Kain het kwaad geword en gesondig

SKRIFLESING: Genesis 4: 1 – 16  enHebreërs 11: 4

“In 1991 het twee stappers in die Italiaanse Alpe op ’n 5 300 jaar oue lyk afgekom wat later “Ötzi die Ysman” gedoop sou word.

Ötzi, wat vir meer as vyf millennia in die ys en droë berglug bewaar is, is die oudste ongeskonde lyk wat ooit gevind is. Forensiese ondersoek het aan die lig gebring dat Ötzi heel waarskynlik ’n herder was. Ötzi was ook ’n moordslagoffer. Hy is met ’n pyl in die rug geskiet. As ’n herder uit die Bronstydperk wat ’n moordslagoffer geword het, kan ons aan Ötzi dink as die Abel van die Alpe. Met ander woorde, die oudste menslike lyk is nie in ’n vreedsame graf gevind met gepaardgaande tekens van eerbied nie, maar op ’n somber berghelling met ’n pyl in sy rug. Dit is ontstellende leesstof oor die oorsprong van die menslike beskawing.” (Brian Zahnd) Dit is so goed soos die Kain en die Abel van die Bybel.

Wanneer jy kwaad word, pleeg jy gewoonlik sonde. So was dit ook met Kain die geval. Kain was die eerste persoon in die Bybel van wie ons lees, wat kwaad geword het.

Adam en Eva se twee eerste seuns was Kain en Abel. Kain was ’n landbouer en Abel ’n veeboer. Wanneer hulle ’n offer aan die Here gebring het, het Abel gewoonlik die beste vir die Here geoffer. Dit was van die eersgeborenes van sy vee, wat die vetste was. Hy het sy heel beste vir die Here voorgesit. Kain het weer van sy uitskot, sy tweede beste, vir die Here geoffer.

In Heb 11: 4 staan daar: “Deur geloof het Abel ’n beter offer as Kain aan God gebring, waardeur getuig is dat hy regverdig was toe God oor sy gawes getuienis gelewer het; en deur geloof praat hy nog steeds, al het hy gesterf.”

 Die Here het hulle harte gesien en altyd vir Abel geseën met sy guns, want sy hart was reg. Abel het oorvloedig gegee en Kain het suinig gegee. Wat interessant was, was dat die suinigste ook die opstandigste een was as God nie vir hom die beste gee nie. Hy wou suinig gee, maar wou die beste hê.

So het Kain opstandig geword teen die Here en jaloers geword op sy broer, omdat die Here vir Abel geseën het.   

Een van die dinge wat woede veroorsaak het tussen Kain en Abel is dat Kain homself met Abel vergelyk het. Die duiwel hou daarvan as jy jouself met ander vergelyk. En dit is ’n slegte speletjie om te speel. Want wat gebeur, is: jaloesie sluip in, afguns sluip in, hebsug sluip in en materialisme sluip in. Ons begin onsself met ander vergelyk. En voor jy dit weet, word ons kwaad omdat ons nie het wat iemand anders het nie. Ons het nie dieselfde talente as die ander persoon nie. Ons het nie ’n huis soos daardie persoon nie. Ons het nie die geleenthede soos daardie persoon nie. Wat ook al dit is. Na ’n rukkie begin ons kwaad en ontsteld en jaloers word oor alles. Dit is waar al die konflik van die wêreld vandaan kom.

Maar die Here praat mooi met Kain oor sy woede en gee hom ’n tweede kans.  Die Here berispe hom in verse 6 en 7: “Die Here vra toe vir Kain: “Waarom is jy kwaad, en waarom is jy terneergedruk? Is dit nie so dat, as jy goed doen, jy jou kop kan optel nie? As jy egter nie goed doen nie, lê die sonde op die loer voor die deur. Na jou is sy begeerte, maar jy moet oor hom heers.” Die Here gee Kain die kans om sy dankoffer reg te maak en sy woede teenoor sy broer te laat bedaar.

As jy die Engelse woord vir kwaad neem en ’n “d” voor “anger” sit, kry jy “danger.”

