Die wapenrusting van die Christen.

SKRIFLESING: Efesiërs 6: 10  – 20

Vandag tref mense baie voorsorg om hulle lewens en besittings te beskerm teen misdaad. Diefwering, alarmstelsels, honde, slotte, vuurwapens ensovoorts word aangeskaf om die verkeerde mense buite te hou.

Paulus sê egter dat daar ‘n ander bedreiging is, wat ons sielelewe bedreig. Dit is naamlik die diaboliese magte van die duiwel wat daarop uit is om ons geestelike lewe aan te val en swak te maak.

Natuurlik is die ou duiwel baie slim en slinks. Hy is ‘n regte jakkals. Hy is ‘n Trojaanse perd. Die stad Troje is vir baie maande onsuksesvol beleër. Toe kry die vyand ‘n slim plan. ‘n Paar krygers het gaan wegkruip in ‘n houtperd en hulle het die houtperd in die nag voor die poort van die stad gelos. Toe het die res van die krygers onttrek. Daardie nag toe alles stil is, het die inwoners van die stad die poort oopgemaak, die houtperd ingestoot, die poort toegemaak en gaan slaap. In die vroeë oggendure het die krygers uitgeklim uit die houtperd, die poorte oopgegooi en hulle maters met ‘n sein nader geroep. Daardie nag het honderde krygers die poorte binnegesluip en daardie selfde nag die hele stad Troje vernietig en afgebrand.

So is die duiwel ook, hy is onsigbaar en vol slim planne om die gelowiges te oorrompel. Hy is altyd soos ‘n jakkals wat in skaapwol homself voordoen. Daarom waarsku Paulus ons teen die diaboliese kragte en magte wat in hierdie wêreld aan die gang is.

Ons het vandag ‘n stryd teen mense wat misdaad pleeg. Maar ons het nog ‘n groter stryd teen ‘n mag wat nie uit vlees en bloed bestaan nie – ‘n stryd teen die magte van hierdie sondige wêreld en die bose geeste in die lug.

Natuurlik is hierdie magte van die sondige wêreld, dinge soos materialisme, sekularisasie, die verafgoding van die tegniek, permisitiwiteit en die strewe om die mens mondig te maak. Dit is juis hierdie dinge wat die ou duiwel gebruik as Trojaanse perd om ons siele binne te dring en van binne uit te hol, sodat hy nes kan maak.

Daarom sê Paulus dat ons nie net ons lewe en besittings moet beskerm nie, maar veral ook ons siele en geestelike lewe. Daarom gee Paulus vir ons raad, watter wapenrusting vir ons beskerming sal gee teen die bose magte. Hy noem verskillende goed soos: gordel, borsharnas, skoene, skild, helm en swaard. Al hierdie goed was deel gewees van die Romeinse soldaat se wapenrusting.

Belangrik is dat ‘n Romeinse soldaat voorsien word van sy wapenrusting. Dit is nie iets wat hy vir homself aanskaf nie. Netso voorsien die Here self vir die gelowige alles wat hy nodig het, om te kan weerstand bied teen die magte in die wêreld en die bose geeste wat aan die werk is.

Dit word in ‘n bepaalde volgorde genoem: naamlik die volgorde waarin ‘n Romeinse soldaat homself aangetrek het. Eers die gordel, dan die borsharnas, dan die skoene, dan die skild aan die linkerhand en sy regterhand sit die helm op. Daarna neem die regterhand die swaard op. So wil die Here as’t ware vir ons aantrek met die volle wapenrusting. Eers die defensiewe wapenrusting en dan volg die offensiewe wapenrusting.

Kom ons kyk na elkeen van hierdie stukke van die wapenrusting.

GORDEL – In die tyd van die Bybel het al die mans rokke gehad. Maar ‘n rok belemmer jou vermoë om te kan hardloop of te kan werk. Daarom het elke soldaat ook ‘n gordel gedra, waarmee hy sy rok kon opbind om meer vlugvoetig te kan wees as hy moet veg. Die gordel se simboliese waarde is dat dit die getrouheid van die waarheid verteenwoordig. Die wêreld hou hom skynheilig en word maklik ontrou. Die duiwel wil juis hê dat ons ontrou moet word. Julle moet egter getrou bly aan die waarheid, aan die Evangelie, aan die Here Jesus. Iemand wat ontrou word, word ‘n droster.

BORSHARNAS – Die borsharnas was gemaak van leer en metaal. Die metaal gedeelte moes die soldaat se longe en hart beskerm teen swaardlemme en die leergedeelte moes die brandpyle blus, sodat die soldaat nie in vlamme opgaan nie.

Die simboliese waarde van die borsharnas is geregtigheid, naamlik om die regte dinge te doen. Daarom wil die borsharnas die opregte hart beskerm, sodat ek die regte dinge kan doen. Ek moet die regte etiese besluite in my lewe neem. Elke dag word ek met talle etiese besluite gekonfronteer. Ek moet opreg van hart wees om die regte besluite te neem.

SKOENE – Die Romeinse skoene was een van die suksesstories van Julius Ceasar se vinnige opgang en militêre suksesse. Daarom roep Christus sy kerk op om die skoene, die bereidheid om die Evangelie te verkondig aan te trek. Het u al hierdie skoene aangetrek?

SKILD – Die Romeinse skild is gemaak van ‘n vlegwerk van leer en metaal., sodat as ‘n brandpyl die skild sou tref, die brandpyl geblus kon word. Die skild verteenwoordig geloof. Met die skild van geloof moet ons die brandpyle van versoekinge uitwis. Die bose vuur allerhande brandpyle op ons af soos: gierigheid, jaloesie, verkeerde begeertes, haat, onsedelikheid ensovoorts. Deur gelowige volharding kan hierdie pyle geblus word.

HELM – Aan die Romeinse soldaat is ook die helm vir sy kop gegee, wat sy kop beskerm. Hierdie helm is simbool van my verlossing. Hierdie versekering dat ek reeds verlos is, moet my diepste motivering wees om weerstand te bied teen die magte van die bose. Die helm word ontvang deur die soldaat, uit die hand van die offisier. Net so ontvang ons ons verlossing direk uit die hand van onse Here Jesus Christus. 

SWAARD – Die swaard verwys na die Woord van God. Dit is een van die vernaamste wapens van die Christen. Daarom moet ons deur Bybelstudie en selfstudie leer om die Bybel reg te hanteer. Die Here Jesus het toe hy versoek is, telkens uit die Woord aangehaal en sodoende die duiwel oorwin.

In vers 18 tot 20 vind ons ‘n paragraaf wat oor GEBED handel. Natuurlik is gebed ‘n magtige wapen teen die Bose. Gebed verander die wêreld en verander myself ook. Daarom moet ons as ons elke deeltjie van die wapenrusting aantrek dit biddend doen. Ons moet vir alles bid. Ons moet altyd deur bid. Ons moet waaksaam bly en vir elke gelowige bid, dat ons almal staande op ons pos sal bly.

Ten slotte hoe lyk nou weer die wapenrusting van die gelowige:

GORDEL – Om getrou aan die waarheid, aan die Here te bly.

BORSHARNAS – Om elke dag eties reg op te tree.

SKOENE – Om die Woord van God uit te dra.

SKILD – Om versoekinge die hoof te kan bied in die geloof.

HELM – Ons verlossing is ons dryfveer.

SWAARD – Die Woord van God is ons wapen.

Ons moet in alles en in alle omstandighede, waaksaam in die GEBED bly.

