Beproewinge kweek karakter

SKRIFLESING: Jakobus 1: 2 – 11

Dit gaan in Jak 1: 2 – 11 oor ysterklippe en veldblomme.

Jakobus gebruik die veldblom om die ryk mens te beskryf. Daarmee bedoel hy die mens wat net voorspoed in sy lewe ken.  Mense wil graag soos veldblomme wees omdat hulle graag deur ander mense aanvaar en bewonder wil word. Hulle wil jonk en mooi bly en deur voorspoed verveel word. Hulle wil altyd gesond bly en sonder moeite kitssukses in alles behaal.

Ja, ons sal graag soos veldblomme wil wees. Kyk net hoe ’n ophef maak mense elke September van die Namakwalandse veldblomme. Ons wil ook so fraai en mooi en bewonderenswaardig wees. Om ryk, om gesond, om mooi, om atleties, om bekend en voorspoedig te wees, is vandag in. Net mense wat soos veldblomme is, haal die voorblaaie van die tydskrifte.

Ag, was ek maar soos ’n veldblom! Maar nou is ek nie ’n veldblom nie, want beproewinge en swaar lê soos duwweltjies oor my pad gesaai. Om elke draai kry ek ’n “puncture”, soos my dogter Unine elke tweede dag gekla het toe sy klein was: “Pa, my fiets se band is pap, ek het alweer oor ’n duwweltjie gery.” Dan moet Roelfie, die tuinman, weer die lekplek regmaak.

Ons kla dikwels ook dat ons pad met duwweltjies, met beproewinge, gesaai is. Daar is die droogte. Ek sukkel om met my geld uit te kom. Ek sukkel om my stukkende huwelik te red. Ek sukkel met my skoolwerk. Ek sukkel met my gesondheid of ek sukkel met ’n familie-probleem.

Maar hoor ’n bietjie wat sê Jakobus 1: 2 – 4: “Beskou dit as ’n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring.  Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie.”

Jakobus sê dat ons ons daarin moet verheug as ons somtyds ’n bietjie swaar in die lewe kry. Somtyds is dit goed vir my geestelike lewe om deur ’n droogte te gaan, om te sukkel om met my geld deur te kom, om te worstel met ’n siekte of met ’n probleem. Want sodoende word ek gelouter soos ysterklippe deur slae, en deur hitte getemper tot vlekvrye staal.

Die gelowiges wat gelouter word deur beproewinge en swaar is soos die ysterklip. Hoe meer dit geslaan word, hoe meer dit verpoeier word, hoe meer dit aan helse hoë temperature blootgestel word, hoe beter word dit. Die onsuiwerheid kom af. Die slae en hitte gee karakter. Dit word sterker en suiwerder. Uiteindelik word uit die ysterklip vlekvrye staal vervaardig, waarmee byvoorbeeld chirurgiese instrumente vervaardig word om mense se lewens in die teater te red.

Beproewinge en die slae van die lewe maak ons suiwerder, dit breek die onsuiwerhede in ons lewe af, soos in die woorde van Jakobus: “Julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie.”

Droogtes, siektes, probleme, finansiële bekommernisse, terugslae, ensovoorts is die aanslae en die hitte wat ons temper en die onsuiwerhede in ons lewe afbreek. Die aanslae en die hitte van die lewe is waardevol as dit my kan leer om van onsuiwerhede, soos ’n haastige mond, ’n vinnige humeur, of geen simpatie met ’n medemens nie, ontslae te raak. Die hitte en die aanslae van die lewe maak my suiwerder, dit leer my om lief te hê, begrip vir ’n ander te hê, sagmoedig en barmhartig te wees.  

Maar hoe moet ek op swaarkry reageer? Jakobus noem twee dinge in die teksgedeelte:

  • Bid
  • Hou aan om die goeie te doen

Ja, ons bid te min. Gebed verander sake, maar gebed verander my ook. Ons bid tog so dikwels verkeerd. Ons bid net dat die Here sake moet verander, maar ons bid nooit dat die Here my moet verander nie. Ons bid ook so twyfelagtig. Ons bid dat die Here vir die arm mense sal kos gee, maar dan wil ons nie ’n verskil maak nie. Ons bid dat die Here ons sondes sal vergewe, maar dan is ons nie bereid om ’n ander sy sondes te vergewe nie. Ons bid vir die Here se Koninkryk, maar dan is ons so teen sending. Ons bid vir reën, maar kan so jaloers wees as ’n ander een reën kry. Ons noem dit “jaloersbuie”! Wie so bid, sê Jakobus, bid twyfelagtig. So een moet nie dink dat die Here sy of haar gebed sal verhoor nie.

Jakobus sê ons moet vir wysheid bid. Bid dat jy in jou beproewinge die dinge sal vra wat werklik tel in die lewe. Bid eerder dat die Here vir jou liewers karakter as rykdom sal gee, want sien, karakter hou langer as rykdom.

Bid dat die Here die aanslae en die hitte in jou lewe sal gebruik om jou suiwerder te maak. Ja, dat die hitte en die aanslae die onsuiwerhede in jou lewe sal afbreek.

Jakobus sê ons moet ook nie onbestendig in ons doen en late wees nie. Daarmee bedoel hy dat ons moet aanhou om die goeie te doen, selfs al word ons getemper deur die hitte en die aanslae van die lewe.

