Christus Jesus sluit mense in, wat ons afskryf. (Joh 4: 1 – 42)

CHRISTUS JESUS SLUIT MENSE IN, WAT ONS AFSKRYF.

Niemand hou van ‘n snob nie. Want ‘n snob dink mos altyd hy is beter as ‘n ander een. ‘n Snob stel homself altyd op ‘n hoër trappie. Daar was baie Joodse snobisme in die Bybel. Hulle het hulself op ‘n hoër trappie as ander volke geplaas. Ja, hulle was hoogmoedig gewees teenoor die Samaritane en ander volkere. Hulle het na die uiterlike geoordeel.

Joh 4: 1 – 42 het verskillende perspektiewe. Ons gaan nou na een van hierdie perspektiewe kyk. Johannes 4: 1 – 42 wil vir ons sê: CHRISTUS JESUS SLUIT MENSE IN, WAT ONS AFSKRYF.

by-die-putIn Joh 4 lees ons van Jesus wat op reis was. En dan vertel Joh 4 ons van ‘n sekere gesprek wat Jesus met ‘n sekere Samaritaanse vrou aangeknoop het daar in die land Samaria in die dorpie Sigar. Sien die volgende in u geestesoog. Dit was 12h00 in die middag. Jesus is moeg en wag by die put en sy dissipels is op pad dorp toe om kos te koop. Sy moes in die middag, na die put toe gaan want sy was een van die onwelvoeglike vroue van Sigar. Die gerespekteerde vroue het in die oggend put toe gegaan, maar sy moes haar beurt laaste afwag.

73181f_5c33b03f9d7e4afbb4ce8e782cd6e87c_mv2Dan lees ons van ‘n soekende Jesus daar by die put, wat dateer uit Jakob se tyd , wat ‘n gesprek met die vrou aanknoop. Voorwaar ‘n vreemde gesprek. Jesus was nou nie juis hier in ordentlike geselskap gewees nie.

(Foto van Jakob se put.)

Jesus, die ordentlike Jood is in gesprek met die mees onordentlike heiden. Ons wil eintlik uitroep: “Here, skaam u, u nie om met hierdie vrou te praat nie. Want daar was 4 dinge wat teen haar gestel het daar by die put.

  1. Haar geslag

  2. Haar afkoms

  3. Haar sondige verlede

  4. Haar godsdienstige oortuiging

Eerstens was sy ‘n vrou gewees. In daardie tyd was dit onbetaamlik vir ‘n man om met ‘n vrou in die openbaar te gesels. ‘n Vrou was die besitting van haar man en sy moes gesien en nie gehoor word in die openbaar. Dit tas ‘n man se eer aan as hy met ‘n vrou in die openbaar sou gesels. Maar Jesus praat met haar in die openbaar. Jesus sien ‘n onbenullige vrou raak wat geen regte in die destydse samelewing gehad het nie. Jesus soek haar op.

Tweedens lees ons dat die vrou ‘n Samaritaan was. Haar afkoms was dus ook teen haar. Die Jode het van die Samaritane as “honde” gepraat. En hier praat Jesus die Jood, met hierdie hond van ‘n Samaritaanse vrou. In plaas van hierdie hond weg te jaag, praat hy met haar oor die dinge van die ewige lewe.

Derdens lees ons dat Jesus ook verby haar agtergrond en sondige verlede kyk. Want hierdie vrou was nou nie juis ‘n goeie vrou gewees nie. Die huwelikswet van daardie tyd het bepaal dat ‘n vrou slegs 3 keer mag trou. Daarna is dit vir haar onbetaamlik, Hierdie vrou het egter al vyf mans gehad en ons lees in vers 18 dat sy sommer saamslaap met die sesde man, sonder om getroud te wees. Voorwaar ‘n lekker skinderstorie, want sondig was hierdie vrou beslis gewees. Maar Jesus praat met hierdie vrou, met haar swak sedelike lewe.

Vierdens was hierdie vrou van ander godsdienstige oortuiging gewees as die Jode. Die Samaritane het op die berg aanbid en die Jode het in die tempel in Jerusalem aanbid. Daar was dus ‘n duidelike godsdienstige verskil in aanbidding tussen die Jode en die Samaritane. Desnieteenstaande die verskil van godsdienstige oortuigings, praat die Here met haar oor die ewige geestelike water.

U sien dus dat Jesus verby haar geslag, haar afkoms, haar sondige verlede en haar geestelike oortuigings gekyk het en haar raak gesien het. Ja, die stukkende vrou, die klein mensie by die put het Hy raakgesien.

Met alle respek: Jesus Christus is geen snob nie! Sy optrede het juis die godsdienstige snobisme van die Jode gekonstrateer. Iemand is vir ons aanvaarbaar as die persoon aan al die vereistes voldoen wat ons soek. Geslag, afkoms, ‘n sondige verlede of geestelike oortuigings speel ‘n rol vir ons. Die Evangelie trek egter ‘n streep deur alle snobisme. God sien vir hierdie Samaritaanse vrou raak, met al haar tekortkominge en betoon liefde aan haar. Netso kyk God verby my geslag, my afkoms, my sondes, my tekortkominge en geestelike oortuigings. God sien my raak soos ek is.

