Klitsgras-genade: liefde wat bly vasklou – Wees jy die wolsokkie

SKRIFLESING: Handelinge 13: 44 – 52

Ons ken almal klitsgras. Klitsgras het ’n ongelooflike vermoë om te vermeerder en te versprei.

Een prediker het eenmaal klitsgras vergelyk met die verspreidingsvermoë van die Evangelie. Dit is dan ook die inspirasie van hierdie preek. Ons kry klitsgras in die veld, in die stad, in vlak grond, in droë grond en in vrugbare grond tussen baie ander gewasse. In ons land is daar nie ’n landstreek waar daar nie in ’n mindere of meerdere mate klitsgras voorkom nie. Klitsgras word nie deur almal in ’n positiewe lig gesien nie. Maar ons almal is verstom oor die eienskap van klitsgras om te kleef. Daarom gaan die preek nie oor die nadele nie, maar oor die eienskap van klitsgras om te kleef, wat verstommend is. Die eienskap om te kleef is in die visier van ons preek vanoggend.

Hoekom is klitsgras so volop? Omdat dit so effektief versprei. Klitsgras klou aan honde en aan diere wat in die veld loop en ook aan my klere. En môre, oormôre groei die klitsgras in die tuin, want daardie stekelrige goedjies wat aan jou wolsokkies vassit, is die saad.

Die simboliek van klitsgras se kleefvermoë vind ’n mens in die daaglikse lewe in goeie goed, en ook in slegte goed. Slegte dinge versprei maklik soos kleefgras, dinge soos skindernuus, leuens, agterdog, jaloesie ensovoorts. Frieda Marais vertel van die grappie oor skinderstories: “Dit begin in Kookhuis met ’n veer en eindig in Adelaide as ’n volstruis.” Of dit begin in Grahamstad as ’n veer en eindig in Fort Beaufort as volstruis.  Gelukkig versprei goeie goed soos liefde,  ’n glimlag, vriendelikheid, opregte belangstelling ensovoorts ook.

Die Evangelie en God se liefde vir die wêreld het ook die wonderlike verspreidingsvermoë van klitsgras. So ook het die goeie nuus van die Evangelie van Jesus Christus oor die hele wêreld versprei. Hiervan getuig ons skrifgedeelte en die kerkgeskiedenis. Daarom het die Here Jesus vir ons met sy Hemelvaart die Woord, sy Heilige Gees en ’n opdrag gegee. Hy het gesê dat ons al lerende en al dopende dissipels vir die Here moet maak. Daarom het die Here vir mense verskillende wêreldtale laat praat, amper soos by die toring van Babel, sodat hulle die Woord moes versprei oor die hele aarde.

Die Here het selfs toegelaat dat die vroeë Christene  gemartel word op brandstapels, met pik besmeer is en aan die brand gesteek is, vir honger leeus gegooi en gekruisig is. Hoekom? Sodat hulle al vlugtende oor die hele wêreld die Evangelie moes versprei. Die bloed van die martelare het die saad van die kerk geword. Toe die vroeë Europa nie kans gesien het om donker Afrika in te trek om die Evangelie te versprei nie, vind die sogenaamde heilige Bartholomeusnag plaas en die daaropvolgende bykans 100 jaar van Protestantse vervolging in Europa.

Die Franse Hugenote en ander word toe gedwing om Europa agter te laat, na Suider-Afrika te vlug en ook hier die saad van die Evangelie te plant. So het ook die Voortrekkers noordwaarts getrek en die Evangelie versprei in die hele Suider-Afrika. Vandag staan daar kerke in elke dorpie, nedersetting en stad.  Soos klitsgras stekelrig is en jou somtyds seermaak, so kan die verspreiding van die Evangelie ook lyding, pyn en spot vir jou bring. As jy van die Here getuig of ’n mooi voorbeeld stel, sal mense dikwels van jou ’n bespotting maak.

Sommige mense laat gaan eerder hulle Christelike waardes, om nie bespot te word nie. Maar diegene wat toelaat dat die stekelrige Evangelie hulle waardes  en voorbeeld beïnvloed, gee nie om om bespot en beledig te word nie. Hulle versprei die Evangelie.

In die vroeë kerk het die Here die tegnologie en die wêreldgeskiedenis van destyds gebruik om die Evangelie te versprei. Destyds het die sogenaamde Pax Romana (of dan die Romeinse vrederyk) geheers. Die Romeine het feitlik oor die hele bekende destydse wêreld geheers, sodat elkeen eintlik ’n wêreldburger was wat sonder visum kon reis waarheen hy of sy wil. Ook het die moderne paaie van die Romeine baie bygedra dat die Evangelie maklik versprei het.

Die Here het die uitvindsel van die wiel,  die boekdrukkuns, die eerste stoomenjin, die eerste motorkar, alles gebruik om die Evangelie vinnig uit te dra. Vandag word God se Woord per radiosein, per TV-sein en per satellietsein oor die eindes van die aarde gekommunikeer. Internet en epos is besig om die moderne snelweg van die Evangelie te word. Sedert Covid-19 uitgebreek het, het feitlik alle gemeentes oor die wêreld internet-eredienste. Ons eie gemeente gebruik internet en webwerwe om die Evangelie ook buite die eredienste te bevorder.

