Jesus skep vir Hom ‘n familie aan die kruis. (Joh 19: 26 – 27)

JESUS SKEP VIR HOM ‘N FAMILIE AAN DIE KRUIS.

In my bediening as predikant het ek al dikwels opgemerk, dat die dood mense weer bymekaar bring. Ek het al soveel male gesien, hoe familielede wat jarelaas met mekaar gepraat het, by die sterfbed, weer die ou familiebande optel en weer versoen. Jarelange vetes word dikwels ook by die sterfbed begrawe. Die dood herstel verhoudinge.

love_one_another_Met Jesus se dood aan die kruis op Goeie Vrydag, lees ons ook hoedat Jesus ‘n familie skep. Sy moeder Maria het verwese gestaan, besig om haar oudste kind te verloor aan ‘n wrede dood. Johannes, Jesus se liefling dissipel, Johannes het ook daar gestaan. Dan spreek Jesus Sy derde kruiswoord, tussen 09h00 en 12h00.

Jesus het vir Maria gesê: “Daar is u seun.” Toe sê Hy vir Johannes: “Daar is jou moeder.” As’t ware skep Jesus hier nuwe familiebande. Hy bind Jesus en Maria in ‘n nuwe moeder en seun verhouding.

Dit simboliseer ook Jesus wat aan die kruis ‘n nuwe geestelike familie skep, wat ons die kerk noem. Nou is ons nie meer vreemdelinge van mekaar nie, maar broers en susters. Jesus Christus het ons oudste broer geword en ons het ‘n gemeenskaplike Vader in die hemel. Die bloed van Jesus Christus het ons as’t ware gebind as ‘n geestelike familie.

Jare gelede, was dit gebruik gewees dat vriende wat trou deur dik en dun aan mekaar belowe het, hul elkeen hulself met ‘n skerp lem gesny het aan die hand en hulle bloedwonde teen mekaar gevryf het, as teken van hulle lewenslange getrouheid aan mekaar. Daarvandaan kom die woord “bloedbroers” vandaan.

hqdefault

Aan die kruis was dit nie nodig, dat ons bloed hoef te vloei nie. Jesus Christus se bloed het gevloei in ons plek. Deur Sy bloed het Hy ons bloedbroers en bloedsusters van mekaar gemaak. Ons het ‘n geestelike familie geword. Daarom glo ons in EEN HEILIGE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK.

Daar staan verder in Johannes 19: 27 (b) dat Johannes vir Maria in sy huis opgeneem het. Dit impliseer versorging en ‘n tuiste. So moet die kerk as geestelike familie vreemdelinge opneem in in hulle midde as broers en susters van mekaar.

Die hartseer van die Christelike kerk, is dat mense aan Jesus wil behoort, maar nie aan die familie van Christus nie. Hulle sal God in hul persoonlike lewe aanbid, maar wil glad nie inskakel by die plaaslike gemeente se wel en weë nie. Hulle distansieer hulself van ander gelowiges. Dit getuig van ‘n stuk meerderwaardigheid of van onbetrokkenheid. Hulle soek redes om nie in te skakel nie. Hulle soek Jesus se liefde en seën in hulle lewe, maar wil self nie ander liefhê of tot seën vir ander wees nie. Dit getuig van uiterste selfsugtigheid.

Wanneer jy in die huwelik tree, trou jy ook met jou skoonfamilie. Hulle word deel van jou familie. Wanneer jy nie jou skoonfamilie aanvaar nie, bring dit spanning en ongelukkigheid in die huwelik. Wanneer jy in ‘n verhouding met Jesus Christus is, moet jy ook die familie van Christus aanvaar en liefhê. Jy kan jouself nie uitsluit van jou aangetroude familie nie.

body-of-christJesus Christus kan nie in privaatheid aanbid word nie. Jesus kan net in die openbaar aanbid word saam met ander broers en susters. Die Here Jesus het ‘n gemeenskap van gelowiges geskep, wat ons die kerk noem en Hy wil hê ons moet deel daarvan wees.

Jy kan nie die Here Jesus aanbid, sonder die kerk nie. Jy kan nie sonder die kerk ‘n Christen wees nie. Die Here Jesus het jou geroep om as kerk, deel van Christus se liggaam te wees. (1 Kor 12) Jy is deel van die kudde van die Here. Jy kan nie as ‘n enkele skaap ronddwaal nie. As jy nie deel het aan Jesus se kerk nie, is jy soos ‘n los steen, wat buite die gebou nutteloos rondlê.

Jesus het op Goeie Vrydag aan die kruis gesterf, juis om Sy volgelinge EEN te maak, een huisgesin, een familie en een geloofsfamilie. Ek kan nie buite hierdie EENHEID, myself afsonder op ‘n eiland. Dan is ek doodeenvoudig nie ‘n volgeling van Jesus Christus nie. Wie Jesus volg, moet aktief deel hê aan die Here se kerk.

jesus-family

Die prediker Fred Cradock het geskryf: “ The measure of your christianity is not who you feed, but who you eat with.” Ons kan maklik vir behoeftiges kos gee of ‘n bydrae gee. Maar is ons bereid om saam met hulle te eet? Dit is die toets van ware Christenskap.