Joh 4 vertel ons van ‘n liefdevolle God wat bemoeienis met mense soos ek en jy maak. Weet dan vandag, al tel alles teen u – u tekortkominge, u agtergrond, u sonde, u verlede of u skandes – God is nooit teen u nie. Hy soek u by die wanhoopsput van u lewe. Jesus het Sy hande uitgesteek na die Samaritaanse vrou, na egbreeksters, na tollenaars, na siekes en melaatses en na sondaars.

Daarom moet die kerk van Jesus Christus ook bereid wees om haar hande uit te steek na prostitute, na die mens wat stink, na armes, na straatkinders en na sondaars. Ons mag nie bang wees om ons hande vuil te maak nie.

Ons moet leer om verby ‘n persoon se geslag, se afkoms, se taal, se kultuur, se sondige verlede en geestelike oortuiging te kyk. Ons moet onsself nie vaskyk in die vraag of iemand vir ons sosiaal aanvaarbaar is nie. ‘n Christen mag geen ruimte laat in sy lewe vir godsdienstige snobisme nie.

Jesus Christus het die Lewende Water aangebied ongeag wie of wat die persoon is. Christus Jesus het Sy hande vuil gemaak met ons sonde en lewensnood. Snobisme is geen Christelike deug nie – dit kom van die duiwel. Daarom moet ons dit beveg in ons lewe.

image3Dan lees ons van die gesprek tussen Jesus en die Samaritaanse vrou. Hoe tipies mens. Wanneer Jesus aan die vrou die lewende water van die ewige lewe aanbied, dan dink sy vanuit ‘n gerieflikheidsoogpunt: A, dis die einde van die stappery put toe. Nooit sal sy weer hoef water te skep nie. Die Here belowe aan haar die hemel en sy is bekommerd oor die aarde. Die Here belowe aan haar die hemelse water en sy is bekommerd oor water vir haar huis en diere.

Toe sy uiteindelik besef dat Jesus met haar wil praat oor haar godsdiens, toe blyk dit dat sy haar godsdiens net beleef as ‘n plek waar sy aanbid. In vers 20 lees ons dat haar godsdiens bestaan uit ‘n berg waar aanbid word. Sy sê, dat die Samaritane ‘n berg soek om te aanbid en die Jode soek Jerusalem om te aanbid. Vir baie van ons bestaan ons godsdiens ook uit ‘n plek of geleentheid waar ons aanbid. Vir baie bestaan hulle godsdiens uit ‘n kerkgebou, ‘n erediens op ‘n Sondag of ‘n biduur.

Dit is egter blote vormgodsdiens. Jesus Christus wil egter hierdie vrou bevry van vormgodsdiens. Hy wys haar toe daarop dat ware egte godsdiens nie in ‘n plek gevind word nie, maar in ‘n Persoon, naamlik Christus die Messias. Ware godsdiens is ‘n persoonlike verhouding met die lewende Here! U sien dus ware godsdiens bestaan nie uit ‘n plek waar aanbid word nie, ook nie uit ‘n klomp moets en moenies nie. Dit gaan om ‘n Persoon, naamlik Christus, die Messias. Alleen, Hy is die Lewende Water en alleen Hy kan my verlos en my ewige dors les.

Die wonderlike uitkoms van die verhaal, is dat die vrou wat deur haar gemeenskap uitgestoot is, die dorp Sigar red, toe sy ‘n getuie word van haar ontmoeting met die lewende Christus. Sy wat uitgestoot is deur haar dorp, tree nou inklusief op en vertel haar dorp van die wonderlike ontmoeting met Jesus.

Ons mensdom tree uiters eksklusief op, terwyl Jesus ons leer om inklusief te dink en op te tree teenoor vreemdelinge en mense wat anders as ons is. Wie inklusief leef, is dan ook goeie missionale werkers in God se akkers. Wie inklusief optree, verstaan iets van die hart van God en van die liefde van Jesus Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om met geloofsmoed die toekoms te skep. (Jeremia 32: 1 – 25)

OM MET GELOOFSMOED DIE TOEKOMS TE SKEP.

In die huidige Suid-Afrikaanse samelewing twyfel boere om grond te koop. Die ANC en die EFF se beleid van grondonteiening, sonder vergoeding stem ons almal tot onrus en bekommernis. ‘n Mens wil voel om sommer handdoek in te gooi. Is dit nog die moeite werd om te boer en my plaas te verbeter? Ons geloofsmoed is maar broos en ons wil tou opgooi.

JeremiaMaar ons gelese gedeelte, speel af in die Babiloniese ballingskap, waar die toekoms van Israel baie donker lyk en die profeet Jeremia in aanhouding, onder huisarres is, doen Jeremia ‘n vreemde ding. Vanuit die tronk beklink Jeremia ‘n absolute gekke ekonomiese transaksie. Hy koop ‘n stuk grond in Anatot van sy neef Ganamel, waarop die Babiloniese leër uitkamp. Jeremia koop dus ‘n stuk grond waarop hy in alle waarskynlikheid nooit ‘n boom sal plant of wingerde sal snoei of ‘n huis sal bou nie – wat hy in alle waarskynlikheid nooit eens sal sien nie.

Jeremia se praatjies oor hoop is nie net praatjies nie. Jeremia verklaar as’t ware dat daar lewe na Babilon is. “The prophet put his money where his mouth is.” In wese is Jeremia se koop van die grond ‘n geloofsdaad. Jeremia belê as’t ware in die toekoms. Dit is ‘n daad van hoop wat as teken moet dien dat dit weer goed sal gaan in Israel. Hierdie daad van Jeremia laat ‘n mens nogal aan Abraham dink. Ook hy moes die skynbaar dwase ding doen om die vreemde in te trek. Hy moes die onlogiese ding doen om sy enigste seun Isak – die kind van die belofte – te gaan offer. Net so doen Jeremia die skynmaar onlogiese ding om ‘n stuk grond in Anatot te koop.