In Efesiërs 4: 26 (b) staan daar: “Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie.” Dit is juis die fout wat Kain gemaak het.

In Spreuke 16: 32 staan daar: “ ’n Geduldige mens is beter as ’n held, en wie sy gees beheers, is beter as iemand wat ’n stad inneem.”

“Daar is ’n legende oor ’n ou heilige wat op twee mans afgekom het wat stry oor wie van hulle die grootste is. Hy sê vir hulle: Wens, en ek sal julle alles gee wat julle vra, mits julle teëstander twee keer soveel gegee word. Die eerste man is ’n keuse gegee. Waarvoor sou hy vra? As hy vir rykdom vra, sou die ander man twee keer soveel hê. As hy vir roem sou vra, sou die ander man twee keer so beroemd wees. Skielik het dit tot hom deurgedring, en hy het presies geweet waarvoor om te vra. Hy het gevra om blind gemaak te word in een oog. Dis wat afguns aan jou doen. Dit maak jou net ellendig – want maak nie saak hoeveel jy het, bereik of geniet nie, jy kan nie gelukkig wees nie, want daar is altyd iemand anders wat meer het, meer bereik of meer geniet. As jy daaraan dink, is afguns die enigste een van die sewe doodsondes wat jou glad nie plesier verskaf nie.” (Bryan Wilkerson)

Kain was nou by die kruispad. Hy kon tot God roep en om hulp vra in die stryd teen sonde, of hy kon vasgevang bly in sy bitterheid, jaloesie en woede. Kain besluit om vas te hou aan sy jaloesie en woede. Hy het sy broer veld toe gevat en vermoor. Sy woede en jaloesie het oorgegaan in aggressie. In plaas van sy woede te onderdruk, het dié toorn oorgegaan in aggressie en moord.

Toe die Here vir Kain vra waar Abel is, het Kain geantwoord dat hy nie sy broer se oppasser is nie. Die straf van die Here op Kain was verskriklik. Die Here sê dat die bloed van Abel roep vanuit die grond. Die Here het vir Kain gesê dat hy vervloek en verban is van die grond. Die grond wat hy bewerk, sal nie langer ’n oes vir hom oplewer nie.

Hy sal ’n doellose swerwer op aarde wees. Dit is seker die ergste straf wat ’n mens kan kry, naamlik om doelloos te swerf op die aarde sonder enige sin en betekenis. Dit is so goed soos om ’n swerwende boemelaar te word.    

Omdat almal vir Kain sou wou doodmaak, het die Here vir Kain ’n merkteken (waarskynlik soos ’n tatoeëermerk wat slawe gedra het)  gegee, sodat niemand hom mag doodmaak nie.  Daar staan in vers 16: “Kain het toe uit die Here se teenwoordigheid weggegaan en in die land Nod gaan woon, oos van Eden.”

Sonder God se teenwoordigheid in jou lewe, word jy ’n swerwer. Kain het UIT God se teenwoordigheid weggegaan en ’n doellose lewe geleef. Dit is die gevolge van sonde.

Die straf van die sonde is “om alleen sonder God te wees”.  Daar kan jou nie iets ergers oorkom nie. Dan is jou lewe inderdaad sinloos.

Ek sluit af met Efesiërs 4:26 en 27 wat as volg lui: “ Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. Moenie vir die Duiwel plek gee nie”.

Kain se fout was: hy het vir die Duiwel ’n vatplek gegee. Moenie die Duiwel ’n vatplek gee nie.

Dank eerder die Here en wees inskiklik teenoor jou medemens. Dan sal die Here welbehae in jou vind.    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.  

David A. Anderson. Why Are You So Angry? Preaching Today.

Bryan Wilkerson. Greed and Envy: The Twin Terrors. Preaching Today.

Brian Zahnd, A Farewell to Mars (David C. Cook, 2014), pp. 60-61

Kyk na Jesus en nie na die winde nie

SKRIFLESING: Mat 14: 22 – 33

Somtyds het ons storms in ons lewe nodig. Sonder storms in jou lewe kan jy nie God se almag en barmhartigheid ervaar nie. In tye van probleme en wanhoop, ontdek jy die krag van die Here vars.   

