Kyk op na die kruis van Jesus Christus en raak ontslae van al die gal en gif wat jou lewe verwoes.

SKRIFLESING: Num 21: 4 – 9 en Joh 3: 14 – 18

Slange is een van die gediertes waarvoor ek die bangste is.  Die meeste normale mense het ’n vrees vir slange.  Dink net hoe angswekkend dit nie moet wees om in ’n kuil vol dodelike slange gegooi te word nie.

Die dorp Daniëlskuil het sy naam te danke aan ‘n sekere sinkgat in die grond, wat deur ’n Griekwa-kaptein, met die naam Adam Kok, gebruik is om ongehoorsame onderdane te straf.  Die sinkgat was so diep dat ‘n mens nie op jou eie kon uitklouter nie.  Die Griekwa-kaptein het in dié gat dodelike slange gegooi.  Ongehoorsame onderdane is dan in die sinkgat vol dodelike slange gegooi om hulle te straf.  Selfs as die kaptein onseker was of hulle skuldig is, het hy hulle in die gat gegooi.  Lewe hulle die volgende oggend nog, is hulle onskuldig en is hulle opgetrek. Is die onderdane dood, dan was hulle skuldig en nou ja, dan het hulle sommer klaar hulle straf weg.

In Num 21:4-9 lees ek ook van slange.  Die laer van die volk Israel was vol dodelike slange.  Dit was vir die Israeliete ook ’n angswekkende ervaring.  Die slange was God se straf omdat hulle teen God en Moses opstandig was.  Hulle was ongeduldig met God en het vir Moses kwalik geneem omdat hy hulle uit Egipteland gelei het.  Hierdie woestyntog was vir die Israeliete niks lekker nie.  Hulle het ’n hoër lewenstandaard in Egipte gehad.  Nou moet hulle van die aalmoese van God lewe.  Hulle was van niks seker nie.  In Egipte het hulle alles gehad en was hulle verseker van môre en oormôre.  Hulle neem Moses kwalik en hulle kla elke dag net al hoe harder en murmureer oor alles en nog wat. 
Toe het God slange, krioelende slange, in die laer ingestuur.  Orals is mense gepik en orals is sterftes aangemeld.  Die slange is as’t ware ’n  simbool van die Israeliete se onvergenoegdheid.  Hulle onvergenoegdheid het hulle nou letterlik verteer.

Gou hardloop die volksleiers na Moses toe.  God is genadig en gebied dat ’n koperslang in die middel van die laer op ’n paal aangebring moet word.  Elkeen wat gepik is deur ’n slang, moes opkyk na die koperslang aan die paal.  Hy sou dan bly leef.  So het die koperslang aan die paal ’n simbool van liefde geword.

Die Here Jesus het in Mat 23:33 ook die mense van sy tyd met slange vergelyk.  Ons wêreld is vol gif en bitterheid.  Ons pik op mekaar; en hipnotiseer en manipuleer mekaar.  Soos luislange vreet ons mekaar heeltemal op.  Ons verwoes ons persoonlike lewens, huwelike, gesinne, en ons land met al die bitterheid en gal in ons lewe.  Jesus se woorde aan die Fariseërs en Skrifgeleerdes in Mat 23: 33 lees so: “ Slange, addergeslag! Hoe sal julle die oordeel van die Gehenna ontvlug?”

Eenmaal op Goeie Vrydag het die mense ook soos slange na die Here Jesus Christus gepik.  Hulle het Hom verraai, verloën, van Hom af weggehardloop, Hom onskuldig veroordeel, gespot, geslaan, ontklee, verguis, gekruisig en vermoor.  Ja, die skare het gepik-pik: “Kruisig Hom, Kruisig Hom!” en hulle het Hom doodgepik daar aan die kruis. U en my sondes het die Here Jesus daar aan die kruis doodgepik.  U en ek is die slange wat die Here Jesus doodgepik het.  Dit is oor ons sondegif dat Hy gesterf het.

Tog is die koperslang aan die paal ’n heenwysing na Jesus Christus aan die houtpaal op Golgota.  Soos die Israeliete wat gepik is en moes opkyk na die koperslang aan die paal, so moet ons opkyk na die kruis van die Here Jesus Christus vir redding.

U sien, Joh 3:16 moet saamgelees word met Num 21: 4 – 9, wat verwys na die koperslang op die paal.  Die kruis red, verlos en neutraliseer al die gif en gal in ons lewe. Jesus Christus het in ons plek gesterf, sodat ons ontslae kan raak van al die sondegif in ons lewe. Die Israeliete het ’n keuse gehad.  Òf hulle ignoreer die koperslang aan die paal en sterf, òf hulle kyk op na die koperslang aan die paal, en leef.