In die boek We’re Going On A Bear Hunt word beskryf hoe die kinderkarakters op ’n avontuur vertrek. Dit is die werklikheid van die lewe, maar dit is soms skrikwekkend waar. Die karakters moet deur lang gras, ’n diep rivier, modder, ’n donker woud, tot in ’n diep grot gaan. Elke keer sê Poppy net:

“Ons kan nie daaroor gaan nie.

Ons kan nie daaronder gaan nie

O NEE!

Ons moet daardeur gaan…”

So lei die Here ons nie óm probleme nie, maar déúr probleme. Die volk Israel is  nie om die woestyn gelei nie, maar eerder deur die woestyn gelei, sodat hulle kan leer dat God die enigste God is en dat hulle in hulle geloofskarakter gevorm kan word.

As jy aanhou perdry, word jy ’n goeie perderuiter. As jy aanhou probeer, sal jy dit regkry. As jy dan ’n stuk vlekvrye staal wil word, moet jy aanhou om goeie dinge te doen. Hou uit as dit brand. Al word jy geslaan, hou jou spiere sterk. Verander jou minusse in plusse. Verander jou tekortkominge tot jou voordeel.

Nee, gebruik eerder die slae en die hitte van die lewe om jou karakter te vorm, om jou suiwerder te maak. Dit het blywende waarde.

Honde-afrigters sal vir jou sê dat hulle nooit vir hulle honde te veel kos gee wanneer hulle opgelei word nie. Die hond moet effens honger wees. U sal dink dis wreed. Maar dit is nie. ’n Effens honger hond doen beter as ’n uitgevrete hond. ’n Effens honger hond vang beter jakkalse en is ’n beter waghond en hardloop vinniger. Hoekom? Want hy het ’n uitdaging!

Beethoven was doof. Tog het hy die mooiste musiek vir ons nagelaat. Helen Keller was doofstom en blind en het tog van die mooiste gedigte geskryf. Arthur Rubenstein was een van die wêreld se grootste klavierspelers. Sy musiekonderwyser het op ’n slag vir hom gesê hy kan vergeet om klavier te speel, sy vingers is te kort.

Jesus Christus is in ’n stal gebore, het in die Nasaret-agterbuurte grootgeword, is verwerp, geslaan, gespoeg en gekruisig. Tog het God Hom uit die dood opgewek, sodat ons ook ystermanne en ystervroue kan wees.

Veldblomme en ysterklippe verskil. Veldblomme het dit maklik en ysterklippe het dit swaar. Tog duur die skoonheid van veldblomme nie lank nie. Skoonheid, geld, voorspoed, status en gesondheid is soos ’n veldblom. Die blomme val af en die prag is daarmee heen. Hollywood-glorie duur nie vir ewig nie. Voorbladpersoonlikhede vervaag gou. Sportsterre verskiet gou.

Is dit nie so dat mense wat alles te maklik in die lewe kry, dikwels maklik uitvaagsels word nie? Hulle ken nie die hitte en die aanslae van die lewe nie.

Daarom moet ons nie kla as daar allerlei beproewinge oor ons kom nie. Ons word gelouter deur die aanslae en hitte van die lewe om suiwer en onberispelik tot volle geestelike rypheid te kom. So kry ons karakter.

In ons beproewinge moet ons bid vir wysheid om die regte dinge te vra en dan ook te bid sonder om te twyfel. Hou aan om die goeie te doen.

Veldblomme is seisoengebonde, maar ysterklippe word vir ewig gelouter.

Dank God vir elke beproewing! Merk op hoe God jou geestelik laat groei tot geestelike rypheid.

Amen  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Delaney, Anthony. Tests Into Treasure.

Wolmarans, Hansie. Ysterklippe en Veldblomme. Departement Grieks. RAU

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Daar sal perde wees

SKRIFLESING: Openbaring 6, 7 en 8

Daar is ’n Afrikaanse spreekwoord wat sê: “Daar sal perde wees.” Dit beteken daar sal moeilikheid wees.

Ons kan die spreekwoord ook op die einde van hierdie wêreld toepas. Ja, aan die einde van hierdie wêreld sal daar perde wees, daar sal moeilikheid wees.

Openbaring 6: 1 -17 se tema kan maklik saamgevat word met die woorde: Aan die einde van dae sal daar perde wees.

Ons lees hier in Openbaring 6 oor die oopmaak van die sewe seëls, wat handel oor:

  • Die toestand van die wêreld (eerste vier seëls)
  • Die versugtinge van die kerk (vyfde seël)
  • Die naderende oordeel (sesde seël)
  • Die groot stilte (sewende seël)

Die eerste vier seëls handel oor die toestand waarin die wêreld sal verkeer in die eindtyd. Dan word vier perde met hulle ruiters uitgebeeld as metafore van wat die eindtyd sal inhou.

Die eerste metafoor (seël) is die wit perd en sy ruiter hou ’n boog vas, en ’n oorwinnaarskroon is aan die ruiter gegee. Dit stel die valse Christusse voor en die dwaalleringe wat  die wêreld verower. In ons eie kerk worstel ons met skrifgesag en baie predikante water die gesag van die Skrif af, om allerhande sondes goed te praat en te regverdig vanuit die Skrif. Ook kry ’n mens die welvaartteologie, wat glo dat welvaart gelyk loop met die kwaliteit van jou geloof. As jy reg glo, sal die Here jou baie seën en jou ryk maak. In die Amerikaanse kerke, maar veral ook in baie van die swart kerke in Suid-Afrika, kom dit algemeen voor. Die verlossingsleer kan ook afgewater word, deur te glo dat Christus alleen nie by magte is om my te verlos en die saligheid te bewerk nie – ek moet kies. My persoonlike keuse word dan die grond van my verlossing en nie meer Christus nie.