Die volgende gebeure speel af direk na die eerste vermeerdering van die brood. Jesus het na ’n eensame plek gegaan om te bid, nadat Hy sy dissipels verplig het om solank na die oorkant van die meer te vaar. “Ja, jy het reg gehoor. Jesus het Sy dissipels verplig om in die skuit te klim en na die oorkant te begin vaar! Hy het geweet dat daar ’n storm op die see vir hulle gewag het en steeds het Hy vir hulle geen opsie gegee om op die strand te bly staan nie. Het jy al die woorde gehoor: Die veiligste plek op aarde is in die wil van die Here? Jesus dwing-stuur Sy dissipels na die oog van ’n storm en tog is hulle in die Here se wil. Hulle redder stuur hulle na ’n plek van risiko!”(George Steenkamp)

Die Here Jesus stuur hulle na ’n storm, sodat daar geloofsvorming by hulle kan plaasvind. Die Here Jesus wil hulle leer om te glo. Hy wil hulle geloof toets. Die storm is vir hulle ’n leerskool. Menige gelowige het al gesê as hulle deur ’n persoonlike lewenstorm is, hulle baie sterker ander kant uitgekom het. Storms kweek ervare matrose. Jesus Christus wil Sy dissipels voorberei om eendag ware apostels van die Evangelie te word. Die storm was tot hulle beswil.

Terwyl die dissipels op die meer vaar, het die winde ook sterk begin waai en die boot is heen en weer geslinger.

In die vierde nagwaak (03h00 – 06h00) het Jesus op die water na hulle aangeloop gekom. Hulle het dadelik gedink dit is ’n spook en was vreesbevange. Jesus het egter vir hulle gerusgestel en gesê: “Hou moed, dit is Ek; moenie langer bang wees nie.” Die woorde “dit is Ek” beteken letterlik die woorde waarmee God homself teenoor Moses by die brandende braambos bekend gestel het naamlik: “Ek is.” Dit is die mees gerusstellende woorde waarmee die Here Jesus Homself kon bekendstel.

Petrus het dadelik vir Jesus gesê dat as dit Hy is, Jesus vir hom moet beveel om op die water na Hom te kom. Jesus het toe vir Petrus nader geroep.  Petrus het uit die skuit geklim en begin om op die water na Jesus te loop. Maar toe Petrus sien hoe sterk die winde is, het hy bang geword en begin sink en na Jesus geroep vir hulp. Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en gesê: “ “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

Petrus se fout was dat hy sy oë afgehaal het van Jesus en na sy omstandighede gekyk het. Petrus moes kies om te kyk na “Jesus” of sy “omstandighede” en toe kies hy sy “omstandighede”. Daarom het hy gesink.  So kyk ons ook dikwels in ons omstandighede vas en mis dit om na Jesus te kyk vir hulp in ’n storm.

Mense wat oor hoogtes op ’n tou loop en hulself balanseer om nie te val nie, het ’n resep. Hulle bind ’n rooi lap aan die einde van die tou. Heeltyd kyk hulle vorentoe en fokus hulle net op die rooi lap. So stap hulle op die tou oor die hoogtes. Sou hulle afkyk en na die dieptes kyk, kan hulle maklik hulle balans verloor, want hulle het nie meer ’n fokuspunt nie.

So moet ons fokus altyd gerig wees op Jesus Christus. Dan kan ons deur enige denkbare storm kom.  

Maak twee glase vol water. Gooi in die een glas water drie eetlepels sout. Die sout verteenwoordig Petrus se geloof. Die ander glas is skoon water. Plaas ’n eier in die soutwater, wat geloof voorstel. Die eier dryf. So het Petrus ook aanvanklik in die geloof op die water geloop. Maar toe verloor Petrus sy geloof toe hy die winde en branders sien. Plaas die eier nou in die skoon glas water. Die eier sink. Sonder geloof in die Here Jesus sal jy sink in jou storms. Daarom het ons volhardende geloof nodig.