Netso het ons ook in die Suid-Afrikaanse samelewing ‘n boodskap van hoop nodig. Ons lees elke dag van plaasmoorde, geweldadige betogings, misdade, moorde, korrupsie, ekonomiese verval, munisipale dienslewering wat agteruit gaan, armoede en werkloosheid. In ons eie lewensverhaal beleef ons ook dinge wat ons tot wanhoop dryf.

Dan het ‘n mens HOOP nodig – maar nie hoop wat op valse optimisme gebou is nie. Valse optimisme kan soos dryfsand wees, jou net dieper laat wegsink.

Hoe kry ons dit reg om te bly hoop al lyk die situasie hopeloos? Jeremia koop nie die grond bloot omdat hy ‘n optimus is nie. Nee, Jeremia handel op grond van sy op God. Anders gestel: Jeremia sien nie bloot God se toekoms nie, hy sien vir God self. Daarom bid hy tot God en noem Hom: “Here, my God.”

Die Here is die een wat die onmoontlike kan doen. Die Here maak die onvrugbare Sara swanger. Die Here lei die slawevolk na vryheid. Die God kan ook nou die onmoontlike doen. Ten spyte van die omstandighede kan God dit weer laat goed gaan.

Die hopelose situasie spreek nie die laaste woord nie, maar wel die God wat ons hoop is. Daar is hoop wanneer ons nie kyk na die geskiedenis voorhande nie, maar na die God wat die geskiedenis in Sy hand hou. Ja, God se naam is geskryf bokant elke bladsy van die geskiedenis.

In die Nuwe Testament lees ons ook van ‘n skynbare hopelose tyd van ‘n Vrydag op Golota – toe die Hoop vir die mense aan ‘n kruis gespyker is. Die Vrydag en Saterdag was ‘n donker tyd, maar op Paassondag het die lig deurgebreek. Christus Jesus het opgestaan – daardeur is daar ewig ‘n grens gestel aan wanhoop.

Die Christenspreker Tony Campolo vertel dat hy in ‘n stadium aan ‘n swart gemeente in Philadelphia in die VSA behoort het. Dit was ‘n besondere aangename gemeente om in te preek, want die gemeente het geen geheim gemaak van hoe hulle die preek ervaar het nie. Eenkeer het Campolo ‘n bietjie gesukkel met sy formulering en dadelik het ‘n vrou uit die agterste banke geroep: “Please help him, Jesus!” ‘n Ander keer weer het dit heelwat beter met sy preek gegaan en elke keer wanneer die gemeente tevrede was met wat hy gesê het, het hulle laat hoor: “Preach brother, preach!”

Een Goeie Vrydag was hy een van sewe predikers wat die oggend moes voorgaan. Hy was voorlaaste en sover hy kon oordeel, het dit goed gegaan. Soos hy dit self stel: “I was so good, I wanted to take notes on myself.”

Na hom moes ‘n ou predikant preek. Die sê toe vir hom: “You did allright boy.” Effens vies vir die benaming het Campolo half leedvermakerig by homself gedink. Ek wonder hoe die ou man, wat my “boy” noem, nou eintlik met die prekery sal vaar. Die ou prediker het egter ‘n uur en half lank die gehoor aan sy lippe laat hang en Tony moes toegee dat hy sleg afsteek by die ou prediker.

Wat die ou prediker se preek nog meer merkwaardig gemaak het, was die feit dat hy een sinnetjie oor en oor gebruik het: “IT’S FRIDAY, BUT SUNDAY IS COMING!”

Hy het sag begin:

Dit was Vrydag en Jesus het gehang aan die kruis – maar dit was Vrydag: Sondag kom nog!”

Dit was Vrydag en die dissipels en vroue het gehuil – maar dit was Vrydag: Sondag kom nog!”

Dit was Vrydag en die skeptiese mense kyk na die wêreld en sê: niks kan en sal verander nie. Maar die siniese mense het nie geweet dat dit nog maar Vrydag is nie: Sondag kom!”

En so het hy aangehou. Teen die einde het hy geroep: “IT’S FRIDAY!” en die gemeente het spontaan en luidkeels geantwoord: “BUT SUNDAY IS COMING!”

Wanhoop – is wat Kierkegaard die “Sickness unto death” noem. In sulke tye moet ons onthou van die stuk grond wat Jeremia gekoop het. Ons moet onthou dat Jesus daardie Sondag opgestaan het. As ons wanhopig of moedeloos is, kan ons sê: “Dit is nou eers Vrydag, maar Sondag het gekom!”

Victor Frankl wat die Joodse gevangenes waargeneem het in die Duitse konsentrasiekampe (soos Auscwitz) het tot die gevolgtrekking gekom dat mense op twee maniere op moeilike en onmenslike omstandighede kan reageer. Jy kan in wanhoop in jou ellende lê en sterf, wat inderdaad gebeur het met Joodse gevangenes wat alle hoop verloor het. Ander in dieselfde omstandighede het die Duitse konsentrasiekampe oorleef omdat hulle bly HOOP het. Hulle het vir mekaar in die konsentrasiekampe stories van hoop vertel en begin beplan en droom van nuwe besighede wat hulle gaan begin na die oorlog. Hulle het ‘n veel beter kans gehad om die konsentrasiekampe te oorleef, want daar was hoop in hulle harte en hoop in hulle gesprekke.