Daarom wil die Here vir ons versterk met sy Woord en vir ons sê dat hy in hierdie stryd tussen die magte van die Lig en die magte van die duisternis ons Aanvoerder is, wat vir ons alles sal voorsien wat in die stryd nodig is.

Pasop die ou jakkals loop rond, die duiwel stel ook vir ons gedurig ‘n Trojaanse perd op. Wees waaksaam. Wees gereed. Wees paraat. Wees aangetrek met die volle wapenrusting wat die Here vir ons voorsien het.                 AMEN      

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

U staf en u stok ….

SKRIFLESING: Ps 23: 1 – 6

’n Teoloog het Psalm 23 al as die piekniek van die Evangelie beskryf. Al die elemente van ‘n piekniek word hier beskryf, naamlik ’n groen stukkie gras by waters waar daar ’n rusplek is. In die Psalm word ‘n plek van vrede geskilder, saam met ‘n piekniekmandjie, in die vorm van ‘n feestafel. Inderdaad is ‘n lewe saam met die Here ’n piekniek.  In die Engelse vertaling word geskryf: “I shall not want.” As die Here jou Herder is, sal die begeertes om alles te wil hê ophou. In die Here sal jy vind alles wat jy nodig het.

Gewoonlik word die Psalm geskilder met Jesus Christus in spierwit klere, met spierwit skapies ‘n omgewing wat soos Switserland lyk. Maar dit is ‘n verkeerde voorstelling van Psalm 23. Wanneer koning Dawid, wat self die herder in die gedeelte is, dit beskryf, vind dit plaas in die harde woestynagtige Palestina met min groen gras en water. Die dae is verskriklik warm en die nagte koud.

Vandag sal ons ‘n trop skape los in ‘n kamp wat volop goeie weiding het. In die Bybelse tyd was daar nie kampe met groen wyding nie. Die herder moes elke dag saam met sy skape loop en êrens groen weiding gaan soek. Hulle het rondgetrek, elke dag op soek na ‘n stukkie weiding. Daar was ook nie volop weiding beskikbaar nie. Nee, net genoeg vir daardie dag. Môre en oormôre moes hulle verder trek op soek na weiding. Dit was die herder se taak om weiding te soek en dan sy skape daarnatoe te lei. Gewoonlik in klipperige gedeeltes het die dou afgeloop van die klippe en die grond rondom die klip nat gemaak. Dan het daar tussen die klippe graspolletjies opgeskiet, wat weiding was vir die skape. Sonder die herder wat soek, was die skape uitgelewer aan die elemente van die natuur en die dood. Netso lei die Here ons ook elke dag van een groen graspolletjie na die volgende groen graspolletjie.

Ons is daagliks van die goeie herder afhanklik. Elke dag gee ons hemelse Vader vir ons, ons daaglikse brood. Psalm 23 wil ons leer om daagliks van God afhanklik te wees, vir ons daaglikse benodigdhede.

Die ou vissermanne van Paternoster het ook so van die hand na die mond gelewe. Die Here was ook hul goeie herder wat hulle elke dag gelei het na die seewater, waar daar vis is. Daar was storms, partykeer het ‘n skuit nie teruggekom nie. Somtyds was daar baie vis, ander dae niks nie. Soms was die see vir dae stormagtig gewees en kon hulle nie uitgaan met hulle bote nie. Hulle was so afhanklik van die Here, dat hulle hul dorpie se naam “Paternoster” gegee het, wat beteken in Latyn “Onse Vader”. So was die skape van Psalm 23 ook daagliks afhanklik van die goeie herder, die hemelse Vader.

Vers 1 tot 3 gaan oor die daaglikse versorging van die Here. Vers 4 gaan oor die versorging van die Here in moeilike tye van my lewe. Daar staan: “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan,  is ek nie bang vir gevaar nie,want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.” Dawid het waarskynlik in die laatmiddag, wanneer dit skemer word,  deur ‘n donker kloof met sy skape getrek na die klipkraal. Gewoonlik het die struikrowers of wilde diere daar in die donker klowe, waar dit eerste donker word geskuil. Dit was ‘n plek van gevaar. Dan sê die psalmdigter, dat hy nie bang is nie, want die herder se “stok” en “staf” stel hom gerus. Die stok het die doel gedien om roofdiere en rowers te verwilder. Die staf met sy een punt wat ‘n boogvorm het, kon die skaapherder sy skape aan hulle agterpote nadertrek, weg van die gevaar. So wil die Here ons ook elke dag van gevaar beskerm.

In vers 5 – 6, verander die beeld of metafoor waarmee die mens beskryf word. In verse 1 – 4 is die mens soos ‘n hulpelose en afhanklike skaap, wat wag op die leiding van die goeie herder, die Here Jesus Christus. In verse 5 – 6 word die mens in die metafoor van ‘n eregas beskryf, wat sit aan die tafel van die Here, ten spyte van konflik. ‘n Mens kan die Here se vrede beleef selfs ten spyte van konflik en “teenstaanders” in jou lewe.

Die Midde Oosterse mense het gewoonlik net twee etes per dag gehad. Daar was so teen 10h00 ‘n “brunch”, wat hulle geëet het om krag te kry vir die dag se werk. Die hoofete was in die aand, wanneer die dagtaak voltooi is. Dan is daar tydsaam geëet, wyn gedrink, stories vertel, gedans en gekuier. So wag daar aan die einde van ons lewensdag, wanneer dit aand word en ons sterf vir ons ook ‘n ewige feesmaal voor aan die tafel van die Here.  Ons kop sal verfris word met olie en ons beker sal oorloop. Die goedheid en troue liefde van die Here, sal ons volg.

In vers 6 (b) staan daar en ek sal terugkeer na die huis van die Here. In hierdie lewe is ons net reisigers. Ons is bywoners. Ons is tydelik hier. Totius het so mooi geskryf dat “hierdie wêreld is nie ons tuiste nie.” Hier kry mense swaar, word siek, gaan dood, maar na hierdie lewe is ons die huis van die Here tot in lengte van dae. Daar staan ons sal terugkeer na die huis van die Here. Ons sal met ander woorde tuiskom by die Here.

Die Here sal ons met sy “stok” en “staf” beskerm, terwyl ons op pad terug gaan na die huis van die Here. Sy sekuriteit is by ons. Ons is veilig.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die gewete moet ontwikkel word.

SKRIFLESING: 1 Tim 1:5

Om na die beeld van God geskape te wees, beteken om ook ‘n gewete te hê.

Dit onderskei die mens van die dier omdat die mens beelddraer van God is. Toe Adam en Eva gesondig het, het hulle dadelik skuldig gevoel en in die aandwind vir God gaan wegkruip. Hulle gewete het hulle gepla. Aan die anderkant toe Kain vir Abel doodgeslaan het, het hy geen gewete gehad nie. Hy het nie skuldig gevoel nie en eerder gesê, ek is nie my broer se oppasser nie. Daarom kry ons ook dat die sondeval vir jou ‘n afgestompte gewete kan gee.

Die groot denker Immanuel Kant het dit ook uitgespel in ‘n indrukwekkende besinning, dat alle mense gebore word met ‘n gewete. Dit is integraal deel van mens-wees.

Die vraag is egter, hoekom is alle mense se gewetens nie ewe veel ontwikkel of het hulle nie dieselfde onderskeid tussen goed en kwaad nie.