Netso kan kan ek nie op die kantlyn van die kerk staan en gedurig die kerk kritiseer nie. Ek moet deelneem aan my geestelike familie se aktiwiteite deur solidêr EEN met my geloofsfamilie te wees.

Mense soek maklike verskonings om nie deel van die kerk te wees nie. Mense kan dikwels hulle medekerkgangers kritiseer as skynheilig en daarom nie kerk toe gaan nie. Wat hulle vergeet is dat die kerk juis ‘n plek van sondaars is. Die kerk is ‘n hospitaal vir gebroke mense. Ek hou myself beter, as ek nie my medekerkgangers omhels ten spyte van hulle foute en al.

Wie Jesus volg, moet Jesus se familie ook volg. Met die derde kruiswoord het Jesus ons juis familie van mekaar gemaak. Daarom moet ons mekaar omhels met Christelike broederskap en aanvaarding.

images (1)Die kruis van Christus, is soos ‘n magtige magneet, wat mense nader trek na Christus toe. Maar die kruis trek ons ook soos ‘n magneet na mekaar toe, om ‘n geestelike familie vir mekaar te wees. Sonder die magnetiese krag van die kruis, sal ons in die donker koue alleen staan.

Mag die magnetiese krag van die kruis jou na Christus en ook na jou mede gelowige toe trek.                                                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lyding is nie God se wil nie, maar Hy gebruik dit wel tot my beswil. (Klaagliedere 3: 18 – 33)

LYDING IS NIE GOD SE WIL NIE, MAAR HY GEBRUIK DIT WEL TOT MY BESWIL.

Daar is niemand van ons in hierdie kerkgebou vanoggend, wat nog nie gehuil het nie. Seerkry en swaarkry is deel van ons bestaan. Hoor wat skryf Totius na die dood van sy kinders: “ O die pyngedagte: My kind is dood! ….. dit brand soos ‘n pyl in my. Die mense sien daar niks nie en die Here alleen weet wat ek ly. Ek wou my ganse digkuns waag om al my hartpyn uit te klaag om in my klanke uit te sê om soos in marmer vas te lê die beeltnis van my pyn .….. wanneer ek dieper kyk en dink as wat ‘n sondaar pas. En steek ek dan my hande uit na u besluit, dan gryp ek in die dorings vas.” Kan u iets van die pyn in Totius se hart aanvoel? Tereg skryf hy dan ook, dat hierdie wêreld nie ons woning is nie. Ja, ek wil amper sê dit is ‘n wrede wêreld. Ja, ‘n wêreld wat met sy kloue alles wat vir my liefdevol en kosbaar is wil wegskeur. Dan bly net die pyn oor. Die waarom vrae ….. Die hoekom vrae …….

sufferingDie pyn en gebrokenheid word werklik, wanner ‘n klein kindjie sterf, wanneer jou geliefde jou ontval, wanneer natuurrampe alles wegvee, wanneer 130 miljoen Jode na die konsentrasiekampe toe is om te sterf, die wreedheid van oorlog, werkloosheid, armoede, hongersnood, Vigs, stukkende huwelike en gesinne, motorongelukke, terreurdade en so kan ons die lysie langer maak.

Tereg sê Jeremia in vers 20 “as ek daaraan dink, dan draai my gedagtes vas.” Maar wat sê God se Woord daaroor? Klaagliedere 3 sê: LYDING IS NIE GOD SE WIL NIE, MAAR HY GEBRUIK DIT WEL.

Die twee dele van die preek is:

a.) Lyding is nie God se wil nie.

b.) Maar God gebruik wel lyding.

Pars 1: Lyding is nie God se wil nie.

Geliefdes, ons is soos stout kinders wat aan God die skuld gee, as ons verbrou het. Want gemeente, dit is tipies mens, om skuld te verplaas op iemand anders.

Ons bedoel so goed as ons vir iemand in nood sê: “Toemaar, dit was God se wil.” God het dit toegelaat. Maar dit is onwaar. PYN, kan nooit God se wil wees nie. Die Bybel sê baie duidelik dat die liefdevolle God wat alles met soveel liefde geskape het, nooit ‘n welbehae in menslike pyn en hartseer kan hê nie.

Gemeente, u sien dus die God van liefde, is die groot outeur, die groot komponis van die liefde en hoe kan die groot komponis van die liefde, vals note van pyn ook skep.

Wanneer ‘n klein kindjie wreed van sy ouers af weggeneem word, of wanneer ‘n bus vol jong talentvolle kinders met ‘n blink toekoms in die Westdene – dam verdrink of wanneer gekaapte Boeiings vasvlieg in die Twin Tower Wêreldhandelsentrum of as ‘n jong mens wreed sterf aan kanker, IS DIT NIE GOD SE WIL NIE.

suffering-paula-smith-heffel

Die God van liefde, voel saam met ons die pyn. So het Jesus byvoorbeeld gehuil oor Lasarus se dood. Die outeur van pyn en hartseer, is u en ekself. Ek en u is die komponiste van al daardie vals note van pyn en hartseer. Met die sondeval het God se skepping stukkend gebreek, ja soos ‘n kind wat ‘n kosbare pottebakkerspot afstamp. Deur ons eie sondige wil, het pyn in hierdie wêreld gekom. Voor die sondeval was daar net trane van vreugde. Met die sondeval, het die eerste trane van pyn en hartseer gevloei. Daarvandaan het seerkry en dood net gedomino en vermeerder in ons lewe.

