Die seën wat in die woestyn versteek lê

SKRIFLESING:  Eks 16: 1 – 18

Die woord “woestyn” wek by die meeste mense ’n negatiewe konnotasie. Dit word geassosieer met sand, min water, min kos, sonsteek, verdwaling, lugspieëlings en uiteindelik die dood.

Ons lees hoe die volk Israel hier in Eksodus 16 letterlik deur ’n woestyn gaan, met al die gepaardgaande ontberings.

Figuurlik gesproke gaan ons elkeen van tyd tot tyd deur ’n “woestyn” – die woestyn van persoonlike krisisse. ’n Woestyn kan wees ’n siekbed, dood van ’n geliefde, bekommernis oor ’n kind, droogte, finansiële probleme, werkloosheid of emosionele probleme. Hierdie dinge kan vir ’n mens soos ’n “woestyn” voel.

Die gevaar is nou natuurlik dat ’n mens net negatiewe konnotasies aan ’n woestyn toedig. In Eksodus word die woestyntyd van Israel as ’n baie besondere tyd, trouens ’n ideale tyd in die geskiedenis van Israel beskou. Terugskouend sou dit altyd blyk dat daar min tye in die geskiedenis van Israel was dat dit, geestelik beskou, so goed gegaan het met die volk as juis tydens die jare in die woestyn. Waarskynlik was dit, meer as enige ander tyd, die stadium waarin die Here en sy volk werklik na aan mekaar was.

Gelowiges wat deur diep krisisse gegaan het, stem gewoonlik saam dat hulle “woestyne” besondere tye was in hulle verhouding met God.

Baie gelowiges in die Bybel het hulle letterlik in ’n woestyn bevind. Dink aan Elia en Johannes die Doper. En dan natuurlik ook die Here Jesus Christus met Sy versoekinge in die woestyn vir 40 dae. So het “woestyne” met verloop van tyd simbool geword vir die moeilike tye in die lewens van gelowiges.

Eksodus 16 wil vir ons leer: Woestyntye is verrykende ervarings.

Die Sinai-woestyn het Israel letterlik van alles gestroop. Hulle is gestroop van hul huise, hul wingerde, hul tuine, hul veetroppe en hul geliefdes (’n hele geslag het in die woestyn omgekom.) Hulle het nomadies geword – hulle het net-net oorleef.

Elke krisis stroop ’n mens ook van selfvertroue of besittings, van sekuriteit en soms ook van geliefdes. In ’n krisis het jy minder van iets oor as voor die krisis.

Maar ’n woestyn maak jou ook broos, afhanklik en naak. In die woestyn is jou sekerhede en waarborge tot die absolute minimum beperk. Alles word onseker. In ’n woestynsituasie sien ’n mens jou weerloosheid, menslike swakheid en verganklikheid helder voor die oë.

Jou maskers en jou bravade val heeltemal weg. Jou uiterlike beeld waaroor ’n mens tog so bekommerd is, val weg, sodat net die egte mens na vore kom. ’n Mens kan dus sê ’n woestyn stroop ’n mens van jou image of “beeld”, en maskers. In ’n woestynsituasie word ’n mens rondgeslinger tussen hoop en wanhoop – ’n regte wipplank van emosies.  Dit maak jou huilerig, bekommerd, angstig en depressief. ’n Mens kan dus sê dat ’n woestynsituasie jou stroop van lewensgeluk.

’n Woestynsituasie stroop jou van alles wat jy besit, van jou maskers en van jou lewensgeluk. Dit laat my dink aan die herfs. In die herfs word die bome gestroop van hulle groen blaredos – sodat uiteindelik net die kaal takke oorbly.

Moet ons nie ook bid: Soos ’n boom in die winterkoue gestroop word van sy blare, wil u my nie ook stroop van my valse ydelheid, my hoogmoed, my beeld en my maskers nie, sodat ek net nakend, broos en afhanklik kan oorbly, soos die takke van ’n boom in die winterkoue.

’n Mens leer die heel beste deur ervarings. Israel het ook deur ervaring daar in die woestyn geleer om met ’n nuwe toewyding aan God te leef.