Dit lyk dat gewete ook gevoed kan word deur kultuur, opvoeding, die tradisie en die gemeenskap. Vir een mensegroep sal om vrouens te onderdruk, spontaan en reg wees en vir ‘n ander mensegroep totaal en al ontoelaatbaat. Slawerny is vir honderde jare deur die Christendom goedgekeur.

John Newton (1725–1807). het tot bekering gekom as kaptein van ‘n slaweskip, maar sy gewete het hom eers gepla dertig jaar na sy bekering. Hy was die skrywer van “Amazing Grace.” Eers na dertig jaar het hy opgetree teen slawerny. Brittanje en ander Europese volkere het vir hulle ‘n magdom kolonies verower, sodat hulle uit die kolonies superryk kon word. Die Britte het die Boere Republikiese binnegeval in die Anglo Boereoorlog op soek na dié republieke se diamante en goud en met hulle verskroeide aarde beleid tienduisende vroue en kinders in ellende gedompel. Net Emily Hobhouse se gewete het haar daaroor gepla. Die Naziïsme se gewete het hulle glad nie gepla om die Duitse volk superior bo ander volkere te sien nie. Om Jode uit te wis was nie ‘n kwessie vir die gewete nie. Die blanke Suid Afrikaners (Engelse en Afrikaners) het geen gewetensbeswaar gehad teen die stelsel van apartheid nie het geen probleem met apartheid gesien nie.  Vandag het die meeste ANC leiers bykans geen gewetensbeswaar teen korrupsie nie en steel hulle die land bankrot. Om ‘n swak werksetiek te hê, pla nie hulle gewete nie. Om te sien hoe die land uitmekaar val, pla nie die regerende party nie, solank hulle net hulself kan verryk.  Gewoontemisdadigers het gewoonlik ook ‘n swak gewete en voel nie skuldig oor hulle misdade nie.

Daarom kry ‘n mens ook ‘n swak ontwikkelde gewete. Die swak gewete kan disintegreer op grond van opvoeding, kultuur, breinspoeling, omgewingsfaktore, die gangbare aanvaarbare norme en beïnvloeding deur vriende en mense. Politiek, kan ook ‘n mens se gewete laat disintegreer.

Daarom kry ‘n mens iets soos ‘n indiwiduele gewete en dan ook ’n kollektiewe gewete. ’n Swak kollektiewe gewete kan ‘n gemeenskap gesamentlik laat deelneem aan geregtigheid of ongeregtigheid. Die geskiedenis is vol van menseregteskendings deur owerhede en mensegroepe wie se sosiale gewete afgestomp geraak het.

So byvoorbeeld tydens die verhoor van die oorlogsmisdadiger Adolf Eichmann (wat een van die meesterbreine was om miljoene Jode dood te maak), het hy homself verdedig dat dit sy plig was om die Jode uit te wis. Sy gewete sou hom aangekla het as hy nie sy plig gedoen het om die Jode uit te wis nie. 

So kan ‘n mens se gewete ook verwronge wees. Jou gewete kan afgestomp wees. Jou gewete kan jou bedrieg en die waarheid versluier.

In 1 Tim 4:1-2 word daar gepraat van “skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is”. (Afrikaanse 1983 vertaling.) Dit beteken dit is mense wat hulle nie meer steur aan hulle gewetens nie en doen alles wat verkeerd en liefdeloos is. Hulle word as’t ware deur hulle vleeslike begeertes meegevoer.

Paulus skryf in 1 Tim 1:5 : “Die doel van die opdrag is liefde uit ‘n rein hart, ‘n skoon  gewete en ‘n ongeveinsde geloof.” Daarom moet ons die Heilige Gees vra, om vir ons ‘n sensitiewe gees te gee, sodat ons deur die Heilige Gees ‘n fyn besnaarde gewete sal ontwikkel, wat die verskil tussen reg en verkeerd sal ken.

Hoe nader ek aan God en Sy wil beweeg, hoe duideliker en sterker sal my gewete ontwikkel. Ons noem die heiligmaking. Ons moet deur die Gees ‘n Minora-skerp gewete ontwikkel om te onderskei tussen wat reg en verkeerd is. Hoe nader twee mense aan ‘n kers sit, hoe duideliker gaan hulle mekaar sien. Hoe verder hulle van die kers sit, hoe meer onduidelik gaan hulle mekaar sien. Hoe nader jy aan jou gewete leef, hoe meer sensitief gaan jy wees om ander mense raak te sien en aan hulle goed te doen. Jou gewete sal jou pla, as jy nie aan hulle goed doen nie, want jou gewete laat jou ander mense sien.

Koning Dawid in Psalm 51 openbaar ‘n baie sensitiewe gewete na sy owerspel met Batseba en sy moord op haar man Uriah. Hy het letterlik sy klere geskeur, as op sy kop gegooi en die pragtige Psalm 51 gedig van sy intieme berou oor wat hy aangevang het. Hy vra die Here om ook weer vir hom sy reinheid en opregtheid terug te gee. Hy verlang meer daarna as na goud en die koningskap. Hierdie opregte en vlymskerp gewete en berou het hom die man gemaak, naby aan die hart van God.

Sonder ‘n goeie gewete lei ‘n mens se geloof skade. Luister wat sê Paulus in 1 Timotheus 1: 19: “met geloof en ‘n goeie gewete – iets wat sommige mense versaak het, waardeur hulle geloof skipbreuk gely het.”

Om in die geloof te groei, moet jou gewete ontwikkel word. ‘n Vlymskerp geloof dien tot voordeel van jou geloofslewe en Christelike lewe voor God. Jou gewete hou jou op die regte pad en navigeer jou terug waar jy die pad verlaat het. Moenie alles aanvaar wat jou kultuur of omgewing vir jou leer nie. Wees krities tenoor die aanvaarbare gedrag van jou omgewing. Wees indiwidualisties, en onderskei met die Gees van God self wat reg en verkeerd is.

Laat jou deur die Gees en die gewete lei. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Engele is soms sonder vlerke.

SKRIFLESING: Hebreërs 13:2

Die Ou Testamentikus Claus Westermann het ‘n boekie oor engele geskryf met die titel “Gottes Engel brauchen keine Flügel”: “God se engele het nie vlerke nodig nie.” Dié boek het baie herdrukke beleef. Hy toon aan dat in verskillende tydvlakke van die Bybel, praat die Godsvolk verskillend oor engele. 

Daarom kan ‘n mens ook nie iets soos ‘n leerstuk oor engele formuleer nie. Die Bybel stel nie in engele belang nie, maar in God.  Engele is slegs boodskappers van God. Engele is God se helpers en somtyds God se draers van boodskappe in mensetaal. Westermann sê daarvoor het hulle nie altyd vlerke nodig nie.

Dit is merkwaardig hoe dikwels mense engele nie erken het nie, maar dat engele in gewone gestaltes aan mense verskyn het.

In Gen 18 het Abraham by Mamre gesit en drie manne sien naderkom. Hy het hulle slegs as besoekers herken en hulle met tipiese Ou Testamentiese gasvryheid bederf. Toe die drie manne vir hom en Sarah die boodskap bring dat hulle in hulle gevorderde ouderdom oor ‘n jaar ‘n seun in die wêreld sou bring het Sarah, selfs daaroor gelag. Hulle het die drie manne nie herken as engele nie. Want die drie manne het nie vlerke gehad nie. Hulle was tipies geklee soos Midde-Oosterse  mans.

Dirkie Smit skryf dat mense dikwels eers later besef dat dit engele was wat hulle bygestaan, vertroos of bemoedig het.

