OM TE KAN SKEP IS GENESEND ….

OM TE KAN SKEP IS GENESEND ….

11239618_10154100375653332_2212639807552402684_nDie mens is gemaak na die beeld van God.  God is die Skeppergod, uit wie en deur wie alle dinge ontstaan het. Daarom is die mens ten diepste ook ‘n kreatiewe wese wat sy sin en betekenis vind om te skep. Wanneer die mens bloot lewe om te oorleef is hy niks beter as die diere en plante van die natuur nie.  Maar God het aan die mens die besondere gawe gegee om kreatief besig te wees. Wanneer mense intense emosionele pyn ervaar vind hul gewoonlik diepe genesing daarin om “iets te skep”. Daarom het die meeste psigiatriese hospitale elke dag ‘n tydsgleuf waarin pasiënte aangemoedig word om in die kunsklas iets te skep. Dit kan verf, naaldwerk, skryf, krale of enigiets wees wat weer vir hul ‘n gevoel van “sukses” gee. In die meeste mense se alledaagse lewe is hul vasgevang in die sleur van die instandhouding van die lewe dat mense doodgewoon verveeld raak en hul energie vir die lewe verloor. Wanneer jy worstel met min lewensenergie is dit ‘n baie goeie  begin deur die vraag te vra: “ Wat het ek die afgelope dag of week geskep?” Gewoonlik is die antwoord negatief, want instandhouding van die lewe het niks tyd gelaat vir kreatiwiteit nie. Die herstel van lewensenergie begin deur vir jouself duidelike doelwitte te stel om weer jou kreatiewe self te ontdek. Elke mens het ‘n kreatiewe self, want jy is gemaak na die beeld van God. In God se ryke verskeidenheid verskil ons egter in kreatiewe talente. Sommige vind hul kreatiwiteit in naadwerk, houtwerk, krale, skryf, kosmaak, tuinmaak,  skilder, verf, binneshuisversiering, navorsing of enigiets onder die son, wat geboorte gee aan iets nuuts.

Wie leer om te kreatief te skep, skep vir homself nuwe sin en betekenis in die lewe. Kreatiewe energie is positiewe energie, dit genees emosioneel. Gewoonlik sneeubal energie in iets groter, ‘n nuwe JY. Ons samelewing plaas ‘n groot klem op gewigsbeheer, fiksheid, fisiese voorkoms en diëte. Ongelukkig plaas ons min klem op emosionele lewensenergie. Tog is dit dikwels juis ons lewensenergie wat vreugde in die lewe stimuleer en van ons gelukkige mense maak.

Oorleef jy of leef jy ? Skeppende kreatiwiteit laat jou LEEF !

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Hoe welkom en gasvry is ons teenoor vreemdelinge ?

Hoe welkom en gasvry is ons teenoor vreemdelinge ?

61432_489173841114237_1682728253_n“Everyone is homesick ! het Kent Ira Groff opgemerk. Almal wil graag behoort aan ‘n groep of aan ‘n vriendekring. Natuurlik is die kerk die volmaakste model, wat ons Here Jesus Christus vir ons gegee het, waar vreemdelinge kan tuiskom in ‘n geloofsgemeenskap. Jesus Christus het immers gekom vir sondaars, vir vreemdelinge wat ver staan van God en van hul medemens. In Christus Jesus het ons naby aan God gekom en nader aan ons naaste gekom. Tog ontbreek gasvryheid in die meeste Christelike kerke. In plaas van insklusief te wees is ons dikwels ‘n eksklusiewe groep wat tuis voel met ons eie mense, met wie ons bande het oor baie jare. Ons wil nie graag die gemaksone verlaat van bekendes en vriende maak met die vreemdelinge nie. Dan ontbreek dit ons aan die Christelike gasvryheid. In Gen 18: 1 – 15  is die verhaal van Abraham wat sit by die bome van Mamre, in ‘n vreemde land, want God het hom mos gestuur vanuit Ur van die Galdieërs die woestyn in. Terwyl hy sit by sy tent sien hy drie mans van ver aankom. Hy draf na die vreemdelinge en nooi hul uit om te kom rus onder die bome en vir hul water te gee. Meer nog, hy draf na Sarah en beveel haar om 16 kg meel te vat en roosterkoeke te maak. Hy draf na sy slaaf en beveel  hom om ‘n kalf te slag en gaar te maak. So sit hy dan die roosterkoeke, kalfsvleis, botter en melk neer voor die totale drie vreemdelinge. Min wetende dat die drie vreemdelinge vir hom meer gaan beteken as wat hy vir hulle beteken. Want dit blyk toe later dat hul boodskappers van God is, wat vir hom die goeie boodskap bring dat Sarah oor ‘n jaar later ‘n seun in die dié wêreld sal bring. So sou die belofte van God dat Abraham ‘n groot nageslag sal hê in vervulling kom. Dink ook aan Boas se gasvryheid aan Rut, ‘n Moabitiese vrou wat koring in sy lande opgetel het. Uit sy gasvryheid het ‘n huwelik ontstaan, waaruit Dawid gebore sou word, uit wie se nageslag die Messias gebore sou word.