Die Suid-Afrikaanse religieuse skrywer Ruben Alves wys daarop dat die lewe soos ‘n dans is, “Hope is hearing the melody of the future. Faith is to dance to it.”

Daarom moet ons ook elke dag tekens van hoop oprig.

  • Ons moet voortgaan om ons plase te bewerk en te ontwikkel.

  • Ons moet voortgaan om ons kuddes te verbeter.

  • Ons moet verbeterings op ons plase doen.

  • Ons moet bome plant.

  • Ons moet wingerde aanlê.

  • Ons moet tuine maak.

  • Ons moet voortgaan om die Evangelie te verkondig.

Watter tekens van hoop gaan jy oprig? Met geloofsmoed moet ons die toekoms skep. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

GOD “RECYCLE” …….

GOD “RECYCLE” …….

Ons lewe in ‘n wêreld, waar alles wat nie werk weggegooi word. Alles wat oud, opgebruik en nutteloos geword het gaan ashoop toe. In die antieke tyd, maarselfs nog vandag is onwelkome babas op ashope weggegooi vir die jakkalse om te eet. Daarom het Jesus Christus eenmaal op die ashoop buite Jerusalem , saam met die ongewenstes gesterf. Hy het gesterf vir almal wie se kleipot – bestaan in duie gestort het. 

May_06_recycle1Daarom is God altyd in die herwinningsbedryf. Hy“recycle” alles wat plat geval het en maak van hulle nuwe voorwerpe van Sy ontferming. Daarom al is ons kleipotte wat maklik breek, dra ons die seël van ons Maker, die groot Pottebakker van alle tye. Dit is goed dat ons maklik kan breek, want daardeur ken ons ons afhanklikheid van God.

In ‘n wêreld waar mensedikwels onwelkom voel, is jy altyd welkom in God se vaderhuis. Sy deur staan altydoop. Hy verwag altyd dat sy verlore seun moet terugkom.Wanneer ons op ons weerlooste is, soos die verlore seun, vind ons ‘n genadige Vader. Maar onsweerbarstigheid moet eers omgesit word in weerloosheid. Wanneer ons nie verder kan nie, dan kan God werk. In jou mees weerlose tye is jy juis diebruikbaarste klei vir die Here. Wat hard is, moet eers sag word. Daarom is krisistye, die tye wat ons weer sag word, weer ontvanklik word vir die sagte werke en sagte hande van die Potterbakkers – Gees.

McLeod sê die volgende oor die kerk: “I simply argue that the cross should be raised in the centre of the marketplace as well as on the steeple of the church. I am recovering the claim that Jesus was not crucified in a cathedral between two candles, but on a cross between two thieves; on the town’s garbage heap., at the crossroad so cosmopolitan that they had to write His title in Hebrew and Latin and Greek …. At the kind of place where cynics talk smut, and thieves curse, and soldiers gamble. Because that is where He died. And that is what He died for. And that is what he died about. And that is where churchmen ought to be and what churchmen ought to be about.”  

Daarom is die taak van die kerk, om soos God op die ashope van die wêreld siele te soek en te red vir die Here. Op ‘n ashoop het Hy gesterf vir ashoop – mense. Hy “recycle” en maak nuut. Die nuwe moontlikhede vir die sondaar is legio. God se kinders kan nooit in ‘n doodloopstraat beland nie. God breek elke doodloopstraat oop en vul dit met nuwe moontlikhede.

 (Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Het jy lang tone? (Mat 23: 1 – 12)

HET JY LANG TONE?

Afrikaans het van die mooiste spreukwoorde soos: : “Iemand het lang vingers”. Dit beteken natuurlik iemand is geneig om te steel. ‘n Ander spreukwoord is byvoorbeeld om te sê: ”Iemand het ‘n groot kop.” Dit beteken iemand dink baie van homself of haarself.” Nou wat sal dit beteken as ons sê: ”Iemand het lang tone”?

ring-toes-1Die spreukwoord beteken dat iemand liggeraak is. Liggeraak beteken om gou kwaad te word. Met ander woorde jy trap gou op sy tone, deur die geringste wat jy sê of doen. Natuurlik is die rede van ‘n persoon se liggeraaktheid, die behoefte aan aansien en posisie. Daar word soveel energie gemors op mense se liggeraaktheid, Want liggeraaktheid veroorsaak konflik en ons weet hoeveel energie gaan in konflik verlore. Liggeraaktheid kom neer op hoogmoed.

pharisee

Die Farisieërs en Skrifgeleerdes was ook uiters liggeraakte mense. Wanneer Jesus teen hulle preek, het hulle rede gesoek om Hom aan te kla en te veroordeel. Hulle het dit uiteindelik reg gekry toe hulle vir Jesus laat kruisig het op Goeie Vrydag. Wie was die Farisieërs en die Skrifgeleerdes? Die Skrifgeleerdes het as groep ontstaan na die ballingskap en het baie jare se studie van die wet agter die rug gehad. Hulle was dus die teologiese elite van daardie tyd. Die Farisieërs was weer ‘n beweging van ‘n groep leke, wat wou toesien dat gewone mense nie hulle godsdienstige pligte verwaarloos nie.

