Met die “heilige doop” kry ons God se nommerplate


SKRIFLESING:  Kol 2: 12 en Markus 9:42

’n Predikant het êrens geskryf dat ons met die doop God se nommerplate kry. Dit het my gedagtes aan die gang gesit en met hierdie idee het ek ’n dooppreek begin  skryf vir Jan Righard Ehlers-Breedt, die kindjie van Gerhard en Jean-Mari.

Mense is trots op hulle motors se nommerplate. Voor 1994 het elke nommerplaat aangedui van watter dorp af jy kom. In Strydenburg en Hopetown het die nommerplate begin met CBE.  Adelaide se nommerplate het begin met CFJ. Mense was trots op hul nommerplate. Jy het ’n identiteit gehad. Jou nommerplaat het gesê waar jy vandaan kom. Toe verander alles en ons kry nommerplate wat met EC eindig, en met ’n olifant en ’n aalwyn op.  Elke provinsie het sedert 1994 sy eie provinsiale nommerplate, behalwe die Wes-Kaap wat gehou het by die registrasienommer van die dorp of stad.

Mense lewer soms ook kommentaar oor ander provinsies se nommerplate. As ’n motor met ’n GP-registrasie te vinnig ry, dan sê hulle dit is tipies van Gauteng Provinsie se bestuurders: hulle jaag altyd. Of hulle praat van GP – nommerplate as “Gangsters Paradise.” George se nommerplaat begin met CAW, wat spottenderwys beteken dat dit altyd “cold and wet” daar is.

Met ons doop kry ons metafories gestel God se Koninkryk se nommerplate. Die doop sê wat ons diepste identiteit is. Soos ’n nommerplaat aandui waarvandaan jy kom, sê die doop dat ons God se kinders is. Ons diepste identiteit is Jesus Christus.

Wat is ons identiteit? Kol 2: 12 gee vir ons die antwoord: “Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het.”

Dit beteken dat ons as sondige mense in ons doop saam met Christus gesterf het en begrawe is en ook saam met Christus opgewek is. Ons het deur die doop deel aan die kruisiging, begrafnis en opstanding van Christus. Dit is ons identiteit en diepste waarborg.

Die doop roep ons op om ons nuwe identiteit in Christus uit te leef.  Op ons lewensnommerplaat moet daar staan “Gedoop in Christus”. Saam met Christus gesterf, begrawe en opgewek.

Gerhard en Jean-Mari, julle moet vir Righard leer sy lewensnommerplaat  moet lees “Christus”. Almal moet kan sien en beleef dat hy aan Christus behoort. Julle moet vir julle seuntjie Righard so leer dat hy sy lewe moet leef as Christen en dat Christus sy nommerplaat moet wees.

In die eerste eeu was dit vir Christene moeilik om die nommerplaat van Christus te dra. Sou jy uit ’n ortodokse Joodse familie kom en jy word gedoop as Christen, dan is jy verwerp uit die Joodse gemeenskap en waarskynlik ook uit jou familie. Niemand wou met jou iets te doen gehad het nie. Jy het ook nie sommer by die gildes werk gekry nie. Dieselfde was die geval met dopelinge uit die Griekse gemeenskap. As jy gedoop is, het jy vriende en kennisse verloor.

En wat gevolglik in die eerste eeu gebeur het, is dat baie mense gedoop is, maar dit vir hulself gehou het. Die gemeenskap moes nie daarvan weet nie, anders sou jy jou staanplek in die gemeenskap verloor. Hulle was soos voertuie wat sonder nommerplate ry. Hulle het skaam gekry vir hulle doop.

Ons kry ook vandag dikwels “skaam” om die Here Jesus in ons lewe uit te lewe. By die teeparty of die braaivleisvuur lewe ons dikwels ’n ander lewe as dié van ’n Christen. Dan maak vloektaal, rassisme, seksisme, skeltaal, slegte grappe en ’n geskinder, van ons ’n voertuig sonder nommerplate.

Markus 9:42 lees as volg:  “Wie een van hierdie kleintjies  wat in My glo, laat struikel, dit sou vir hom beter wees as die maalklip van ’n donkie  om sy nek gehang en hy in die see gegooi word.” Met ander woorde, as ’n volwassene of ’n ouer of familielid deur slegte gedrag dit vir ’n dopeling moeilik maak  om te glo, verdien jy om met ’n meulsteen om jou nek in die see gegooi te word.

’n Mens kan deur  jou gedrag dit vir ander mense maklik maak om te glo. Of jy kan dit moeilik maak vir ander om te glo. Jy kan ’n kind bou of afbreek – met jou woorde en gedrag.

En Jesus sê: Ek wil nie hê jy moet jou vir My skaam nie. As Christus dit alles vir ons gedoen het, is dit nie te veel gevra dat jy in die openbaar opstaan vir die Here en jou nie vir Hom skaam nie. Dan dra jy met trots jou nommerplaat dat jy in Christus gedoop is.

Ek moet my nie oor my doop skaam nie. Ek moet my nie skaam om as gedoopte te lewe, met die nommerplaat van “Gedoop in Christus” nie.

As gedoopte Christen moet ek my nooit skaam vir Christus nie. Ek moet sonder skaamte lewe as Christen in my gesin, my werksplek, my sosiale lewe en in alles wat ek doen.

Daar word vertel van ’n meisie wat in Oos-Maleisië na haar bekering gedoop is as volwassene. ’n Persoon het opgemerk dat daar iemand se bagasie teen die kerk se muur staan. Iemand het gevra wie se bagasie dit was. Die pastoor het na die meisie gewys wat pas gedoop is en gesê: “Haar pa het gesê dat as sy as ’n Christen gedoop word, sy nooit weer huis toe kan gaan nie. Sy het dus haar bagasie gebring.”

Soos ’n EC-nommerplaat vertel jy kom van die Oos-Kaap en ’n GP-nommerplaat vertel jy kom van Gauteng, moet jy, Righard, die nommerplaat van Christus dra, sodat almal kan sien jy is van Christus.  Aan jou lewe moet gesien word dat jy ’n Christen is.

As Christen-gesin moet julle jul seun Righard begelei en opvoed om ook eendag ’n Christen te wees met ’n Christus-nommerplaat.

Jy het nie ’n klomp kinderopvoedingsboeke nodig nie. Volg net Johannes Calvyn se raad in sy Institusie. Gee vir kinders geborgenheid en sekuriteit. Geborgenheid kry ’n kind deur ’n oormaat van liefde. Sekuriteit kry ’n kind deur strengheid. Dit is die beste raad vir kinderopvoeding. Leer vir Righard van vroeg af van die Here en leer hom om op die pad van die Here te wandel.

Gerard en Jean-Mari, mag die Here vir julle en jul seuntjie seën met oorvloedige guns en seëninge.

AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Randy Frazee. Baptism: A Public Declaration of Dependence. Preaching Today.

Jim Denison. Teen Brought Luggage to Her Baptism. Preaching Today.

Lewer kommentaar