Die Here Jesus Christus het in sy bediening uitgereik na die gemarganiseerdes in die samelewing soos die tollenaars, blindes, kreupels, melaatses, siekes, die weduwees, die prostitute, die kindertjies en almal wat van min waarde was. Juis daarom moet die kerk nie veroordelend wees nie, maar ondersteunend. Die kerk moet ‘n “tuiste” skep ook vir die “andersheid” van vreemdelinge. Die kerk is anders as enige ander samelewingstuktuur: “There is nothing like the local church.” Eers wanneer God se gemeentes geleer het om gasvry te wees, sal ons ook soos Abraham ontdek dat die vreemdelinge vir ons meer beteken, as wat ons vir hulle beteken. (Vergelyk Nelus Niemandt se opmerkings in sy boek: Nuwe Drome vir nuwe werklikhede)

“A truly missional church integrates worship with welcome ! ”, aldus Eddie Gibbs en Ryan Bolger.  Parker Palmer het gesê: “The strander is not simply one who needs us. We needs the strander.” Geestelike vorming vind juis plaas deur gasvryheid.

As ons ons kerke en gemeentes wil uitbou, sal ons moet leer om soos Abraham en Jesus Christus vreemdelinge met gasvryheid te ontvang. Wie die vreemdeling ontvang, ontvang ‘n gestalte, ‘n boodskapper van onse Here Jesus Christus.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van NG Kerk Adelaide)

PAASFEES BRING ‘N EINDE AAN BOELIE EN SKEP KOINONIA

PAASFEES BRING ‘N EINDE AAN BOELIE EN SKEP KOINONIA

556203_382261931792911_1297031702_nOm apaties te wees en om ander te boelie is deel van die skaduwee van die menslike ras. Dit kom voor in alle tye van die menslike geskiedenis en dit begin waar voorskoolse kleuters mekaar boelie tot bejaardes wat mekaar boelie. Dit kan growwe vorms van boelie insluit tot die mees verfynde vorms van boelie tussen welopgevoede dames. Dit vind plaas in oorlogsones en op speelgronde van kinders. Dit speel ook af in ons gelese gedeelte in die Tuin van Getsamené.

Wanneer Jesus in die nag voor sy kruisiging diepe aanvegtinge verduur en emosioneel ly, vind ons dat die dissipels drie keer uitgevang word dat hulle in droomland is, terwyl Jesus in ‘n lewende nagmerrie leef. Hulle is totaal onbewus van Jesus se intense lyding wat op Hom wag. Hulle sien niks, hoor niks en praat niks nie.

Hulle harte voel geen emosies nie. Dit is so goed as afgestomp. Hulle emosies is dood. Waar Jesus vir hulle geleer het van die gemeenskap van gelowiges is hulle heeltemal onbetrokke en apaties. Later die nag sou Petrus die Here verloën, die dissipels weghardloop, die vroue op ‘n afstand staan en Judas die Here verraai. Jesus staan emosioneel alleen. Hy is in ‘n emosionele woestyn sonder enigeen wat vir Hom omgee. Hy is as’t ware van mense verlaat. Later sou Hy ook voel dat God Hom verlaat het. Daarom het Hy aan die kruis uitgeroep: “My God, my God, waarom het u my verlaat? Sonder die hulp van God of mens was Hy sielsalleen en het Hy gehang aan ‘n kruis. Sy kop en voete was tussen die hemel en die aarde. Nie die hemel of die aarde wou Hom gehad het nie. Alle “koinonia” (gemeenskap van gelowiges en met God) het verdwyn. Jesus was ALLEEN.

