Die dag toe ek vir God gelag het ……..

SKRIFLESING: Genesis 17:17 en Gen 18: 10 – 15

Die dag toe ek gedoop is in 1964 het die mense gelag toe die dominee my gedoop het. Want sien ek het 4 doopname: Paul Coenraad Pieter Arnoldus Odendaal. So baie name vir so ‘n klein babatjie. Deur die jare het die mense my gespot oor my baie name. Maar ek is tot vandag toe trots op my doopname. Dit is ek.

Somtyds kan ‘n mens lag oor iets wat blyk onmoontlik te wees. Ek was ‘n stil, skaam en teruggetrokke seuntjie. Ek het amper nooit gepraat nie. Toe ek in Sub B kom het ek vir my ouers en vriende vertel ek wil ‘n dominee word. My ma het laggend gesê sy eet haar hoed op as ek ‘n predikant word. My maats en onderwysers het gelag het natuurlik gedink dit is dagdromery en dat ek nie oor die persoonlikheidseienskappe  beskik om eendag ‘n predikant te word nie. Dit is nou 50 jaar later en ek is nou alreeds vir meer as 30 jaar predikant. Hulle het gelag en wat volgens hulle menslik onmoontlik was het waar geword.  Baie het ook getwyfel of ek Grieks en Hebreeus sou maak, maar deur God se genade het ek dit gemaak.

Mense lag, oor dit wat onmoontlik lyk. So was dit ook met die verhaal van Abram en Sarai. Toe die Here met Abram ‘n verbond gesluit het en hulle name verander het na Abraham en Sara, het Abraham gelag oor God se belofte van ‘n groot nageslag. Abraham het by homself gedink, ek is 100 jaar en Sara 90 jaar. God het ‘n goeie humorsin. Dan lees ons in  Genesis 17:17 dat Abraham op sy knieë geval het en gelag het.

Een hoofstuk later, ontvang Abraham drie besoekers by die bome van Mamre en hy berei vir hulle ‘n feesmaal voor. Hy het hulle nie herken as hemelse besoekers nie. Sara het afgeluister. Toe hulle vir Abraham sê dat sy vrou Sara oor ‘n jaar  ‘n seun sal hê, het Sara ook in  Genesis 18: 10 – 15 gelag, van agter die tentdoeke.

Dan vra die Here vir Abraham in vers 13 en 14, waarom Sara lag. Die Here vra is iets dan te buitengewoon vir die Here. Sara skrik en vertel ‘n leuen: “Ek het nie gelag nie.” Dan antwoord die Here: “Nee, jy het gelag.”

Somtyds lag ons ook as die Here vir ons iets belowe. Of ons skud in ongeloof ons koppe en sê dit is nie moontlik nie. In die doopbelofte beloof die Here vir die dopeling dat Hy ’n God sal wees vir die dopeling en dat die dopeling ingesluit is in al die beloftes van God. Al die honderde beloftes wat die Bybel beloof aan God se kinders, is van toepassing op Liam Johann Bosch.

Somtyds glo ons nie in die doopbeloftes nie of ons kan selfs daaroor lag. Die meeste gelowiges neem nie God se doopbeloftes ernstig op nie. Martin Luther het ernstige episodes van diepe depressie beleef. Tydens een van sy donker episodes van depressie het hy op sy houttafel dit uitgebeitel: “Maar ek is mos gedoop.” Daarin het hy sy troos gevind. So moet ons vashou aan God se doopbeloftes aan ons.

In tye van diepe aanvegtinge, wat oor enige gelowige se lewe kom, moet ons onsself herinner, maar ons is mos gedoop. Baie Anglikaanse kerke het die gebruik om by die kerkdeur ‘n bakkie water te plaas. Dan kan die kerkgangers hulleself herinner dat hulle mos gedoop is en dat God se beloftes ewig en onverganklik is.   

Somtyds kom ons by kruispaaie in ons lewe waar dit onmoontlik lyk om by ‘n oplossing uit te kom. Ons almal het daardie ervarings al gehad. Ons lag vir God. Dit is onmoontlik om uit hierdie situasie te kom. Nie eers God kan help nie. Of dalk twyfel ons aan God se bestaan. Of twyfel of God in staat is om ons te kan help. Ons situasie is te hopeloos.