Vandag is daar bykans in elke dorpie van die wêreld Christene. In elke land vind ’n mens in ’n mindere of meerdere mate Christene.

Ons is vandag se kerk. Ons is vandag se draers van die Evangelie. Daarom moet ons soos wolsokkies die kleefvermoë hê om die Evangelie te versprei. Ons moet vashou aan die Here se Woord soos klitsgras aan ’n woltrui of wolsokkie. Ons moet gereeld die Bybel lees sodat ons sal onthou wat die Here vir ons gedoen het. Deur ons korrekte lewenswandel en voorbeeld en deur ons getuienis word ons die woltrui of wolsokkies wat die Evangelie versprei.

Is ek die Here se wolsokkies, waaraan die Evangelie kan klou op my plaas, in my huis, op die skoolbanke en in die openbare lewe?

Klitsgras is ook onvernietigbaar soos die Evangelie. Klitsgras is so onvernietigbaar, jy kan dit maar verbrand en die saad onder die grond sal weer ontkiem. Jy kan dit maar uittrek, jy verhaas net die verspreiding daarvan. Paulus en Barnabas is verjaag en vervolg en so het hulle van stad tot stad getrek. Ons lees hoe hulle in Antiogië die Evangelie verkondig het en hoe die Evangelie deur die hele streek versprei het. Toe die Evangelie begin versprei in Antiogië, is die Grieke opgemaak deur die Jode. Paulus en Barnabas was verplig om te vlug na Ikonium. Tog was die Evangelie reeds gesaai in Antiogië, want ons lees: “Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.”   

Klitsgras klou net aan sekere materiale vas, net so is ook die Evangelie bestem om net op sekere plekke en individue vas te klou. Klitsgras het die vermoë om eerder aan wol as byvoorbeeld aan seil of denim vas te klou.

Net so lees ons in vers 48 (b) dat slegs “die wat daartoe bestem” is, gelowig geword het. Daarmee bedoel die skrywer van Handelinge dat God op ’n onweerstaanbare wyse gewerk het in hulle vir wie God uitverkies het. Ons moet dus die Evangelie verkondig oor die hele wêreld, in alle tale en vir alle kulture. God sal self die mense se harte verander wie Hy wil verander. Ons is slegs maar die saaiers, nie die Oester nie. Dit is natuurlik die hart van die Gereformeerde Evangelie. Ons verkondig die Evangelie, dit is God wat deur die werking van die Heilige Gees mense se harte verander.

Mag ons slegs die saaiers – die wolsokkies – wees wat die Here gebruik om Sy saad, die Evangelie, te versprei.

Julle is die wolsokkies, wat die draers is van die klitsgras om die Evangelie te versprei.  ’n Heerlike voorreg.                              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Met die “heilige doop” kry ons God se nommerplate

SKRIFLESING:  Kol 2: 12 en Markus 9:42

’n Predikant het êrens geskryf dat ons met die doop God se nommerplate kry. Dit het my gedagtes aan die gang gesit en met hierdie idee het ek ’n dooppreek begin  skryf vir Jan Righard Ehlers-Breedt, die kindjie van Gerhard en Jean-Mari.

Mense is trots op hulle motors se nommerplate. Voor 1994 het elke nommerplaat aangedui van watter dorp af jy kom. In Strydenburg en Hopetown het die nommerplate begin met CBE.  Adelaide se nommerplate het begin met CFJ. Mense was trots op hul nommerplate. Jy het ’n identiteit gehad. Jou nommerplaat het gesê waar jy vandaan kom. Toe verander alles en ons kry nommerplate wat met EC eindig, en met ’n olifant en ’n aalwyn op.  Elke provinsie het sedert 1994 sy eie provinsiale nommerplate, behalwe die Wes-Kaap wat gehou het by die registrasienommer van die dorp of stad.

Mense lewer soms ook kommentaar oor ander provinsies se nommerplate. As ’n motor met ’n GP-registrasie te vinnig ry, dan sê hulle dit is tipies van Gauteng Provinsie se bestuurders: hulle jaag altyd. Of hulle praat van GP – nommerplate as “Gangsters Paradise.” George se nommerplaat begin met CAW, wat spottenderwys beteken dat dit altyd “cold and wet” daar is.

Met ons doop kry ons metafories gestel God se Koninkryk se nommerplate. Die doop sê wat ons diepste identiteit is. Soos ’n nommerplaat aandui waarvandaan jy kom, sê die doop dat ons God se kinders is. Ons diepste identiteit is Jesus Christus.

Wat is ons identiteit? Kol 2: 12 gee vir ons die antwoord: “Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het.”