En wanneer iemand onverskillig is, byvoorbeeld te vinning ry en hy maak ‘n ongeluk en iemand sterf dan sê ons so maklik – dit was God se wil. So maak ons God die gewillige pakdier van ons mislukkings.

Nee, God is die onskuldige party. Ons is die skuldiges. Kan u dus verstaan dat ons nie sommer maar so ligweg al die skuld op God kan plaas nie. Daarom an ons geen vinger wys na God in die hemel nie. Nee, ons kan maar net ons hande uitstrek na die hemel en van God genade afbedel. – ook krag om die pyn in ons harte te kan verduur.

Pars 2: Maar God gebruik wel lyding.

Pyn is nou wel nie God se wil nie, maar dit vind nooit buite Sy Raad plaas nie. Daarmee bedoel ek dat God pyn gebruik binne die lewens van mense. God is betrokke by my pyn, Met ander woorde, ons dompel onsself in die pyn in, maar God gebruik hierdie pyn tot die beswil van myself.

So gebruik God, byvoorbeeld pyn om die mens tot verootmoediging te bring, tot ‘n bekering of tot ‘n verdieping van van sy geloofslewe. Klaagliedere 3: 29 tot 30 is baie duidelik hieroor, dat God partykeer pyn en ellende gebruik om die mens te laat besef hoe verganklik hy is. Vanuit die ellende, vanuit die pyn van my sonde, word die kreet gebore: “Ek ellendige sondaar!”, wat eintlik maar die geboortepyne van ‘n mens is tot die ware lewe.

Maar God kan ook pyn gebruik om mense nog nader aan hom te trek. Deur pyn en seerkry word inderdaad die mens se karakter gevorm.

Baie van God se kinders het in hulle diepe pyn, die Here die diepste leer ken. Tereg skryf IL de Villiers dat heel dikwels die donkerste menslike ondervinding tot ‘n sinvolle pad van die mens geweef word. Heel dilwels wil God pyn gebruik om ons opreg te leer bid uit afhanklikheid. Om ootmoed vir my medemens te kweek. Om my lewe reserweloos in God se hand te waag.

Dit werk amper soos ‘n pragtige weefstuk. Die voorkant is pragtig en foutloos. Maar die agterkant is vol knope. Die knope is nodig om die voorkant af te rond tot ‘n kunswerk. Net so is lyding, soos knope wat my lewe afrond om ‘n pragtige geheelprent te skep. Lyding vorm jou lewe.

U sien eers wanneer ek die pyn in my eie lewe ervaar het, kan ek iets verstaan van die traan wat brand in my medemens se ooglede. Sommige mense se lewens drup van hemelse dou, omdat hulle die bitter van die lewe so goed ken. Maar nou sal u vir my sê, dit is goed en wel, maar daar kom ook ‘n einde aan al my kragte. Somtyds kom ‘n mens aan die einde van jou emosionele kragte. Soms huil ‘n mens jouself leeg, maar die pyn sit nog soos ‘n stuk kanker in jou siel. Dan moet u Klaagliedere 3: 22 – 25 lees. Dit wil sê, God se trou ken geen einde nie. God se trou is die verbond, waarvan ons doop die teken is. As alles vir u te veel raak, kan u vashou aan die doop. Met my doop wil God vir my sê:”Ek wil jou God wees. Ek wil hê jy moet my kind wees..” Die doop is die reënboog van God se verbondstrou. Ek kan maar in my diepste pyn en vertwyfeling vashou aan my doop. Ja, ons kan maar hang aan ons doop en God se liefde. Martin Luther het op sy houtlessenaar uitgekerf dat hy gedoop is. Dit was vir hom ‘n herinnering in tye van aanvegtinge dat hy as gedoopte, aan God behoort en dat niks hom van die liefde van God kan skei nie.

Na die donderstorm, volg die reënboog van God se trou. Maar die doop is die reënboog van God se trou wat verskyn nog voor die donderstorms van beproewinge losbrand oor my lewe. Wanneer alles wankel is Hy die Rots der eeue, wat ewig vas bly staan. God sal red. God sal krag gee, want God voel soos ‘n Vader saam met ons.

Wanneer ‘n kind ontsteld is, dan kan hy op sy vader se skoot klim en die vader sal hom vertroos. Hoeveel te meer ons Hemelse Vader nie. U sien dus dat ons die klei is en dat God die pottebakker is wat ons in ons lyding vorm tot voorwerpe van Sy ontferming. Ons moet toelaat dat God ons wat die klei is, vorm op die pottebakkerswiel van die lewe. Hoe kan ons vir die Pottebakker sê: “Waarom het u ons so gemaak? Waarom die pyn? Hoekom? God wil van die mislukte lewens van mense, nuwe moontlikhede vorm.

