Hemelse wysheid teenoor aardse wysheid.


SKRIFLESING: Jakobus 3: 13 – 18

Jakobus stel ’n vraag: Is daar ’n wyse of verstandige mens onder julle?

Ons dink as iemand op universiteit of kollege was, dat die persoon verstandig is. Ons dink aan CJ Langenhoven wat die mooiste gedagtes oor wysheid geskryf het. Baie mense plaas ook op Facebook die mooiste gedagtes, Christelike aanhalings, gedigte en so meer en ons dink hulle is wys. Maar mense wat die mooiste goed op Facebook plaas, se lewens is dikwels in kontras daarmee. Op WhatsApp kan ons ook die treffendste Christelike goed plaas en ons dink dit is wysheid.

Daar was ook ‘n tyd dat mense Christelike plakkers op hulle voertuie aangebring het, maar hulle het soos padvarke bestuur. Party besighede plaas ook Christelike verse en aanhalings op hulle advertensies, sodat kopers moet dink dat hulle eerlik is en met integriteit sal optree. Dan is dit juis hulle wat ‘n mens verneuk. In die Afrika-konteks kry ‘n mens ook baie “opskiet kerke”, wat nie verbind is aan ’n kerkgenootskap wat oor die pastore toesig hou nie. Die afgelope tyd het ons gelees van kamstige “pastore” wat met seks-sindikate, geldwassery, mensehandel, bedrog, geldelike afpersing van lidmate en erge kriminele aktiwiteite besig is, onder die soetsappige stroop-dekmantel dat hulle pastore en leiers van kerke is. Dit is daarom ook die rede dat die regering wetgewing oorweeg om kerke te reguleer.   In die naam van godsdiens kan jy nogal baie mense bedrieg en probeer wegkom met erge wanpraktyke.

Jy word nie gereken aan wat jy sê nie, maar wat jy doen. Jakobus se uitdaging is: Bewys jou wysheid deur goeie gedrag. Daarom moet jy onderskei tussen hemelse wysheid en aardse wysheid.

Ware wysheid en verstandigheid het alles te doen met gedrag. Daarom moet ons onderskei tussen wysheid van bo, teenoor wysheid van onder. Wysheid van bo is nie maar net voorgee met woorde nie. Dit is aktiewe dade van nederigheid en sagmoedigheid.

Wysheid van onder is dikwels woorde, sonder dade wat dit bewys. Dit gaan gepaard met selfsug en afguns.

Daarom, as ‘n mens die skrifgedeelte saamvat gaan hemelse wysheid oor dade van nederigheid (sagmoedigheid) en aardse wysheid oor dade van selfsug en afguns.

Luister hoe beskryf Jakobus hemelse wysheid in Jak 3:17 en 18 – “Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.”

Die hemelse wysheid kan alleen bogenoemde eienskappe baar, as nederigheid (sagmoedigheid) seëvier. Hemelse wysheid beteken volgens Jakobus nederigheid (sagmoedigheid).

Daar was ‘n ou Joodse gebruik waar mense in ‘n sirkel gedans het by Joodse feeste. In ‘n sirkel is daar nie eerste en laaste soos in ‘n ry nie. Almal in die ry is gelyk, almal is tegelyk eerste en tegelyk laaste. So kan almal nederig bly.

Daarom moet dit vir Christene gaan oor dienswerk en nie selfsug en afguns nie.  Wanneer ‘n gelowige in ‘n posisie van gesag geplaas word, moet die motief van diensbaarheid en nederigheid, jou ‘n dienskneg en slaaf maak van ander.

Gelowiges wat bereid is om selfloos, sonder eie belang, bereid is om te dien, sal self deur God vereer word. Paulus maak Christus Jesus ‘n voorbeeld van die een wat ‘n dienskneg en ‘n slaaf geword het. (Johannes 13). Op die regte tyd het God vir Jesus tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

Owen Feltham skryf: “ Ek merk dat God van al die plante die eenvoudige wynstok gekies het wat gestut moet word; en van al die diere, die onskuldige lam; en van die voëls, die onskuldige duif. Christus is die roos van die veld en die lelie van die dale. Toe God aan Moses verskyn het, was dit nie in die trotse seder of in die kragtige eikeboom nie, maar in ‘n nederige en eenvoudige braambossie, asof Hy deur hierdie keuses die hoogmoed en die verwaandheid van die mens in toom wil hou.”

Die Here hou van eensgesindheid. Nederigheid en sagmoedigheid (hemelse wysheid) bevorder eensgesindheid. Selfsug en naywer (aardse wysheid), rysmier die eensgesindheid van mense. Die Here se gebed in Johannes 17 was dat Sy mense een mag wees, soos God-Drie-Enig een is.

Jakobus skryf juis hierdie brief, omdat die ontvangers daarvan in stryd met mekaar gelewe het. In plaas van nederigheid (hemelse wysheid), het selfsug en afguns (aardse wysheid) geseëvier.

Jakobus 3: 15 tot 16 praat oor die gevolge van aardse wysheid. Die gevolg van selfsug en afguns is: “Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar aards, nie-geestelik en demonies. Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor.”

So lyk ons wêreld as gevolg van aardse wysheid. Al die onmin in huwelike, in gesinne, in vriendekringe, by die werk, in die kerk, in die politiek, is te wyte aan aardse wysheid wat selfsug en afguns verkondig.  Daarom is daar so baie wanorde en allerlei gemene dade tussen mense. Mense kan die wreedste wesens op hierdie aarde wees. Ons sien dit in oorloë, in sake-transaksies, wanneer geld ter sprake kom en wanneer mense die leer van mag en beheer klim.

Watter gedrag gaan u en ek openbaar? Hemelse wysheid of aardse wysheid? Die aardse wysheid van selfsug en afguns vernietig alles en verbreek die eenheid tussen mense. Maar hemelse wysheid van nederigheid en sagmoedigheid bring eenheid en vrede tussen mense. Dit is heilsaam en dit bou die gemeente.

Mag ons lewe gekenmerk word deur hemelse wysheid!           

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewer kommentaar