Dan vra God vir ons, waarom ons lag, waarom ons twyfel, waarom ons moed opgee. Vers 14 weerklink dan: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” Waarom lag julle vir my, sê God.

Wanneer ons in situasies beland wat doodgeloop het, lag ons dikwels vir God. Die Here is nie in staat om ons te help nie. Maar dan getuig die Bybel, hoe verkeerd ons oor God oordeel.

Dit is God wat vir die Abraham voorsien het van ‘n offer in die plek van sy seun Isak. Dit is God wat die Rooi See oopgemaak het. Dit is God wat vir Dawid beskerm het teen Saul. Dit is God wat Goliat se kop in die hande van Dawid gegee het. Dit is God wat Daniël beskerm het in die leeukuil. Dit is God wat vir Sadrag, Mesag en Abednego beskerm het in die vuuroond. Dit is God wat sy volk telkens verlos van die ballingskap, waarin hulle hulself gedompel het, as gevolg van hulle sonde. Dit is Jesus wat die water by die bruilof in Kana in wyn verander het. Dit is Jesus wat mense genees het, kos vermeerder het, sondes vergeef het en vir mense hoop en sin gebring het.

Ons moenie lag en dink die Here kan ons nie help nie. Hy is in staat om baie meer te doen as wat ons, onsself kan voorstel. Dikwels is ons lewe soos ‘n tapisserie. Die agterkant van die tapisserie is vol knope en vlegsels en selfs slordig en “messy”. Maar die voorkant van die tapisserie  is in volmaakte skoonheid en harmonie. Ons moenie dink as ons lewe “messy” is, dat God nie daarin is nie. Hy laat alles ten goede meewerk, vir hulle wat op Hom vertrou.

In my persoonlike lewe is ek ook getuie daarvan, dat ek dikwels in doodloopstrate was, waar ek geen uitkoms gesien het nie. Dit is eenvoudig angswekkend. Dan wil ‘n mens as’t ware in ongeloof lag en sê, hier kan selfs God nie help nie.

Om dan net verras te word deur God. Ek kan persoonlik daarvan getuig, maar dit is so intiem persoonlik vir my, dat dit ‘n kosbaarheid is tussen my en God.

Liam Johann Bosch het vanoggend ‘n kosbare kind van God geword. Die Here sal vir Liam help sy lewe lank. Die onmoontlike sal ook in Liam se lewe waar word. Die Here sal hom lei en beskerm. Johann en Yolanda, leer vir Liam dat hy gedoop is. Dat hy aan die Here behoort en dat die Here hom in alles sal help. As die onmoontlike vir hom voorlê, moet hy nie soos Abraham en Sara lag vir God nie, maar met geloofsmoed glo dat God hom sal dra en help, sy lewe lank.

Moenie vir God lag in donker tye nie. Jy sal telkens verras word deur God. Net soos Abraham en Sara verras is deur die geboorte van die seun Isak. God verras ons telkens. Wat ‘n heerlike versekering.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

God het Sy vegtersboog neergesit

SKRIFLESING: Genesis 9:8-17

Die reënboog is vir die meeste mense besonders mooi en van besondere vertroosting.

Ek onthou hoe ek een Januarie baie jare gelede terug gery het van Bloemfontein na Strydenburg (my eerste gemeente). Die betrokke jaar wat voorgelê het sou ‘n besondere moeilike jaar gewees het. So tien kilometer buite Strydenburg het die mooiste reënboog so oor die hele dorp gespan. Ek het dit as ‘n Goddelike teken van bemoediging en vertroosting ervaar met die bevestiging dat God saam met my en my gesin is.

In die tyd van Noag was die mensdom in ‘n totale toestand van sonde en het die woes gegaan op aarde. Niemand het God meer gedien nie, behalwe Noag. God wou van vooraf begin met die mensdom. Daarom het God ‘n sondvloed gestuur om die wêreld skoon te was van die sonde. Slegs Noag en sy familie en die diereryk is gered.

