SKRIFLESING: Jesaja 40: 1 – 11
Om Jesaja 40 te verstaan, is dit belangrik dat ons Jesaja 39 eers nadertrek. Tussen Jesaja 39 en Jesaja 40 is daar ’n verskil van 70 jaar. Jesaja 39 is die aankondiging van die Babiloniese ballingskap en Jesaja 40 is die aankondiging van die herstel en vrylating uit Babiloniese ballingskap. Die volk was tussen 586 vC en 516 vC in Babiloniese ballingskap. Jesaja 39 is ’n oordeel-aankondiging en Jesaja 40 is ’n genade-aankondiging.

Jesaja 39 speel af voor die Babiloniese ballingskap en ons lees dat Jesaja vir koning Hiskia van Juda die volgende boodskap bring in Jesaja 39: 6: ” ‘Kyk, daar kom dae wanneer alles wat in jou paleis is en wat jou voorouers bymekaar gemaak het tot vandag toe, na Babel weggedra sal word – daar sal niks oorbly nie,’ het die Here gesê.”
Ballingskap is erg. Dit is ontworteling van alles wat vir jou bekend was. Jy verloor alles en moet met niks ’n nuwe begin maak. Jy word van selfstandigheid gestroop en jy word ’n kneg van ’n nuwe politieke orde. Dit is traumaties om van sekerhede te beweeg na totale onsekerheid. Vir Israel was dit erg. Vir dekades het hulle in ballingskap gelewe.
Eugene Peterson skryf die volgende oor ballingskap: “The essential meaning of exile is that we are where we don’t want to be.”

Dit is presies die plek waar baie wit en bruin mense van Suid Afrika op die oomblik is en nie wil wees nie. In die vorige politieke bedeling van apartheid was die swart en bruin mense op ’n plek waar hulle nie wou wees nie. Die Afrikaner het ’n onreg gepleeg deur mense in ballingskap te plaas. Maar nou is die bordjies verhang en ervaar die wit en bruin mense ballingskap in hulle eie land. Daarom trek honderdduisende mense vandag oor na ander dele van die wêreld vir ’n heenkome en werk. As jy vandag wit of bruin is, is daar nie vir jou werk nie. Regstellende aksie laat ras swaarder weeg as bekwaamheid, kwalifikasies of talent. Die boeregemeenskap word geteiken om hulle grond af te vat. Boere word vermoor en plattelandse gemeenskappe lewe in vrees. Korrupsie vreet soos kanker aan ons land se ekonomie. In sport speel ras-kwotas ’n groter rol as meriete. Die infrastruktuur en munisipale dienslewering van ons land is slegs ’n skaduwee van wat dit eers was.
Ons is op ’n plek waar ons nie wil wees nie.
Daar is nog ’n plek waar ons nie wil wees nie. Dit is in ons sondeskuld. Sondeskuld is ook om in ballingskap te wees. Sonde maak van jou ’n kneg. Jy is in die kettings van bitterheid, haat, naywer, woede, rusie, verdeeldheid, onsedelikheid en ander verkeerde dade en gedagtes. Jy is nie vry nie, want jy is nog nie vrygespreek nie. Dit is die ergste vorm van ballingskap. Die hooftema van die Bybel is juis God se plan om ons uit die ballingskap van die sonde en dood te verlos.
Die Bybel skryf ook dat die kerk van die Here deur die eeue hierdie ervaring van ballingskap gehad het. 1 Petrus 2: 11 herinner ons: ” Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge …” Daarby herinner Hebreërs 13 ons dat ons in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek het nie, dat ons nog op soek is na die toekomstige. Bedoelende dat ons in hierdie lewe eintlik in ballingskap is en dat ons op pad na iets beters is.
Dan belowe Jesaja 40 vir die Israeliete uitkoms, verlossing, troos en bevryding. Dit kan ons ook op óns van toepassing maak. Jesaja 40: 10 beskryf die Here as ’n kryger. En Jesaja 40: 11 beskryf die Here as ’n herder. Die Here is die kryger wat die Babiloniese gode en heersers verslaan en sy volk uitlei terug na Jerusalem, hulle stad. Die Here is die herder, wat sy volk sagkens bystaan na hulle traumatiese jare in ballingskap. Hy bring as herder vertroosting, heling en beskerming.
Tydens Advent kom die Here Jesus Christus ook as kryger om die sonde te verslaan en as herder ons uit te lei uit die ballingskap van sonde.

Jesaja 40: 3 – 4 uiter ’n voorspelling wat later op Johannes die Doper van toepassing sou wees: “ ‘n Stem roep: Maak in die woestyn die pad van die Here gereed; maak in die Arabae ‘n grootpad vir ons God gelyk. Elke dal moet opgevul word, en elke berg en heuwel moet wegsak. Hobbelrige plekke moet gelyke grond word, en rotsagtige terrein moet ‘n vallei word.” Die voorspelling van Jesaja 40: 3 – 4 voorspel die koms van Johannes die Doper wat die voorloper sou wees van Jesus Christus en vir Christus die pad gelyk sal maak deur dit voor te berei.
Die Arabae (in Hebreeus) in boonste aanhaling verwys na die Jordaanvallei, wes van die rivier waardeur die Israeliete getrek het met die uittog uit Egipte en waardeur hulle sal trek ná die bevryding uit Babilonië. (Afrikaanse 2020 Bybel se verklaring in voetnote)
Dit bevestig Markus 1 vir ons – die woorde van Jesaja 40 kry eers sy ware betekenis met die geboorte van Christus. Daar staan in Mark 1: 2 – 3 geskryf: “Soos daar in die profeet Jesaja geskryf staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad gereedmaak. ‘n Stem van iemand wat roep in die woestyn: ‘Maak die pad van die Here gereed, maak sy paaie reguit!’.” Jesus se Naam is Immanuel – nie God-ver-van-ons nie, maar God-met-ons! (Ds. Jan Steyn)
Die ballingskap wat ons op politieke, kulturele of dalk in ons persoonlike lewe ervaar, kan God dikwels op verrassende maniere kom aanspreek en oplos. Daarom is ons altyd mense van hoop. Natuurlik het ons ook die ewige hoop, naamlik om uit die ballingskap van hierdie sterflike wêreld verlos te word, na die ewige nuwe Jerusalem, as God se koningskinders.
As jy in jou persoonlike lewe ballingskap ervaar van siekte, werkloosheid, finansiële probleme, verhoudingsprobleme of wat ook al, kan jy die lewende troos hê dat God die trooster is. Hy is jou kryger en herder, wat jou daardeur sal dra.

In die kerklike liturgie word dikwels gebruik gemaak van vier Advent-kerse en een wit Christus-kers. Die vier Advent-kerse word een vir een op ’n Adventsondag aangesteek. Die vier kerse se betekenis is:
- Hoop
- Vrede
- Vreugde
- Liefde
Die groot wit kers word op Oukersaand aangesteek om Christus te simboliseer.
Jesaja 39 is ’n hoofstuk van wanhoop. En dan, dekades later, kom Jesaja 40 wat ’n hoofstuk van hoop is.
Mag die eerste Advent-kers ons herinner aan die ewige hoop wat ons het. Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)