Ons kan ook twee dinge doen.  Ons kan wegdraai van die kruis af, anderpad kyk, en aanhou om gif op te gaar en so uiteindelik sterf.  Of ons kan na die kruis kyk en van die dodelike gif ontslae raak en begin lewe. Ja, die Here Jesus het in ons plek gesterf.  Hy het van ons gif gedrink.  Ons doodsbeker het Hy uit ons hand geneem en dit vir ons gedrink. Sy dood het ons brood geword.
(Dit laat ’n mens dink aan ’n handgranaatoefening wat eenkeer in een van Bloemfontein se militêre basisse plaasgevind het. Die troep moes vir die eerste keer die handgranaat oor die wal gooi. Hy het verbouereerd geraak en die handgranaat laat val tussen sy makkers. Die korporaal het toe op die handgranaat geval en is in die proses in flarde geskiet, maar hy het tien troepe se lewens gered. Tot vandag toe nog voel die troepe verantwoordelik om geldelike bydraes te gee vir die korporaal se vrou en kind.)

Christus Jesus se sterwe roep ons op om vir Christus te lewe.  Goeie Vrydag en die Nagmaal roep ons op om uit te gaan en vir Christus te lewe!  Daarom kan ons nooit passiewe Christene wees nie.  Nee, ons moet aktiewe Christene wees.

Die Israeliete het na die koperslang op die paal gekyk vir redding.  Ons kyk vanmôre na die kruis vir redding.  Die kruis neutraliseer al die sondegif in ons lewe, sodat ons kan lewe en lewe in oorvloed kan hê.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Verlang jy om God se blydskap te deel?

SKRIFLESING: Luk 15: 1 – 32

Gaan ons hart nog uit na arm mense, weeskinders, uitgestotenes, misdadigers en hulpbehoewende mense? Nie sommer nie. Want sulke mense skuif ons gewoonlik eenkant. Hulle is nie welkom nie. Hulle neem ons tyd, geld en energie in beslag. Hulle is mos self vir hulle toestand verantwoordelik.

Maar dan wil ek u vertel van die Vaderhart van God. God se Vaderhart staan so wyd oop soos die blou hemel daarbo. God raak bly en opgewonde as Hy ‘n swakke, ‘n sieke, ‘n bejaarde, ‘n arme, ‘n weeskind of ‘n verstoteling raaksien. God het swakkelinge en goddeloses lief. God meet en weeg mense nie volgens aardse maatstawwe nie, maar God verlang na en het ‘n blye hart vir goddeloses en verlorenes.

In ons gelese gedeelte word God se blydskap vergelyk met die blydskap van:

  • ‘n Herder wat sy een verlore skaap gevind het, sodat sy kudde weer volledig sal wees.
  • ‘n Vrou wat die verlore muntstuk van haar halssnoer gevind het, sodat haar halssnoer weer volledig is.
  • Die Vader wat sy verlore seun teruggekry het, nadat sy huisgesin, sy kinders weer voltallig is.

In die laaste gelykenis lees ons hoedat die vader sy werksmense roep en hulle beveel om die beste klere vir sy seun aan te trek, vir hom skoene te bring en ‘n ring aan sy vinger te sit en die vetgemaakte kalf te slag. Sy seun kry nie eers kans om sy voorbereide skuldbelydenis uit te spreek nie, nee, hy word oorweldig met liefde en aanvaarding.

So is God! God is lief vir sondaars, vir goddeloses, vir armes, vir siekes, vir hongeres, vir bejaardes, vir werkloses en vir mense wat siek is.

Daarom het Jesus in sy tyd op aarde geëet saam met die tollenaars en prostitute, die tollenaars en uitgestotenes van sy tyd. Om in daardie tyd saam met iemand te eet, was ‘n teken van aanvaarding. Jesus het mense aanvaar, ja, selfs oor hulle bly geword. Daarom is Jesus dikwels uitgekryt as ‘n wynsuiper en vraat, maar daaraan het Hy hom min gesteur. Die openbare opinie het nie veel vir Jesus Christus getel nie. Om die wil van Sy hemelse Vader te doen was vir Hom veel belangriker.

Moenie probeer om God te verander nie. SO IS GOD! God is nou eenmaal so, Hy het sondaars lief. Hy het ‘n hart vir ander mense.

Tog lees ons ook van die oudste broer in die gelykenis van die verlore seun. Dan herken ons onsself nogal in die gestalte van die oudste broer.  Die oudste broer het dit teen sy vader se sendingliefde, teen sy vader se barmhartigheidsliefde.

Die redding van sondaars moet die hemele en die kerk bly maak, maar helaas is dikwels net die hemele bly.