Daarom is die Mattheus Evangelie meer ingestel op Jesus se emosionele lyding as Sy fisiese lyding. Ons almal weet dat emosionele lyding baie erger is as fisiese lyding. In fisiese lyding kan jy jou wonde wys, maar in emosionele lyding kan jy nie die tekens van jou lyding vir iemand fisies wys nie. (Daarom sny mense dikwels hulle liggame om uitdrukking te gee aan hulle emosionele pyn.)

Die verhaal van Jesus Christus, is ook ‘n verhaal van baie boelies. Reg aan Sy geboorte was dit Koning Herodus wat alle seuntjies van jonger as 3 jaar gebore is dood gemaak het. Die Farisieërs het gedurig vir Jesus geboelie met strikvrae. Sy eie geboortedorp het Hom verwerp en wou Hom by geleentheid van die afgrond afstoot. Met sy lydingstyd het die spotters en boelies net meer geword. Spotters en boelies kom meestal in “mobs” voor. Daarom lees ons van die hele Joodse Raad en van ‘n garnisoen soldate en van massas wat skreeu: “Kruisig Hom, Kruisig Hom!” Die emosionele lyding van Jesus word in ons gelese gedeelte en in die daarop volgende gedeeltes tot die uiterste toe beskryf. Jesus onderwerp Homself aan die spot, beledigings, onwaarhede, teenkanting, verraad en verloëning. Hy is bereid om ALLEEN te staan.

Jesus het emosioneel ALLEEN gestaan, sodat ons nooit emosioneel alleen hoef te voel nie. Daarom is die opdrag van die kerk ook dat ons die gemeenskap van gelowiges moet beoefen. Toe Jesus Godsverlate en mensverlate aan die kruis gehang het, het Hy koinonia geskep. Hy sê vir Maria: “Daar is jou seun.” en vir Johannes sê Hy: “Daar is jou moeder.” Hy het hulle alleenheid weggeneem deur hulle vir mekaar te gee. Hy het ‘n dissipelkring agtergelaat sodat hulle vir mekaar kan omgee. Eugene Peterson het geskryf, dat Jesus dit aan die dissipels en apostels oorgelaat het om boeke te skryf. Hy het iets veel kosbaarder geskep. Hy het KOINONIA geskep, sodat mense nooit alleen hoef te voel nie. Daarom bely ons in die Credo: “Ek glo in die gemeenskap van gelowiges.”

Ons leef in ‘n wêreld waar baie mense eensaam voel in hulle omstandighede. Dit kan enkelma’s of enkel pa’s wees, geskeides, terminaal siek en verstote mense, Vigs – slagoffers wat verwerping ervaar, weeskinders, ‘n eensame sakeman alleen in sy kantoor en so kan die lysie aangaan. Emosionele lyding en eensaamheid gaan hand en hand met mekaar.

Daarom word ons juis in hierdie Pase opgeroep om opnuut erns te maak met KOINONIA, deur gemeenskap te skep met mense wat nie van nature ons vriende is nie. Eers dan sal die wêreld weet dat ons God se kinders is, as ons ons kan assosieer met ander sy lyding en emosionele verwondheid. God se kinders leef nie in apatie nie. God se kinders boelie nie. Nee, God se kinders ontferm hulle oor dié wat seergekry het. Dit is die boodskap van Paasfees. God se kinders maak vriende met die wêreld. God se kinders omhels die gebroke wêreld en leef nie op ‘n beskutte eiland nie. God se kinders word vuil met die vuil en seer van dié wêreld.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Seisoene in my geestelike lewe …

SEISOENE IN MY GEESTELIKE LEWE

185087_445487685501938_1468018195_n (1)Ons kan maklik verstrik raak in ‘n voorspoedsteologie, waar ons dink dat alles in die Christelike geloof gaan om “JOY”. Ons het almal al as jeugdiges tienerkampe bygewoon, waar ons op ‘n geestelike hoogtepunt was en gedink het Christenskap gaan oor ewigdurende blydskap en vreugde en vrede en voorspoed. Dan gebeur daar somtyds traumatiese goed in jou lewe en jy voel gestroop van die “JOY”. Dikwels vra ‘n mens dan die vraag, maar waar is God nou?