Albei die groeperinge was erg ingestel op die nakoming en die maak van wette. Daarteenoor het die Here Jesus die onnodige wette uitgevee en die wet eenvoudig en maklik gemaak deur die gebruik van die woord LIEFDE.

Ons mensdom is behep met uiterlike vertoon. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het op die straathoeke gebid en barmhartigheidswerk gedoen vir ‘n vertoon van godsdienstigheid. Hulle was ingestel op tossels, gebedsbande, aanspreekvorme en die voorste sitplekke. Daarom het Jesus dit juis gehad teen hulle uiterlike vertoon. Om hulle aan te spreek hieroor, was om op hulle tone te trap.

Maar die mensdom het nog nooit verander nie. Uiterlike vertoon en die maak van wette om persoonlike aansien te verhoog vind elke dag in die samelewing plaas. Status speel ‘n groot rol en dit word bevestig deur verskeie verskynsels. Op die Kaapse vlakte word jongmense aangetrek deur die glans van dwelmbase en kriminele vertoon. Bendes trap so op mekaar se tone dat die Kaapse vlakte bekend is vir bendeoorloë. Politici jaag met ‘n konvooi van blou ligte roekeloos op die paaie om in elk geval laat op te daag by ‘n funksie. Om mense te laat wag vir jou, is mos ‘n teken van jou eie belangrikheid.

In ons gelese gedeelte leer Jesus vir ons iets van die Koninkryksbeginsels. Wie die grootste onder julle is, is bereid om te dien. Jy is dan nie ontsteld as iemand op jou toon trap nie, want dit gaan nie oor jou nie, maar oor God se Koninkryk en die welwese van ander mense.

Mense kan so maklik op ons tone trap, as iemand jou in die padverkeer benadeel of voor jou indruk. As ons nie genoeg aandag kry nie, reageer ons dikwels soos iemand op wie se toon getrap word. Iemand moet ons net skeef antwoord, dan is ons gou op ons perdjie. As iemand ons net êrens te na kom skree ons gou “Eina!” Ons is dikwels te groot vir ons skoene, omdat ons tone so lank is.

Gebrokenheid in jou lewe is dikwels ‘n goeie ding. Dit leer jou om nederig te wees. Somtyds moet ons vir die Here dankie sê, dat alles nie altyd klopdisselboom in ons lewe verloop nie. Gebrokenheid leer jou om op jou knieë te gaan. Dit leer jou om te buig. Die nederigste mense wat ek ken, is juis hulle wat dit dikwels die swaarste in die lewe gehad het. Verbly jou oor moeilike omstandighede of teleurstellings. Dit is dikwels die leerskool van nederigheid. Jesus ag nederigheid baie hoog. Jesus se plant was die wingerd wat ondersteuning nodig gehad het. Jesus se dier was die swakke lam. Jesus se voëlsoort was die opregtheid van duiwe. Jesus se ryding was ‘n donkie. (Owen Feltham)

Jesus het nooit kwaad geword vir gebrokenes en nederiges nie. Hy was lief vir die tollenaars, die sondaars, die melaatses, die prostitute, die kinders en sommer vir almal wat nie trots was op wat hule gedoen het nie. Maar Hy het gou kwaad geword vir die Farisieërs en die Skrifgeleerdes met hulle lang tone en lang gesigte en hulle oppervlakkige vroomheid. Jesus het gereeld op hulle lang tone getrap en altyd ook reaksie gekry. Dit was juis hulle wat Sy dood fyn beplan het en dit ook uitgevoer het aan die kruis.

voetewas

Godsdiens kan dikwels die teelaarde wees van hoogmoed. By die laaste Pasga-ete op die Heilige Donderdagaand, was die dissipels begaan gewees oor wie gaan aan die Here se regterkant en linkerkant sit, die twee vernaamste posisies. Hulle het ook gesoek wie sou die werk van ‘n slaaf vervul en almal se voete was. Die 12 dissipels, die 12 ekke, met hulle 12 selwe rondom die selfopofferende Messias. In plaas van besorg te wees oor die naderende kruisdood, is hulle besorg oor hulle posisie en status by die instelling van die eerste Heilige Nagmaal. Dan lees ons hoedat Jesus die stinkende lang toon voete van Sy dissipels was, deur buigend voor elkeen te kniel. Deur die nederigheid van ‘n slaaf aan te neem, het Hy die wêreld gered. Daarom is nederigheid een van die hoogste deugde in die Christelike kerk. Daarom bly altyd in die valleie van nederigheid. Dit is in die valleie waar die waterstrome en die riviere loop. As jy verlang na die strome van seën van Bo, moet jy in die valleie van die lewe loop.

Daarom is dit ook die eienskap van die meeste suksesvolle leiers, naamlik inherente nederigheid. Daar word vertel dat in Princeton, die plek waar Albert Einstein klas gegee het vir die grootste gedeelte van sy lewe, geen monument vir Einstein opgerig is nie. Einstein was teen elke vorm van verering. Die fokus het eerder op die wiskunde en wetenskap geval as op homself. Daarom is daar nie ‘n monument van hom op Princeton nie. Sy geniale werk is sy monument, hy het nie nog een nodig nie.

Mense met lang tone. Daaroor kan jy boeke skrywe. Mense met lang tone veroorsaak binnepolitiek en oorloë. Lang tone veroorsaak kerkpolitiek, soos die Farisieërs en Skrifgeleerdes. Mense met lang tone skel en wys vingers vir ander mense deur die ruit van die motorvenster. Lang tone wil nie tereg gewys word nie. Lang tone gebruik die sosiale media om sy of haar eie beeld te bou en te poets tot by die punt van selfverheerliking. Lang tone gun nie ander sukses en voorspoed nie. Lang tone is altyd groen van jaloesie oor ander se voorspoed en besittings. Lang tone kan nie luister nie en soek altyd sy of haar eie sin.

