Littekens kan van jou ‘n “wounded healer” maak.

SKRIFLESING: Joh 20:  19 – 23

Elkeen van ons het littekens. 

Dit kan fisiese littekens wees, soos grys hare wat van ouderdom getuig, of ‘n afvinger wat getuig van ‘n vinger wat in die slag gebly het op ‘n bandsaag.  Dit kan bysiendheid of ‘n geringe graad van doofheid wees.  Dalk ‘n merk wat ‘n boorpunt of ‘n hammerhou ons toegedien het.

Daar is ook die sielkundige littekens soos ‘n stuk seerkry vroeër in my lewe wat ek nog glad nie verwerk het nie.  Dalk ‘n swak selfbeeld, of angstigheid of depressie of net ‘n bang gevoel in my lewe.  Daar is dalk ‘n oordrewe skuldgevoel in my lewe teenwoordig.

Daar is ook die emosionele littekens soos die ouer of kind van my wat gesterf het.  Toe my ouer of my kind gesterf het, het iets ook hier binne my dood gegaan. Almal het littekens.

Ja, die tydskrifte en die TV bedrieg ons as hulle net die mooiste meisies en die sterkste ouens in advertensies laat verskyn.  Dit lyk of die TV – modelle net die mooiste en sterkste en rykste voorkoms het.  Vir baie jare het ons in die kerk ook ‘n Evangelie van littekenloses verkondig.  Ons het geleef asof Jesus slegs die vleklose, die goeie en suksesvolle mense aanneem.  Ordentlike en fatsoenlike en op hul plek mense was die verkorenes.  Sulke Christene hoort op die glansblaaie van die tydskrifte.

Op die dowwe bladsye van die Bybel lees ek egter van ‘n Jesus wat hom vereenselwig met die armes, die melaatses, die straat vrouens, die dronkies, die dwelmslawe, die straatkinders, die tronkvoëls, die hongeriges, die dakloses, die vissers, die oneerlike tollenaars, die huilendes en die versteurdes.

Ja, Jesus het Hom vereenselwig met die littekens van die:

* Arme…………………………….  litteken van verslete klere

* Melaatses………………………….  litteken van swere en vingers wat

                                                  soos kloue staan

*Straatvrouens ………………………  litteken van om op gebruik te wees

*Hongeriges ……………………..  litteken van hol oë

*Dakloses ……………………….  litteken van kartondose wat

hul saamsleep

*Tollenaars ……………………..  Litteken van skuldgevoelens

Jesus Christus lees ‘n mens nie raak op die glansbladsye van die tydskrifte nie, maar op die dowwe bladsye van die Bybel.

Jesus sal nie poseer tussen glanssterre nie, maar tussen hulle wat merktekens dra.

Toe die Here Jesus aan die dissipels verskyn daardie Sondagaand was hulle verskrik en bang bymekaar en die deure was gesluit. Nie glanssterre nie, maar ‘n klomp verskriktes, vol littekens. Sommiges het geslaap toe hulle moes waghou, sommiges het weggehardloop toe hulle moes getuig, een het die Here blatant verloën, daar was selfs ‘n twyfelaar of meer onder hulle.

Dan verskyn die Here aan hulle. Hy het deur die deur beweeg, amper soos ‘n spook. Maar Hy was nie ‘n spook nie, hulle kon aan hom vat.

Twee keer het Hy vir hulle gesê: “Vrede vir julle”. Johannes probeer deur die dubbele seëngroet vir ons aantoon dat dit meer was as maar net ‘n groet. Eintlik het die seëngroet die begin van die nuwe lewe ingelei. Jesus gee aan hulle sy werklik volkome vrede.

Dan blaas die Here oor hierdie bang, verwarde, glanslose dissipels en vroue sy asem en sê: “Ontvang die Heilige Gees”.

Aan mense vol littekens, gee God sy Heilige Gees. God se Gees is nie alleen vir die volmaaktes, die vlekloses, die geloofsreuse en die suksesvolle kerke nie. God se Gees is nie vir die “Hoera-mense” nie. Nee, dit is vir hulle wat gemerk is met littekens, die onvolmaaktes.

God blaas sy Gees oor die dissipels soos wat God in die begin sy asem oor die eerste mensepaar geblaas het. Jesus gee aan hulle ‘n tweede lewe. Hulle het die Heilige Gees, asem, lewe, krag en energie ontvang. Dit “empower” ons. Dit gee aan mense vol littekens krag vir vandag en vir môre. Dit laat ons dinge doen, wat ons andersins nooit sou doen nie.

