SELFBEHEERSING IS DIE BESTE WAPEN (Spreuke 16: 32; 22: 24 en 29: 11

SELFBEHEERSING IS DIE BESTE WAPEN

Piet Naudé vertel die verhaal van die Middeleeuse Koning Genghis Kahn wat oor die magtige Mongoolse Ryk in Oos Europa geheers het (1162 – 1227).

www.wikipediaDie koning was lief gewees vir jag en hulle het valke gebruik om die prooi vir hul uit te wys. Wanneer die valk byvoorbeeld afpyl op ‘n haas het hulle geweet, waar om vir die prooi te jag.

(Foto krediet: http://www.wikipedia)

Aan die einde van een van sy middagjagtogte, het hy sy jaggeselskap huis toe gestuur om nog ‘n bietjie alleen in die woud te vertoef. Ook sy mak valk het hy huis toe gestuur, want dié valk het geweet waar die paleis is.

Dit was ‘n warm dag en die koning was moeg. Hy was baie dors en hy kon nêrens ‘n fonteintjie of poeletjie water vind om te drink nie. Uiteindelik sien hy water afdrup van ‘n krans en hy hou sy perd in.

httpwww.twilightatmorningside.comwp-contentuploads201112hawk-13.jpgHy haal sy silwer beker uit die saalsak en probeer om die druppende water op te vang met die beker. Dit gaan maar tydsaam. Net toe die koning die beker na sy mond toe neem, toe peil sy valk op hom af en stamp met sy vlerke die beker uit sy hand.

(Foto krediet: http://www.twilightatmorningside.com)

Die valk gaan sit toe op ‘n hoë rots en vir die koning kyk. Die koning is vies, maar dink dit was ‘n ongeluk. Hy tel toe maar weer die silwer beker op en hou dit onder die druppende water, wat teen die krans afdrup. Na ‘n lang gesukkel is die beker halfpad vol. Net toe hy dit weer na sy mond toe bring om te drink, swiep die valk weer oor sy kop en stamp die beker ‘n tweede keer uit sy hand. Nou is die koning kwaad en waarsku die valk, dat hy volgende keer die valk sal doodmaak as die valk dit weer doen. Weer na ‘n lang gesukkel kry hy die beker weer halfpad vol. Weer swiep die valk oor die koning en stamp die beker uit die hand van die koning. Dit rol tussen ‘n rotsgleuf in, onbereikbaar vir die koning. Die koning is so woedend, dat hy sy swaard rondswaai en die valk doodkap, sodat jy net vere en bloed sien. Sonder ‘n beker moet die koning nou opklim teen die krans om die water met sy hande op te vang. Toe hy aan die bokant van die krans kom, sien hy tot sy skok ‘n erg ontbinde dooie slang, van die heel giftigste slange in die Mongoolse Ryk. Sou hy van die water drink, sou hy sterf. Skielik besef hy, dat hy sy eie valk onskuldig doodgemaak het, wat hom wou red van ‘n gewisse dood. Sy humeur het sy kosbare vriend se lewe gekos. Daar word voorts vertel dat koning Genghis Kahn toe opdrag gegee het, dat ouers en onderwysers hul kinders moet leer om nooit uit woede oorhaastig op te tree nie.

pinterestHoe dikwels verloor ons nie ons humeur en tree uit suiwer woede op nie. Ons is op die pad humeurig met mekaar. Wanneer die staal en die glas van die motorkajuit ons toevou, verloor ons geduld met ander mense op die pad.       (Foto krediet: pinterest)

Padwoede is ‘n algemene probleem op die Suid Afrikaanse paaie. In die huwelik en gesin verloor mense hulle humeur met diegene wat die naaste aan hulle staan.

Ons is veral ook ongeduldig en humeurig met God. As ons bid, moet God ons dadelik antwoord en op ons voorwaardes. Ons het verleer om te wag op God. Ons kan so maklik vir God kwaad raak of dink God kom ons te na.