Riaan van der Merwe verduidelik, dat ‘n mens eerder moet praat van die 4 geestelike seisoene in jou lewe. Elke mens ervaar geestelike lentes, somers, herfs en winters. Elkeen van die geestelike seisoene is baie nodig vir jou geestelike lewe. Ons kry nie net somervrugte soos perskes en appelkose nie, maar ook wintersvrugte soos lemoene en nartjies.

Vir die lemoene en nartjies om ryp te word is dit nodig om winter te word. So gaan ons ook deur verskillende fases in ons geestelike lewe.

Somtyds voel ons baie naby aan God en ander tye voel ons weer vêr van God. Somtyds voel ons Godverlate soos die Psalmdigter Dawid dit in sommige van sy Psalms uitdruk. Prediker praat selfs in sy boek, dat daar ‘n tyd is vir alles. Juis daarom moet ons elke tyd en seisoen in ons lewe ontvang as geskenke van die Here en elke seisoen beskou as ‘n leerkurwe in ons lewe.

Soos wat ‘n skoenlapper deur verskillende fases in sy lewe gaan, van ‘n eier, ‘n wurm, ‘n papie en uitendelik ‘n skoenlapper word – gaan ons ook deur verskillende lewensfases is ons lewe. Elkeen van die fases of groeiseisoene is belangrik.

Somtyds het ‘n mens ‘n wintertydperk of ‘n stuk gewondheid nodig om jou in te lei in ‘n dieper vlak van geestelikheid. Wintertye van vertwyfeling en hooploosheid is juis die tye wat ons gestroop word van ons eie selfversekering, sodat ons net aan God kan vashou met ons hele lewe. Jy word dan ook jou ware self: “Nothing is more important, for if we find our true self, we find God, and if we find God, we find our most authentic self” (David Benner).

Vergelyk jou eie lewe met ‘n boom. Die Bybel praat op baie plekke van bome. Die bekende Ps 1 praat van die regverdige wat  soos ‘n boom is wat by waterstrome geplant is. ‘n Boom lyk nie heeljaar dieselfde nie. In die lente, somer, herfs en winter verander die boom gedurig van gedaante. So ook wissel ons geestelike lewe voor God. Tog is elke fase goed en nodig. In elke fase vind daar groei en rus plaas.

Daarom moet ons nie ons geloofsekerheid koppel aan ons eie emosionele belewenis nie. God staan vas en seker. Al wat ek moet doen, is om soos Andrew Murray gesê het myself oor te gee aan God in elke seisoen van my lewe, wagtend dat Hy sy heilryke werk in my lewe sal doen.

Daarom moet ek in elke seisoen van my lewe nuuskierig wees, wat God in my lewe wil bewerk of wil doen. Ek moet my geestelike lewe voor God as ‘n wonderlike reis beskou. Telkens sal ek verstom staan oor hoe God in en deur my werk.

Ons lewe is soos die boomringe van ‘n boom. Daar is dik en dun jaarringe. Daar is tye van oorvloed en skaarste, tye van voorspoed en droogte. Ja, daar sal ook tekens wees van brand en waar takke afgeskeur of afgesny is. Maar al die kenmerke van die boom, maak die boom uniek. So is ons elkeen ook bome wat uniek gevorm is deur die seisoene van ons lewe. Geen boom lyk soos ‘n ander een nie.

So lyk elke mens se lewe anders as die van ander. Ons is verskillend gevorm deur die seisoene van ons lewe. Koester jou lewensboom. Koester die merktekens van jou wonde. Dit het jou die mens gemaak wat jy vandag is. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

 

Wat is geestelike volwassenheid?

haalplantuitpotWat is geestelike volwassenheid?

Die vraag in vandag se preek is: Wat is geestelike volwassenheid? Wanneer tree jy geestelik volwasse op? Die boek Filippense gee vir ons ‘n duidelike antwoord op die belangrike geestelike vraag.

In die sielkunde onderskei ‘n mens tussen vroeë volwassenheid (20 – 40 jaar). Dit is gewoonlik die tyd wat ‘n mens belangrike besluite neem in jou lewe soos jou beroep, jou lewensmaat en hoeveel kinders jy wil hê. Middel volwassenheid of dan middeljare (40 – 60) is gewoonlik die tyd in jou lewe, waar jy begin nadink oor jou lewe. Laat volwassenheid of dan bejaardheid (60 +) is gewoonlik die tyd van aftrede. Sielkundige volwassenheid het egter niks te doen met geestelike volwassenheid nie. ‘n Mens kan dikwels ‘n diep volwasse mens vind wat baie kinderagtig en onvolwasse optree.

