Hemelse wysheid teenoor aardse wysheid.

SKRIFLESING: Jakobus 3: 13 – 18

Jakobus stel ’n vraag: Is daar ’n wyse of verstandige mens onder julle?

Ons dink as iemand op universiteit of kollege was, dat die persoon verstandig is. Ons dink aan CJ Langenhoven wat die mooiste gedagtes oor wysheid geskryf het. Baie mense plaas ook op Facebook die mooiste gedagtes, Christelike aanhalings, gedigte en so meer en ons dink hulle is wys. Maar mense wat die mooiste goed op Facebook plaas, se lewens is dikwels in kontras daarmee. Op WhatsApp kan ons ook die treffendste Christelike goed plaas en ons dink dit is wysheid.

Daar was ook ‘n tyd dat mense Christelike plakkers op hulle voertuie aangebring het, maar hulle het soos padvarke bestuur. Party besighede plaas ook Christelike verse en aanhalings op hulle advertensies, sodat kopers moet dink dat hulle eerlik is en met integriteit sal optree. Dan is dit juis hulle wat ‘n mens verneuk. In die Afrika-konteks kry ‘n mens ook baie “opskiet kerke”, wat nie verbind is aan ’n kerkgenootskap wat oor die pastore toesig hou nie. Die afgelope tyd het ons gelees van kamstige “pastore” wat met seks-sindikate, geldwassery, mensehandel, bedrog, geldelike afpersing van lidmate en erge kriminele aktiwiteite besig is, onder die soetsappige stroop-dekmantel dat hulle pastore en leiers van kerke is. Dit is daarom ook die rede dat die regering wetgewing oorweeg om kerke te reguleer.   In die naam van godsdiens kan jy nogal baie mense bedrieg en probeer wegkom met erge wanpraktyke.

Jy word nie gereken aan wat jy sê nie, maar wat jy doen. Jakobus se uitdaging is: Bewys jou wysheid deur goeie gedrag. Daarom moet jy onderskei tussen hemelse wysheid en aardse wysheid.

Ware wysheid en verstandigheid het alles te doen met gedrag. Daarom moet ons onderskei tussen wysheid van bo, teenoor wysheid van onder. Wysheid van bo is nie maar net voorgee met woorde nie. Dit is aktiewe dade van nederigheid en sagmoedigheid.

Wysheid van onder is dikwels woorde, sonder dade wat dit bewys. Dit gaan gepaard met selfsug en afguns.

Daarom, as ‘n mens die skrifgedeelte saamvat gaan hemelse wysheid oor dade van nederigheid (sagmoedigheid) en aardse wysheid oor dade van selfsug en afguns.

Luister hoe beskryf Jakobus hemelse wysheid in Jak 3:17 en 18 – “Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.”

Die hemelse wysheid kan alleen bogenoemde eienskappe baar, as nederigheid (sagmoedigheid) seëvier. Hemelse wysheid beteken volgens Jakobus nederigheid (sagmoedigheid).

Daar was ‘n ou Joodse gebruik waar mense in ‘n sirkel gedans het by Joodse feeste. In ‘n sirkel is daar nie eerste en laaste soos in ‘n ry nie. Almal in die ry is gelyk, almal is tegelyk eerste en tegelyk laaste. So kan almal nederig bly.

Daarom moet dit vir Christene gaan oor dienswerk en nie selfsug en afguns nie.  Wanneer ‘n gelowige in ‘n posisie van gesag geplaas word, moet die motief van diensbaarheid en nederigheid, jou ‘n dienskneg en slaaf maak van ander.

Gelowiges wat bereid is om selfloos, sonder eie belang, bereid is om te dien, sal self deur God vereer word. Paulus maak Christus Jesus ‘n voorbeeld van die een wat ‘n dienskneg en ‘n slaaf geword het. (Johannes 13). Op die regte tyd het God vir Jesus tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

Owen Feltham skryf: “ Ek merk dat God van al die plante die eenvoudige wynstok gekies het wat gestut moet word; en van al die diere, die onskuldige lam; en van die voëls, die onskuldige duif. Christus is die roos van die veld en die lelie van die dale. Toe God aan Moses verskyn het, was dit nie in die trotse seder of in die kragtige eikeboom nie, maar in ‘n nederige en eenvoudige braambossie, asof Hy deur hierdie keuses die hoogmoed en die verwaandheid van die mens in toom wil hou.”

Die Here hou van eensgesindheid. Nederigheid en sagmoedigheid (hemelse wysheid) bevorder eensgesindheid. Selfsug en naywer (aardse wysheid), rysmier die eensgesindheid van mense. Die Here se gebed in Johannes 17 was dat Sy mense een mag wees, soos God-Drie-Enig een is.