Mense is ongeduldig en humeurig met hulself. Mense kan hulself nie aanvaar nie. Mense is ongeduldig met hulle voorkoms en besittings. Humeurige mense is gefrustreerde en ongelukkige mense. Wanneer ons so ongeduldig is met mekaar, met God en met onsself is dit ‘n simptoon dat ons van die Heilige Gees vervreemd is.

Spreuke 22: 24 – 25 staan daar: “Moenie maats maak met ‘n opvlieënde mens nie, moenie saamgaan met een wat kort van draad is nie: dalk leer jy sy maniere aan en beland jy in lewensgevaar.”

Teenoor humeur staan geduld. Gregorius die Grote het nie geskroom om geduld “die wortel en bewaarder van al die deugde” te noem nie. Nilius praat van geduld as die “koningin van alle deugde”.

In Spreuke 16: 32 staan: “‘n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem.” Duidelik kan ‘n mens aflei dat Koning Salomo ‘n groot premie plaas op GEDULD en SELFBEHEERSING. Met die twee deugde kan jy ‘n stad inneem.

Daarmee ontken ons nie, dat daar so iets is soos woede nie. Inteendeel dit is ‘n menslike emosie. Ons kan dit nie ontken nie. Koning Dawid sê in Ps 30: 6 dat selfs “God se toorn net ‘n oomblik duur, maar sy goedheid lewenslank.”

Wanneer ‘n mens woede onderdruk of ontken is dit net so goed as wat jy ‘n klomp giftige afvalstowwe begrawe. Later skep dit oneindige probleme. Wanneer dit begin lek vergiftig dit stadig maar seker ons liggaam, ons gedagtes en ons verhoudinge. Wie woede opkrop, skep in homself ‘n oorlog. Passiewe aggressie ontplof later in ‘n onbeheerste woede uitbarsting.

‘n Mens moet kan erken as jy woedend is. Maar om daaroor uit te bars is nie konstruktief nie. Eerder moet ‘n mens gaan soek na die oorsaak van jou woede en dit beheersd aanspreek, soos om stoom geleidelik los te laat. Die Here sê mos dat as jy kwaad is, moet jy nie sondig nie.

Ons probleem is dat ons oor die verkeerde goed woedend word. Ons word woedend oor wat mense en omstandighede aan ons doen, in plaas daarvan om woedend te word oor die regte goed soos geregtigheid in die samelewing en wanneer mense verontreg word of as God bespot word. Daarom moet ons leer om oor die regte dinge woedend te word, soos wat Jesus woedend was oor hulle die tempel in Jerusalem verontreinig het met handelaars.

God se geduld staan voorop in die Bybel. Een van God se eienskappe is juis dat hy lankmoedig en vol geduld is. Juis in God se liefde vir sondaars lees ons van sy lankmoedigheid teenoor sondaars. Wanneer Hy sy enigste Seun, Jesus Christus stuur toon Hy aan ons juis sy eindelose geduld met ons. Stukkende goed gooi ons weg. Ons wil nie daarmee sukkel nie. Maar nee, God gooi nie stukkende mense en ‘n stukkende wêreld weg nie. Hy is juis die Pottebakker wat die klei wat ineengestort het op die pottebakkerswiel weer knie en oor begin om ‘n nuwe voorwerp te maak. God maak stukkende mense se lewens reg, omdat Hy geduldig is. Daarom moet ons met ander se foute geduld hê, want ons almal is “onder konstruksie”. God is nog nie klaar met ons lewe nie. As God soveel geduld met ons het, behoort ons ook geduld vir mekaar te hê. Ja, ons moet geduld vir mekaar se foute hê en mekaar nie sommer afkraak nie. Soos wat God my lewe elke dag verander om almeer na Sy beeld te lyk, moet ek God toelaat om ook ander mense se lewens te verander om almeer God se beeld te wees.

Daarom onthou: ons almal is ONDER KONSTRUKSIE.

Ek moet leer om geduldig te wees met my lewensmaat, met my kinders, met my ouers se foute, met my kollegas, met my naaste in die ander motorvoertuig en die straatboemelaar. Wanneer ons ongeduldig en humeurig raak met mekaar, kwets ons ander mense met ons woorde en ons lyftaal. Dit is die seerste seer wat ek ‘n ander mens kan aandoen.