Geestelike volwassenheid het te doen met jou verhouding met God en met jou medemens. Dit het ‘n diep geestelike karakter. Geestelike volwassenheid skryf Paulus is nie iets wat jy kan bereik of by ‘n punt kan kom en sê ek is nou geestelik volmaak nie. Geestelike volwassenheid skryf Paulus is eerder ‘n reis, ‘n proses, ‘n doelwit wat jy nastreef.

Daarom skryf Paulus in Fil 3: 12: “Ek sê nie dat ek dit alles al het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” In die Grieks is dit ook iets waaraan ek werk (‘n proses) met die oog op die bereiking in die toekoms. Daarom is geestelike volwassenheid iets wat ons lewenslank besig is om te word.

Geestelike volwassenheid kom deur ervaring. Deur ons foute en mislukkings leer ons om beter en meer ervare te word in ons geestelike lewe. Daarom praat ons dikwels in die kerkgeskiedenis van die kerkvaders en kerkmoeders. Dit is hulle wat met die Evangelie oud geword het. Hulle wat geval het en weer opgestaan het.

Geestelike volwasse mense is soos ronde rivierklippe wat deur die vloei van die rivier ‘n unieke bepaalde karakter gekry het, wat aan hulle besondere skoonheid gee.

Die boek Hebreërs praat ook van die geloofshelde. Dit is hulle wat oor ‘n lang tydperk in hulle geloof gevorm is.

Geestelike volwassenheid is om jou los te maak van die ou sondige mens en jou hele lewe te rig op Jesus Christus. Daarom sê Fil 3: 13b : “Maar een ding doen ek, ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.” Mense wat in gister se verbittering, onvergewensgesindheid en ou twiste bly lewe, kan nie groei na geestelike volwassenheid nie.

Somtyds moet ‘n mens ‘n potplant verplant uit sy ou houer met dooie grond in ‘n nuwe houer met vars nuwe ryk komposgrond. So moet ek uit my verlede verplant word in die ryk komposgrond van die bevrydende Evangelie.

Somtyds kry ons dit nie reg, om die verlede te begrawe nie. Ons wil in die ou grond bly leef. Daarom roep Paulus ons op om ons los te maak van alles in die verlede wat my kan terughou op my pad van geestelike volwassenheid.

‘n Noodsaaklike treë na volwassenheid is om verantwoordelikheid te aanvaar vir jou eie en vir ander se lewe. Dit beteken om met “commitments” te lewe. Geestelike volwassenheid is om met “commitments” te lewe. Paulus gebruik die woorde: “Ek span my in om by die wenstreep te kom”. Ons moet as’t ware onsself geestelik inspan om God en ons medemens te dien.

Die probleem van die post – moderne mens is dat hy / sy net aan die self “commit” is. Ons word verbruikers van die godsdiens. Ons wil onsself nie meer “inspan” in ons godsdiens nie. Nee, ons wil ontspanne op die rusbank na ‘n kerkdiens oor die TV luister.

Dit is te veel inspanning om moeite te maak om kerk toe te gaan of om betrokke te wees in die kerk en gemeenskap. Ons wil gedien word in plaas van om te dien. Die post – moderne mens raak los van God, van ander mense en van die gemeenskap. Dit lei tot enorme vereensaming van die post – moderne mens, wat sonder enige verantwoordelikheid wil lewe. Dan word jy geestelik onvolwasse.

‘n Geestelik onvolwasse mens wil net ontvang soos ‘n kind of ‘n tiener. ‘n Geestelik onvolwasse mens het nog nie geleer om verantwoordelikheid te aanvaar vir die kerk en gemeenskap nie.

Daarom moet die kerk ‘n oorlogskip wees en nie ‘n passasierskip nie. Op ‘n oorlogskip is daar nie plek vir passasiers nie. Elke manskap het ‘n verantwoordelikheid op die skip. Daarteenoor is ‘n passasierskip vol mense wat ontspanne bedien wil word op die skip.