Hulle het God se versorging ervaar in die bitter water wat soet geword het, in die daaglikse kwartels en manna en in die wolk- en vuurkolom.  Hulle het God se stem ook ervaar.

Ons kan so rondjaag in die gewoel van hierdie wêreld, dat ons niks meer kan hoor nie. Ons het bang geraak vir stiltes. Ons skakel liewer die radio of televisie aan. Maar die woestyn is net ’n plek van stilte – sodat ’n mens gedwing word om ’n slag weer na die stem van God te luister.

Die woestyn kan ’n harde plek wees, maar ook ’n wonderlike plek van ongelooflike eenvoud en skoonheid en stilte. Die woestyn is die plek waar jou oë weer kan oopgaan om die wonder van gewone dinge in die lewe te waardeer.

Maar die heel beste van die woestyn – so het Israel ontdek – was God. Dit was die heel grootste verrassing. In die woestyn het Israel nie net hulleself beter leer ken nie, dit was die plek waar hulle ook die Here op ’n nuwe manier leer ken het. Daar het hulle ervaar dat God veral ook in die woestyn by hulle is. Daar het hulle ontdek dat God nie net ’n God is wat beweer dat Hy die onmoontlike kan doen nie.  In die woestyn het die volk Hom dit síén doen. In die woestyn het Israel die Here op ’n nuwe, dieper manier leer ken.

Wonderlik bevrydend is dit as ’n mens God in jou lyding leer ken.

Deur die eeue het Christene gevra of woestyne regtig nodig is. Hoekom moet daar woestyne wees? Is dit nodig dat ons deur al hierdie swaarkry iets moet leer? Sou ons nie ook daarsonder iets kon leer nie?

Ons het reeds gesê dat ’n mens eers in die woestyn jou dieper, werklike self leer ken – in jou swakheid, jou broosheid en afhanklikheid. Dit is sekerlik nie maklik om jouself so te leer ken nie, maar dit is nog altyd twintig keer beter as die verskriklike moontlikheid om oud te word en dood te gaan sonder om jouself te leer ken soos jy werklik is.

Maar veel belangriker is die feit dat ’n mens ook vir God in die woestyn op ’n nuwe manier leer ken. Die waarheid is dat daar kante van God is wat ’n mens net in die woestyn kan leer ken. Dat Hy regtig kan troos, regtig kan sorg, regtig liefhet en kan voed en verkwik – dit leer ’n mens net as jy nood ken en dit regtig gesien het.

Ons sou kon sê dat die Here vir Israel in die woestyn eintlik ’n tweede keer vrygemaak het. Na die vlug uit Egipte en die wonderbaarlike verlossing by die Rietsee, was Israel vry van die gevare wat van buite gedreig het. Maar dit was in die woestyn waar die Here begin het om hulle ook van binne vry te maak: vry van hulleself, vry om regtig in God te glo en Hom te vertrou met hulle lewens.

Mag ons in ons “woestyne” van ons krisisse gestroop word, sodat ons God kan ontdek en vir Hom kan begin leef.

God gebruik “woestyne” in die lewens van Sy kinders. In Hosea 2 lees ons hoedat God sy volk in die woestyn die hof maak, en mooi dinge vir hulle sê, omdat God hulle liefhet.

Leer iets daaruit! Haal iets positiefs daaruit.

Ons het dus gesien dat die woestyn twee pluspunte het: Dit is ’n plek van stroping en ’n oefenskool vir nuwe toewyding aan God.

Mag dit ook u ervaring wees.                                            AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die wyse waarop jy reageer op die weerloosheid van ander, vertel iets van jou karakter

SKRIFLESING: Johannes 7:53 – 8:11

Emmanuel Levinas het geskryf dat wanneer ek ’n kwesbare of ’n weerlose mens raaksien, word ek tot verantwoordelikheid geroep. Daarom sê hy is weerloosheid juis die plek waar etiek begin.

Hoe hanteer jy ’n weerlose mens, wat nie vir hom- of haarself kan praat nie? Dit is ’n etiese vraag. Ons lewe in ’n wêreld van boelies wat die weerloses afknou, vir genot of vir eie voordeel.