Ons sal ook moet leer as samelewing om meer geduld te hê met bejaardes, kinders, gestremdes en armes.

Ons moet geduld hê met God as ons bid. God spring nie rond om elke dag onmiddelik al ons gebede en versoeke te beantwoord nie. God sien wyer en verder as ons. In die tyd beantwoord God alle gebede. Geduld is om in die swaar van elke dag, nog die baie goeie en mooi dinge raak te sien. Geduld is om God te loof vir sy goedheid elke dag aan ons betoon.

Ten slotte: Die deug van geduld word nie deur inoefening of deur selfbeheersing verwerf nie. Dit is ‘n gawe van die Gees. Daarom wie in die Gees van God wandel, sal ook hierdie deug as ‘n gawe ontvang uit die hand van God.

httpwww.twilightatmorningside.comwp-contentuploads201112hawk-13.jpgIemand wat woedend raak, iemand wat sy humeur verloor het klaar verloor, hy is soos die koning wat sy eie valk uit woede doodgemaak het. Jy bring net skade en skande oor jouself.

(Foto krediet: http://www.twilightatmorningside.com)

Soek eerder die oorsaak van jou woede en spreek dit aan. ‘n Kalm gees is soos genesende salf.

In Spreuke 29: 11 staan daar: “’n Dwaas gee vrye teuels aan sy woede; ‘n wyse mens kry die dwaas naderhand gekalmeer.” Wil jy wys of dwaas wees?                                  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

‘n Nuwe voetpad …., nuwe denke ……. (Fil 4: 1 – 9)

‘N NUWE VOETPAD …., NUWE DENKE …….

Voetpaaie is vir my baie baie interessant.

Photo credit - Marymichaelpilgrimsway.orgGewoonlik neem mense die kortpad oor ‘n stuk veld of grasperk en mettertyd ontstaan daar ‘n voetpad. Daar kan ‘n bestaande geplavleide pad wees, maar mense sal altyd kortpad vat en mettertyd hulle eie voetpad uittrap.

(Foto krediet – Marymichaelpilgrimsway.org)

Ek het êrens gelees dat by die beplanning van ‘n groot boukompleks het die kontrakteur die gebou voltooi, maar nie die staproete tussen die gebou en parkeerkompleks dadelik geplavei nie. Hy het eers ‘n paar maande gewag, om te kyk watter kortpad die mense neem en toe het hy agterna die uitgetrapte voetpad geplavei. Hy het eers gekyk watter pad die mense self kies en toe het hy dit geplavei.

Mense vorm in hulle brein ook kortpaaie. Die manier waaroor jy oor dinge dink, vorm jou persoonlikheid. Ons noem dit sommer in die algemeen, hoe ‘n mens bedraad is. Sommige mense se geaardheid is altyd negatief. Ander is weer gedurig bitter oor die lewe. Nog ander se geaardheid is altyd onvriendelik. Gelukkig is daar ook mense wie se geaardheid altyd positief en blymoedig is. As ‘n mens eers ‘n gewoonte gemaak het om oor alles pessimisties te wees, gaan jy ‘n negatiewe voetpad in jou brein uittrap en jou persoonlikheid gaan negatief wees.

Gelukkig hoef ‘n mens nie ‘n slagoffer van jou geaardheid te wees nie. Mense se geaardheid kan verander. Dit is presies wat Paulus bedoel in Filippense 4: 4. Dit lees: “ Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal:Wees bly!” Stefan Joubert skryf dat mense altyd dink dat jy net in jou hart moet bekeer. Maar eintlik daag Paulus ons uit om ook in ons denke te bekeer. Ons skrifgedeelte Fil 4: 1 – 9 handel ten diepste oor die bekering (metanoia) van ons denke en verstand. Ons moet ook in ons denke vernuwe word om nuwe mense in Christus te word. In Fil 4: 8 staan daar: Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