Dit is nie lekker om saam met ‘n lang toon te lewe nie. Hulle is te kort gebaker en humeurig. Lang tone word gou opvlieënd en gun nie die son oor ‘n ander een se kop nie. In die teenwoordigheid van lang tone, is jy altyd gespanne. Netnou trap jy op haar of sy tone en dan is die hel los.

Christus Jesus wil ons kom verlos van ons lang tone sindroom. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Seën en moenie vervloek nie. (Luk 9: 51 – 55 en Hand 8: 4 – 8,14 – 17)

SEëN EN MOENIE VERVLOEK NIE.

Kan ‘n mens regtig verander? Ons het mos ‘n spreukwoord wat as volg lui: “’n Jakkals verander van haar, maar nie van snaar nie.” Kan ‘n mens verander van selfsugtig na offervaardigheid, van hoogmoed na nederigheid en van vyandskap na liefde? Kom ons staan stil by die laaste: Kan ‘n mens van vyandskap verander na liefde? Kan vyandskap en vooroordeel tussen mense regtig verander in liefde en vrede?

Palestine-Map-SamariaTelkemale lees ons in die Bybel van die vyandskap tussen die Jode en die Samaritane. In die tyd van Jesus was die vyandskap alreeds ‘n vete van meer as 1000 jaar en dit het al erger geword. Kom ek vertel u ‘n bietjie van die vete:

  • Die Samaritane het die Jode verag omdat hulle die tempel nie op die regte plek, volgens die voorskrifte van Moses gebou het nie en die Jode het die Samaritane afgeskryf, omdat hulle nie in Jerusalem wou aanbid nie. (Vergelyk byvoorbeeld die Samaritaanse vrou se vraag aan Jesus in Joh 4.)

  • Die Jode het die Samaritane as onrein beskou, as minderwaardig beskou. Daarom het die Jode en die Samaritane nie saam uit dieselfde beker gedrink nie. (Vergelyk die Samaritaanse vrou se verbasing in Joh 4, toe sy vir Jesus vra, hoekom hy, wat ‘n Jood is vir haar vra om water.)

  • Die Jode het die Samaritane ook verag, omdat hulle volgens Joodse standaarde nie rassuiwer gebly het nie, maar met ander nasies ondertrou het. Wat die Jode betref was die Samaritane min of meer melaats.

Dit was dus ook die gebruik gewees dat die Jode ‘n ompad om die land van Samaria geloop het, as hulle oppad was om in Jerusalem te gaan aanbid. Tog volgens Lukas 9, gaan Jesus op sy tog na die Paasfees in Jerusalem, nie met ‘n ompad langs Samaria verby nie. Hy steek sommer kortpad deur Samaria. Maar toe Hy in ‘n Samaritaanse herberg vir Hom en Sy dissipels verblyf vir die nag wou laat reël, het die Samaritane geweier dat Hy in hulle dorp oornag. Jesus was immers ‘n Jood op pad na die verkeerde tempel. Onmiddelik was Jesus se dissipels woedend. “Here” vra Jakobus en Johannes “wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteeer.” Die twee seuns van die donder, twee van die verregses in Jesus se groepie was gereed vir aksie. Rassekonflik was nou baie naby.

Die probleem was dat die dissipels se Joodse afkoms vir hulle swaarder geweeg het as hulle Christenskap.

  • Jesus moes ‘n politieke bevryder word.

  • Jesus moes ‘n republiek stig.

  • Daarom baklei hulle so wie van hulle is die belangrikste, wie gaan die magsposisies beklee.

  • Hulle Christenskap was vol politieke agendas.

fire-298105_1280Daarom kan ‘n mens verstaan waarom die twee seuns van die donder, vuur en oordeel oor die vyand wou afbid. ‘n Mens kan inderdaad vra: Kan die dissipels verander? Wat moet gebeur dat die haat, vooroordeel en vyandskap in hulle harte moet verdwyn? Kan mense regtig verander?

Nee, mense kan nie verander nie, hul kan hoogstens verbeter. Maar Christus kan radikaal verander, omdat Christus mense radikaal verander.

rippel-as-die-heilige-gees-werk_01Die seuns van die donder wou vuur afbid op hulle teenstanders, maar op Pinksterdag bid God vuur op hulle. Op Pinksterdag het die Heilige Gees soos in tonge van vuur op hulle neergedaal en hulle harte verteer. So kry hulle die onmoontlike reg naamlik om hul eertydse vyande lief te kry.

In Handelinge breek die vervolging van die Christene uit sodat hulle moet vlug. So beland Filippus in ‘n Samaritaanse dorp. Daar vertel hy vir die mense van Jesus van Nasaret. En daar gebeur die wonderlikse dinge: lammes en kreupels word gesond en versteurde mense word normaal. Hier gebeur nou presies die teenoorgestelde van dit wat die vuurvreters in Luk 9 wou doen. Die letterlike vuur wat hulle uit die hemel wou afroep, word vervang met geestelike vuur uit die hemel. Pleks dat die Samaritane verteer word, word hulle gesond!

