JESUS SKEP VIR HOM ‘N FAMILIE AAN DIE KRUIS.
In my bediening as predikant het ek al dikwels opgemerk, dat die dood mense weer bymekaar bring. Ek het al soveel male gesien, hoe familielede wat jarelaas met mekaar gepraat het, by die sterfbed, weer die ou familiebande optel en weer versoen. Jarelange vetes word dikwels ook by die sterfbed begrawe. Die dood herstel verhoudinge.
Met Jesus se dood aan die kruis op Goeie Vrydag, lees ons ook hoedat Jesus ‘n familie skep. Sy moeder Maria het verwese gestaan, besig om haar oudste kind te verloor aan ‘n wrede dood. Johannes, Jesus se liefling dissipel, Johannes het ook daar gestaan. Dan spreek Jesus Sy derde kruiswoord, tussen 09h00 en 12h00.
Jesus het vir Maria gesê: “Daar is u seun.” Toe sê Hy vir Johannes: “Daar is jou moeder.” As’t ware skep Jesus hier nuwe familiebande. Hy bind Jesus en Maria in ‘n nuwe moeder en seun verhouding.
Dit simboliseer ook Jesus wat aan die kruis ‘n nuwe geestelike familie skep, wat ons die kerk noem. Nou is ons nie meer vreemdelinge van mekaar nie, maar broers en susters. Jesus Christus het ons oudste broer geword en ons het ‘n gemeenskaplike Vader in die hemel. Die bloed van Jesus Christus het ons as’t ware gebind as ‘n geestelike familie.
Jare gelede, was dit gebruik gewees dat vriende wat trou deur dik en dun aan mekaar belowe het, hul elkeen hulself met ‘n skerp lem gesny het aan die hand en hulle bloedwonde teen mekaar gevryf het, as teken van hulle lewenslange getrouheid aan mekaar. Daarvandaan kom die woord “bloedbroers” vandaan.
Aan die kruis was dit nie nodig, dat ons bloed hoef te vloei nie. Jesus Christus se bloed het gevloei in ons plek. Deur Sy bloed het Hy ons bloedbroers en bloedsusters van mekaar gemaak. Ons het ‘n geestelike familie geword. Daarom glo ons in EEN HEILIGE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK.
Daar staan verder in Johannes 19: 27 (b) dat Johannes vir Maria in sy huis opgeneem het. Dit impliseer versorging en ‘n tuiste. So moet die kerk as geestelike familie vreemdelinge opneem in in hulle midde as broers en susters van mekaar.
Die hartseer van die Christelike kerk, is dat mense aan Jesus wil behoort, maar nie aan die familie van Christus nie. Hulle sal God in hul persoonlike lewe aanbid, maar wil glad nie inskakel by die plaaslike gemeente se wel en weë nie. Hulle distansieer hulself van ander gelowiges. Dit getuig van ‘n stuk meerderwaardigheid of van onbetrokkenheid. Hulle soek redes om nie in te skakel nie. Hulle soek Jesus se liefde en seën in hulle lewe, maar wil self nie ander liefhê of tot seën vir ander wees nie. Dit getuig van uiterste selfsugtigheid.
Wanneer jy in die huwelik tree, trou jy ook met jou skoonfamilie. Hulle word deel van jou familie. Wanneer jy nie jou skoonfamilie aanvaar nie, bring dit spanning en ongelukkigheid in die huwelik. Wanneer jy in ‘n verhouding met Jesus Christus is, moet jy ook die familie van Christus aanvaar en liefhê. Jy kan jouself nie uitsluit van jou aangetroude familie nie.
Jesus Christus kan nie in privaatheid aanbid word nie. Jesus kan net in die openbaar aanbid word saam met ander broers en susters. Die Here Jesus het ‘n gemeenskap van gelowiges geskep, wat ons die kerk noem en Hy wil hê ons moet deel daarvan wees.
Jy kan nie die Here Jesus aanbid, sonder die kerk nie. Jy kan nie sonder die kerk ‘n Christen wees nie. Die Here Jesus het jou geroep om as kerk, deel van Christus se liggaam te wees. (1 Kor 12) Jy is deel van die kudde van die Here. Jy kan nie as ‘n enkele skaap ronddwaal nie. As jy nie deel het aan Jesus se kerk nie, is jy soos ‘n los steen, wat buite die gebou nutteloos rondlê.
Jesus het op Goeie Vrydag aan die kruis gesterf, juis om Sy volgelinge EEN te maak, een huisgesin, een familie en een geloofsfamilie. Ek kan nie buite hierdie EENHEID, myself afsonder op ‘n eiland. Dan is ek doodeenvoudig nie ‘n volgeling van Jesus Christus nie. Wie Jesus volg, moet aktief deel hê aan die Here se kerk.
Die prediker Fred Cradock het geskryf: “ The measure of your christianity is not who you feed, but who you eat with.” Ons kan maklik vir behoeftiges kos gee of ‘n bydrae gee. Maar is ons bereid om saam met hulle te eet? Dit is die toets van ware Christenskap.
Netso kan kan ek nie op die kantlyn van die kerk staan en gedurig die kerk kritiseer nie. Ek moet deelneem aan my geestelike familie se aktiwiteite deur solidêr EEN met my geloofsfamilie te wees.
Mense soek maklike verskonings om nie deel van die kerk te wees nie. Mense kan dikwels hulle medekerkgangers kritiseer as skynheilig en daarom nie kerk toe gaan nie. Wat hulle vergeet is dat die kerk juis ‘n plek van sondaars is. Die kerk is ‘n hospitaal vir gebroke mense. Ek hou myself beter, as ek nie my medekerkgangers omhels ten spyte van hulle foute en al.
Wie Jesus volg, moet Jesus se familie ook volg. Met die derde kruiswoord het Jesus ons juis familie van mekaar gemaak. Daarom moet ons mekaar omhels met Christelike broederskap en aanvaarding.
Die kruis van Christus, is soos ‘n magtige magneet, wat mense nader trek na Christus toe. Maar die kruis trek ons ook soos ‘n magneet na mekaar toe, om ‘n geestelike familie vir mekaar te wees. Sonder die magnetiese krag van die kruis, sal ons in die donker koue alleen staan.
Mag die magnetiese krag van die kruis jou na Christus en ook na jou mede gelowige toe trek. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)