GEWILD BY GOD OF GEWILD BY MENSE
U weet mos wat is swaartekrag.
Swaartekrag beteken dat ‘n voorwerp altyd grond toe sal val. Dit was Isak Newton wat eenkeer toe hy onder ‘n appelboom gelê het, wakker geword het toe ‘n appel op sy kop geval het. Daar onder die appelboom het hy die ontdekking gemaak dat voorwerpe op grond van onder andere hul gewig altyd grond toe val.
Daar is in die mens ook die swaartekrag van die sonde teenwoordig. Ons wil graag die weg van die sonde en die minste weerstand volg. Daarom sal ons maklik ingee vir elke stukkie druk en versoeking wat oor ons pad kom. Ons noem dit groepsdruk.
Klein kindertjies, tieners en grootmense swig gedurig onder groepsdruk. Ek wil nie uit voel nie. Ek wil een van die groep wees. Daarom kry ons iets soos giere en modes onder mense. Ek wil nie afsteek en uitvoel by ander mense nie. Ek wil een van die groep wees. Daarom sal mense enigiets doen om net aanvaar te word.
Jongmense het die uitdrukking om te sê iets is “cool” as hulle bedoel dit is die inding. Daarom stort baie grootmense so trane oor hulle kinders. Want kinders wil graag in wees. Hulle wil voel dat hulle word aanvaar deur hulle maats.
Daarom sal kinders feitlik enigiets doen om deur hul maats aanvaar te word. Hulle sal saam vloek, saam skinder, saam na pornografiese materiaal kyk en selfs eksperimenteer met dwelms en drank en seks. As my maat op die skoolbank rook, moet ek ook rook, want dan is ek nie ‘n “sissie” nie. Groepsdruk is seker een van die mees algemeenste versoeking wat op die mens se lewe kom. Daarom volg mense die swaartekrag van die minste weerstand. Doen wat my vriende doen en ek is “in” en gewild.
Jongmense en grootmense is bang vir ander mense se opinies en opmerkings en kritiek. Daarom sal hulle eerder hul mantel draai net om aanvaar te word. Mense het die geneigdheid om soos ‘n verkleurmannetjie van kleur te verander, na gelang die situasie verander. Hulle is goeie kinders by die huis, maar by die skool en die koshuis doen hulle dinge wat hulle nooit voor hulle ouers sal doen nie. Dit is altyd ‘n teken van swakheid. Wie so toegee aan die swaartekrag van groepsdruk, vernietig gewoonlik hul jong lewe.
Paulus skryf in 1 Timotheus aan die jong Ds Timotheus. Blykbaar was Ds Timotheus ‘n jong dominee wat bang was wat mense sê en daarom so ietwat teruggetrokke. Daar was ook maar baie probleme in sy gemeente en baie praatjiemakers wat vir Ds Timotheus erg ontstel het. Ds. Timotheus het die Evangelie baie goed geken en geweet wat God wou hê, maar ai, dit sal soveel makliker wees om toe te gee aan sekere van die eise van die gemeente. Kon hy maar so ‘n bietjie kompromieë aangaan, terwille van gewildheid. Die duiwel het hom ook versoek met die swaartekrag van groepsdruk. Gee so ‘n bietjie toe Ds Timotheus en ons sal jou aanhang.
Dan gee Paulus vir die jong Timotheus kosbare raad. Paulus sê aan Timotheus dat God vir sy kinders die Heilige Gees gee, wat ‘n mens nie bang en lafhartig maak nie, maar jou vul met krag, en liefde en selfbeheersing (1Tim 1: 7) ‘n Mens is nie bang vir mense se opinie oor jou, as jy ‘n kind van God is en deur die Heilige Gees gelei word nie. Nee, jy het die innerlike krag in jou lewe om leiding te neem en standpunte in te neem. Jy het liefde om mense te aanvaar en mooi met mense om te gaan. Jy het selfbeheersing en verstandigheid om reg op te tree. Dan is dit nie meer so belangrik om by mense en vriende gewild te wees nie. Jy wil eerder doen en wees wat God van jou vra.
U sien daar is ‘n ander natuurwet, naamlik die magnetiese krag wat die swaartekrag – wet oortref. Met ander woorde as Christus Jesus in jou lewe is, is die krag sterker as die krag van groepsdruk.
Die swaartekrag van groepsdruk veroorsaak dat jou lewe inmekaar tuimel en jy die slaaf van ander mense se grille en giere word. Die magnetiese krag van die Here Jesus Christus tel jou op en hou jou veilig en geborge binne die waardes van die Bybel. Watter wet wil jy in jou lewe laat geld? Die selfvernietigende swaartekrag van jou portuurgroep of die magnetiese krag van die Here se liefde? (Het beeld van twee kragte gekry by ‘n preek wat ek eenmaal gelees het.)
Paulus leer vir mens om nie bang te wees vir ander mense nie. Hy noem vyf dinge (1 Tim 4: 12) waarop ‘n mens moet konsentreer, naamlik: WOORDE, GEDRAG, LIEFDE, GELOOF EN REINHEID. ‘n Mens takseer mos ‘n voël aan sy vere. Die vere sê, watse voël dit is.
Kom ons kyk kortliks na die vyf dinge.
WOORDE: Let op jou woorde, moenie vloek, skinder of sleg praat van ander mense nie. Moenie vuil grappe vertel nie. Moenie leuens vertel nie. Moenie toelaat dat ander mense gespot of geboelie word nie. Kom op vir die randfigure. Jou tong moet beheers word deur die Heilige Gees,
GEDRAG: Die Here sê dat nie elkeen wat die Here se naam aanroep gered sal word nie. Jou dade moet wys dat jy ‘n kind van God is. Dade spreek harder as woorde. Sien die mense, die Here Jesus in jou raak?
LIEFDE: As jy nog narcisties jouself lief het, is daar nie plek vir God en ander mense om lief te hê nie. Daarom moet ons “selfloos” ander mense se voordeel soek.
GELOOF: Jou geloof moet nie ‘n bysaak wees nie. Die Here moet alles of niks in jou lewe wees. Daar is nie plek vir middelgrond nie. Die gemeente Laudisea is juis aangespreek omdat hulle nie koud of warm was nie, maar lou in die geloof. Die Here sê vir Laudisea dat Hy hulle uit sy mond gaan spuug, want lou water is sleg.
REINHEID: Bewaar jou gedagtes rein. Bly weg van swak grappies, vuil praatjies, swak vriende, en pornografie. Hou jou denke rein.
Werklike leiers onderskei hulself daarin om nie toe te gee aan groepsdruk nie, maar om vanuit hulle beginsels en waardes te leef. Hulle staan dapper uit.
God vra van ons elkeen ‘n skoon lewe, ‘n lewe wat skoon gewas is met die bloed van Jesus Christus. Onthou tog al hierdie dinge. Onthou dat jou lewe ‘n preek is. Jy preek elke dag. Jy preek meer effektief as wat enige dominee kan preek. Jy preek deur jou woorde, jou gedrag, jou liefde, jou geloof en jou rein lewe. Vader Kestell was in die Anglo Boereoorlog ‘n predikant gewees. Hy het die Britse slagoffers ook bedien met die Woord en het ook hulle wonde versorg. Een van die Britse soldate het met dankbaarheid opgemerk, dat Vader Kestell sy beste preek, nog preek deur die vyand te help.
Watter krag kies jy? Die swaartekrag van groepsdruk of die magnetiese krag van God se liefde? AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)