Jakobus skryf juis hierdie brief, omdat die ontvangers daarvan in stryd met mekaar gelewe het. In plaas van nederigheid (hemelse wysheid), het selfsug en afguns (aardse wysheid) geseëvier.

Jakobus 3: 15 tot 16 praat oor die gevolge van aardse wysheid. Die gevolg van selfsug en afguns is: “Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar aards, nie-geestelik en demonies. Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor.”

So lyk ons wêreld as gevolg van aardse wysheid. Al die onmin in huwelike, in gesinne, in vriendekringe, by die werk, in die kerk, in die politiek, is te wyte aan aardse wysheid wat selfsug en afguns verkondig.  Daarom is daar so baie wanorde en allerlei gemene dade tussen mense. Mense kan die wreedste wesens op hierdie aarde wees. Ons sien dit in oorloë, in sake-transaksies, wanneer geld ter sprake kom en wanneer mense die leer van mag en beheer klim.

Watter gedrag gaan u en ek openbaar? Hemelse wysheid of aardse wysheid? Die aardse wysheid van selfsug en afguns vernietig alles en verbreek die eenheid tussen mense. Maar hemelse wysheid van nederigheid en sagmoedigheid bring eenheid en vrede tussen mense. Dit is heilsaam en dit bou die gemeente.

Mag ons lewe gekenmerk word deur hemelse wysheid!           

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om jou vyand tot skaamte te bring.

SKRIFLESING: Mat 5: 38 – 41

Wanneer die Here Jesus van sy volgelinge verwag om nooit terug te slaan nie, verwag Hy ‘n baie swaar ding van ons. Om nie terug te slaan nie, kos leeuemoed. Daarom is die gelowige so anders as die ongelowige – want van die gelowige word moed gevra.

‘n Voorbeeld van Joodse moed het hom in 26 n.C. afgespeel. Pilatus, die Romeinse goewerneur in Judea, het opdrag gegee dat ‘n beeld van die Romeinse keiser Claudius in die tempel in Jerusalem opgerig word. Die Jode het dit dadelik beskou as ‘n afgodsbeeld wat in hulle tempel opgerig gaan word. Hulle het toe in groot massas opgeruk na Pilatus se paleis in Caesarea. Hulle het die paleis vir vyf dae en nagte omsingel deur doodeenvoudig te kniel. Uiteindelik het Pilatus ingestem om met hulle in die arena te gaan onderhandel. ln die arena aangekom, vind hulle toe uit hulle is omsingel deur drie rye swaar gewapende Romeinse soldate, wat eis dat hulle die Romeinse gode moet aanbid. Die Jode het hul doodeenvoudig neergegooi voor die Romeinse soldate, hulle nekke ontbloot vir die swaarde van die Romeine en gesê dat hulle liewer doodgemaak sou word as om vreemde gode te aanbid. Verstom deur die moed en geloof van die Jode, het Pilatus opdrag gegee dat die beeld verwyder word.

Daarom, as die Here Jesus sê dat ‘n mens nie jou vyand moet terugslaan nie, word dit nie van swakkelinge gevra nie, maar van mense wat moed het. Die drie klassieke uitsprake van die Here, wat handel oor teengeweld, is natuurlik die volgende:

a.) As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang.

Die Here Jesus het dié uitspraak gemaak om vir mense raad te gee wat in ‘n persoonlike geskil met iemand betrokke is.

Waarom word daar spesifiek na die regterwang verwys? Dit was destyds ‘n skande om enige taak met jou linkerhand te verrig. As jy dus met ‘n swaard wou veg of wou slaan, het jy dit met jou regterhand gedoen. Wanneer ‘n mens iemand met jou regterhand op die regterwang wil slaan, moes jy dit met die rugkant van jou regterhand doen, wat natuurlik ‘n vernederende klap was. Dit is ‘n klap waarmee kinders, slawe, vroue en ondergeskiktes gewoonlik geklap is. Die persoon wat geklap is, kon op twee wyses reageer:

* òf jy gryp jou kop vas, deins terug en hoop daar kom nie nog klappe nie – soos ’n lafaard,

* òf jy slaan terug, hard en sekuur – dan maak jy soos die wêreld maak, wat alles met geweld wil oplos.

Jesus kies nie een van die twee nie, nie die weg van die lafaard en ook nie die weg van die wêreld nie.