In die Nuwe Testament word daar meestal van engele gepraat by die hoogtepunte van Jesus Christus se lewe. Maar die engele wys altyd heen na Christus, in wie God nader as ooit aan ons gekom het in ‘n vleeslike gestalte, aldus Dirkie Smit.

In Hebreërs 13:2 staan daar: “Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang.” Abraham en Sarah het ook nie geweet hulle ontvang engele nie. Hierdie engele het vir hulle ‘n goeie boodskap van ‘n seun gebring. Netso, moet ons alle mense ontvang met gasvryheid. Ons kan dalk net ‘n engel ontvang en ons weet dit nie.

In Mat 25: 35 – 46 staan daar: 35want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ 37Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? 

39Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ 40En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’41“Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, 42want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; 43Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’ 44Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of ‘n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’ 45En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’ 46En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”

e

Wat belangrik is, dat ons dikwels deur engele besoek word in gewone menslike gestaltes. Dit kan iemand wees wat ons bemoedig of in nood help. Dit is al die vreemde gestaltes waarin God aan ons verskyn. Dikwels sal die engel wat ons help, menslik wees. Ons almal het ervarings van hoe mense ons onverwags gehelp het. Of hoedat mense ons in ons donkerste uur vir ons lig gebring het. Was dit nie miskien ‘n engel gewees nie?

Ek onthou baie jare gelede was ons jongste seun Johannes baie siek gewees. Hy het buitengewone hoë koors gehad. Hy is opgeneem in een van Kimberley se privaathospitale. Hy is ontslaan. Die koors het nog nie gebreek nie. Hy is toe later in een van Bloemfontein se privaathospitale opgeneem. Verskeie spesialiste het hom besoek, maar sy koors wou nie breek nie. Ons was moedeloos en verward. Die spesialiste wou hom toe later na die Pasteur Hospitaal stuur wat in virusinfeksies spesialiseer. Ons was gedaan, moedeloos en tranerig. Dit het gevoel of dit die einde van die wêreld is.

Een middag, rondom middagete was ek alleen by Johannes se bed. Anneke het gaan eet. Skielik stap daar ‘n christen advokaat die kamer binne, wat ek van geen kant ken nie. Hy vra toe of hy vir Johannes ‘n gebed kan doen. Ek vra vir hom asseblief. Hy het ‘n mooi gebed gedoen. Toe hy net uit is, kom Anneke die hospitaalkamer binne. Ek vertel toe vir haar, van die advokaat wat vir ons kind gebid het. Feitlik onmiddelik daarna wonder sy of dit nie miskien die mangels van Johannes is nie. Toe die spesialis weer ‘n besoek doen, vra ek hom om spesifiek na die mangels te kyk. Hy doen so en sê dadelik dat die mangels vrot is van infeksie. Hy bel toe dadelik ‘n ander spesialis wat met mangels werk. Binne 10 minute daag hy op. Hy verander die antibiotika wat per drup toegedien word. Die volgende oggend speel Johannes vir die eerste keer in 10 dae. Tien dae was hy dodelik siek, verskeie spesialiste het hom ondersoek. Niemand kon die oorsaak kry nie. Vir my was die advokaat wat ingestap het en ‘n gebed gedoen het, die engel wat God gebruik het om Johannes te genees. Want onmiddelik na sy gebed kry Anneke die wysheid om te wonder of die oorsaak nie by die mangels lê nie. Voorwaar was die advokaat ‘n engel vir ons gewees.  

Daar was ook die keer toe ons as die Ring van Hopetown ‘n predikante retreat gehad het. Ons het onder andere na die Van der Kloof dam gaan kyk en ons was ook binne die damwal. Johannes was klein. Op ‘n stadium raak ons almal in vervoering oor die skoonheid van die dam. Dit is net toe dat Johannes wegbeweeg van ons af. Daar was ‘n reuse gat in die damwal. Sou Johannes daar afval, is dit meer as ‘n honderd meter afgrond. Anneke kyk net betyds om en gryp hom aan sy klere, voor hy daar afval. Dit was vir my ‘n skrikwekkende oomblik in my lewe. Ek glo dit was God gewees, wat sy beskermengel beskik het, dat Johannes betyds gevang is deur Anneke. Daarom glo ek vas aan wonderwerke.

Ons mag nie vir engele aanbid nie. Engele kan nie uit hul eie uit optree nie. Hulle kry hulle boodskappe en opdragte van God. Hulle is maaksels van God. Daarom aanbid ons alleen die Drie Enige God. Hy stuur en beskik oor die engele. Somtyds stuur God ook mense as engele.

Wat belangrik is, is dat God ons ook kan gebruik as engele. As ons vir iemand wat honger is, kos gee of vir iemand wat dors is water gee of iemand besoek wat siek is of in die gevangenis is, tree ons op as engele van God.

Dikwels kan ons derduiwels wees met mekaar. Ons beduiwel mekaar. Ons doen duiwelse dinge en bedink duiwelse goed. Ons het dikwels ‘n duiwelse agenda. Dan roep die Evangelie ons op om op te tree soos engele vir mekaar. Ja, om goed te doen aan ander.

Jy kan miskien die engel sonder vlerke wees. Onthou ons word deur God gestuur.  Daar is hemelse engele en aardse engele. Wees jy die aardse engel.                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om ‘n streep te trek.

SKRIFLESING: Daniël 1: 1 – 21

By wyse van beeldspraak, leef ons in die stad Babilon. Babilon in ons gelese gedeelte was ‘n moderne wêreldstad, beheer deur die Galdeërs. Dit was in sy tyd ‘n moderne wêreldstad, wat die wêreld beheer het. Die wêreld het in ons tyd ’n “global village” geword, wat beheer word deur die informasie tegnologie, geldmarkte, ekonomiese stelsels, die politiek, wêreldmagte en die moderne afgode van ons tyd. Ons leef as’t ware in ‘n nuwe Babilon. Ons is as’t ware reisigers tussen “Babilon” en die “nuwe Jerusalem”, waarvan Openbaring praat.

Ons lees in die derde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda het koning Nebukadnesar van Babilon opgetrek en vir Jerusalem beleër.  Jerualem is verslaan en van die tempelgereedskap is na die heidense tempel in Sinar gevat. Baie Jode is ook gevange geneem om in diens van die Galdeërs en Nebukadnesar te staan. Nebukadnesar het vir Aspenas, die hoofpaleisbeampte opdrag gegee om jongmanne sonder liggaamsgebrek uit te kies, uit koninklike geslag en vername families. Faktore soos mooiheid, kennis, verstandigheid en bekwaamheid sou ook ‘n groot rol speel in die keuse. Hierdie jongmanne moes opgelei word in die Galdeërs se taal en skrif, sodat hulle in drie jaar se tyd in diens kan tree van koning Nebukadnesar van Babilon.

In die moderne Babilon waarbinne ons leef tel die faktore ook. Jou afkoms, jou vername familie, jou mooiheid, kennis, bekwaamheid en verstandigheid is jou leer om te klim in die stad Babilon.      