‘n Mens se geaardheid en lewensuitkyk word grootliks gevorm deur jou gedagtes en denke. Wanneer jy ‘n voetpad van negatiwiteit uitgetrap het in jou kop, sal jou geaardheid ook so wees. Hoe verander ‘n mens jou geaardheid en persoonlikheid? Jy verander jou denke. Hoe kry jy dit reg? Kom ons gaan terug na die beeld van die voetpad. As jy ‘n draad of heining span in die pad van die voetpad, sal jy mense dwing om ‘n ander voetpad uit te trap. Net so as jy in jou denke bekeer word, sal jy ‘n hindernis sit in die voetpad van negatiewe denke, wat jou sal leer om die positiewe te soek. As jy lank genoeg die positiewe bedink, sal ‘n nuwe voetpad van positiewe denke en geaardheid gevorm word.

Daarom moet mense nooit dink hulle kan nie verander word nie. Jy kan verander! Jy begin om te verander, deur jou denke te verander en te vernuwe. Jy begin deur jou denke te bekeer!

René Descartes het geskryf: “ Cognito ergo sum.”, wat beteken “Ek dink, daarom is ek.” Juis daarom moet jou denke ook vernuwe en bekeer word. Wie sy denke bekeer, bekeer ook sy lewe en sy dade. Onthou dat sonde, se beginpunt is in jou denke. Daarom sê Paulus moet ons eerder bedink alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, en alles wat prysenswaardig is. Wie se denke in lyn is met God se wil, se lewe sal ook in lyn met God se wil wees.

Dr. David Stoop het ook ‘n boek geskryf met die naam: “ You are what you think.” Dit beteken dat jy word of is, wat jy dink. Jou denke bepaal jou lewensuitkyk.

Paulus skryf hierdie brief vanuit die tronk. Hy sit in die tronk onskuldig onder die haglikste omstandighede, maar hy KIES om sy denke in te stel op blydskap in die Here. Hy kies om inskiklik (vriendelik) te wees met die Romeinse owerheid wat hom onskuldig gevange hou. Daarom kan Paulus met reg die gemeente van Filippi oproep om altyd in alle omstandighede met blydskap vervul te wees en om inskiklik teenoor alle mense, self jou vyande te wees.

RxEQ4282906

Victor Frankl het gesê in sy boek “Search for meaning”, dat ‘n mens dikwels jou eie gevangene is. Jou eie denke hou jou gevange. Daarom sê hy dat elke mens die vryheid het om te kies, hoe om te reageer in elke omstandigheid. Jou denke kan jou vry maak of jou denke kan jou gevange hou.

‘n Mens is nooit die slagoffer van jou omstandighede nie, maar eerder die slagoffer van jou eie denke. Juis daarom moet ‘n mens ook jou kop (jou denke) bekeer om te alle tye positief te bly.

Wanneer ons bekommerd is (wat menslik is), skryf Paulus moet ons deur gebed ons begeertes aan God bekend maak, deur met smeking en danksegging te bid.

gebedGebed het die kragtige uitwerking om die voetpad van jou negatiewe gedagtes, te herlei om ‘n nuwe voetpad van positiewe gedagtes te vorm, waar ons ook die vrede van die Here sal ervaar wat alle verstand te bowe gaan. Nooit mag ons die krag van gebed onderskat nie. God kan deur ons gebede kragtige dinge doen. Daarom moet ons in ons aanvegtinge, ons wend tot gebed.

www.leveringtonparishcouncil.orgHoe lyk die voetpad deur jou gedagtes? Is dit gevul met negatiwiteit en pessimistiese gedagtes?

(Foto krediet: http://www.leveringtonparishcouncil.org)

Jy kan ‘n draad span en begin om positiewe dinge te bedink. Dan sal jy ervaar dat ‘n nuwe voetpad in jou gedagtes uitgetrap word – ‘n voetpad van blymoedigheid en vrede. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)  

Wat is jou grootste bate? ( Fil 3: 4b – 14 )

WAT IS JOU GROOTSTE BATE?