Hoe dikwels word kinders nie gespot oor hulle voorkoms of weerloosheid nie. Kinders word gespot wat vet is, wat arm is, wat nie akademies sterk is nie of wat nie sportief is nie. Ek is op Laerskool gespot oor ek van Sub B af al bril gedra het. My bynaam was “Brilletjies”. Ek lees dat kuberboelies deesdae algemeen voorkom. Tieners word met selfoontoepassings soos WhatsApp, Facebook of Tiktok afgeknou. Daar is ’n sterk opname in selfdoodgetalle onder tieners, want hulle kan dit nie hanteer nie.

Kinders vorm klieke, grootmense vorm klieke. Enige-iemand buite die kliek word dikwels ’n objek van spot. Martin Buber se Ek–Jy-filosofie onderstreep dat ware menslikheid eers begin waar ek die ander mens nie as ’n objek sien nie. Dikwels word weerlose mense die objek van spot, verontmensliking en ook finansiële uitbuiting.

Finansiële uitbuiting is ’n algemeen aanvaarde norm in kapitalisme, sonder enige gevoel of begrip vir die mense wat uitgebuit word.

Dikwels word bejaardes ook rondgeskuif soos objekte. Hoe ouer jy word, hoe meer verloor jy waarde in die samelewing. Bejaardes word dikwels nie eers raakgesien nie. Ek onthou hoe ’n straatloper my pa aangespreek het as “’n ou man” en hoe ontsteld ek was. My pa het my ook vertel hoe hy eenmaal by ’n groot winkelsentrum se parkeerarea verneder is. Hy het baie stadig beweeg en aan alles vasgehou om in sy voertuig te klim. Dit was maar tydsaam. Uit ’n ander voertuig skree ‘n man toe: “Oumense hoort in die Ouetehuis, nie hier nie. Jy hou ons op.” So het die tyd my pa, ’n hoogs opgeleide valskermsoldaat, verander in ’n weerlose bejaarde, wat die objek van spot geword het.

Om mense te bespot, om mense te beskinder en om van mense sleg te praat maak van jou ’n boelie, wat ander se weerloosheid uitbuit. Dit sien ons elke dag onder kinders in die speelparke en in die werksplekke van volwassenes. Die weerlose wat hom of haarself nie kan beskerm nie, word deur skinder gedegradeer tot ’n objek van spot.  Deur skinder word mense beroof van hulle name. Wie skinder is ook ’n rower, met ’n tong so skerp soos iemand met ’n skerp yster in sy hand.

Jy mag nie die Naam van die Here bespot nie. Jy mag ook nie die naam van jou weerlose medemens bespot nie. Nie verniet staan daar in Psalm 1 dat die goddeloses sit in die kring van die spotters nie. In hierdie kring van spotters word genadeloos omgegaan met ander mense se name.

Ons lees in ons gelese gedeelte ook van ’n kring spotters, met ’n vrou in die middel van die kring. Sy het owerspel gepleeg. Almal staan met klippe gereed om haar wreed te stenig. Sy word in die openbaar verneder. Sy word bespot en die spotters buit haar weerloosheid uit. Maar hulle spot nie met haar alleen nie, hulle spot ook sommer met die Here Jesus. Hulle stel vir Hom ’n strikvraag, hopende dat Hy die Ou Testamentiese wette ongeldig sal verklaar, sodat hulle rede het om Hom aan te kla.

Al wat Jesus doen is om te buig en met Sy vinger in die sand te skrywe. Hy sê eers niks nie. Dit herinner aan Eksodus 31:18, waar die kliptafels beskryf word as geskryf “deur die vinger van God.” Nou skryf Jesus as Seun van God, met sy vinger op die grond sodat die Fariseërsdie ware betekenis en die hart van die Wet reg kan verstaan. Jeremia 17:13 praat nie verniet van dié van die Here, wie se name “in die aarde geskryf” word nie.  Ek haal ChatGPT nou woordeliks aan: “Jesus het nie haar sonde in klip uitgekap nie; Hy het op die grond geskryf. Wat mense in klip wou verewig, ontmoet by Jesus genade”.

