvolgens die rabbi’s geleef het, was om God te loof vir elke gawe. Die rabbi’s het gesê: “Hy wat enigiets uit die skepping geniet, wat sonder seën is, pleeg misbruik.” Dit is ’n vorm van diefstal. (John Ortberg)

My persoonlike ervaring, soos ek ouer word, is dat ek meer dankbaar vir my lewe is as toe ek jonk was. Ek besef nou eers hoe God vir my en my kinders gesorg het en vir my ’n erfdeel afgemeet het, wat genoeg vir my is. Dit is ’n wonderlike berusting.

Wees dankbaar. Tel jou seëninge en jy sal gelukkig wees.

Daar is die bekende lied waarmee ek wil afsluit:

AS DIE LEWENSTORME

.

As die lewenstorme woedend om jou slaan

En jy gans ontmoedig vrees om te vergaan

Tel jou seëninge, tel hul een vir een

En jy sal verbaas wees oor wat God verleen

.

KOOR:

Tel jou seëninge, een vir een

Seëninge jou deur God geskenk

Tel hul almal, kyk wat God verleen

En jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk

.

As jy ooit gebuk gaan onder sorg en pyn

As die kruis te swaar word en jou krag te klein

Tel jou seëninge, dan vlug twyfel heen

En jy sien Gods goedheid laat jou nooit alleen

.

KOOR:

Tel jou seëninge, een vir een

Seëninge jou deur God geskenk

Tel hul almal, kyk wat God verleen

En jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk

.

As jy let op ander met hul goud en eer

Dink dan God beloof jou nog oneindig meer

Tel jou seëninge, weet dat prag en praal

Nooit die minste van die hemel kan behaal

.

KOOR:

Tel jou seëninge, een vir een

Seëninge jou deur God geskenk

Tel hul almal, kyk wat God verleen

En jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk

.

As die lewenstorme woedend om jou slaan

En jy gans ontmoedig vrees om te vergaan

Tel jou seëninge, tel hul een vir een

En jy sal verbaas wees oor wat God verleen

.

KOOR: x2

Tel jou seëninge, een vir een

Seëninge jou deur God geskenk

Tel hul almal, kyk wat God verleen

En jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

BRONNELYS

DC van Zyl.  Feeste in die Ou Testament. Elektroniese Christelike Kernensiklopedie

John Ortberg. The Great Gratitude Experiment. Preaching Today.

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.