Bates en laste is bekende woorde in die finansiële wêreld.

thDie ideaal is altyd om jou bates te laat groei en jou laste te verminder. Dit kan die verskil tussen rykdom en bankrotskap beteken. Mense vergader vir hulle bates. Somtyds is dit mense se enigste sin in die lewe om soveel moontlik bates te vergader. Bates gee maklik vir ons ‘n valse sin van sekuriteit. Bates is altyd sigbare goed.

In ons gelese gedeelte verwys Paulus ook na die geloofsbates in sy lewe. Paulus skryf dat hy op die agste dag besny is, dat hy van geboorte ‘n Israeliet is, dat hy uit die stam van Benjamin kom, ‘n rasegte Hebreër, in wetsopvatting ‘n Farisieër, in sy ywer ‘n vervolger van die Christelike kerk, in sy onderhouding van die wet om vryspraak te verkry onberispelik. Inderdaad het Paulus se lys van persoonlike geloofsbates indrukwekkend gelyk. Sy CV was uitstaande.

So maklik kan ons ook op uiterlike dinge roem. Ek is ‘n Afrikaner, ‘n regte Boer, lidmaat van die NG Kerk, ‘n kerkmens, voorbeeldig en met ‘n goeie naam in die gemeenskap. Dalk behoort ek nog aan ‘n spesifieke kultuurorganisasie en gee my bydrae vir die FAK. Ek kan verder dalk nog roem oor my kwalifikasies en wat ek alles bereik het in die lewe. My persoonlike rykdom en materiële bates ondersteun my stand en klas in die samelewing. So kan ‘n mens maklik begin roem op uiterlike dinge. Hierdie uiterlike dinge kan staan tussen jou en die Here. Jou bates kan ‘n struikelblok word in jou verhouding met die lewende Christus.

‘n Gemeente kan ook maklik spog oor haar bates, soos ‘n mooi kerkgebou, kerksaal, finansiële bates en baie lidmate en ‘n paar leraars en baie mooi gemeenteaksies. Dan word ‘n gemeente se bates ‘n struikelblok in die gemeente se verhouding met die Here. Alles wat groot en “WOW” is, word mos deedae aanbid. Eduan Naude skryf: “ Miskien leer ons van vooraf dat daar ‘n onderskeid is tussen “theologia triumphalis” en “theologia crucis”, ‘n teologie wat magsdiskoerse gebruik (geld, getalle, geboue), en ‘n teologie wat die navolging van die Gekruisigde verkondig.” Uiterlike bates van mag soos geld, getalle en geboue mag nooit ‘n struikelblok word om die gekruisigde Christus te verkondig nie.

Eers wanneer ek my persoonlike bankrotskap voor God besef, kan ek die gekruisigde Christus volg. Eers wanneer jou geestelike bankrotskap vir jou meer bekommer as jou uiterlike bates, kan jy in verhouding met die lewende Christus wees. Retief skryf so helder: “ Paulus besef dat wat wins was, eintlik ‘n verlies geword het. Wat bates was, was eintlik laste. Wat goed was, was eintlik sleg. Omgekeerd word sy verlies vir hom tot wins. Sy laste word sy bate. Wat sleg was, word vir hom goed.”

Daarom sê Paulus moet ons nie op uiterlike dinge vertrou nie. Al wat Paulus wens en begeer is om Christus te ken. Daarom laat hy nie toe dat uiterlike dinge sy oog van Christus afhaal nie. Daarom lê ons sekerheid van geloof nie in onsself en in ons geloofsbates nie. Ons sekerheid van geloof lê buite onsself in wat Christus vir ons gedoen het.

anchorDit is soos ‘n boot wat in ‘n woeste see dreig om te vergaan. Die kaptein gooi die anker nie op die boot om dit te anker nie. Nee, hy gooi dit oorboord, buite die skip in die diep water om dit te anker. So moet ons, ons sekerheid nie in onsself soek nie, maar buite onsself in Christus wat vir ons gesterf het. As ons, ons sekerheid soek in onsself en in ons eie geloofsbates, sal ons altyd onseker wees van ons geloof en of ons genoeg gedoen het. Maar as ons dit soek buite onsself in die objektiewe verlossingsdaad van Christus sal ons ‘n vaste grond hê vir geloofsekerheid.

