SKRIFLESING: Genesis 17:17 en Gen 18: 10 – 15
Die dag toe ek gedoop is in 1964 het die mense gelag toe die dominee my gedoop het. Want sien ek het 4 doopname: Paul Coenraad Pieter Arnoldus Odendaal. So baie name vir so ‘n klein babatjie. Deur die jare het die mense my gespot oor my baie name. Maar ek is tot vandag toe trots op my doopname. Dit is ek.
Somtyds kan ‘n mens lag oor iets wat blyk onmoontlik te wees. Ek was ‘n stil, skaam en teruggetrokke seuntjie. Ek het amper nooit gepraat nie. Toe ek in Sub B kom het ek vir my ouers en vriende vertel ek wil ‘n dominee word. My ma het laggend gesê sy eet haar hoed op as ek ‘n predikant word. My maats en onderwysers het gelag het natuurlik gedink dit is dagdromery en dat ek nie oor die persoonlikheidseienskappe beskik om eendag ‘n predikant te word nie. Dit is nou 50 jaar later en ek is nou alreeds vir meer as 30 jaar predikant. Hulle het gelag en wat volgens hulle menslik onmoontlik was het waar geword. Baie het ook getwyfel of ek Grieks en Hebreeus sou maak, maar deur God se genade het ek dit gemaak.
Mense lag, oor dit wat onmoontlik lyk. So was dit ook met die verhaal van Abram en Sarai. Toe die Here met Abram ‘n verbond gesluit het en hulle name verander het na Abraham en Sara, het Abraham gelag oor God se belofte van ‘n groot nageslag. Abraham het by homself gedink, ek is 100 jaar en Sara 90 jaar. God het ‘n goeie humorsin. Dan lees ons in Genesis 17:17 dat Abraham op sy knieë geval het en gelag het.

Een hoofstuk later, ontvang Abraham drie besoekers by die bome van Mamre en hy berei vir hulle ‘n feesmaal voor. Hy het hulle nie herken as hemelse besoekers nie. Sara het afgeluister. Toe hulle vir Abraham sê dat sy vrou Sara oor ‘n jaar ‘n seun sal hê, het Sara ook in Genesis 18: 10 – 15 gelag, van agter die tentdoeke.
Dan vra die Here vir Abraham in vers 13 en 14, waarom Sara lag. Die Here vra is iets dan te buitengewoon vir die Here. Sara skrik en vertel ‘n leuen: “Ek het nie gelag nie.” Dan antwoord die Here: “Nee, jy het gelag.”
Somtyds lag ons ook as die Here vir ons iets belowe. Of ons skud in ongeloof ons koppe en sê dit is nie moontlik nie. In die doopbelofte beloof die Here vir die dopeling dat Hy ’n God sal wees vir die dopeling en dat die dopeling ingesluit is in al die beloftes van God. Al die honderde beloftes wat die Bybel beloof aan God se kinders, is van toepassing op Liam Johann Bosch.
Somtyds glo ons nie in die doopbeloftes nie of ons kan selfs daaroor lag. Die meeste gelowiges neem nie God se doopbeloftes ernstig op nie. Martin Luther het ernstige episodes van diepe depressie beleef. Tydens een van sy donker episodes van depressie het hy op sy houttafel dit uitgebeitel: “Maar ek is mos gedoop.” Daarin het hy sy troos gevind. So moet ons vashou aan God se doopbeloftes aan ons.
In tye van diepe aanvegtinge, wat oor enige gelowige se lewe kom, moet ons onsself herinner, maar ons is mos gedoop. Baie Anglikaanse kerke het die gebruik om by die kerkdeur ‘n bakkie water te plaas. Dan kan die kerkgangers hulleself herinner dat hulle mos gedoop is en dat God se beloftes ewig en onverganklik is.
Somtyds kom ons by kruispaaie in ons lewe waar dit onmoontlik lyk om by ‘n oplossing uit te kom. Ons almal het daardie ervarings al gehad. Ons lag vir God. Dit is onmoontlik om uit hierdie situasie te kom. Nie eers God kan help nie. Of dalk twyfel ons aan God se bestaan. Of twyfel of God in staat is om ons te kan help. Ons situasie is te hopeloos.
Dan vra God vir ons, waarom ons lag, waarom ons twyfel, waarom ons moed opgee. Vers 14 weerklink dan: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” Waarom lag julle vir my, sê God.
Wanneer ons in situasies beland wat doodgeloop het, lag ons dikwels vir God. Die Here is nie in staat om ons te help nie. Maar dan getuig die Bybel, hoe verkeerd ons oor God oordeel.
Dit is God wat vir die Abraham voorsien het van ‘n offer in die plek van sy seun Isak. Dit is God wat die Rooi See oopgemaak het. Dit is God wat vir Dawid beskerm het teen Saul. Dit is God wat Goliat se kop in die hande van Dawid gegee het. Dit is God wat Daniël beskerm het in die leeukuil. Dit is God wat vir Sadrag, Mesag en Abednego beskerm het in die vuuroond. Dit is God wat sy volk telkens verlos van die ballingskap, waarin hulle hulself gedompel het, as gevolg van hulle sonde. Dit is Jesus wat die water by die bruilof in Kana in wyn verander het. Dit is Jesus wat mense genees het, kos vermeerder het, sondes vergeef het en vir mense hoop en sin gebring het.
Ons moenie lag en dink die Here kan ons nie help nie. Hy is in staat om baie meer te doen as wat ons, onsself kan voorstel. Dikwels is ons lewe soos ‘n tapisserie. Die agterkant van die tapisserie is vol knope en vlegsels en selfs slordig en “messy”. Maar die voorkant van die tapisserie is in volmaakte skoonheid en harmonie. Ons moenie dink as ons lewe “messy” is, dat God nie daarin is nie. Hy laat alles ten goede meewerk, vir hulle wat op Hom vertrou.
In my persoonlike lewe is ek ook getuie daarvan, dat ek dikwels in doodloopstrate was, waar ek geen uitkoms gesien het nie. Dit is eenvoudig angswekkend. Dan wil ‘n mens as’t ware in ongeloof lag en sê, hier kan selfs God nie help nie.
Om dan net verras te word deur God. Ek kan persoonlik daarvan getuig, maar dit is so intiem persoonlik vir my, dat dit ‘n kosbaarheid is tussen my en God.

Liam Johann Bosch het vanoggend ‘n kosbare kind van God geword. Die Here sal vir Liam help sy lewe lank. Die onmoontlike sal ook in Liam se lewe waar word. Die Here sal hom lei en beskerm. Johann en Yolanda, leer vir Liam dat hy gedoop is. Dat hy aan die Here behoort en dat die Here hom in alles sal help. As die onmoontlike vir hom voorlê, moet hy nie soos Abraham en Sara lag vir God nie, maar met geloofsmoed glo dat God hom sal dra en help, sy lewe lank.
Moenie vir God lag in donker tye nie. Jy sal telkens verras word deur God. Net soos Abraham en Sara verras is deur die geboorte van die seun Isak. God verras ons telkens. Wat ‘n heerlike versekering.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)