Miskien kan Bonhoëffer iets vir ons sê. Hy was ‘n groot teoloog wat ook die Tweede Wêreldoorlog deurgemaak het. Hy het gesê: Ek vertroos my daaraan dat die koeël wat my tref eers verby God moet gaan. Die koeël is nou wel nie God se wil nie, maar God weet van daardie koeël. Bonhoëffer het ook gesterf, maar met die troos: “Ek kan nooit uit God se hande val nie.”

Generator-OpportunityU sien dus pyn is nie God se wil nie, maar God kan dit wel gebruik. God laat soms pyn toe, om my op die pottebakkerswiel van die lewe te omvorm tot Sy eer. Pyn is ‘n besielende emosie! Dit is wanneer ek met leë hande, met betraande oë inhardloop in God se vaderhande. Heel dikwels word uit pyn, menslike karakter gebou. Soos daardie veldblommetjies wat op die sementpaadjies in die groot stede, tussen al die harde sementblokke opkom – lieflik!

Berusting in pyn is soet. God is goed.”                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

God se gemeente moet gasvry wees. (Genesis 18: 1 – 15)

GOD SE GEMEENTE MOET GASVRY WEES.

Iemand het tereg opgemerk: “Everyone is homesick!” Alle mense wil behoort aan ‘n gemeenskap.

117146538

Die hartseer van die wêreld is die baie eensame mense – wat voel hul behoort nêrens nie. Mense verlang om te kan behoort. Die mens is nou eenmaal ‘n sosiale wese, wat graag geliefd wil voel en voel dat hy of sy behoort aan ‘n groep of ‘n gemeenskap. Dit is waarom die platteland so gewild is by baie mense, want almal ken almal en jy voel jy behoort aan die dorp. In die stad, ken mense dikwels nie eers hul buurman nie. Mense verlang na vriendskap, gesels en mense wat omgee en belangstel. Daar is nie net broodhonger mense in die wêreld nie, maar ook baie velhonger mense wat soek na fisiese aanraking en omhelsing. Jy kry eensame mense wat ‘n kluisenaarsbestaan voer, tot bejaardes wat vergeet word in ‘n ouetehuis. Baie tieners voel hulle behoort nie aan ‘n “click” nie, en kan dikwels onbesonne dinge aanvang, net om te kan behoort aan ‘n groep.

Veral vreemdelinge hou ons op ‘n afstand. Hulle word dikwels as indringers beskou. Ons hou hulle op ‘n afstand. Dikwels ervaar nuwe intrekkers in ‘n dorp dat hulle nie opgeneem word in die gemeenskap nie, omdat hulle laat inkommers is. Dit kan tot baie trane lei.

In die ou Joodse Bybelse tradisie, was die versorging van die vreemdeling ‘n wet. Volgens die Joodse tradisie moet vreemdelinge altyd met gasvryheid ontvang word.

Sarah-LaughsIn ons gelese gedeelte in Genesis 18, lees ons ook van die gasvryheid van Abraham. Abraham se tente was opgeslaan in die woestyn by die bome van Mamre. Dit was die warmste gedeelte van die dag, toe Abraham opmerk dat drie besoekers oppad was na hom. Dan lees ons dat Abraham na die besoekers gedraf het, om hulle gasvry te ontvang. Hy het voor hulle gebuig en vir hulle gevra om nie verby te gaan nie. Hulle was nou eenmaal op pad hier by vergaan. Hulle moet kom sit onder die bome en rus. Hy het ook vir hulle water gebring om hulle voete te was. Dan lees ons hoedat Abraham vir Sara vra om sestien kg meel te vat, te knie en roosterkoeke te maak vir die besoekers. Hy het spesiaal ook ‘n mooi jong kalf laat slag. Verder het hy ook botter en melk, saam met die kalfsvleis en roosterkoeke voor die besoekers neergesit.

Abraham het dit gedoen, min wetende dat hulle Goddelike besoekers was. Hierdie drie besoekers het aan Abraham en Sara kom sê, dat hulle oor ‘n jaar ‘n seun sou hê. Wat ‘n wonderlike uitkoms. Iemand het ook gesê: “The stranger is not simply one who needs us. We need the stranger.” Hoe nodig het Abraham en Sara nie hierdie vreemdelinge gehad, om aan hulle die goeie boodskap van ‘n seun te bring nie. Die gasvryheid van Abraham was die begin van ‘n gesin, ‘n familie, ‘n geloofsgemeenskap, die volk Israel en later ook die kerk. Alles het begin by die vriendelikheid en gasvryheid teenoor vreemdelinge.

So is ook die verhaal van Rut, ‘n verhaal van gasvryheid. Toe Rut are optel, het Boas opdrag gegee aan nie snyers om ekstra are op die land te los, spesiaal vir Rut en haar skoonmoeder Naomi. Later het Boas deur sy gasvryheid, as losser opgetree en met Rut getrou. Obed is gebore, waaruit die nageslag van Dawid en Jesus Christus gespruit het.