Jesus sê draai die ander wang. Wanneer die ander wang gedraai word, word die slaner gedwing om dié soort klap wat tussen gelykes gebruik word, te gebruik of natuurlik om met die vuis te slaan. Dit beteken dat ek nie toelaat dat ek verneder word nie, maar ook sal ek nie terugslaan nie. Om die ander wang te draai, beteken dat jy vir die slaner sê: Probeer weer, jou eerste klap het nie sy doel bereik nie. Ek weier om jou die mag te gee om my te verneder. Ek is ‘n mens soos jy. Jou status, geslag, rykdom, ouderdom of wat ook al, verander niks daaraan nie. Jy kan my nie verneder nie.

b.) Gee ook jou boklere

Hierdie uitspraak het die Here gegee, om daarop te wys hoe ‘n mens moet reageer op ekonomiese uitbuiting. In plaas van terug te steel of te roof, soos Robin Hood, moet ‘n mens eerder die geweldlose uitweg soek, naamlik: Gee ook jou boklere. Die situasie waarvan Jesus hier praat, het in die eerste eeu dikwels voorgekom. As gevolg van droogtes en onregverdige belastings, het kleinboere in Palestina desperaat in die skuld geraak. Geldskieters en ryk landhere het hulle dan hof toe gevat en ook hulle laaste besittings – hulle onderkleed – van hulle geëis.

Ook in dié situasie was daar twee moontlike reaksies. Òf ek gaan hof toe en gee my onderkleed, òf ek weier om hof toe te gaan en knoop ‘n geveg aan. Jesus kies nie een van die twee nie. Jesus stel ‘n derde weg voor: Gee jou onderkleed vir die onregpleger, maar gee dan sommer ook jou bokleed, sommer net daar in die hofsaal. Gee hom al jou klere en stap kaal daar by die hofsaal uit. Naaktheid was taboe vir die Jode. Dit sou vir die uitbuiter ‘n geweldige verleentheid wees om te aanskou hy het die mens kaal uitgetrek. Stel vir u die prentjie voor. Die persoon stap nakend uit die hofsaal!  Almal in die straat sal geskok vra wie al sy klere gevat het, wie hom nakend gelaat het. Op die end kom al die vernedering neer op die uitbuiter en hy voel op die ou end skaam oor sy uitbuitery.

c.) Dra dit ook ‘n tweede kilometer

Hierdie uitspraak van die Here hou verband met politieke onreg.

Dit was algemene gebruik dat soldate iemand kon opkommandeer om sy goed vir hom te dra. (So byvoorbeeld is Simon van Sirene opgekommandeer om die kruis van die Here te dra.) Dus kon enige Romeinse soldaat enige kleinboer wat op sy land gewerk het, oproep om sy pak vir hom te dra. Omdat die Romeine wou verhinder dat die saak hand uitruk, het hulle ‘n reël gemaak dat die draer ná een kilometer weer teruggestuur moes word na sy land, anders sou daar later niemand meer op die land wees om kos te produseer nie en dan sal die Romeine ook doodgaan van die honger. Die Here Jesus gee egter ander raad: Moenie gedwee en gedienstig na een kilometer omdraai nie. Nee, daag die soldaat uit om sy pak vir hom nog ‘n tweede kilometer ook te dra. ‘n Mens kan jou weereens die toneeltjie voorstel. Die soldaat staan ongemaklik rond. Hy mag nie toelaat dat ‘n kleinboer vir ‘n tweede kilometer sy pak vir hom dra nie. Hy sal in die moeilikheid kom. Wat nou gemaak? Miskien kry hy skaam. Miskien sien hy met watter onreg hy besig is.

U sien dus in al drie hierdie uitsprake het die Here dit teen geweld, maar ook teen ‘n slap, lafhartige houding. Christene mag nie neutraal wees nie. Hulle moet standpunt inneem teen onreg, maar altyd sonder geweld. Hulle kan en moet weerstand bied teen onreg, maar sonder die swaard. Maak mense skaam, maar moenie hulle seermaak nie. Maak hulle skaam, nie om hulle te verneder nie, maar sodat hulle tot ander insigte kan kom.                           

AMEN

(Ek gee erkenning aan die oorspronklike bron van die uitlegging – ongelukkig het ek nie die skrywer se naam nie.)

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.

Is jou hart nederig voor God en medemens?

SKRIFLESING: Johannes 13: 1 – 17 en 28 – 30

Nederigheid is een van die vernaamste deugde van die Christelike kerk en die gelowiges. ‘n Mens moet begeer om nederig te wees.