Agt dae later sou Jesus Christus die Vleklose Lam van God, sy littekens aan die ongelowige Thomas wys. Die vleklose Lam van God het littekens opgedoen deur ons sondes. Daardeur het hy die Joodse wetboek kom nietig verklaar. In die Joodse offersisteem kon diere met gebreke nie geoffer word nie. Geen littekens het die reëlboekie gesê! Geen lelikheid nie! En hier strek Jesus sy hande en voete uit. God openbaar Homself met littekens. Hy kom identifiseer Homself met ons littekens.

Maar daarmee saam, kom ook die opdrag aan die kerk, dat die kerk die Evangelie van “Hom met die Littekens” aan die wêreld wat vol van littekens is moet verkondig. Dit is ‘n Evangelie wat empatie, deernis, toewyding verg.

Eers moet ek self as gevolg van my littekens ly, voor ek hoop kan bring aan ander met littekens. Vandag is daar baie mense wat liggaamlik of geestelik gelitteken is, vanweë ‘n trauma. Van hulle beman sopkombuise en is vrywilligers in die hospitaal se terminaalafdeling en probeer straatkinders onder dak kry.

Mense met littekens, het begrip vir ander mense wat swaarkry of wat stukkend is. Jesus wil vir ons met littekens, sy “wounded healers” maak.  Ja, as ”gewonde genesers” moet ons gewondes, wat langs die pad seergekry het, die wonde van ander versorg en genees.

Littekens kan ‘n mens òf versag òf verhard. Littekens kan ‘n mens òf met innerlike vrede dra, òf ‘n mens kan verbitterd word. Dit hang af òf ‘n mens dit bring na die Gekruisigde Jesus? Dit maak al die verskil.

Toe Jesus daardie Sondagaand aan die dissipels met sy littekens verskyn het, het Hy waardigheid aan ons littekens gegee.

Met elke Nagmaal herdenk ons die tekens, die littekens van sy sterwe, naamlik die brood en wyn. God blaas oor ons elkeen opnuut sy Gees, gee ons die lewe en moedig ons aan om die Evangelie van Hom met die littekens aan ‘n stukkende wêreld te verkondig.

Is u bereid om ‘n “wounded healer”, ‘n “gewonder geneser” te wees vir die seerkry mense op u pad?  Dit is ‘n geneesmiddel vir jou eie pyn en seer. Dit is in elk geval beter as om jouself te bejammer.

So kan ons die Minus (-) in ons lewens deurkruis met die kruis van Christus om ‘n Plus (+) te word.

So kry ons littekens, (ons pyn en seerkry) betekenis. Dit word die moeite werd om met jou littekens saam te leef.   

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)                    

Drosters van God

SKRIFLESING: Jona 1 – 4

Jona is ‘n dief!

Hy het God se liefde en genade net vir homself gehou. Hy was nie daarmee mededeelsaam nie.

God het vir Jona, seun van Amittai geroep en vir hom die opdrag gegee om sy liefde te gaan deel met die mense van Ninevé. Dit was vir hom een te veel. “Waarom aan die mense van Ninevé?” Hulle was nie eers volksgenote nie.  Waarom die Evangelie deel met diegene wat hulself aan die ellendes en sondes oorgegee het. Waarom die Evangelie aan ander nasies?

Die bekende Hollandse predikant Ds. Overduin sê oor Jona: “Hier kom die goddelose aap uit die vrome mou!” Jona kon hom baie vroom hou, maar diep in sy hart het die duiwel rondgedraai. As God al wat heiden is, brandhout vir die hel sou maak, sou Jona entoesiasties saamgewerk het. Maar nou wil God die heidene staan en vergewe – sy liefde op hulle uitstort.

Maar Jona het baie kleinkinders:

  • Die Farisieërs en Sadusieërs wat Jesus verwyt het omdat Hy ook met sondaars gemeng het.
  • Die kerkmense wat so ‘n behae skep in die val van ander mense.

Wat lees vir u die lekkerste?

  • ‘n Mooi getuienis van iemand.
  • Of die jongste skinderstorie.

Ons is net soos Jona, ons het geen erg aan sending en evangelisasie nie, want dit ontbreek ons aan die barmhartigheid.

