SKRIFLESING: Ps 128: 1 – 6 en 1 Timotheus 1: 5
Christus Jesus is die sterk, gesonde wortelstok, waarin ons as gelowiges ingeënt word by ons doop. Met ons doop word ons deel van die geslag van Abraham, die vader van die geloof.
Daarom word ons met ons doop almal kinders van Abraham. Ons word deel van die Christelike geloof. Daarom is die doop die teken van die inlywing by die Christelike kerk en deel kry aan al die beloftes wat God vir sy kinders in die Bybel opgeteken het. Dit is vanoggend ook waar van Ava Rose Dias.
Daarom neem God die inisiatief met die kinderdoop. Hy kom stel homself bekend aan kindertjies wat nog niks verstaan nie. God gee die eerste tree in die verbond. Daarom noem ons dit die genadeverbond.
Soos wat ‘n man ‘n meisie die hof maak en die inisiatief neem in die verhouding, is God ook die God wat die inisiatief neem in die doop. Later sal die kind bewus word van God se liefde vir haar of hom en God se liefde terug beantwoord.
Soos wat die naelstring afgebind word by die geboorte en daar ‘n biologiese skeiding plaasvind tussen moeder en baba, word daar met die doop ‘n NUWE NAELSTRING gevorm. Dit is ‘n geestelike naelstring, waardeur die kind ingelyf word in die kerk van Jesus Christus.
As God deur die doop ‘n naelstring met die dopeling bind, dan is die gemeente die baarmoeder waarbinne die dopeling moet groei. Daarom moet die hele gemeente verantwoordelikheid neem om so te leef dat ons dit vir die dopeling maklik maak om te glo. Daarom moet die doopouers ook hulle kinders in die kerk en in die erediens grootmaak, want dit is God se baarmoeder. Hulle moet ‘n liefde vir die kerk ontwikkel, sodat hulle eendag aktiewe lidmate van die Here se kerk sal wees.
Daarom maak die doop jou ‘n lidmaat van die kerk, en nie belydenisaflegging nie. By die belydenisaflegging aanvaar die jongmens net die verantwoordelikheid van sy lidmaatskap wat hy met die doop ontvang het.
In die Anglikaanse kerk is die doopvont gewoonlik by die ingangsportaal van die kerk. Wanneer die doopplegtigheid plaasvind, gaan die priester na die doopvont by die ingangsportaal en doop die kindjie. Die priester dra dan die kindjie van die ingangsportaal vorentoe en stel hom of haar bekend aan die hele gemeente as nuwe lidmaat.
Dit is ook die wonder van die kinderdoop. God is ALLEEN aktief, terwyl die dopelinge nie eers bewus is wat nou met hulle gebeur nie.
Daarom moet ons huis en ons etenstafel aan die Here gewy wees.
Psalm 128:3 – “Jou vrou is soos ‘n vrugbare wingerdstok in die binnekamers van jou huis. Jou kinders is soos olyfboompies om jou tafel.”

Eerstens moet my huis aan die Here gewys wees. My huis moet soos ’n kweekhuis wees waarbinne my kinders groot word. In ’n kweekhuis word bome gereeld gesnoei. ’n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem. As ’n Kareeboom gelos word, word dit ’n bos. Wanneer ’n boom gedurig gesnoei word, word dit ’n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ’n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is om jou kind te tugtig, baie belangrik, veral volgens die Spreukeboek van die Bybel. Die huis is die kwekery waar geloofsoordrag plaasvind en waar integriteit gekweek word by kinders. In ‘n kwekery word bome gesnoei om ‘n mooi vorm aan te neem. Dink aan Bonsai-boompies wat met groot sorg gekweek, gesnoei en versorg word. Die uiteinde is ‘n kunswerk.Daarom vra die doopbelofte ‘n stuk verantwoordelikheid van die doopouers. Die doopouers beloof in die doop om God se kindjie groot te maak in die vrese van die Here. Daar is navorsing gedoen, wat bevestig dat meer as 82 % van die geloofsoordrag plaasvind deur die ouers se opvoeding in die ouerhuis. Daarna kom vriende se invloed en dan eers die kerk. Daarom is ouers van sleutelbelang as dit kom by geloofsvorming en geloofskweking van dopelinge. Dit kos net een geslag wat afvallig word van die Here, om ‘n ongelowige te kweek. Daarom is die doopbelofte wat die ouers aflê baie belangrik. In 1 Timotheus 1: 5 maak Paulus daarvan melding dat Timotheus se geloof bewerk is deur God, wat sy ma Eunice en sy ouma Loïs gebruik het om die geloofsoordrag te laat plaasvind. Shaun en Anke Dias, moet hulle twee dogtertjies Emilia en Ava groot maak in die vrese van die Here.
My eerste ervaring van geloofsoordrag het plaasgevind toe ek ‘n klein seuntjie was en my moeder elke aand vir my uit die Kinderbybel geleer het en my geleer het om ‘n eenvoudige kindergebed op te sê. Daarom moet geloofsopvoeding so vroeg as moontlik begin.