Die rede waarom daar vandag so baie twis en tweespalt is, is omdat daar te veel belangrike mense is. Daar is te veel base. Kyk maar na die wêreld. Die Afrika-state word gereeld geteister deur staatsgrepe. Oorlog, haat, naywer, afguns en jaloesie …. volk teen volk, ras teen ras, mens teen mens, werknemer teen werknemer, broer teen broer, man teen vrou, kind teenoor ouer. Almal wil belangrik wees! Ook in die kerk gaan dit nie veel beter nie. Gaan lees maar van die verskriklike Protestant-Katolieke godsdienstige oorloë.

Maar ook in die plaaslike gemeente in Handelinge woed die stryd om status voort. Gaan lees maar in Handelinge van die stryd in die eerste Jerusalem-gemeente. Dis die verskriklike: die kerk van vrede het geword ‘n kerk van oorlog en rusie. Ook alreeds daar by die eerste dissipel-kerk, ook alreeds daar by die eerste Nagmaalstafel, lees ons van twis en naywer. Luk 22 beskryf vir ons die treurige gebeurtenis. Die dissipels was bymekaar daar in die bokamer rondom die eerste Nagmaalstafel dié nag voordat Hy verraai sou word. In plaas daarvan dat die dissipels hul bekommer het oor die komende Koninkryk en die naderende kruisdood, het hulle hul bekommer oor wie van hulle nou tog die belangrikste is.

Daar was twee vrae in hulle gemoed:

1.) Wie sal tog die naaste aan die regterkant van die Here sit? Wie sal tog die ereplek langs die Meester inneem?

2.) Wie sal hom moet neerbuig en homself verneder deur die voete van die ander te was?

Dit was twee groot probleemvrae daar rondom die eerste Nagmaalstafel. Wie is die waardigste en wie is die onwaardigste? So gaan dit mos tussen broers en tussen volkere: wie is die waardigste en wie is die onwaardigste? Dit terwyl die Here sê: “Soek allereers die Koninkryk van God……”. Dit skreeu  ten hemele. Die selfgesentreerde dissipels teenoor die self-opofferende Messias. Die twaalf  “ekke” wat met hulle twaalf “selwe” besig is. ‘n Kontras, wat die ganse Evangelieboodskap weerspreek. Ja, so weerspreek die kerk homself en die heilige Evangelie, elke keer as hy vra: Wie is die waardigste? Wie is die onwaardigste?

Jesus sê in vers 25 dat konings met ‘n ysterhand regeer en as hulle ‘n bietjie goed gedoen het, laat hulle hul noem weldoeners oor die swakkes en ellendiges. My regterhand moet maar alte goed weet van my linkerhand. Ons verruil binnekamers vir die straathoeke. Dit verhoog my status, my aansien! Here, wie is tog die belangrikste? Is dit nie ironies nie; die dissipels, die kerkmense, vra ‘n rang in die hemel, maar die uitvaagsel, die moordenaar aan die kruis, vra slegs: “Dink asseblief aan my?” En dan beloof Christus aan Hom ‘n plek in die paradys!U sien dus: belangrike mense, wat posisies opsoek in die hemel, word beskaam.

Slegs nederige mense wat weet hul hoort eintlik nie daar nie, word verhef tot koningskinders. Die ergste is natuurlik as mense begin om ook God uit te rangeer uit die hemel. Die mens van ons tyd het te belangrik vir God geword. God het die klei geword en ons die pottebakker. In plaas daarvan om die onse Vader te bid, bid ons eerder die volgende aangehaalde gebed:

Onse milde God van alles wat soet en mooi is,

laat ons republiek tog nou reeds kom,

laat ander hul wil verskiet – Gee skiet Gee skiet!

Sodat ons ook ‘n sê mag hê.

Gee dat ons vandag ons daaglikse brood mag verdien,

en die botter, die konfyt, die wyn, die stilte, die stilte van wyn

en lei ons in versoeking van velerlei aard.

Sodat die liefde van lyf na lyf kan spring.

Maar laat ons ons verlos van die bose,

want aan ons behoort die menseryk, die krag en die heerlikheid,

van nou af tot in alle ewigheid net so ewig.

Aa mens! Aa mens!

Klink dit nie vir u bekend nie? Die aarde is nie God s’n nie, die aarde is nie van die duiwel nie, want die aarde behoort aan die mens. Om nou sommer reguit te wees. Die mens van ons tyd het te groot vir sy skoene geraak. Die mense wil onder mekaar belangriker wees. Maar ook belangriker as God. Klein skepselmensies wil oor mekaar heers. Nog erger: hul wil Heer oor die ganse kosmos speel.