Die Hebreeuse woord “qeset” vir reënboog het ook ‘n oorlogskonnektasie en verwys na die kryger se boog. Dieselfde Hebreeuse woord “qeset” kom ook voor in Ps 7: 13, Klaag 2: 4 en Hab 3: 9 – 11, waar dit verwys na die boog van die kryger wat gespan word. Daarom is die reënboog  in die antieke Hebreeuse tekste ook ‘n simbool van God se toorn en oordeel. God span as’t ware sy boog om met jou in oorlog te gaan. Met die sondvloed het God sy “qeset” (sy reënboog) gespan en met die mensdom in oorlog gegaan. Verwoestend het dit 40 dae en 40 nagte gereën en alles vernietig behalwe almal wat in die ark was.  God is ook ‘n toornige God, wat kwaad word oor sonde en sy oordeel kan uitspreek oor sondaars. Ons misgis ons, as ons dink God is net liefde. God is liefde en regverdigheid. Waar God se regverdigheid vertrap word stort God sy toorn uit oor die mens. Daarom moet ons nie van God ons speelmaatjie maat en sonde nie ernstig opneem nie. Baie mense dink God is net liefde, geen oordeel nie. Dikwels glo ons dit is God se werk om te vergewe. Maar dan dink ons naïef  oor God. God straf ook sonde. God straf die sonde van die enkeling en ook die sonde van ‘n volk of van die mensdom. Daarom moet ons versigtig voor God lewe. Hoor hoe sterk spreek die Here Jesus homself uit in Mat 23: 23: “23 “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat.” God is die God van geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Wee jou, as God sy reënboog teen jou span.

Daarom mag godsdiens, nooit net oor ‘n goedvoel – gevoel handel nie. Dit moet ook spreek oor die vlymskerpte van God se Woord wat sonde haat, veroordeel en straf. Ons maak dikwels God se genade te goedkoop, te maklik verkrygbaar. Ons bid so maklik “Vader vergeef my al my sonde.” Dit is geen sondebelydenis nie. Sonde is om na te dink oor jou lewe en vir jou sonde ‘n naam te gee en jou sonde by die naam te noem. Wee jou, as God Sy reënboog teen jou span! Wie sal God se toorn kan ontvlug.

Maar God kan ook afstand doen van Sy toorn. God kan Sy toorn verruil vir vrede. So het God ook na die sondvloed vrede verklaar. Daar staan in Gen 9: 13 “My boog plaas Ek in die wolke. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en die aarde.” Wanneer God dus as’t ware die reënboog neersit op die aarde, sit hy Sy oorlogsboog neer om vrede te maak met die mense en ‘n vredesverdrag of -verbond met die mens te sluit. Daarom is die reënboog God se vredesteken en vredesverbond, dat Hy nie weer die wêreld sal uitwis deur ‘n sondvloed nie. Die Here het sy boog (reënboog) neergesit tussen die wolke, as teken dat Hy sy wapen neergesit het en met die mense ‘n vredesverbond gesluit het. So word die teken van die reënboog wat neergesit is, teken van God se trou.

Daar is iets soos post traumatiese stres. Noag en sy nageslag kon maklik elke keer as die wolke saampak, die trauma herbeleef dat daar weer ‘n sondvloed oppad is. Daarom is die reënboog wat neergesit is, ‘n teken dat God nie meer met hulle in ‘n oorlog is nie. Dat God nie weer die aarde sal uitdelg met ‘n sondvloed nie. Dit sou vir hulle ‘n berusting gee. Dit is nogal wonderlik, om te weet dat die reënboog wat neergesit is, slegs sigbaar is wanneer daar ‘n storm op hande is. God se trou is die duidelikste in die storms van die lewe.

Die reënboog wat neergesit is, is ‘n eensydige verbond waar die iniasitief en verantwoordelikheid net van God kom, om die aarde nie weer uit te delg met ‘n sondvloed nie.

So is die kruis ook ‘n teken, dat God afstand gedoen het van Sy toorn en dat sy kruis die weerligafleier was van die hemelse donderweer. Daarom is die kruis in die aarde geaard. Daarom hoef ons ook nie aan post traumatiese stres te lei en God se straf in alles wat in my lewe gebeur te soek nie. Ook in die storms van my lewe, kan ek weet dat God se kruis die simbool van vrede en berusting is.