Hierdie wit perd en sy ruiter saai verwarring in die geestelike lewe van ’n gemeente en kan ook lei tot opstand, veral wanneer die Skrifgesag betwyfel word.

Die tweede metafoor (seël) is die vuurrooi perd en aan sy ruiter is ’n groot swaard gegee. Waarskynlik wat lyk soos die Romeinse kort steekswaard wat in rebellies gebruik is. Die rooi simboliseer bloed wat gestort word. Dit het die betekenis van geweld, oorlog en bloedvergieting. Ons land het een groot bloedbad geword met ’n syfer van ongeveer 58.4 mense per dag wat in Suid Afrika vermoor word. Geen Polisiemag in die wêreld sal soveel moorddossiere kan hanteer nie. Mense word op plase, in tavernes, in arm woonbuurte en ook in ryk woonbuurte vermoor. Dan is daar ook die moord op politieke figure in Suid-Afrika.

Natuurlik word oorloë hier ingesluit. Die wêreld was byna nog nooit, nie in ’n staat van oorlog nie. Die jongste oorlog van Rusland teen Oekraine gaan ook nie die laaste oorlog wees nie. Die eerste moord van Kain op Abel was die begin van die bloedspoor. Broedermoord het uitgekring na  oorlog tussen volkere. Die “Viking”-gene sit in die meeste volkere se genepoel. Ons is deur twee wêreldoorloë, met al die gepaardgaande wreedheid van mens tot mens.

So wil hierdie seël openbaar dat die mense mekaar sal uitmoor. Dit is die onheilspellende hoefgeklap na die einde toe.

Die derde metafoor (seël) is die swart perd, en sy ruiter het ’n skaal in die hand. So voorspel dit dat daar in die eindtyd skaarsheid en hongersnood sal wees en dat alles baie duur sal word. Alles sal afgeweeg word en die kos sal gedaan raak. Sedert die aanvang van die oorlog in Oekraine het petrol- en dieselpryse die hoogte ingeskiet. Dit het tot 40% duurder geword. Mense gebruik deesdae hulle kosgeld om brandstof te betaal om net by die werk te kom. Die meeste mense kry baie swaar. Daar vind ’n grootskaalse verarming van mense plaas. Die armes kry die meeste swaar. Die lang rye van honderde mense by die voedingskemas van Adelaide vertel sy eie verhaal. Honderde mense gaan slaap saans honger op Adelaide. Vers 6 van ons teksgedeelte handel oor die inflasie van die ekonomie. In talle plekke in Afrika is daar hongersnood en kosskaarste waar die Verenigde Nasies en kerke moet help.  

Die vierde metafoor (seël) is dié van die vaal perd, en sy ruiter se naam is die Dood. Die perd is op volle galop. Die vaal perd is mos die kleur van die dood. Miljoene sterf in hongersnood en oorloë. Duisende in politieke geweld. Miljoene aan siektes soos Covid, kanker en so kan ’n mens aangaan. Soveel duisende sterf in motorongelukke.

Daarom is daar in hierdie eindtyd ’n stryd tussen die Lig en die duisternis. ’n Stryd tussen Christus en die bose. Beland Christene ook onder die pote van die vier perde? Ongelukkig, ja. Ons professor in Nuwe Testament, Jan du Rand, het aan ons verduidelik dit is soos twee lande wat teen mekaar oorlog maak. Die twee lande se weermagte skiet op mekaar. Ongelukkig word burgerlikes ook getref in die kruisvuur. Daarom beland ons ook in die kruisvuur, onder die pote van die vier perde.

Dit bring ons by die vyfde seël. In Openbaring 6:9 staan daar: “Toe Hy die vyfde seël oopbreek, het ek aan die voet van die altaar die siele gesien van dié wat doodgemaak is vanweë die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het.” Die vyfde seël of bekendmaking, beteken die wat te midde van die galop van die vier perde aan die Here Jesus vashou en Hom in alles vertrou. Daarom moet ons in hierdie eindtye net aan die Here vashou en Hom getrou volg. Die aanvegtinge kan ons liggaam doodmaak, maar dit kan nie ons siel doodmaak nie. Offerdiere se bloed is aan die voet van die altaar opgevang. So is die Christene wat hulle lewe vir die Here opoffer, se bloed soos dié van die offerdiere aan die voet van die altaar – hulle het hulle hoogste prys betaal. Die Here sal hulle onthou.

Daarom, al leef ons onder tipiese sekulêre staatsomstandighede, moet ons nooit ons moed verloor nie, maar altyd aan ons geloof vasklou.

Die vraag kan gevra word waarom talm die Here so lank. Die antwoord is eenvoudig. Hy wag dat Sy volle getal uitverkorenes ingesamel word: die volmaakte getal, wat simbolies 144 000 is. Dit is die twaalf stamme van Israel (Ou Testament) x die twaalf apostels (Nuwe testament) x 1000 (die volmaakte) = 144 000. Dit is ’n volmaakte getal en beteken miljoene der miljoene is uitverkies. Die Here het vir jou en my ook gewag. As die Here Jesus 100 jaar gelede gekom het, was net Tannie Mabel Faure wat nou 104 jaar is, gered. Die Here het vir ons ook gewag om in die boek van die lewe opgeteken te word.