Oor hierdie aanstoot wat mense neem, lees ons veral in die groot sendingboek van die Ou Testament, naamlik Jona. Jona vlug eerder weg, as om vir die mense van Ninevé te vertel dat God vir hulle lief is. In Jona 4: 2 verklaar Jona dan ook, getuig Jona dan ook, dat hy geweet het dat God ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en vol liefde …. en dat hy die wete nie kan verdra of kan vát nie.

Dieselfde het in die Nuwe Testament gebeur; eers was die apostels ‘n verskrikte groepie mense ná die Here se hemelvaart. Die Gees het hulle egter in verskillende tale laat praat om sy Woord oor die wêreld te versprei. Ja, die Gees moes die weerstande afbreek in Petrus, in die ander apostels, by die gelowiges uit Jerusalem en selfs by Paulus.

Dikwels is ons nie teen sending of teen barmhartigheid nie. Nee. Ons neem eerder ‘n houding van traak-my-nie-agtigheid in. Ons bly onbetrokke en onentoesiasties. Sending en barmhartigheid het met ander mense te make, dit hou geen direkte voordeel in nie, daarom staan ons liewer op die kantlyn.

Ja, ons verander selfs die visie en die missie van die kerk om eerder ‘n broeiplek te wees vir hulle wat ‘n “klub” geword het. ‘n Vergaderplek van eendersdenkendes wat mekaar geestelik versorg, maar vergeet het van die wêreld daarbuite.

Theodore Wedel het ‘n aangrypende verhaal vertel van ‘n klein reddingstasie langs ‘n gevaarlike kuslyn. Talle skepe het hier gesink en die reddingstasie met hul eenvoudige reddingsapparate het honderde mense tydens skeepsrampe gered.

Sommige lede wou graag die reddingstasie verbeter, netjieser maak en ook sommer daarvan ‘n klub maak waar die reddingswerkers elke Vrydagaand as ‘n klub bymekaar kon kom, om sommer ‘n biertjie te drink om die spangees te verbeter. Die gebou is vergroot; en beter meubels, beter vloere en beter toerusting het van die eenvoudige reddingstasie sommer ‘n spogplek, ‘n uithangplek gemaak. Die lewensredding-motief was steeds oorheersend in al hul versierings. Hulle het selfs ‘n pragtige liturgiese reddingsboot daar gehad.

Die klub was egter ‘n gewilde uithangplek. Die lede het mettertyd al minder begin belangstel om reddingswerk te doen. Dit was eerder ‘n vergaderplek van klublede. Net om die naam reddingstasie te behou, het hulle ‘n paar lede teen vergoeding aangestel om vir hulle reddingsoperasies uit te voer.

Op ‘n dag sink daar weer ‘n skip. Die betaalde reddingswerkers red die drenkelinge. Maar toe hulle die mense gered het, het hulle ‘n probleem. Hulle kan mos nie die sopnat uitgehongerde en siek matrose in hulle netjiese klubhuis versorg nie. Nee, hulle moet in ‘n aangrensende skuur versorg word en so spoedig moontlik op die eerste die beste skip teruggeneem word na hul land van herkoms.

Die eiendomskommissie het dadelik besluit om aparte stortgeriewe en lokale in te rig vir die drenkelinge op see.

Op die volgende klubvergadering was daar egter ‘n skeuring. Sommige het gevoel al die reddingsaktiwiteite lei net tot ‘n skeuring. Staak alle reddingsaktiwiteite. Ander het weer gevoel dat die reddingsaktiwiteite die primêre taak van die klub is en dat hulle moet voortgaan met reddingswerk. Daar is gestem. Die groep wat gevoel het die reddingswerk moet gestaak word, het gewen.

Die ander groep wat wou voortgaan het toe besluit om verder langs die kus af ‘n ander reddingstasie te bou, eenvoudiger, maar doeltreffend. Spoedig het die nuwe stasie weer doeltreffend geword.

Maar soos die jare aangestap het, het die geskiedenis van die eerste reddingstasie homself herhaal met die tweede een en moes hul later ‘n derde, ‘n vierde en so aan, bou. Skeepsrampe vind nog plaas, maar die meeste drenkelinge verdrink.

Eintlik is dit die verhaal van die kerk. Die kerk ontaard maklik in ‘n sosiale klub, ‘n vergaderplek in plaas van om God se reddingstasie te wees.

Dikwels gaan dit vir die kerk nie om die ander mense nie, maar om diéself, ‘n sosiale klub.

Ons is die oudste broer in die gelykenis van die verlore seun, want ons kan ons nie verheug en bly wees oor die redding en die versorging van ‘n ander een nie.