Onder hierdie Judeërs was onder andere 4 besondere jongmanne, wat naby aan die Here gelewe het, naamlik Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Die hoofpaleisbeampte het sonder dat hulle ‘n keuse gehad het, hulle name verander na afgode. Die naam Daniël wat beteken :”my God is Regter” , is vervang met Beltsasar wat beteken dat die afgod Bel die koning se lewe moet beskerm. Hananja wat beteken “die Here het gewys dat Hy genadig is”  is verander in Sadrag wat beteken “dienaar van Mardoek” die hoofgod van Babel. Misael wat beteken “Wie is wat God is?” is verander na Mesag wat beteken “Wie is soos die god Agu?” Asarja wat beteken “die Here help” is verander na Abednego wat beteken “dienaar van Nego”. Al vier het dus die name van afgode gekry.

Tog beskryf die boek Daniël hulle nie by hulle nuwe name nie, maar hou by hulle verbondsname. Die 4 jongmanne het geen keuse gehad, waar hulle bly, of wat hulle geleer word nie, maar hulle het ‘n radikale keuse uitgeoefen wat hulle eet. Die koning het opdrag gegee, dat hulle elke dag van die koning se kos moet eet. Maar hierdie koningskos en wyn was aan die afgode gewy. Hier het hulle ‘n definitiewe streep getrek. Hulle gaan hulself nie verontreinig met kos en wyn wat aan afgode gewy is nie. Daarom het hulle vir die hoofpaleisamptenaar gevra om ‘n toets te doen vir 10 dae en hulle net groente en water te gee. Dan lees ons na 10 dae was hulle voorkoms beter gewees as al die ander jongmanne se voorkoms. Hulle is toe vir drie jaar toegelaat om net groente en water te gebruik.

Die vier jongmanne het die geweldig ingewikkelde Babiloniese spykerskrif met sy 600 tal tekens en die rekenkunde van die 60-tallige stelsel bemeester. Hulle het hulself onderskei in alles van die heidense wêreld, behalwe om hulle geloof prys te gee. Hulle was standvastig in hulle geloof.

Toe hulle na drie jaar voor die koning gebring is, het die koning niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Hierdie 4 jongmanne het in die heidense agtergrond van die wêreldstad Babilon gewoon, maar hulle het ‘n streep getrek, as dit kom by geloofsake en die streep nie oorskrei nie. Daarom het koning Nebukadnesar hulle in sy diens gestel en hulle was 10 keer beter as die towenaars en voorspellers in sy koninkryk.

Daniël het deurgaans ‘n streep getrek, wanneer dit by geloofsake kom. In koning Darius se tyd, het sy goewerneurs-generaal op Daniël se vermoëns jaloers gewees en vir die koning ‘n dekreet laat afvaardig dat niemand vir 30 dae enige god of mens mag aanbid, behalwe vir koning Darius.  Daniël het egter getrou gebly en nog steeds drie maal per dag tot die Here gebid. Hulle het hom betrap in sy huis, waar hy vir die Here aanbid het. Teen die koning se sin, is hy in die leeukuil gegooi vol honger leeus. Maar die Here het die bekke van die leeus gesluit.

Ook Sadrag, Mesag en Abednego het altyd ‘n streep getrek in die grond as dit by geloofsake kom. Toe koning Nebukadnesar in Daniël 3 ’n goue beeld van 30 meter hoog en 3 meter breed laat oprig het in die provinsie Babel, het hy almal beveel om voor die beeld te buig. Sadrag, Mesag en Abednego het egter geweier. Hulle het ‘n streep getrek in die grond. Hulle is toe verkla en voor Nebukadnesar gebring. Hulle is toe in ‘n brandende oond gegooi. Maar toe sien Nebukadnesar dat daar ‘n vierde wese in die oond is, wat soos ‘n hemelwese lyk. Hy het Sadrag, Mesag en Abednego uit die oond laat kom en hulle hare was nie eers geskroei nie. Hulle het nie eers na brand geruik nie. Toe was die koning vir aldrie goedgesind gewees en vir die Here erken.  

In die heidense wêreld waarin ons lewe, word ons ook elke dag uitgedaag om strepe te trek van tot sover sal ek gaan, maar nie verder nie. Net soos wat Josef, ‘n streep getrek het en geweier het om met Potifar se vrou in die bed te klim. Of soos Dawid ‘n streep getrek het en nie vir Saul (die gesalfde van die Here) dood gemaak het in die grot nie.

In ons ekonomiese lewe moet ons ‘n streep trek om mense nie finansieel uit te buit nie. Ons mag nie skelm en gierig wees nie.

Wanneer ek met ander mense se geld werkmoet ek ‘n streep trek en nie korrup te wees nie.

In ons huweliks en verhoudingslewe moet ons ’n streep trek, deur getrou aan mekaar te bly, ten spyte van versoekings.

Wanneer dit by seksuele sake kom die streep te trek en dit binne die huwelik te hou.

In ons beroepslewe moet ons ‘n streep trek, deur nie op ander mense jaloers te wees nie.

Wanneer ek wyn gebruik, moet ek my streep trek, waar ek betyds ophou.

Wanneer ek grappe maak, moet ek my streep trek deur nie vuil grappe of rassistiese grappe of seksistiese grappe te vertel nie.

Wanneer ek my taal gebruik, altyd ‘n streep te trek deur my woordeskat nie te bevlek met vloekwoorde of growwe taal nie.

Wanneer ek in ‘n magsposisie is, ’n streep te trek deur nie my magte te oorskrei nie.

Wanneer ek ’n voertuig bestuur moet ek ‘n streep trek, hoe vinnig ek gaan bestuur.

Wanneer ek politiek praat moet ek ‘n streep trek, deur nie van ander mense of volkere karikature te maak nie.

Wanneer ek ‘n film kyk moet ek ‘n streep trek deur die regte goed te kyk.

Om in etiese sake altyd ‘n streep te trek tussen wat is reg en verkeerd is.

Wanneer jy strepe kan trek, besit jy eers ware wysheid. Wysheid is om strepe te kan trek en nie oor dit te beweeg nie. Somtyds werk jy in ‘n heidense omgewing met ‘n baas wat op jou vloek en skel. Dan kan jy nog steeds in ‘n heidense omgewing jouself onderskei, maar jy moet altyd standvastig wees in die doen van die wil van die Here.

Die wêreld ken nie van strepe en grense nie. Chaos ken nie van strepe en grense nie. Maar God se kinders is veilig, want hulle trek vir hulle strepe, volgens God se wil.

Daarom word hulle uit die leeukuil en die vuuroond gered. Daarom kan hulle hulself onderskei in die heidense wêreldstad van Babilon.  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om jou vyand tot skaamte te bring.

SKRIFLESING: 1 Samuel 24: 1 – 23

President Donald Trump se aanmoediging op Twitter dat sy aanhangers die “Capital Hill” die week bestorm, getuig van ‘n narsistiese diktator wat nie sy mag as president oor Amerika wil verloor nie. Dit was ‘n donker oomblik in die Amerikaanse geskiedenis. So was daar baie diktators in die geskiedenis van die wêreld, wat nie wou afsien van hulle politieke mag nie.

In die Bybel lees ons van Saul, die eerste koning van Israel. Hy het almeer die Here bedroef met sy lewe, sodat die Here se guns oor hom begin wyk het. Op die voorgrond het Dawid getreë, wat die gunsteling by God was om die koningskap van Israel by Saul oor te neem. Saul het dit besef en was daarom baie jaloers op Dawid. Van vroeg af het hy probeer om Dawid om die lewe te bring. Dink byvoorbeeld aan die keer toe Saul vir Dawid met ‘n spies wou doodgooi, terwyl hy onskuldig die harp bespeel het.