Dan verwag God nog boonop dat Jona agter hierdie heidene moet aanloop. Hulle as’t ware moet smeek om tot bekering te kom. Dit was eens te veel vir Jona. God se sending is altyd ‘n uitwaartse beweging. As ‘n versekeringsagent op kantoor sit, kan hy nie verwag op sukses nie. Hy moet uit sy kantoor na die mense toe gaan om sukses te behaal. So moet ons ook ons veilige ruimtes verlaat en gaan na die verloor gaande mensdom.

Dan beraam Jona ‘n plan – hy sal vlug! Hy word ‘n droster. Hy het vir God lief – maar nie vir God se vriende (mense van Ninevé) nie. Hy het vergeet as jy met God “trou”, “trou” jy ook met God se familie.

Dan vlug Jona na Tarsis – die verste punt in die destydse wêreld, op  die kus van Spanje – ten spyte daarvan dat die Jode die see gevrees het. Hy vrees die opdrag meer as die see. Hy koop ‘n enkelkaartjie. Hy emigreer. Die reisgeld van die Here af is duur.

Maar ‘n mens kan nooit van God vlug nie. God is oral. Hy haal jou in. God dryf jou in ‘n hoekie. God speel met Jona skaak. Die skuiwe lyk as volg: Jona vlug. God stuur ‘n storm. Jona verkies om te sterf. God stuur ‘n groot vis.

C.S. Lewis: God praat gedurig met ons. Maar ons is so hardhorend. Dikwels hoor ons nie. Dan praat God met ‘n manier wat ons nie kan ignoreer nie – deur lyding en swaarkry. Dan roep Hy, dan skreeu God tot ons.

Die matrose op die skip hou ‘n kommissie van ondersoek. Wie is die skuldige? Die lot val op Jona. Jona was in die hoek gedryf. Hulle gooi hom oorboord. Die storm bedaar. Dan lees ons van ‘n kerkdiens daar op die oop see – die matrose vrees die Here nou meer as die see. Wat sou hulle later sê: ‘n Goeie ding of ‘n slegte ding het hulle getref?

‘n Vis sluk vir Jona in. God het gesorg vir ‘n retoer kaartjie. Jona kom tot bekering. Wat ‘n vreemde plek is dit nie om tot bekering te kom nie. Die vis simboliseer die “moot” (die plek van die doderyk). Dit is ‘n bewys van die Here se genade en geduld.

Die vis spoeg vir Jona uit. Jona is in ‘n hoek, hy moet nou preek. Hy gaan na Ninevé, ‘n baie groot Assiriese stad. Die stad se bouwerke was groot en die stad was ryk en voorspoedig.

Maar in plaas daarvan dat hy die skoene van bereidheid om die Evangelie te verkondig, het hy lood in sy sandale. Baie onwillig preek hy.

Calvyn het gesê, dat hy dankbaar is dat God vir Jesus Christus en nie vir Jona gestuur het om die wêreld te red nie.

Dan preek Jona ‘n harde preek, ‘n oordeelspreek. God se liefde sluit nie sy oordeel uit nie. Tog is God genadig. God stel die oordeel uit, deur hulle te waarsku.

Dan volg ‘n massa bekering. Jy kan vir Jona met ‘n veertjie ompik. Slegs ‘n preek van 5 Hebreeuse woorde. Geen teken, geen wonderwerk het hulle harte verander nie – slegs die Heilige Gees. Bekering is God se werk.

Jona is kwaad toe hy bly moes wees. Vir Jona is God te wyd, sy genade te groot. Jona preek die Evangelie, maar sy hart sê: ”Julle vreksels, ek hoop julle beland in die hel.” Jona se hart is te nou. Daar is nie plek vir mense wat nie-Jode is nie. God se hart is wyd, terwyl ons harte so dikwels so nou is.

Jona rig vir hom ‘n skermpie op – ‘n pawiljoen. Hy wil sien as die stad vernietig word. Hy wil ‘n toeskouer wees van die verwoesting. Dikwels het die kerk ook ‘n toeskouers mentaliteit wat onbetrokke is, sonder erbarming vir die geestelike nood en die liggaamlike nood van mense.

Dan leer God vir Jona ‘n les, in die vorm van ‘n kinderpreek. God gee vir Jona ‘n komkommer plant, om vir hom skaduwee te gee. God stort as’t ware sy genade oor hom uit. Dan stuur God ‘n wurm en die warm Sirocco – wind, sodat die komkommer plant vrek. God onttrek as’t ware sy genade oor Jona.

Die toepassing wat God vir Jona wil leer is dat Jona net al die genade vir homself wil hê – Jona is selfsugtig. Hy is meer ingestel op sy gerief as op die redding van siele. God moet hom genadig wees, maar God mag nie vir Ninevé genadig wees nie.