Geestelike onvolwassenheid het ook baie daarmee te doen dat die mens nie meer kan volhard nie.

Ons wil van emosies lewe en vergeet om God te dien, wanneer die pad somtyds ‘n woestynpad word met min oasisse.

Volharding is om aan te hou al is my motivering laag of “al is ek nie lus nie”. Dit is om aan te hou om op die goeie pad te bly, waarop ons begin het. Dikwels sien ‘n mens by langafstande wedlope of marathons, dat atlete langs die pad moeg word, uitsak en die wedloop staak.

Paulus roep ons egter op in Fillipense om die goeie wedloop van die geloof te volhard en die wenstreep in die oog te hou. Dikwels kan die sorge van die lewe of geestelike lamheid en geestelike luiheid ons laat struikel om op te hou om die wedloop van die geloof te hardloop. Daarom moet ons Christus voor oë hou, sodat ons nie veragter in die geloof nie. Geestelike volwassenheid het dus alles te doen met volharding in jou geestelike verantwoordelikhede.

Ons het nou die vraag beantwoord wat laat jou groei tot geestelike volwassenheid. Die vraag is nou wat is geestelike volwassenheid?

Die-vrugte-van-die-Gees-300x300Dit beteken om met geesvervuldheid altyd VOLWASSE in die Geestesgawes van die Gees op te tree. Gal 5 praat van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Daarteenoor is ‘n geestelik onvolwasse persoon vol van onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspatigheid en al dergelike dinge.

Daarom is ‘n geestelik volwasse mens iemand wat onder die beheer en die leiding van die Heilige Gees staan. ‘n Geestelik volwasse mens is onder nuwe bestuur. Dit is nie meer die “eie ek” nie, maar wat is die wil van God vir my lewe.

‘n Geestelik volwasse mens is “commit” aan God, die Here se kerk en aan sy medemens in die gemeenskap. Volwassenheid het alles te doen met VERANTWOORDELIKHEID. Ons mag nie ons geestelike verantwoordelikhede verwaarloos of vergeet nie.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om Christen te wees in minderheidspolitiek ?

Minority-groups

Om Christen te wees in minderheidspolitiek ?

Daar is niks so erg as ‘n kind wat geboelie word op skool nie. Die konstante spot en uitsluiting van so ‘n kind lei tot baie trauma, verwerping en ‘n minderwaardigheidsgevoel. In die verlede het die die minderheid in Suid – Afrika die meederderheid geboelie. Die omgekeerde is nou waar. Hier in 2016 is die meerderheid besig om die minderheid te boelie en hulle te ontneem van bestaansreg en die ontneming van die Afrikaanse taal en identiteit. Dit plaas die Afrikaansprekende Afrikaner in ‘n stryd om oorlewing. Die gevaar is dat ons ‘n minderwaardigheidskompleks of ‘n meerderwaardigheidskompleks kan ontwikkel en verkeerd reageer op die bedreiging van ons volkskultuur. Die gevaar is dat ons rassisties, hatig, bitter, wantrouheid, onttrekking of in ‘n staat van selfbejammering verval. Dan tree ons verkeerd op.

In enige land in die wêreld is daar verskillende vorme van minderheidsgroepe. Ons moet nooit die krag en die invloed van minderheidsgroepe onderskat in die samelewing nie. In Num 13: 26 – 33 lees ons hoedat Moses die 10 verspieders uitgestuur het om die beloofte land Kanaän te gaan verken.

Daar was ‘n minderheidsverslag en ‘n meerderheidsverslag. Die meerderheidsverslag van 8 van die verspieders was negatief en het Moses gewaarsku om nie in die land van die reuse in te gaan nie. Hulle het hulself as sprinkane gesien. Daar was egter ook ‘n minderheidsverslag van Kaleb en Josua wat gesê het, dat hulle wel die land kan inneem met die hulp van die Here. Die mense was so teen Kaleb en Josua, dat hulle vir dié twee onder die klippe wou steek. Heelwat later het die Israeliete Kanaän binnegeval en die land Kanaän wel in besit geneem. (Die minderheidsverslag was toe reg gewees.) Met God se hulp kon hulle die onmoontlike doen.)

Dink verder ook aan die Gideonsbende wat met 300 man die Midianiete verslaan het. God het juis vir Gideon gesê om slegs 300 man saam te neem, sodat die grootheid van Sy krag kan blyk.