Nog wonderliker: Toe die tyding in Jerusalem aankom, was die dissipels daar ook bly. Trouens, hulle stuur niemand minder nie as Petrus en Johannes, (Johannes wat weke tevore nog helvuur op die Samaritane wou afbid) om die Samaritane te gaan seën en om die vuur van die Heilige Gees op hulle af te bid.

So verkrummal ‘n 1000 jaar se vyandskap. Duisend jaar se mites en vooroordeel oor mekaar verbrokkel. Vyandskap word vervang met broederskap. Wat het gebeur? Die krag van die Heilige Gees het oor hulle gekom! Wanneer die Heilige Gees met ‘n mens werk, vind bevrugting plaas,word ‘n nuwe lewe verwek en ‘n nuwe mens gebore: ‘n Mens wat na God lyk en soos God optree. Iemand soos Jesus.

In hierdie reënboogland van ons, is ons ook geneig om die vuur op mekaar af te bid. Rassisme was nog nooit so hoog in ons land as ooit te vore nie. Misdaad, plaasmoorde en die onverskillige uitsprake van mense soos Malema en die EFF gooi natuurlik petrol op ons gemoedere. Die regering se grondonteieningsbeleid, sonder vergoeding, wat neerkom op diefstal blaas natuurlike die wantroue aan. Daar is swart rassisme, wit rassisme en bruin rassisme. Sommige swart mense uiter dikwels ook goed wat wit mense seermaak en wit mense uiter goed wat swart mense seermaak. Maar rassisme is geen oplossing vir Suid Afrika se sensitiewe politieke klimaat nie. Ons moet leer om nie vuur op mekaar af te bid nie, maar mekaar te seën. Wanneer ‘n taxibestuurder onverskillig bestuur is ons nature reaksie om hom te vloek en vinger te wys. Dit stoot net ons humeure op. As ons in die plek van stoom afblaas eerder die taxibestuurder seën en bid dat hy veilig mag ry, raak ons ontslae van ons aggressie en menslike woede.

Dis waarom die Jesusgroepie in Hand 8 so anders optree as in Lukas 9. Toe die Heilige Gees oor hulle gekom het, het die haters verander in sendelinge en die geweldaanbidders in mense wat seën. Toe verander die haat van 1000 jaar binne ‘n oogwink in vrede en blydskap. Is ons Christene? Verstaan ons wat dit beteken om in hierdie land deur die Heilige Gees “oorskadu” te word?

Begryp ons dat ‘n mens ‘n naloper van Jesus kan wees, sonder om ‘n navolger van Jesus te wees? Johannes, Jakobus en Petrus het aanvanklik honderde kilometers al agter Jesus aan geloop, sonder dat hulle regtig sy volgelinge geword het. Hulle het met hulle eie agendas agter Jesus aan geloop.

Glo jy regtig in die krag van Pinkster? Glo jy regtig in die krag van die Heilige Gees? Het die Heilige Gees al regtig oor jou lewe en in ons kerk gekom? Bid ons vuur op mekaar, of het God se vuur (Heilige Gees) ons al so verander dat ons ons vyande lief het en seën.

Dit is nie maklik nie, maar wie het gesê om ‘n Christen te wees is maklik. Is jy ‘n naloper of ‘n navolger? Bid jy vuur af of seën jy jou teenstanders? Dit wys jou ware kleure. AMEN

Die hooflyne van die preek het ek êrens gelees. Die skrywer het ek vergeet. Ek het die preek aangepas en verwerk om by hedendaagse omstandighede aan te pas.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

 

Om deur die miswolke die opgestane Christus te herken. (Joh 20: 1 – 18)

OM DEUR DIE MISWOLKE DIE OPGESTANE CHRISTUS TE HERKEN.

Ons leef in ‘n harde wrede wêreld. Die spreukwoord: “Hond eet hond” is absoluut van toepassing in die wêreld waarin ons leef. Somtyds sien ‘n mens so min raak van die realiteit van die “opgestane Christus”. Die rede hiervoor is dat ons sig belemmer word deur die mis van ons dag.

Die volgende stukkie geskiedenis verduidelik dit. Die Engelse het gehoop dat hulle die Franse by die Slag van Waterloo sal verslaan. So bou die Engelse ‘n hele netwerk van telegraafpale, sodat die oorwinning na die slag van Waterloo so gou moontlik aan die Engelse nasie gebring kan word. Dit gebeur toe dat Generaal Wellington van die Engelse, die Franse onder leiding van Napoleon Bonaparte beslissend verslaan het by die Slag van Waterloo. Die Engelse stuur toe ‘n gekodeerde boodskap per telegraaf aan die mense tuis om hulle te vertel van die wonderbaarlike oorwinning. Toe hulle in England die boodskap ontvang, lui dit: “ Wellington verslaan.” Daar het ‘n mismoedigheid oor die hele Engeland neergesak. Sonder enige hoop op die toekoms. Wat hulle nie besef het nie, was dat die helfte van die boodskap langs die pad verlore gegaan het, as gevolg van die digte mis. Toe die mis opklaar kom die boodskap deur: “Wellington verslaan Napoleon”. Skielik bars die hele Engeland in vreugde uit. Die Engelse het die Franse verslaan. Die gedugte Napoleon Bonaparte se dae is getel. Daar is vreugde in Engeland.