God het Sy wapen, die reënboog neergesit tussen die wolke en storms van my lewe, as teken dat God van sy toorn afstand gedoen het. God het sy wapens neergelê, om in genade in vredesverbond  met ons te leef.  AMEN. 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lig kan jou verblind of laat sien ……

SKRIFLESING: 2 Kor 4: 3 – 6

Wat enige motoris kwaad maak, is as hy / sy in die nag bestuur en daar kom aankomende verkeer en hulle domp nie hulle ligte nie.

Hoe nader jy aan die aankomende verkeer kom, hoe minder kan jy sien en later kan jy niks meer sien nie. Jy hoop maar net daar is nie iets voor jou in die pad nie. Dit is wanneer lig jou verblind. Nog ‘n voorbeeld is as kunstenaars op ‘n verhoog optree en die lig skyn direk op die kunstenaars. Die kunstenaars is as’t ware verblind, want hulle kan nie die toeskouers mooi sien nie. Die ligte verblind hulle. Dit is wat Paulus bedoel in 2 Kor 4: 4 wat lees: “vir die ongelowiges wie se denke deur die god van hierdie bedeling verblind is”. Daar is baie gode wat mense verblind, sodat hulle nie kan sien wat regtig belangrik in die lewe is nie. Die sug na rykdom, mag, posisies en sondige seksuele begeertes verlei mense, sodat hulle verblind is en nie kan sien wat regtig in die lewe belangrik is nie. Hulle is so verblind, dat hulle Christus nie kan raaksien nie. Richard Foster het ’n paar jaar gelede ’n boekie geskryf met die naam: “Sex, money and power”. Dit is die drie hoofgode onder die baie gode van ons tyd. Dit is gode wat jou aandag wegtrek van Christus. Hulle verblind jou.

Wanneer lig direk op jou val, verblind dit jou. Saulus was op pad van Jerusalem na Damaskus toe God se lig ook op hom geval het en heeltemal verblind het. Maar God het met Saulus ‘n plan gehad. Drie dae later in Reguitstraat in Jerusalem kon Saulus weer sien, nadat hy deur Ananias aangeraak is en sy naam is verander na Paulus. Hy het nou self die lig van God geword wat uitstraal, sodat ander God kan sien. Hy het driekwart van die Nuwe Testament geskryf en baie mense tot die lig gebring. Sy briewe het deur die eeue mense tot die lig gebring.

Met die aanvang van die skepping was die wêreld woes en leeg en donker. En dan staan daar in Genesis 3:l: “Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.” Dan lees ons hoe daar lig gekom het en skeiding tussen dag en nag. Dit was met die skepping. So het daar orde uit die chaos gekom.

Met die herskepping het God sy Seun Jesus Christus gestuur en ons lees in Johannes 1, dat Hy was die lig van die wêreld. Deur Christus het daar lig vir die hele wêreld gekom. Weereens het God orde gebring deur sy Seun Jesus Christus, sodat elkeen wat in die regte verhouding met Christus staan ’n lewe van ordelikheid kan lewe.

 Dit is wat Paulus in vers 6 verduidelik: “Want God wat gesê het, ‘Laat daar uit die duisternis lig skyn,’ dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus.” Ons moet as’t ware self die ligbron wees.

Om ‘n ligdraers van Jesus Christus te wees, moet ek “ingeplug” wees by Jesus Christus. As Jesus Christus nie in my lewe is nie, is ek nie “ingeplug” nie. Dan kan ek nie lig gee nie.

In die hemelse ESKOM is daar nie kragonderbrekings nie. Nee, daar is net mense wat nie “ingeplug” is by Jesus Christus nie. Sonder Christus in jou lewe, is jou lewe donker en tier die sonde welig in jou hart en lewe.

Hulle het al bewys hoe die misdaad in die stad New York opskiet, as daar ‘n kragonderbreking is. Net so skiet die sonde in ons lewe die hoogte in, as ons nie “ingeplug” is by Jesus Christus nie.  

Hier kom ons by die “sleutel” van die preek uit.

Ons almal wil graag hê die lig moet op ons val. Die spreiligte van roem, bekendheid, gewildheid, rykdom, voorspoed, sukses moet op ons val. Hierdie ligte is so skerp, dat dit ons verblind, sodat ons niemand anders kan raaksien nie. Dit gaan net oor die self en die eie ek. Ek wil in die lig wees en ander mense moet my raaksien. Dit verblind my egter heeltemal om ander mense raak te sien.