Dit beteken dat ons as sondige mense in ons doop saam met Christus gesterf het en begrawe is en ook saam met Christus opgewek is. Ons het deur die doop deel aan die kruisiging, begrafnis en opstanding van Christus. Dit is ons identiteit en diepste waarborg.

Die doop roep ons op om ons nuwe identiteit in Christus uit te leef.  Op ons lewensnommerplaat moet daar staan “Gedoop in Christus”. Saam met Christus gesterf, begrawe en opgewek.

Gerhard en Jean-Mari, julle moet vir Righard leer sy lewensnommerplaat  moet lees “Christus”. Almal moet kan sien en beleef dat hy aan Christus behoort. Julle moet vir julle seuntjie Righard so leer dat hy sy lewe moet leef as Christen en dat Christus sy nommerplaat moet wees.

In die eerste eeu was dit vir Christene moeilik om die nommerplaat van Christus te dra. Sou jy uit ’n ortodokse Joodse familie kom en jy word gedoop as Christen, dan is jy verwerp uit die Joodse gemeenskap en waarskynlik ook uit jou familie. Niemand wou met jou iets te doen gehad het nie. Jy het ook nie sommer by die gildes werk gekry nie. Dieselfde was die geval met dopelinge uit die Griekse gemeenskap. As jy gedoop is, het jy vriende en kennisse verloor.

En wat gevolglik in die eerste eeu gebeur het, is dat baie mense gedoop is, maar dit vir hulself gehou het. Die gemeenskap moes nie daarvan weet nie, anders sou jy jou staanplek in die gemeenskap verloor. Hulle was soos voertuie wat sonder nommerplate ry. Hulle het skaam gekry vir hulle doop.

Ons kry ook vandag dikwels “skaam” om die Here Jesus in ons lewe uit te lewe. By die teeparty of die braaivleisvuur lewe ons dikwels ’n ander lewe as dié van ’n Christen. Dan maak vloektaal, rassisme, seksisme, skeltaal, slegte grappe en ’n geskinder, van ons ’n voertuig sonder nommerplate.

Markus 9:42 lees as volg:  “Wie een van hierdie kleintjies  wat in My glo, laat struikel, dit sou vir hom beter wees as die maalklip van ’n donkie  om sy nek gehang en hy in die see gegooi word.” Met ander woorde, as ’n volwassene of ’n ouer of familielid deur slegte gedrag dit vir ’n dopeling moeilik maak  om te glo, verdien jy om met ’n meulsteen om jou nek in die see gegooi te word.

’n Mens kan deur  jou gedrag dit vir ander mense maklik maak om te glo. Of jy kan dit moeilik maak vir ander om te glo. Jy kan ’n kind bou of afbreek – met jou woorde en gedrag.

En Jesus sê: Ek wil nie hê jy moet jou vir My skaam nie. As Christus dit alles vir ons gedoen het, is dit nie te veel gevra dat jy in die openbaar opstaan vir die Here en jou nie vir Hom skaam nie. Dan dra jy met trots jou nommerplaat dat jy in Christus gedoop is.

Ek moet my nie oor my doop skaam nie. Ek moet my nie skaam om as gedoopte te lewe, met die nommerplaat van “Gedoop in Christus” nie.

As gedoopte Christen moet ek my nooit skaam vir Christus nie. Ek moet sonder skaamte lewe as Christen in my gesin, my werksplek, my sosiale lewe en in alles wat ek doen.

Daar word vertel van ’n meisie wat in Oos-Maleisië na haar bekering gedoop is as volwassene. ’n Persoon het opgemerk dat daar iemand se bagasie teen die kerk se muur staan. Iemand het gevra wie se bagasie dit was. Die pastoor het na die meisie gewys wat pas gedoop is en gesê: “Haar pa het gesê dat as sy as ’n Christen gedoop word, sy nooit weer huis toe kan gaan nie. Sy het dus haar bagasie gebring.”

Soos ’n EC-nommerplaat vertel jy kom van die Oos-Kaap en ’n GP-nommerplaat vertel jy kom van Gauteng, moet jy, Righard, die nommerplaat van Christus dra, sodat almal kan sien jy is van Christus.  Aan jou lewe moet gesien word dat jy ’n Christen is.

As Christen-gesin moet julle jul seun Righard begelei en opvoed om ook eendag ’n Christen te wees met ’n Christus-nommerplaat.

Jy het nie ’n klomp kinderopvoedingsboeke nodig nie. Volg net Johannes Calvyn se raad in sy Institusie. Gee vir kinders geborgenheid en sekuriteit. Geborgenheid kry ’n kind deur ’n oormaat van liefde. Sekuriteit kry ’n kind deur strengheid. Dit is die beste raad vir kinderopvoeding. Leer vir Righard van vroeg af van die Here en leer hom om op die pad van die Here te wandel.

Gerard en Jean-Mari, mag die Here vir julle en jul seuntjie seën met oorvloedige guns en seëninge.

AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Randy Frazee. Baptism: A Public Declaration of Dependence. Preaching Today.

Jim Denison. Teen Brought Luggage to Her Baptism. Preaching Today.