Jesus Christus het ook in die gedaante van ‘n vreemdeling die wêreld ingekom. Maria, het op ‘n bonatuurlike wyse swanger geword deur die werking van die Heilige Gees. Toe Jesus gebore is, was daar geen herberg of huis waar hy gebore kon word nie. Daar was geen gasvryheid nie. Hy moes in ‘n stal gebore word. Toe hy gebore was, moes Josef en Maria met Hom na Egipte vlug, so onwelkom was Hy. Later is Jesus verjaag uit Nasaret sy tuisdorp. Jesus Christus het geen eie kussing, of huis of beurs besit nie. Hy is ook uitgevreet deur die skrifgeleerdes as ‘n vraat en ‘n wynsuiper. Die Farisieërs en skrifgeleerdes het ook veroorsaak dat hy uitgelewer is aan die Romeimse owerheid om gekruisig te word. Die skares van Jerusalem het ook geskree:”Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Sy vriende, sy dissipels het Hom ook in die steek gelaat. Sy koms na die aarde, was in die gesindheid van totale ongasvryheid teenoor die Seun van God.

deurmat-welkomTog was Jesus Christus, uiters gasvry teenoor die wêreld. Jesus het vreemdelinge laat tuiskom. Hy het tollenaars ontvang en by Saggeus aan huis oornag. Hy het die owerspelige vrou en die prostitute laat welkom voel. Hy het toegelaat dat ‘n prostituut Sy voete was met haar trane en met haar hare Sy voete afdroog. Jesus was gasvry teenoor melaatses, blindes, kreupeles, weduwees, kindertjies en die gemarganiliseerdes in die samelewing.

Die vroeë kerk het vinnig gegroei, want hulle het iets daarvan verstaan om vreemdelinge en gemarginaliseerde mense gasvry te ontvang. Die vroeë kerk het drie dinge gedoen in Handelinge, naamlik dat hulle baie gemaak het van eet, musiek maak en om stories te vertel. Om saam met ‘n vreemdeling te eet, is om hom of haar welkom te laat voel. Daarom het alle ontluikende kerke dit in gemeen – hulle laat vreemdelinge tuis kom. Die kerk moet oop wees. Die kerk moet nie veroordeel nie. Die kerk moet ondersteunend wees. Die kerk moet ‘n tuiste vir mense skep. Die kerk moet die “andersheid” van mense omhels. Die kerk moet kan nooi. Tereg word gesê: “A truly missional church integrate worship with welcome.”

Die Trinitariese God het ‘n innige gemeenskap tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hierdie Trinitariese God wil ook in ‘n innige gasvrye intieme verhouding met die kerk wees. Daarom beteken die gemeenskap van die gelowiges, om gasvry teenoor mekaar en die wêreld te wees. Daarom vertel Joh 3; 16 vir ons iets van die gasvryheid van Jesus Christus as dit lees: “Want so lief het God, die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het.”

Daarom moet ‘n gemeente in sy kleingroepe en in sy eredienste ‘n veilige ruimte van gasvryheid skep. My ervaring is wanneer ‘n kerklike kleingroep, soos ‘n wyksbyeenkoms, saam eet, musiek maak en die Bybelverhaal met mekaar deel, dan groei die wyk. Daarom het die Jode ook die gebruik om elke Vrydagaand met mekaar saam die Pasga te eet.

Christene moet die gemeenskap van gelowiges skep, deur saam met mekaar te kuier. Wanneer dit ‘n gemeente tee is, of dit is ‘n gemeente ete, gaan na die persoon wat jy die minste ken en gesels met die persoon. So word die gemeenskap van gelowiges geskep en instand gehou. Dit is wat Jesus Christus van ons verwag.

Die kerk is anders. Die kerk is anders as jou vriendekring. Die kerk is gasvry teenoor die onbekende persoon. Daarom is daar geen gelyke vir die kerk nie. Daar word ook gesê: “There is nothing like the local church!”

Geestelike vorming begin met gasvryheid. Daarom sê die Here ook, dat Hy was ‘n vreemdeling en ons het Hom ontvang. God bou Sy kerk deur vreemdelinge. Die kerk is die enigste organisasie wat bestaan ter wille van sy nie-lede.

Die kerk is nie ‘n geslote “click” nie, maar familie van mekaar. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Slawekind word kind van God. (Rom 8: 12 – 17)

SLAWEKIND WORD KIND VAN GOD.

Ek het iewers die volgende moderne gelykenis gelees:

Lank gelede in die tyd van slaweny het ‘n slawegesin op die plaas van ‘n edelman gewoon. Hulle was natuurlik die eienaar se eiendom.

criollo 123Die slaweseun, Klaas het mettertyd ‘n maatjie van die eienaar se seun, Chris geword. Hulle het werklik groot maats geword en so lief vir mekaar dat Chris by sy ouers daarop begin aandring het, dat Klaas by hulle in die huis moet kom woon. Na baie worsteling, het die edelman en sy vrou, omdat hulle slegs die een seun gehad het, besluit om aan Chris se versoek te voldoen. Maar hulle het met die slawegesin ooreengekom dat Klaas nie net by hulle kom woon nie, maar dat hulle hom ook wettiglik aanneem. Dit was ‘n geweldige stap om te neem omdat hulle reeds deur die bure en die hele gemeenskap verwerp is as gevolg van die “onbehoorlike” vriendskap tussen hulle seun en die slaweseun.