Dit is soos wanneer jy op jou rug in die water dryf. As jy ontspan en jouself oorgee aan die water, dryf jy outomaties. Maar die oomblik wanneer jy begin spartel, sink jy. So moet ons onsself net oorgee aan die Here. Dan sal ons dryf. Maar as ons met ons eie poginkies probeer spartel, sal ons sink.

Ons kan vir Petrus egter die erkenning gee dat hy, ten spyte van die storm, uit die boot geklim het en na Jesus probeer loop het. Hy het dit gewaag met Jesus Christus. Somtyds waag ons dit nie met Jesus Christus nie en bly in die boot sit soos die ander dissipels. Ons kan nie vir God iets groots doen as ons dit nie buite die boot waag nie. Daarom moet ons ons eie gemaksones verlaat en die ekstra myl vir die Here Jesus stap. ’n Gemaksone, waar daar nie gewaag word nie, is baie gevaarlik. 

Bootmense in die kerk kan dié lidmate in die kerk wees wat krities oor alles is en geneig is om altyd onbetrokke te wees. Hulle is geneig om oor ander te skinder. In plaas van aktief betrokke te wees en uit die boot te klim, is hulle kritiese passasiers in die boot. 

D Z Cofield skryf bemoedigend: “God sal jou in jou storm ontmoet. Hy is dieselfde God wat jou uit jou storm sal verlos, en hy is dieselfde God wat saam met jou deur jou storm sal stap. God hoef nie die storm te keer nie. Hy kan te midde van ’n storm kom en saam met jou stap deur jou storm.”

Wat is jou storm vandag? Is dit finansiële probleme, gesondheidsprobleme, verhoudingsprobleme  of huweliksprobleme? Wat dit ook al mag wees, die Here is saam met jou in daardie storm.  Hy wil jou red uit daardie storm en jou sterker maak. Jesus Christus is groter as enige storm.

Marietjie Joubert skryf dat Jesus Christus mense meer dikwels soek in die storms van die lewe. In die storms van die lewe sal jy Jesus Christus altyd vind. Hy is daar om te red of om jou deur te dra.

Toe Jesus en Petrus in die boot klim, het die wind gaan lê. Die dissipels het voor Jesus neergeval en gesê: “Waarlik, U is die Seun van God!”

In die Wesleyaanse Vierhoek word God se openbaring bekend gemaak aan die mens deur Skrif, tradisie, rede en ervaring. Hierdie stormnag op die see en die verskyning van die Here Jesus het die dissipels se ervaring van die lewende Christus verdiep. Dit het daarom ook hulle geloof in die Here verdiep.

Ons elkeen kan uit die storms van die lewe die ervaring put dat God ons gehelp en deurgedra het. Daarom leer ons ook die Here ken deur ons persoonlike ervarings met Hom. Dit is altyd geloofsversterkend.

Ervaringe van hoe God ons deur storms gedra het, gee vir jou ’n diep gevoel van dankbaarheid. Dit verklaar ook die dissipels se dankbaarheid. Daarom het hulle neergeval en Hom aanbid.                      

Amen

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3411). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Cofield, D.Z. Making Sense Out of the Storm

George Steenkamp. Verstaan jou storms

Marietjie Joubert. Met ’n lied in die hart. Christelike Uitgewersmaatskappy.

Jaloesie maak van jou ‘n monster

SKRIFLESING: 1 Samuel 18: 6 – 16 en Psalm 16: 5 – 6

Wanneer ’n mens jouself begin vergelyk met ander mense, kan ’n mens maklik jaloers raak. ’n Mens raak jaloers as iemand anders vir jou ’n bedreiging raak. Ander se voorspoed of suksesse is vir jou ’n bedreiging.  Ander boere het meer reën as ek gekry. My kind het nie sulke goeie matriekuitslae soos ’n ander een nie. My skool het nie soveel A-leerlinge gehad in die matriek-eindeksamen soos die ander skool nie. ’n Ander een het bevordering gekry en ek is oor die hoof gesien. Ek sukkel so in die lewe en ’n ander een word so ryklik geseën.