In 1 Samuel 24: 1 het Saul en sy manskappe terug gekom van ‘n veldslag teen die Filistyne. Saul hoor toe dat Dawid in die En-Gediwoestyn is en hy stuur drie afdelings soldate, wat 3000 manskappe is, om vir Dawid as enkeling te soek om hom dood te maak. Bykans die hele Israelitiese weermag soek om Dawid dood te maak. ‘n Mens kan jou die angs, vrees en teleurstelling van Dawid indink.

Saul het sy soldate na die Klipbokrotse gestuur om vir Dawid te soek. Saul het intussen by ‘n skaapkraal gekom met ‘n grot daarby. Hy het ingegaan vir sy toiletbehoeftes (Die Hebreeuse idoom in Hebreeus lees: hy het sy voete bedek.)

Maar Saul was onbewus daarvan gewees dat Dawid en sy manskappe agter in die grot skuil nie. Dawid het toe nader gesluip en ‘n stuk mantel van Saul se bokleed afgesny. Toe Saul klaar was en buitentoe gegaan het, het Dawid in die grot se opening gaan staan en geroep: “My heer die koning!” Dawid het op sy knieë voor die koning neergeval. Dawid het toe gesê: “Waarom luister u na die woorde van mense wanneer hulle sê, ‘Kyk, Dawid is daarop uit om u kwaad aan te doen’? Kyk, u het vandag met u eie oë gesien dat die Here u vandag in die grot in my hand oorgegee het. Iemand het gesê ek moet u om die lewe bring, maar ek het u jammer gekry. Ek het gesê, ‘Ek sal nie my hand na my heer uitsteek nie, want hy is die gesalfde van die Here.’ En, my vader,  kyk, ja, kyk hier, die soom van u mantel is in my hand. Want toe ek die soom van u mantel afgesny het, het ek u nie om die lewe gebring nie. Besef dan en sien in dat ek nie kwaad en opstand in die oog het nie. Ek het nie teen u gesondig nie, maar u maak jag op my om my lewe te neem.

Dan spreek Dawid met wysheid in vers 14: “ ‘Uit goddeloses   kom goddeloosheid voort.’ “My hand sal nie teen u wees nie.” Dawid weier om kwaad met kwaad te vergeld. Al word hy gesoek om doodgemaak te word, sal hy nie doodmaak nie. Hy is nie ‘n goddelose nie, daarom kan goddeloosheid nie uit sy hart voortkom nie. Daarom word Dawid ook die man na aan die hart van God genoem, omdat hy so opreg is.

Dawid vergelyk homself met ‘n dooie hond. Hy het geen kans teen die 3000 man van Saul nie. Dawid is nederig oor homself en beskou homself as ‘n vlooi op die dooie hond. Saul agtervolg ‘n vlooi op ‘n dooie hond.

In ons wêreld, word kwaad altyd met kwaad terug baklei. So word kwaad ‘n bose kringloop. Jy vergeld diegene wat aan jou kwaad gedoen het. So hou die spiraal van geweld net aan en aan en word dit net al erger. Dit vra iemand om met ‘n liefdesdaad ‘n einde te maak aan die sinlose spiraal van geweld op geweld. Ons moet ook ons vyande se venyn teen ons begroet met liefde. Jy sal jou vyande vuurrooi van skaamte maak oor jou liefdevolle optrede.

Saul was aangedaan deur die liefdesdaad van Saul. Hy antwoord in vers 18 – 21: “Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het. Jy het dit vandag duidelik gemaak dat jy aan my goed doen, dat die Here my in jou hand oorgelewer het, maar dat jy my nie om die lewe gebring het nie. As iemand sy vyand teëkom, laat hy hom ongedeerd wegkom?  Die Here, Hy sal jou met die goeie beloon vir wat jy vandag aan my gedoen het.  En nou, kyk, ek weet dat jy beslis koning sal word, en dat die koningskap oor Israel onder jou hand sal standhou.”

Die weldaad van Dawid, verander Saul se harde hart. Hy erken dat Dawid ‘n beter man is as hyself. Hy erken ook dat Dawid die statuur het om die volgende koning te wees van Israel. Dawid openbaar wysheid, koninklike wysheid.

Wysheid soek nooit weerwraak nie. Wysheid soek vrede, nie oorlog nie. ‘n Ware staatsman, soek altyd die groter gemeenskaplike voordeel, as sy eie selfsugtige ego.

Dawid het vir Saul skaam gemaak. So is ons as gelowiges ook geroep om nie geweld en haat aan te blaas nie, maar eerder ons vyand skaam te maak vir hulle verkeerde gedrag teenoor jou. Dit is soos twee mense wat teen ‘n deur aan weerskante beur. Skielik staan die een persoon terug en die ander een bars deur die deuropening en beland op die vloer, tot sy eie skaamte.

In Spreuke 15: 1 staan daar in die 1983 vertaling: “ ’n SAGTE antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.”

In Spreuke 25: 22 staan daar in die 1983 vertaling: “Die Here sal jou daarvoor vergoed, en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word.” In Rom 12: 20 staan daar in die 1983 vertaling: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.”

Glimlag vir jou vyand.

Stuur blomme vir jou vyand.

Praat goed van jou vyande voor ander mense.

Doen goed aan jou vyand.

Soek die goeie in jou vyand en sê dit vir hom of haar.

Bevorder die belange van jou vyand.

Hoor die pragtige wysheid van Leo Tolstoj: “Betaal slegte mense met u goedheid; beveg hul haat met u vriendelikheid. Selfs as u nie ‘n oorwinning oor ander mense behaal nie, sal u uself oorwin.” – Leo Tolstoj

“I have but ons candle of life to burn, and I would rather burn it out in a land filled with darkness than in a land flooded with light” – John Falconer

Geliefdes moenie alles en almal probeer beveg nie. Dit dien geen doel nie. Spreek seën uit oor jou vyand, en jy sal deel in die seën wat jy oor hom of haar uitspreek.

Ons is geroep om vredemakers te wees. Dan sal ons kinders na aan die hart van God wees, soos Dawid ’n man na aan die hart van God was.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om te sit op God se skoot …… is om rus te vind !

SKRIFLESING: Psalm 131: 1 – 3

Op 20 Julie 1969 het die Amerikaanse ruimtevaarder, Neil Armstrong die eerste mens geword wat op die maan loop.

Die landing van die Apollo 11 ruimtetuig was wêreldnuus. In Armstrong se woorde: “ That’s ons small step for man, one great giant leap for mankind.” Net twee jaar voor dit op 3 Desember 1967 het Dr. Chris Barnard die eerste hartoorplanting gedoen in die Grote Schuur hospitaal in Kaapstad. Louis Washkansky (53) het die eerste hart ontvang van die eerste hartskenker Denise Darvall. Dit was wêreldnuus. Intussen was daar al ‘n onbemande ruimtetuig op Mars. Ons lewe in die midde van die Vierde Industriële rewolusie, waar ons oorval word met data en inligting. Rekenaartegnologie het die wêreld oorgeneem. Hulle bou al rekenaars so groot soos ‘n kredietkaart.

‘n Mens wil amper uitroep: “O die wonder van die tegnologie van die mens! O, die wonder van die mens! Ons het al so ver gekom en so baie vermag. Wie weet wat nog alles op ons wag?”

Die gevaar is egter dat ons die grenslyn tussen hoogmoed en ootmoed kan oorsteek. Ons begin ons gou verbeel dat ons – ‘n wonderlike mens-God is. Kort nadat die eerste mens op die maan geland het, het iemand geskryf: “God moet oppas. Hy is volgende aan die beurt. Ons volgende stop is sy voordeur. Binnekort gaan ons by sy poorte aanklop, en Hom van sy posisie beroof ….”