Jona se verhaal klink na ons verhaal. Ons is soos Jona drosters wat weghardloop as dit kom om die Here se genade en barmhartigheid met ander te deel. Ons is veel meer bekommerd oor hoe gemaklik ons huise en ons kerke is, as wat ons bekommerd is oor die redding van siele.

God se genade is wyd. Hierdie genade moet gedeel word vir ‘n honger wêreld. God het met ons deernis gehad, ons moet nou ook deernis hê met ander.

Is ‘n vlugtende vir God se opdrag? Is u ‘n droster? Die Here kan drosters verander in dapper getuies.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Wanneer God NEE sê.

SKRIFLESING: 2 Kor 12: 7 – 10

Ons hou nie van die woord “NEE” nie. Grootmense kom daaroor in opstand. Tieners sal die deure agter hulle toegooi, kinders sal tantrums gooi en op die vloer val en voete skop en babas skree die dak af.

Dit is nie lekker om “NEE” te hoor by ‘n werksondersoek nie. Dit is nie lekker om “NEE” te hoor in ‘n liefdesverhouding nie. Dit is nie lekker as die bankbestuurder vir jou “NEE” sê nie. Dit is nie lekker om vir reën te bid en God sê “NEE”, eers later. Dit is nie lekker om vir iets te bid en God sê “NEE” nie.

Ons gaan vanoggend kyk na 4 Bybelfigure vir wie God “NEE” gesê het, maar wat later ‘n verrassende wending geneem het.

Ons kyk heel eerste na Moses. Moses se geboorte was ‘n wonderverhaal. Hy het ‘n prins van Egipte geword. Toe pleeg hy moord en moes vlug. Later roep die Here hom terug Egipte toe om sy volk Israel uit Egipte te lei, deur die woestyn na die beloofde land. Die tog deur die woestyn het 40 jaar gevat. Moses se gebed was “Om in die land wat God beloof het te mag ingaan.” Maar God se antwoord was gewees “NEE”. Jy sal dit net kan sien Moses.

Dan neem die verhaal ‘n verrassende wending, wanneer Moses saam met Elia en Jesus op die berg verheerlik word in die beloofde land. God se “NEE” het toe anders uitgedraai.

Die tweede Bybelfiguur was Dawid. Wat ‘n man was hy nie. Hy was ‘n digter en komponis. Hy het Goliat verslaan met ‘n slingervel en een klippie. Hy was ‘n uitstekende militêre strateeg. Hy het koning van Israel geword en Jerusalem weer opgebou. Ongelukkig het hy owerspel met Batseba gepleeg en in die proses ook moord op Uria. Maar God het hom vergewe na sy opregte gebed in Psalm 51. Dawid se grootste wens was, “Om ‘n tempel vir die Here te bou, sodat die ark van die verbond daarin kan staan.” Maar God se antwoord was “NEE”, jou seun sal dit doen. Salomo het toe die tempel gebou.

Die verrassende wending was gewees dat uit Dawid se nageslag is Christus gebore. In Christus is ons almal tempels van die Heilige Gees.   

Dan kom ons by Jesus Christus, die Seun van God. Sy geboorte was Goddelik. Hy het in ‘n klein dorpie Nasaret groot geword. Hy het die Joodse Skrifte op sy vingerpunte geken. Hy het baie wonderwerke gedoen. Maar toe wil hulle Hom kruisig. Jesus se gebed in Getsemané was: “Laat die Lydensbeker by my verby gaan.” Maar die Vader se antwoord was ‘n duidelike “NEE”.

Maar die verrassende wending was dat Jesus Christus deur Sy kruisdood die sonde van die wêreld weggeneem het.

Dan kom ons by Paulus. Paulus was ‘n redenaar en spreker. Eers het hy die Christelike kerk vervolg, tot bekering gekom en toe ‘n ywerige apostel geword van die Evangelie. Van ‘n vervolger het hy ‘n martelaar geword. Hy is met klippe bestook, skipbreuk gely, deur giftige slange gepik en in tronke gestop.   Paulus se grootste wens was dat die Here die doring in sy vlees wegvat. Dit kon ‘n oog probleem, epilepsie, of ‘n psigiese probleem wees. Ons weet nie regtig wat dit was nie. Dan was die antwoord van die Here ook ‘n duidelike “NEE”.

Die verrassende wending was gewees om die bekwame Paulus nederig te hou. “They are so heavenly minded, that they are of no eartly use” is dikwels van toepassing op geestelike leiers.