Wanneer ander mense vir jou ’n bedreiging raak, flikker die gevaarligte van jaloesie.  Dit was presies so met Saul. Hy het ook in Dawid ’n bedreiging gesien.

Saul was die eerste koning van Israel en het regeer  van 1047 vC tot 1007 vC. Eers was hy ’n geliefde dienaar van God en die Here het hom ryklik geseën. Hy was aan die Here gehoorsaam. Hy het veral bekendheid verwerf in sy talle aanslae om die Filistyne te verslaan. Later het hy begin ophou om na die Here te luister en het gierig begin raak. Geleidelik het hy van die Here verwyderd geraak. Die profeet Samuel het Saul kom meedeel dat God nie meer met hom is nie.  

Dawid was die nuwe opkomende leier in Israel en het begin gewildheid verwerf toe hy as jong seun die kragtige en reusagtige Goliat verslaan het. Dit het tot gevolg gehad dat Saul jaloers op Dawid begin raak het. Saul wou met alle mening van Dawid ontslae raak om sy koningskap te beveilig.

Dawid en sy manskappe het meer Filistyne doodgemaak as Saul se offisiere en manskappe. Dit het Saul nog meer jaloers gemaak, want die volk Israel het Saul en Dawid met mekaar vergelyk.    In 1 Samuel 18: 6 – 10 staan daar: “Die dansende vroue het gesing en gesê:   ‘Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.’  Saul het baie kwaad geword. Hierdie saak was verkeerd in sy oë. Hy het gesê: ‘Aan Dawid gee hulle tienduisende, maar aan my gee hulle die duisende. Hy moet nou nog net die koningskap kry.” Van daardie dag af het Saul vir Dawid wantrouig dopgehou. Die volgende dag het ’n bose gees van Saul besit geneem, en hy was rasend in sy huis.

In 1 Samuel 18:17–27 sien ons dat Saul van Dawid probeer ontslae raak het deur hom opdrag te gee om 100 Filistyne dood te maak in ruil vir sy dogter. Hy het gehoop Dawid sterf, maar hy was onoorwonne en het die 100 Filistyne alleen verslaan en hulle voorhuide voor Saul gegooi. Dawid kon toe met Saul se dogter Migal trou. So het Dawid en Jonatan (seun van Saul) ook boesemvriende geword. 

Maar daar staan in dié gedeelte ’n bose gees van jaloesie het oor Saul toegesak en hy het geleenthede probeer vind om Dawid dood te maak. In vers 10 en 11 van ons gelese gedeelte, het Saul terwyl hy in sy huis gesit het met sy vegspies en Dawid musiek gemaak het op die lier, die vegspies na Dawid gegooi om hom teen die muur vas te pen. Saul het twee keer die spies gegooi, maar Dawid het egter elke keer weggeruk en die spies is in die muur vasgegooi.  In 1 Samuel 19: 9 – 10 het Saul weer probeer om die vegspies na Dawid te gooi, maar  Dawid het toe padgegee en gevlug. Sy vrou Migal het hom deur ’n venster laat afsak en hy het gaan skuiling soek.

Later was die hele weermag van Saul en Saul self op soek om Dawid dood te maak. As daar daardie tyd pamflette en foto’s was, sou daar beslis op elke boom gestaan het: “David wanted, dead or alive.”  In al die dorpe en valleie en berge was daar ’n soektog om Dawid dood te maak. Met die genade van die Here, wat oor Dawid gewaak het, is hy nooit gevang of doodgemaak nie. Dawid het selfs in die grot waar Saul geslaap het, die mantel van sy kleed afgesny, om aan te toon dat hy Saul kon doodmaak, maar omdat hy vir die koningskap respek gehad het, het hy Saul laat lewe.

Saul se jaloesie en agterdog het van hom ’n monster gemaak. Die Here se Gees het hom verlaat en hy was alleen. Saul het toe sy toevlug geneem by die waarsêer in En-Dot. In plaas van die Here te raadpleeg, gaan Saul na ’n waarsêer. Só ver het Saul se jaloesie hom van die Here af laat wegdwaal.