Johannes Calvyn het gesê, kinders het behoefte aan GEBORGENHEID en SEKURITEIT. Om geborgenheid te verseker, moet jy baie LIEFDE gee. Om sekuriteit te gee, moet jy STRENG wees. ‘n Kind moet weet dat daar grense is. Binne hierdie grense is hy of sy veilig. Daarom moet ons ook die dopelinge kweek in God se geborgenheid en sekuriteit. Die dopeling moet die liefde van God ervaar, om geborgenheid te ervaar. Die dopeling moet ook God se sekuriteit kan ervaar, deur streng binne God se wil te leef. Daarom moet dopelinge al van kleins af grootgemaak word met die gebruik dat dit Sondagoggende die Here se erediens is en die Here met ons ‘n afspraak het.
Tweedens moet my etenstafel ook aan die Here gewys wees.
Die Boesmans se kombuistafel het die volgende behels: om elke aand rondom die vuurtjie te sit en stories te vertel, te eet, te kuier, legendes oor te vertel en diere se geluide en bewegings na te maak. Daarom bestaan die Boesmantradisie al duisende jare in Suider-Afrika. Maar ongelukkig het die Boesmans verwester. Hulle het televisies gekry, selfone gekry, oonde gekry. Hulle kuier nie meer op Smitsdrif bymekaar soos hulle voorouers nie. Die Boesmankultuur is besig om uit te sterf, omdat hulle vuurtjies (hulle kombuistafel) nie meer bestaan nie.
Voor 1976 was huwelike en gesinne baie gesonder, want daar was nie televisie of selfone en tegnologie nie. Mense het nog rondom die kombuistafel gekuier. Met die aanvang van televisie het mense op skinkborde voor die televisie gekuier. Met die aanbreek van die selfoontegnologie-era is mense weer besig om teksboodskappe te stuur aan die etenstafel. So word die kombuistafel verwaarloos.

Die tyd rondom die kombuistafel is heilige tyd. Daardie 45 minute vir aandete is heilig. Die televisieprogram kan maar wag of opgeneem word. Die selfoon kan maar op stil gestel word. In daardie 45 minute skenk ons 100% aandag aan mekaar. Dit laat huwelike oorleef en dit gee sekuriteit aan kinders. Dit skep kwaliteittyd in verhoudings. Dit word kosbare herinneringe. Kos is nie gemaak om alleen geëet te word nie. Kos moet in samesyn en saamkuier genuttig word.
Prof Anna Fishel van die Harvard Medical School skryf in “The Washington Post” as volg: “Kids who eat dinner with their parents experience less stress and have a better relationship with them. This daily mealtime connection is like a seat belt for traveling the potholed road of childhood and adolescence and all its possible risky behaviors.” Sy verduidelik dan ook dat baie wangedrag van kinders te wyte is aan die feit dat daar daar nie ’n kombuistafel-kultuur tuis was nie.
Kersfees gaan ons ook rondom ’n heerlike kostafel sit. Dit gaan nie net oor die kos nie, maar oor die samesyn en verhoudinge wat verdiep en versterk word.

Ons kinders en kleinkinders is vir ons ‘n sieraad. Daarom kan ons getroos wees dat ons kinders deur die doop met ‘n ewige naelstring aan God verbind is. Daarom moet ons ons huise en etenstafel gebruik as die kweekhuis waar ons ons kinders kan opvoed om eendag jongmanne en jongmeisies te wees wat God ken. Wie sy doopbelofte nakom, sal nie eendag wakker lê van bekommernis of my kind op die regte pad is nie. Mag die Here die doopouers en grootouers gebruik as ‘n kweekhuis vir hierdie boompies wat nog gevorm moet word met GEBORGENHEID en SEKURITEIT. Mag die Here vir Ava Rose Dias seën haar lewe lank en mag sy in die huis van die Here woon tot in lengte van dae.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)