Mense in ons land, van alle rasse is kwaad en woedend. Sommige van die woede is geregverdig en ander is nie geregverdig nie. Mense is kwaad oor die misdaad, plaasmoorde, die ekonomie, swak politieke leierskap, werkloosheid en swak dienslewering. Die probleem is dat mense hulle redelike oordeelsvermoë verloor en amper enigiets op die sosiale media kwytraak en veralgemenings maak. Die rassisme wat die afgelope weke op die sosiale media gegons het, van alle kante help ons glad nie. Om die reg in eie hande te neem, soos die Parys boere, veroorsaak net diepe verdeeldheid en vernietig mense se lewens en goeie reputasie. In woede kan ‘n mens iets onverskilligs doen of sê of skryf, wat jou hele lewe kan vernietig. Spyt kom altyd te laat. Dit vernietig ook die toekoms van ‘n vreedsame naasbestaan onder hierdie skewe en brose reënboogland van ons. Die vernietiging van universiteitseiendom en die ontneming van ander student se reg om te studeer is uiters kortsigtig en krimineel. Om President Zuma te verkleineer met spotprente, veroorsaak net rasse spanning. Oordeel President Zuma met grondige feite, sonder om ‘n karikatuur van hom te maak. Christus het ons mos geleer om met waardigheid ons geskille en woede te beheers met die krag van die Heilige Gees, wat ons selfbeheersing gee.
As ons nie kan leer om onsself te beheer nie, kan ons op die ou end met die “gebakte pere” sit van ‘n diep rassistiese en verdeelde samelewing, waar almal op die een of ander manier gaan seerkry. Beveg die kwaad met die goeie en ons sal die vrugte van vreedsame saambestaan geniet in hierdie wonderlike land van ons.
In Gen 4: 5 – 6 lees ons hoedat Kain, omdat hy kwaad was, sy broer Abel doodgemaak het. Hy het sy woede verkeerd gekanaliseer en sy hele lewe vernietig. Daar staan dat hy van die grond waar hy gebly het verdryf is en dat hy die guns van die Here verloor het.
Moses weer het in Num 20:11 by Kades die rots twee keer met die kiere uit woede geslaan om water te laat uitkom. Die Here het egter vir hom gesê om slegs met die rots te praat. Omdat Moses woedend was vir die Israeliete op die verkeerde manier, mis Moses die beloofte land. Hy vernietig sy loopbaan van 40 jaar as leier van die Israeliete om hulle die beloofte land in te lei.
Daarom moet ons as Christene altyd so beheers optree, dat ons ambassadeurs is van Sy nuwe Koninkryk. Wie in selfbeheersing lewe is soos die stoom in die pype van ‘n stoomlokomotief. Dit gee krag agter ons aksies om te werk aan ‘n beter, regverdiger en vreedsame Suid Afrika, waar daar plek en ruimte is vir almal om te gedy en voorspoedig te lewe. ‘n Suid Afrika waar die plaasmoorde ophou en tronke leegraak en mense werk het en waar almal weer veilig voel. Laat die liefde seëvier in hierdie moeilike munisipale verkiesingsjaar wat voorlê. Liefde begin by onderlinge respek. God seën Afrika!
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)