Daarom is ons dikwels so ongelukkig en opstandig oor sendingpreke en barmhartigheidsaksies, want ons kan nie saam met God bly wees oor elke sondaar wat tuisgekom het in die huis van die Here nie.

Blydskap oor elke verlore mens! So is God. God kan nie anders wees nie.

Opstandigheid en vreugdeloosheid oor die eintlike taak van die kerk, maak van ons Christene wat buite staan en die vreugde in die bruilofsaal mis.

Daar is blydskap, ja, oorvloedige blydskap in die hemel oor elke sondaar wat tuisgekom het en oor elke hulpelose wat genade ontvang het. So is God! God kan nie anders wees nie. Hy is liefdevol en barmhartig.          

AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Moenie op jouself verlief wees nie.

SKRIFLESING: Rom 13: 8 – 14

Die HAT beskryf die woord “narcissisme” as ‘n “sieklike verliefdheid op jouself.”

Die woord kom uit die Persiese mitologie van bykans 2000 jaar gelede in die tyd voor spieëls. Dar word vertel van ‘n jongman wat eendag sy eie spieëlbeeld vir die eerste keer in die water gesien het. Dadelik het hy op homself verlief geraak, want hy was baie aantreklik. Elke dag het hy na sy eie spieëlbeeld in die water gekyk. Hy was verslaaf aan homself. Eendag het hy weer afgebuk en probeer om homself in die water te soen. Hy het in die water geval en omdat hy nie kon swem nie, het hy verdrink. Die watergode het hom egter jammer gekry en hom in ‘n narsing verander. ‘n Narsing is ‘n bolgewas met geurige blomme. Vandaar die naam narcissisme, vir iemand wat ‘n sieklike selfliefde het vir homself.

Eintlik maak ons elkeen onsself heel dikwels skuldig aan narcissisme. Dit is soos die vroutjie wat teenoor haar man gekla het oor die derde persoon wat hulle huwelik verwoes. Toe ontken hy heftig dat daar ‘n derde persoon is. Sy sê toe daar is, want “ek is op jou verlief en jy is ook op jouself verlief.”

Ons is op onsself verlief en daarom is ons gedurig met dagdrome besig.

Kinders droom om te wees soos Superman, Rambo, Spiderman en Tarzan.

Grootmense droom net groter drome oor wat hulle eendag wil besit, soos materiële goed, status en eer. Baie vroue droom om te lyk soos die vrou op die voorblad van die glanstydskrif. Mans droom daarvan om dinge te kan beheers en sy merk in die lewe te maak, Daarom praat hulle van die manlike ego. Eva het weer gedroom om soos God te wees. Eintlik is dit maar net die simptome van ‘n sieklike selfbeeld. Juis omdat ons so op onsself verlief is, sukkel ons so met die 10 gebooie.   

Peterson het ‘n gedig geskryf. Hy skryf: “Die jare gaan, die jare kom, ons mors die 10 gebooie om.” Juis omdat ons so verlief is op onsself, mors ons die 10 gebooie so op.

In die fisika en die sterrekunde leer ons van middelpuntvliedende krag. Dit is ‘n krag wat wegbeweeg van die kern. Daarom stort die aarde nie in die son nie. Middelpuntvliedende krag verseker lewe. Ons wêreld en ons verhoudinge stort egter in duie omdat ons met middelpuntsoekende krag besig is. Ons is met onsself besig. Ons is met ‘n sieklike selfliefde besig. So beland ons op ‘n ego-trip want ons is op onsself verlief. Met ons middelpuntsoekende, egoïstiese selfliefde mors ons elke dag met die tien gebooie.

Die vyfde gebod handel oor gesag. Vandag word gesagsfigure uit die ouder doos  beskou. Die individuele vryheid moet vandag seëvier.

Die sesde gebod handel oor lewe. In plaas van lewe pleeg ons karaktermoord, ons maak karikature van mekaar, ons spot van mekaar en skinder dat die byle huil. Ek moet tog asseblief net beter vertoon as my medemens.

Die sewende gebod handel oor die sedelike en seksuele lewe. Vandag is alles geoorloof, solank ek dit net geniet. Genot staan voorop.

Die agtste gebod handel eiendomsreg. Ons is afgunstig en jaloers op mekaar se besittings.

Die negende gebod handel oor die naam van my medemens. Ons maak ons medemens die vroteier, sodat die sieklike selfliefde kan triomfeer.

Die tiende gebod handel oor die begeertes van die hart. Ons begeer egter alles vir onsself en niks vir ‘n ander nie.

So mors ons met die tien gebooie, want ons is verlief op onsself. 

Wie sal ons tog wakker skud uit hier die egoïstiese dagdromery van onsself oor onsself. Vers 12 sê ons loop nog in ons pajamas rond. Ons droom sulke mooi drome oor onsself, soos iemand wat in die nag droom.