Five_SolasDaarom bely ons in Reformasie 500, soos Martin Luther dit verwoord het: SOLA SCRIPTURA (die Skrif alleen), SOLA FIDE (geloof alleen), SOLA GRATIA (genade alleen), SOLO CHRISTO (Christus alleen), SOLI DEO GLORIA (aan God alleen die eer).

Nie ons bates of ons geloofbates mag ons wens of begeerte wees nie, maar om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding. Christus moet ons enigste bate wees.

393px-231000_-_Athletics_track_100m_T20_final_Lisa_Llorens_silver_action_-_3b_-_2000_Sydney_race_photoDaarom skryf Paulus in Fil 3: 13 – 14 dat hy hom losmaak van sy voormalige bates (wat agter is) om by Christus (wat voor is) te kom. Hy span homself in om by die wenstreep te kom, wat Christus is. Om die wenstreep te behaal is dit nodig om die bagasie (van geloofsbates) af te gooi en Christus as enigste bate te verkry.

Waarop roem jy in jou lewe? Oor jou bates of jou geloofsbates? Nee, jou enigste roemtaal moet Christus wees.

Die Protestante onder andere die Franse Hugenote het 500 jaar gelede uit Europa gevlug na Suid Afrika, ter wille van hulle geloof dat Christus alleen jou regverdig maak. Hulle het hulle bates (huise, plase en aardse besittings) agtergelaat, die vreemde in, omdat hulle enigste bate en roemtaal Christus was. Vandag verlaat Suid Afrikaners die land oor ekonomiese en politieke redes.

Vyfhonderd jaar gelede het hulle Europa verlaat oor geloofsredes.

Daarom begin die Heidelbergse Kategismus met die vraag:

Sondag 1, Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe .

Mag Christus ook u enigste bate en roemtaal wees! AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Nederigheid bring eensgesindheid. (Fil 2: 1 – 13)

NEDERIGHEID BRING EENSGESINDHEID.

Die meeste probleme in die wêreld word veroorsaak deur mense wat belangrik wil wees.

main-qimg-d50982369fa7c69fea789e1856d53143-cOns lewe in ‘n wêreld van konflik, waar elkeen belangrik wil wees en self die kitaar wil slaan. Ons kry konflik in huwelike, gesinne, werksplekke, die samelewing en in die politiek. Faksie geweld binne politieke partye is algemeen.

Dié wêreld is ook vol van binne politiek in die werksplek en organisasies. Van die begin van die wêreld wou die mens belangrik wees, daarom het Eva toegegee aan die duiwel se versoeking om “ook soos God te wees” en het sy die verbode vrug geëet. Om belangrik te wil probeer wees, maak van jou ‘n dwarstrekker wat konflik aantrek, omdat jy alles volgens jou sin wil hê.

Daarom skryf Paulus aan die Fillipense in hoofstuk 2 om vir hulle Jesus Christus voor te hou as die een wat homself verneder het en die gestalte van ‘n slaaf aan te neem. Jesus Christus het homself verneder deur aan ‘n kruishout te sterf. In Johannes 13 lees ons van die voetewas episode. Die dissipels was in die bovertrek bymekaar en het onder mekaar baklei wie die belangrikste een is en wie aan Jesus se regterhand en wie aan Jesus se linkerhand gaan sit. In plaas van om meegevoer te word oor die naderende lyding van Jesus Christus, is hulle bekommerd oor posisies. Die 12 “ekke” was met hul “12” selwe besig daar rondom die eerste Nagmaalstafel. Daar was geen slaaf nie en niemand was bereid om die plig op hom te neem om die ander se voete te was nie. Dit was ‘n skaakmat – situasie, want eersug het die oorhand gekry.

voetewas

Dan kom stel Jesus die voorbeeld. Hy kruip van stinkende voet tot stinkende voet en was al sy dissipels se voete. Dan gee die Here die opdrag, dat ons sy voorbeeld moet navolg.

Konflik ontlonting vind plaas, waar mense nederig word en mekaar se voete was, in plaas van mekaar se koppe te was.

