SKRIFLESING: Spreuke 4:23
Spreuke 4:23 lees: “Bewaak jou hart meer as enigiets wat bewaar word, want daaruit ontspring die lewe.”
Ons is goeie bewakers van ons materiële eiendom en besittings. Ons is ook goeie bewakers van ons eie lewe. Ons bring diefwering in ons wonings en werkplekke aan. Ons sit staalhekke op en installeer alarms. Ons vra vir Smhart om ons te beskerm. Die Smhart WhatsApp-groep is baie bedrywig met versoeke van mense om beskerm te word. Sommige mense skaf vir hulle vuurwapens of honde aan.
Ons bewaak ons gesondheid, deur dokter toe te gaan en medisyne te gebruik om ons lewe te verleng. Ons word opereer om ons lewe te red of om ’n beter kwaliteit lewe te hê.
Ons spandeer baie geld om ons besittings en gesondheid te bewaak en op te pas.

Maar dan sê Salomo in Spreuke 4:23 ons hart moet bewaak word meer as enigiets wat ons bewaar. Met ander woorde ons moet ons hart meer oppas as ons besittings en gesondheid of enigiets anders.
Die hart is die setel van ons emosies. Uit die hart kom bitterheid, afguns, jaloesie, onvergewensgesindheid, haat, naywer, selfsug, vyandskap, twis, woede, tweespalt, skeuring, onvriendelikheid en alles wat lelik is. Ons moet ons hart bewaak van dié slegte emosies.
Maar wanneer jy jou hart bewaak, kom die goeie eienskappe soos liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, nederigheid en selfbeheersing na vore.
Ons is swak bewakers van ons harte! “Ons laat eenvoudig te maklik toe dat die goeie dinge wat die Gees in ons harte kom bêre het, van ons gesteel word. Ons bewaak nie ons harte soos ons die ander goed in ons lewe bewaar nie. Ons laat eenvoudig te maklik toe dat ons vreugde gesteel word, dat ons liefde, ons geduld, ons vriendelikheid uit die kluise van ons harte gesteel word!” (Dr. André Oosthuizen)
Die ingang tot ons hart moet ons ook beskerm en bewaak. Dikwels laat ons toe dat rommelstrooiing in ons harte plaasvind. Ons ervaar soveel negatiewe dinge daar buite in die wêreld en dit beïnvloed ons hart en kom maak nes in ons harte. Al die negatiewe nuus in die wêreld, al die negatiewe plasings op sosiale media, kom ons hart binne. Dit maak ons harte, en gevolglik ons gedagtes, ook negatief. Later lyk ons harte soos ’n woonbuurt vol rommel.
Ook die uitgang van ons hart moet ons bewaak. Daar moenie negatiewe en afbrekende goed uit ons hart uitgaan nie. Ons moet ’n wag voor ons hart en voor ons mond plaas.
Die hart word ook maklik mislei om agter vreemde afgode aan te loop. Calvyn noem nie verniet die hart ’n afgode-fabriek nie. Die hart produseer gedurig nuwe afgode wat die mens weglei van egte en ware aanbidding van God. Ons harte raak lief vir geld, status, aansien, mag en vleeslike begeertes. Daarom moet ons ons hart daarteen bewaar om ’n afgode-fabriek te word.
Ds. Jannie Pelser noem dat “roem, rande en rokke” al die meeste mans in die geskiedenis tot ’n val gebring het. Richard Foster praat weer van “sex, money and power” wat die meeste mans tot ’n val bring. Juis daarom moet jy jou hart bewaak.
’n Deel van my verhouding met Jesus is om my hart teen leuens te bewaak. Jy kan byvoorbeeld dink jy is nie goed genoeg nie. Jy kan dink jy is ’n mislukking. Jy kan dink jy het as mens gefaal. Maar dit is alles leuens. Moenie dit glo nie. Bewaar jou hart teen dié leuens. Daardie leuens kom van die duiwel. Bewaar jou hart daarvan. Vul eerder jou hart met ’n positiewe en opbouende ingesteldheid teenoor jouself en ander mense.