Vers 14 sê ons moet ophou droom oor onsself en opstaan en ons beklee met Jesus Christus (ou vertaling).

Hou op droom oor jouself, staan op en beklee jou met Jesus Christus. Wie vir Jesus Christus aantrek, word ‘n volgeling van Jesus Christus. Hy of sy doen die dinge wat by die daglig hoort.

Dit is soos ‘n jongman, wat sy hele gedrag verander sodra hy ‘n militêre uniform aantrek. Hy mag nie meer teen goeters lê nie. Hy moet sy meerderes salueer, sy skoene moet te alle tye blink. Hy moet anderste optree as ‘n “sivie.” So verander ‘n mens se hele lewe as jy vir Jesus Christus aantrek. Skielik kan ek nie meer egoïsties optree nie. Skielik verdwyn selfliefde, want ek volg nou Jesus se voorbeeld.

Jesus was nooit egoïsties of vol liefde vir homself nie. Nee, Hy het voete gewas, kos uitgedeel, siekes verpleeg, moedeloses opgebeur en vir sondaars gesterf. Hy het “middelpuntvliedend na ander”, vir ons geleer.

Want sien, as jy Jesus aangetrek het, is die basis van jou verhouding met ander mense, die liefde. Die regte soort liefde wat Jesus vir ons verbeeld het. Jy begin so bietjie van jouself en jou probleme, en jou sieninge en jou opvattings vergeet en jy gee God ‘n kans.

Hy wat homself / haarself met Christus beklee het opregte komplimente vir ander, sê nooit iets slegs van ‘n ander, gebruik nooit skeldname nie, bedek ander se foute, verdra ander mense met geduld, is opreg bly saam met ander se vreugdes en treur opreg saam met ander se teenslae. Snaaks: nou dat jy nie meer op jouself verlief is nie, kan jy baie beter met jouself saamleef. Jy voel goed oor jouself. Jy leef in die werklikheid van die helder daglig. Jy mors nie jou lewe op met sê-nou-maar fantasieë en drome nie. Jy het Jesus aangetrek en jy leef nou in Hom en Hy in jou.

Dit is soos ‘n man, wat baie goed is in die bou en vlieg van vlieërs. Hy leer dan ‘n seun om ook mooi vlieërs te bou en hulle hoog te laat vlieg. Uiteindelik kry die seun die reg om mooier vlieërs te bou as die man. Hy kry ook dit reg om die vlieërs hoër as die man te laat vlieg. Die vreugde van die man is dat hy die seun geleer het om beter met vlieërs te wees as hyself. Hy is nie jaloers op die seun nie, maar bly saam met die seun. Sulke mense moet ons ook wees. Ons moet ander mense beter laat vertoon as onsself. Dan is ons werklik kinders van God.

Die nuwe mens in Christus droom oor God.

Die nuwe mens in Christus droom oor sy medemens.

Die nuwe mens in Christus droom oor watter mens God wil hê hy of sy moet wees.

Die nuwe mens in Christus droom oor wat God se plan vir hom of haar is.

Die nuwe mens in Christus droom van die nuwe hemel en aarde.

Amen     

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerk hou. (Troosboodskap van wyle Helene Engelbrecht)

SKRIFLESING: Jesaja 66: 13

Professor William James van Harvard Universiteit het in sy welbekende boek “The varieties of religious experience” die volgende verhaal vertel. ‘n Onderwyser het vir ‘n leerder uitgevra oor deling. Hy het vir die seun gevra: “As jou moeder ‘n pastei bak en julle is sewe in die huis, naamlik julle vyf  kinders en pa en ma. Hoeveel dele sal jy ontvang?” Hy antwoord toe dat hy ‘n sesde deel sal ontvang. Die onderwyser wil met die seun baklei omdat hy nie verdeling verstaan nie. Die onderwyser sê toe: “Maar julle is mos sewe?” Die kind antwoord: “Juffrou, ek verstaan alles van verdeling, maar ek ken my ma ook. Sy sal sê sy wil nie van die pastei hê nie.”

So was Helene ook. Sy was ‘n moeder, ‘n ouma en ‘n oumagrootjie. Sy sou haarself tekort gedoen het, net om iets vir haar kinders en kleinkinders te beteken.

Sy was soos ‘n hen, wat haar vlerke oopgesprei het vir haar kuikens en dat hulle onder haar beskerming kan geniet. In Lukas 13: 34 sê die Here: “Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke” Helene was soos die Here, wat haar kinders en geliefdes, almal onder haar vlerk wou hou. Haar kinders en kleinkinders kon maar onder haar vlerk gaan wegkruip as daar bedreiging of gevaar woed.