Die verhaal eindig waar die Filistyne vir Saul en sy seuns vasgepen het en ’n groot oorwinning oor die Israeliete behaal het. Drie van Saul se seuns is doodgemaak naamlik Jonatan, Abinadab en Malkisua. Saul het ook in sy eie swaard geval en selfmoord gepleeg, voordat die Filistyne op hom afkom en hom martel.  

So eindig die lewe van koning Saul. Afguns en jaloesie het gemaak dat hy van die Here weggedwaal het en later ’n monster geword het.

Jaloesie en naywer bring verwydering tussen jou en ander mense.  D. L. Moody het vertel van twee winkeliers tussen wie daar groot naywer, jaloesie en bitterheid was. Een van hulle het tot bekering gekom.

Hy het na sy predikant gegaan en gesê: “Ek is nog steeds jaloers op daardie man, en ek weet nie hoe om dit te oorkom nie.” “Wel,” sê die predikant, “as ’n man in jou winkel kom om goedere te koop, en jy kan hom nie voorsien nie, stuur hom net na die ander winkelier.” Hy het gesê hy sal nie daarvan hou om dit te doen nie. “Wel,” sê die predikant, “jy doen dit en jy sal jaloesie doodmaak.” Hy het toe begin om kliënte oor te stuur na sy mededinger vir goedere wat hy self nie kon verskaf nie en mettertyd het die mededinger begin om kliënte oor te stuur na hierdie man se winkel, en die breuk, jaloesie en bitterheid is genees.

“Byekenners sê vir ons wanneer ’n heuningby sy doringsteek in vlees dryf, raak dit so stewig ingebed dat die enigste manier waarop die by kan ontsnap, is om die angel agter te laat. Dit sou sekerlik die dood van die by veroorsaak. Dit laat so ’n ernstige wond dat dit onmoontlik kan herstel. So is dit ook met ons. Soms laat ons nie net die angel in diegene wat toevallig beter as ons is nie, maar die daad bring geestelike skade aan onsself teweeg.” [Bible Illustrations (AMG Internasional, Inc)]

Ek het drie honde. Die grote se naam is Optel, die tweede is Chico en die derde Amiga.  Hulle sal al drie heerlik in vrede saamspeel. Maar as ek op die stoep sit en aan een aandag gee, is hulle skielik vyande van mekaar. Al drie wil my aandag hê. Hulle sal letterlik baklei vir aandag. Hulle is dan jaloers en naywerig op mekaar. Dieselfde gedrag vind ’n mens ook tussen mense wat onvolwasse en ongeestelik is. Mense baklei letterlik as hulle jaloers of naywerig is.

Die werklikheid is dat almal nie ewe slim of geleerd is nie. Almal het nie ewe veel geld of geleenthede nie. Almal het nie dieselfde talente en belangstellings nie. Almal kan nie ewe goed beskuit bak of kos maak nie. Maar so het God vir ons verskillende gawes en talente gegee. Ek het weer talente wat ’n ander persoon nie het nie. Ek moet net leer om tevrede te wees met die deel wat God vir my gegee het en die beste daarvan maak. Ek moet daarom nie naywerig of jaloers wees nie.

Hoor hoe pragtig stel Dawid dit in Psalm 16: 5 – 6 as volg: “ Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”

Mag ons ook tevrede wees met ons erfdeel en ons meetsnoere wat ons ontvang het. Die teenoorgestelde van jaloesie is TEVREDENHEID. Wie tevrede is met sy deel, sal nie naywerig of jaloers op ’n ander een se goed, prestasies of rykdom wees nie.

Dan kan ek opreg bly wees oor ander se prestasies, rykdom en geleenthede, want ek het tevredenheid gevind in my eie erfdeel wat vir my afgemeet is.

Die sleutel is TEVREDENHEID.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa; Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.    

 Bible Illustrations (AMG Internasional, Inc)