Onthou ook wat in 2 Petrus 3: 8 staan: “ Laat hierdie een saak egter nie by julle verbygaan nie, geliefdes: By die Here is een dag soos duisend jaar, en duisend jaar soos een dag.”

Dan kom ons by die sesde seël – ’n groot aardbewing. Dit is moeilik in Suid-Afrika om ons in te dink in ’n aardbewing, want ons is nie gewoond daaraan nie. Maar dit is as al jou sekuriteite wegval. Konings word van hulle trone ontneem. Rykes word ontneem van hulle rykdom, magtiges verloor hulle mag en invloed en die gewone man en slaaf word beroof van die bietjie wat hy nog het. Selfs die Richter-skaal sal dit nie kan meet nie.

Dit is wanneer die sterre op die aarde val, soos navye op die grond.

Ons armlastiges wat so krampagtig aan ons goedjies, mag en drome vasklou. Ons hande wat soos kloue lyk – wat aan alles wil vasklou. Wanneer die groot aardbewing kom, sal ons dit alles verloor. Daarom moet ons nie neerslagtig wees oor die toekoms nie, maar eerder bly wees. Verwag liewer vir Jesus. Die eindtyd en die verwoestende vier perde met hulle ruiters moet ons laat verlang en dryf na Jesus Christus ons Here. In Christus is ons uiteindelik oorwinnaars. Daarom sug ons saam met die kerk: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser. Maranata, kom gou Here Jesus …. kom gou.”

Oor die sewende seël in Openbaring 8 lees ons hoedat die Lam die sewende seël oopgemaak het en daar het ’n halfuur van stilte gevolg. Die verklaring hiervoor is dat die heiliges se gebede kan opstyg na God soos wierook en dat al die gelowiges in afwagting is op wat nou gaan gebeur.

So moet ons ook in afwagting wees op die koms van Jesus Christus.    AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Du Rand, Jan 2007. Die A – Z van Openbaring. Vereeniging: Christelike Uitgewers Maatskappy.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.  

Van niksnut tot nuttig

SKRIFLESING: Filemon 1

Die verhaal begin met Filemon, wat ’n welgestelde Christen was, wat aan die Christelike kerk in Kolosse behoort het. Hy het onder die bediening van Paulus in Efese tot bekering gekom en sy huis aangebied as ’n saamkomplek vir ’n huiskerk. Hy het ’n slaaf gehad met die naam Onesimus. Dit was algemene gebruik in Rome om slawe te besit. Daar word bereken dat daar in Rome ongeveer tienduisend welvarende mense was wat ongeveer 1 miljoen slawe besit het. ’n Slaaf was die laagste klas in die destydse samelewing.

Ongelukkig is baie van daardie slawe wreed behandel. Die Romeinse samelewing is in klasse opgedeel – Romeine, mans en vroue, slawe en vryes, Jode, Christene en heidene – en die grense mag nie oorgesteek word nie. Sou ’n slaaf sy meester nie tevrede stel nie of iets verkeerds doen, dan is hy op ’n barbaarse wyse gestraf. ’n Slaaf kon selfs met die dood gestraf word.

Dan lees ons hoedat Onesimus een of ander oortreding begaan het. Dit kon moontlik diefstal gewees het, na aanleiding van vers 18, waar gepraat word van “skuld berokken”. Dan vlug Onesimus weg van sy eienaar Filemon af, wat die ergste moontlike optrede van ’n slaaf was. Onesimus se naam beteken “voordelig” of “nuttig”. Hy was nou allesbehalwe nuttig vir sy eienaar. Hy was nou ’n “niksnut” wat vir niks gedeug het nie. Hy het duisende kilometer dwarsoor die Romeinse Ryk gevlug, sodat hy nie gevang kon word nie. Waarskynlik, volgens kerklike tradisie, moes hy in die groot stad Rome met sy baie mense gaan wegkruip het. Hy het moontlik gaan wegkruip in die Joodse woonbuurt in Rome, wat die agterste krotbuurt van die stad was. Paulus was ook in dié tyd (59 – 61nC) in Rome in huisarres oor sy geloof.  Dit het beteken Paulus mag nie sy huis verlaat het nie, maar hy kon besoekers ontvang het. By sy huis het hy gepreek vir die mense op straat en sy  boodskap was eenvoudig maar kragtig. Paulus het van die nuwe vryheid in Christus gepraat en gesê: “By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal.” (Kolossense 3:11). Dit was goeie nuus op die ore van ’n slaaf, soos Onesimus. Wat waarskynlik gebeur het, is dat Onesimus ontdek het die gras is nie groener anderkant die heining nie. Hy het geweet dat sy eienaar bevriend was met Paulus, die bekende apostel. Hy het ook geweet dat hulle tot dieselfde Christelike geloof behoort het. Miskien het sy gewete hom gepla, sodat hy na Paulus gegaan het om raad te kry. Paulus kon immers besoekers ontvang.

So het die paaie van Onesimus en Paulus gekruis. Paulus het met Onesimus begin werk, daar waar dit saak maak – naamlik jou geloof. Hy het die Christelike Evangelie met Onesimus gedeel en gaandeweg het Onesimus tot geloof in Christus gekom. In vers 10 word Onesimus se geloof so deur Paulus beskryf in vers 10: “Ek pleit by jou vir my geestelike kind, Onesimus, wat ek tydens my gevangenskap verwek het.” Paulus beskryf as’t ware Onesimus se bekering as ’n geboorte, ’n wedergeboorte.  Onesimus is verwek tot geloof. Paulus was as’t ware Onesimus se geestelike vader, wat hom onder die leiding van die Heilige Gees tot bekering gebring het.

