‘N NUWE VOETPAD …., NUWE DENKE …….
Voetpaaie is vir my baie baie interessant.
Gewoonlik neem mense die kortpad oor ‘n stuk veld of grasperk en mettertyd ontstaan daar ‘n voetpad. Daar kan ‘n bestaande geplavleide pad wees, maar mense sal altyd kortpad vat en mettertyd hulle eie voetpad uittrap.
(Foto krediet – Marymichaelpilgrimsway.org)
Ek het êrens gelees dat by die beplanning van ‘n groot boukompleks het die kontrakteur die gebou voltooi, maar nie die staproete tussen die gebou en parkeerkompleks dadelik geplavei nie. Hy het eers ‘n paar maande gewag, om te kyk watter kortpad die mense neem en toe het hy agterna die uitgetrapte voetpad geplavei. Hy het eers gekyk watter pad die mense self kies en toe het hy dit geplavei.
Mense vorm in hulle brein ook kortpaaie. Die manier waaroor jy oor dinge dink, vorm jou persoonlikheid. Ons noem dit sommer in die algemeen, hoe ‘n mens bedraad is. Sommige mense se geaardheid is altyd negatief. Ander is weer gedurig bitter oor die lewe. Nog ander se geaardheid is altyd onvriendelik. Gelukkig is daar ook mense wie se geaardheid altyd positief en blymoedig is. As ‘n mens eers ‘n gewoonte gemaak het om oor alles pessimisties te wees, gaan jy ‘n negatiewe voetpad in jou brein uittrap en jou persoonlikheid gaan negatief wees.
Gelukkig hoef ‘n mens nie ‘n slagoffer van jou geaardheid te wees nie. Mense se geaardheid kan verander. Dit is presies wat Paulus bedoel in Filippense 4: 4. Dit lees: “ Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal:Wees bly!” Stefan Joubert skryf dat mense altyd dink dat jy net in jou hart moet bekeer. Maar eintlik daag Paulus ons uit om ook in ons denke te bekeer. Ons skrifgedeelte Fil 4: 1 – 9 handel ten diepste oor die bekering (metanoia) van ons denke en verstand. Ons moet ook in ons denke vernuwe word om nuwe mense in Christus te word. In Fil 4: 8 staan daar: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”
‘n Mens se geaardheid en lewensuitkyk word grootliks gevorm deur jou gedagtes en denke. Wanneer jy ‘n voetpad van negatiwiteit uitgetrap het in jou kop, sal jou geaardheid ook so wees. Hoe verander ‘n mens jou geaardheid en persoonlikheid? Jy verander jou denke. Hoe kry jy dit reg? Kom ons gaan terug na die beeld van die voetpad. As jy ‘n draad of heining span in die pad van die voetpad, sal jy mense dwing om ‘n ander voetpad uit te trap. Net so as jy in jou denke bekeer word, sal jy ‘n hindernis sit in die voetpad van negatiewe denke, wat jou sal leer om die positiewe te soek. As jy lank genoeg die positiewe bedink, sal ‘n nuwe voetpad van positiewe denke en geaardheid gevorm word.
Daarom moet mense nooit dink hulle kan nie verander word nie. Jy kan verander! Jy begin om te verander, deur jou denke te verander en te vernuwe. Jy begin deur jou denke te bekeer!
René Descartes het geskryf: “ Cognito ergo sum.”, wat beteken “Ek dink, daarom is ek.” Juis daarom moet jou denke ook vernuwe en bekeer word. Wie sy denke bekeer, bekeer ook sy lewe en sy dade. Onthou dat sonde, se beginpunt is in jou denke. Daarom sê Paulus moet ons eerder bedink alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, en alles wat prysenswaardig is. Wie se denke in lyn is met God se wil, se lewe sal ook in lyn met God se wil wees.
Dr. David Stoop het ook ‘n boek geskryf met die naam: “ You are what you think.” Dit beteken dat jy word of is, wat jy dink. Jou denke bepaal jou lewensuitkyk.
Paulus skryf hierdie brief vanuit die tronk. Hy sit in die tronk onskuldig onder die haglikste omstandighede, maar hy KIES om sy denke in te stel op blydskap in die Here. Hy kies om inskiklik (vriendelik) te wees met die Romeinse owerheid wat hom onskuldig gevange hou. Daarom kan Paulus met reg die gemeente van Filippi oproep om altyd in alle omstandighede met blydskap vervul te wees en om inskiklik teenoor alle mense, self jou vyande te wees.
Victor Frankl het gesê in sy boek “Search for meaning”, dat ‘n mens dikwels jou eie gevangene is. Jou eie denke hou jou gevange. Daarom sê hy dat elke mens die vryheid het om te kies, hoe om te reageer in elke omstandigheid. Jou denke kan jou vry maak of jou denke kan jou gevange hou.
‘n Mens is nooit die slagoffer van jou omstandighede nie, maar eerder die slagoffer van jou eie denke. Juis daarom moet ‘n mens ook jou kop (jou denke) bekeer om te alle tye positief te bly.
Wanneer ons bekommerd is (wat menslik is), skryf Paulus moet ons deur gebed ons begeertes aan God bekend maak, deur met smeking en danksegging te bid.
Gebed het die kragtige uitwerking om die voetpad van jou negatiewe gedagtes, te herlei om ‘n nuwe voetpad van positiewe gedagtes te vorm, waar ons ook die vrede van die Here sal ervaar wat alle verstand te bowe gaan. Nooit mag ons die krag van gebed onderskat nie. God kan deur ons gebede kragtige dinge doen. Daarom moet ons in ons aanvegtinge, ons wend tot gebed.
Hoe lyk die voetpad deur jou gedagtes? Is dit gevul met negatiwiteit en pessimistiese gedagtes?
(Foto krediet: http://www.leveringtonparishcouncil.org)
Jy kan ‘n draad span en begin om positiewe dinge te bedink. Dan sal jy ervaar dat ‘n nuwe voetpad in jou gedagtes uitgetrap word – ‘n voetpad van blymoedigheid en vrede. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)