SKRIFLESING: Mat 14: 22 – 33
Somtyds het ons storms in ons lewe nodig. Sonder storms in jou lewe kan jy nie God se almag en barmhartigheid ervaar nie. In tye van probleme en wanhoop, ontdek jy die krag van die Here vars.
Die volgende gebeure speel af direk na die eerste vermeerdering van die brood. Jesus het na ’n eensame plek gegaan om te bid, nadat Hy sy dissipels verplig het om solank na die oorkant van die meer te vaar. “Ja, jy het reg gehoor. Jesus het Sy dissipels verplig om in die skuit te klim en na die oorkant te begin vaar! Hy het geweet dat daar ’n storm op die see vir hulle gewag het en steeds het Hy vir hulle geen opsie gegee om op die strand te bly staan nie. Het jy al die woorde gehoor: Die veiligste plek op aarde is in die wil van die Here? Jesus dwing-stuur Sy dissipels na die oog van ’n storm en tog is hulle in die Here se wil. Hulle redder stuur hulle na ’n plek van risiko!”(George Steenkamp)
Die Here Jesus stuur hulle na ’n storm, sodat daar geloofsvorming by hulle kan plaasvind. Die Here Jesus wil hulle leer om te glo. Hy wil hulle geloof toets. Die storm is vir hulle ’n leerskool. Menige gelowige het al gesê as hulle deur ’n persoonlike lewenstorm is, hulle baie sterker ander kant uitgekom het. Storms kweek ervare matrose. Jesus Christus wil Sy dissipels voorberei om eendag ware apostels van die Evangelie te word. Die storm was tot hulle beswil.
Terwyl die dissipels op die meer vaar, het die winde ook sterk begin waai en die boot is heen en weer geslinger.

In die vierde nagwaak (03h00 – 06h00) het Jesus op die water na hulle aangeloop gekom. Hulle het dadelik gedink dit is ’n spook en was vreesbevange. Jesus het egter vir hulle gerusgestel en gesê: “Hou moed, dit is Ek; moenie langer bang wees nie.” Die woorde “dit is Ek” beteken letterlik die woorde waarmee God homself teenoor Moses by die brandende braambos bekend gestel het naamlik: “Ek is.” Dit is die mees gerusstellende woorde waarmee die Here Jesus Homself kon bekendstel.
Petrus het dadelik vir Jesus gesê dat as dit Hy is, Jesus vir hom moet beveel om op die water na Hom te kom. Jesus het toe vir Petrus nader geroep. Petrus het uit die skuit geklim en begin om op die water na Jesus te loop. Maar toe Petrus sien hoe sterk die winde is, het hy bang geword en begin sink en na Jesus geroep vir hulp. Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en gesê: “ “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”
Petrus se fout was dat hy sy oë afgehaal het van Jesus en na sy omstandighede gekyk het. Petrus moes kies om te kyk na “Jesus” of sy “omstandighede” en toe kies hy sy “omstandighede”. Daarom het hy gesink. So kyk ons ook dikwels in ons omstandighede vas en mis dit om na Jesus te kyk vir hulp in ’n storm.

Mense wat oor hoogtes op ’n tou loop en hulself balanseer om nie te val nie, het ’n resep. Hulle bind ’n rooi lap aan die einde van die tou. Heeltyd kyk hulle vorentoe en fokus hulle net op die rooi lap. So stap hulle op die tou oor die hoogtes. Sou hulle afkyk en na die dieptes kyk, kan hulle maklik hulle balans verloor, want hulle het nie meer ’n fokuspunt nie.
So moet ons fokus altyd gerig wees op Jesus Christus. Dan kan ons deur enige denkbare storm kom.
Maak twee glase vol water. Gooi in die een glas water drie eetlepels sout. Die sout verteenwoordig Petrus se geloof. Die ander glas is skoon water. Plaas ’n eier in die soutwater, wat geloof voorstel. Die eier dryf. So het Petrus ook aanvanklik in die geloof op die water geloop. Maar toe verloor Petrus sy geloof toe hy die winde en branders sien. Plaas die eier nou in die skoon glas water. Die eier sink. Sonder geloof in die Here Jesus sal jy sink in jou storms. Daarom het ons volhardende geloof nodig.
Dit is soos wanneer jy op jou rug in die water dryf. As jy ontspan en jouself oorgee aan die water, dryf jy outomaties. Maar die oomblik wanneer jy begin spartel, sink jy. So moet ons onsself net oorgee aan die Here. Dan sal ons dryf. Maar as ons met ons eie poginkies probeer spartel, sal ons sink.

Ons kan vir Petrus egter die erkenning gee dat hy, ten spyte van die storm, uit die boot geklim het en na Jesus probeer loop het. Hy het dit gewaag met Jesus Christus. Somtyds waag ons dit nie met Jesus Christus nie en bly in die boot sit soos die ander dissipels. Ons kan nie vir God iets groots doen as ons dit nie buite die boot waag nie. Daarom moet ons ons eie gemaksones verlaat en die ekstra myl vir die Here Jesus stap. ’n Gemaksone, waar daar nie gewaag word nie, is baie gevaarlik.
Bootmense in die kerk kan dié lidmate in die kerk wees wat krities oor alles is en geneig is om altyd onbetrokke te wees. Hulle is geneig om oor ander te skinder. In plaas van aktief betrokke te wees en uit die boot te klim, is hulle kritiese passasiers in die boot.
D Z Cofield skryf bemoedigend: “God sal jou in jou storm ontmoet. Hy is dieselfde God wat jou uit jou storm sal verlos, en hy is dieselfde God wat saam met jou deur jou storm sal stap. God hoef nie die storm te keer nie. Hy kan te midde van ’n storm kom en saam met jou stap deur jou storm.”
Wat is jou storm vandag? Is dit finansiële probleme, gesondheidsprobleme, verhoudingsprobleme of huweliksprobleme? Wat dit ook al mag wees, die Here is saam met jou in daardie storm. Hy wil jou red uit daardie storm en jou sterker maak. Jesus Christus is groter as enige storm.
Marietjie Joubert skryf dat Jesus Christus mense meer dikwels soek in die storms van die lewe. In die storms van die lewe sal jy Jesus Christus altyd vind. Hy is daar om te red of om jou deur te dra.
Toe Jesus en Petrus in die boot klim, het die wind gaan lê. Die dissipels het voor Jesus neergeval en gesê: “Waarlik, U is die Seun van God!”
In die Wesleyaanse Vierhoek word God se openbaring bekend gemaak aan die mens deur Skrif, tradisie, rede en ervaring. Hierdie stormnag op die see en die verskyning van die Here Jesus het die dissipels se ervaring van die lewende Christus verdiep. Dit het daarom ook hulle geloof in die Here verdiep.
Ons elkeen kan uit die storms van die lewe die ervaring put dat God ons gehelp en deurgedra het. Daarom leer ons ook die Here ken deur ons persoonlike ervarings met Hom. Dit is altyd geloofsversterkend.
Ervaringe van hoe God ons deur storms gedra het, gee vir jou ’n diep gevoel van dankbaarheid. Dit verklaar ook die dissipels se dankbaarheid. Daarom het hulle neergeval en Hom aanbid.
Amen
(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)
BRONNELYS
Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3411). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.
Cofield, D.Z. Making Sense Out of the Storm
George Steenkamp. Verstaan jou storms
Marietjie Joubert. Met ’n lied in die hart. Christelike Uitgewersmaatskappy.