“Die werklikheid van God se genade was duidelik in die karakter wat dit in Onesimus gewerk het na sy bekering. Dit blyk dat hy van daardie oomblik af uiters behulpsaam en nuttig moes gewees het, want Paulus was bereid om hom as ’n medewerker te hê. Onesimus was klaarblyklik vriendelik, teer en liefdevol. Paulus het hom dadelik broer genoem en sou hom graag daar in Rome wou hou.” (Wubbels, Lance)

Nou was Onesimus ’n nuwe mens. Sy gewete het hom begin pla oor die onreg wat hy sy eienaar aangedoen het. Wanneer die Evangelie jou tot bekering bring, moet jy altyd gaan regmaak met die verlede. Die regte ding as nuwe Christen, was om terug te gaan na sy meester. Maar hy het ook die straf gevrees wat vir hom wag as weggeloopte slaaf.

Maar dan skryf Paulus ’n brief aan sy Christenvriend Filemon in Kolosse. Paulus skryf onder andere in verse 11 – 12 die volgende in sy brief aan Filemon: “Hy het destyds vir jou geen voordeel (nuttigheid) ingehou nie, maar nou hou hy vir jou en vir my groot voordeel (nuttigheid) in. Ek het hom na jou teruggestuur, hy wat my eie hart is!”

Nou eers het Onesimus trou geword aan sy naam se betekenis, naamlik om “voordelig en nuttig te wees.”

Onesimus het verander van ’n niksnut na ’n nuttige mens. So verander die Evangelie mense wat eers niksnutte was na waardevolle nuttige mense vir die kerk en samelewing.

’n Eienskap van ’n Christen is juis dat hy of sy nuttig moet wees, soos wat die Credo van die kerk bely: “Ek glo in die gemeenskap van die gelowiges.” Binne die gemeenskap van gelowiges moet ek aktief deelneem aan my kerk en samelewing se aktiwiteite. Daardeur is ek nuttig vir my gesin, ander mense en vir die gemeenskap.

Die Evangelie maak ook van alle stande en klasse van die samelewing, een gemene deler, naamlik dat ons “broers en susters in Christus is.” Paulus verwys na Onesimus as ’n broer in die geloof – ’n gelyke. Hoor wat skryf Paulus aan Filemon in vers 15 – 16: “Dalk was hy juis om hierdie rede ’n rukkie lank van jou af weg, sodat jy hom vir altyd kan terugkry, nie langer as ’n slaaf nie, maar meer as ’n slaaf, as ’n geliefde broer – in die besonder vir my, hoeveel te meer dan vir jou – liggaamlik, sowel as in die Here.”

Samelewings regoor die wêreld is so behep met ras, klas, stand, kleur en posisie dat ons mekaar gedurig sorteer in ’n hokkie. Ons klassifiseer mekaar. Ons gee mekaar etikette. Dan sê Paulus by herhaling: “By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal.” (Kolossense 3:11).  

As’t ware begin Paulus om die fondament te lê wat uiteindelik die grondslag vorm van die teologie wat slawerny, rassisme, en enige ander stelsel wat mense hiërargies klassifiseer, as sonde, en teen die wil van God, beskou. Daarom het ons slawerny grootliks oorwin, maar is die stryd teen rassisme nog lank nie verby nie.

Onesimus het aan die deur geklop en gewag. Wat het toe gebeur?

Uit die kerkgeskiedenis leer ons dat Onesimus later die biskop van Byzantium geword het. Filemon het sy slaaf vergewe en hom ’n tweede kans gegee op aanbeveling van Paulus. Daarom het Paulus ook vir Filemon ’n herinnering gegee van watter mens hy was voor hy ’n Christen geword het. So moet ons vir mekaar ook tweede kanse gee. Die Evangelie leer ons om so te maak. Iemand wat ’n “niksnut” is, kan deur jou bearbeiding en vergifnis baie “nuttig” word vir die samelewing.

“Victor Hugo se roman, ‘Les Miserables’, is ’n verhaal oor Jean Valjean, wat tot negentien jaar tronkstraf gevonnis is vir die steel van ’n brood. Tydens sy tronkstraf het Valjean verhard tot ’n taai veroordeelde. Niemand kon hom in ’n geveg klop nie. Niemand kon sy wil verbreek nie. Valjean het uiteindelik sy vrylating verdien, maar het gevind dat hy nêrens het om te gaan nie. Hy het deur die dorp gedwaal op soek na skuiling totdat ’n vrygewige biskop hom genadig was. Daardie aand, terwyl die biskop en sy suster aan die slaap geraak het, het Valjean uit sy bed opgestaan, deur die huis gevroetel en met die gesin se silwer in die donkerte ontvlug. Drie polisiemanne het die volgende oggend aan die biskop se deur geklop, met Valjean aan die hand. Hulle het hom met die gesteelde silwer gevang en was gereed om hom lewenslank tronk toe te stuur.