Maar wanneer ek die ligbron is wat lig uitstraal, dan kan ek ander mense skielik sien. Ek is nie meer blind nie.

My pad is verlig en ek kan almal wat die Here oor my pad stuur raaksien. Ek kan ’n medemens raaksien. Die lig van die Here wat oor my skyn, maak dat ekself ’n ligbron is wat lig uitstraal en ’n ligdraer van die Here is. Maar ek staan agter die lig. My lig as Christen val op ander mense om vir hulle lig te bring.

Ek moet nie dat die lig op my val nie. Ek moet dat die lig op ander val.

Ek moet nie oor my eie suksesse praat nie, maar oor ander se suksesse.

Ek moet nie myself voorstoot nie, maar ander mense voorstoot.

Ek moet nie alleen my eie voordeel soek nie, maar ook ander se voordeel.

Ek moet nie mag soek nie, maar eerder geleenthede om ander te dien.

Laat jy die lig op jou val of laat jy die lig op ander val?

As jy die lig op jouself laat val, sal jy verblind wees.

As jy die lig op ander laat val, sal jy kan sien.

Lig kan jou verblind of laat sien!

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die twee kragte …..

SKRIFLESING: Mat 6: 25 – 34

Bekommernis kan verlammend inwerk op ‘n mens se lewe. Soos die ware verhaal wat ek eenmaal gelees het van ‘n sekere vrou. Die vrou was doodsiek gewees en het gereeld elke week ‘n afspraak by die dokter en sielkundige gehad. Elke dag moes sy duur medikasie gebruik. Haar probleem was dat sy met haarself geworstel het. Sy was angstig en bekommerd oor wat van haar en haar gesin gaan word. Hoe meer sy geworstel het met haarself en haar probleme, hoe sieker het sy geword.

Een koue wintersaand is sy toe egter op pad na die kafee om brood te loop. Toe sy by die robot stop en wag dat die lig moet groen word, vind sy die grootste ontdekking van haar lewe. Terwyl sy wag sien sy koerantseuntjies kaalvoet op en af spring om hul warm te hou. Sy kry hul toe ontsettend jammer en dink hoe sy hul lot kan verlig. By die huis aangekom het sy dadelik vir hulle sop en toebroodjies gemaak en vir hulle geneem. Die aand gaan slaap sy rustig, want vir een aand kon sy van haarself vergeet. Die volgende oggend het sy truie vir hulle begin brei. Teen die einde van daardie week was sy ‘n gesonde mens, want sy het geleer om haarself te vergeet. Sy het begin lewe vir ‘n saak groter as haarself.

Haar verhaal laat my dink aan die twee soorte kragte wat daar is, naamlik middelpuntsoekende krag (soos ‘n draaikolk in ‘n rivier) en middelpuntvliedende krag (soos die planeet aarde wentel met middelpuntvliedende krag weg van die son af)  Middelpuntsoekende krag loop uit op die dood in die draaikolk. Middelpuntvliedende krag beteken daar kan lewe wees op planeet aarde.

Die vrou in ons verhaal het haarself middelpuntsoekend vasgedraai in haar bekommernis. Toe sy begin weg-leef het van haarself en vir ander begin omgee het en ‘n barmhartigheidstaak aangepak het groter as syself, het sy begin leef.

In verse 25 – 32 lees ons van mense wat besig is met middelpuntsoekende godsdiens. Hulle is bekommerd en begaan oor hulle eie klein koninkrykies. Oor God se Koninkryk is hulle nie in die minste bekommerd nie. In vers 33 lees ons van hoe ware lewendige godsdiens behoort te lyk. Middelpuntvliedende godsdiens is nie bekommerd oor die self nie, maar is bekommerd oor God se Koninkryk.

Ons mense is geneig om ons eie koninkryke se soek en te bou. Vers 25 tot 32 handel oor die mense se bekommernis oor sy mees basiese behoeftes. Om te mag eet, drink, en aan te trek is lewensnoodsaaklik vir die mens. Die gevaar is egter as ek begin leef net vir my behoeftes. Wanneer my polisse, my duur motor, my groot huis, my familieplaas, my kinders, my goeie naam, my gemaksug, my geluk my enigste prioriteit word in my lewe dan gaan die rooi ligte aan. Wanneer ek my dankoffer begin swaar gee. Wanneer my status belangriker word as God se eer. Wanneer ek meer tuis is in my eie huis, as in God se huis is daar iets groots verkeerd.