Die belangrikste is nie noodwendig wat Jesus gesê het nie, maar dat Hy afgebuk het. Hy staan nie saam met die skare en kyk meerderwaardig op haar neer nie. Hy buk na die grond, op haar vlak, daar waar sy op die grond lê. Wanneer sy “rock bottom” is, kom tel die Here haar op, deur af te buk na haar vlak. Daarná staan Hy eers op om haar aanklaers te konfronteer.

Die Fariseërs wou die vrou met klippe doodgooi, maar Jesus skryf haar sonde in die grond. (Gedagte deur ChatGPS ontgin.) Haar sonde word weggewaai en vergewe en vergeet. Ons sonde is nie gegraveer in klippe nie, maar word in sand geskryf wat weggewaai word deur die Here se genade. Aan die einde van ’n somersdag op die seestrand, is die strand vol spore getrap, en sien ’n mens die sandkastele van die kinders. Deur die nag word dit hoogwater en alle tekens dat daar ooit mense was, word uitgewis. So word ons sonde ook deur die verhoogte Jesus in die hoogwater van Sy lyding aan die kruis uitgewis, dat daar nie eers ’n teken van ons sonde oorbly nie.     

Dan staan Jesus op en sê: “Laat die een wat sonder sonde is, eerste ‘n klip na haar gooi.” Toe het Jesus weer afgebuk en op die grond geskrywe. Skielik was dit SKAAKMAT vir die Fariseërs en het hulle een vir een hulle klippe laat val en weggeloop. Die kring van die spotters het opgebreek met Jesus se skerp opmerking. Wie in glashuise woon, moenie klippe gooi nie.

Uiteindelik bly daar net twee mense oor: ’n skuldige vrou en ‘n genadige Christus. Augustinus het dit saamgevat met die bekende Latynse woorde miseria et misericordia – wat beteken: ellende en barmhartigheid. Dan  stuur die Here Jesus haar weg. Daar staan in Johannes 8: 11: “Jesus sê toe: ‘Ek veroordeel jou ook nie. Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie.’”  Jesus vergewe haar, maar praat nie haar sonde goed nie.

Daar staan ook in Jakobus 5:9 die volgende: “Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie geoordeel word nie.” Ons kan so dikwels oor mekaar kla deur te skinder of ander mense se name te beswadder. Mense misbruik elke dag die Naam van die Here en vervloek elke dag die naam van hulle medemens. Ons vloek soos matrose deur middel van die heilige Naam van die Here en ons vervloek die name van ons medemens, wat na die beeld van God geskep is.

Wanneer die Here se Naam misbruik word, bly ons gewoonlik stil, om nie aanstoot te neem nie. Wanneer ons hoor hoe die spotters skinder oor ander mense, bly ons ook stil, nuuskierig om alles te hoor. Wie kom op vir die Naam van die Here? Wie kom op vir die naam van ons medemens wat verkrag word? Daarom, as jy hoor iemand skinder of belaster ’n ander een, verdedig die naam van die persoon deur iets baie goed van dié persoon te sê. Dit haal die skinderbek se wind uit sy seile.

Victor Frankl skryf in sy boek “Search for meaning”, dat hy in die Auschwitz konsentrasiekamp ervaar het dat die meeste Duitse offisiere en wagte soos varke opgetree het teenoor hulle. Maar daar was ook Duitse offisiere en wagte wat soos engele opgetree het en ook hulle kos met die Joodse gevangenes gedeel het.

Daarom moet God se kinders altyd opstaan vir die weerloses. Ons moet die weerlose beskerm. Daarom moet ons die swakker en weerlose mens juis beskerm teen die sterker een se behoefte om te oorheers en te manipuleer. (Dietrich Bonhoefer) Ons lees juis in Esegiël van die goeie herder, wat omsien na die swak en sieklike lammers en hulle na veiligheid dra. So moet ons ook mekaar se name na veiligheid dra. Die man wat deur die rowers oorval is, is nie deur die priester of Leviet gehelp nie, maar deur ‘n volksvreemde Samaritaanse reisiger. So moet ons ook mekaar se name optel, waar iemand soos deur die rower met ’n skerp tong beroof is van sy of haar menswaardigheid.