Die aand nadat hulle die outjie se paar karige besittinkies na die plaashuis oorgedra en hy ingetrek het, sit die “nuwe” gesin aan die tafel. Na ete maak die pa keelskoon en sê toe ‘n paar dinge wat Klaas se lewe ingrypend sou raak:

  • Klaas, van nou af moet jy my nie meer “baas” noem nie, maar “pappa”, net soos wat Chris my noem. Want jy is nou wetttiglik my seun. Ek het jou aangeneem.

  • Chris was tot nou my enigste erfgenaam. Hy sou alles erf, my plaas en al my besittings. Ek het vandag my testament laat verander, alles word nou tussen julle verdeel. Elkeen kry eweveel.

  • Jy word nou deel van ons familie. Jou nageslag sal ons van dra. Dit is ‘n aristokratiese van en daarom sal jy nog in die toekoms as edelman geëer word.

  • Maar voor dit gebeur, lê daar baie swaar tye vir jou voor. Chris word reeds verwerp deur sy maats. By die skool wil hulle nie meer met hom speel nie. Jy sal oral saam met hom gaan en hulle sal ook nie met jou wil praat nie. Jy sal saam ly, dit is deel van jou erfporsie.

Toe het die man gevra:”Klaas, sien jy kans daarvoor?” Klaas het sy kop op sy arms laat sak en lank stilgebly. Toe het hy opgestaan, om die tafel gestap, die man in die oë gekyk en gesê:”Pappa!” Sy pa het hom toe op sy skoot getel en gesê:” Van nou af gaan ons jou ook nie meer “Klaas” noem nie. Omdat jy nou my seun is en Chris se vroer, noem ons jou “Christen.” Maar onthou: Al gaan jy saam met hom erf en eendag saam met hom geëer word, sal jy intussen ook saam met hom moet ly.

Verstaan u die simboliek in die moderne gelykenis:

  • Die pa, die edel maan is God.

  • Chris is Christus.

  • Klaas is die slawekind, ek en jy.

  • Spottende maats is die wêreld.

Daarom is die tema van die preek:

SKOPUS: Slawekind word kind van God.

Kom ons kyk na die vier gedeeltes van die preek:

PARS 1: Ek het jou aangeneem.

Besef ons watter wonderwerk is dit dat God ons aangeneem het. Besef ons dat daar vir God nie onderskeid is tussen ons en Jesus Christus, Sy eie Seun nie.

Soos die volgende storie: Twee boeties sit in die skool in dieselfde klas. Juffrou skryf die name en geboortedatums op. Jannie is sewe, hy verjaar die 1 ste Mei. Pieter is ook sewe, hy verjaar die die 1 ste Augustus. Juffrou kry vreemd op. Twee boeties wat ewe oud is, wat net drie maande na mekaar verjaar? Ja, juffrou sê Pieter effens onseker. Dit is so, want een van ons is ‘n aangenome kind, maar juffrou, ongelukkig weet ek nie watter een nie. Ons ouers behandel ons dieselfde.

God het ons aangeneem as sy eie seuns en dogters, ja, soos sy eie. Wat ‘n voorreg!

Ons is nie meer slawe van die sonde nie. Ons is nie meer in kettings nie. Ons is vry van die sonde en sondeskuld. God het ons aangeneem.

Die wonder is natuurlik dat God ons aangeneem het en nie omgekeerd nie. ‘n Weeskind kan mos nie sy pa aanneem nie, nee dis die ouers wat die weeskind aanneem. God is nie “wees” nie, ons is “wees”. Ons was die slawe, maar nou nie meer!

Wanneer God ons aanneem doen hy dit onvoorwaardelik! Wonderlike Evangelie! Soos Chris by sy pa gepleit het om Klaas aan te neem, so het Christus vir ons gepleit, dat God ons moet aanneem.

Daarom leer God ons bid: “Ons Vader wat in die hemel is.”

PARS 2: Ek laat jou erf.

God laat ons erf uit die rykdom van Sy skatkamers: Nie alleen die ewige lewe en die nuwe Jerusalem nie, maar ook ‘n nuwe lewe. Hy skenk vir ons die wedergeboorte, die bekering, die regverdigmaking, die heiligmaking en volharding.

Hy beklee ons met geestelike gawes sodat ons lewens kan getuig dat ons onder die slawerny van die sonde uit is en werklik nuwe mense kan wees. Wat ‘n erfporsie? Oms soos konings te kan lewe eendag, maar ook nou alreeds.

PARS 3: Ek verander jou naam.

God kan mense verander. Hy het al talle mense, duisende der duisende verander.

Hy het Abram verander na Abraham. Hy het Saulus verander na Paulus. Hy het Simon verander ma Petrus. Selfs bome verander Hy: Doringbome word sipresse en dissels word mirtebome. Daarom verander God slawekinders onder die sonde, na Christenne, kinders van God. Motte word die mooiste vlinders.

Jou naam is CHRISTEN, afgelei van jou oudste broer Christus. Moet dit nooit vergeet nie.

