Wat is jou grootste bate? ( Fil 3: 4b – 14 )


WAT IS JOU GROOTSTE BATE?

Bates en laste is bekende woorde in die finansiële wêreld.

thDie ideaal is altyd om jou bates te laat groei en jou laste te verminder. Dit kan die verskil tussen rykdom en bankrotskap beteken. Mense vergader vir hulle bates. Somtyds is dit mense se enigste sin in die lewe om soveel moontlik bates te vergader. Bates gee maklik vir ons ‘n valse sin van sekuriteit. Bates is altyd sigbare goed.

In ons gelese gedeelte verwys Paulus ook na die geloofsbates in sy lewe. Paulus skryf dat hy op die agste dag besny is, dat hy van geboorte ‘n Israeliet is, dat hy uit die stam van Benjamin kom, ‘n rasegte Hebreër, in wetsopvatting ‘n Farisieër, in sy ywer ‘n vervolger van die Christelike kerk, in sy onderhouding van die wet om vryspraak te verkry onberispelik. Inderdaad het Paulus se lys van persoonlike geloofsbates indrukwekkend gelyk. Sy CV was uitstaande.

So maklik kan ons ook op uiterlike dinge roem. Ek is ‘n Afrikaner, ‘n regte Boer, lidmaat van die NG Kerk, ‘n kerkmens, voorbeeldig en met ‘n goeie naam in die gemeenskap. Dalk behoort ek nog aan ‘n spesifieke kultuurorganisasie en gee my bydrae vir die FAK. Ek kan verder dalk nog roem oor my kwalifikasies en wat ek alles bereik het in die lewe. My persoonlike rykdom en materiële bates ondersteun my stand en klas in die samelewing. So kan ‘n mens maklik begin roem op uiterlike dinge. Hierdie uiterlike dinge kan staan tussen jou en die Here. Jou bates kan ‘n struikelblok word in jou verhouding met die lewende Christus.

‘n Gemeente kan ook maklik spog oor haar bates, soos ‘n mooi kerkgebou, kerksaal, finansiële bates en baie lidmate en ‘n paar leraars en baie mooi gemeenteaksies. Dan word ‘n gemeente se bates ‘n struikelblok in die gemeente se verhouding met die Here. Alles wat groot en “WOW” is, word mos deedae aanbid. Eduan Naude skryf: “ Miskien leer ons van vooraf dat daar ‘n onderskeid is tussen “theologia triumphalis” en “theologia crucis”, ‘n teologie wat magsdiskoerse gebruik (geld, getalle, geboue), en ‘n teologie wat die navolging van die Gekruisigde verkondig.” Uiterlike bates van mag soos geld, getalle en geboue mag nooit ‘n struikelblok word om die gekruisigde Christus te verkondig nie.

Eers wanneer ek my persoonlike bankrotskap voor God besef, kan ek die gekruisigde Christus volg. Eers wanneer jou geestelike bankrotskap vir jou meer bekommer as jou uiterlike bates, kan jy in verhouding met die lewende Christus wees. Retief skryf so helder: “ Paulus besef dat wat wins was, eintlik ‘n verlies geword het. Wat bates was, was eintlik laste. Wat goed was, was eintlik sleg. Omgekeerd word sy verlies vir hom tot wins. Sy laste word sy bate. Wat sleg was, word vir hom goed.”

Daarom sê Paulus moet ons nie op uiterlike dinge vertrou nie. Al wat Paulus wens en begeer is om Christus te ken. Daarom laat hy nie toe dat uiterlike dinge sy oog van Christus afhaal nie. Daarom lê ons sekerheid van geloof nie in onsself en in ons geloofsbates nie. Ons sekerheid van geloof lê buite onsself in wat Christus vir ons gedoen het.

anchorDit is soos ‘n boot wat in ‘n woeste see dreig om te vergaan. Die kaptein gooi die anker nie op die boot om dit te anker nie. Nee, hy gooi dit oorboord, buite die skip in die diep water om dit te anker. So moet ons, ons sekerheid nie in onsself soek nie, maar buite onsself in Christus wat vir ons gesterf het. As ons, ons sekerheid soek in onsself en in ons eie geloofsbates, sal ons altyd onseker wees van ons geloof en of ons genoeg gedoen het. Maar as ons dit soek buite onsself in die objektiewe verlossingsdaad van Christus sal ons ‘n vaste grond hê vir geloofsekerheid.

Five_SolasDaarom bely ons in Reformasie 500, soos Martin Luther dit verwoord het: SOLA SCRIPTURA (die Skrif alleen), SOLA FIDE (geloof alleen), SOLA GRATIA (genade alleen), SOLO CHRISTO (Christus alleen), SOLI DEO GLORIA (aan God alleen die eer).

Nie ons bates of ons geloofbates mag ons wens of begeerte wees nie, maar om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding. Christus moet ons enigste bate wees.

393px-231000_-_Athletics_track_100m_T20_final_Lisa_Llorens_silver_action_-_3b_-_2000_Sydney_race_photoDaarom skryf Paulus in Fil 3: 13 – 14 dat hy hom losmaak van sy voormalige bates (wat agter is) om by Christus (wat voor is) te kom. Hy span homself in om by die wenstreep te kom, wat Christus is. Om die wenstreep te behaal is dit nodig om die bagasie (van geloofsbates) af te gooi en Christus as enigste bate te verkry.

Waarop roem jy in jou lewe? Oor jou bates of jou geloofsbates? Nee, jou enigste roemtaal moet Christus wees.

Die Protestante onder andere die Franse Hugenote het 500 jaar gelede uit Europa gevlug na Suid Afrika, ter wille van hulle geloof dat Christus alleen jou regverdig maak. Hulle het hulle bates (huise, plase en aardse besittings) agtergelaat, die vreemde in, omdat hulle enigste bate en roemtaal Christus was. Vandag verlaat Suid Afrikaners die land oor ekonomiese en politieke redes.

Vyfhonderd jaar gelede het hulle Europa verlaat oor geloofsredes.

Daarom begin die Heidelbergse Kategismus met die vraag:

Sondag 1, Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe .

Mag Christus ook u enigste bate en roemtaal wees! AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s