Maar die biskop het gereageer op ’n manier wat niemand verwag het nie: ‘So hier is jy!’ sê hy vir Valjean. ‘Ek is verheug om jou te sien! Het jy vergeet dat ek vir jou die kandelaars ook gegee het? Hulle is silwer soos die res, en ’n goeie 200 Frank werd. Het jy vergeet om dit te neem?’ Valjean skrik en staar na die ou man met ’n uitdrukking wat geen woorde kon oordra nie. Valjean was geen dief nie, het die biskop aan die polisiemanne gesê: ‘Hierdie silwer was my geskenk aan hom.’ Toe die polisiemanne weg is, het die biskop die kandelaars vir sy gas gegee, wat nou sprakeloos en bewend was. ‘Moenie vergeet nie, moenie ooit vergeet nie,’ het die biskop gesê. ‘Jy het belowe om die geld te gebruik om jouself ’n eerlike man te maak.’ Die krag van die biskop se daad, wat elke menslike instink vir wraak uitgedaag het, het Valjean se lewe vir altyd verander. ’n Naakte ontmoeting met vergifnis het die graniet-hardheid van sy siel gesmelt. Hy het die kandelaars as ’n kosbare aandenking van genade gehou en hom van toe af daaraan toegewy om ander in nood te help.” (Steve Aurell)

Onesimus het ook verander van ’n niksnut na ’n nuttige mens.     Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Müller, Jac.J. 1977. Die Brief aan die Filippense & Die brief aan Filemon. Kaapstad: NG Kerk -Uitgewers.

Wubbels, Lance. Bible Nobodies Who Became Somebodies: 50 Inspirational Characters Who Prove that Anyone Can Be Special in God’s Kingdom (Wubbels, Lance). Destiny Image. Kindle Edition.

Steve Aurell. Christianity Today. Pastor of recovery ministry at Central Peninsula Church in Foster City, California.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Moenie jou hart alleen vertrou nie

SKRIFLESING: Jeremia 17:9 en Markus 7: 21 – 23

Dikwels hoor ’n mens iemand sê: “Volg jou hart” of  “Doen wat jou hart vir jou sê.”  Steve Jobs was die geleentheidspreker by die gradeplegtigheid van die Stanford Universiteit op 12 Junie 2005. Dit was ’n diepsinnige en uitstekende toespraak, kort voor sy dood. Hy het onder andere aan die studente gesê: “ Don’t let the noise of others’ opinions drown out your own inner voice. And most important, have the courage to follow your heart and intuition.”

Ongelukkig kan ’n mens nie heeltemal saamstem met die gedeelte “follow your heart” nie. Die hart is die mees bedrieglike gedeelte van die mens se lewe. Die woord hart is in Hebreeus “lebab” of “leb” en in Grieks is dit “kardia”. Dit word meer as 300 keer in die Bybel gelees en verstaan as die “gevoelens, begeertes en emosies” van die mens. Die drie betekenisse van hart in die Bybel is bedrieglik en veranderlik soos die see. Die see kan een oomblik kalm wees en die volgende oomblik kan daar groot branders wees of selfs dalk ’n storm. Die see is altyd gevaarlik en onvoorspelbaar. So wissel ’n mens se gevoelens, begeertes en emosies ook elke dag. Dit staan nooit vas nie. Dit is nie betroubaar nie.

Calvyn het gesê dat ’n mens se hart soos ’n afgodefabriek is, wat gedurig nuwe afgode uitdink en aanbid. Die hart kan bedrieglik en korrup wees, sonder dat jy dit eens self agterkom. 

Dit is soos tienerliefde of die liefde tussen jong mense. ’n Liefdesteleurstelling bring verwarrende emosies na vore, asof dit die einde van jou lewe is, net om later uit te vind die lewe gaan aan. Jy voel nie elke dag dieselfde nie. Jou gevoelens kan wissel soos die weer. Daarom kan jy nie jou hart vertrou of jou hart volg nie.  

Luister ’n bietjie wat sê die Bybel oor die hart. In Jeremia 17:9 staan daar: “Die hart is bedriegliker as alles; dit is ongeneeslik. Wie kan die hart verstaan?”

Markus 7: 21 – 23 sê: “Want van binne af, uit die hart van mense, kom slegte gedagtes, onsedelikheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, geslepenheid, onwelvoeglikheid, jaloesie, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en maak ’n mens onrein.”

Aanvanklik was die mens se hart in die Paradys rein en skoon en betroubaar. Maar toe kom die satan in die gestalte van ’n slang en plaas in Eva die hartsbegeerte om die verbode vrug te eet, om ook soos God te kan wees. Hierdie hartsbegeerte van Eva en Adam het die hele mens se siel, gees, hart en liggaam vergiftig. Nou het die mens se hart onbetroubaar geword en die liggaam sal sterwe.

Dit is hoekom ons harte, in hul verlore toestand, vol is met bedrog en dwaasheid. Die hart kan nie vertrou word nie. Dit is nie ’n goeie leier nie. Ons kan dit nie volg nie. Dit is nie ’n liefdevolle herder wat ons na groener weivelde lei nie. Dit is ’n verlore en verwarde skaap wat leiding soek. (Pruitt, Shane)

In Esegiël 36: 26 belowe die Here vir Sy mense: “Ek sal vir julle ’n nuwe hart gee, ’n nuwe gees sal Ek in julle binneste gee; Ek sal die hart van klip uit julle liggame verwyder en vir julle ’n hart van vlees gee.”

Ons moenie ons harte volg nie. Ons harte moet die Here Jesus volg.

Ons harte en emosies is te wisselvallig om te volg. Maar die Here Jesus is elke dag dieselfde, Sy Woord staan vas en seker en God se Gees is betroubaar.

Ons het verskillende waterpasse (of skietlote) waarmee ons kan toets of ons hart se begeertes in lyn is met God se wil.