PARS 4: Jy sal saam ly, dis deel van jou erfporsie.

Omdat Chris met Klaas gespeel het, het sy maats hom gespot en uitgeskuif. Omdat Christus in mense soos ek en jy belang gestel het, het mense Hom ook gespot en uitgeskuif na Golgota en hom verwyder uit die samelewing.

Omdat Klaas, broer van Chris geword het, het hy ook begin om lyding te verduur. Wie broer en suster van Christus geword het, sal ook bereid moet wees om spot en lyding te verduur.

Maar eendag sal ons ook deel hê aan Sy heerlikheid.

Ten slotte:

Julle is nie meer slawekinders nie! Julle is kinders van God!

Ons het gesien:

  • Ons is aangeneem …. ons mag God as ons Vader, ons Pappa aanspreek.

  • Ons word erfgename

  • Ons kry ‘n aristokratiese van …. ‘n nuwe naam: CHRISTEN.

  • Lyding is deel van ons erfporsie

Kinders, van God en sien die krone op julle koppe blink. Julle is prinse en prinsesse in die Here se Ryk. Julle het “regtig” die kinders van God geword.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om deur God se hande gevorm te word. (Jeremia 18: 1 – 17)

OM DEUR GOD SE HANDE GEVORM TE WORD

Heel dikwels maak ons ‘n gemors van ons lewe of van geleenthede in ons lewe. Ons doen soms dinge, waaroor ons later baie spyt is. Somtyds druip ‘n mens ‘n toets of ‘n eksamen. Somtyds voel jy dat jou lewe skeef loop – anders verloop as wat jy beplan het. Jou huwelik, jou gesinslewe, jou loopbaan, jou finansies loop anders as wat jy beplan en voorsien het. Soms is ‘n mens net doodeenvoudig teleurgestel in jouself en in die lewe.

Daar het dalk dikwels dinge gebeur in ons lewe, waaroor ons nie beheer gehad het nie: ongelukkige kinderjare, ‘n gebroke huis, ‘n siekte wat ons geknou het, of doodgewoon die genetiese samestelling waarmee ons die wêreld ingekom het. Somtyds voel dit of ‘n mens se lewe ‘n mislukking is! Somtyds wonder ‘n mens of jy nie maar ‘n “drop-out” is nie.

Dan nooi die Here ons vandag vir jou om saam met Jeremia te stap na die pottebakker se huis. Israel het ook heel dikwels ‘n gemors aangevang met die geleenthede wat God vir hulle gegee het.

Israel se geskiedenis is telkens gekenmerk deur verkeerde keuses en sondige afdraaipaaie. Telkens maak Israel ‘n mislukking van sy geskiedenis. Baie dikwels het Israel die “drop-out” volk geword tussen die volkere van destyds. Israel is moedeloos en die profeet Jeremia nog moedeloser. Daarom het God dit nodig geag om Jeremia op ‘n opvoedkundige toer te neem na die pottebakker se huis. Wil u nie saamgaan nie. Die Here het vandag ook vir u ‘n opvoedkundige les.

die-pottebakker-nDan is ons saam met Jeremia by die pottebakker se huis. Kyk, die pottebakker is juis besig om iets op die pottebakker se wiel te maak. Die pottebakker is besig om ‘n pragtige kruik op die pottebakkerswiel te maak. Dan skielik stort die klei inmekaar op die wiel en alles is ‘n mislukking. Gaan die pottebakker die klei weggooi? Nee, hy knie dit weer saam, plaas dit weer op die wiel en begin om ‘n skottel te maak. Uiteindelik neem dit ‘n pragtige skottel vorm aan.

Maar eintlik lees ons die Evangelie van Jesus Christus af daar op die pottebakkerswiel. Dikwels stort ons lewe ook in duie op die wentelende ratte van die wiel van die lewe. Somtyds val ‘n mens se kinderjare, jou studies, jou huwelik, jou gesin, jou loopbaan, jou gesondheid of jou lewenslus inmekaar. Dit is traumaties as jou lewe so uitmekaar val. Somtyds is dit jou eie skuld – ‘n stukkie hardheid in jou lewensklei. Somtyds is dit dinge buite jou beheer.

rippel die pottebakker se werkswinkelDie troos van die Evangelie is egter dat God ons nie weggooi as ons stukkend breek in die geweld en hardheid van die lewe nie. Mense is anders as God. Mense veroordeel mekaar en gooi mekaar weg as die een misluk of nie so suksesvol soos ek

is nie. God is egter anders: God knie ons in ons beproewinge en teenslae saam, om van ons iemand nuuts te maak. Soos die pottebakker wat van die inmekaargesakte kruik, ‘n pragtige skottel maak.

Die pottebakker maak nie van elke hopie klei dieselfde voorwerp nie. Hy maak wat hy wil met die klei. Hy verander selfs van plan om iets beters te maak van die klei. Die stuk klei kan nie ‘n fles wees nie; nou maak hy daarvan ‘n skottel. God raak nie ontslae van die klei wat nie uitgekom het soos Hy dit wou gehad het nie; Hy verander dit eenvoudig in iets anders.