Die vraag is hoe moet minderhede leef in ‘n land waar hulle gedurig bedreig voel. Die vroeë Christene van Handelinge het ook konstante bedreiging ervaar van die Jode en Romeine. Tog het hulle uiters voorbeeldig en onberispelik geleef, sodat hulle later die guns van die hele volk geniet het.

Ons lees die volgende van die vroeë Christene in Hand 2: 44 – 47: Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Die gelowiges onder die Afrikaansprekendes moet in hierdie tyd van ontwrigting en bedreiging leiding gee deur ons voorbeeld. Daar is ‘n Engelse uitdrukking: “Leading by example.”

Ons waardesisteme en morele beginsels moet nie in hierdie tyd verkrummel nie. Ons moet nie die kwaad met kwaad beveg nie. Ons moet deur ons voorbeeld, respek afdwing ook by die meerderheidsgroepe. Ons moet woede met vriendelikheid begroet. Ons moet haat beantwoord met liefde.

Minderheidsgroepe moet nie hulle invloed en krag onderskat nie. Die vroeë kerk in Noord – Afrika het in die eerste eeue drasties gegroei omdat die kerk teenwoordig was by die bevolking toe allerhande peste Noord – Afrika getref het. Die bevolking het soveel respek vir die kerk gekry dat duisende hulle tot die Christendom bekeer het. Op die huidige oomblik bekeer duisende Moslems hulle tot die Christendom, omdat Christene uitreik na baie Moslem – vlugtelinge, wat uit hulle lande van oorsprong gevlug het.

Die seun Dawid het die magtige Goliat verslaan. Die nietige volk Israel (Jode) lewe die wêreld oor in “diaspora”, maar verklaar trots dat hulle Jode is. Daar waar hulle grondvat, maak hulle ‘n verskil in die ekonomie van die dorp of land.

Paulus het ook gesê: “As ek swak is, is ek sterk.” Die NG Kerk het ook swak geword in die oë van baie mense. Maar dit is die mees ideale posisie. God werk uit swakheid en broosheid. God werk met kleipotte wat gekraak is. God maak ‘n verskil deur ons, wanneer ons swak en uitgelewer voel.

Buiten dat minderhede voorbeeldig moet lewe, moet hulle ook ‘n positiewe geloof hê, dat hulle met God die onmoontlike kan vermag. Minderhede moet leer dat hulle krag nie lê by die stembus nie, maar eerder hoe diensbaar hulle kan wees vir almal in die land. Minderhede moet met ‘n diep sin van afhanklikheid lewe. Sonder die lewende God is ons verlore.

Die grootste gevaar van die Afrikaanse minderheid is dat ons in verdeeldheid, twis en in ontrekking van die meerderheid lewe. Ons lewe op eilande. Ons bou mure. Veel eerder moet ons brûe bou van versoening. Ons moet lewe met invloed en krag om ‘n verskil te maak.

  • Minderheidsgroepe lewe met ‘n roeping, daarom voel hulle nie bedreig nie.

  • Minderheidsgroepe leef in afhanklikheid, nooit in selfversekerde meerderwaardigheid nie.

  • Minderheidsgroepe leef om ‘n verskil te maak, nie om hulle te onttrek nie.

  • Minderheidsgroepe lewe waardig en is daarom nooit disrespekvol nie.

  • Minderheidsgroepe is versoenend, nie verdelend nie.
  • Minderheidsgroepe lewe met krag en is daarom nie minderwaardig nie.

  • Minderheidsgroepe neem hulle plek in met selfvertroue, sonder om volstruispolitiek te beoefen.

Minderheidsgroepe moet soos suurdeeg, hulle Christelike waardigheid uitlewe en die hele brood (die land) deursuur met liefde en versoening. Die kleinste kersie kan lig gee. Minderheidsgroepe moet die Christelike lig laat skyn in die wêreld.

Die grootste bekommernis is egter dat baie Afrikaners hulle rug gedraai het op God en met haat en rassisme die land wil reg slaan. As ons eers kerkloos en godloos geraak het, kan geeneen ons red nie. Ons sal onsself ook nie kan red nie. Ons sal ons eie volk vermoor met ons goddeloosheid. Daarom moet ook die Afrikaners hulself tot God bekeer. Dan sal God help en red! Hy belowe dit immers telkens in Sy Woord.