Daarom verklaar Paulus: “As ek swak is, is ek eintlik sterk.” Sy krag lê nie in homself nie, maar in God!

Aanvaar God se “NEE”. Sy “NEE” het altyd ‘n verrassende  wending. God is die bron van krag en genade. Daarom sê die Here vir Paulus: “My genade is vir jou genoeg.”

Daarom moet ons altyd die “NEE’s” in ons lewe omsit in iets positief.

Beethoven het doof geword, maar van sy beste musiek gekomponeer in sy doofheid. Helen Steiner Rice was doofstom, maar sy het miljoene mense opgebeur met haar skryfwerk. Elke deur wat vir jou toegaan, gaan daar ‘n ander deur vir jou oop.

Wanneer God “NEE” sê, het Hy vir jou iets beter in die vooruitsig.

Verander die – in jou lewe in ‘n +.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Lewensvervulling beteken om tyd sinvol te gebruik.

SKRIFLESING: Job 9: 25 – 26 en Pred 3: 1 – 22

Veronderstel iemand sou u die keuse gee, om 10 of 20 jaar jonger te word, wat sou u keuse wees? Ek sal beslis nie kies om jonger te word nie. Want sien tyd bring insig, lewensrypheid en wysheid. Om jonger te word, sou vir my beteken om agteruit te boer. Juis daarom moet ons, ons nie daaroor verknies dat die tyd aanstap en ons ouer word nie.

Om ouer te word is nie vir my ‘n probleem nie. Wat wel vir my ‘n probleem is, is die spoed en tempo waarteen tyd verloop. Job beskryf die spoed van waarmee sy lewensdae korter word, in hoofstuk 9: verse 25 – 26 as volg: “My dae skiet vinniger as ‘n naelloper verby sonder dat ek iets goeds beleef, hulle gaan vinnig by my verby soos papirusbote, soos ‘n arend wat afskiet op sy prooi.” Toe my jongste seun Johannes nog baie klein was sê hy eendag vir my: “Pappa, ek is nog klein, ek gaan nog lank leef. Wanneer ek groot is, is pappa al ‘n oupa.” Toe ek jonk was, het ek ook so gedink, gedink die lewe lê lank en oneindig voor jou. Helaas, moet ek ook soos Job en Prediker sê, dat die tyd vinnig verby skiet. Juis daarom is Job en Prediker se raad dat, ons spaarsamig met die tyd moet omgaan. Ons moet nie tyd verkwis op nietighede nie. Eintlik kan ons ook nie op tyd spaar nie, ‘n mens moet net jou tyd verantwoordelik bestuur en met die regte prioriteite lewe.

Chris Jones vertel van die oom wat een Saterdagoggend op ‘n radio-onderhoud die volgende vertel. Toe hy 55 jaar oud was, het hy baie oor sy lewe nagedink. Hy het vir homself gesê dat die gemiddelde manspersoon ongeveer 75 jaar oud word. Sommige word ouer en ander sterf vroeër, maar kom ons werk op die gemiddelde. In so ‘n geval het iemand 3900 Saterdae in sy lewe tot sy beskikking. Hy was reeds 55 jaar oud en dus het hy alreeds 2860 Saterdae opgeleef. Hy het nog ongeveer 1040 Saterdae oor, sou hy 75 jaar oud word.

Hy het daar en dan winkel toe gery en 1040 albasters gekoop en dit in die glasfles gesit. Elke Saterdag het hy 1 albaster uitgehaal en weggegooi. Die man het in die afsluiting van die radio onderhoud gesê dat terwyl die albasters elke Saterdag verminder het, het hy hom al meer ingestel om met wysheid te lewe, maar ook met die regte prioriteite.

Terwyl ons lewe verganklik en onseker is, roep die Here vir ons op om sinvol te lewe. Ja, om sin te gee aan die lewe. Die Here wil hê ons moet ons lewe opleef en elke dag voluit lewe. Juis daarom sê Prediker in hoofstuk 3: 22 die volgende: “Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk, dit is wat jou toekom.” Nog verder sê Prediker in hoofstuk 9: 7 – 9 die volgende: “Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n blye gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie. Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet …..” Vers 10 het ‘n verdere opdrag: “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen ……” Met ander woorde, ons word opgeroep om met oorgawe te lewe. In Latyn is daar die spreuk: “Carpe Diem”, wat beteken “om die dag te gryp”. Dit beteken om in alles ‘n geleentheid te sien of ‘n geleentheid te skep.