Of, miskien moet ons dit meer sagter stel, meer beskaafd stel: Ons mense is onafhanklik. Ons breek met elke vorm van gesag. Ons duld geen heerskappy oor ons nie. Ons wil op ons eie wees, op ons eie bene staan, ons eie ding doen. Ons wil die naelstring tussen ons en God knip, onder die wanindruk dat dit vir ons “onafhanklikheid” en “vryheid” sal bring.

Die Duitse digter Schiller het selfs gemeen dat die sondeval die enkele grootste prestasie van die menslike gees was – die dag toe ons onafhanklikheid uit die Vaderhuis weg gestap het. Hy noem dit: “Die gelukkigste gebeurtenis van die mensdom se geskiedenis” en “die eerste waagstuk van die menslike rede.” Hierdie neiging om ons van God los te maak, gaan inderdaad so ver terug soos die tuin van Eden. Augustus het nie verniet die sonde gedefinieer as hoogmoed nie. Ons verhef ons bo God, erger nog, plaas ons in die plek van God – dis ons sonde.

Luther het gesê ons probeer alewig om in die hemel in op te klouter, soos die mense in die tyd van die toring van Babel. Deur die eeue heen bestorm ons die hemel, lanseer ons ons na God – om Hom te onttroon.

Hoe tragies ons plaas mense op die maan en ruimtetuie op Mars, maar blykbaar begryp ons nie ons eie posisie, ons plasing voor God nie.

Die digter, koning Dawid van Ps 131 begryp dit wel. In hierdie kort psalm is daar drie verse, drie momente:

Vers 1: Ootmoed (wat die teenoorgestelde is van hoogmoed.)

Vers 2: Tevredenheid (Die psalm beskryf dit as “kalmte” en “bedaring”)

Vers 3: Hoop

Die een moment volg op die ander. Dit is soos die skakels van ‘n ketting. Die een lei tot die ander.

Die eerste moment of skakel is OOTMOED. Dawid skryf: “Here, my hart is nie hoogmoedig en my oë nie verwaand nie.” Die digter ken sy plek voor en onder God. Hy is soos die digter wat nog oopmond en blinkoog hom kan verwonder aan God se sterrehemel. Hy sien die maan en Mars raak en weet dit is die werk van God se vingers. Dawid verwerp enige vorm van hoogmoed, daarom juis word hy genoem die man na aan die hart van God. Die Midrash verduidelik dat vers 1 verwys na sekere insidente in Dawid se lewe, waarop hy inderdaad hoogmoedig kon word. Hy kon arrogant word, oor hy Goliat met ‘n klippie en slingervel doodgegooi het. Hy kon arrogant wees oor hoe hy telkens vir Saul ontvlug het. Hy kan arrogant word oor sy militêre en staatkundige suksesse. Hy kon arrogant wees oor sy harpmusiek en sy uitstekende dig vermoëns. Maar hy verwerp hoogmoed. Dalk het sy owerspel met Batseba en sy moord op Uriah, hom telkens herinner dat hy sondig is en uit genade deur die Here vergeef is.  

Ons grootmense is net soos kinders wat ons verbeel ons is Superman, Spiderman, Rambo of een of ander magiese figuur met bonatuurlike krag.  

Maar Dawid is anders. Hy het sy plekkie in die heelal gevind en kom daarom tot rus. Ootmoedigheid, nederigheid verlos jou van die spanning om altyd beter te wees en te veel van jouself te verwag. Mag ons in 2021 ootmoedig en nederig voor God lewe, sodat ons oë weer kan blink in verwondering oor Hom.

Dit lei tot die tweede moment, die tweede skakel te wete: TEVREDENHEID. Die psalmdigter gebruik die woorde “kalmte” en “bedaring”. Hierdie beeld van God as moeder tref ons ook in Jes 49: 15 was as volg lees: “Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet, haar nie ontferm oor die seun van haar moederskoot nie? Selfs al sou hulle vergeet, Ek, ja, Ek sal jou nie vergeet nie.”

Die enigste plek waar daar kalmte en bedaring en tevredenheid te vinde is, is op die skoot van ons God. In die Hebreeuse teks word gepraat van ‘n “gespeende kind”, met ander woorde ‘n kind wat al by homself kan drink en eet van ander melk en kos. Maar die gespeende kind gaan terug na sy  sekuriteit, wat hy opgebou het toe hy ‘n suigeling aan sy moeder se bors was. Die gespeende kind, gaan terug na sy eerste sekuriteit. Daarom moet ons altyd kinderlik bly. Soos die kindergebed: “Maak my ‘n kindjie klein”.

Ja, alleen as ons maar in ‘n fetus-posisie, knielend, en aanbiddend voor God lewe. Ja, dan sal God se kalmte en bedaring deel van ons lewe word. Dan sal tevredenheid oor ons neersak, soos Arthur Weiser wat geskryf het: “Die delikate toon van nederige vertroue in die psalm klink soos die vredevolle klanke van klokke wat aan die bokke hang wat met sonsondergang lui in ‘n stil vallei wat deur die laaste strale van die ondergaande son met sagte lig gevul word.”

Ja, wie ootmoedig lewe voor God, word gevul met kalmte en bedaring. Mag ons in 2021 ook so met tevredenheid lewe, sodat vrede deel van ons lewe kan word.

Dit bring ons by die derde vers of derde moment: HOOP.

Ootmoed lei tot tevredenheid en tevredenheid tot hoop. Die Psamdigter, Dawid verwoord dit met die volgende woorde: “Israel, vestig jou hoop op die Here,  nou en vir altyd.”

Ironies genoeg soek ons altyd hoop in die menslike tegnologie en vooruitgang. Net om maar weer ontnugter te word. Alleen hulle wat ootmoedig lewe, en daarom kalmte en bedaring ervaar kan werklik hoop.

Alleen op die skoot van onse God kan ons werklike hoop vind. Alle ander vorme van hoop is byvoorbeeld doodgebore. Mag ons in 2021 lewe met die ware HOOP!

Die voorafgaande Psalm handel oor die digter se soeke na God en Psalm 131 handel oor die vondse wat hy gevind het. Albei Psalms is verbondspsalms, wat handel oor God se verlossende genadige inisiatief en handeling. Dit is God wat na ons toe neerbuig, ons optel en op sy skoot neersit.

Tereg sê Johan Cilliers (wat baie insiggewend oor Ps 131 geskryf het) die volgende: “ ‘n Mens vind nie vrede omdat ‘n mens so sekuur na die hemel kan mik nie of omdat jy jouself tot op God se skoot kan lanseer nie. Nee, dit is eerder God wat sy Seun van Sy skoot weggestoot het, sodat Hy ons daarop kan tel.

Wonderliker, veel wonderliker as ons maanlanding, is God se aardlanding, skryf Johan Cilliers. Om die mensdom, om vir my te kom red. Ek weet nie hoe dit werk nie. Maar ek weet die wete vul my met ootmoed, tevredenheid en hoop. 

Pragtig is Psalm 131 in die Liedboek van ons kerk as volg verwoord:

1. Geen strewe jaag ek na bo my vermoë,

geen trots of hoogmoed is daar in my oë.

Sal ek die groter dinge wil oortref

en sal ek my, o Heer, teen U verhef?