Netso het dit ook gegaan met die Paasgebeure. Die vroue het aanvanklik gedink dat hulle Jesus se liggaam verskuif het na ‘n ander graf. Die vroue en die dissipels het nog nie die opstanding verstaan of beleef nie. Die “mis” het hulle verhinder om die opgestane Christus te ervaar en fisies te sien. Maria Magdalena het toe Jesus Christus aan haar fisies verskyn, eers gedink dat dit die tuinopsigter was. Eers toe Jesus haar op haar naam “Maria” noem, het haar oë deur die mis die opgestane Christus herken.

Dikwels is daar in ons lewe ook baie “mis”, wat maak dat ons nie die opgestane Jesus kan raaksien nie. Dit kan persoonlike probleme, werksprobleme, verhoudingsprobleme, finansiële probleme of eenvoudig net die gejaag van die lewe wees. Jy sien Jesus eenvoudig nie raak nie.

road-fog-foggy-mistMy ervaring in die nag as ek van ‘n plaaswyksbyeenkoms afkom en dit is mistig in die berge, veral by Bosnek, is dat ek my ligte moet domp. Dan kan ek skielik reg voor my sien. Solank die ligte ver skyn, kan ek niks sien nie. In die gedompte lig van die voertuig kan ek myself oriënteer op die pad. So werk dit ook met jou persoonlike ervaring van die Here. Eers wanneer jy Jesus Christus raaksien in die gewone alledaagse versorging en insidente, dan raak Jesus vir ons sigbaar. Ons soek dikwels Jesus ver, terwyl Hy eintlik by ons is in alledaagse wonderwerke en versorging. Daarom moet ons met ‘n daaglikse bewustheid leef, om Jesus in die onmiddelike en die alledaagse te ontdek. Elke aand moet ek in my stiltetyd, gaan soek waar was Jesus vandag in my dag gewees. Waar het ek Hom vandag beleef. Ons noem dit om meditatief te leef. Om Jesus in die oomblik te beleef.

Maria Madalena het Jesus beleef in die oomblik toe Hy haar naam noem. Toe klaar die mis op. Toe sien sy vir Christus raak as haar “Rabboeni”.

10

Die mistigheid sal met ons wees tot die wederkoms van die Here Jesus Christus. Daar sal baie mis wees in die vorm van oorloë, geweld, misdaad, verraad, persoonlike probleme, maatskaplike nood en maak maar die lysie langer. Ons sal somtyds sukkel om sin te maak van die mistigheid van die lewe. Maar Christus Jesus gaan ook ‘n tweede keer kom om alles nuut te maak. Dan sal daar geen mis meer wees nie. Dan sal ons nie meer kyk in ‘n dowwe spieël vol raaisels nie. Dan sal alles nuut wees. Daarom eindig die Evangelie nie met die opgestane Christus nie. Nee, ons sien uit na die verheerlikte Christus wat kom met die wederkoms om alles nuut te maak. Dan sal ons nie meer deur die mis hoef te sien nie.

Nou sien ons nog deur die mis, die opgestane Jesus. Maar eendag, wanneer die mis opklaar sal ons Hom in Sy volle heerlikheid sien. Daarom bou die Evangelie op na Jesus se verheerliking. Ons kry die geboorte, dan die kruisiging, dan die opstanding en dan uiteindelik die wederkoms. Die miswolke moet plek maak vir die wederkomswolk. Daarom leef ons tussen die miswolke en die wederkoms wolk.

cat eyes from solarpathusaMaar in die mistigheid van hierdie lewe, waar ons dikwels sukkel om die opgestane Christus raak te sien, is daar katoë op ons lewenspad. Dit is die tekens wat Jesus vir ons gee, dat Hy lewe en werklik opgestaan het. Dit kan enigiets wees van ‘n wonderwerk, daaglikste versorging, gebedsverhoring, genesing, onverklaarbare ingrypings van God en ook die sakramente van die doop en Nagmaal. Daarom laat die Here ons nie verdwaal in die mistigheid en onsekerheid van hierdie wêreld nie.

Hy versterk ons daagliks met Sy teenwoordigheid en wondertekens. Sy krag is elke môre nuut en verfrissend.

Daarom kan ons elke dag die opgestane Christus in ons lewe ervaar. Deur die mistigheid van hierdie wêreld, sal ons hom sien, as ons NABY aan hom leef. Daarom roep hierdie Paassondag ons op om opnuut NABY aan die opgestane Christus te leef.

Toe my jongste seun Johannes nog ‘n klein seuntjie was, was dit een oggend baie mistig op Adelaide. Hy kon niks sien nie. Hy het aan die huil gegaan, want skielik was alles weg. Maar niks was weg nie. Later het die mis weggetrek en was die wêreld weer vir hom bekend. In die mistigheid van hierdie wrede wêreld, lyk God afwesig. Maar Hy is hier by ons. Daarom is geloof om die onsienlike te sien, met geloofsoë. Die opgestane Here Jesus Christus, het vir die ongelowige Thomas gehelp om te glo, deur hom toe te laat om aan Sy wonde te vat.

So het Die Here Jesus ook vir Maria Magdalena gehelp om Hom in die mistigheid te sien. Hy het ook aan die dissipels verskyn om te wys Hy lewe. So sal Hy ook in wonderwerke, gebedsverhoring en in Goddelike ingrypings aan jou verskyn, om vir jou te toon dat Hy die opgestane Christus is.

Moenie vaskyk teen die miswolke nie. Die miswolke sal plek maak vir die wederkomswolk. Jesus lewe! Jy sal Hom deur geloofservaringe beleef as die opgestane Christus. AMEN.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)