Om Christen te wees in minderheidspolitiek ?


Minority-groups

Om Christen te wees in minderheidspolitiek ?

Daar is niks so erg as ‘n kind wat geboelie word op skool nie. Die konstante spot en uitsluiting van so ‘n kind lei tot baie trauma, verwerping en ‘n minderwaardigheidsgevoel. In die verlede het die die minderheid in Suid – Afrika die meederderheid geboelie. Die omgekeerde is nou waar. Hier in 2016 is die meerderheid besig om die minderheid te boelie en hulle te ontneem van bestaansreg en die ontneming van die Afrikaanse taal en identiteit. Dit plaas die Afrikaansprekende Afrikaner in ‘n stryd om oorlewing. Die gevaar is dat ons ‘n minderwaardigheidskompleks of ‘n meerderwaardigheidskompleks kan ontwikkel en verkeerd reageer op die bedreiging van ons volkskultuur. Die gevaar is dat ons rassisties, hatig, bitter, wantrouheid, onttrekking of in ‘n staat van selfbejammering verval. Dan tree ons verkeerd op.

In enige land in die wêreld is daar verskillende vorme van minderheidsgroepe. Ons moet nooit die krag en die invloed van minderheidsgroepe onderskat in die samelewing nie. In Num 13: 26 – 33 lees ons hoedat Moses die 10 verspieders uitgestuur het om die beloofte land Kanaän te gaan verken.

Daar was ‘n minderheidsverslag en ‘n meerderheidsverslag. Die meerderheidsverslag van 8 van die verspieders was negatief en het Moses gewaarsku om nie in die land van die reuse in te gaan nie. Hulle het hulself as sprinkane gesien. Daar was egter ook ‘n minderheidsverslag van Kaleb en Josua wat gesê het, dat hulle wel die land kan inneem met die hulp van die Here. Die mense was so teen Kaleb en Josua, dat hulle vir dié twee onder die klippe wou steek. Heelwat later het die Israeliete Kanaän binnegeval en die land Kanaän wel in besit geneem. (Die minderheidsverslag was toe reg gewees.) Met God se hulp kon hulle die onmoontlike doen.)

Dink verder ook aan die Gideonsbende wat met 300 man die Midianiete verslaan het. God het juis vir Gideon gesê om slegs 300 man saam te neem, sodat die grootheid van Sy krag kan blyk.

Die vraag is hoe moet minderhede leef in ‘n land waar hulle gedurig bedreig voel. Die vroeë Christene van Handelinge het ook konstante bedreiging ervaar van die Jode en Romeine. Tog het hulle uiters voorbeeldig en onberispelik geleef, sodat hulle later die guns van die hele volk geniet het.

Ons lees die volgende van die vroeë Christene in Hand 2: 44 – 47: Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Die gelowiges onder die Afrikaansprekendes moet in hierdie tyd van ontwrigting en bedreiging leiding gee deur ons voorbeeld. Daar is ‘n Engelse uitdrukking: “Leading by example.”

Ons waardesisteme en morele beginsels moet nie in hierdie tyd verkrummel nie. Ons moet nie die kwaad met kwaad beveg nie. Ons moet deur ons voorbeeld, respek afdwing ook by die meerderheidsgroepe. Ons moet woede met vriendelikheid begroet. Ons moet haat beantwoord met liefde.

Minderheidsgroepe moet nie hulle invloed en krag onderskat nie. Die vroeë kerk in Noord – Afrika het in die eerste eeue drasties gegroei omdat die kerk teenwoordig was by die bevolking toe allerhande peste Noord – Afrika getref het. Die bevolking het soveel respek vir die kerk gekry dat duisende hulle tot die Christendom bekeer het. Op die huidige oomblik bekeer duisende Moslems hulle tot die Christendom, omdat Christene uitreik na baie Moslem – vlugtelinge, wat uit hulle lande van oorsprong gevlug het.

Die seun Dawid het die magtige Goliat verslaan. Die nietige volk Israel (Jode) lewe die wêreld oor in “diaspora”, maar verklaar trots dat hulle Jode is. Daar waar hulle grondvat, maak hulle ‘n verskil in die ekonomie van die dorp of land.

Paulus het ook gesê: “As ek swak is, is ek sterk.” Die NG Kerk het ook swak geword in die oë van baie mense. Maar dit is die mees ideale posisie. God werk uit swakheid en broosheid. God werk met kleipotte wat gekraak is. God maak ‘n verskil deur ons, wanneer ons swak en uitgelewer voel.

Buiten dat minderhede voorbeeldig moet lewe, moet hulle ook ‘n positiewe geloof hê, dat hulle met God die onmoontlike kan vermag. Minderhede moet leer dat hulle krag nie lê by die stembus nie, maar eerder hoe diensbaar hulle kan wees vir almal in die land. Minderhede moet met ‘n diep sin van afhanklikheid lewe. Sonder die lewende God is ons verlore.

Die grootste gevaar van die Afrikaanse minderheid is dat ons in verdeeldheid, twis en in ontrekking van die meerderheid lewe. Ons lewe op eilande. Ons bou mure. Veel eerder moet ons brûe bou van versoening. Ons moet lewe met invloed en krag om ‘n verskil te maak.

  • Minderheidsgroepe lewe met ‘n roeping, daarom voel hulle nie bedreig nie.

  • Minderheidsgroepe leef in afhanklikheid, nooit in selfversekerde meerderwaardigheid nie.

  • Minderheidsgroepe leef om ‘n verskil te maak, nie om hulle te onttrek nie.

  • Minderheidsgroepe lewe waardig en is daarom nooit disrespekvol nie.

  • Minderheidsgroepe is versoenend, nie verdelend nie.
  • Minderheidsgroepe lewe met krag en is daarom nie minderwaardig nie.

  • Minderheidsgroepe neem hulle plek in met selfvertroue, sonder om volstruispolitiek te beoefen.

Minderheidsgroepe moet soos suurdeeg, hulle Christelike waardigheid uitlewe en die hele brood (die land) deursuur met liefde en versoening. Die kleinste kersie kan lig gee. Minderheidsgroepe moet die Christelike lig laat skyn in die wêreld.

Die grootste bekommernis is egter dat baie Afrikaners hulle rug gedraai het op God en met haat en rassisme die land wil reg slaan. As ons eers kerkloos en godloos geraak het, kan geeneen ons red nie. Ons sal onsself ook nie kan red nie. Ons sal ons eie volk vermoor met ons goddeloosheid. Daarom moet ook die Afrikaners hulself tot God bekeer. Dan sal God help en red! Hy belowe dit immers telkens in Sy Woord.

Ons land het minderheidsgroepe nodig. Daarom het God ons met ‘n doel hier geplaas. Ons moet ons lewensdoel as minderheidsgroepe raaksien en help om die reënboognasie weer op te bou, vanuit die chaos waarin ons, ons tans bevind. Ons het mekaar meer nodig, as wat ons miskien wil erken.

Mag daar eendag geskryf staan in die geskiedenis, dat ons as minderheidsgroep in dié dekade ons land gered het van ondergang en ‘n positiewe bydrae gelewer het om ‘n verskil te maak. Maar dan moet ons lewe met Christelike waardigheid en respek. Sonder Christus, kan ons nie sout wees, wat weer nuwe smaak aan hierdie chaotiese land kan gee nie.

Gaan maak ‘n positiewe verskil. Vir God tel ‘n minderheidstem. God gebruik ook minderhede om Sy Koninkryk te bou. Mag jy ‘n verskil maak!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s