Sommige mense kla, dat as God die pottebakker is en ons die klei, dan beteken dit dat die mens geen vryheid het nie. Dat ons slegs maar magtelose klei is in die hande van die Vader. Maar dan sien ons vryheid verkeerd. ‘n Vis is ook vry, maar slegs as die vis in die water is. Martin Luther het gesê” “Ons is vry van die wet, maar nooit vry van God en ons naaste nie. Sonder God en ons naaste is daar geen vryheid moontlik nie.”

Wanneer God die pottebakker is wil Hy van ons meer maak as wat ons is, soos die Engelse skrywer CS Lewis in sy boek “Mere Christianity” skryf: “Verbeel jou jy is ‘n lewende huis. God kom om dié huis te herbou. Daklekke en stukkende vloerplanke word byvoorbeeld reggemaak. Maar dan begin Hy met verbrekings aan die huis wat nie vir jou sin maak nie. Wat is Hy besig om te doen? Die verduideliking is dat Hy ‘n totaal ander huis bou as die een wat jy in gedagte het. Jy dink dat God ‘n klein, netjiese huisie gaan bou. God het egter ‘n paleis in gedagte ….. waarin Hyself wil kom woon.”

Ja, in God se hande word ons vryheid nie ontneem nie. Nee, ons is in beter hande.

Somtyds kla iemand dat hy ‘n senuweeagtige geaardheid het. Maar God maak daarvan ‘n positiewe eienskap, want sy senuweeagtigheid maak van hom ‘n sensitiewe leier wat ander mense verstaan en begrip vir hulle het. Iemand anders word gejaag deur ‘n onbesondenheid van jare gelede. As hy nie God se liefde in sy vergifnis ervaar het nie, sou hy vandag ‘n onuitstaanbare mens gewees het om mee saam te leef. En ek kan die man sien wat so graag verder wou gaan studeer en dit nie kan doen nie, en vandag uit sy pad gaan om die deure vir sy kinders en vir ander mense oop te maak. Of die persoon wat deur siekte of gebrek geteister word, verstaan sy eie en sy medemens se broosheid soveel beter. Of die persoon wat finansieel swaar trek, het soveel meer medelye met die gebrek van ander sodat hy nooit kla nie. So ‘n mens is soveel meer dankbaar vir die klein dingetjies in die lewe.

U sien God wil ons laste en mislukkings verander in iets positief. God wil ons laste in vleuels verander. Soos die beroemde gedig van die Duitse digter, Friedrich von Schiller. In die betrokke gedig word vertel hoe God die voëls gemaak het. God het die voëls vere gegee wat pragtig was om na te kyk. Hy het die voëls ook stemme gegee, heerlik om na te luister. Hy het hulle egter nie vlerke gegee nie – hulle kon nie vlieg nie. Dit is egter wat God gedoen het: Hy het hulle vlerke op die grond neergesit en gesê: “Neem hierdie laste en dra dit.” En die voëls het dit gedoen en die vlerke opgetel en oor hulle harte gevou en hulle laste gedra. Met verloop van tyd het iets gebeur; die vlerke het aan hulle borsies vasgegroei en hulle kon vlieg. Hulle laste het in vleuels verander. God wil ook ons mislukkings en “flops” verander in vleuels tot ons eie sieraad.

aba41-potterEn dit sê maar in ander woorde wat ons in ‘n smal straatjie iewers in Palestina gesien het: God gooi nie bedorwe klei weg nie, Hy maak daarvan wat hy kan. Onthou dit ook as jy vir jouself kwaad is omdat jy misluk het. Die Here gooi jou nie weg nie. Hy verander jou mislukkings in iets positiefs. Ja, jou laste en mislukkings word vleuels. Dit is mos ook die woorde van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat sê dat Hy alles (ook ons mislukkings) tot ons beswil laat dien.

In Jeremia 19 lees ons egter dat God se toorn oor Sy volk ontvlam het. Hulle wil nie klei wees nie. Hulle wil nie dat God, die goeie pottebakker hulle vorm nie. Hulle wil eerder hulle eie beelde maak, hulle wil eerder ander beelde maak. In Jeremia 19:11 lees ons hoedat God vir Jeremia sê om ‘n kleipot te koop en dan te breek, as simbool dat God die volk Israel gaan breek. Dit is dan die einde van die swak en weerbarstige klei. Dit lyk of niks hulle kan red nie.

Ons weet ook dat dié oordeel wel voltrek is. ‘n Kleipot is gebreek. God se liefde het te sterk gebrand om die swak klei weg te gooi of die nuttelose kleipot te breek. Daarom het Hy – weens Sy passie vir mense – iets ander gebreek. Nee, Iemand anders, die liggaam van Sy Seun aan die kruis.

Die teoloog AA van Ruler praat iewers van die kruis as God se weerligafleier op die dak van die wêreld. Die kruis is die plek waar God se oordeel weggelei word van mense wat dit verdien het.

Aan die kruis is Sy hande deurboor – God se deernisvolle hande – hande wat nie wil straf of slaan of ‘n beskuldigende vinger wil wys nie.

Nee, God se hande wil ons vorm soos klei.

Daarom is ware vryheid juis om in hierdie hande te rus.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)