Wie so besig is om aan sy / haar eie “empire”, sy / haar “koninkrykie” te werk is met sy eie middelpuntsoekende godsdiens besig. So ‘n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernis.

Vandag beleef ons ook ‘n stuk doodsheid in ons kerke omdat gemeentes net ingestel is op hul eie behoeftes. Solank dit net goed gaan met die plaaslike gemeente en met die sieleheil van sy lidmate is alles reg. Ons is bekommerd oor ons eie gemeente en daar eindig dit. Elke gemeente vir homself. Dit is middelpuntsoekende godsdiens in sy uiterste vorm.

Eenmaal is daar aan ‘n skilder gevra om ‘n skildery te maak van ‘n kerk wat dood is. Hy het lank gedink en eers na ‘n jaar terug gekom met die skildery wat hy geskilder het. Hy het ‘n ongelooflike mooi en duursame kerk geskilder, maar skokkend was die spinnerakke oor die sendingskatkis. Wanneer die kerk so bekommerd is oor sy eie behoeftes, oor sy eie klein koninkrykie dan is die kerk dood. Middelpuntsoekende godsdiens is selfsugtig. Dit hou God se genade net vir myself en wil dit nie deurgee na ander nie.

Two hands offering to give, donate or charity

Vers 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader bid: “Lord, let your Kingdom come” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kindom go”. Laat U Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort. Wat bedoel ons as ons bid: “Laat U koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God.”

Ons bedoel daarmee dat die Here grondgebied sal wen in my lewe. Dit beteken om hoe langer hoe meer onder die heerskappy van God te lewe. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, my werk moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid “Laat u Koninkryk kom”, bid ons om die ondergaan, om die neerlaag van ons eie koninkryke.

Daar is geen moeiliker gebed as dit nie. Met hierdie gebed verlaat ons die klein kring van ons eie koninkryke, maar ook ons binnekamers en ons kerkmure en  gaan ons oog wêreldwyd oor die lande wat wit is van die oes, na Singapoer en Saigon, na Rusland en Roemenië, oor die ongelowige miljoene tot by die uithoeke van die aarde. ‘n Gebed wat verder uitreik as hierdie een, kan ons beswaarlik bid.

‘n Gemeente wat die Koninkryk van God soek is meer begaan oor die sieleheil en liggaamlike nood van heidene op sy drempel as oor sy eie behoeftes. Daarom moet sendingwerk en liggaamlike nood van mense ‘n baie groter prioriteit by ons wees, as die behoeftes van die plaaslike gemeente. Wie sy eie Koninkrykie verloën en God se Koninkryk soek, maak daarmee ook ‘n einde aan sy / haar wederstrewige wil en stel God aan as die Pottebakker van sy lewe.

Verlang u na ‘n lewende geloofslewe? Verlang u daarna om ‘n lewende gemeente te wees?  Dan sal ons Mat 6: 25 – 34 moet gehoorsaam. Dan sal ons die fisikawet van die middelpuntsoekende en middelpuntvliedende krag moet gehoorsaam.

Wie middelpuntsoekend bekommerd is oor sy of haar behoeftes sal geestelik doodgaan. Hy/ sy sal doodgaan in die draaikolk van sy eie selfsugtige wil en behoeftes. Wie egter middelpuntvliedend besig is om hom / haar te bekommer oor God se Koninkryk en oor hoe God se Koninkryk ‘n groter staanplek in sy / haar lewe en in die wêreld sal kry, sal geestelik lewe.

Versprei die Woord, gee sop, brei truie, gee voedsel, gee ‘n Bybel, versprei ‘n traktaatjie, help iemand en die Koninkryk van God kom.

Klein kuddetjie, bekommer julle oor die Koninkryk van God en oor hoe God se Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself  bekommerd wees nie. Dit is immers God se hele instelling om oor julle bekommerd te wees.

Here laat u Koninkryk kom. Maranata! Kom Here Jesus! Kom wen grondgebied in ons harte! Kom wen grondgebied in die wêreld. Kom eis op wat alreeds aan U behoort. Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)