“Haunted” deur jou gewete.
Mat 27: 3 – 10
In ons gelese gedeelte lees ons hoedat Judas Iskariot se verrraad gelei het dat hy “gejag” is deur sy gewete. Hy het nie besef, dat sy verraad van Jesus, sou tot Jesus se dood lei nie. Hoe dikwels verrraai ons nie ook Christus of ander mense se vertroue nie. Ons is niks beter as Judas Iskariot nie. Toe Jesus egter gekruisig word, het sy gewete ingeskop. Sy gewete het hom so “gejag”, dat hy die 30 silwermuntstukke terug gegooi het in die tempel en homself gaan ophang het.
Daarom was Judas Iskariot nie ‘n slegte man gewees nie. Hy het nog ‘n gewete gehad. Wanneer jy nie meer ‘n gewete het nie, dan is jy ‘n slegte mens. Dit is net jammer dat Judas Iskariot nie besef en ontdek het, dat Jesus Christus ook vir hom aan die kruis gesterf het en sy sonde vergewe het. As hy dit ontdek het, sou hy waarskynlik nie homself opgehang het nie.
So is daar baie mense, wat “gejag” word deur hulle gewete. Elke mens vang dikwels onsinnighede aan in sy of haar lewe. Dit kan jare lank by jou spook of op jou “jag” maak. Die meeste persoonlike probleme van mense, is dat hulle gewete hulle “jag”. Baie mense drink hulle gewete weg en word alkoholiste. Ander gebruik delms om te vergeet van hulle gewete. Ander openbaar persoonlikheidsafwykings om net weg te kom van die skuld van hulle gewete. Judus Iskariot het nie gaan drink of delms gebruik nie, nee hy het homself opgehang om van sy gewete af weg te kom.
Maar, jou gewete kom van die Heilige Gees. Jou gewete is die flammetjie, wat jou verlossing aansteek. Jou gewete gee geboorte aan jou verlossing. Jou gewete laat jou roep na Christus se verlossing. Jou gewete is die deur, waar jy die verlossende Christus ontmoet. Die verkiesende genade van die Here maak jou gewete skerp, sodat jy nader aan die verlossing van Jesus Christus leef.
‘n Dooie gewete, vra nie na Christus nie. ‘n Dooie gewete soek nie Christus se verlossingswerk op nie. ‘n Dooie gewete het Christus nie nodig nie.
Daarom moet ons dankbaar wees as ons gewete ons somtyds pynig. Dit beteken dat die Gees van God in my werk. Ons moet ons gewete in die oopte bring voor God en die een wat ons benadeel het. Anders sal daar altyd spanning wees in my gemoed. Praat dit uit met God in die gebed. Noem dit by die naam. Indien moontlk gaan maak reg met jou broer of suster. Aanvaar die verlossingswerk van Christus. Dan eers kom jy werklik vry.
Baie mense met ‘n stomp gewete. Die flammetjie van die gewete het hulle nog nie aangeraak nie. Daarom kan hulle hulle ook nie bekeer nie. Daarom kan hulle ook nie die verlossingswerk van Christus aanneem nie, want hulle voel oor niks skuldig nie.
Bid dat jou gewete ‘n flym skerp lemmetjie mag wees. Jou gewete maak van jou ‘n beter mens.
Maar jy hoef nie met die pyn van jou gewete saam te leef nie. Gee dit vir Christus! Hy was jou silwerskoon. Jy kan jou gewete tot rus bring in Christus Jesus se verlossingswerk.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)