Heel eerste is daar die waterpas (skietlood) van die Woord. Ek moet al my hartsbegeertes en emosies laat ondersoek deur die Woord. Die Woord is objektief en waar en betroubaar. Die Woord is ’n betroubare lig op my pad om te volg. Nie my emosies nie, maar die Woord, moet vir my elke dag die pad aandui.

Tweedens is daar die waterpas (skietlood) van die Heilige Gees. Die Gees werk betroubaar en daarom moet ek my aan die Gees van God onderwerp. Die Gees skep vir my ’n nuwe hart wat die gawes van die Gees vertoon.

Derdens is daar die waterpas (skietlood) van die gemeenskap van gelowiges. Ek moet my hartsbegeertes deel met my medegelowiges en by hulle raad vra of ek op die regte pad is. Ek het eenmaal my raad gegee aan ’n sekere persoon, maar die persoon het nie my raad gevolg nie en dit het tot katastrofiese implikasies vir hom en vir honderde andere mense gelei.

Vierdens is daar die waterpas (skietlood) van gebed. Ek moet bid. Ek moet voortdurend bid. Ek moet saam met ander mense bid. Volhardende gebed word deur God beantwoord met die regte antwoorde op die regte tyd.

Vyfdens is daar die waterpas (skietlood) van die menslike denke, as deel van God se algemene openbaring. God het ook vir ons ’n verstand gegee om dinge self uit te redeneer, sonder om deur jou emosies op sleeptou geneem te word. Jou denke kan dalk vir jou iets heel anders sê as wat jou hart vir jou sê. Daarom kan ’n mens ook kundige raad by deskundiges kry en dit kan deel van God se plan met jou lewe wees. 

“ ‘As Jesus vir ons ’n nuwe hart gee, hoekom kan ons dan nie daardie hart volg nie?’ Die rede waarom ons steeds nie ons harte – gevoelens, emosies en begeertes – moet volg nie, is omdat hulle steeds deur sonde geraak word. Die oorblyfsel van die sondeval van die mensdom woon steeds in ons sterflike liggame. Dit is wat bekend staan as die vlees.” (Pruitt, Shane)

Elke dag moet ons besluite neem. Somtyds lewensveranderende besluite soos loopbaanrigtings, verhoudings en ander belangrike keuses. Maar ons neem ook elke dag klein besluite. Ons kan maklik vanuit ons hart, die sentrum van ons emosies, reageer en foute maak.

Om emosioneel vanuit jou hart te reageer is altyd baie gevaarlik. Die kanse dat jy oordeelsfoute sal maak, is baie groot. Jy kan emosioneel uit jou hart jou humeur verloor, sonder om die skietlood van die Woord en gebed te gebruik om jou te korrigeer. Dan kan jy baie skade in verhoudinge aanrig. Jy kan dalk emosioneel vanuit jou hart ’n impulsiewe besluit oor finansies neem, sonder om die skietlood van ’n finansiële kenner te raadpleeg.

Emosies en hartsdinge kan baie mooi wees, maar ook baie gevaarlik.

Die “gevoelens, begeertes en emosies” van die hart sal altyd by ons wees. Maar ’n mens moet dit gedurig toets met ’n waterpas of skietlood. Is my hart in lyn met God se wil?

Ek kan nie blindelings my hart vertrou nie. Daarom het ek die waterpas van die Woord, die Heilige Gees, die gemeenskap van heiliges, gebed en gesonde menslike denke nodig.

Wie op alles emosioneel vanuit sy of haar hart reageer, veroorsaak net dat die gebrokenheid groter word.

Moenie die hart volg nie, volg Jesus.                                    Amen

(Ds. Paul Odendal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Pruitt, Shane. 9 Common Lies Christians Believe. The Crown Publishing Group. Kindle Edition.   

https://news.stanford.edu/​2005/​06/​14/​jobs-061505/.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition

Die Here se guns is nie oor ons regering nie

SKRIFLESING: 1 Konings 21 en Mat 23: 23b

Was u al ’n slagoffer van misdaad? Ek kan waarskynlik met 100% sekerheid sê u was al. Misdaad vreet soos kanker in ons gemeenskap en ons land.

Dit vreet alles op. Die Zondo-kommissie se ondersoeke toon ’n droewige beeld: dat feitlik elke persoon wat in ’n regeringsposisie sit, hom of haar direk of indirek aan korrupsie skuldig gemaak het.  Dit het veral momentum gekry sedert Jacob Zuma president van Suid-Afrika geword het. Die hele kartondoos appels in die regering is vrot.

Buiten die nasionale regering is plaaslike munisipaliteite en ander staatsidentiteite ook bankrot gesteel, sodat dienslewering nie kan plaasvind nie.

Op voetsoolvlak in dorpe en gemeenskappe, floreer misdaad op elke hoek en om elke draai. Smhart-sekuriteitsdienste is lankal nie meer ’n weelde nie, maar ’n noodsaaklikheid vir elke huis, besigheid en plaas.

Dwarsdeur die geskiedenis van die wêreld vind ons voorbeelde van goeie regerings en dan seën God die land. Maar meestal is dit swak, korrupte regerings wat hulle lande afdruk in chaos en wanorde, soos dit nou met Suid-Afrika ook die geval is.

Daar is ’n spreekwoord wat sê die vis vrot altyd van sy kop af. Ook dit is die geval met Suid-Afrika.