2. ‘n Kind rus in sy moeder se beskerming.

So vind ek vrede, Heer, in u ontferming.

Wag, Israel, vertrou Hom deurentyd.

Wag op die Here tot in ewigheid.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

God lei ons na ‘n veilige hawe ……

SKRIFLESING: Psalm 107: 23 – 30

Om eerlik te wees, is ek nie juis opgewonde oor die nuwe jaar nie. Elke jaar het sy eie probleme. Baie van verlede jaar se probleme gaan saam met ons, die nuwe jaar in. Op Oujaarsaand het ek soos Beki Cele beveel het, gaan vroeg slaap. Ek was al saam met die hoenders op my stellasie.  Ek het nie eers die klappers en die vuurwerke gehoor nie. Ek het ook vir niemand “Geseënde Nuwejaar” toegewens nie, want ek verstaan die realiteit van so baie mense. Nadat ek eers laat opgestaan het op Nuwejaarsoggend, het ek vir my honde en hoenders kos gegee. En sowaar, wat sien ek hier op dié Nuwejaarsoggend? Daar het 3 hoenderkuikens uitgebroei. Te fraai, opreg en onskuldig! Skielik kry ek weer hoop vir die nuwe jaar. Die nuwejaar het begin met drie pragtige kuikens, piepklein maar ‘n herinnering dat God nuwe dinge kan laat begin.

Die jaar 2020, sal nooit deur die geskiedenis vergeet word nie. Dit was soos oorlogsjare. Baie mense se hoop en toekoms het gesink. Dit was die beginjaar van Covid-19. Geweldige inperkings is beleef. Tienduisende mense het hulle werk verloor. Die ekonomie is vuisvoos. Bekende mense sterf links en regs van jou, as gevolg van Covid. Ons land is in die uiterste ellende en dienslewering bestaan amper nie. Alles in die land beleef ’n inploffing. Mense kry swaar. Die werkloosheid staan op ‘n ongekende 47 %. Op Oujaarsdag is ‘n rekordgetal van 18 000 nuwe infeksies van Covid aangeteken. Ons is binne ’n storm.

Sal alles skielik verander met die aanbreek van 1 Januarie 2021. Nee! Ons is nog steeds binne die storm.

Dan beteken Psalm 107: 23 – 30 vir my so baie hier aan die begin van 2021. Die Psalmdigter erken die werklikheid van storms in jou lewe of in die geskiedenis van die wêreld. Jou storm kan wees die effek van Covid-19, of dit kan die droogte wees. Dit kan finansies wees of persoonlike verhoudingsprobleme. Dit kan wees werkloosheid of  ’n terminale siekte.

Die Psalmdigter vergelyk die probleme met ‘n storm op die see.  

In vers 23 staan daar: “Dié wat by die see in bote klim, hulle wat handel dryf   op die groot waters.” Die see, is vir die Jode ’n angswekkende plek. Die Jode het gewoon in ‘n semi-woestyn  tot woestyn gebied. Daarom was die Jode nie soos die Grieke en ander volke ‘n seevarende volk gewees nie. Vir hulle was die See van Galilea die naaste wat hulle aan die see gekom het, want jy kan ten minste die oewer heeltyd sien. Maar ook die See van Galilea het sy storms beleef. Die see het herinner aan chaos, gevaar, bedreiging en monsters. Daarom dat die boek Openbaring die metafoor gebruik van die hiernamaals as die plek waar  “daar sal nie meer ’n see sal wees nie.”

Op hierdie see beleef die Psalmdigter hom en dan vertel hy hoe hy die groot dade en wonders van God beleef het. Eers beskryf hy die ergheid van die storm. Hy gebruik woorde soos: stormwind (vers 25), die golwe het uitgetroon (vers 25), hulle het opgerys na die hemel en afgesak na die dieptes (vers 26) en die ramp het hulle moed begewe (vers 26). Verder beskryf hy hoe hulle rondgeslinger word, en steier soos dronk mense in vers 27.

Dan kom die Psalmdigter met ‘n belydenis in vers 27: “ al hul vernuf was waardeloos”. Hierdie is as’t ware die keerpunt van die hele perikoop. Die mens bely sy onvermoë om homself te red. Al ons vernuftigheid kan ons nie red nie. Deur al die eeue het mense staat gemaak op hulle vernuf om probleemsituasies die hoof te bied. Ons maak dikwels staat op die vernuftigheid van politici, medici, ekonome, teoloë en akademici om ons storms vir ons op te los.   Om net uit te vind dat nie alle storms deur die vernuftigheid van die mens opgelos kan word nie. Ons vernuftigheid kan ons nie navigeer deur die storms van 2021 nie.  Ons het iemand nodig, wat groter is as ons en ons menslike planne.

In vers 28 lees ons hoedat die drenkelinge na die Here toe genavigeer het. Om te bid  of om die Here aan te roep is om na die Here toe te navigeer. Daarom staan daar: “Toe het hulle in hulle nood na die Here om hulp geroep”. Soos wat die ou matrose van weleer op die sterre genavigeer het, moet ons ook leer om in 2021 te navigeer op die ster van Bethelehem, op die Here Jesus self. Wanneer ons onsself nie navigeer volgens die Here Jesus nie, kan ons onsself op die rotse laat beland. Al ons nuwejaarsdrome kan op die rotse beland.

In die tweede gedeelte van vers 28 lees ons dat die Here hulle uit hulle benoudheid uitgelei het. Interessant is dat daar nie eerste melding gemaak word van die storm nie, maar van hulle emosie, naamlik “benoudheid”. Die Here het hulle bevry van die emosie van benoudheid. Dikwels is ons emosies selfs groter as ons storms. Eers in vers 29, staan daar het die Here hulle uit die fisiese storm gelei, deur die storm stil te maak en die golwe te laat bedaar. Met ander woorde die skrywer beleef heel eerste dat die Here, hulle uit hulle benoude emosies verlos het en toe beskryf hy die fisiese wonder van die storm wat bedaar.  

Dan volg die pragtige vers 30: “ Hulle was bly toe die golwe kalm word. Hy het hulle gelei na die hawe waarna hulle verlang het.” Weer word van twee emosies melding gemaak naamlik hulle “blyheid” en hulle “verlange”. Die hele perikoop is vol emosies. En hoe dan anders, want alle storms, maak jou emosies los.

Die Here het hulle gelei na die hawe, waar hulle veilig en geborge kon voel. Net soos die goeie Herder in Psalm 23 sy skape lei na groen weivelde, na waters waar daar vrede is.

Deur die storms wat dalk vir ons wag in 2021, wil die Here Jesus vir ons lei na die hawe van die Vaderhart waar dit veilig en geborge is. Hy sal ons nie in die storms van die lewe in die steek laat nie. Nee, Hy sal ons veilig lei na die hawe van veiligheid. Ons kan egter nie altyd in die hawe wees nie. Dit is nie waarvoor ‘n skip gebou is nie. ‘n Skip is gebou vir die see en so is ons gemaak vir die lewe. Ons moet op 1 Januarie 2021 uitvaar die see in, die lewe in. Ons moet soos vers 23 sê gaan handel dryf op die groot waters. Maar as ons op die groot waters van die lewe is, kan ons weet as daar storms kom, sal die Here ons help en die hawe wag vir ons. Die Vaderhart van God wag vir ons. Ons is ook bedoel om weer na die hawe veilig terug te keer.

Mag u en ek in 2021 veilige seemyle aflê op die groot waters van die lewe.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)