Ons land het minderheidsgroepe nodig. Daarom het God ons met ‘n doel hier geplaas. Ons moet ons lewensdoel as minderheidsgroepe raaksien en help om die reënboognasie weer op te bou, vanuit die chaos waarin ons, ons tans bevind. Ons het mekaar meer nodig, as wat ons miskien wil erken.

Mag daar eendag geskryf staan in die geskiedenis, dat ons as minderheidsgroep in dié dekade ons land gered het van ondergang en ‘n positiewe bydrae gelewer het om ‘n verskil te maak. Maar dan moet ons lewe met Christelike waardigheid en respek. Sonder Christus, kan ons nie sout wees, wat weer nuwe smaak aan hierdie chaotiese land kan gee nie.

Gaan maak ‘n positiewe verskil. Vir God tel ‘n minderheidstem. God gebruik ook minderhede om Sy Koninkryk te bou. Mag jy ‘n verskil maak!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

WOEDE MAG JOU NIE ONVERANTWOORDELIK MAAK NIE.

b5b915687f60475bbadbd12bd648af2cMense in ons land, van alle rasse is kwaad en woedend. Sommige van die woede is geregverdig en ander is nie geregverdig nie. Mense is kwaad oor die misdaad, plaasmoorde, die ekonomie, swak politieke leierskap, werkloosheid en swak dienslewering. Die probleem is dat mense hulle redelike oordeelsvermoë verloor en amper enigiets op die sosiale media kwytraak en veralgemenings maak. Die rassisme wat die afgelope weke op die sosiale media gegons het, van alle kante help ons glad nie. Om die reg in eie hande te neem, soos die Parys boere, veroorsaak net diepe verdeeldheid en vernietig mense se lewens en goeie reputasie. In woede kan ‘n mens iets onverskilligs doen of sê of skryf, wat jou hele lewe kan vernietig. Spyt kom altyd te laat. Dit vernietig ook die toekoms van ‘n vreedsame naasbestaan onder hierdie skewe en brose reënboogland van ons. Die vernietiging van universiteitseiendom en die ontneming van ander student se reg om te studeer is uiters kortsigtig en krimineel. Om President Zuma te verkleineer met spotprente, veroorsaak net rasse spanning. Oordeel President Zuma met grondige feite, sonder om ‘n karikatuur van hom te maak. Christus het ons mos geleer om met waardigheid ons geskille en woede te beheers met die krag van die Heilige Gees, wat ons selfbeheersing gee.

As ons nie kan leer om onsself te beheer nie, kan ons op die ou end met die “gebakte pere” sit van ‘n diep rassistiese en verdeelde samelewing, waar almal op die een of ander manier gaan seerkry. Beveg die kwaad met die goeie en ons sal die vrugte van vreedsame saambestaan geniet in hierdie wonderlike land van ons.

In Gen 4: 5 – 6 lees ons hoedat Kain, omdat hy kwaad was, sy broer Abel doodgemaak het. Hy het sy woede verkeerd gekanaliseer en sy hele lewe vernietig. Daar staan dat hy van die grond waar hy gebly het verdryf is en dat hy die guns van die Here verloor het.

Moses weer het in Num 20:11 by Kades die rots twee keer met die kiere uit woede geslaan om water te laat uitkom. Die Here het egter vir hom gesê om slegs met die rots te praat. Omdat Moses woedend was vir die Israeliete op die verkeerde manier, mis Moses die beloofte land. Hy vernietig sy loopbaan van 40 jaar as leier van die Israeliete om hulle die beloofte land in te lei.

Daarom moet ons as Christene altyd so beheers optree, dat ons ambassadeurs is van Sy nuwe Koninkryk. Wie in selfbeheersing lewe is soos die stoom in die pype van ‘n stoomlokomotief. Dit gee krag agter ons aksies om te werk aan ‘n beter, regverdiger en vreedsame Suid Afrika, waar daar plek en ruimte is vir almal om te gedy en voorspoedig te lewe. ‘n Suid Afrika waar die plaasmoorde ophou en tronke leegraak en mense werk het en waar almal weer veilig voel. Laat die liefde seëvier in hierdie moeilike munisipale verkiesingsjaar wat voorlê. Liefde begin by onderlinge respek. God seën Afrika!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)