In ons gelese gedeelte lees ons van Nabot, ’n man van Jisreël, wat ’n wingerd gehad het in Jisreël langs die paleis van Agab, die koning van Samaria. Agab was ’n korrupte koning en sy vrou Isébel was nog meer korrup.

Agab het vir Nabot ’n beter wingerd aangebied of die stuk grond waarop sy wingerd staan, vir silwer. Nabot het egter geweier, want dit was erfgrond wat al lank in sy familie se besit was. Daarom, omdat Nabot die wingerd van sy vaders geërf het, en geen Israeliet sy erfgoed wettiglik mag verkoop nie (Levitikus 25:23; Numeri 36:7; Esegiël 46:18), het Nabot net op die wet van God gestaan.

Agab gaan toe tekere oor hy nie sy sin kon kry nie en gaan lê op sy bed, baie droefgeestig.

Isébel sê toe vir haar man dat hy tog die koning is en kan maak soos hy wil. Hy moet dit aan haar oorlaat. “Sy skryf toe briewe in die naam van Agab, verseël dit met sy rolseël en stuur die briewe aan die oudstes en hoëlui wat in sy dorp was, wat saam met Nabot gewoon het. In die briewe het sy geskryf:   Roep ’n vasdag uit, en laat Nabot voor tussen die mense sit. Laat twee manne, booswigte, teenoor hom sit en teen hom getuig: “Jy het God en die koning gevloek!” (1 Konings 21: 8 – 10) So het hulle Nabot onregverdig verhoor en hom en sy seuns buite die dorp gestenig, tot hulle dood is (2 Konings 9: 26). Nou het die wingerd van Nabot die groentetuin van koning Agab geword.

So het magshebbers die bietjie van die onderdane gesteel. Dit is presies wat in vandag se politieke arena plaasvind. Regeerders verryk hulself onder andere met kontrakte om skatryk mense te word, wat niks omgee vir die mense wat arm is nie. Dit noem ons staatskaping. Dit is wat die Zondo-kommissie na vore gebring het.

So herhaal die geskiedenis hom telkens.

Dr Chris van Wyk maak ’n interessante opmerking. Hy sê dat “wingerd” gereeld in die Bybel gebruik word as simbool vir Israel. Maar Agab wil wingerd vervang met ’n groentetuin. Die woord “groentetuin” word  net een ander keer in die Ou Testament gebruik en wel in Deut. 11:10, waar dit na Egipte verwys. So word die beloofde land met  Egipte gekontrasteer. Agab wil die wingerd – die simbool van die vryheid wat God gee, vervang met groentetuin – wat ’n simbool is van  slawerny in  Egipte.

Vir die Here was dit ’n gruwel wat gebeur het. Elia is toe gestuur om die oordeel oor koning Agab en Isébel uit te spreek. Daar staan in 1 Konings 21: 19 die volgende oordeelsaankondiging: “ Sê dan vir hom, ‘So sê die Here: “Het jy moord gepleeg en ook nog erfgoed in besit geneem?”’ Sê verder vir hom, ‘So sê die Here: “Op die plek waar die honde Nabot se bloed opgelek het, sal die honde ook jóú bloed oplek.” Die oordeelsaankondiging was so heftig dat Agab rouklere aangetrek het en tot bekering gekom het. God het toe Sy oordeel versag en deur die profeet Elia gesê die oordeel sal eers in die tyd van sy seun plaasvind.

Wat moet die eienskappe van ’n goeie leier wees? In Mat 23:23b gee die Here raad vir die Fariseërs en skrifgeleerdes. Jesus sê: “…. maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid …..” (1983 Afrikaanse Bybel)

Dit is die drie dinge waarteen ’n mens ’n goeie politieke, ekonomiese of geestelike leier meet. Dit is die drie dinge wat elke sakeman en persoon in ’n professionele beroep moet doen.  Die drie eienskappe is geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid.

’n Politieke leier is regverdig en sorg nie vir homself of haarself nie, is barmhartig teenoor die armes en steel nie hulle geld nie en is betroubaar in die beloftes wat hy of sy voor die verkiesing gemaak het.

Wat ons land nodig het, is morele leiers wat ’n hoë etiese en morele kode het. Sulke leiers kweek jy al in die ouerhuis en op skool. Morele leiers het ’n gewete, ’n vlymskerp gewete, en is altyd op soek na die verskil tussen reg en verkeerd.

Agab en Isébel het geen gewete gehad nie. Hulle het die onskuldige Nabot en sy seuns buite die dorp met klippe doodgegooi, net om ’n stukke grond in te palm vir eie gewin.

Ons is nog ’n Afrika-staat wat gefaal het. Die regering het die kiesers vervreem. Dit alles omdat daar nie moraliteit in die regering is nie. Almal maak soos almal maak, naamlik leef net vir eie gewin.

Waar tog sal ons ’n morele leier vind in hierdie wye en droewige land? Die Here het telkens na ’n ballingskap vir Israel ook goeie leiers gegee. Mag die Here in Sy genade ook vir ons seën met nuwe goeie leiers, wat weet van regverdigheid, barmhartigheid en betroubaarheid.

Kom ons bid vir nuwe leiers op alle vlakke van ons land se regering. Kom ons self wees ook in ons eie kring goeie leiers, wat hoë morele standaarde uitleef.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Wubbels, Lance. Bible Nobodies Who Became Somebodies: 50 Inspirational Characters Who Prove that Anyone Can Be Special in God’s Kingdom (Wubbels, Lance). Destiny Image. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.