Henri Nouwen, die bekende Roomse teoloog het in sy werke beklemtoon dat ons nie “iemand se wond teen hom of haar moet gebruik nie.” Ons moet van niemand ’n “DIT” maak nie. Dan verontmenslik jy jou medemens net in ’n objek van jou persoonlike genot of selfverryking.

Daar is nóg ‘n betekenisvolle aanhaling van Henri Nouwen, wat as volg deur ChatGPT aangehaal word:  “In In the Name of Jesus waarsku hy geestelike leiers teen die behoefte om indrukwekkend, invloedryk en in beheer te wees. Christelike leierskap beweeg eerder van mag na liefde, van beheer na vertroue, en van selfgenoegsaamheid na afhanklikheid.”

Daarom moet die kerk en die Here se dissipels altyd afbuk na die weerloses in die samelewing. Ons moet plek maak vir die randfigure in die samelewing. Ons moet ruimte maak vir mense wat geen spasies meer oor het om in te leef nie. Ons moet ’n lewensruimte skep, vir hulle wat nie weet wat geborgenheid is nie. Ons moet luister na hulle wat geen stem in die samelewing het nie. Ons moet tyd maak vir die bejaarde, wat uitgesluit voel uit die hoofstroom van die lewe waar hy of sy eers was. Ons moet vir gevangenes bid en nie veroordeel nie. Ons moet mense nie oordeel nie, maar eerder vryspreek.

Waar sal ek ’n genadige mens vind op hierdie aarde? Ek sal dié genadige mens vind daar waar hy of sy onder die genadige vleuels van die Here skuil. Hulle wat eers “rock bottom” was, weet wat is genade.

Hoe jy mense hanteer en oor mense praat, vertel iets van jou karakter. Wie mense menswaardig behandel se karakter is baie soos dié van ’n engel. Ek het ’n Prof Kobus Smit gehad in Wysbegeerte. Ek sal nooit vergeet hoe hy altyd ons studente met die hoogste respek behandel het nie. Jy voel soos ’n mens as jy wegstap van hom. Hy het in die Wysbegeerte vir ons geleer wat “persoonsbehartiging” is en beteken. Dit beteken soos die aanhaling sê ’n hart vir ’n persoon te hê. Hy het vertel dat toe hy baie jare terug self ’n student was, wou hy inligting kry by die Administratiewe gebou van die Universiteit. Die persoon wat hom gehelp het, het nie eers opgekyk toe hy die beampte se kantoor binnegegaan het nie. Hy het homself belowe om nooit, maar nooit enige mens so te behandel nie.  

Wie ander beroof van hulle naam, integriteit of hulle finansieel mishandel, se karakter is dié van ’n gewapende rower met ’n vlymskerp tong of die sluwe tong van ’n slang. Wie mense beroof op enige manier van hulle menswaardigheid, se karakter is soos die rower in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.

Wees jy die barmhartige Samaritaan wat op jou lewenspad aan mense hulle menswaardigheid terug gee.

Daarom is daar op ons weeklikse Kerkblad die volgende woorde: Geroep. Gestuur. Teenwoordig. Dit beteken die Here het ons as dissipels geroep en gestuur om teenwoordig in dié wêreld te wees, wat God met Sy hele lewe lief het. Daarom moet ek elke dag vra: Buk ek ook soos Jesus af, om die mindere en die randfigure en die gebrokenes op te tel en ’n “Wounded Healer” te wees in die woorde van Henri Nouwen?

Ons moet teenwoordig wees, op die plek en in die tyd, waar iemand smag na menswaardigheid.                                       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

 Erkenning: In die voorbereiding van hierdie preek is ChatGPT (OpenAI) as navorsings- en taalhulpmiddel onder andere gebruik. Sommige fotos is ook deur KI ontwerp. Verskeie teologiese en akademiese bronne en kommentare, wat wetenskaplike artikels insluit, is ook gebruik.   Alle eksegese, hermeneutiek, teologiese beoordeling, en finale formulering bly die verantwoordelikheid van die prediker.