Mense wat ‘n vol, vervulde lewe gelewe het, sterf baie makliker en mooier as mense wat hulself nog op hulle sterfbed kwalik neem omdat hulle hul lewensdae gemors het op nietighede. Daarom leer die Here Jesus vir ons om na die lewe te kyk, vanuit die perspektief van die dood. Eers as jy jou verganklikheid besef en erken, kan jy leer om vreugdevol en sinvol te lewe.

Tydsbestuur bly die meeste van ons se probleem. Daar word vertel van die dosent wat op ‘n dag vir sy klas studente, ‘n demonstrasie wou gee oor tydsbestuur. Hy het ‘n groot glasfles geneem en dit vol groot klippe gepak. Hy vra toe vir die klas of die fles versadig is. Tot hulle verbasing, gooi hy daarna ‘n klomp gruis in en skud die fles. Daarna gooi hy nog fyn sand en skud die fles en laastens gooi hy ook nog water in. Alles pas mooi in die fles.

Toe hy dieselfde inhoud van klippe, gruis, sand en water gebruik en die eksperiment omkeer en eers die water, toe die sand, toe die gruis en laastens die klippe inpak, toe kom amper nie die helfte van dieselfde inhoud in die fles nie. Netso, verklaar die dosent dat ‘n mens altyd in jou lewe moet begin met die groot klippe, die belangrikste prioriteite in jou lewe en dan sal daar nog plek wees vir die alledaagse nietighede. Maar wie sy lewe verspil op nietighede, mis die groot belangrike prioriteite in sy lewe.

As ‘n mens die Bybel goed bestudeer kom ‘n mens agter dat verhoudinge vir die Here baie belangrik is. Jou verhoudinge met God, met jou lewensmaat, kinders en met die mense op jou pad is vir God van kardinale belang. Vir die Here is ook jou elke dag se werk baie belangrik. Juis daarom is ‘n mens se werk nie maar iets wat net ‘n inkomste inbring nie, maar moet dit ‘n roeping wees. Juis daarom roep die Here ons op om elke dag kwaliteit by te voeg by ons huwelike, ons kinders se opvoeding, by ons medemens en deur ons lewensroeping van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Dit gaan daarom nie soseer wat ek uitkry uit die lewe nie, maar dit wat ek insit in die lewe wat tel. Die lewe gaan nie soseer om te ontvang nie, maar om te gee. Dit bepaal lewenskwaliteit en sin in die lewe.

Ons lewensmaat is net aan ons geleen. Omdat ons nie weet hoe lank hierdie tyd is nie, moet ‘n mens die mooiste daarvan probeer maak. “Geniet jou vrou …….” sê Prediker. Ja, ek moet my man of my vrou weer mooi en gelukkig aan die Here terug gee.

‘n Mens se kind verlaat dié huis op ongeveer 18-jarige ouderdom. Laat ons uitwerk, hoeveel Saterdae, hoeveel albasters is in my fles om my kind te koester en met wysheid te beïnvloed. Ek werk uit ‘n skamele 936 Saterdae. Juis daarom moet ons tyd maak vir ons kinders. ‘n Gemiddelde loopbaan duur ongeveer 40 jaar, met ander woorde 2080 Saterdae. Ek het net 2080 weke om deur my loopbaan van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak.

Eers wanneer ek deur die kortstondigheid van hierdie lewe getref word, besef ek daar is ‘n tyd vir alles. Juis daarom moet ek met oorgawe lewe, myself ontwikkel en my talente gebruik. Ek moet geluk vind in my lewensmaat, my kinders en met die mense op my pad. My werk moet my roeping word.

Ja, ek moet mooi lewe, ‘n regverdige lewe nastreef en God se wil bo alles soek. Dit sal my gelukkig maak en vir my sin in my lewe gee. Luister hoe sluit Prediker sy boek af in hoofstuk 11 vers 13: “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie.”

Eers as ek so ‘n vol, mooi en regverdige lewe gelei het en kwaliteit toegevoeg het aan my lewensmaat, kinders en die mense op my lewenspad kan ek met vreugde sterf. As ek my loopbaan beskou as ‘n roeping en daardeur kwaliteit toevoeg aan die lewe, kan ek eendag, oor ‘n aantal Saterdae vorentoe in vrede bid op my sterfbed, die gebed van die kerkvaders: “ In U hande gee ek my gees oor!”

Soos jy gelewe het, so sal jy ook eendag sterf.    AMEN      

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)