Om jou hart te bewaak, beteken ook dat jy jou hele hart vir die Here moet gee. Jy kan nie maar slegs ’n gedeelte van jou hart vir die Here gee nie. Jy moet die Here met ’n onverdeelde hart liefhê. Die volgende verhaal van ’n onbekende skrywer haal ek aan: “Daar was ’n man wat in ’n groot dubbelverdiepinghuis gebly het. Iemand het aan sy deur kom klop en toe hy oopmaak, staan Jesus daar. Hy nooi Hom toe in en sê: ‘Kom bly in die boonste verdieping, asseblief.’ Die nag was daar ’n klop aan die deur en toe hy oopmaak, staan die duiwel daar en stamp die deur oop en slaan hom en maak hom seer. Die volgende dag kla hy by Jesus en sê: ‘Hoekom gebeur dit nou met my?’ Jesus sê: ‘Jy het my die boonste verdieping gegee en gesê ek moet daar bly. Ek het nie toegang tot die onderste verdieping nie. Hy sê toe vir die Here dat Hy in sy hele huis kon bly, maar dat hy graag nog een kamer vir homself wou uithou. Dieselfde nag was daar weer ’n klop aan die deur. Moedeloos het hy maar weer die deur oopgemaak en die duiwel daar gekry. Hy wou die deur toestamp, maar die duiwel was sterker as hy en het die deur oopgestamp en hom weereens geslaan en seer gemaak. Die volgende dag was hy baie teleurgesteld en het moedeloos vir Jesus gesê: ‘Ek het U die hele huis gegee om in te bly en hoekom laat U toe dat ek geslaan en seergemaak word?’ Jesus het gesê: ‘Jy het die een kamer vir jouself uitgehou. Ek kan slegs beheer neem van kamers waar jy My toelaat.’ Jesus is nie ’n indringer nie. Hy vat slegs beheer van ons lewens waar ons Hom inlaat. Die man het mooi gedink en gesê: ‘Here, U kan nou maar die hele huis kry en dan sal ek by U woon. Ek gee alles prys en U het beheer oor al die vertrekke in my huis.’ Die nag was daar weer ’n klop aan die deur en hy wou net weer moedeloos word, maar het nogtans gegaan om te kyk wie daar was. Toe hy wou oopmaak, het Jesus se hand by hom verby gekom om die deur oop te maak. Die duiwel het verskrik in Jesus se oë gekyk en gesê: ‘Jammer, verkeerde adres!’ Kom ons gee ons hele lewe vir Jesus en plaas Hom in beheer.” Dit sal ons hart bewaar. (Aanhaling uit “Lig en Lewe Christen Familie Sentrum” se webtuiste.)
Gee jou hele hart vir Jesus. Dien die Here met ’n onverdeelde hart. Jy kan nie die Here aanbid en nog ander moderne afgode ook aanbid nie. Dit is sinkretisme. Dan maak ons soos die volk Israel wat die Here aanbid het in die tempel, maar tog ook die Baäl-afgode op die hoogtes aanbid het. Dan vervreem ons onsself van God. Die volk Israel het hulleself dikwels vervreem van God en dan in ballingskap gegaan.
Toe ek ’n klein seuntjie was, het my ma vir my geleer om te bid: “Here ek is ’n kleintjie klein, maak my hartjie rein.” Dit moet ook in die hart van ons gebedslewe wees, naamlik om ’n rein hart te hê. Die sewende saligspreking gaan juis daaroor om ’n rein hart te hê.

Koning Dawid het ná sy owerspel met Batseba en die moord op Batseba se man Uriah tot inkeer gekom nadat die profeet Natan na hom gekom het. Hy het hartgrondelik in Psalm 51 gebid dat die Here weer vir hom ’n rein en opregte hart gee. Dawid wou die Here dien met ’n onverdeelde hart.
Moeder Theresa het ten spyte van haar roem eenvoudig gelewe en haar hart bewaak. Uit haar antwoorde op politieke kwessies het dit geblyk dat sy werklik eenvoudig gedink het oor die lewe, tot op die punt van naïwiteit. Tog het daar uit haar gestraal ’n krag en ’n vryheid wat onbeskryflik is.
Omdat sy God so helder gesien het en haar hart bewaak het, was sy nie meer bang vir mense en hulle vooroordele en hulle reëls nie, sy was vry en onbevrees om God te dien soos Hy gedien wil wees. En as ’n mens na haar kyk, kan jy in haar oë sien dat sy in haar eenvoud werklik gelukkig en tevrede was.
’n Rein hart is die bron van ’n Godvrugtige lewe. Spreuke 4:23 sê die beloning van ’n hart wat bewaak word, is dat “die lewe daaruit spruit”.
As jy jou hart bewaak van alles wat negatief is, sal jy oorvloedige lewe ervaar. Die ware lewe spruit uit ’n hart wat bewaak word. Die “ware lewe” beteken jy sal werklike vreugde en vrede ervaar.
Bewaak jou hart, meer as wat jy jou beursie, selfoon, besittings en lewe bewaak. Dan sal jy die ware lewe beleef van vryheid, geluk en vrede.
Amen.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)