Tania Bothma boer met mak tarentale. Die mak tarentale is nie sulke goeie moeders vir hulle kleintjies, soos die wilde tarentale nie. Hulle sal sommer in die aand opvlieg in die boom om te slaap en die kleintjies net so los. Daarom plaas Tania die eiers onder ‘n goeie hoenderhen. Die hoenderhen maak dan al die kuikens mooi groot. So was Helene Engelbrecht soos ‘n goeie hen wat na haar eie kuikens, maar ook na ander mense, omgesien het. Sy het ‘n wye vriendekring gehad en het na almal uitgereik, ook na die randfigure in die lewe.

In Jesaja 66: 12 – 13 staan daar: “Want so sê die Here: “Kyk, Ek gaan vrede na haar toe  afkeer soos ‘n rivier,  die luister van nasies soos ‘n spruit in vloed; en julle sal drink. Op die heup sal julle gedra word, en op knieë gewieg word. Soos iemand se moeder hom troos, so sal Ek self julle troos; in Jerusalem sal julle getroos word.

In bogenoemde gelese gedeelte word verduidelik dat God soos ‘n moeder vir die volk Israel is in moeilike tye. Maar omdat die mens geskape is na die beeld van God, vertoon die mens ook sekere eienskappe van God.

Helene het ook vrede afgekeer – soos ‘n rivier – na haar familie. Sy was soos gom wat die familie bymekaar gehou het in vrede. Haar familie en gemeenskap het almal gedrink van haar liefde. Sy het haar liefde oordadig uitgestort oor julle, soos ‘n rivier in vloed. Op haar heup het sy julle gedra van kleins af en julle op haar knieë gewieg. Sy het julle vertroos, selfs toe julle grootmense was.

Sy was ‘n moeder. Abraham Lincoln, die voormalige Amerikaanse president, het die volgende oor sy ma gesê: “ Al wat ek ooit hoop om te wees, is ek aan my engelmoeder verskuldig.” Helene Engelbrecht was en is vir julle familie die engelmoeder, wat julle gebring het waar julle vandag is. Haar liefde het julle gevorm.

Prinses Diana het gesê: “ ‘n Moeder se arms is meer bemoedigend as enigiemand anders.” So was Helene vir haar kinders en kleinkinders.

Die feit dat julle kinders en kleinkinders almal goed uitgedraai het in die lewe as goeie mense, het julle te danke aan die opvoedingsfilosofie wat sy gehad het.  Sy het ‘n oormaat liefde uitgedeel, maar sy was ook streng. Johannes Calvyn, die groot kerkhervormer, het ook geskryf in sy Institusie dat ‘n kind of kleinkind eintlik net twee dinge nodig het, naamlik ‘n oormaat liefde en baie strengheid. Liefde sorg vir geborgenheid en strengheid gee sekuriteit. Daarom ervaar julle kinders geborgenheid en sekuriteit, want sy het oormaat liefde gegee, maar was ook streng en het lyne getrek. 

Helene kon dikwels hardkoppig wees, maar dan altyd oor sy nie vir ander mense en vir haar kinders ‘n las of moeite wou wees nie. Sy wou onafhanklik wees. Sy wou haar eie ding doen. Sy wou ook nie veel van ‘n begrafnis hê nie. Sy wou nooit hê die lig moet op haar val nie. Sy het altyd die lig op ander laat val.

Wat is die belangrikste eienskap van Helene? Die belangrikste is dat sy die Here gedien het! Sy was ‘n deurleefde kind van die Here. Sy was ‘n weeklikse kerkganger en het deelgeneem aan al die kerk se aktiwiteite. Sy het ook vir baie jare as diaken en ouderling gedien. Sy het altyd van die Here gepraat en Hom liefgehad. Haar liefde vir die Here het oorgeloop in haar lewe. Daarmee het sy ook haar kinders beïnvloed, soos wat Timotheus beïnvloed is deur sy moeder en ouma. Paulus maak daarvan melding in 2 Timotheus 1: 5 “Ek dink steeds aan jou opregte geloof, daardie geloof wat eers in jou ouma Loïs, en in jou moeder Eunice was – en ek is oortuig dat dit ook in jou is.”

Liewe Adele, Hanlie, Nico en Hannes, die grootste geskenk wat julle as kinders vir julle ma kan gee, is om die Here te dien. Dan vereer julle haar. Sy was ‘n Godsvrou deur en deur en haar diepste wens was dat haar kinders die Here ken. Ook aan die kleinkinders, mag die geloof van julle ouma julle inspireer  om naby aan die Here te leef en ook julle kinders naby aan die Here groot te maak.