Paulus vra in Fil 2: 2 dat die gemeente in Fillipense sy blydskap volmaak moet maak, deur eensgesind te wees in : een in liefde, een van hart en een in strewe. Die onderlinge eensgesinde “koinonia” is een van die vernaamste kenmerke van die kerk. Ons bely mos in die Credo van die kerk, dat ons glo in “een, heilige algemene Christelike kerk”. Verder bely ons ook in die “gemeenskap van gelowiges”. Vers 1 beskryf hierdie “koinonia” waaraan ons deel het met woorde soos liefde, meegevoel en meelewing. Vers 1 sê verder ons kan dit beleef omdat ons die troos in Christus beleef.

72c7a11b62a0abbc218f1cb690bbb5af--one-and-one-innocent

Daar is ‘n Latynse spreekwoord: “Unus pro omnibus, omnes pro uno”, wat beteken One for all, all for one“. Dit was die motto gewees van die Franse boek: “The Three Musketeers” waar ‘n groep van Franse Musketiere, naamlik Athos, Porthos, Aramis en d’Artagnan saam gestaan het deur dik en dun. Die boek is die eerste keer gepubliseer in 1844 deur Alexandre Dumas.

One for all, all for one“, is die gees van die Christelike eensgesindheid waarvan Paulus praat in Fil 2: 2. Christus het vir almal gesterf en die troos gebring. Daarom word almal in ‘n hegte eenheid saamgesnoer, deur Christus wat die eenheid gebring het.

Opregte Christene gaan afstand doen van hul belangrike troontjies ter wille van die eenheid in Christus.

Family

Daar was ‘n ou Joodse gebruik waar mense in ‘n sirkel gedans het by Joodse feeste. In ‘n sirkel is daar nie eerste en laaste soos in ‘n ry nie. Almal in die ry is gelyk, almal is tegelyk eerste en tegelyk laaste.

Daarom moet dit vir Christene gaan oor dienswerk en nie posisies nie.

Wanneer ‘n gelowige in ‘n posisie van gesag geplaas word, moet die motief van diensbaarheid, jou ‘n dienskneg en slaaf maak van ander. Dit is waartoe Paulus die gemeente in Fillipense oproep.

Gelowiges wat bereid is om selfloos, sonder eie belang bereid is om te dien, sal self deur God vereer word. Paulus maak Christus Jesus ‘n voorbeeld van die een wat ‘n dienskneg en ‘n slaaf geword het. Op die regte tyd het God vir Jesus tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee, wat bo elke naam is.

Owen Feltham skryf: “ Ek merk dat God van al die plante die eenvoudige wynstok gekies het wat gestut moet word; en van al die diere, die onskuldige lam; en van die voëls, die onskuldige duif. Christus is die roos van die veld en die lelie van die dale. Toe God aan Moses verskyn het, was dit nie in die trotse seder of in die kragtige eiekeboom nie, maar in ‘n nederige en eenvoudige braambossie, asof Hy deur hierdie keuses die hoogmoed en die verwaandheid van die mens in toom wil hou.”

7fa93dce9556752f46e08fd04eb1a5db

Ons verwag ‘n koninklike bababedjie, maar vind ‘n krip.

Ons verwag dat Jesus op ‘n perd sal ry, maar vind Hom op ‘n donkie.

Ons verwag lojaliteit, maar vind verraad.

Ons verwag ‘n Halleluja – koor, maar vind ‘n kreet: “Kruisig Hom!”

Ons verwag ‘n koninklike kleed, maar vind naaktheid.

Ons verwag ‘n kroon, maar vind ‘n doringkroon.

Ons verwag ‘n septer in die hand, maar vind spykers in Jesus se hand.

Ons verwag ‘n troon, maar vind ‘n kruis.

Deur nederigheid het Jesus die wêreld kom verlos.

Andrew Murray beskryf nederigheid as die grootste deug, die wortel waaruit alle ander deugde groei.

Waar vloei die riviere wat ons landerye vrugbaar maak? Op die bergtoppe? Nee, in die valleie. As jy verlang na die strome van seën van Bo, moet jy in die valleie van nederigheid vertoef. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)