Maar gemeente, so het u Christus nie leer ken nie. Al was Christus die Hemelkoning, het Hy die voete van sy dissipels gewas, siekes genees, mense gevoed, gebid vir tollenaars, geëet saam met sondaars, die bedelaars gehelp en Homself geoffer.

ln vers 26 sê Christus eintlik maar dat die belangrikste onder ons, juis die nederigste moet wees. Dit beteken: hoe hoër my status styg, hoe laer moet ek my neerbuig. Elke posisie op, een posisie af. U sien dus hoe hoër ek styg, hoe laer moet ek buig. Dit, gemeente, kos integriteit, maar meer nog, nederigheid. Dit sê Christus is ware grootheid. Grootheid is nie in magsvertoon nie, maar in selfontleding. Christus kon ’n skaar van engele ontbied om Hom van die kruis af te haal, maar nogtans verneder Hy homself nakend aan die kruis.

Gemeente, ons kan miskien nog hierdie aarde of  ‘n gedeelte van hierdie aarde met magsvertoon oorweldig soos Alexander die Grote of soos Adolf Hitler. U kan miskien nog in hierdie lewe u merk maak in die lewe as ‘n belangrike mens. Maar u kan nie die hemel oorweldig met ‘n magsvertoon nie. In die hemel kan u geen merk maak nie. In die hemel is net mense wat daar gekom het sonder dat hul eintlik daar hoort. Hulle is nie deur die magsvertoon van hulself of van Christus gered nie. Nie deur ‘n septer is ons verlos nie, maar deur ‘n kruis. Ons is nie deur ‘n ysterhand oorweldig nie, maar deur die sagte deurboorde en uitnodigende hande van die grootste en nederigste Dienskneg van alle tye.

Vergeet om u merk in die hemel te maak. Kyk alleen maar na die merke op Christus se deurboorde hande. Die merke van liefde en nederigheid. U sien: belangrike, hooghartige en selfgesentreerde mense kan nie in die hemel kom nie. Want as julle die Koninkryk van God nie soos ‘n kind ontvang nie, sal julle nooit daar kan ingaan nie. By die nederige Christus-koning, groot Dienskneg van die wêreld, pas alleen maar klein afhanklike diensknegte en diensmaagde. Wat alleen maar wil uitroep: aan God al die EER.

Ja, die wonderlike van vers 28 – 30 is die volgende. Diensknegte word koninkryksburgers. Ja, want Christus was maar altyd bewus dat Hy die Seun van die lewende God is. Hy het geweet dat die Koninkryk van God deur Sy Vader aan hom bemaak is. En nou maak Hy sy dissipels en ook sy volgelinge van alle tye die burgers van Sy Koninkryk. Net soos die moordenaar aan die kruis as ‘n stukkende en leë mens kom vra dat Christus aan Hom sal dink, en dan skenk God aan hom die Koninkryk.

Wanneer ‘n koning ministers aanstel om oor sy land te help regeer soos wat ons lees in vers 30, dan bly die koning nog steeds die belangrikste. Ja, die ministers regeer ter wille van die eer van die koning. Net so, liewe gelowiges, as Christus aan jou sy Koninkryk bemaak, as Christus aan jou die hemel en die verlossing beloof, mag jy nooit dink dat jy nou skielik die sentrum geword het van die hemel, asof jy die belangrikste is, nie. Want God het jou nie gered alleen maar om jou lewe te spaar nie. Nee, jy is gered om God en jou medemens te dien, OM DIE EER VAN GOD. Ek is gered nie vir myself nie, maar vir die EER VAN GOD.

Weet u wat is die definisie van ‘n sinlose lewe?

“Ek is die belangrikste”

Weet u wat is die definisie vir ‘n sinvolle lewe?

“God is die belangrikste… Ek jaag die eer van Christus na en die voordeel van my medemens.” Daarom moet ek nederig word.

Ware godsdiens vra nooit na die ek nie. Ware Godsdiens is altyd Godgerig en medemensgerig, maar nooit my-gerig of ek-gerig nie. God sal vir die “ek ” sorg.

Bekommer jou liewer oor die Koninkryk van God. Ons hedendaagse samelewing is baie ingestel op die “ek”. Baie jare gelede het mense geleef met ‘n “ons”-houding. Vir mense het dit gegaan oor wat vir die samelewing belangrik is en nie oor die “ek” nie. Hoogmoedigheid veroorsaak dat die “ek” faktor floreer. Daarom moet ons weer nederig word en eerste vra wat vir die samelewing, vir die “ons”, belangrik is.

Nederigheid is ‘n mooi eienskap. Dit weerkaats iets van Jesus Christus. Daarom moet ons onsself beywer om ‘n lewe van nederigheid te lewe.

Mag u en ek elke dag nederig lewe. Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)