Ek dink aan die gasvryheid waarmee sy altyd die wyksbyeenkoms van die dorpswyke ontvang het. Sy het aangedring dat dit by haar huis moes wees. Sy was nooit bang om oor die Here te gesels nie. Sy was ‘n vrymoedige getuie van die Here se wonderlike werk in haar lewe.

Sy was ‘n wonderlike vriendin vir baie mense en het aan baie vriendekringe behoort. Sy was vir almal ‘n inspirasie. Daarom gaan Adelaide se gemeenskap haar ook baie mis.

Haar lewe is gekenmerk deur integriteit. Sy was soos die vrou in Spreuke 31:10 – 31. Hoor hoe waar is dit van Helene. Kom ons kyk na die volgende verse in Spreuke 31.

Vers 10  – “‘n Knap vrou, wie sal haar vind? Ver bo korale is haar waarde.”

Vers 20 –  “Haar handpalms strek sy uit na magteloses; haar hande steek sy uit na behoeftiges.”

Vers 26 – “Haar mond maak sy oop  met wysheid, en liefdevolle onderrig is op haar tong.”

Vers 27 – “Sy hou haar oog op die werk in haar huis; brood van luiheid eet sy nie.”

Vers 29 – “Baie vroue het hulle knap gedra, maar jy, jy oortref hulle almal.”

Vers 31-  “Gee aan haar ‘n deel van die vrug van haar hande; mag hulle haar in die stadspoorte vir haar dade prys!”

Helene Engelbrecht is veilig by die Here. Sy het in die Here Jesus gesterf. Niks, nie lewe of dood, kan haar skei van die liefde van die Here nie. Sy het haar hemelse woning ingegaan en sy sit aan die tafel van die Here tot in ewigheid. Sy is bevry van aardse pyn en lyding. Haar lang siekbed het tot ‘n einde gekom. Haar lyding is verby. Ook in haar lyding was sy ‘n waardige vrou, wat aan die Here Jesus vasgehou het.

Geliefdes, ons onderskat die waarde van ’n vrou en van ’n moeder. Sy het so ‘n ontsaglike rol gespeel in haar kinders en kleinkinders se lewens. Sy was so ‘n wonderlike dienskneg en vriendin vir die gemeenskap.

Julle familie se verlies is ook my verlies. Ek sal onthou die baie kere wat ek by haar gekuier het en ons sommer oor die alledaagse en ook oor diep dinge gepraat het. Sy was soos ‘n moeder vir my ook en het my ook ondersteun as predikant. Predikante het ook liefde en ondersteuning nodig. Ek het dit in oormaat by haar gekry.

Ons eer die nagedagtenis van hierdie besondere vrou.

Ons is lief vir Helene Engelbrecht. 

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Ons dade volg ons in die hemel. (Troosboodskap van wyle Isak van Schalkwyk)

SKRIFLESING: Openbaring 1: 17 – 18 en Openbaring 14: 13

Ek het eenmaal gelees van ’n laat 1700’s verhaal van ‘n wewenaar wie se enigste dogtertjie oorlede is. Dit het in Engeland afgespeel. Dit was die tyd toe begraafplase nog ‘n opsigter gehad het en die doodskiste met slotte gesluit was en die sleutel van die doodskiste gegee is vir die opsigter van die begraafplaas om te bewaar. Die man en die predikant het nadat hulle die dogtertjie begrawe het en die sleutel van die kis vir die opsigter  gegee het, alleen terug gestap. Die man het verskriklik gehuil. Die predikant sê toe vir die man: “Broer, die loper wat jou dogtertjie se kis oopsluit, hang en kinkel alreeds aan die sleutelring van die Here Jesus Christus.”

Waarskynlik het die predikant Openbaring 1: 17 – 18 in gedagte gehad. In Openbaring 1: 17 – 18 staan daar geskrywe: “Toe ek Hom sien, het ek voor Sy voete neergeval soos ‘n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades.”

Die woord “Hades” word voorgestel as ‘n plek onder die aarde waarheen mense wat sterf, afdaal. Dit is die “Doderyk” of “onderwêreld” genoem. Soms is dit ook as ‘n tronk voorgestel. Daarom het Jesus die sleutel wat die tronk van die dood oopsluit en ons inlaat in ons hemelse woning.

Wat belangrik is, is dat Jesus die sleutel het wat die dood oopsluit. Nie ons goeie werke of dade kan vir ons die hemel oopsluit nie. Jesus Christus se soendood is die sleutel wat die dood oopsluit. Daarom is Hy die Weg en die Waarheid en die Lewe. Met Jesus se opstanding uit die dood het Hy die slotte van ons dood kom oopsluit.

Versprei deur die boek Johannes kry ons sewe saligsprekinge. Een van hulle is Openbaring 14:13: “Ek het toe ‘n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf neer! ‘Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf.’ ” “Ja,” sê die Gees, “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle.”

Heel eerste praat hierdie vers van gelukkig is dié wat in die Here sterwe. Vir Elize, Rolyn, Charl, Nelius en die res van die uitgebreide familie is dit seer, pynlik en verwondheid. Maar vir Isak is dit “gelukkig” want hy het in die Here gesterf. In ons laaste gesprekke het Isak ‘n rustigheid en ‘n aanvaarding gehad van die dood, wat net deur ‘n gelowige uitgespreek kan word. Isak was in die Here en hy het in die Here gesterf en daarom kan ons hom nou “gelukkig” noem.  Almal wat in die Here gesterf het, is inderdaad “gelukkig.”

Tweedens praat die vers ook van “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg.” Die woord “geswoeg” is die Griekse woord “kopos” wat ons eerder sou kon vertaal “met moeite” en dit verwys na ons hele menslike bestaan wat vir ‘n groot deel uit moeite, pyn en bekommernisse bestaan. Isak het nou geen moeite, angs, pyn en bekommernisse nie. Die Bybel maak baie gebruik van die woord “rus”. Daarom is die Sabbat die “rusdag” vir die mens. Isak het in sy Sabbatsrus ingegaan.

Hebreërs 4: 9-11 sê die volgende oor die rus: “Daar bly dus steeds ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke – soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie.” Isak van Schalkwyk se arbeid op die aarde is voltooi. Hy kan nou rus.

Behalwe die “geswoeg” praat die teks ook van “dade”. Diegene wat in die Here sterwe, sal nie net rus van hulle geswoeg nie, maar hulle dade volg hulle.

Let op dat jou goeie dade nie voor jou uitloop om die hemel vir jou oop te maak nie. Net Jesus Christus kan die dood oopsluit met sy kosbare bloed. Jesus is die sleuteldraer, wat sonder verdienste oopsluit. Nee, die teks sê jou goeie dade volg jou. Is dit nie ‘n troos nie! Alles wat ons gedoen het wat goed was, volg ons. Die dood kan mos nie uitvee wat goed in jou lewe was nie. Die goeie bly altyd staan. Die goeie wat Isak gedoen het en die baie kere wat hy vir die Here getuig het, bly staan. Sy goeie dade as eggenoot, as vader, as gesinsman, as onderwyser, as gemeenskapsleier, as kerkleier en as skoolhoof bly staan. Dit volg hom die hemel in.

Die Joodse rabbi’s het geglo dat jou goeie werke jou vooruit gaan. Dat jou goeie werke soos ‘n stootskraper vir jou ‘n pad oopmaak na die hemel. Maar in die Nuwe Testament het die Here die orde omgegooi. Jesus gaan self vooruit om vir ons die pad na die hemel oop te maak. Ons goeie dade volg ons in die dood.  Daarom: die goeie dade van ons gaan ons nie vooruit nie, maar  volg ons die hemel in.

Die Here vee met ons dood nie die goeie dade uit nie. Iemand skryf so aangrypend: “Nee, wanneer die gelowige omkyk in die ewigheid, volg alles wat hy gedoen het op sy hakke. God vergeet nie. Ons sonde ja, die het Hy totaal vergeet (Hebr 10:17), maar nie ons werke in Sy Naam nie. “Ek kén jou werke en jou “kopos” sê Jesus in Open 2:2.”

 Want ons goeie dade verheerlik die Here Jesus, daarom word dit nie uitgevee nie. Ds. Johannes de Koning skryf tereg: “Ons goeie werke volg ons. Ons dade tel tot in alle ewigheid!” Ons slegte dade is uitgevee deur die bloed van die Here Jesus Christus.

Mag hierdie gedenkdiens van Isak van Schalkwyk weer vir ons elkeen die belangrikheid van ons dade (nie net ons geloof nie) beklemtoon. Isak van Schalkwyk se lewe word gekenmerk deur karaktervastheid, lojaliteit en betroubaarheid. Sy woorde het altyd “gewig” gedra. Hy was ‘n waardige man. Hy is een van die groot bome wat geval het op Adelaide. Sy werk op Adelaide sal altyd onthou word. Hy is een van Adelaide se legendes.

Maar Isak van Schalkwyk het gelukkig gesterf, want hy het in die Here gesterf. Dit is wat ons teks sê. Ons is nie troosteloos nie, want Isak rus van sy geswoeg. Sy dade volg hom in die hemel. Daarom kan niks wat hy goed gedoen het, deur die dood ongedaan gemaak word nie. Sy goeie dade lewe voort tot in alle ewigheid, tot verheerliking van God.

Wat ‘n heerlike troos!                                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)